BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Paul Kruger. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Paul Kruger. Wys alle plasings

Saterdag 04 Julie 2020

Die Boerevolk en Siener van Rensburg

- wie is ons ware profeet? 

Ek is ‘n trotse lid van die Boerevolk wat in God se voorsienigheid hier aan die suidpunt van Afrika ontwikkel het. Ek het geen probleem met my identiteit nie. Ek leef nie in ontkenning oor ons geskiedenis nie. Soos in alle volke se verlede was daar hoogtepunte en laagtepunte. Ek idealiseer nie my volk en dink dat ons as etniese groep die ware Israel is nie, maar ek sien wel God se genadehand op die pad waarlangs Hy ons hier in Afrika gelei het met 'n besondere doel en taak. Ek praat en skryf met trots in Afrikaans. 


Die Voortrekkermonument, die Vrouemonument, die Taalmonument… noem maar op is vir my kosbare bakens en ek vat graag my kinders soontoe waar moontlik. 
Die Gelofte, Bloedrivier, die Vierkleur, Amajuba, Magersfontein, die uitwissing en lyding in die konsentrasiekampe, die wrede behandeling van die Kaapse rebelle... al hierdie dinge roer my hartsnare. 


(Terloops een van die mees aangrypendste boeke wat ek ooit gelees het is : “So het hulle gesterf” wat handel oor die onmenslike lukrake teregstelling van Kaapse rebelle , waarvan sommige nog blote seuns was. Maar wat wonderlik is, in hierdie boek word ook vertel hoe baie van hierdie veroordeeldes waarlik Jesus as hulle Verlosser gevind het in die dodeselle terwyl hulle op hul einde gewag het.) 



So, ek is lief vir my volk, maar juis daarom is dit ook vir my ontstellend dat soveel lede van die Boerevolk vir God vergeet en hulle rug op die evangelie gedraai het . Soortgelyk aan ou Israel se dwaling. “My volk het twee sondes begaan: Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat, en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap, waterbakke wat gebars is en nie water hou nie.” (Jeremia 2:13) Ons volk het die Bron van lewende water verlaat en groot getalle drink nou by vreemde bronne wat nie kan versadig nie. Gebarste waterbakke. Stukkende emmers. 

Wat is hierdie onbetroubare lekkende bronne in ons konteks? Dis alles wat teen die evangelie van Jesus is. Die skreiende materialisme en gejaag na plesier en die rugby afgod wat maak dat die evangelie vergeet word. Die liberale teologie van sommige teologiese fakulteite wat die evangelie uitwis omdat dit die liggaamlike opstanding van Jesus ontken. Die Prosperity Gospel wat die evangelie vermink en mismaak tot ‘n mensgesentreerde selfverrykingsprojek. Die Israelvisie wat die evangelie wat bedoel is vir alle nasies verskraal en verdraai tot ‘n eiesinnige volksafgodery. Dis so hartseer. 

DIE WARE PROFEET 

Daar is Afrikaners wat blykbaar nou hulle hoop op Siener van Rensburg as die groot Boereprofeet plaas. (Terloops, ek vermoed oom Siener sal self verbaas en verstom wees oor die bog wat deesdae aan hom toegedig word!) Watter geweldige mistasting! WIE IS ONS GROOT PROFEET, PRIESTER EN KONING? Die Here het reeds met Moses hieroor in die Ou Testament gepraat. “Ek sal ‘n profeet vir hulle na vore laat kom, een van hulle volksgenote. Hy sal soos jy wees. Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel. Ek sal self rekenskap eis van elkeen wat nie gehoorsaam is aan my woorde wat die profeet in my Naam sê nie.” (Deut 18:18,19) In Handelinge 3:22, 23* verwys Petrus terug hierna en toon aan dat hierdie profesie in Jesus vervul is. Jesus Christus het die finale sê en alleenlik in Sy Naam is daar verlossing te vind!** Jesus self is die finale openbaring van God aan die mens. “In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun...” (Hebreërs 1:1,2) 

Jesus Christus is die enigste ware profeet, priester en koning! 

My volk, weet dit! Jesus is die Lam van God wat vir ons geslag is en mense losgekoop het uit alle etniese agtergronde! “Toe sing hulle ‘n nuwe lied: "U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie.” (Openbaring 5:9) Kan dit duideliker gestel word? God maak deur Sy Seun Jesus vir Homself mense bymekaar vanuit elke denkbare groepering. Daarom is die groot opdrag wat ons van Jesus ontvang het om dissipels te maak van al die nasies! Sommige van die huidige selfaangestelde Boereleiers ken nie hulle eie geskiedenis nie. Hulle vergeet dat van ons grootste Boereleiers soos President Paul Kruger en Generaal CF Beyers uitgesproke sendingentoesiaste was, wat aktief sendingwerk onder swartmense bevorder het! Gaan kyk maar na die feite en bewys my verkeerd! 

