BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 20 Maart 2021

MAAK SOOS JESUS!

[Die waarheid as fondasie van RADIKALE LIEFDE]




VANUIT DIE TRONK! 

Filippense is ‘n opwindende brief! Een rede – die “real life setting” is so eenvoudig en duidelik. Paulus is in die tronk en hy bemoedig ouens buite die tronk. Merkwaardig! Nog meer merkwaardig - die oorheersende tema is blydskap. Hierdie brief wys dat geloof werk, dis realisties uitleefbaar en haalbaar in die donkerste situasies. In 'n Romeinse gevangenis, maar ook in ons tye van Covid, korrupsie, onreg  en kerkverkrummeling…

Een van die redes vir die skryf van die brief was om die gemeente te bedank vir ‘n geskenk wat hy van hulle in die tronk ontvang het. Paulus gebruik sommer die geleentheid om sy weldoeners aan te moedig tot blydskap en vergenoegdheid. Tog spreek hy ook goggas aan soos ‘n gebrek aan eensgesindheid (4:2)* en natuurlik dwaalleer. (3:2)** (Hy verwys op ‘n baie kras manier na hierdie dwaalleraars!)

VERMANING

Paulus vind dit dus nodig om die gemeentelede van Filippi op etiese en leerstellige vlak te vermaan. Ons sien dat Paulus se grootste begeerte vir die Filippense was dat hulle ‘n evangeliese eenheid en liefde tot mekaar sal openbaar. Die sleutel vir ‘n eenheidsgesindheid is om te besef wat ons deur Jesus ontvang het (“as, aangesien” in vers 1)*** Hierdie besef moet ‘n dankbaarheid wek wat onselfsugtig is. (3,4)****

Lees gerus nou eers Filippense 2:5-11****

JESUS AS VOORBEELD

Nou fokus Paulus op die kragtigste voorbeeld van nederigheid, opoffering, die ander hoër ag as jouself... JESUS! “Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:” (5) Die opdrag, die imperatief is – “Wees soos Jesus in julle verhouding met mekaar!”

UITGEBREIDE CHRISTOLOGIE

Ons vind hier iets baie opvallend. Die etiese opdrag is kort, maar die teologiese begronding hiervan is baie uitgebreid en ongelooflik diep en deeglik. (Dis waarskynlik ‘n vroeg Christelike lied wat Paulus hier aanhaal.) Hierdie is een van die groot belangrike Nuwe Testamentiese gedeeltes oor die persoon en werk van Christus. Dit beskryf beide wat ons noem : sy trappe van vernedering en sy trappe van verhoging. Onontbeerlike Christologie. Anders as wat baie predikers van vandag dink – was dit vir Paulus belangrik dat mense die regte teologiese kennis moes hê, want Paulus het besef dat dit wat jy regtig verstaan en glo, neerslag gaan vind in jou dade.

Hier is dus geen oppervlakkige “Hi ouens julle moet nice wees met mekaar, want julle is ‘n klomp great ouens bymekaar” nie! Verre daarvandaan! Nee, Paulus se benadering is eerder : “Broers en susters, kom ons probeer iets verstaan van die geweldige vernedering wat Jesus ter wille van ons deurgegaan het en kom ons probeer iets verstaan van sy ontsagwekkende mag en majesteit! En in die lig hiervan durf ons nie anders as om mekaar radikaal onselfsugtig lief te hê nie!

Kom ons gaan net so vinnig deur die Christologie wat Paulus hier opsom: Dit gaan eerstens daaroor dat Jesus bereid was om van die grootste hoogte neer te daal en neer te buig na die diepste vernedering, vrywillig! Vir my en jou!

(6) Jesus het nie selfsugtig krampagtig vasgeklou aan Sy Goddelike regte en status nie! (Wat is die implikasie ons? Wees onselfsugtig lief vir ander. Vergeet van : “Dis my reg om...” of “Ek is belangrik...”) Dink weer mooi. Jesus was gewillig om na die stukkende gevalle, sondige wêreld te kom, nie as superheld nie, maar as beperkte mens onderhewig aan die “ellende” van menswees. Hy het swak en ellendig geword om ons te help. Vrywillig!

