BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 08 Julie 2020

Avontuurlike kerkwees in Namibië

 – my beskeie bydrae tot ‘n aktuele gesprek. 


Wat ‘n heerlike voorreg om deel te wees van die kerk van Jesus Christus in Namibië. Deel van die heilige algemene christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges! Ons het so ‘n pragtige land – van suid na noord, van oos na wes. ‘n Ryk natuurskoonheid en ‘n ryke kultuurverskeidenheid. 

‘n Ryk heroïese kerkgeskiedenis – dink aan die baanbreker van die NGKN, eerwaarde Leonard, maar ook soveel ander soos pioniers van ons eie kerk. Natuurlik ook baanbrekers van ander kerke en sendinggenootskappe : Schmelen, Hahn, Rautanen en vele ander wat hulle lewens opgeoffer het vir Jesus en sy kerk! ’n Land vol heerlike geleenthede vir die evangelie! En groot uitdagings! 

BEDREIGINGS

Die NGKN as deel van die uitdrukking van die liggaam van Christus besin tans weer oor ‘n roepingsgedrewe volhoubare kerkwees. So ‘n gesprek en kritiese selfondersoek is beslis nodig, want ons kan die bedreigings en uitdagings wat die kerk in die gesig staar nie ignoreer of wegwens nie: Toenemende sekularisasie van ons lidmate en gevolglike dalende lidmaatgetalle, totale gebrek aan kerklike dissipline (lidmate en ampsdraers leef in openbare sonde en geen haan kraai daaroor nie), teologiese liberalisme en etiese relativisme (elkeen glo soos hy wil en maak soos hy wil), finansiële verknorsing van baie gemeentes wat nou deur die korrupsie in ons land en die Covid-19 situasie vererger word. 

Die grootste bedreiging, die skrikwekkende GEVAAR is natuurlik as ons God se vyand word weens ons kompromie met sonde. 

“Weet julle nie, julle ontroues, dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie ‘n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy ‘n vyand van God is.” (Jakobus 4:4) 

LUISTER NA DIE WOORD!

Wat staan ons te doen? Ek dink ons almal stem saam dat ons weer ernstig na God moet luister deur die Woord van God ter harte te neem. In die lig van die Woord sal ons ons dan voor God moet verootmoedig. Net Hy kan ons weer optel en op koers plaas! Weereens het Jakobus vir ons raad: 

“Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. 
Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid. 
Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.” (Jakobus 4:8-10) 

In die konteks van Jakobus en die res van die Nuwe Testament is dit duidelik dat ons as kerk ons veral sal moet bekeer van sondes wat in ons geledere nes geskop het soos hoogmoed, materialisme, losbandigheid en wêreldgelykvormigheid. 

In plaas van kompromie met die sondige tydsgees moet ons weer sout en lig wees! 


TWEE OLIFANTE

As ons erns wil maak met God se opdrag tot bekering en vordering wil maak in ons gesprek en praktyk is daar in ons NGKN konteks tans twee OLIFANTE in die vertrek wat ons nie mag ignoreer nie. 

  • Die besluit van die AS2019 om selfdegeslagverbintenisse goed te keur en kerklik te seën! Ons mag nie iets seën wat God ‘n gruwel noem nie. Punt! 

  • Die liberale teologie van die teologiese fakulteite.(Pretoria, Stellenbosch en Bloemfontein) Ons moet eerlik wees met ons lidmate dat daar dosente is wat ons predikante oplei wat nie glo dat Jesus histories liggaamlik opgestaan het nie! 


Die rysmiere van kompromie met sonde het ons ondergrawe en belemmer ons voortgang en getuienis! 

VOORSTELLE

Ten slotte net ‘n paar praktiese voorstelle: 

1. Die NGKN moet breek met die AS totdat daar bekering en ‘n terugkeer na die Woord is. (Weereens baie dankie aan die 38 bedienaars van die Woord in Namibië wat hulle in die openbaar uitgespreek het teen die AS2019 selfdegeslag besluite!) Kliek - VERKLARING

2. Die NGKN moet haarself distansieer van alle liberale teologiese instellings en die opleidingsgeleenthede wat ons reeds in Namibië het verder uitbou en ondersteun. 

