BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 27 Maart 2014

AKTIVISME OF AFSONDERING OF....

- wat moet die Christen se agenda wees in ‘n heidense samelewing?

Die meeste van ons het groot geword in ‘n samelewing waarin die kerk baie voorregte geniet en invloed gehad het, ‘n sogenaamde Christen land...* Oor al die wanpraktyke en skyn (onthou ons nog Christelik-nasionaal?) wat daarmee gepaard gegaan het, hoef ons nie nou te debatteer nie, maar dis ‘n feit  dat baie wette van staatskant spesifiek darem Christelike waardes beskerm en bevorder het. Dinge soo pornografie en dobbelary was verbode... Dit het verander en is vinnig besig om verder te verander. Christelike instellings soos die monogame huwelik en die Sondag word nie meer beskerm en bevorder van staatskant nie. Die respek vir lewe het ‘n groot knou gekry met die aanvaarding van liberale aborsiewetgewing  en die afskaffing van die doodstraf. Die gemeenskap en sosiale strukture word al hoe meer gebou op sekulêre beginsels en selfs openlike anti-Christelik gekleur. Ons leef in ‘n Post Christelike samelewing. Miskien is dit meer korrek om op hierdie stadium te sê dis ‘n baster Christelike samelewing wat vinnig besig is om te verander na ‘n volbloed heidense samelewing

Ons as Christene word dus al  hoe meer  met die praktiese vraag gekonfronteer :  Hoe moet ons as kerk optree in ‘n heidense goddelose samelewing?

Vrydag 14 Maart 2014

DIE ONDING VAN OTM GEBEDE

- watter soort gebede word deur God verhoor?

Verlede Sondag het ons gekyk na die allesoortreffende belangrikheid van gebed. (kliek op KRAGTELOSE KERK) Ware gebed, gebed wat kontak maak met God! Gebed is praktiese geloof, geloof in aksie. Gebed is ‘n uitdrukking van ons afhanklikheid van God. Gebed is die kragdraad wat ons verbind met God as kragbron. Sonder hierdie verbintenis kan ons lampe nie skyn nie.

Gebed is so belangrik en tog is baie mense teleurgesteld in gebed. “Ek het ernstig gebid, maar dit werk nie! Nee, wat gebed help nie vir my nie, kyk wat het gebeur...”

Woensdag 12 Maart 2014

“SEXY” OBSESSIE

- kulkultus van die lyf.

Elke kultuur het sy swak plekke en sondige neigings. Ons westerse kultuur word tans gekenmerk deur ‘n buitengewone beheptheid met die uiterlike. (by dames sowel as mans) Menige jongmens (en nie meer so jonk) se gedagtes word oorheers deur die vraag : “Hoe lyk ek?” ‘n Aantreklike en sensuele voorkoms word ’n verterende obsessie wat baie mense se lewens oorheers. Jy moet "sexy" lyk, anders is jy uit. Dit word al van kleins af (bewustelik of onbewustelik) by kinders ingeprent. Dit word aangewakker deur die media omgewing, die soort klere wat ons vir ons kinders koop, dis die boodskap van die eindelose ry skoonheidskompetisies waaraan die arme bloedjies van baba stadium tot tieners blootgestel word ter wille van pa’s en ma’s se eggo’s. Hierdie obsessie is nie maar sommer net ’n gier waaroor ons grappies kan maak nie, dit beheers en vernietig mense se lewens. Dit het ’n geweldige invloed op hoe ons onsself sien en hoe ons ander mense sien en behandel. As ekself nie heeltemal tevrede is met hoe ek lyk nie, voel ek minderwaardig en ’n mislukking. Hierdie beheptheid met voorkoms veroorsaak dat ook ander op die uiterlike getakseer word : “As jy nie mooi is nie, dink ek nie veel van jou nie.”

GOD DINK ANDERS.

