BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 24 Oktober 2014

SKOKWOORDE

- wat die valse hoop van kansvatters en verneukers gaan vernietig.

Op die laaste dag van afrekening gaan daar onaangename verrassings wees... Jesus stel dit baie skerp :



Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.


Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’

Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree."

(Matteus 7:21-23)

Mense wat baie seker was van hulle saligheid gaan die verdoemende woorde van Jesus moet aanhoor : “Gaan weg...!” Hierdie is van die ernstigste woorde en waarskuwings van Jesus. Dis skokwoorde en juis daarom moet ons onverdeelde aandag gee en probeer verstaan wat Hy bedoel.

GERED DEUR WERKE?

Onmiddellik kom ‘n vraag by mens op : “Hoe nou, leer Jesus redding deur werke? Moet ons dit regkry om God se wil te doen voor ons verlos kan word? Ons vier juis dan in Oktober* die Protestantse Reformasie van die 16de eeu wat ons weer geleer het dat ons nie redding vind deur werke en prestasies nie, maar net deur persoonlike geloof in Jesus.” 

Wees gerus : Redding kom net deur geloof in Jesus. Keer op keer het Jesus self hierdie waarheid bevestig.

Nee, Jesus leer nie redding deur verdienste nie, Hy wil wel ons oë open vir die groot gevaar van selfmisleiding, van valse vrede, valse geloof, valse sekerheid, vals belydenis! In die voorafgaande gaan dit oor misleiding deur vals profete (15-22), hier val die klem op selfmisleiding. In ‘n sekere sin is dit net ‘n bevestiging van dieselfde beginsel. ‘n Boom word aan sy vrugte geken. ‘n Christen sal aan sy dade geken word. ‘n Christen word nie deur sy dade gered nie, maar deur geloof. Geloof bly nie alleen nie, dra goeie vrugte.

Die boodskap van die Reformasie was : Redding deur geloof alleen. Baie kerklidmate het dit verander na : Reddig deur skyngeloof.

Net so min as wat die Bybel (en Reformatore) redding deur werke leer, net so min leer hulle redding deur vals geloof!

Kom ons kyk na twee gevare wat in Jesus se waarskuwing onderstreep word:

1.Om uiterlik die regte feite oor Jesus te glo en te bely beteken nie noodwendig ek is ‘n Christen nie.

Verstaan goed, Jesus kritiseer nie mense wat sê : “Here, Here” nie. Jesus is nie daarteen dat ons sy naam bely nie. Inderdaad moet ons kan sê : “Jesus is die Here, my Here.” Ons moet sonder skaamte sy naam voor mense bely. Die punt is egter moenie jou sekerheid bou op ‘n belydenis wat jy lank gelede afgelê het of ‘n rympie wat ek agter iemand aan gebid het nie. Vra jouself of jy daardie belydenis uitleef? Maak dit ‘n verskil in jou lewe? As jou geloof eg was sal dit tot sigbare verandering lei.

Uiterlike belydenis van die waarheid alleen is nie genoeg nie, dit moet gevolg word deur ‘n veranderde lewe volgens God se wil. Spesifiek God se wil van heiligheid soos uitgespel in die res van die bergrede. God se wil wat dieper gaan as net ‘n oppervlakkige kyk na byvoorbeeld die sesde of sewende gebod. God se wil deur vrugte te dra van lewensheiliging en gehoorsaamheid. Anders gestel ‘n belydenis wat nie opgevolg word deur dade nie, is ‘n vals belydenis. Reeds in die Ou Testament verwyt God sy volk in Maleagi en vra : Julle noem my Here, maar waar is die respek vir my?" Duie Nuwe Testament maak dit duidelik dat nie alle geloof, egte geloof is nie! Geloof wat nie tot werke lei nie, is volgens Jakobus, 'n dooie geloof! Dis tog ‘n algemene logiese beginsel. ‘n Man wat vir ‘n dame sê : "Ek het jou lief, jy is my enigste liefde", maar nooit tot trou wil kom nie, se belydenis van sy liefde is mos vals... Dis die enigste logiese afleiding.

2.Om vol ywer en sukses te wees vir die Christelike saak beteken nie noodwendig ek is ‘n Christen nie.

Jesus kritiseer nie mense vir hulle ywer en entoesiasme nie. Hy sê net nie almal wat sulke ywer openbaar sal noodwendig ingaan in die Koninkryk nie. Daar is iets soos valse en misplaaste ywer! Jesus noem voorbeelde van sulke ywer. (22) Om te kan preek (profeteer) bewys nie dat jy ‘n noodwendig ‘n Christen is nie. Dink maar aan die Ou Testamentiese voorbeelde van Bileam en koning Saul. Hulle kon profeteer, maar dis duidelik dat hulle nie ware dienaars van God was nie!

Ook selfs die mag om duiwels uit te dryf bewys nie ek is noodwendig ‘n kind van God nie. (Selfs Judas Iskariot kon dit doen soos ons kan aflei.) Ons moenie uiterlike gawes en wonderwerke met genade verwar nie! Almal wat gawes het, het nie noodwendig egte genade ontvang nie, want daar is valse gawes. Die Egiptiese towenaars was sonder God se genade, maar kon dieselfde wonders doen wat Moses en Aäron gedoen het. Wonderwerke opsigself sê niks! In alle godsdienste vind daar beweerde wonders plaas!

DIE PROBLEEM

Jesus sê baie duidelik wat hierdie valse gelowiges se probleem is. Hulle verwerp en oortree God se wet.** (23) Hulle verset hulle teen God se opdragte. Dis baie duidelik, ook in die Nuwe Testament gee God opdragte. Daar is dinge waarvan Hy hou en dinge waarvan Hy nie hou nie. Paulus,wat absoluut klem geplaas het op redding deur geloof alleen gee ‘n soortgelyke waarskuwing as Jesus in Galasiërs 5:19-21. "En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie." En opvallend, dis juis in hirdie brief wat Paulus dit die sterkste onderstreep dat redding alleenlik deur geloof geskied!  (Sien ook 1 Korintiërs 6:9,10. “Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.”) Dit beteken nie ‘n kind van God kan nooit in sondes, ook dié sondes val nie. ‘n Kind van God kan inderdaad struikel, maar nie sorgeloos in hierdie sonde bly lê en volhard nie... Wie God se genade as denkmantel en verskoning gebruik om aan te hou sondig speel met vuur... Hieroor is die brief van Judas baie eksplisiet duidelik... (kliek op GOGGAS)

EN NOU?

Wat staan ons te doen? Ondersoek jouself of jou geloof in Jesus eg is. Vra jouself of jy jou belydenis ernstig bedoel. Die Bybel roep ons voortdurend op tot selfondersoek. Vra jouself of daar egte vrugte van heiligheid, toewyding en oorwinning oor sonde in jou lewe is. Dit sal die spontane reaksie wees van elke kind van God, ook nou! Trouens, as hierdie woorde van Jesus jou nie onrustig maak nie, is daar fout. Juis die opregte gelowige sal dit ter harte neem, opnuut sy sonde besef en na Jesus vlug as enigste hoop. "Leeg met my sondelas, hou ek U verdienste vas..."

Positief gestel : Wie Jesus liefhet en in Hom glo, sal erns met sy opdragte maak! Dit word saamgevat in die opdrag van die liefde. Die liefde tot God en my medemens. (Johannes 14:15,21)

Gryp Jesus se offer vas en dank Hom deur die wil van God te soek en te doen!

Om 'n dankbare erfgenaam van die Reformasie se herontdekking van die evangelie te wees, behels meer as net intellektuele instemming tot die belydenisskrifte.  Dit behels persoonlike, egte geloof, 'n geloof wat sigbaar word in 'n heilige lewe volgens God se wil.

*Hervormingssondag word op die naaste Sondag aan 31 Oktober gevier, omdat Martin Luther op 31 Oktober 1517 sy 95 stellinge teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker het en dit as die begin van die Protestantse Reformasie beskou word.

