BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 11 Desember 2019

ESKOM

en Ramaphosa se belofte! (van 2015)

Kyk hieronder dan verstaan jy.


Dis waarom die Woord ons vermaan om nie op prinse te vertrou nie...


Psalm 146:3 "Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie."

Sondag 01 Desember 2019

VRIEND VAN GOD?

God nooi jou na ‘n ware vriendskap met Hom – “Nader tot God en Hy sal tot julle nader.” 


Ons het nie lank terug nie, gekyk na die feit dat die bemoediging en standvastigheid van God se Woord vir ons HOOP gee. (Kliek HOOP) As jy sonder hoop is, is dit tyd om erns te maak met God se Woord! Dis waar van die hele Woord, maar dis in besonder waar van God se direkte beloftes. God is ‘n God wat beloftes maak. Heerlike beloftes. En dis nie sommer lukrake en onsekere beloftes nie. Hy maak sy beloftes duidelik en vas in die vorm van ‘n verbond, ‘n kontrak en Hy bevestig dit met sigbare tekens. (Doop en Nagmaal) 

Daar is sulke wonderlike beloftes! Beloftes oor vergifnis, oor kindskap (om seker te wees van my kindskap van God), oor gebedsverhoring, oor God se Vaderlike versorging, oor die feit dat Hy ons sal laat volhard, sy bewaring tot aan die einde, die ewige erfenis... Nou, mense hou oor die algemeen van hierdie beloftes. Hulle whatsapp dit graag vir mekaar met mooi prentjies daarby. Ons kry ook boksies met belofte kaartjies. Dan trek jy vir jou een vir die dag... Maar daar is een ding wat ons dikwels vergeet. God se beloftes het duidelike voorwaardes. Ons sien dit reeds in die verbond met Abram. “Ek sal vir jou ‘n God wees. Jy moet vir my ‘n volk wees. Ons moet hierdie voorwaardes ernstig opneem.” 

As ons nie God se opdragte ernstig opneem nie, lei dit tot frustrasie en as daar ‘n klomp opgekropte frustrasie binne in ons is dan raak ons jaloers en gewelddadig. In Jakobus 4 lees ons hiervan. Allerhande vegterye ontstaan – binne die huwelik, gesin, gemeente... Ons baklei en pleeg selfs “moord” – al is dit met ons tong of gesindhede. “Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie?” (1) 

Jakobus 4:1-10 het vir ons heelwat te sê oor God se BELOFTES EN VOORWAARDES gekoppel aan daardie beloftes. 

Hier in Jakobus sien ons weereens hoe voorwaardes, opdragte en beloftes ineengeweef is. Ons kan hulle nie losmaak van mekaar nie. Hier word indirek na ‘n hele paar beloftes verwys, maar ook na die mislukking van hierdie beloftes omdat ons die voorwaardes nie ernstig opneem nie. Ek gaan ‘n paar beloftes afsonderlik noem, maar natuurlik dis ineengestrengel, dit oorvleuel en kan nie losgemaak word van mekaar nie. 

Die beloftes oor gebedsverhoring. “Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op ‘n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie. As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.” (2,3) Op talle en talle plekke in die Skrif word ons beloof dat God gebede sal beantwoord. En tog is dit juis dié groot area van teleurstelling vir baie gelowiges. In die eerste plek word ons natuurlik teleurgestel, want ons bid nie juis veel nie. (Daardie rympie wat jy half aan die slaap saans prewel voor jy uitgeput in die bed neerval, tel nie juis as bid nie...) Die voorwaarde vir gebedsverhoring is tog gebed! Maar verder word ons wat wel bid ook teleurgestel. Hoekom? Ons bid met die verkeerde motiewe. Jakobus noem dit by die naam. “Julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.” (3) Die belofte van gebedsverhoring kom saam met die opdrag en voorwaarde om God se eer, God se Koninkryk en God se wil eerste te stel! 

Gebed gaan saam met oorgawe en onderwerping aan God se wil. 

Gebed is nie ‘n tellermasjien waar ek die knoppies druk en vir God bevele gee nie. Gebed veronderstel onderwerping aan God en dis waarop Jakobus verder nou ingaan. 

Die beloftes oor vriendskap met God. “Weet julle nie, julle ontroues, dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie ‘n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy ‘n vyand van God is.” (4) In ‘n sin gaan al God se beloftes daaroor dat Hy ons Vriend wil wees. Hy wil in ‘n intense verhouding met ons staan. Maar weereens is daar ‘n voorwaarde. Ek kan nie vriende wil probeer wees met die goddelose wêreld en die beginsels van die wêreld en dink God gaan my vriend wees nie. Jakobus stel dit baie kras. Prakties kom dit neer op : “Jy het ‘n keuse, as jy leef volgens die modes en beginsels en denkwyse van Hollywood en die Huisgenoot – as jy dink en lyk en praat soos daai mense, vergeet maar van God se vriendskap, Hy het jou vyand geword!” 

Die beloftes van genade. “Maar die genade wat Hy gee, is nog groter. Daarom sê Hy: "God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade." (6) Hoe nodig het ons elkeen juis dit nie? (God stel immers hoë standaarde wat ons telkens in faal) Genade is vir die wat hulleself verneder. Vir geestelike bedelaars! (Onthou Lukas 18 – die tollenaar se gebed) God help nie hoogmoediges nie, inteendeel Hy stry self teen hulle! Aan die anderkant - vir gebrokenes en ootmoediges het Hy altyd tyd en genade – lees maar Dawid se rou en smeekgebed in Psalm 51 na sy vreeslike sonde! 

Die beloftes van oorwinning oor die Satan. “Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug.” (7) Christene word aangeval en versoek en geteister deur die duiwel. So hierdie is ‘n wonderlike belofte dat hy sal wegvlug as ons hom teenstaan. Maar hoe doen ons dit? Onderwerping aan God! Raak gehoorsaam aan God. Maak erns met sy opdragte. Begin doen wat die Woord sê. Weet beslis - As jy aanhou haat, aanhou steel, aanhou met jou onsedelike verhouding, aanhou met jou pornografiese gewoontes, onderwerp jy jouself mos nie aan God nie. Dan gaan jy nooit die duiwel oorwin nie. Hy sal vir jou lag! 

Begin erns maak met die uitroei van sonde en beleef hoe vat die duiwel die hasepad!

Die beloftes van Goddelike aanvaarding, nabyheid en teenwoordigheid. “Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid. Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.” (8-10) Dis die kersie op die koek! As ons na God kom sal Hy na ons kom. As ons tot Hom nader sal Hy ons nooit wegwys nie. Maar wat is die voorwaardes? Radikale selfondersoek en optrede teen sonde. Kies daarteen, laat dit staan, huil daaroor, buig in nederigheid voor die Here! “Hou op om aan die een kant God te wil dien en aan die ander kant nog met julle sonde aan te gaan… Wees hartseer oor alles wat julle verkeerd gedoen het. Moenie dink julle verkeerde lewe is sommer niks nie. Dis iets waaroor julle baie sleg moet voel. Julle behoort daaroor te huil. Vee die glimlag van selftevredenheid van julle gesig af. Buig baie laag voor die Here. God sal jou optel waar jy in nederigheid en oorgawe voor Hom buig…” (Die BOODSKAP) Ja, almal wil graag dat God hulle - “optel, herstel, seën” – maar is jy bereid om voor Hom te buig, sy gesag te erken, Hom te gehoorsaam – dis die voorwaardes! Dis hierdie voorwaardes waaroor die goedvoel “prosperity” predikers swyg! 

Geloof in God en sy beloftes behels ook gehoorsame aksie! Die gemaksugtige en eiewillige mens is nie juis daarvoor lus nie! 

