BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 26 Mei 2020

Pasop vir die HONDE!

- hulle mislei julle om op uiterlike vleeslike bates te vertrou in plaas van op Jesus alleen! 



Soos ons ‘n vorige keer gesien is Paulus se brief aan die Filippense ‘n heerlike aanmoedigings brief vol blydskap, vreugde, vertroosting en vergenoegdheid. (Kliek op MATRIEK

Tog vind die apostel dit ook nodig om ‘n ernstige waarskuwing te rig in Fil. 3:2. Sy waarskuwing klink baie hard, reguit en eintlik ‘n bietjie kru. Letterlik staan daar soos die OAV dit vertaal “Let op die honde; let op die slegte arbeiders; let op die versnyding.” Die NAB omskryf dit ietwat versagtend soos volg : “Pas op vir daardie dwaalleraars; pas op vir daardie mense wat kwaad stig; pas op vir daardie betekenislose besnydenis!” 

Waarom vind Paulus dit nodig om so iets aan die Christene van Filippi te skryf? Daar was dwaalleraars wat hierdie jong Christene in Filippi geleer het dat die geloof in Jesus alleen nie genoeg was vir hulle volle verlossing en vreugde nie – hulle moes steeds die Joodse besnydenis ondergaan. Ons noem hulle die Judaïseerders – (hulle was ook in die gemeentes van Galasië ‘n probleem) Natuurlik is dit ‘n valse lering wat die hart van die evangelie en die eer van Jesus aantas en daarom wek dit Paulus se argwaan en sterkste misnoeë op. Hy noem hierdie valse leraars “honde” en die besnydenis noem hy spottenderwys die “versnyding” In die Grieks kry ons hier ‘n skerp woordspeling. Tussen peritome (peritomh) - besnydenis en katatome (katatomh)
 – versnyding (OAV), versnippering - dis sommer eintlik net ‘n onnodige verminking* wil Paulus hulle laat verstaan! 

Besnydenis is natuurlik nie iets wat in isolasie verstaan moet word nie. Hierdie selfde dwaalleraars wou die Christene laat terugkeer na die ou Joodse wetsisteem wat ingesluit het die onderhouding van die Sabbat en die voedselwette. (Klink bekend, nê? Sabbat en koswette – dis vandag nog die alewige snaar waarop die dwaalgeeste so graag tokkel!) 

Kortweg gestel, al hierdie wette wat hulle op die Christene wou afdwing het neergekom op ‘n terugkeer na die Ou Verbond! 

Dit bring ons by die kernsaak waaroor dit hier gaan. Waarop of op Wie vertrou jy vir jou volle genoegsame verlossing? Op die tora (die wet van Moses) of op Jesus? Op uiterlike gebruike en rituele (wat Paulus hier die vlees noem) of op Jesus Christus die gekruisigde en opgestane Here? 

Wees eerlik! Op wie of wat vertrou jy nou eintlik? 

Ek rig hierdie uitdaging aan al die aanhangers van die Israelvisie en die Hebrew Roots Movement. Julle wat so spog oor julle sabbat, julle nuwe mane, julle streng voedselwette, julle bedrieglike kastige afstamming (Israelvisie) van die tien stamme van Israel. Julle gedwepery met Hebreeuse name! En so terloops, daar is net een NAAM bo alle name, die naam Jesus waardeur ‘n mens gered kan word. En in die Nuwe Testament wat oorspronklik in Grieks geskryf is, kom dit in die Griekse vorm IhsouV na ons. Gaan bestudeer maar net eerlik Handelinge 4:10-12 en Filippense 2:5-11. 

Vertroue op Sabatte, name en kosreëls? Wat anders is dit as vertroue op uiterlike dinge? Vertroue op die vlees?

Maar ek rig ook hierdie waarskuwende woorde aan mense wat gereeld in die kerk sit, lidmate, maar vir wie dit maar net bloot oor uiterlike godsdiens of mooi tradisie gaan. Die punt is vertrou jy op Jesus die gekruisigde alleen of is ander bates nog vir jou belangriker? Is ander bates nog jou eintlike sekuriteit? Troos jy jouself met allerhande mooi gebruike of ordentlikheid? 