**Wat word hier met “wet” bedoel? Die tien gebooie? Die hele tora, insluitende die voedselwette oor rein en onrein diere? En wat dan van die besnydenis? Om dit kort te stel : Dit gaan oor die hele tora (wet van Moses) soos dit deur Jesus verklaar, verskerp en geherinterpreteer word, spesifiek in die Bergrede, maar ook in die res van die evangelies en die neerslag daarvan in die Nuwe Testament as geheel. Jesus as die ware Moses, die Seun van God het die volmag om dit te doen. Dit lei immers nie tot ‘n afgewaterde etiek en standaard van lewensheiliging nie, maar tot ‘n baie hoër norm van heiligheid. Vanuit hierdie perspektief weet ons : ons hoef ons nie meer aan voedselwette te hou (Markus 7) of die besnydenis te beoefen nie. (Handelinge 15 en die Galasiërs brief) Ons verstaan nou die tora (wet) deur die VERGROOTGLAS van Jesus se lewe, woorde en afgehandelde offer! (Vir meer oor die Joodse Sabbat en voedselwette, kliek op SKADUWEE)


Die groot Hervormers : Luther, Calvyn, Zwingli.

Woensdag 22 Oktober 2014

BEGRAPNISSE?

- het baie begrafnisse (troosdienste) evangelielose en mensverheerlikende seremonies geword?



Sommige begrafnisse het in begrapnisse ontaard! Herdenkingsdienste (lewensvierings!) verheerlik meesal die mens in plaas van die Seun van die Mens. Die oorledene se lof en (dikwels geheime onsigbare en veronderstelde) Christenskap word besing op ‘n manier wat eerlike begrafnisgangers hulle koppe in skaamte laat sak. (sal hulle ooit weer 'n prediker se opinie vertrou?) Party troosdienste het verander in vertonings en vermaak. Die baie kerse voor die kansel moet vergoed vir die gebrek aan evangelie op die kansel... Die leraar word getransformeer tot ‘n sjamaan wat ritualistiese gebede op allerhande plekke moet prewel of ‘n seremoniemeester wat die hoorders moet oortuig om goed te voel oor hulleself en die oorledene. Dit sou dalk kon snaaks wees, maar nou beroof dit baie mense van die geleentheid om die evangelie te hoor... Craig A. Parton stel dit dalk ‘n bietjie sterk (onthou dis vanuit ‘n Amerikaanse konteks, en ek deel ook nie noodwendig al sy sentimente nie), maar hier is heelwat stof tot nadenke... (en sommer ‘n goeie klomp humor...)

Parton : I've concluded that the typical evangelical funeral can go quite a ways to making a person an atheist. I've also concluded that the church needs to reclaim the fundamental truth that Christianity is primarily for dying. Not primarily for living, but for dying; and because it is primarily about preparing to die, it has something profound to offer about living. Funerals need to rediscover death and thus once again have something to say to the living.

Before looking at the causes of the death of the funeral, a true confession about a funeral--oops, sorry, a celebration of life--I recently attended. (I am just getting out of theological therapy from the experience.)

My rescue came from the Christian funeral and burial of my mother, who died on Epiphany. All I can say is thanks be to God for a Christ-centered burial liturgy, for a graveside service providing the godly focus on the death of death, and for a faithful pastor bringing Jesus in his forgiving and saving office to all present.

A Fun-eral from Hell

"Bob" was a prominent evangelical businessman. He surfed. He married. He procreated. He made barn loads of money. And so the assembly was treated to body-length photos of Bob the Action Figure. Of course, this celebration lacked a few things that definitely would be a downer at any celebration--distractions like a dead body or that troubling casket. Come to think of it, the words "dying," "dead," or "death" were real no-nos during the whole celebration, which was led by a man whom my wife refers to now as simply "Mr. Happy Pastor."

Happy Pastor is one of those cool, laid-back, California surfer-dude, Hawaiian-shirted, Plexiglas pulpit, megachurch guys who is well prepared to be a personal assistant to a Hollywood celebrity or to work in a hip music studio as the sound board operator. (En van ons NG ouens probeer hard om hierdie pêrre na te boots...? – Johannes) He has the spiritual gifts of being funny, relevant, and cool. He just was not into bringing the pure gospel of grace and forgiveness of sins in Jesus. He worked relentlessly hard that morning to eliminate any confrontation with the deadly duo of sin and death. Into that vacuum, he put Bob's really cool life and a really cool celebration.

This may come as a shock, but Jesus of Calvary was not part of Happy Pastor's fun-eral. And you do show what is indispensable to you theologically (and in every other way) when you gather that last time over someone who has departed this earth for the next world. What was clearly nonnegotiable was anything upbeat--upbeat stories, upbeat music, upbeat pictures, and an upbeat Pelagian theology. Oh, and a pastor who himself was upbeat the whole time because after all this was not a negative, pessimistic, gaudy, legalistic, liturgical "funeral" but a "celebration of life."

The phrase "celebration of life" is like the words "healing" and "closure," all terms that have the scintilla of truth in them necessary to often mask the primal smell of sulphur.

The obligatory testimonials (the raising up of Bob's good deeds for all to see) were the center of Happy Pastor's fun-time celebration--and they went on ad nauseam. 

Lees die volledige artikel by FUN-ERAL

http://www.modernreformation.org/default.php?page=articledisplay&var1=ArtRead&var2=1121&var3=main




Vrydag 17 Oktober 2014

IS JESUS “COOL”?

- Nee, as Beeld van God is Hy ontsagwekkend heilig anders en pas glad nie in by die sondige mens se misplaaste verwagtings nie! 


By geleentheid het die mense van Nasaret vir ‘n kort rukkie gedink “Jesus is cool”, maar spoedig daarna het Hy hulle so kwaad gemaak dat hulle Hom van ‘n krans wou afsmyt. Toe Hy hulle onverdund die waarheid rondom God se soewereine genade vertel, wou hulle Hom vermoor! Lees gerus die gebeure in Lukas 4:14-32.

God is anders as die mens. Juis omdat HY GOD IS! Hy is volmaak liefdevol, maar terselfdertyd heilig en regverdig. Jesus is die sigbare bekendmaking van God se karakter en Hy is vol genade* én waarheid! (Johannes 1:14) God pas nie by ons idee van ‘n bloot sentimentele liefde sonder enige norme en beginsels nie! Die heerlikheid van Jesus Christus lê onder andere daarin dat Hy altyd uit pas is met die wêreld, maar juis daarom altyd relevant vir die wêreld is. “Uit pas” – beslis nie “cool” nie! As Hy netjies ingepas het sou Hy van min waarde gewees het. Mense probeer mos Jesus mak maak om by hulle eie sondige begeertes te pas... Die rugbymalles wil graag hê Jesus moet help dat hulle span wen, die politici eis Jesus op vir hulle siening en doelwitte (Dis hoekom selfs Malema die vals profeet TB Joshua gaan besoek het), die geldgieriges glo Jesus gaan hulle help om geld te maak... Ongetroudes wat saambly en vroom vertel hoe hulle elke aand saam hande vashou en bid voor hulle in die bed spring, probeer Jesus inspan vir hulle sondige begeertes... Daar is net geen perke aan die boosheid waarvoor mense hulle selfgemaakte “Jesus” wil aanwend nie... ‘n Jong dame het al selfs beweer dat Hy haar gelei het om ‘n skoonheidskompetisie te wen! Watter belaglike snert! Sal Jesus wat so sterk gewaarsku het teen wellus met die oë, ‘n jong meisie aanmoedig om met haar skrapse uitrustings haarself as ‘n objek van wellus op verhoë uit te stal? (Kliek op SKOONHEIDSKOMPETISIES)

Waarvoor wil jý dalk Jesus misbruik?

Daar is ‘n “harde kant” van Jesus se liefde wat veral vir ons sentimentele westerse mense aanstootlik is. Almal sê vandag : “Jesus is cool”, maar dink mooi, mense wat dunvellig is sou seergemaak gevoel het deur Jesus se snydende tong. Sy woorde was dikwels amper gewelddadig. Natuurlik was dit nie die enigste manier waarop Hy gepraat het nie. Ons het reeds gekyk na die rykdom van sy barmhartigheid, na sy geduld en vriendelikheid en vergifnis. Sy liefde is oneindig eg en buitengewoon groot. Juis daarom dat sy harde woorde nie sommer afgemaak kan word as onbeheerste norsheid of woede uitbarstings nie. Wat ons in die bytende taal van Jesus kry is ’n vorm van liefde wat juis gepas is in die wêreld van korrupsie, dooie harte en rebellie teen God. (Nasaret se mense moes tot hulle ontsteltenis hoor dat God se genade nie inpas by hulle eie volksvoorkeure nie! Hulle kon dit nie sluk toe Jesus hulle herinner dat God gekies het om ‘n heidense weduwee en ‘n heidense generaal uit te kies vir sy guns bo baie Israeliete nie!) 