God bedoel sy beloftes. Maak jy erns daarmee?

Die bewys dat Hy al sy beloftes hou is Jesus self – sy koms as mens, sy lyding, kruis en opstanding! God se beloftes is goed en genadig. God se beloftes is heerlik en spreek elke nood en behoefte aan wat ons kan hê. Maar ons moet God ernstig opvat. Hy bedoel ook die voorwaardes! Berou, bekering, bereid om te buig voor sy gesag!

Saterdag 23 November 2019

Gaan die NGK skeur?


Gaan die NGK skeur oor die gruwelbesluit van die AS 2019? Ek dink : “NEE!” Hoekom sê ek so? Die NGK het eintlik lankal reeds geskeur, ons is net nie eerlik en mans genoeg om dit te erken nie. Kom ek verduidelik… Die NGK het teologies geskeur, maar probeer bloot nog ‘n administratiewe eenheid handhaaf. 


Wat behels hierdie teologiese skeuring wat reeds plaasgevind het? 

Sommer net ‘n paar vinnige voorbeelde. Een deel van die NGK glo nie meer dat Jesus liggaamlik en histories opgestaan het uit die dood nie, ander glo dit nog… (Gaan lees maar die verhaal van Ferdie Mulder in OPGESTAAN as jy dit nie weet nie) Een deel van die NGK glo nie meer dat Jesus die unieke enigste middelaar tussen God en mens is nie, ander glo dit nog… Een deel van die NGK glo nie daar bestaan iets soos ‘n persoonlike duiwel nie, ander wel… (Hy is immers ‘n springlewendige lid van die Algemene Sinode!!) Een deel van die NGK glo nie meer dat ‘n huwelik net uit een man en een vrou bestaan nie, ander glo dit nog… Kortom. Een deel van die NGK glo nie meer die Skrif en belydenisskrifte nie, die ander hou steeds vas aan die waarheid van die Woord en belydenis… 

 Die liberaliste in die NGK het die NGK gekaap via die Algemene Sinode. 

Baie slim en slu. Die Guptas kan gerus by hulle kom leer. Die minderheid lei die meerderheid aan die neus rond. 

Maar ongelukkig word die ongelowige deel van die NGK al groter en die gelowige deel al kleiner, want die meerderheid van nuwe predikante wat deur die fakulteite geproduseer word glo nie meer die Woord nie, want dis wat hulle geleer word. Verder verlaat baie van ons getrouste en vroomste lidmate die NGK omdat hulle dit net nie meer kan uithou nie. En uiteindelik is dit die vrot appels wat die goeies ook vrot maak en nie andersom nie! 

Die standpunte oor kernsake binne die NGK is onversoenbaar teenstrydig en uiteenlopend! Hoekom bly ons dan nog bymekaar? Hoekom tyd mors met onlogiese kompromisbesluite? Hoekom was daar nie lankal ook ‘n sigbare skeuring nie? Hoekom byt baie leraars en lidmate tog maar vas? 

Hoofsaaklik ter wille van administratiewe, finansiële en praktiese redes. Die administrasie van pensioen en mediese fondse, die behoud van kerkgeboue en predikantstatus… Maar daar is moontlik ook ‘n groot aantal leraars wat binne die NGK strukture bly omdat daar net nie ‘n ander opsie op hierdie stadium is nie. Daar is net nie alternatiewe geestelike versorging vir hulle gemeentelede nie. Waar moet God se kosbare skape kos kry? En ja, daar is ook fundamentele teologiese oorwegings. Die getroue gemeentelede in die sewe gemeentes van Openbaring word immers nêrens opgeroep tot afskeiding nie, maar eerder om broers en susters wat nog vashou aan die waarheid te versterk. Ja, die gemeentes word ook telkens opgeroep tot bekering! Daarom mag ons in hierdie dae wat ons besluite ook al uiteindelik mag wees, ten minste nie stilbly nie en verstom ek my oor hoe broers wat die waarheid liefhet, so ‘n oorverdowende stilte kan handhaaf! Hoe werk dit? 

Waarom bly baie getroue gelowiges nog steeds in die NGK? Die eerlikste antwoord is seker om te sê dat daar ‘n mengsel van die bogenoemde redes ter sake is. En, ja die AS besluit is immers nie ons gemeentelede se opinie of hulle skuld nie! Mag die Here vir sy kosbare kinders binne die NGK duidelik die pad vorentoe wys! Mag elke plaaslike NGK wat nog vashou aan die Woord duidelik deur die Gees en Woord gelei word binne ons huidige omstandighede!

Wanneer is genoeg, genoeg? Wanneer moet die padda maar uit die pot spring, voordat dit te laat is? Wanneer moet ons ons profetiese stem met radikale dade demonstreer? Kom ons help mekaar om die tye te verstaan!


Wanneer gaan die sand van ongeloof en ongehoorsamheid ons heeltemal verstik en begrawe?


Vrydag 22 November 2019

KRY WEER HOOP!


En dis belangrik, want hoop lei tot lof en lof bring eer aan God!

Kinders van God is mense van hoop! Ja, natuurlik ook geloof (geloof in Jesus) en liefde (liefde vir God en mekaar) maar  nou is dit ontsettend belangrik om  HOOP te hê!

Dis onontbeerlik noodsaaklik om hoop te hê. Sonder hoop kan mens nie aanhou nie. Vat nou maar ’n langafstand atleet. As hy hoop verloor, dan stop hy nou-nou…  ‘n Student wat hoop verloor, skop gou-gou op... As jy hoop met jou huwelik verloor, is egskeiding voor die deur...

Kinders van God het ’n vaste hoop nodig om te volhard. Ons het hoop nodig om die Christelike wedloop te voltooi en by ons ewige bestemming aan te kom. Maar nog belangriker, dis ook net as ons HOOP het dat ons vreugdevolle lofprysende kinders van God sal wees! 

Die probleem -  dis nie aldag  so maklik om hoop te hê nie. Daar is baie dinge wat ons ontmoedig, wat wanhoop wek, wat ons knieë lam maak.

Die Christelike hoop is nie iets vaag, mogge-troffe en onseker nie. (“Ag ek hoop maar vir die beste” nie.) Nee, dis ‘n vaste blye verwagting en sekerheid gegrond op God se beloftes.

Hoe werk hoop nou in die praktyk? Kom kyk: Hoekom het ons hoop nodig? Hoe kry ons hoop? Wat is die heerlike gevolg van hoop?

HOEKOM IS HOOP NODIG? Ons word dikwels moedeloos en radeloos op die pad van geloof. Daar is ’n  hele paar dinge waarmee ons gekonfronteer word, wat ons moedeloos maak en al die wind uit ons seile haal sodat ons maklik koersloos ronddobber:

Sonde en skuld. Dis soos ’n berg. Moedeloos. Hoe kon ek weer hierdie sonde doen? Ek voel so sleg. Ek wil maar die Here se pad los… Ek het al soveel keer geval... Ons word weens ons eie afdwalings gevange gehou deur die reus Wanhoop in die kasteel van Vertwyfeling! Dis 'n donker uitsiglose plek van desperaatheid en selfverwyt!

Teleurstellings. Mense, spesifiek ander Christene stel my teleur.  Daardie rebelse kind van my... Valse beloftes, ydele verwagtings. Doopbeloftes, lidmaatsbeloftes, verlowingsbeloftes, huweliksbeloftes word verbreek.

Omstandighede. Droogte! Siekte. Finansies. Werkloosheid. Korrupte regerings...