God dink natuurlik heel anders. Hy help vir Samuel reg sodat hy homself nie sou laat mislei deur voorkoms met die kies van ‘n koning uit Isai se seuns nie : "Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike." (1 Samuel 16:7)

Die kultus van die lyf, is duidelik nie in lyn met God se siening nie en het ’n vernietigende uitwerking

1. Dit verwring veral vroue se siening oor hulleself en dra beslis by tot eetversteurings (anorexia), ongesonde gewoontes (party verniel hulle liggame ure in die son om die regte skakering te probeer kry), modeverslawing (dit lei soms tot lagwekkende situasies as sommiges klere dra wat nie pas by hulle figuur en ouderdom nie) en so kan mens voortgaan…

2. Dit demoraliseer persone wat ouer word. Ouderdom word gesien as ’n negatiewe ding. Mense probeer solank as moontlik vasklou aan die ideaal van “Forever Young.” (Ja, Chris Barnard het ook hard probeer, maar selfs ‘n slim ou soos hy kon dit nie regkry nie...)

3. Dit verdraai waardes. Mans wat ’n lewensmaat soek lê buitengewone klem op die uiterlike, en later moet hulle tot hulle smart ontdek, ’n vrou met ’n mooi uiterlike maak nie altyd noodwendig ’n goeie lewensmaat nie. (kliek op MOOI VROU)

4. Hierdie sondige obsessie is ’n handige handvatsel wat die duiwel gebruik om ons rond te skud sodat ons nie die vryheid kan ervaar wat God vir ons bedoel het nie. Dink net hoe buit die geldmag en die advertensiewese hierdie swakheid uit - jy moet dit of dat koop, want jy moet so en so lyk... Duisende rande word aan ongesonde maermaakmiddels en kosmetiese operasies bestee om te probeer lyk soos die tierwyfies op die voorblaaie van ons tydskrifte… Die aspirasie na ‘n onbereikbare voorkoms is waarskynlik ook ‘n groot bron van depressie – “ek kan nie so lyk soos...en nou voel ek soos ‘n lelike eendjie”

BEVRYDING : 

SKOONHEID VERGAAN, MAAR CHRISTUS BLY STAAN!

Wat moet ons doen? Wel, as ons tot eer van God wil lewe, en in vryheid Hom wil dien, moet ons leer om nie op die liggaamlike uiterlike te verafgod en verabsoluteer nie.* Ons moenie meer beheer word deur hierdie dinge nie. Die harde feit is, jy kan nie loskom van hierdie denkwyse deur maar net te probeer nie. (Dis net so 'n sterk mag soos gierigheid of alkoholverslawing.)

Om vry te kom van die liggaamskultus van ons tyd moet ons eers verstaan waar hierdie obsessie vandaan kom. Die wortels daarvan vind ons reeds in Genesis 3 (sondeval). Twee redes vir hierdie beheptheid met die liggaamlike kom na vore:

1. Deur eie pogings probeer die mens om sy naaktheid te bedek. (Daardie vyeblaaruitrusting!). Hoekom? Weens ‘n diep gevoel van skaamte en skande! Dit kom daarop neer dat ons ons diep innerlike gevoel van skaamte en skande en geestelike bankrotskap en onvermoë probeer wegsteek vir God en ander mense. Ons kruip weg agter die uiterlike want daar is ’n diep onsekerheid en gebrek in ons innerlike. Ek voel leeg en onvervuld in my binneste, nou probeer ek maar die buitenste soveel moontlik versier. Leegheid word deur sonde veroorsaak - ek weet in my hart ek is nie wat ek moet wees nie.

2. Daar is ’n diep onderliggende vrees in ons vir sterflikheid en naderende dood. Hierdie buitengewone drang na fisieke skoonheid, is ’n poging om te probeer jonk lyk, want ons probeer weghardloop vir die onvermydelike ouderdom en die dood! Die obessiewe najaging van die uiterlike is ’n ontvlugtingsmeganisme om nie die dood in die oë te kyk nie.

Hierdie is baie diep sake. Ons kan dit nie sommer so maklik afskud nie. Ons het Iemand nodig om ons te bevry.