In hierdie konteks is Paulus se uitspraak in vers 3 veelseggend en kardinaal belangrik! “Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie.” (Fil. 3:3) 

Paulus weet waarvan hy praat. Soos hy verder beskryf (en lees gerus verder in hfst. 3) het hy eens op ‘n tyd ook op alle uiterlike bates vertrou soos sy fisies afkoms van Abram en soos sy fanatiese stiptelike gehoorsaamheid aan die tora. Hy was onberispelik getrou aan die tora oftewel die wet van Moses. Maar toe ontmoet hy Jesus Christus. Meer korrek dis Jesus wat hom wat Paulus is gegryp het daar op pad na Damaskus. Toe verander als... En van toe af beskou hy al hierdie vorige bates as drek, gemors , waardeloos sodat hy Jesus as enigste bate kan aankleef. Hoekom? Paulus het nou besef - Die regverdiging, die vryspraak is in Jesus alleen te vind. “Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo.” (Fil. 3:7-9) 

My vriend, hoor mooi! Al jou indrukwekkende Hebreeuse frases en name, streng onderhouding van allerhande wette en spitsvondige slimmighede is waardeloos! Stel jou vertroue op Jesus alleen en dank Hom deur die vrugte van die Gees te dra wat die einste Paulus vir ons in Galasiërs 5:22,23 beskryf. Dis natuurlik ten diepste in lyn met God se bedoeling met die wet. 

Jesus self is die volkome vervulling en eind doelwit van al die bepalings van die Mosaïese wette. 

Die Mosaïese wette was die konstitusie van die Ou Verbond. Jesus het die Nuwe Verbond deur sy finale en volledige bloedoffer bevestig. Hy sê dit self met die instelling van de nagmaal. Die implikasies is duidelik : Wie aan Jesus behoort is die ware Israel en dus kinders van Abram. (Gal. 3:7) Wie op Jesus vertrou het die ware besnydenis en deel in die ware Sabbatsrus, want Jesus self is die weg, die waarheid en die lewe! Alles wat die tora was in die Ou Verbond (die waarheid en lewe en die regte pad) is nou in Jesus self te vind binne die Nuwe Verbond! Om dus weer terug te keer na die Ou Verbond is ‘n verwerping van Jesus en die evangelie! Wees gewaarsku! 

My vriend, vriendin, plaas jou vertroue op Jesus en Hom alleen! Vandag nog! 

Kyk op Youtube - kliek HONDE!

*Ook in die brief van die Galasiërs waarin Paulus dieselfde probleem van terugkeer na die besnydenis en die wet van Moses aanspreek, raak Paulus baie driftig op dieselfde trant soos in Gal.5:12. “Ek wens die mense wat dié verwarring onder julle stig, wou hulleself dan maar heeltemal ontman!” (NAV) “ Ag, as die wat julle opstandig maak, hulleself tog maar ook wou vermink!” (OAV) Paulus raak hier erg sarkasties teenoor die dwaalleraars en sê dus in effek : as hulle dan nou wil besny moet hulle sommer by hulleself als afsny!

Donderdag 21 Mei 2020

HEERLIKE HEMELVAART!

- ‘n kort herinnering aan die praktiese nut en betekenis daarvan vir ons. 


Kom ons herinner mekaar ‘n bietjie aan die heerlike betekenis van die hemelvaart van ons Here Jesus! Hemelvaart word dikwels maar afgeskeep in ons denke en Christelike praktyk. Ons lê baie klem op Kersfees (die mens/vleeswording van Jesus), Paasfees (Jesus se kruis en opstanding ter wille van ons) en Pinksterfees (die uitstorting van die Heilige Gees), maar vergeet soms van die praktiese troos van hemelvaart. En dis juis ‘n besondere troos in hierdie tye. Maar ook elke dag in ons pad van geloof en stryd. Hoe lyk hierdie praktiese troos? 

Met die Heilige Skrif as bron en vertrekpunt het die Heidelbergse Kategismus dit vir ons in drie hoofpunte opgesom in vraag en antwoord 49. 

Vraag 49: Watter nut het die hemelvaart van Christus vir ons? 

Antwoord: 

TEN EERSTE DAT HY IN DIE HEMEL ONS VOORSPRAAK BY DIE VADER IS. 