Verganklikheid. Niemand kan vir die skaduwee van die verganklikheid en dood vlug nie. Meedoënloos tik die sekondes , minute, ure van ons lewens af... Tyd staan nie vir ’n oomblik stil nie. Die swaard van verganklikheid hang oor ons elkeen. Ons harte rebelleer daarteen, dis so hartseer, dat alles moet vergaan, dat almal uiteindelik oud word en sterwe...  Is alles dan tevergeefs?

HOE KRY EK WEER HOOP? Hier in ROMEINE 15:1-6 sê Paulus vir ons hoe ons vol hoop kan wees.
Let veral op vers 4:
 
 “Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees.”

Die Skrif gee ons standvastigheid en bemoediging. 

Dit maak ons weer vol hoop!  Die hele Skrif – “alles wat vooraf opgeteken is.” God self is die bron van standvastigheid en bemoediging. Hoe dra Hy dit oor aan ons? Deur Sy Woord! Die Skrif gee ons hoop en net die Skrif gee ons hoop! (Dis die sleutel wat die diep donker kelders in die Kasteel van Vertwyfeling kan oopsluit...*) Alle hoop wat nie op die Woord gebou is nie is wankelbaar, onvas en onseker en dit gaan jou beslis teleurstel. Pasop maar vir jou eie gevoelens en vir ander mense se praatjies. Net God se Woord is absoluut waar, want God is nie ‘n mens dat Hy sou lieg nie! “God is nie ‘n mens dat Hy sou lieg nie, ‘n mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?” (Numeri 23:19) 

God se beloftes is waar! 

Die hoogtepunt van sy beloftes is Jesus Christus self. In Hom is ons vergewe, aangeneem as kinders en het ons ewige sekuriteit. God is in alle omstandighede by ons en NIKS kan ons van sy liefde skei nie! Ons is meer as oorwinnaars, bemindes van die Vader en deelgenote aan ‘n onbeskryflik heerlik ewige erfenis! Hierdie is als feite van die Woord! Wie dit hoor en glo, kry HOOP!

VALSE HOOP

Mense wat nie hulle hoop op die Woord van God stel nie, stel gewoonlik hulle hoop op twee ander faktore:

~ Hulle stel hulle hoop op die rykdom. My besittings en my belange verskaf vir my sekuriteit. Dis baie dwaas en riskant!  “Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet.” (1 Timoteus 6:17) Mense verkies die onsekere hoop op rykdom bo die hoop op God en sy beloftes. Ja, dis so - kyk hoeveel tyd bestee hulle aan die najaag van rykdom en hoe min tyd om God se beloftes te bestudeer. Rykdom en alle aardse bates is onseker! 

Gaan vra die voormalige Zimbabwiese grondbaronne en tabakprinse! Kyk hoe verteer die droogte, misdaad en  korrupsie eens welvarende mense se rykdom...


~ Baie stel hulle hoop op mense. Ek moet net sorg dat ek die regte ouens ken en die regte ouens aan my kant het.
Ek sal my beginsels prysgee solank ek net die sterkes, belangrikes en rykes nie aanstoot gee nie. Die Bybel waarsku duidelik hierteen.  “Moenie op magtiges vertrou nie, nie op ‘n mens nie; hy kan jou nie red nie. Sy asem verlaat hom, hy word weer grond en sy planne is daarmee heen.” (Psalm 146:3,4)

WAT IS DIE GEVOLG VAN SKRIFGEFUNDEERDE HOOP? 

Daar is heerlike gevolge en byvoordele as ons hoop weer deur die Skrif aangevuur word. Saam met standvastigheid, bemoediging en hoop wat van God kom, is daar eensgesindheid. (hierdie onselfsugtige eensgesindheid is eintlik die hoofgedagte van Paulus in hierdie paragraaf wat by vers 1 begin) Christene wat saam hierdie hoop deel, verdra ander, dink nie net aan hulleself nie, bou die ander positief op en dit bring ons by eendragtige lof!  (Paulus en Silas sing saam lofliedere in die tronk!) Hier sien ons eintlik ‘n wonderlike ding! Ware hoop wat gebou is op die Skrif, bevry mens nie net van vrees en swartgalligheid nie, maar bevry mens van selfgesentreerdheid en selfsug! Dink maar mooi – ‘n mens sonder hoop is ‘n bang en  selfsugtige mens en kan nie rede insien om God te loof nie! 

‘n Mens met hoop is vry om sy medegelowige te dien en lief te hê , is vry om God te aanbid en te loof!

As ons erns gaan maak met die Woord (en die erediens waar Woord en lof op mekaar volg) is daar heerlike gevolge. Hoop. Volharding. Eensgesindheid. ‘n Lewe van lof aan God en dis die belangrikste van als!


*As jy nog nie het nie moet jy beslis die klassieke Christen allegorie van John Bunyan, “Die Pelgrim se Reis na die Ewigheid” lees!





Donderdag 14 November 2019

WIE?

WIE SE SAAK MET GOD IS REG? 

 Wie mag die Nagmaal gebruik en so sy verlossing vier? Met ander woorde, wie se saak is reg met God? Wie word deur God self as ‘n regverdige beskou? Jesus self gee ‘n duidelike en radikale antwoord in LUKAS 18:9-14. Dis ‘n pynlike, skokkende antwoord wat baie kerkmense en vroom godsdienstige siele aan hulle Paasbolletjies en Kersmaaltye sal laat verstik! Aan die anderkant is dit juis ‘n antwoord wat vir hopeloses, moedeloses en gebrokenes hoop gee. Vir hoogmoediges en selfversekerdes is dit ‘n wrede ontnugtering; maar vir geestelike bedelaars is dit inderdaad evangelie! 

Jesus het ‘n baie spesiale doel waarom Hy hierdie gelykenis vertel : Sy doel is om mense te ontmasker en te waarsku wat op hulleself vertrou dat hulle saak met God reg is! Dis nou almal wat op hulle eie geestelike en morele bates staatmaak om in die koninkryk in te gaan. Veral mense wat hulleself met ander vergelyk en daarom seker voel van hulle saligheid. 

“En Hy het ook met die oog op sommige wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is en die ander verag, hierdie gelykenis vertel.” (Lukas 18:9 OAV) 

TWEE MANNIE IN DIE TEMPEL 

Daar is ‘n duidelike ooreenkoms tussen hierdie twee manne. Altwee gaan na die tempel om te bid. Altwee glo in God. Altwee (soos alle mense) is sondaars. Die een weet dit net nie! Maar dis waar die ooreenkoms ophou. 

Daar is inderdaad diepgaande verskille tussen die twee. Dit moet noodwendig tot twee uiteenlopende toestande lei. Uiteindelik twee verskillende ewigheidsbestemmings! 

HOE VERSKIL HULLE? 

Wat betref hulle opinie oor hulleself: 

Die fariseër het baie selfvertroue en voel goed oor homself.  Hy het 'n valse geloofsekerheid gehad! Hy was seker van die hemel, maar bestem vir die hel! Dit word duidelik dat sy geloof eerder in homself is as God! Sy goeie selfbeeld sou kon doen as ‘n handboekvoorbeeld vir elke plaaslike, Amerikaanse of Nigeriese welvaartsprediker! 'n Ware trofee vir die beste lifecoach!

Die tollenaar het geen goeie selfbeeld of selfvertroue nie. Hy voel bitterlik sleg oor wie hy is! In mooi taal – hy mishaag homself! 

Die fariseër vergelyk homself met ander en hoe meer hy dit doen hoe meer neem sy selfvertroue toe. Hy raak so liries oor homself, hy is eintlik besig om homself te aanbid! 