Jesus se harde woorde van waarskuwing maak juis sin en is juis nodig in ‘n wêreld wat op pad is na ‘n skrikwekkende oordeel en ‘n ewige hel! Kom ons luister na die skokkende hardheid van Jesus se genade. Dit het mense in sy eie tyd verwonderd laat staan. Selfs sy vyande het erken dat hy nie bekommerd was oor andere se goedkeuring nie. “Hulle vra Hom toe: "Meneer, ons weet dat u in u prediking en onderrig regsinnig is. U let nie op die aansien van persone nie. U is getrou aan die waarheid, en so maak u die wil van God bekend.” (Lukas 20:21) Jesus was nooit ‘n people’s pleaser nie! 

Toe Jesus sy openbare optrede in die sinagoge in Nasaret begin het, het almal aanvanklik goed van Hom gepraat (22), maar toe Hy eers onverskrokke teen die grein van hulle selfgesentreerde verwagtings ingaan (24-27), was daardie selfde mense “woedend” (28) en het probeer om permanent van Hom ontslae te raak. Jesus pas by niemand se kortsigtige sondige selfsugtige verwagtings in nie – daarom raak baie mense net vir ‘n tydjie opgewonde oor Hom, maar as Hy op ons tone trap draai ons teen Hom. Soos die skare wat eers Hosanna skreeu, maar nie lank daarna nie : “Kruisig Hom” 

Die heerlikheid wat Jesus van God vertoon is ook vol waarheid, daarom draai Hy nie doekies om die skokkende toestand van die sondige mens te beskryf nie. Toe mense Hom vra vir ’n teken was sy reaksie : “ ’n Slegte en afvallige geslag wil ’n teken hê” (Matteus 16:4) Toe sy eie dissipels nie ’n demoon kon uitdryf nie, trap Hy hulle uit met : “Ongelowige geslag, hoe lank moet ek nog by julle wees?” (Markus 9:19) Sy reguit taal moes mense van woede laat stik het!  “Julle is soos wit geverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerhede is.” Vir verbondsmense : “Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen.” (Johannes 8:44) En selfs toe Jesus se eie toegewyde dissipel Petrus heldhaftig geprotesteer het teen Jesus se lydensweg, het Jesus hom streng bestraf : “Moenie in my pad staan nie Satan!....” (Matteus 16:23) Jesus as beeld van God, die God van waarheid, sluit ook die waarheid van die oordeel en die hel in. Hieroor was Jesus uitgesproke eerlik. Niemand in die Nuwe Testament het meer oor die hel gepraat as Hy nie. Maar dis juis genade en opregte liefde wat Hom daartoe gebring het. Jesus geen kwesbare gevoelens gespaar om mense teen die hel te waarsku nie. (Matteus 8:12; 13:49-50; 22:13;25:30 en Markus 9:43,48) In die lig hiervan verduidelik Jesus met skrikwekkende logika dat blote aardse gevare - soos om doodgemaak te word - niks in vergelyking is met die bedreiging van die hel nie. “Aan julle My vriende, sê Ek : Moenie bang wees vir die wat die liggaam doodmaak en daarna niks verder kan doen nie. Ek sal vir julle sê vir wie julle moet bang wees : vir Hom wat mag het om, na die dood, in die hel te werp. Ja, Ek sê vir julle, Hom moet julle vrees.” (Lukas 12:4-5)

Glo jy in God? Glo jy in Jesus as die een wat God kom openbaar het? Dan moet ons die volle waarheid glo. Met eerlikheid wys Jesus ons die weg na die hemelse heerlikheid, of mense daarvan hou of nie! Rym hierdie waarhede met die GOD VAN LIEFDE? Ja! As dit dalk vir jou nie klink na die Prins van Vrede nie, onthou net, sy doel is nie vrede met ONGELOOF en SONDE nie. Dis vyande wat vernietig moet word, anders vernietig hulle ons. Daarom noem Jesus ons probleme by die naam en roep mense op tot bekering! Hy spel die konsekwensies ondubbelsinnig uit as ons ons nie bekeer nie.

Wie kan hierdie reguit boodskap vat? Wie kan na hierdie dinge luister? Wie kan dit verstaan? Die mens kom van nature in opstand teen hierdie feite! Jy kan die waarheid van God net aanvaar as Hy dit self aan jou openbaar! “By daardie selfde geleentheid het Jesus deur die Heilige Gees dit uitgejubel: "Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.” (Lukas 10:21) Die nederiges, die leerbares, die gebrokenes, die onderdaniges, die eenvoudiges - hulle sal die stem van krag en waarheid en geregtigheid en liefde hoor in die woorde van Jesus. As God my hart verander sal ek nie aanstoot neem aan Jesus se woorde nie. Ek sal juis moed skep uit die feit dat daar ten minste Iemand is wat die erns van die menslike toestand raaksien, die vyand ken, nie kompromie maak nie en praat soos ’n oorwinnende Koning en ’n groot Verlosser. HY wil ook jou Verlosser wees sodat jy Hom kan aanbid en bewonder!

GOD IS ONTSAGWEKKEND HEILIG ANDERS, JUIS DAAROM IS HY ONS EWIGE AANBIDDING WAARDIG!

(met erkenning aan John Piper se “Seeing and Savoring Jesus Christ”)



[Juis omdat God so heerlik heilig anders is, kan Hy van menslike wrakke "kunswerke" maak tot Sy eer!]

*Lees meer oor die RYKDOM VAN SY GENADE. Kliek op GOUD, DIAMANTE...


Sondag 12 Oktober 2014

STIG ‘N NUWE KERK?

- wat staan ons te doen as die kerkleiding klaarblyklik die pad byster raak?

Dis geen geheim dat daar die afgelope dekades reuse woelinge en koersveranderings in kerklike geledere (en onder andere ook by name in die NG Kerk) was nie.

Oor kernleerstellings soos die liggaamlik historiese opstanding van Jesus, Skrifbeskouing, die bestaan van die duiwel, die kerk se hantering van homoseksualiteit en baie ander sake (soos die vrou in die lerende amp) is daar hewige debat gevoer en is daar in sommige gevalle Sinodale besluite geneem wat baie diep gelowige lidmate geskok laat wonder het of ons nog ‘n plek het in die kerk en of ons nog met ‘n goeie gewete lidmate kan bly van ‘n bepaalde denominasie. Inderdaad het duisende van die room van ons lidmate ander kerklike tuistes gevind of gemeentelose swerwers geword... Die voorstel rakende die verandering van Kerkorde Artikel 1* van die NG Kerk is nou weer so ‘n kwessie wat gemoedere gaande kan maak en weereens ‘n besinning oor lidmaatskap tot gevolg kan hê. Om dit prontuit te stel, daar is lidmate wat diep ongelukkig is met die koers waarin die kerkleiding klaarblyklik beweeg. Sommige oorweeg dit dalk weer om die pad te vat... “Wanneer is genoeg , genoeg en moet ons afskeid neem?”, word gevra.

AFSKEIDING EN AFSTIGTING?

Moet ons wegbreek en afstig as die kerkleiding ‘n koers inslaan wat volgens ons mening nie reg aan die Skrif en ons belydenis laat geskied nie? Ek dink dat daar (ten minste tans) goeie praktiese, historiese en teologiese redes is, waarom ons uiters, maar uiters versigtig moet wees om sommer ‘n kerkverband te verlaat en ons “eie” ding te doen.

Prakties : Afskeidings lei tot kerkversplintering en dikwels tot ‘n ongebreidelde individualisme wat uiteindelik ontaard in kerklosheid en chaos. Rondom ons is daar baie sigbare voorbeelde. As jy eers begin afstig en afstig word dit later ‘n eindelose proses van afstigting en kerkhoppery, want kort voor lank kom daar in die nuwe groep ook verskille na vore wat weer afstigting of afskeiding “regverdig”. Die gevolg is op die ou end klompies opregte, maar dikwels verdwaalde skape van die Here wat hulle eie koers inslaan en die prooi word van verwaarlosing en wrede wolwe. Los individue wat elkeen die Here op sy eie manier probeer dien, is nie die Nuwe Testamentiese siening van Christenskap nie!