Ons lees dit onder andere in 1 Johannes 2:1. “Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig- ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader.” Dis so heerlik geliefde, juis as ek en jy as kinders van God, gesondig gestruikel, misluk het – het ons ‘n persoonlike verteenwoordiger en advokaat wat met liefde vir ons pleit en intree by die Hemelse Vader. Hy stel ons saak. En natuurlik pleit Hy vir ons op grond van sy verdienste en meriete wat Hy aan die kruis vir ons verwerf het. As jy aan Jesus behoort het jy die beste advokaat in die heelal! Dit gee ons telkens weer nuwe hoop! Dit bring ons weer en weer op ons knieë om ons Here Jesus te dank en opnuut ons lewens aan Hom toe te wy! Die waarheid van sy intersessie vir ons word bevestig in die volgende Skrifgedeeltes: 

“Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” Romeine 8:34 

“Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.” Hebreërs 7:25 

TEN TWEEDE DAT ONS ONS MENSLIKE NATUUR IN DIE HEMEL AS 'N BETROUBARE WAARBORG HET DAT HY, AS DIE HOOF; OOK ONS, SY LEDE, NA HOM TOE SAL NEEM. 

Ons lei iets hiervan af uit Johannes 14:2,3 waar Jesus self sê : “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” Jesus het vir ons die pad na die hemel heerlikheid oopgemaak deur sy kruis en opstanding. Hy het liggaamlik opgestaan uit die dood. Daaroor is daar geen twyfel nie – Sy dissipels kon aan Hom vat en Hy het voor hulle oë brood en vis geëet sodat hulle duidelik kon besef hulle sien nie ‘n spook nie! En belangrik, Hy het ook liggaamlik opgevaar na die hemele. Hy is dus met sy verheerlikte liggaam in die teenwoordigheid van God! Hy beloof dat Hy weer gaan kom en ons ook gaan neem na daar waar Hy is – die implikasie is verbysterend heerlik – ons gaan ook met ons nuwe opstandingsliggame as volmaakte mense in die heerlikheid by God wees. Nuutgemaakte mense in ewige heerlikheid! Dit loop hand aan hand met die asemrowende feit van die nuwe hemel en nuwe aarde! Jesus se hemelvaart waarborg dit alles vir ons! Dis rede vir feestelike vreugde juis in ‘n tyd wanneer die wêreld vasgevang is in paniek, angs, onreg en ellende! Jesus se hemelvaart onderstreep en beklemtoon vir sy mense ewige sekuriteit! Dis nie ‘n mooi droom of wens nie, maar ‘n konkrete realistiese werklikheid! Halleluja! 

TEN DERDE DAT HY SY GEES AS WAARBORG NA ONS TOE STUUR DEUR WIE SE KRAG ONS SOEK NA WAT DAAR BO IS, WAAR CHRISTUS IS EN AAN DIE REGTERHAND VAN GOD SIT, EN NIE NA WAT OP DIE AARDE IS NIE. 

In Johannes 14:16 sê Jesus : “Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees,” Hy brei verder uit in Johannes 16:7. “Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak (Trooster - OAV), die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur." Parakletos die term wat hier gebruik word met ‘n baie ryk betekenis skakering – dis die persoon wat jou in ‘n hof bystaan, hetsy as advokaat, getuie of verteenwoordiger en kan nie net met een woord vertaal word nie – dit strek verder as net die wetlike aspek – dis meer as net ‘n formele koue tegniese advokaat – verskeie woorde word gebruik om die betekenis probeer weergee – trooster, raadgewer, helper... Elkeen lig net een aspek uit. Nietemin. Die Gees is die een wat BY ons is en ons BYSTAAN in ons diepste nood. 

Die koms van die Heilige Gees wat ook in die Skrif juis die Gees van Christus en die Gees van Jesus genoem word beteken dat Jesus eintlik self orals en tegelyk by al God se kinders NOU teenwoordig is! Hoor mooi kind van God – Jesus is nou BY jou, nog meer deur Sy Heilige Gees is Hy nou IN jou. Dis hoekom Jesus vir sy dissipels kon sê dat sy weggaan voordelig vir hulle (en ons) sou wees! Hy is die Gees van die waarheid. Hy leer ons als van Jesus! Hy maak die Woord se betekenis vir ons oop. Hy staan ons in ons gebede by met onuitspreeklike versugtinge. Hy lei ons in die pad van praktiese heiligmaking sodat ons gereed kan wees vir ons ewige erfenis. Die Gees werk in ons om dit wat nog verkeerd is in ons lewe af te lê en uit te roei en aan die ander kant dit wat goed en reg is by te voeg! Dinge wat pas by ons nuwe status as hemelse burgers! 