Die tollenaar probeer homself nie eers met ander vergelyk nie, Hy sien homself net as sondaar voor God en dit stroop hom van alle selfvertroue! Sy hele houding, lyftaal en woorde vertel net een ding : diep berou en hartgrondige sondebesef. (13) "Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’ 

Wat betref die basis van hulle vertroue: 

Die fariseër vertrou op homself. Dit lyk of hy inderdaad rede het...Hy het ‘n indrukwekkende geestelike batelys. (Baie soos Paulus voor sy bekering waarvan hy later in Filippense 3 vertel) Hy is volgens alle uiterlike standaarde ‘n vroom man wat God se wette ernstig opneem. (11) En dis reg, ons moenie hierdie verkeerde dinge doen nie. Verder....hy kom die regte godsdienstige pligte na... (12) Hy vas, gee tiendes... En dis inderdaad goeie en belangrike dinge! Onthou, Jesus veroordeel nie die fariseër omdat hy vroom is nie, maar omdat hy op sy vroomheid staatgemaak het! 

Die tollenaar is geestelik bankrot. Hy het niks goeds om oor homself te sê nie. Niks om op trots te wees nie. En hy probeer nie eens om verskonings vir sy verkeerde gedrag uit te dink nie. Hy noem homself eerlik net “‘n sondaar” sonder enige versagtende beskrywings... (LW – daar staan nie “arme” sondaar nie!) Onthou, Jesus prys die tollenaar nie omdat hy so vol sonde is nie, maar omdat hy op God se genade staat gemaak het. 

Altwee is sondaars. Die fariseër besef dit nie. Die tollenaar is diep daarvan bewus. Dis eintlik al wat hy oor homself kan sê!

Altwee is sondaars. Die fariseër dink egter dat sy goeie dade homself laat kwalifiseer vir die koninkryk. Volgens sy self opgestelde geestelike balansstaat oortref sy goeie dade sy slegtes! Die sondaar besef hy het geen kwalifikasies nie. Hy is bankrot voor God. Sy enigste hoop is op God se genade! 

EWIGHEIDSVERSKIL

Die belangrikste verskil is : Die tollenaar gaan daar weg as ‘n regverdige. Hy word deur God self vrygespreek! Die fariseër nie. Dis die allerbelangrikste verskil, dis ‘n ewigheidsverskil! Daar is eintlik maar net twee soorte mense. Daar is ‘n duidelik skeidslyn. Onwedergebore en wedergebore. Kind van die hel, kind van God. 

WEERGEBORE?

In die fariseër se houding en woorde sien mens die duidelike eienskappe van iemand wat nie weergebore is nie. Wat is dit? Hy bid wel tot God maar sy eintlike vertroue is op homself, sy moraliteit en sy godsdienstigheid! Hy vind troos in homself dat hy goed genoeg is om nie hel toe te gaan nie. 

 Die beroemde Amerikaanse teoloog, Jonathan Edwards* het gesê: “Almost every natural man that hears of hell, flatters himself that he shall escape it!” Dis so waar - onwedergebore godsdienstiges troos hulleself oor die algemeen– “Ek is darem nie so sleg dat ek hel toe sal gaan nie…” 

In die tollenaar se houding en woorde sien mens die duidelike tekens van wedergeboorte: Bewustheid van sonde en eie onwaardigheid. Vertroue op God! Hy weet hy verdien die hel. Daarom is sy vertroue alleenlik op die genade van God. Die genade wat God ons deur Jesus skenk. Voortdurende besef van sonde en hartseer erkenning van my onvolmaaktheid is duidelike tekens van die Gees se genadewerking in ‘n mens se lewe. Daarmee saam ‘n afhanklike vertroue op Jesus deur wie ek God se genade kry. 

Die tollenaar is ‘n geestelike bedelaar en volgens Jesus is dit die basiese vereiste om deel te kry aan die Koninkryk van God! (Matteus 5:3) 


DIE VEILIGSTE PLEK 

Die veiligste plek is om jouself plek as sondaar voor God se genadetroon in te neem! Om jouself te verneder. (14) Miskien is jy vol onsekerheid… Ja, jy weet jy het lank gelede jou lewe vir Jesus gegee… Maar jy het dalk baie afgedwaal, dalk lou geword, beleef baie twyfel, baie mislukkings agter die rug... Jy wonder dalk diep binne in jou hart of jy waardig is om die nagmaal te vier… Jy smag na die Here God se teenwoordigheid, maar jy weet nie hoe om by hom uit te kom nie... Wat staan jou te doen? 

Charles Spurgeon het ‘n baie kosbare verhaal in die verband vertel. (aangepas) Dis van die edelman wat ‘n baie goeie verhouding met die koning van die land gehad het. Maar iewers het dinge begin skeefloop. Hy wou so graag weer die koning sien, maar hy kon dit net nie regkry nie. Daar was altyd een of ander probleem of struikelblok. Toe kom hy te hore dat die koning ‘n reuse partytjie in die paleistuin vir al die stad se bedelaars en boemelaars gaan aanbied. Die uitnodiging was baie duidelik : “Almal is welkom!” En net daar kry die edelman ‘n plan! As ek dan nie my koning kan sien as edelman nie, gaan ek nou na die byeenkoms as bedelaar! Bedelaars, alle bedelaars is mos uitgenooi! So gaan ontmoet hy weer die koning as bedelaar in sy vodde en so word die verhouding herstel! 

Die punt is : 

As jy nie meer weet of jy as kind van God voor Hom kan verskyn nie, kom as sondaar! Eerlike gebroke sondaars vol berou is altyd welkom by God. 

Kom as sondaar na God op grond van Jesus se verdienste, sy volmaakte kruisdood… Sondaars wat berou het en uitroep om genade sal nie weggewys word nie! Dis die regte houding, maar ook die vertroue waarmee ons die Nagmaal gebruik! Dis ook ‘n drastiese keuse. KOM! KRY BEROU! VERTROU! Kom nou in kinderlike vertroue na Jesus. Hy nooi jou! “Die Gees en die bruid sê: "Kom!" En elkeen wat dit hoor, moet sê: "Kom!" En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Openbaring 22:17)

Dis met die gesindheid van die tollenaar waarmee ons na die Nagmaalstafel kom. Dis die regte gesindheid!

*Hierdie aanhaling sowel as heelwat ander gedagtes het ek by Nico van der Walt gekry.

Dinsdag 05 November 2019

DIE SPOEG OP JESUS SE GESIG

- WAS DIT AF DEUR SKAAMTELOOS OP TE STAAN VIR DIE WAARHEID!

Die Algemene Sinode 2019 se besluit om onder die vaandel van diversiteit aktiewe praktiserende homoseksuele predikante toe te laat is meer as net 'n verwarrende etiese besluit. Dit tas die eer van Jesus Christus die Hoof van Sy kerk aan! Dis 'n onheilige kompromie met die anti-Woord en anti God-filosofie van die postmodernisme.

Dit lyk baie soos die kompromie wat sommige kerkleiers destyds in Roemenië met die Kommuniste gemaak het.

Hieroor het die bekende martelaar RICHARD WURMBRAND soos volg geskryf: (kliek op video)






Maandag 04 November 2019

SAAM OP REIS?

So dikwels moet ons hoor : “Moenie sê dis reg of verkeerd nie, moenie verdelende standpunte stel nie, kom ons reis eerder saam op soek na die waarheid!” Byvoorbeeld: “Kom ons doen studie oor die bestaan van die duiwel. Kom ons doen nog verdere studie oor die wese van die huwelik...” En ons weet daar is selfs ook deesdae vrae by baie teoloë oor die uniekheid van Jesus as enigste Middelaar en die feit van die opstanding. 


PASOP VIR HIERDIE REIS!

Hierdie versoek tot saamreis klink so vroom en nederig. Maar kom ons bekyk dit bietjie van nader... Hierdie reis van die liberalisme is ‘n gedoemde reis. 