Histories : Die geskiedenis bewys by herhaling dat afstigtings gewoonlik op die lange duur nie lei tot suiwerder kerkwees nie. (Dink maar aan Nederland!) En dis ook by ons die geval : hoeveel van diegene wat hulle spesifiek van die NGK afgeskei het se bedienings het in ’n doodloopstraat beland en nie juis tekens gelewer van God se seën en goedkeuring nie? Wat van die 16de eeuse reformasie sal mense vra, dit was tog ‘n radikale afskeiding van die Roomse kerk, of hoe? Die geskiedenis wys dat dit nie die reformatore soos Luther se aanvanklike idee was om af te skei nie. Hulle is uiteindelik gedwing om dit te doen. Om weg te loop is een ding, om weg gejaag te word is iets heel anders...

Teologies : Die verbondsvolk van God in die Ou Testament was dikwels (meestal) in ’n uiterste toestand van verval en het selfs polities geskeur na Salomo se regering. Tog word godsdienstige afskeiding of skeuring nêrens as ’n oplossing voorgehou nie. Dis ’n minderheid van die Verbondsvolk wat die ware God by tye gedien het, maar die sewe duisend wat nie die knie voor Baäl buig nie, kry nie die opdrag om eenkant hulle eie ding te gaan doen nie.

Die Nuwe Testament se herhaalde en ernstige waarskuwings om gereed te wees, om selfondersoek te doen, om in die geloof te bly en ook die oproep tot bekering byv. tot die gemeente van Laodicea, wys dat daar nie ’n is-gelyk-aan-teken tussen kerk en ewige burgers van die Koninkryk is nie. Almal in die kerk sal nooit ware volgelinge van Jesus wees nie. Die volmaakte kerk bestaan nie, selfs onder Jesus se binnekring van dissipels was daar ‘n Judas en ook die ander het by tye ernstig gedwaal. Die toestand van die kerk op aarde kan natuurlik wissel in gesondheid en waarheid, soos die briewe aan die sewe gemeentes in Openbaring duidelik aantoon. Dit blyk dat dit met party gemeentes heel goed gaan, terwyl sommige kerke (gemeentes) bloot nog net die naam het dat hulle leef. So was dit met die gemeente van Sardis. “Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood.” (Openbaring 3:1) Tog word selfs hulle nog steeds as gemeente van die Here vermaan en aangespreek en opgeroep tot bekering. Die getroue gelowiges in hierdie afvallige gemeentes kry nie in ’n enkele geval die raad om hulle af te skei nie! Nee, hulle moet optree teen verkeerde elemente en hulleself weer toewy in gehoorsaamheid en liefde vir die Here. Die kerk in Korinte word steeds as gemeente van Christus deur Paulus hanteer al was daar gruwelike voorbeelde van twis en seksuele losbandigheid... Kyk hoe spreek Paulus hierdie gemeente korporatief aan. “aan die geheiligdes in Christus Jesus, die geroepe heiliges,” (1 Kor 1:2 OAV) En ja, beslis, hy raas baie ernstig met hulle vorentoe in die brief, maar tog herinner hy hulle as gemeente daaraan dat Jesus Christus getrou is om hulle te laat vasstaan. (1 Kor 1:8,9)


Gelukkig is die deurslaggewende faktor nie kerkrade, ringe en sinodes nie, maar ons GETROUE HERE JESUS CHRISTUS!

WAT STAAN ONS TE DOEN?

As afstigting nie ‘n opsie is nie, wat dan wel?

Die selfstandigheid van elke gemeente bied bewegingsruimte en kan dien as ’n vertrekpunt vir reformasie. Ons moet tog waak om nie die beginsel van ecclesia completa te vergeet en kollegialisties oor die kerk te dink nie. Die plaaslike gemeente is volledig kerk en nie bloot ‘n tak van ’n instituut nie. Elke plaaslike kerk staan direk onder die regering van Christus deur middel van die Woord en onder leiding van die ampte. Elke plaaslike gemeente wat dit ernstig opneem, het die heerlike voorreg, ruimte (en verantwoordelikheid!) om toe te neem in insig van God se wil en gehoorsame gelykvormigheid aan Christus. Meerdere vergaderings (ringe en sinodes) is slegs meerdere vergaderings omdat meer kerke teenwoordig is en nie omdat hulle meerdere gesag het nie. ‘n Sinode, moet ons onthou is nie ‘n hiërargiese (pouslike) liggaam nie, maar eerder ‘n gebeurtenis! Een kerk (gemeente) het wel ’n getuienistaak ten opsigte van ander kerke (gemeentes) wat die pad byster geraak het, maar kan tog nie verantwoordelik gehou word vir hulle sondes nie. Waarop kom dit neer? Die plaaslike kerk onder leiding van die plaaslike kerkraad, moet na groter gehoorsaamheid aan die Skrif streef en voortdurende reformasie najaag. Ons eerste verantwoordelikheid is hier by onsself! Ek wil amper sê (sonder om die belangrikheid van 'n besluit rondom Artikel 1 te ontken) : "Wees dus asseblief minder bekommerd oor Belhar en meer bekommerd oor die geestelike toestand van ons eie jeug, sedelike norme, kerkbywoning en diensbaarheid!" As ons euwels soos onsedelikheid (saamwonery) en los dissipline (byvoorbeeld oor versuim van kerkbywoning) sommer goedsmoeds in eie geledere duld, hoe kan ons dan die groter kerkverband oor “sondes” aanspreek? Positief gestel, niks wat ‘n sinode sou kan besluit kan ons verhinder om getrou aan Jesus en Sy Woord voluit kerk te wees nie. Laat ons hiermee erns maak!

Kerkrade moet groter verantwoordelikheid vat in praktiese aangeleenthede soos die beroeping van leraars wat die Woord suiwer verkondig, ondersteuning aan Skrifgetroue bedienings en die bestuur van gemeentes in eerlike gehoorsaamheid aan die Woord. Vir hierdie tak moet kerkraadslede hulleself toerus (en laat toerus) sodat hulle kan standpunt inneem teen wat verkeerd is en kan bevorder dit wat reg is.

Lewer ‘n helder en blymoedige getuienis binne jou kerkverband sowel as na buite met die Skrif en belydenisskrifte as basis. ‘n Helder getuienis – laat ons duidelik sê waar ons verskil en dit deeglik vanuit die Woord en belydenis fundeer. Maar ook belangrik – ‘n blymoedige getuienis – sommige kampvegters vir die waarheid verval in ‘n oorkritiese, siniese dikbek gesindheid en kelder so hulle eie standpunte. Oor die waarheid kan en moet ons altyd bly wees. Daarom moet ons bereid wees om ons standpunte met beskaafdheid, vriendelikheid en innerlike vreugde aan almal te stel wat maar wil luister.

Soek groter kontak en eenheid met ander gemeentes wat opreg na Woordgehoorsaamheid streef. Pasop vir die “net ons is reg” sindroom. In elke kerkverband en daarbuite is baie gemeentes en gelowiges wat die Here getrou wil dien in hierdie tye van chaos. (Nooit sal ons ook oor elke "i" se dotjie en "t" se strepie presies dieselfde dink nie. En ons hoef ook nie...) Laat ons wat oor ons baisiese geloofsfondamente dit eens is, mekaar opsoek en die hande vat. Ons het mekaar nodig.

Laat ons ons verootmoedig in gebed en berou oor die gebroke toestand van ons eie gemeente en kerkverband en groter kerk as geheel. Die geestelike temperatuur in die 18de eeuse Engeland is nie deur wegbreekaksies, formele kerkdebatte en besluite verander nie, maar deur ‘n Godgewerkte herlewing! Ja, God het menslike instrumente in hierdie herlewing soos Whitefield en Wesley gebruik, maar dit was in die eerste plek ‘n bonatuurlike ingryping van God self! Hoe nodig het ons Hom nie! Wie ernstig is oor die welsyn van die kerk sal begin bid! God is nog steeds God en vir Hom is niks onmoontlik nie. Ons mag en hoef nie moed te verloor weens die uitsprake van diegene in leiersposisies nie; ons is ook nie afhanklik van sommige misleide akademici aan ons universiteite nie. God kan ’n magtige werk op voetsoolvlak doen as ons Hom entoesiasties gehoorsaam en die waarheid biddend verkondig. Die werk van  (kliek op) Hans Hauge (1771-1824) in Noorweë is ’n pragtige en besielende voorbeeld hiervan.