Broer en suster, word bietjie stil en dink aan die heerlike konsekwensies van Jesus se hemelvaart vir jou: 

1) Jesus tree op hierdie oomblik in vir jou en my by die Vader. 

2) Ons gaan liggaamlik soos Jesus vir ewig wees by God in heerlikheid. 

3) Die Heilige Gees is nou hier by ons om ons te troos, te leer en te lei! 

GLO JY HIERDIE HEERLIKE FEITE? 

Hierdie wonderlike waarhede moet vandag, in hierdie moeilike onsekere tye nou ‘n verskil maak! Gaan vir ‘n oomblik op jou knieë en dank Jesus dat Hy liggaamlik opgevaar het na die hemel. Wy jou lewe opnuut aan jou Heerlike Verlosser!

NS Om te luister, kliek op HEMELVAART!

Dinsdag 12 Mei 2020

Paulus en matriek 2020

Ek weet jy is gefrustreerd, en miskien nog moedeloos, angstig en dalk selfs kwaad ook! Ek praat nou met jou wat in matriek is. 2020 Matriek! Maar hierdie emosies raak sekerlik nie net ons matrieks nie, maar alle leerders, onderwysers, ouers, kortom sommer ons hele skoolgemeenskap. So baie planne en so baie drome is nou gekortwiek en deurmekaar gekrap. 



Wat nou? Ek wil jou herinner aan die bekende gesegde :

 “Two men looked through the bars, one saw mud, the other one STARS.” 

Een so ‘n persoon wat letterlik agter tralies gesit het, maar die “sterre” helder raakgesien het was die apostel Paulus. Ons weet mos, sy passie was om rond te reis en die evangelie te verkondig. Hierdie Paulus sit nou vasgekeer tussen die mure van ‘n tronk! Wat nou? Is hy moedeloos, bedruk, passief en swartgallig? NEE! Hy benut die tyd en skryf in hierdie slegte situasie ‘n brief aan die gemeente van Filippi vanuit die gevangenis. En weet jy wat? Een van die groot deurlopende temas van hierdie brief is BLYDSKAP! Hoe so? 

Paulus sien die “sterre” raak van ‘n geleentheid wat God hom gegee het! Luister wat skryf hy : “Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het. Dit het daarop uitgeloop dat die hele keiserlike wag en al die ander nou besef dat dit ter wille van Christus is dat ek ‘n gevangene is.” (Filippense 1:12,13) 

Weens sy tronkstraf kry Paulus ‘n kans om aan mense wat andersins nooit die evangelie sou hoor nie, nou wel die Woord van God te verkondig! 

Paulus ervaar hoe God van die minus ‘n plus maak! 

Hoe kry Paulus dit reg om so die positiewe in sy slegte situasie raak te sien? Sy lewe het hoegenaamd nie om homself en sy prestasies gedraai nie, maar om Christus alleen! Paulus het oor niks anders gespog en geroem nie, as net Jesus Christus en sy genoegsaamheid! Sy kern lewenshouding vat hy soos volg saam : “want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.” (Filippense 1:21) Sy lewe draai om een groot passie, Jesus Christus en daarom al gebeur die ergste wat sou kon gebeur – die dood, is die dood vir hom ‘n wins – ‘n absolute voordeel, want dan is hy mos by sy Here! 

Paulus se bewustheid van Jesus as sy enigste bate het die praktiese effek van tevredenheid en vergenoegdheid in alle omstandighede! Ja, alle omstandighede! Ook tye van gebrek en benoudheid. Hy weet wat is oorvloed en hy weet wat is gebrek. Van beide situasies het hy praktiese ondervinding. Hy hanteer dit egter alles deur Jesus wat hom krag gee. (Sien Filippense 4:13) Die Christelike oorwinningslewe, beteken nie dat als volgens MY planne en MY verwagtings verloop nie, maar dat ek in alle omstandighede my fokus op Jesus behou en my berus in SY planne vir my lewe!