Dis ‘n reis wat onvermydelik eindig in sinkretisme, agnostisisme en ateïsme. 



Hierdie reis maak dat baie mense reeds hulle respek vir die NGK op groot skaal verloor het. Een voorbeeld: Hierdie reis het al veroorsaak dat ons NG studente gemeentes bykans leeggeloop het en ons eie gelowige kinders na ander denominasies gaan om 'n geestelike tuiste te soek. 

Die reis van die liberale agenda is ‘n reis van swerwers sonder rigting en soekers wat nooit vind... Hierdie reis geskied op ‘n afdraaipad na die dood. Hierdie reisigers het die smal pad van die lewe verloor... 

Ek wonder, waarheen wil die liberaliste in die NGK heen reis? Na watter waarheid wil hulle soek? 

Vir 2000 jaar bely die kerk van Jesus, dat Jesus Christus die Seun van God is, wat vlees geword het en dat Hy alleen die weg, die waarheid en die lewe is. Ons hoef nêrens heen te reis om dit te weet nie! 

Vir 2000 jaar bely die kerk dat Jesus, deur sy kruis en opstanding Satan, sonde, dood en hel oorwin het. Ons hoef nêrens heen te reis om dit te weet nie! 

Vir 2000 jaar weet die kerk dat daar ‘n duiwel bestaan, maar gelukkig ook dat Hy op Golgota die onderspit gedelf het en dat die poel van vuur vir hom en sy meelopers wag. Ons hoef nêrens heen te reis om dit te weet nie! 

Vir 2000 jaar bely die kerk dat Jesus, liggaamlik en histories opgestaan het en dat sy graf leeg is. Ons hoef nêrens heen te reis om dit te weet nie! 

EN JA! JA! Vir 2000 verstaan die kerk dat ‘n huwelik die vaste verbintenis is tussen een man en een vrou. Dat die huwelik ‘n Goddelike instelling is wat die besondere band tussen Jesus as Bruidegom en die kerk as bruid uitbeeld! Weereens, Ons hoef nêrens heen te reis om dit te weet nie! (Veral nie na BENONI toe nie!)

DIE REIS NA SION!

Maar natuurlik is God se kinders wel op reis. Ons reis juis met die waarheid as vertrekpunt. Ons reis nie omdat ons nog na die waarheid soek nie, maar juis omdat ons die waarheid het. Omdat Jesus Homself deur sy Woord en Sy Gees aan ons uit genade geopenbaar het! Ons reis, ja. 

Dis die pelgrimsreis van volharding waarvan John Bunyan so duidelik skryf in sy PELGRIM SE REIS NA DIE EWIGHEID. Dis die reis na die ewige stad Sion waar daar geen sonde, trane en dood meer sal wees nie! Op hierdie reis het ons inderdaad broers en susters, medereisigers nodig wat ons bemoedig, vermaan, ophelp as ons geval het en reghelp as ons verdwaal het. Maar ons hoef nie te soek na die waarheid nie, ons het die sleutel van die waarheid wat die seldeur in die donkerste ondergrondse kerker van die kasteel vertwyfeling kan oopsluit . So ontglip ons die martelings van die Reus Wanhoop en kry ons weer nuwe HOOP! 

Sterkte vir jou, my broer en suster vir die reis van volharding in die navolging van Jesus!





'n Tipiese voorbeeld na waarheen hierdie reis van die liberalisme mens neem, sien ons nou by die Universiteit van Pretoria se Fakulteit vir Teologie en Religie. Die studentekomitee het 'n nuwe embleem vir hulleself aanvaar. (Die studente groep)



Let wel dis nie die fakulteit self se embleem nie, maar die studente komitee s'n. Nietemin is dit 'n duidelike aanduiding van die teologiese klimaat en denkstrome op ons teologiese fakulteite. Prof. Ernest van Eck, die vise-dekaan het wel sy kommer gelug oor die reaksie wat hierdie embleem op sosiale media veroorsaak het en sou met die studente daaroor in gesprek gaan.








Sondag 03 November 2019

NOGTANS OF AS?

NOGTANS! Vandag se boodskap kan in hierdie een woord opgesom word. NOGTANS! Kom ons kyk net eers wat die woord beteken: Nietemin, ewewel, nog steeds, ten spyte hiervan, ongeag… ‘n Pa kan vir sy seun sê : “Jy is baie stout, jy het vreeslik verkeerd gemaak, nogtans is ek lief vir jou, nogtans bly jy my seun…” In ‘n sekere sin kan die kind van God se hele pad van geloofsvolharding in hierdie een woord opgesom word : NOGTANS! 


Kom ons kyk na twee sulke NOGTANS situasies

Daniel se drie vriende wat weier om voor die beeld van Nebukadnesar te buig, selfs al sou die Here hulle nie uit die gevaar uit red nie. 

“Toe het Nebukadnesar woedend geword en vir Sadrag, Mesag en Abednego laat kom. Dié manne is voor die koning gebring, en Nebukadnesar het vir hulle gesê: "Is dit waar, Sadrag, Mesag en Abednego, dat julle my god nie dien nie, die goue beeld wat ek laat oprig het, nie aanbid nie? 
Nou kyk, dit sal in orde wees as julle bereid is om te buig en die beeld te aanbid sodra julle die geluid hoor van trompet, fluit, siter, lier, harp, ‘n ander blaas— of musiekinstrument. Maar as julle hom nie aanbid nie, sal julle dadelik in ‘n brandende oond gegooi word, en watter god sal julle uit my mag kan red?" 
Sadrag, Mesag en Abednego het koning Nebukadnesar geantwoord: "Ons hoef u nie hierop te antwoord nie. 

Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. 

Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie." (Daniel 3:13-18) 

Hulle het volle vertroue dat die Here hulle sal red uit die oond, maar hulle maak dit duidelik dat selfs al sou Hy dit nie doen, hulle NOGTANS nie voor die beeld sal buig nie. Hulle sal ongeag wat gebeur getrou bly aan God! 

Habakuk se beroemde lied. 

“Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. 

Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop. Vir die koorleier. Met snarespel. (Habakuk 3:17-19) 

Die gelowige verklaar hier dat al sou als wat verkeerd kon gaan, wel verkeerd gaan sal hy nogtans, ten spyte van al sy vreugde in die here vind en sy vertroue op Hom stel! 

Hoekom kon hierdie gelowiges so ‘n onwankelbare vertroue en ook lojaliteit teenoor God hê? Al loop als skeef, al kon hulle hul lewens verloor? 

1) Hulle het God waarlik geken. Hulle het Hom leer ken uit die geskiedenis van Israel as die getroue God wat in die donkerste tye nog steeds sy beloftes hou. Dink aan Abram, Isak en Jakob. Moses en die Uittog, Josua… 

Jy kan net sê “NOGTANS” as jy weet met watter God jy te doen het. Die getroue, liefdevolle, almagtige en regverdige Verbondsgod! Ja, ook as jy siek is, ook as dit finansieel sleg gaan, ook as daar droogte is, ook as jy beledig en uitgestoot word, selfs ook as jy in die vuur moet sterf, dan beteken dit nie dat daar iets fout is met sy liefde of sy almag nie! Dan weet ek hierdie dinge is sy soewereine en volmaakte wil! 

2) Hulle het God ook waarlik lief gehad. Daniël en sy drie vriende het alreeds ‘n toets deurstaan toe hulle geweier het om van die koning se heidense kos te eet. (Daniel hoofstuk 1) Hulle het God regtig lief gehad en Hom daarom gehoorsaam. Ware liefde vra nie, wat kry ek uit die “deal” nie, ware liefde sê, al gaan als verkeerd, NOGTANS bly ek getrou aan U. 