POSITIEWE HOOP

Solank die Woord binne die kerk gevind word (en onthou sowel die ou as die voorgestelde Kerkorde Artikel 1 begin met : “Die Nederduitse Gereformeerde Kerk is gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God.”) en ons hierdie Woord mag verkondig is daar hoop! Hierdie Woord is ons basis en vertrekpunt van reformasie.  Maar daar rus ook ’n nederige verpligting op elkeen wat hierdie Woord glo, om dit gehoorsaam uit te leef. Ons hoef nie vir iemand te wag nie - ek en jy kan mos deur die genade dit begin gehoorsaam... 


Die plek om te begin is my eie hart en daarnaas ook in ons eie gemeente. Die versoeking om die pad te vat is dalk soms groot. (Jy het dit dalk alreeds gedoen en ek het baie begrip daarvoor. Jy het dalk geen ander keuse nie, want jy moet Sondag na Sondag die gruwelikste dwaallering aanhoor – daar kan sekerlik situasies ontstaan, wanneer daar geen ander opsie is as om by ‘n ander gemeente of kerkverband in te skakel nie. Moet asseblief net nie die LONE RANGER OPSIE kies nie! ) Elkeen wat dit oorweeg moet egter eers eerlike selfondersoek doen of dit in die lig van die breë beginsels van die Skrif die regte ding is. Het God jou nie juis geplaas waar jy is, binne-in ‘n bepaalde gemeente, met die oog op ‘n tyd soos hierdie nie? Mag Hy jou duidelik deur Sy Gees en Woord lei!

Afskeiding kan maklik ‘n afgrond word...



*Huidige Artikel 1 

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht in 1618-1619, naamlik die sewe en dertig artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die vyf Dordtse Leerreëls.


Voorgestelde Nuwe Artikel 1 

1. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk is gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. 

2.1 Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, word verwoord in die ekumeniese belydenisse, naamlik die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicea en die Geloofsbelydenis van Athanasius; en die Drie Formuliere van Eenheid, naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls. 

2.2 Die Belydenis van Belhar is deel van die belydenisgrondslag van die Kerk, op so ’n wyse dat daar ruimte is vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit as in ooreenstemming met die Woord van God bely, sowel as vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit nie as ’n belydenisskrif onderskryf nie. 

3. Die Kerk aanvaar dat haar roeping om haar geloof te bely, altyd geld en dat ’n uitbreiding van haar belydenisgrondslag sonder dwang geskied. 


[Die kerkraad van die NG Kerk Tsumeb het op 12 Oktober 2014 met ‘n groot meerderheid , NEE gestem, teen die voorgestelde verandering van Kerkorde Artikel 1.]

Vrydag 10 Oktober 2014

LEEU ÉN LAM

- die veelvoudige heerlikheid van God word gesien in Hom wat die sewe seëls kan breek. 

Baie mense het net ‘n enkelvoudige heerlikheid (hulle het net een sterk punt) : Iemand is miskien magtig en sterk, of dalk sagmoedig en vriendelik, maar nie beide nie. Miskien slim, maar nie juis liefdevol nie... Jesus as beeld van God, die Een wat God vir ons kom wys, het ‘n komplekse veelvuldige heerlikheid. Hy is ‘n LEEU maar terselfdertyd ‘n LAM. Hierdie heerlikheid is die heerlikheid van God!



’n Leeu word bewonder vir sy vreesaanjaende krag en koninklike voorkoms.

 ’n Lam word weer bewonder vir sy sagmoedigheid. Diensbaar gewillig om ons van wol en vleis te voorsien.

Maar nog meer bewonderenswaardig sou ’n kombinasie wees van hierdie twee. ’n Sterk leeu met die sagte nederige gesindheid van ’n lam en ’n lam met die krag van ’n leeu. Christus se Goddelike heerlikheid is iets soortgelyks. 

Ons beskou eienskappe soos dapper, sterk, koninklik... dikwels as teenoorgestelde van sagmoedig, vriendelik, liefdevol. Jy is of die een of die ander... God se koninklike mag soos geopenbaar deur Jesus gaan egter hand aan hand met sy sagmoedigheid. Jesus is magtig én nederig! Hy het met sy kragtige wysheid die vloer gevryf met die hoogmoedige skrifgeleerdes, maar Hy was eenvoudig en nederig genoeg om deur kinders bemin te word. Met net een magswoord kon Hy ’n woeste storm stilmaak, maar Hy wou nie die Samaritane met vuur tref of Homself van die kruis bevry nie. Hy jaag skelms met ‘n sweep by ‘n tempel uit, maar skenk liefdevolle aandag aan bedelaars en blindes!

Die heerlikheid van God soos ons dit sien in Christus is nie iets enkelvoudig nie. Dis ’n samevoeging binne in een persoon van uiterste diverse kwaliteite.* Ons sien dit baie duidelik in Openbaring 5:1-6. Die dringende vraag is hier : Wie is almagtig genoeg om die geskiedenis te ontsluit en die heelal tot ‘n sinvolle einddoel te lei? Die antwoord kry ons in vers 5 : “Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seels oopmaak.” Hier is die triomfantelike Leeu Christus gereed om die boekrol van die geskiedenis te ontsluit, die geheimenisse van God se raadsplanne tot volvoering te bring

Maar wat lees ons net in die volgende vers? “Toe het ek.... ’n Lam sien staan, die Een wat geslag was. Hy het sewe horings en sewe oë gehad...” (Vers 6)

 Dramaties! Johannes hoor : “LEEU”, 
maar sien : “LAM!” 

Dus die magtige Leeu is ook terselfdertyd ’n Lam, ’n dier wat swak en skadeloos is, ’n maklike prooi, wat kaalgeskeer word sodat ons klere kan hê en geslag word vir voedsel. Christus is ’n leeu met die eienskappe van ’n lam.

Die Leeu van Juda het juis die oorwinning behaal omdat Hy gewillig was om die nederige hulpelose rol van ’n Lam te vervul. Hy het op Palmsondag Jerusalem triomfantelik binnegekom soos ’n koning onderweg na ’n troon, en Hy het op Goeie Vrydag die stad verlaat soos ’n lam na die slagplek. Hy het die rowers uit die tempel verdryf soos ’n leeu wat sy prooi verskeur. Maar aan die einde van daardie selfde week, het Hy sy edele nek gebuig voor die “offermes”, en die Leeu van Juda word geslag as ’n ‘n plaasvervanger Lam op die altaar van die kruis.

Lam! Ja, maar watter soort Lam? Openbaring 5:6 sê : “Toe het ek...... ’n Lam sien staan, die Een wat geslag was. Hy het sewe horings en sewe oë gehad.” Twee sake is opvallend en vra ons aandag. Eerstens, die Lam staan. Hy lê nie meer swak en bebloed op die grond nie. Ja, Hy is eens op ’n tyd geslag. Maar nou staan Hy, staan Hy in die binnekring by die troon. Tweedens, die Lam het sewe horings. ’n Horing is deurgaan sin die boek Openbaring ’n simbool van krag en sterkte. (12:3; 13:1; 17:3,12) Dit was reeds al in die Ou Testament so.** Verder dui die getal sewe op volheid. Dus, hierdie is nie ’n gewone lam nie! Hy is lewend uit die dood, en Hy is volkome magtig in sy soewereine sewevoudige krag. Hy is voorwaar, ’n Lam, met die eienskappe van ’n Leeu!

In Openbaring 6:16 sien ons hoe die Leeu eienskappe van die Lam ontvou, wanneer mense tot die berge en klippe uitroep : “Val op ons en bedek ons vir die oë van Hom wat op die troon, en vir die toorn van die Lam.” Moenie die Lam onderskat nie! Moenie kanse vat met Jesus omdat Hy sagmoedig en nederig is nie! En in Openbaring 17:14 lees ons : “Hulle sal teen die Lam oorlog voer, maar die Lam....sal hulle oorwin omdat Hy die Here van die heersers en die Koning van die konings is.”