Mag ons volk en ook al die volke rondom ons terugkeer na ons enigste hoop Jesus ons gekruisigde en opgestane Here! So word ons deel van die Israel van God! Sy volk tot in alle ewigheid. 

*Tog het God reeds vroeër by monde van al die profete aangekondig dat die Christus sou ly. So het Hy dit nou laat gebeur. 

Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis. 

En dan sal daar tye van verkwikking van die Here af kom en sal Hy Jesus stuur, wat vooraf vir julle as die Christus aangewys is. 

Hy moet in die hemel bly totdat God alles nuut gemaak het. Dit het God reeds lank gelede deur sy heilige profete gesê. 

Moses het immers gesê: ‘Die Here julle God sal uit julle eie geledere vir julle ‘n Profeet soos ek laat voortkom. Gehoorsaam Hom in alles wat Hy vir julle sal sê.” (Handelinge 3:18-22) 

**En stop tog met al julle kamstige Hebreeus/Aramese variasies asof dit die sleutel tot die saligheid is! (Jeshua, Jahushua ens.) Die Naam van ons Verlosser word in die Nuwe Testament wat in Grieks geskryf is vir ons aangedui as IhsouV.

 (Die naam begin met ‘n i want Grieks het nie ‘n j letter nie) en of jy dit nou op die Engelse, Duitse, Franse of Afrikaanse manier uitspreek wat maak dit saak? En in Damara/Nama sal dit as Jesub uitgespreek word , want ‘n manlike naam eindig altyd op ‘n b terwyl vrouename op ‘n s eindig!)

Naskrif : Hierdie is 'n Afrikanermonument waarvan min mense weet. Dis op die plaas Waterbury naby Tosca in Noordwes, waar Genl. C R de Wet gevange geneem is tydens die 1914 Rebellie. Sy kommando moes oorgee na 'n baie uitputtende tog deur die Kalahari.



Dinsdag 13 Desember 2011

PAUL KRUGER SE SENDINGHART

Paul Kruger die welbekende volksheld, kommandant en latere president van die ZAR was ook ’n diep gelowige kind van God. Wat meer is, hierdie lidmaat van die Gereformeerde Kerk het ook ’n vurige sendinghart gehad. Die onderstaande aanhalings uit twee briewe gee sterk getuienis hiervan.


Ds. Andrew Murray van die NG Kerk het Komdt. Kruger genader om hulp in verband met die kerk se sendingpoging in Transvaal. Kruger het ’n groot invloed onder die swart bevolking gehad. In ’n brief aan sy kinders beskryf Murray vir Kruger as “a, good, pious man” en dan sê hy ook die volgende oor Kruger se gesindheid teenoor sendingwerk : “Mr. Kruger says that when God gave him a new heart, it was if he wanted the birds and the trees and everything to help him praise his Saviour; and so he could not bear that there should be any poor black people not knowing and loving the Saviour whom he loved.”


Op 13 April 1863 skryf Mev. MacKidd *(gebore Bosman) vrou van die NG. Kerk se sendeling in Transvaal, Alexander MacKidd aan die susters van Worcester as volg: (uit Nederlands vertaal) “Hierdie oggend het ons nog ’n besoek gehad van ’n waardige broeder in die Here naamlik, Paul Kruger, die kommandant van Rustenburg. Hy het ons besonder bemoedigend toegespreek oor ons sendingsaak, hoe dit ons roeping is om God se wil te doen, al sou ons van tien duisend heidene slegs vyf of tien tot middel wees van bekering, dat ons ter wille van hierdie paar vertroos mag word in verdrukking, of al sou daar geen een tot bekering kom nie, dan is dit ons plig om God se wil te doen, om aan hulle die evangelie te verkondig al sou dit dan ook niks anders wees as tot ’n getuienis tot hulle op die dag van die oordeel.”

Ons as Afrikaners het sekerlik baie sake in die verlede om oor te treur en daar is baie voorbeelde van roepingsversaking, maar ons kan ook dankbaar wees vir die godsmanne in ons voorgeslagte, bemoediging put uit hulle visie en voorbeeld en voortbou op die fondasies wat hulle gelê het.



*Kliek op HESSIE BOSMAN

 

(Bron : W.L. Maree, Lig In Soutpansberg)