(Ons is in die bevoorregte posisie dat ons reeds die vrug kan sien van bedienaars van die Woord wat plaaslik opgelei is!) 

3. Die belangrikste - Die NGKN sal biddend haar sonde moet bely en God se aangesig moet soek. Kom ons wees almal eerlik – wat het nog van bidure oorgebly in die NGKN? Is gebed en smeking deel van ons kerklike leefwyse? (Of bid ons net so af en toe as daar weer ‘n droogte knel?) 

FINANSIES

En wat van die finansiële probleme? God beloof en die geskiedenis bewys dat God sy kerk in stand sal hou ook wat finansies betref as ons maar net in gehoorsaamheid God se werk op God se manier sal doen. Dit sal wel heel moontlik beteken dat ons nuut moet dink oor bedieningspatrone en minder materialisties moet leef, maar ons Vader sal in al sy kinders se daaglikse behoeftes voorsien! 

TRIOMF

Kom ons gaan voort met gehoorsaamheid aan vertroue op die lewende God! Glo in die triomf en die veilige bewaring van God se uitverkorenes!

"Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid! Amen." (Judas vers 24,25) 



Broer en suster, om God te gehoorsaam is nie altyd maklik nie maar dis inderdaad ‘n heerlike avontuur! Verfrissend soos ‘n stroom water in die Namib!

Saterdag 04 Julie 2020

Die Boerevolk en Siener van Rensburg

- wie is ons ware profeet? 

Ek is ‘n trotse lid van die Boerevolk wat in God se voorsienigheid hier aan die suidpunt van Afrika ontwikkel het. Ek het geen probleem met my identiteit nie. Ek leef nie in ontkenning oor ons geskiedenis nie. Soos in alle volke se verlede was daar hoogtepunte en laagtepunte. Ek idealiseer nie my volk en dink dat ons as etniese groep die ware Israel is nie, maar ek sien wel God se genadehand op die pad waarlangs Hy ons hier in Afrika gelei het met 'n besondere doel en taak. Ek praat en skryf met trots in Afrikaans. 


Die Voortrekkermonument, die Vrouemonument, die Taalmonument… noem maar op is vir my kosbare bakens en ek vat graag my kinders soontoe waar moontlik. 
Die Gelofte, Bloedrivier, die Vierkleur, Amajuba, Magersfontein, die uitwissing en lyding in die konsentrasiekampe, die wrede behandeling van die Kaapse rebelle... al hierdie dinge roer my hartsnare. 


(Terloops een van die mees aangrypendste boeke wat ek ooit gelees het is : “So het hulle gesterf” wat handel oor die onmenslike lukrake teregstelling van Kaapse rebelle , waarvan sommige nog blote seuns was. Maar wat wonderlik is, in hierdie boek word ook vertel hoe baie van hierdie veroordeeldes waarlik Jesus as hulle Verlosser gevind het in die dodeselle terwyl hulle op hul einde gewag het.) 



So, ek is lief vir my volk, maar juis daarom is dit ook vir my ontstellend dat soveel lede van die Boerevolk vir God vergeet en hulle rug op die evangelie gedraai het . Soortgelyk aan ou Israel se dwaling. “My volk het twee sondes begaan: Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat, en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap, waterbakke wat gebars is en nie water hou nie.” (Jeremia 2:13) Ons volk het die Bron van lewende water verlaat en groot getalle drink nou by vreemde bronne wat nie kan versadig nie. Gebarste waterbakke. Stukkende emmers. 

Wat is hierdie onbetroubare lekkende bronne in ons konteks? Dis alles wat teen die evangelie van Jesus is. Die skreiende materialisme en gejaag na plesier en die rugby afgod wat maak dat die evangelie vergeet word. Die liberale teologie van sommige teologiese fakulteite wat die evangelie uitwis omdat dit die liggaamlike opstanding van Jesus ontken. Die Prosperity Gospel wat die evangelie vermink en mismaak tot ‘n mensgesentreerde selfverrykingsprojek. Die Israelvisie wat die evangelie wat bedoel is vir alle nasies verskraal en verdraai tot ‘n eiesinnige volksafgodery. Dis so hartseer. 