So is Christus dan die Lam soos ’n Leeu en die Leeu soos ’n Lam. Dit is sy heerlikheid : “bewonderenswaardige samevoeging van diverse heerlike eienskappe” Sy heerlikheid is die heerlikheid van die ewige lewende God! Eens op ’n tyd is die Leeu wat soos ’n Lam is, verdruk en beproef. Hy is na die slagpale gelei. Soos ’n skaap wat stom is voor sy skeerders, het Hy nie sy mond oopgemaak nie. (Jesaja 53:7). Maar op die laaste dag sal dit ’n totaal ander storie wees. Dan sal die Leeu nie meer soos ’n Lam optree nie, maar die Lam soos ’n Leeu. Met selfversekerde heersersmag sal Hy sy plek inneem aan die kant van die poel van vuur, waar sy hardkoppige vyande sal straf! (Open 14:10-11) Hierdie Verlosser wat almagtig is, maar ook sagmoedig, is presies wat ons nodig het! HY is heerlik en aanbiddingswaardig! Kom na Hom, Hy nooi jou! (Matteus 11:28)

*John Piper. Ek maak vryelik gebruik van sy boekie, SEEING AND SAVORING JESUS CHRIST
**Deuteronomium 33:17; Psalm 18:2, 112:9

Dinsdag 07 Oktober 2014

DIE GOEIE HERDER

- is ook ons troos in die aangesig van die dood.

Dalk is die boodskap van Psalm 23 so oorbekend dat ons dit nie meer raakhoor nie. Miskien kan jy dit opsê, maar die kosbare waarhede hierin het nog nooit joune geword nie. Ek wil jou uitdaag op hierdie hartseer dag, spesifiek ook julle wat baie smart beleef, jy wat baie vrae of twyfel het – kies vir die waarheid van hierdie Psalm in jou eie lewe! Die woord kom immers na ons, ons wat lewe, ons wat nog ‘n kans het, wat nog kan hoor...

Donderdag 02 Oktober 2014

Dis unfair!

- die dilemma van die dikbek siniese Christen : “Hoekom behandel die Here my dan so onregverdig?”


“Dis ‘unfair!’ Kyk hoe hard werk ek vir die Here, maar Hy gee nie vir my plaas reën nie! Kyk hoe hard probeer ek om heilig te leef, maar dan sukkel ek so met my onhebbelike kinders. Ek doen my beste vir die kerk, en dan breek my kar, juis op pad na die wyks of selbyeenkoms... Dis juis dan nou my vrou wat met ‘n ongeneeslike kwaal gediagnoseer is. Kyk, daardie broer van my is ‘n sukkelende Christen, maar die Here gebruik en seën hom uit sy sokkies! Sien die Here dan nie raak wat ek vir Hom doen nie, maar kyk net daardie ou, hoe goed gaan dit met hom...en kyk na my... Nou is die Here darem onbillik. ”


Vergelykings met ander Christene en ‘n gevolglike gevoel van verontregting, is ‘n algemene rede vir ‘n vaal en ongelukkige Christenskap. Die oorsaak hiervan lê baie diep. Jesus hanteer hierdie saak in die gelykenis van die werkers in die wingerd. Lees Matteus 20:1-16 (dis belangrik om die Bybel voor jou oop te hê)


ARBEIDSONREG?


Hier gaan darem nou ‘n vreeslike onreg aan (immers so wil dit voorkom)- iemand wat net een uur gewerk het kry dieselfde loon as iemand wat die hele dag gesweet het. Die swoegers en die laatkommers word op gelyke voet behandel. Presies dieselfde loon vir die wat nat gesweet en uitgeput is as vir diegene wat skaars opgewarm het. Dit kan mos nie? Is dit nie ’n onregverdige arbeidspraktyk nie? Jesus wil tog nie vir ons leer om ons arbeiders onregverdig te behandel nie of hoe? Wat wil Hy dan sê?


UITSTEL?

Party mense maak dalk ‘n gevaarlike afleiding uit hierdie gelykenis. Hulle redeneer : “Kyk ek kan maar wag tot op die laaste voor ek tot bekering kom, ek kan maar uitstel....” Nee, dis baie duidelik Jesus sal nie so iets leer nie. Ja, dis wel so dat party mense eers op hulle sterfbed tot bekering kom... ons weet almal van die misdadiger aan die kruis. Maar die Bybel waarsku ons teen uitstel. J. C. Ryle het dit so gestel : “Few are saved on their deathbeds - one thief on the cross was saved that none should despair, but only one that none should presume”

Hierdie gelykenis het hoegenaamd niks met uitgestelde bekering te make nie.


Maar wat wil Jesus dan nou wel leer deur hierdie gelykenis?



Die konteks gee vir ons ’n belangrike leidraad. In die voorafgaande hoofstuk lees ons van die Rykjongman. Soos ons weet was hierdie man begerig om die ewige lewe te hê, maar nie bereid om afstand te doen van sy rykdom om Jesus te kan volg nie.....Dit het Jesus laat opmerk dat dit moeilik is vir ’n ryk man om in die Koninkryk in te gaan. In reaksie op dit alles reageer toe Petrus so : "Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal ons daarvoor kry?" (Matt 19:27). Dis asof hy wil sê : “Kyk Here, ons is darem nie soos hierdie ryk man nie, kyk ons het darem alles prysgegee om U te volg. Ons is darem beter, ons is darem oulik, ons verdien darem seker ietsie spesiaals of hoe? Sien u dit darem raak, Here?” Jesus antwoord Petrus dan en inderdaad sê hy vir die dissipels wat hulle sal kry. “En elkeen wat ter wille van my Naam afgesien het van huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of grond, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe as erfenis kry.” (Vers 29!) Ja, inderdaad dit wat die Ryk jongman gesoek het (die ewige lewe vgl. 19:16) sal hierdie dissipels wat alles prysgee vir hulle geloof , ontvang.



PASOP VIR : “EK IS MOS DAREM SPESIAAL OF HOE?”



Maar Jesus het nog nie klaar gereageer nie. Hy het ’n vals nooit, ’n onsuiwer klankie in Petrus se denkwyse opgetel. Petrus verraai onkunde oor ’n belangrike Koninkryksbeginsel. Daar het ’n stukkie selfgeregtigheid, self staatmaak op eie opoffering in Petrus se woorde deurgeskemer en daarom maak Jesus hierdie eienaardige opmerking in vers 30. “Maar baie wat eerste is sal laaste wees, en wat laaste is eerste.” Dis baie duidelik die dissipels wat alles opgeoffer het om Jesus te volg, is “eerstes”; die Ryk jongman bly agter, hy word ’n “laaste” op die pad van die Koninkryk. Dis ’n duidelike waarskuwing aan Jesus se dissipels om nie op hulle eie volgelingskap te vertrou en staat te maak nie. Hulle moet besef die ingaan in die ewige lewe hang uitsluitlik af van God en sy genade, die God by wie alle dinge moontlik is! So hierdie gelykenis is ’n rugsteun en onderbou van Jesus se uitspraak in vers 30. (Die hele tema van “laastes en eerstes” is ingeweef in die verhaal self - 8b, 10, 12, 14 en in 16 kry ons ’n basiese herhaling van 19:30) eintlike ’n stukkie kommentaar van Jesus op Petrus se stelling wat daarop neerkom dat hy dink dat hulle wat Jesus volg darem bietjie spesiaal is. Dit laat ons nou al raaksien waarop die gelykenis afstuur : in die Koninkryk behoort niemand te dink hulle is spesiaal nie, behoort niemand aanspraak te maak op regte nie, want alles is genade!



MOENIE DIE BASIESE BEGINSEL VAN GENADE VERGEET NIE!



Dis duidelik die eerstes, die wat Jesus volg, met ander woorde, die dissipels word hier aangespreek. Die klem in die gelykenis val nie op die laatkommers nie, maar juis op die wat van die begin af gewerk het, die eerstes. Hulle was ongelukkig omdat hulle dieselfde betaling as die laatkommers gekry het. So in hierdie gelykenis word die eerstes uitgesonder vir kritiek en word hulle aangespreek oor hulle ontevredenheid. 