(7) Hy het Homself leeggemaak. Hy het nie sy Godheid afgelê nie, maar Hy het wel die menslike natuur aangeneem. Hy word een van ons. Waarlik Immanuel, God met ons. Hy het vlees geword en in ons skoene kom staan. Nie ‘n veraf gerieflike Redder nie. Die Kersboodskap is alreeds ‘n boodskap van vernedering en lyding! . Jesus is nie soos ‘n ryk donateur op ‘n afstand nie! (Hulle stuur mos graag geld , maar wil nie hulle hande vuil maak nie.) Jesus is anders, Hy kom maak letterlik sy hande en voete vuil ter wille van ons. Hy kom ook nie as super mens, semi Goddelike heerser nie, maar as dienskneg. Hy demonstreer dit letterlik in Johannes 13:3-5 (voetwassing)

(8) As mens word Hy absoluut gehoorsaam aan die Vader, ‘n gehoorsaamheid wat lei tot die afgryslike skande en vernedering van die kruis. “...nogtans nie my wil nie...” Aan die vloekpaal word Hy ‘n vervloekte – Galasiërs 3:14!

WORTELS IN DIE OU TESTAMENT

Twee Ou Testamentiese temas speel hier ‘n rol:

Jesus is as’t ware “Adam in reverse.” Adam en Eva wou soos God wees –opgaan, gelyk wees aan God, Jesus kom vrywillig af, word gelyk aan mense. Adam en Eva was ongehoorsaam, Jesus was volledig gehoorsaam aan God – ja, tot aan die kruis!

Hier is ook ‘n ego van Jesaja 53:12 die Lydende Kneg. Ons is ook geroep tot ‘n lewe van selfopofferende liefde vir ander!

VERHOGING EN VERHEERLIKING

Paulus bly egter nie stilstaan by die vernedering nie, maar gaan aan met die ontsagwekkende heerlike verhoging van Jesus! Dit soos jy weet behels Sy opstanding, hemelvaart, sit aan die regterhand van God, die magsposisie van die heelal! Daar is ‘n direkte verband tussen sy vernedering en die verhoging –“ daarom.” Omdat Hy bereid was vir die vernedering word Hy verhoog. (Die lesers moes hierdie implikasie in hulle lewens ook begryp)  Vernedering lei tot beloning!

“Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom 'n naam gegee wat bo elke naam is, “ (9)

Die hoogste naam? Here, God, Verlosser! Goddelike Verlosser! Dis die implikasie vanuit die agtergrond in die profesie van Jesaja! Jesaja 45:15 – “U is die God wat U verborge hou, die God van Israel, die Redder! Eers na sy lyding word sy ware identiteit bekend! Jesaja 45:23 – “Ek sweer by Myself; geregtigheid gaan uit my mond, 'n woord wat nie herroep word nie: dat voor My elke knie sal neerbuig, by My elke tong sal sweer.”

Paulus wil sê : “Sien tog raak wie Jesus is! Sy vernedering, maar ook die heerlike gevolge van sy vernedering! En wys sy gesindheid en karakter ook in julle lewens! (Terloops – hierdie bonatuurlike Christologie is onaanvaarbaar vir die ongelowige mens... destyds... maar ook vandag... Die wedergeboorte is nodig om dit te glo, te begryp en te waardeer!)

VERKONDIG CHRISTUS!

Mens kry die indruk dat lidmate tot satwordens toe vermaan word tot betrokkenheid, opoffering, eenheid, liefde... met min resultate. Dalk moet ons weer besef dis allereers nodig om Christus Jesus te verkondig en Hom as Gekruisigde, maar ook as die Verhoogde Messias. Die basiese heilsfeite is primêr en onontbeerlik. Slegs diegene wat aangegryp word deur die opofferende menswording en selfvernedering van Jesus, sy plaasvervangende lyding en sterwe, gaan getransformeer word tot ‘n gesindheid van radikale eenheid, opoffering en liefde! Alleenlik hulle wat in verwondering en blydskap juig oor die historiese feit van sy liggaamlike opstanding en die werklikheid van sy almag en majesteit word gemotiveer tot ‘n lewe van liefdesdiens. ‘n Liefde en eenheid nie gebou op die tydsgees van verdraagsaamheid (toleransie) vir sonde nie, maar ‘n liefde vir die waarheid. Wat ‘n groot waarheid! Wat ‘n groot liefde!

Ortopraksie volg op ortodoksie.*****

Leer ken die ware Jesus en jy sal begin reg leef! Ek bedoel natuurlik nie dat als gaan reg wees as ek bloot die heilsfeite ken nie, dat my lewe gaan verander as ek my katkisasie toetse deurgekom het nie. Ek bedoel dat as ek waarlik die feite rondom Jesus glo en dit vir my ‘n werklikheid geword het, sal my lewe nooit weer dieselfde kan wees nie. Onmoontlik! As sy vernedering en sy verhoging my aan die hart gegryp het kan ek nie ongeërg voortgaan op die pad van sonde, die soeke van eie belang en onvergewensgesindheid nie! Wat glo ek en jy werklik oor Jesus?