Ek en jy kan net sê “NOGTANS” as ons God leer ken het in die geskiedenis van Jesus Christus… 

 As ek persoonlik besef het wat sy kruis en sy opstanding vir my beteken het. Ek kan net sê “NOGTANS” as ek Jesus Christus liefhet omdat Hy persoonlik my sondeskuld en straf gedra het! 

Die grootste voorbeeld van die begrip NOGTANS kry ons in die lewe van Jesus self daar in die verskriklike smeltkroes van Getsemane! Jesus verkeer in ‘n geweldige intense worstelstryd. Met sy hele wese skram Hy weg van die pyn en angs en vernedering van die kruisdood… Maar een saak tel meer as al sy angste, vrese, pyn en gevoelens…. Die wil van God, die liefde vir Sy Vader, daarom kan Hy ook sê “NOGTANS”. “Hy het ‘n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: "My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil." (Matteus 26:39) 

Jesus se NOGTANS is meer as ‘n mooi voorbeeld. Dis die historiese basis van ons geloof, toewyding en getrouheid. Juis by die kruis het Hy vir ons die finale en grootste bewys van God se liefde gedemonstreer.

Die kruis wys God het ons regtig lief. Die kruis wys God is getrou aan al sy beloftes. Geliefde dis net as ek en jy regtig die betekenis van die kruis verstaan het dat ons daagliks in die geloof sal kan sê : “Al loop alles verkeerd, NOGTANS sal ek getrou en gehoorsaam bly aan my Verlosser, Jesus!” 

Die Christen is die een wat kan sê : “Ek gaan U gehoorsaam, ek gaan U dien, ek gaan U liefhê ongeag my omstandighede, want by die kruis het U eens en vir altyd U liefde bewys!” 

Die Christen is iemand wat deurgaans sê “NOGTANS…” 

Al gaan dit sleg en al reën dit nie, NOGTANS sal ek die Here volg en dien. 

Al beleef ek vertwyfelinge, al voel my geloof swak NOGTANS hou ek aan vertrou op Jesus. 

Al word ek nie gesond nie, NOGTANS sal ek aanhou om die Here te loof. 

Al draai almal teen my, al word ek uitgeskel as outyds NOGTANS sal ek getrou bly aan die opdragte van Jesus! 

Al gaan ek baie geld verloor, NOGTANS gaan ek God se wil doen, eerlik besigheid maak en al my skuld betaal. 

Al verstaan ek nie alles in die Bybel nie, NOGTANS hou ek vas aan die waarheid van die Woord as my enigste norm. 

Al dreig my ou of meisie om my te los as ek op my Christelike beginsels staan, NOGTANS sal ek aanhou om Jesus te gehoorsaam.

Al voel ek nie soos ‘n Christen nie, NOGTANS gaan ek vas vertrou dat Jesus se kruisdood die volle betaling van my sondeskuld was! 

Is hierdie begrip NOGTANS deel van jou daaglikse praktiese Christenskap? Of is jy dalk ‘n AS Christen? (Dis presies die teenoorgestelde) “Here, as U beloof om my gelukkig of gesond te maak sal ek U dien. Here, as U vir my reën gee sal ek my bydra verhoog. Here, as ek maar met hierdie verkeerde verhouding mag aangaan sal ek U volg.” AS, AS, AS...altyd ‘n klomp voorwaardes! Dis nie Bybelse Christenskap nie. Dis selfbedrog, wat gaan eindig in die hel! 

Kan jy al sê “NOGTANS”? As jy onseker is , nooi ek jou uit om na die kruis te kom kyk… Sien : Jesus gee Homself vir jou, sy laaste druppel bloed, sy laaste asem! Hy hang van God en mens verlate weens sy liefde vir jou! Hy vat al jou skuld op Hom, Hy roep uit : “Dis volbring!”


Al loop als verkeerd, NOGTANS sal ek die Here dien en loof! Hyself is my Vreugde!

Vrydag 25 Oktober 2019

BID VIR REËN?


DIS DUIWELDOR DROOG EN VERSKROEIEND WARM 


Hier in Namibië smag ons met elke vesel in ons liggame na reën. Almal van ons. Boere of nie boere. Mag ons bid vir reën? Wie mag bid vir reën? Die antwoord op hierdie vraag is nie so eenvoudig soos dit op die oor af mag klink nie. Droogte is ‘n komplekse saak. Dit het nie net met reënval en El Nino te make nie, maar ook met gierigheid, met jare se oorbeweiding en roekelose veldbestuur. En dan leer die Bybel boonop vir ons dat God vir Elia op ‘n keer aangesê het om te bid dat dit NIE moet reën nie. Vir drie jaar en ses maande lank! (Jakobus 5:17) Hoe nou? 

Die modelgebed van Jesus, die Onse Vader (Lukas 11) wys vir ons ‘n duidelike pad aan. Maar baie belangrik ons moet nie net na die Onse Vader in isolasie kyk nie, maar die hele lering van Jesus oor gebed in Lukas 11:1-13 oordink. (Maak jou Bybel hier oop) 

OP REIS 

Hier in Lukas is ‘n bepaalde konteks wat baie belangrik is. Wat is dit? Vanaf Lukas 9:51 word dit duidelik dat Jesus doelgerig op reis was na Jerusalem om daar te gaan ly en daarna na die hemel te vaar. In Lukas 13:1 word ons as’t ware herinner aan Jesus se reis situasie deur die gebruik van die woorde “sekere plek, êrens” (NAB). Iewers op pad. Die dissipels kom op hierdie tydstip met ‘n versoek (nadat hulle Jesus sien bid het) dat Jesus hulle moet leer bid. ‘n Gepaste gebed vir hulle tyd en omstandighede. Onthou, Jesus en Sy dissipels is besig met ‘n opmars na Jerusalem. Die dissipels sou wonder : “Gaan die koninkryk nou kom, het die tyd van oordeel nou aangebreek? Gaan die groot insameling van die oes nou plaasvind? Hoe moet ons nou bid?” 

In hierdie situasie is dit opvallend dat Jesus spesifiek hierdie gebed vir Sy dissipels leer. 

MODELGEBED VIR DIE GEVAARLIKE PAD 

Net kortliks die inhoud van die gebed. Dit begin met ‘n aanroep van die Vader. (by einde van hierdie stuk lering kom Jesus weer terug by die onderwerp van “Vader” - vers 13). Daarna is daar drie uitroepe (“U Naam, U Koninkryk, U wil”) waarin die bidder God se beloofde toekoms toejuig en dringend vra dat dit mag aanbreek. Dit word dan gevolg deur drie afsonderlike versoeke. Al drie hierdie versoeke het betrekking op die bidders wat op pad is na God se beloofde ryk. Dis belangrik om raak te sien dat hierdie gebed nie oor twee losstaande afsonderlike sake gaan nie. ( eers God se eer en dan bloot ons behoeftes nie) Nee, dis juis mense wat onderweg is na die koninkryk wat lewensbehoeftes (fisiese versorging) nodig het, wat vergifnis nodig het, wat beskerming teen die Bose nodig het. Hierdie behoeftes gaan nie sommer oor versoeke van die mens in die algemeen nie. Dis dinge waarvoor mense net kan en mag bid in hulle ywer vir die koninkryk. In hulle op pad wees na die koninkryk. Hierdie is hoegenaamd nie versoeke wat in diens mag staan van ons eie selfsugtige behoeftes en ideale nie. Dit gaan oor versoeke binne koninkrykskonteks. 