Hierdie Iemand is Jesus. Terloops, hoe het Jesus gelyk? Was Hy die aantreklike fotogeniese held soos die Kinderbybels en flieks Hom uitbeeld? Jesaja 53:2,3 vertel ons : “Die dienaar was soos ‘n loot wat voor die Here uitspruit, soos ‘n plant wat wortel skiet in droë grond. Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie. Hy was verag en deur die mense verstoot, ‘n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie.” Die werklikheid oor Jesus strook nie heeltemal met die prentjies van die Kinderbybels nie! Jesus was nie 'n kliënt van Hannon Botma nie! Jesus het die hemelse heerlikheid en sy skoonheid afgelê om ons te red van sonde en ewige dood. Hy het sy heerlikheid vrywillig verlaat en ’n slaaf geword, sodat Hy deur sy dood ons kon bevry. “Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.” (Filippense 2:6,7) 

Jesus het vrywillig “lelik” geword, sodat ons vir ewig “mooi” kan wees!

Jesus bevry elkeen wat na Hom kom van die worteloorsake van hierdie obsessie met die uiterlike. Wat is die worteloorsake nou weer? Die leegheid, stukkendheid en onvermoë wat ons ervaar weens ons sondeskuld. Die vrees vir ouderdom en dood.

Jesus bevry ons van beide : 

1. Hy bevry van sondeskuld. Hy het volledig betaal, die kind van God se sonde bestaan nie meer in God se gedagtes nie. “Oor hulle ongeregtighede sal Ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie." ( Hebreërs 8:12)

2. Hy bevry van doodsvrees - Omdat my sondeskuld betaal is, kan die Satan my nie meer bang maak met die dood en die hel nie, want God hou my sonde nie meer teen my nie. (Hebreërs 2:14,15) Dood is net erg as ek nie weet my sonde is vergewe nie. Sonde is die angel van die dood! 

As Jesus my bevry het van my skande en skuldgevoel, as Hy my bevry het van my vrees vir ouderdom en dood, dan word ek al hoe meer bevry van my obsessie en angs oor voorkoms. Nou kan ek rustig wees en vrede hê met wat die Here en soos die Here my gemaak het. Ek kan myself wees, want Hy het my vergewe en aanvaar. Ek kan sonder vrees leef vir wat mense van my dink, want al wat saakmaak is wat God van my dink; en die feit is in Jesus het Hy my ontsettend lief!

AL JONGER?

Maar dis nie die einde van die storie nie. Die kind van God word wel ouer en swakker (soos alle mense), maar ons word innerlik, geestelik al hoe meer vernuwe. (2 Korintiërs 4:16) Dit beteken die kind van God word elke dag geestelik mooier soos die Heilige Gees al meer beheer neem van my lewe en my meer gelykvormig aan Jesus maak. Maar ook dit is nie die einde van die storie nie. Daar kom ’n dag, dis wanneer Jesus kom, wanneer ons liggame wat nou deur sonde geskend is, volmaak nuutgemaak gaan word soos Sy verheerlikte liggaam! (Filippense 3:21)

Dink weer mooi oor wat belangrik is in die lewe... Mag God se kosbare kinders nie gekul word deur die kultus van die lyf nie, maar waarlik tot Sy eer leef!

*Natuurlik is ons liggaamlike versorging en welsyn nie onbelangrik nie. God het immers ons liggame ook geskape om Hom te verheerlik en ons is dus ook rentmeesters van ons liggame. Hierdie liggame moet gesond gehou word deur die regte eetgewoontes, oefening en ‘n gesonde leefstyl. Kinders van God se liggame is immers die tempel van die Heilige Gees en ons het dus ‘n goeie rede om nie ons liggame deur seksuele onreinheid, maar ook deur ongesonde kosse en gevaarlike stimulante soos nikotien te besoedel nie! Die Bybelse lering is iets heel anders as die heidens Griekse denke wat die liggaam degradeer tot maar net ‘n dop wat huisvesting bied aan die siel. Jesus red die hele mens en daarom glo ons ook aan die opstanding van die liggaam by sy wederkoms.