Slotopmerking – Die geskiedenis bewys dat daar waar Jesus as Verlosser vir mense persoonlik ‘n werklikheid word, hulle gedrag sal verander. In die 18de eeu was Engeland moreel op ‘n laagtepunt en op die rantjie van ‘n rewolusie soortgelyk aan Frankryk. Die haglike toestand van hierdie nasie was nêrens duideliker sigbaar as in die sogenaamde Gin Craze nie. Daar word bereken dat een uit elke sesde huis in London ‘n Gin shop was. (Sien Arnold Dallimore se George Whitefield, Vol I p25) Dit was die kragtige Christosentriese herlewingsprediking van George Whitefield en John Wesley wat die nasie geskud het en tot morele en maatskaplike hervorming gelei het!

Mag ons almal weer geskud word deur die evangelie van Jesus en so kom tot ‘n nuwe gesindheid in ons harte – die gesindheid van Jesus, wat ons anders sal laat optree!

NOTAS

· *Filippense 4:2 “Ek vermaan vir Euodia en ek vermaan vir Sintige om eensgesind te wees in die Here.”

· ** Hy spreek die dwaalleraars aan wat die besnydenis vir gelowige verpligting wou maak en noem hulle “hond” 3:2 - Let op die honde; let op die slegte arbeiders; let op die versnyding. (OAV)

· *** “Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing...”

**** 2:5 Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.

2:6 Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie,

2:7 maar het Homself ontledig deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword;

2:8 en in gedaante gevind as 'n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.

Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom 'n naam gegee wat bo elke naam is,

sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is,

 en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader. (Filippense 2:5-11)


***** ‘n regte lewenswyse volg op ‘n regte teologie!

Vrydag 05 Maart 2021

BEGIN BY DIE BEGIN

- DIE BASIESE VERTREKPUNT VAN ALLE WAARHEID!

Waar kry ek ‘n antwoord vir al my baie vrae? Waar kry ek bevryding van al my vrese? Waar kry ek weer hoop in ‘n chaotiese, bose, korrupte en hartseer wêreld?  Begin by die begin! Ons weet daar is groot verwarring in ons tyd. Daar is ‘n ontelbare duisternis van opinies, talryke teorieë, soveel  slimmighede...Jy weet nie aldag wie om te glo en na wie om te luister nie... Waar gaan ek vastigheid kry?  Wat is die eerste heel basiese waarheid? Die fondament waarop alle antwoorde berus? Die basiese vertrekpunt? Begin by die begin!

Ons kry dit in Genesis 1:1!


Hieruit volg ‘n paar basiese vertrekpunte en vaste hoekpenne:


God alleen is die ewige oneindige Skepper.

Alle ander persone of dinge is skepsels of geskape dinge. Daar is ‘n basiese fundamentele onderskeid tussen God en sy skepping. God alleen is van ewigheid tot ewigheid. Sonder enige begin en einde. God alleen kan skep. Iets uit niks. Deur sy Woord. Hierdie unieke andersheid van God word vandag betwyfel deur iemand soos Benny Hinn wat leer dat die mens ‘n klein godjie is*, deur die panteïsme wat leer dat alles en almal goddelik is, ja ook deur die “spreek lewe” beweging wat leer dat die mens se woorde skeppingskrag het! Die basiese oersonde is om God nie as God te dank en te eer nie Om die skepsele te eer in plaas van die Skepper. Paulus skryf hieroor : “Van die skepping van die wêreld af kan ‘n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ‘n mens nie met die oog kan sien nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie, omdat, al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie. Met hulle redenasies bereik hulle niks nie, en deur hulle gebrek aan insig bly hulle in die duister... Dit is hulle wat die waarheid van God verruil vir die leuen. Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper, aan wie die lof toekom vir ewig. Amen.” (Romeine 1:20.21, 25)

God bepaal die sin van als want Hy het als met ‘n doel gemaak. 

Jy en ek het ‘n doel. Daar is ‘n rede vir ons bestaan. En die rede kom verder in die skeppingsverhaal duidelik na vore. Om God te eer en namens Hom oor sy skepping te heers! Ons as mense is geskape na sy beeld. Dit plaas ons in ‘n ander kategorie as byvoorbeeld diere en plante. Ons het ‘n verstand om God te kan ken, ‘n wil om Hom te kies en ‘n emosie om Hom lief te hê. God self is die doel en die vreugde van my bestaan. Dit word so mooi gestel deur die Westminster Shorter Catechism wat vra : “What is the chief end of man?” (die mens se hoofdoel?) En dan die antwoord : “Man's chief end is to glorify God, and to enjoy him forever.” Dis waaroor alles gaan – om God te eer en te GENIET! 