DIE WARE PROFEET 

Daar is Afrikaners wat blykbaar nou hulle hoop op Siener van Rensburg as die groot Boereprofeet plaas. (Terloops, ek vermoed oom Siener sal self verbaas en verstom wees oor die bog wat deesdae aan hom toegedig word!) Watter geweldige mistasting! WIE IS ONS GROOT PROFEET, PRIESTER EN KONING? Die Here het reeds met Moses hieroor in die Ou Testament gepraat. “Ek sal ‘n profeet vir hulle na vore laat kom, een van hulle volksgenote. Hy sal soos jy wees. Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel. Ek sal self rekenskap eis van elkeen wat nie gehoorsaam is aan my woorde wat die profeet in my Naam sê nie.” (Deut 18:18,19) In Handelinge 3:22, 23* verwys Petrus terug hierna en toon aan dat hierdie profesie in Jesus vervul is. Jesus Christus het die finale sê en alleenlik in Sy Naam is daar verlossing te vind!** Jesus self is die finale openbaring van God aan die mens. “In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun...” (Hebreërs 1:1,2) 

Jesus Christus is die enigste ware profeet, priester en koning! 

My volk, weet dit! Jesus is die Lam van God wat vir ons geslag is en mense losgekoop het uit alle etniese agtergronde! “Toe sing hulle ‘n nuwe lied: "U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie.” (Openbaring 5:9) Kan dit duideliker gestel word? God maak deur Sy Seun Jesus vir Homself mense bymekaar vanuit elke denkbare groepering. Daarom is die groot opdrag wat ons van Jesus ontvang het om dissipels te maak van al die nasies! Sommige van die huidige selfaangestelde Boereleiers ken nie hulle eie geskiedenis nie. Hulle vergeet dat van ons grootste Boereleiers soos President Paul Kruger en Generaal CF Beyers uitgesproke sendingentoesiaste was, wat aktief sendingwerk onder swartmense bevorder het! Gaan kyk maar na die feite en bewys my verkeerd! 

Mag ons volk en ook al die volke rondom ons terugkeer na ons enigste hoop Jesus ons gekruisigde en opgestane Here! So word ons deel van die Israel van God! Sy volk tot in alle ewigheid. 

*Tog het God reeds vroeër by monde van al die profete aangekondig dat die Christus sou ly. So het Hy dit nou laat gebeur. 

Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis. 

En dan sal daar tye van verkwikking van die Here af kom en sal Hy Jesus stuur, wat vooraf vir julle as die Christus aangewys is. 

Hy moet in die hemel bly totdat God alles nuut gemaak het. Dit het God reeds lank gelede deur sy heilige profete gesê. 

Moses het immers gesê: ‘Die Here julle God sal uit julle eie geledere vir julle ‘n Profeet soos ek laat voortkom. Gehoorsaam Hom in alles wat Hy vir julle sal sê.” (Handelinge 3:18-22) 

**En stop tog met al julle kamstige Hebreeus/Aramese variasies asof dit die sleutel tot die saligheid is! (Jeshua, Jahushua ens.) Die Naam van ons Verlosser word in die Nuwe Testament wat in Grieks geskryf is vir ons aangedui as IhsouV.

 (Die naam begin met ‘n i want Grieks het nie ‘n j letter nie) en of jy dit nou op die Engelse, Duitse, Franse of Afrikaanse manier uitspreek wat maak dit saak? En in Damara/Nama sal dit as Jesub uitgespreek word , want ‘n manlike naam eindig altyd op ‘n b terwyl vrouename op ‘n s eindig!)

Naskrif : Hierdie is 'n Afrikanermonument waarvan min mense weet. Dis op die plaas Waterbury naby Tosca in Noordwes, waar Genl. C R de Wet gevange geneem is tydens die 1914 Rebellie. Sy kommando moes oorgee na 'n baie uitputtende tog deur die Kalahari.