Vrydag 07 Maart 2014

DIE KRISIS VAN ‘N KRAGTELOSE KERK

- ons Meester gee die oplossing.


Die kerk het baie planne en projekte, maar mens kry die indruk dat ons dikwels magteloos is om diegene te help wat vasgevang is in sonde, verslawing en wanhoop. Het Jesus dalk sy krag verloor? Is die evangelie se rakleeftyd verstreke? Of lê die probleem dalk iewers anders?

Donderdag 06 Maart 2014

Stephen Fry : Out There, BBC Two

- dapper of dwaas?


Stephen Fry is ‘n homoseksuele aktivis wat ‘n dokumentêr, “OUT THERE” vervaardig het om die omvang van homofobie wêreldwyd te ondersoek. As Christen is ek natuurlik ook teen homofobie (in die sin van vrees en haat vir homoseksuele) gekant. Ek dink die Bybel gee vir ons duidelike riglyne hoe om aan alle mense in liefde en waarheid die evangelie te bedien. (Kliek op BYBELSE ANKERS )

Maar is Stephen Fry (baie gewild met 'n groot aanhang op Twitter) ‘n dapper man wat geprys moet word? (soos sommige dit doen) Of is hy ‘n advokaat vir ‘n lewenswyse wat teen God se Woord indruis? In ‘n onderhoud met Uganda se minister vir Integriteit en Etiek raak hy die volgende kwyt : “Homosexuality is fantastic. You should try it, it’s really good fun”*

Die Bybel noem hierdie leefstyl beslis nie "pret" nie, maar ‘n simptoom van ‘n gebroke verhouding met God. (Romeine 1:18ev)

Daarom wil ek my verstout om te sê dat Fry eerder dwaas is as dapper. Dis immers die dwaas wat God en sy gebooie verontagsaam...

*Bron :Ressensie deur Rupert Hawksley

Maandag 03 Maart 2014

KULTUS VAN DIE LEKKENDE WATERTENKS

- gevang en verneuk deur nuttelose plaasvervangers!

Israel het ‘n besondere geskiedenis gehad. Hulle het prakties beleef dat God ‘n getroue Verbondsgod is wat sy beloftes hou. Hy praat nie net nie, Hy doen! Hy het met ‘n kragtige hand hulle uit Egipte verlos. Met hulle eie oë het hulle gesien dat God ’n lewende God is..... hulle het self droogvoets deur die Rooisee getrek, water uit die rots gedrink, die manna en die kwartels geëet, elke dag beleef hoe hulle gelei word deur die wolk en vuurkolom.... Hulle het die liefde, die genade, die verlossingskrag en almag van die ware God konkreet leer ken. 

Maar toe gebeur die onbegryplike...

Saterdag 01 Maart 2014

GOD, OSCAR EN GESLAGSGEBASEERDE GEWELD

- kom ons grawe ‘n bietjie dieper.

Die afgelope tyd is die samelewing in Namibië geruk deur berigte van geslagsgebaseerde geweld. Met reëlmaat word verneem van vroue van alle ouderdomme wat die slagoffers van moord, verkragting en mishandeling geword het.* Die publiek verwag dat die kerk antwoorde en oplossings moet gee. Inderdaad moet die kerk in sulke tye nie afsydig swyg nie. (Onlangs het ‘n groep predikante van die NGKN en die VGKN ‘n gesamentlike verklaring hieroor uitgereik tydens ons afgelope konferensie by Rock Lodge, naby Okahandja.) Die probleem strek natuurlik ook verder as net Namibië. In groter internasionale konteks kan verwag word dat die Oscar Pistorius hofsaak ook weer hierdie gruwelike misbruik in die kalklig sal stel.



Die verskynsel van geslagsgebaseerde geweld is beslis gekompliseerd en simplistiese oplossings wat uit sommige oorde voorgestel word, hou nie hiermee rekening nie. En tog is die saak ook nie so heel onverstaanbaar en ingewikkeld nie...