Opvallend as mens na die verhaal self kyk, is dat die loonuitbetaling by die laastes begin. So bewerk die werkgewer doelbewus dat die ouens wat heeldag gewerk het, getuie kan wees van sy goedheid teenoor die laatkommers. In hierdie gebeure staan die ruimhartigheid van die Eienaar voorop. Dis duidelik dat dit nie vir die Eienaar oor werkprestasie gaan nie, maar die deurslaggewende vir hom is sy begeerte om vir al die arbeiders ’n lewensonderhoud te voorsien! Ja, selfs die persoon wat maar net die laaste ou uurtjie gewerk het, ontvang ’n volle dagloon. En hier kom die probleem vir die eerstes in. Hulle neem aanstoot oor hierdie ruimhartigheid. In hulle denke is daar geen ruimte vir hierdie ekstra ontferming van die Eienaar nie.



Hierdie manier van dink by die eerstes is ’n gevaarlike slaggat waarin ons ook maklik kan trap. Kom ons trek hierdie denkwyse van die eerstes bietjie in praktiese terme deur na ons. Wat het verkeerd geloop in hulle denke, hoe het dit gekom dat hulle begin kla het en ontevrede was, wat het hulle nie reg verstaan nie wat tot hierdie ongelukkigheid aanleiding gegee het?



~ Hulle begin te veel bewus raak van wat en hoeveel hulle doen. “Die mense wat eerste gehuur is, het gedink hulle sou meer kry, maar toe hulle aan die beurt kom, kry hulle ook elkeen die gewone dagloon.” (Vers 10) Hulle het begin sommetjies maak oor hulle werk vir die eienaar. Begin onderlangs boekhou. Begin vergelykings maak: Kyk hoe hard werk ons, hoe lank werk ons.....ons verdien meer. Hulle vergeet die beginsel wat in 1 Korintiërs 4:7 onderstreep word : “Wat maak jou so belangrik en wat besit jy wat jy nie ontvang het nie”



~ Hulle begin kla. “Hulle vat toe die geld maar begin by die eienaar kla “ (Vers 11) Kla is maar net die uiterlike verskynsel van iets wat lankal in die hart broei. Boekhou lei tot vergelyking, wat weer lei tot ontevredenheid, wat lei tot selfbejammering en uiteindelik openlike murmurering. (Terloops - onvergenoegdheid, die gewoonte om te kla is ’n gruwelike sonde in God se oë - Numeri 11:1-3, 1 Korintiërs 10:10 (OAV) Filippense 2:14!)



~ Hulle begin jaloers raak op die ander werkers en hulle verag. “en sê: ‘Hierdie laastes het net een uur gewerk, en nou betaal u hulle dieselfde loon as vir ons wat die hele dag hard gewerk het in die warm son.’” (Vers 12) Hoor die bytende verwyt - “hierdie laastes” Ten onregte! (hulle het niks verkeerd gedoen nie) Jaloesie is ’n kanker in die kerk van die Here. Hoekom word hy gekies, bedank, uitgesonder, geseën of bevorder terwyl ek soveel opgeoffer het?



~ Die ergste fout wat hierdie eerstes gemaak het is hulle gevoel en insinuasie dat die Eienaar onregverdig was. (Luister bietjie, hulle is sommer onbeskof en onbeleef teen Eienaar - die aanspreekvorm Meneer ontbreek - vers 12) Die Eienaar bly beheers en spreek die woordvoerder ordentlik aan, “Vriend”. (eintlik kon hulle weggejaag het) “Ek doen niemand onreg aan nie, ek benadeel niemand nie.” Die feit is - die Eienaar het presies die regte loon betaal waarvoor hy hulle in diens geneem het, waarop hy en hulle ooreengekom het. Die Eienaar was hoegenaamd nie oneerlik nie, hy het ook nie sy woord gebreek nie. Die eerstes het gekry wat hulle beloof is en die laastes het gekry omdat die Eienaar dit vir hulle wou gee. Hy kan tog met sy besittings doen wat Hy wil! So waarop kom dit neer, wat is regtig die wortel oorsaak van die eerstes se ongelukkigheid (onthou : hulle is mos nie benadeel nie) Hulle is ongelukkig en jaloers omdat die Eienaar goed is! Skokkend , maar dis so! Die Eienaar sien hierdie verkeerde gesindheid raak –“ Of is jy afgunstig omdat ek goed is?’ (15b) Hoe maklik gebeur dit : God se goedheid en genade vir ander maak my dikbek. Here kyk wat kry Hy, ek offer baie meer op, ek loop die pad al langer, ek is meer toegewyd, ek verdien mos beter behandeling... Baie gevaarlik : Ek skep vir myself ’n wanbeeld van God, ek begin sy goedheid wantrou, my liefde vir God verkoel ...en dit alles omdat ek nie die beginsel van genade verstaan nie, omdat ek nie die wydheid van God se goedheid besef nie! Dis presies wat die profeet Jona oorgekom het toe hy dikbek was omdat God die goddelose stad Nineve nie gestraf het nie!



Die tragiese toestand waarin hierdie eerstes verval het is ’n ernstige waarskuwing vir ons. Juis ons wat opofferings maak, die Here wil dien, toegewyd wil leef kan maklik in hierdie denkpatroon verval...ek verdien darem bietjie beter behandeling, ek is darem spesiaal, ek wil darem bietjie erkenning kry, ek loop die pad mos al lank ek wil darem bietjie resultate en dividende op my geestelike beleggings sien...



Die gelykenis sluit af met dieselfde waarskuwende slotsom as 19:30. “Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.” Waarom sal party eerstes op die ou end laastes word? Daar is wel diegene wat hulle vroeg laat roep het, vroeg gehoorsaam geword het aan die evangelie, maar hulle word uiteindelik “Laastes” omdat hulle aan andere die genade misgun! Hulle kom in opstand teen God se genade vir ander sondaars en so bevraagteken hulle God se goedheid. (Soos die oudste seun in Lukas 15!)



Miskien is hierdie sondige en onkundige denkwyse reeds deel van jou sisteem. Dit maak dat jy ongelukkig voel, dat jy ongeduldig is met die res van die gemeente en op die ou end versteur dit jou verhouding met God self. Dit maak jou « Christenskap » suur. Dit kan veroorsaak dat jy teen God draai en ’n “laaste” word! Pasop!



Hoe moet mens hierdie sondige denkwyse oorkom?



~ Verander jou gedagte oor die Koninkryk van God. Moenie aan die Koninkryk dink in terme van winste of regte nie. Alles is genade en goedheid. As God se soewereine genade nie in jou lewe ingegryp het nie was jy vandag nog op pad hel toe.

~ Moenie verval in ’n werke vir loon gesindheid nie. Ja, God gee loon, maar dis genadeloon want eintlik is al loon wat ons verdien, die ewige straf. Moenie onderhandel (bargain) met God nie!

~ Moenie vergeet nie - God is soewerein! Hy kan met sy gawes maak wat Hy wil. Moenie God se optrede bevraagteken nie- Hy is altyd regverdig en altyd goed!

~ Moenie begin rekord of boekhou van jou goeie dade of jou heiligheid nie. Al doen jy baie en al vorder jy ver in heiligmaking - dis nog steeds net God se genade wat jou daartoe in staat stel en nie jou eie prestasie of vermoëns nie. Jy het niks om op te roem nie. 

~ Moenie ongeduldig raak met swakker gelowiges nie. God stap wel ’n pad met hulle. Onthou jy is net so afhanklik van God se genade soos hulle.



Positief - hoe kan ek hierdie verkeerde gesindheid oorwin? Hoe kry ek die vreugde van Christenskap weer terug?

~ Bely hierdie verkeerde gesindheid – “Here U was my genadig en nou wil ek U voorskryf of kritiseer. Hoe kan ek so blind wees vir U goedheid? Vergewe my bose gedagtes!”

~ Vra jouself af - wat verdien ek regtig? Besef dan : Niks! Alles, ja my hele Christen lewe is alles van begin tot end een groot stuk genade. “Maar deur die genade van God is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie tevergeefs nie; inteendeel, ek het harder gewerk as hulle almal; eintlik was dit nie ek nie, maar die genade van God wat by my is.” 1 Korintiërs 15:10! 



Raak weer opgewonde oor God se genade in jou lewe! So word jou vreugde herstel!

Mag sy kalmte heers in ons lewens!



Erkenning : Martyn-Lloyd Jones se “CHRISTIAN DEPRESSION” en kommentaar van Jakob van Bruggen.



Woensdag 01 Oktober 2014

WAARSÊERS EN WATERWYSERS

- Wie ken die toekoms en verborge dinge?