Dis heel waarskynlik dat die gebed wat Jesus hier vir Sy dissipels geleer het, bots met die verwagting wat hulle op hierdie stadium gehad het. Hulle het gedink die finale heerlikheid gaan nou aanbreek in Jerusalem, die Messias gaan nou Sy koninkryk triomfantelik vestig. Ons weet mos dat hulle ten spyte van Jesus se duidelike lering oor Sy naderende lyding , dit nie juis kon sluk nie. Hulle het vir hulle self ‘n triomftogsituasie voorgestel. Hulle wou ‘n nuwe gebed leer wat by hierdie verwagtinge inpas. En nou? Nou leer Jesus vir hulle ‘n gebed wat hulpbehoewendheid veronderstel (daaglikse brood), wat sonde en versoeking veronderstel (vergewe ons...), wat aanvegtinge en stryd veronderstel (bewaar ons van die Bose). Jesus leer hulle nie ‘n gemakstoel gebed nie, maar ‘n reisgebed vir ‘n gevaarlike pad. 

Die toekoms wat Jesus sou bewerk word voer die dissipels langs ‘n gevaarlike pad. ‘n Pad wat voortdurende afhanklikheid sou vereis. ‘n Pad wat besaai is met beproewing en stryd. Die goeie nuus egter is dat op hierdie gevaarlike pad, hulle op Jesus se gesag met vertroue tot die Vader kan bid. 

Die pad is gevaarlik maar ons kan met vertroue bid. 

DIE VRYMOEDIGE VRIEND 

Die gedagte van vertroue word nou verder deur Jesus onderstreep met ‘n gelykenis. Dis seker nie toevallig dat hierdie gelykenis juis handel oor iemand wat op reis was nie! (6). Moontlik wil Jesus ook aansluit by die “ons” van die gebed wat Hy aan sy dissipels so pas geleer het. Dis ‘n vriend wat namens ‘n ander vriend hulp vra by ‘n vriend. Gebed gaan nie bloot oor onsself nie, maar die ander wat saam met ons op pad is. Hoe dit ook al sy, die hoofsaak wat Jesus met die gelykenis onder ons aandag wil bring is die vertroue en die versekering wat met die vrae gepaard gaan. Die een wat klop maak staat op die vriendskap van die slapende vriend wat reeds in die bed is. Daarom is hy onbeskaamd, vrypostig. Let wel die onbeskaamdheid verwys na die onbeskaamdheid van die kloppende vriend. Sy onbeskaamdheid, sy buitengewone vrymoedigheid blyk duidelik dat hy op so ‘n onbehoorlike tyd aanklop om hulp te vra namens ‘n ander vriend. Die punt is : Leerlinge van Jesus mag maar met groot vrymoedigheid by die Vader kom aanklop. 

Wanneer ons nood ervaar (ook in droogte) op ons pad na die Koninkryk mag skaamte ons nie weerhou om God te nader nie. 

DIE KLIMAKS VAN GEBEDSVERHORING : DIE HEILIGE GEES 

Die versekerings van vers 9-10 moet ons ook binne koninkrykskonteks verstaan! Jou vra, jou soek en jou klop op pad na die koninkryk sal nie op dowe ore val nie! Die lering sluit af met die voorbeeld van ‘n pa wat telkens vir sy kinders die beste wil gee. As dit die houding is van ‘n onvolmaakte aardse pa, hoeveel te meer dié van ons volmaakte Hemelse Vader! 

En wat is die beste wat Hy vir ons gee! Wat is die toppunt van gebedsverhoring? Die Heilige Gees! “As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee—die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra." (Lukas 11:13) Die inwoning van die Gees is immers die duidelike bewys en deposito dat die koninkryk onstuitbaar op pad is! Dat al God se beloftes vervul gaan word! Vir die eerste dissipels is hierdie belofte met Pinksterdag vervul. Dit vind ook daagliks neerslag in ons lewe, as ons ‘n lewe leef onder beheer van die Heilige Gees! 

KOM ONS RAAK PRAKTIES 

1.Gebed is bedoel vir God se kinders. Dis die unieke voorreg van elkeen wat God, Vader kan noem deur Jesus Christus. Ons mag dus bid vir bepaalde behoeftes in ons op pad wees na die koninkryk : fisiese versorging (en dit is ook reën) , vergifnis, beskerming teen die bose. Wat ‘n wonderlike troos - Jesus skryf hierdie gebed voor omdat Hy bewus is van ons omstandighede op die pad - ons behoeftes, nood, swakheid en gevare waarmee ons te kampe het. 

2. Ons mag nie net nie, ons moet bid. Sonder hierdie gebed sal ons dit nie oorleef op pad na die koninkryk nie! Skaamte mag nooit in ons pad staan nie. Nooit hoef ons terug te deins om te vra nie. Ons Vader is meer as ‘n vriend, meer as ‘n aardse vader met gebreke. Hy is ‘n volmaak liefdevolle Vader. Ons mag maar vra, ons het die versekering uit Jesus se eie mond. 

3. Belangrik : Dit wat ons mag vra, dit waartoe ons aangespoor word om met vrymoedigheid te vra, mag nie in diens staan van ons eie sondige en selfsugtige belange nie. Dit gaan wel ook oor ons behoeftes, maar oor ons behoeftes as mense met ‘n koninkryksvisie. Op pad na die God bedoelde toekoms! Die fokus mag nooit wees myself en my welvaart nie, maar die eer van God! 

Die implikasie is : 

Reën mag nie vir ons belangriker wees as God se eer nie! (Neem ek en jy standpunt in vir dit wat eer bring aan God en teen dit wat Hom beledig en oneer aan doen?) 

Reën mag nie vir ons belangriker wees as bekering nie! 

Reën mag nie belangriker wees as heiligheid nie. 

Reën mag nie belangriker wees as ‘n begeerte om daagliks God se wil te doen nie! 

Reën mag nie belangriker wees as ons bywoning van eredienste en ons bereidheid vir sendingwerk nie. 

Kortom, as ons meer smag na reën as wat ons smag na die krag en die leiding van die Heilige Gees in ons lewens, is daar fout! 


Wie nie met erns bid vir en smag na geestelike reën – (die aanbreek van die koninkryk) nie, het geen reg om vir fisiese reën te vra nie!

Mag God ons beide skenk uit genade!



Maandag 14 Oktober 2019

Namibië staan op!

Verklaring deur besorgde leraars van die NG Kerk in Namibië en Suid-Afrika*



Dit is met groot hartseer, verslaendheid en gebrokenheid voor God dat ons, as leraars van die NG kerk in Namibië, kennis geneem het van die Algemene Sinode van die NG Kerk se besluit (Benoni, 8 Oktober 2019) wat ruimte maak vir selfdegeslagverhoudings en selfdegeslagverbintenisse in die kerk. Ons is van mening dat dit nie ʼn besluit is wat deur die Heilige Gees bepaal is nie, maar eerder deur die heersende sekulêre humanistiese tydgees. 



Ons betreur hierdie besluit ten diepste as in stryd met God se Woord en dus as ’n minagting van die gesag van God se Woord. Dit is genadeloos en liefdeloos, omdat die Sinode met hierdie besluit sekere sondaars (1 Korintiërs 6:9 -10) ontsondig en vryspreek. Dit los hulle onder die toorn van God (Johannes 3:36; Romeine 1:18) en weerhou hul die geleentheid om God se genade te ervaar. Hierdeur word hulle die voorreg ontneem om deur geloof in Christus Jesus vrygespreek en vrygemaak te word van die sonde van homoseksualiteit (1 Korintiërs 6:11). 