Geen mens kan ware vervulling beleef sonder die aanbidding van God nie, want dis waarvoor ons ontwerp is!

God alleen is in beheer van sy skepping. 

Die ganse heelal. God bestuur die heelal. Alles gebeur volgens God se raadsplanne. “Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit." (Efesiërs 1:11) Daar is geen mag groter as God nie. En ja, die duiwel is voorwaar soos ‘n brullende leeu, maar hy is ook net ‘n geskape wese. God het ook mag oor die duiwel en daar is nie ‘n kwessie van wie sal wen nie. Die uitkoms van die geskiedenis is nie in die weegskaal nie! Dit bring ontsaglike troos om te weet dat die Almagtige God volkome in beheer is van sy skepping – al lyk dit nie so nie. Dit het nie so gelyk tydens die kruisiging nie – dit het gelyk asof die Satan en bose mense die oorhand het, maar eintlik was hulle besig om God se triomfantlike plan uit te voer. Petrus praat op Pinksterdag met die Jode oor die kruisiging en dan sê hy : “God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak.” (Handelinge 2:23) Ja, die Jode en heidene het verkeerd opgetree, hulle staan skuldig, maar ten diepste het hulle God se raadsplan uitgevoer!

God alleen (as Skepper en Eienaar) maak die reëls en Hy alleen het die reg om sy skepsele tot verantwoording te roep.

Daar SAL dus ‘n oordeel wees en daar is ‘n hel ongeag wat verdorwe mense ons vertel. Paulus praat hiervan in sy toespraak in Athene : “God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer, want Hy het ‘n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ‘n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan." (Handelinge 17:30,31) 

Dit beteken ons moet so lewe dat ons Hom behaag. Leef - Coram Deo Voor die aangesig van God! God se opinie is al wat tel! En moenie dat dwase mense vir God wil vertel dat sy oordele onregverdig is nie! Hoe kan mense wat absoluut onregverdig is vir die heilige God probeer beskuldig van onregverdigheid? Al God se besluite en oordele is goed, regverdig en volmaak!

God laat vaar nie die werke van sy hande nie. 

Hy gooi nie sy skepping weg nie. Hy onttrek Homself nie aan sy skepping nie. Dit gee vir ons hoop. Ons weet weens die sondeval is hierdie skepping verganklik en uiteindelik gedoem tot vuur! Maar dit gaan nie die einde wees nie. Daar kom ‘n nuwe hemel en nuwe aarde. “Maar ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.” ( 2 Petrus 3:13)

ALLES DRAAI OM JESUS!

Die Bybel se boodskap oor God stop natuurlik nie hier by Genesis 1 nie. Dis maar die begin van ‘n asemrowende en aangrypende verhaal wat uitloop op die hoogtepunt van Jesus Christus se koms en werk. Die Nuwe Testament onthul vir ons die verrassende heerlikheid – die hele skepping draai eintlik rondom Jesus! Dis die heerlike waarheid van die Christelike lied in Kolossense 1:15-20.

“Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping.

God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, gesagvoerders of magte. Alles is deur Hom en vir Hom geskep.

Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand.

Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan, Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem.

God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon

en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.”

‘n Meer verhewe beskrywing van Jesus se persoon en werk kan mens kwalik iewers anders vind! God het deur Hom als geskep, maar alles is ook vir Hom geskep. Alles bestaan dus ter wille van Jesus. En Hy self hou alles in stand! En hier kom die heerlikste - deur Jesus word ons met God ons Skepper versoen. 

Deur Jesus kan ek dus die almagtige Skeppergod my VADER noem.

Deur die vrug van Jesus se volmaakte soenoffer word die beeld van God wat deur die sondeval geskend is weer in my nuut gemaak en herstel. Hoe? Die Heilige Gees kom woon in my en heilig en verhelder my verstand om God te ken, Hy verander my wil sodat ek kan kies om God te eer en te gehoorsaam, Hy gee my ‘n nuwe hart, ‘n nuwe emosie om God waarlik lief te hê!

Kom ons bely met nuwe vreugde en sekerheid en vertroue- die waarheid van Genesis 1:1 : 


Wanneer ons hierdie belydenis regtig glo kwyn ons vrese algaande en groei ons lofprysing tot ‘n heerlike klimaks van aanbidding en bewondering vir ons Almagtige God! AMEN!

*Benny Hin : “May I say it like this? You are a little god on earth running around" (Praise-a-Thon, TBN, 6th November'90)