Die mens het ‘n groot passie om die onbekende toekoms en verborge dinge te wete te kom. Wat gaan gebeur, met wie gaan ek trou, wag daar vir my geluk, waar gaan ek hierdie of daardie skat vind...? Dink maar hoe gewild is alle vorme van waarsêery soos sterre voorspel, sogenaamde kontak met gestorwenes (kliek op DIE ANDER KANT), handpalms lees, toordokters en fortuinvertellers…Die grondrede vir hierdie nuuskierigheid is vrees. Vrees vir die toekoms, vrees vir die onbekende. Die hoofrede vir hierdie vrees is weer omdat die mens nie God as sy liefdevolle en versorgende Vader ken nie. In die boek Handelinge kry ons ook te make met die euwel van waarsêery. Kom ons kyk net eers na die agtergrond. Handelinge is ’n opwindende boek wat die verspreiding van die evangelie en die groei van die kerk na Jesus se opstanding en die uitstorting van die Heilige Gees beskryf. Onstuitbaar het die Woord van God voortgegaan...

Natuurlik was die Satan nie hiermee tevrede nie. Die duiwel hou immers nie daarvan dat mense gered en bevry word nie. So ons lees ook dikwels van die teenstand en aanslae van die bose teen die verspreiding van die evangelie. Teenstand in die vorm van vervolging, misleiding, maar ook deur direkte agente soos mense wat onder beheer van bose magte was. Tog is dit duidelik dat die krag van God telkens triomfeer oor die bose. Dis een van die temas in Handelinge : Keer op keer moet die magte van die duisternis wyk voor die mag van die lewende Jesus!

Die dramatiese bevryding van ‘n besete slawemeisie in HANDELINGE 16:16-21 is ‘n aangrypende voorbeeld van Jesus se triomferende mag, maar juis ook sy liefde vir diep gevalle sondaars. ’n Paar belangrike feite kom na vore.

~ Hierdie meisie was ’n waarsegster. Sy kon verborge dinge sien of weet. Hoe het sy dit reggekry? Sy het ’n waarsêersgees gehad. ’n Bose gees m.a.w. ‘n demoon! Nadat Paulus die bose gees uitgedryf het, kon sy dit nie meer doen nie. Geen vorm van waarsêery is maar net ’n natuurlike aanvoeling of gawe nie! Partykeer skryf mense hierdie magte aan God toe, maar dit kom van die Satan. ’n Goeie voorbeeld in Handelinge self is die geval van Simon die towenaar.....Hand 8:9,10 (Lees) Mense in okkultiese duisternis gee dikwels voor dat hulle ’n gawe van God het... dis ’n leuen uit die hel! Diegene wat met enige vorm van waarsêery te doen het, heul met die duiwel. Dis dus nie ‘n vorm van vermaak of maar net bloot ‘n grap nie! Dis ‘n sonde waarvan ons moet wegvlug.

~ Sy het vir haar eienaars baie geld ingebring. Hoekom? Daar is ’n groot aanvraag vir waarsêery! In alle kulture! (Dis nie net primitiewe mense wat hulle tot toordokters wend nie, maar ook gesofistikeerde Westerlinge spandeer miljoene om vals profete en New Age guru’s te raadpleeg.) Mense wil graag die verborge dinge weet! Ook in ons dag.... Daarom is daar baie geld in alle vorme van waarsêery! Waar baie geld betrokke is kan jy maar ‘n rot ruik; die oorsprong is verdag. Daarteenoor is God se evangeliegawes is altyd verniet!

~ Waarsêers het die vermoë om werklik soms die waarheid te praat. (natuurlik in soverre God dit toelaat) Hier kry ons ’n treffende voorbeeld. Luister wat roep die besete meisie uit: “Hierdie mense is dienaars van God, die Allerhoogste! Hulle vertel vir julle hoe julle gered kan word."(Vers 17) Dis ongetwyfeld so ’n mooi en waar boodskap! Dis belangrik om hiervan kennis te neem. Die feit dat hierdie vrou die waarheid gepraat het, beteken nie dat haar kennis van God af kom nie. Inteendeel haar kennis het direk van Satan gekom. Mense is so geneig om te sê : Dit werk dan - hierdie persoon het raak voorspel, regtig water aanwys* so... dit moet ’n gawe van God wees. Dis ’n onlogiese manier van redeneer. Die bose het werklike mag - al is dit beperk. 

Paulus laat hom nie vlei of flous nie. Hy weet hierdie vrou is onder die mag van Satan, daarom duld hy nie haar waarsêery nie (al sê sy sulke mooi en waar dinge) en dryf hy die gees uit.

Die  heerlike boodskap is dat die groot en genadige krag van Jesus triomfeer oor die bose en sy magte. 

Hierdie meisie word bevry. Toe slaan die bose terug en Paulus en Silas word in die tronk gestop. Maar niks kan die werk van God keer nie... Paulus en Silas sing liedere tot eer van God in die tronk. Ons ken die verdere geskiedenis ... die tronkbewaarder kom tot bekering! Satan se plan boemerang! (Terloops, dit is natuurlik ook ‘n duidelike bewys dat die Satan nie werklik in die toekoms kan sien nie, want hy beheer nie die toekoms nie! God alleen is almagtig, God alleen bepaal die toekoms en daarom ken ook net Hy die toekoms! Tevergeefs bestudeer mense Nostradamus of Siener van Rensburg se kriptiese uitsprake. Net God self weet wat Hy wil en gaan doen.)

Towery, bose magte en waarsêery is werklikhede... Jesus kan mens egter daarvan bevry. Sy mag is sterker as die duiwel se kettings van slawerny. God kan jou hierdie sondes vergewe as jy jou tot Hom bekeer, dit bely en laat staan! Vernietig alles wat met hierdie bose praktyke te doen het! (Vgl. Handelinge 19:18-20)


En jy? Gaan jy na waarsêers luister of na God se Gesalfde? 

Reeds in die Ou Testament het God dit gestel dat daar net een wettige alternatief is vir al hierdie soort mense se bedrog en dit is om na God se Woord te luister. Luister hoe stel Moses dit in Deuteronomium 18:9-15. 

"Wanneer jy in die land kom wat die Here jou God vir jou sal gee, moet jy nie die afskuwelike praktyke van daardie nasies aanleer nie.

Daar mag nie iemand by jou wees wat sy seun of dogter as offer laat verbrand nie. Daar mag nie ‘n besweerder by jou wees nie en ook nie ‘n towenaar of iemand wat voortekens lees of ‘n goëlaar

of ‘n slangbesweerder of iemand wat geeste om inligting vra en dooies raadpleeg nie.

Die Here het ‘n afsku van elkeen wat hierdie soort ding doen. Trouens, dit is juis oor die afskuwelike praktyke van die Kanaäniete dat die Here jou God hulle in jou belang gaan verdryf.

Jy moet opreg wees voor die Here jou God.

Hierdie nasies wat jy gaan verdryf, luister na towenaars en besweerders. Maar die Here jou God verbied jou om dit te doen.

Die Here jou God sal ‘n profeet onder jou na vore laat kom, een van jou volksgenote. Hy sal soos ek wees. Vir hom moet jy gehoorsaam.”

Hierdie “Profeet” wat in die vooruitsig gestel word is Jesus self! (Vgl. Hand 3:17-23) Die enigste teenvoeter vir waarsêery, die enigste opsie vir die Christen is om na Jesus te luister en Hom te gehoorsaam. Hier word dus ‘n baie belangrike kontras gestel tussen Jesus en enige vorm van waarsêery! Jy kan nie na altwee luister nie. Wel, ek weet na Wie ek gaan luister...

Wie die liefde van God deur Jesus Christus ontdek het, het geen behoefte meer aan waarsêers en fortuinvertellers nie!

*Waterwys deur byv. stokkies (‘n wiggelroede) is ‘n vorm van waarsêery. Daarom werk die stokkies ook net met sekere mense. Dis ‘n ou toorkuns wat vanaf Europa saam met ons voorouers gekom het. Hierdie okkultiese gawe word soms ook van geslag tot geslag in families oorgedra. Veelseggend is die feit dat dit in Engels “waterwitching” genoem word.

Om water deur ‘n hidroloog te laat soek is natuurlik iets heel anders. Dit gaan oor die toepassing van wetenskaplike beginsels en daarmee is niks fout nie.