Ons doen hierdie verklaring met ’n besef van ons eie gebrokenheid en worstelstryd teen sonde en met die vaste wete dat net die vryspraak van Christus ons red. Ons is oortuig dat homoseksualiteit, soos enige ander sonde, siekte, lyding en onvolkomenheid, die gevolg is van die gebrokenheid wat met die sondeval in die wêreld gekom het. Ons wil daarom medegelowiges wat worstel met hul homoseksuele oriëntasie, in liefde vashou en begelei om hul Godgegewe roeping as kinders van God uit te leef. Ware lewensvervulling as kind van God word immers nie gevind in die uitleef van enige seksuele oriëntasie nie, maar in gehoorsaamheid aan my Goddelike roeping en in die uitleef van my identiteit in Christus: 

 Ons glo heelhartig dat, in ons nadenke oor selfdegeslagverhoudings, ons alleen die Woord van God as ons vertrekpunt en finale gesagvolle bron kan gebruik om God se wil te onderskei. Die Woord, en nie die jongste navorsing uit die vloeibare menswetenskappe nie, het altyd die laaste woord te spreek. 

 Ons glo heelhartig dat die Bybel ons leer dat die huwelik tussen een man en een vrou, saamgebind deur die liefde van Christus, ’n lewenslange verbintenis is en God se wil vir sy kerk is. Dit is ook die enigste wyse waarop ’n Christelike huwelik tot stand kan kom. 

 Ons glo heelhartig dat die Bybel alle seksuele verhoudings buite die huwelik as sonde en opstand teen God se wil veroordeel. 

 Ons glo heelhartig dat die Bybel alle homoseksuele dade in die sterkste sin as sonde en opstand teen God se wil veroordeel. Soos met alle ander sonde, is daar ook vir die sonde van homoseksuele dade vergifnis en vrymaking moontlik deur die krag van die bloed van Christus. 

 Ons glo heelhartig dat die integriteit, geloofwaardigheid en heiligheid van die kerk van Christus op die spel is wanneer mense wat bely dat hulle Christene is, terselfdertyd ook volhard in ’n lewenswyse van homoseksuele dade. Sodanige homoseksuele lewenswyse, soos trouens met volharding in enige ander sonde soos beskryf in 1 Korintiërs 6:9-11, diskwalifiseer sulke persone vir enige ampte in die kerk van Christus, sowel as vir die Koninkryk van God. 

 Ons bely en erken die menswaardigheid van alle mense voor God, omdat alle mense geskep is na die beeld van God en Jesus Christus vir alle mense gesterf het. Daarom staan ons deure en harte oop om met die deernis en liefde van Christus, alle sondaars, ongeag hul seksuele oriëntasie, te verwelkom, te bedien en pastoraal te begelei met die evangelie van liefde in Christus Jesus. 

Gedring deur Christus se liefde, moet ons mekaar se sonde ernstig opneem, sodat ook in die NG kerk ons op geen ander plek skuiling sal soek as in die vryspraak en bloed van Jesus Christus nie. In Christus wag die oorwinnaarskroon anderkant die graf en sal ons aardse stryd teen sonde vir ewig verby wees. 

Reeds onderteken deur die volgende leraars van die NG Kerk in Namibië: (38) Andries Gous, Christo Swarts, Christo van den Heever, Dirk Coetzee, Dries Burger, Dries Coetzee, Dubois du Toit, Düring Cornelius, Edwin Kakori, Erik van Zyl, Ernst Coetzee, Evert Strydom, Gerrie Cwi, Gerson Kuvare, Hector Jooste, Hein Schaaf, Hendrik van Zyl, Isaac Chameia, Jaco Rossouw, Jacob Schoeman, Jafet Moyo, Jason Ngambwe, Johan Combrinck, Johannes de Koning, Josef Gevers, Koos Engelbrecht, Leviet Kxao, Lukas van Vuuren, dr Manus Olivier, N!aici Komtsa, Petrus Kaimbi, Pierre Bosman, Richard Becker, Rudolf Smit, Shotty Mayebo, Thinus Coetzee, Vian du Plessis, Willie Coetzee 2 2 Reeds onderteken deur die volgende kerkrade van gemeentes in die NG Kerk in Namibië: (10) NG Kerk Otjiwarongo, NG Kerk Omaruru, NG Kerk Oewer, NG Kerk Opuwo, NG Kerk Tsumeb, NG Kerk Suiderhof, NG Kerk Warmbad, NG Kerk Maltahöhe, NG kerk Outjo, NG kerk Kalkrand

Reeds onderteken deur die volgende leraars van die NG Kerk in Suid-Afrika (84) Abrie Botha, dr Adré van den Berg, Alwyn Roux, Andre Fourie, Andre Lammertyn, Andrè Orffer, Andrea Werner, Andries Grobler, Arend Hoon, dr Banus Botha, Bertus Janse van Rensburg, Carel Smith, Cecilna Grobler, dr Chris Saayman, Chris Visser, Christie Smit, Clifford James, Corrie Greeff, Danie Murray, Dawie le Roux, Deon Senekal, Dr Dirk Venter, Emile Blommaert, Eric Swanepoel, Ernst Rischmuller, Evert Bergh, Fanie le Roux, Floors Ellis, Francois Botha, Frikkie Snyman, Dr.Gerard Olivier, Gert Badenhorst, Gert Barnard, Gert Delport, dr Gert Duursema, Dr Gideon Kok, Helgard Janse van Rensburg, dr Hennie Hoepfner, Ds Hermanus Crouse, Ian Dubery, Jan Louw, Jan Venter, Janlu Kuyler, Janus Roux, Johan Bloemhof, Johan Engelbrecht, prof. Johan Janse van Rensburg, Johan Koen, Johan Koen (jnr), John Holtzhausen, Jos van der Merwe, dr Leon Oosthuizen, dr Manie Taute, Marcel Vosloo, Marius Joubert, Marthinus Coreejes, Naledi Lehoko, Neels Steyn, Nicholas Botha, Nico Sennett, Ockie Olivier, Otto Clasen, PC Pretorius, Petrus Kriel, Philip Kuhn, Piet Fourie, Piet Otto, Pieter Badenhorst, Pieter J. Kotze, Pieter Prinsloo, Pieter Theron, Rhenier Nel, Roelf van Niekerk, Ronnie Neveling, Ruan du Plooy, dr Sas Conradie, Stefaan de Jager, Stefan van der Merwe, Theo Danzfuss, Tiaan Victor, Wessel Oosthuizen, Willem Badenhorst, Willem Botha, Willie Crous

Reeds onderteken deur die volgende kerkrade van gemeentes in die NG Kerk in Suid-Afrika: (8) NG Kerk Tafelberg in Kaapstad (Dolerend), NG kerk Kroonstad-Wes, NG kerk Clearview Maclear, NG kerk Delmas-Wes, Moreletapark Gemeente, NG kerk Sasolburg Tuinedal, NG Standerton-Suid (Dolorerend), NG Kerk Hoopstad

Reeds onderteken deur die volgende leraars van die Reformed church in Africa dr Gregory H. Denysschen, Kovilan Moodley, Theo Francis Reeds onderteken deur die volgende kerkrade van die Reformed church in Africa Reformed Church in Africa in Cravenby Cape Town - called Living waters

Reeds onderteken deur die volgende leraars van die Uniting Reformed Church of Southern Africa (URCSA) Johannes DG Murray , Louwrens van der Westhuizen 
[ Hier kan nog name bykom. Ook die van kerkrade. Die lys sal dus van tyd tot tyd aangepas word]


Mag ons rotsvas bly staan!

NS  Opregte dank aan ds. Erik van Zyl en almal wat hom gehelp het om leiding te neem in hierdie saak!

*Die verklaring was eers net 'n Namibiese verklaring , maar is later uitgebrei na Suid-Afrika.