As Jesus sentraal in ons lewens staan en nie ons eie planne en roem nie, is die lewe ‘n vreugde en ervaar ons in alle omstandighede (ook NOU) vergenoegdheid, tevredenheid en blydskap en sommer groot AVONTUUR! (Al is daar inderdaad ook  trauma, trane en teleurstellings.) Maak nie saak wat gebeur nie. Ook as ‘n virus verwarring, ongerief en vrees saai! 

Die kind van God het altyd rede tot blydskap, ook as jy ‘n 2020 matriek is! 

En onthou, blydskap is nie maar net 'n opsie nie, dis 'n opdrag! Die Woord beveel elkeen van ons wat aan Jesus behoort : 

"WEES BLY IN DIE HERE!"

Dit was so lekker om saam met hierdie groep 2020 matrieks saam te kuier en uit die boek van Filippense te gesels. Agter van links na regs : Zaanri (Gimmies), Lieze (Gimmies), Heimo (OSS), Nick (Gimmies), Eugene (OSS), Monique (Etosha), Anri (Redimere), Jonette (Gimmies) en Anja (Gimmies).

Woensdag 06 Mei 2020

HEELTEMAL GRATIS!


- kom koop sonder geld.

Het jy besef, die heel belangrikste ding wat ek en jy op hierdie oomblik nodig het is heeltemal verniet en gratis? En ons word deur God self nou uitgenooi om dit te kom kry! Dis die heerlike boodskap van die besondere hoofstuk 55 in die Jesaja boek. 

“Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk.” (1) 

Miskien besef ons dit nie, maar dit wat ek en jy NOU nodig het op hierdie oomblik (in hierdie virusverwarring) is nie in die eerste plek meer geld, gesondheid of gerief nie! Sondaars het vergifnis, bevryding en vrede nodig! Hoekom? Ons staan skuldig voor God! Dis erg om dit te erken, maar elkeen van ons het al sy wette gebreek. Ons is slawe van Satan, gebind met die kettings van sonde. Ons het God nie lief soos ons moet nie. Ons het ons medemens nie lief soos ons moet nie. Die skrikwekkende simptome van ons haglike toestand is maar orals te sigbaar ook in hierdie tyd… ontevredenheid, jaloesie, haat, allerhande vrese en angste, seksuele losbandigheid, huweliksontrou, geestelike verwarring, verslawing in alle vorme… 



Die mens is STUKKEND en sonder ware vreugde! Die sondaar weet : “Ek kort iets. Ek is nie versadig en vervuld nie.” 



En wat doen ons maar te dikwels? Ons bestee tyd en geld en moeite aan dinge wat nie vervulling in ons lewens kan bring nie! Nog ‘n nuwe voertuig, nog ‘n besigheid of strandhuis, nog ‘n roekelose romantiese avontuur en dwase verhouding, nog ‘n sport prestasie of droomkasteel wat nagejaag word… maar die gat in jou hart is steeds daar! Ons probeer die leemte en leegheid in ons sondaarharte vul met dinge wat ons nooit kan versadig nie. Dis die verwyt uit die Here se mond hier. “Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie, waarom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie?” (2a) 

LUISTER NA DIE GODDELIKE ROEPSTEM! 

Nou kom pleit die Here by jou en my : “Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is en versadig kan word met die beste wat daar is. Gee aandag en kom na My toe, luister, en julle sal lewe. Ek wil met julle ‘n ewige verbond sluit, Ek wil my troue liefde aan julle betoon soos aan Dawid.” (2b en 3) 

Natuurlik is hierdie uitnodiging en belofte in Jesaja 55 gerig aan die verslae en gebroke bannelinge van destyds wat onder God se oordele deurgeloop het. Belangrik egter - hierdie belofte het net soos die ander beloftes in Jesaja (dink maar aan die aangrypende hoofstuk 53) vervulling in Jesus gevind. Hier word immers gesinspeel op die Dawidsbelofte wat soos ons weet vervul is in Jesus, die Seun van Dawid, gebore in die Dawidstad , Betlehem! Ons het hier dus reeds ‘n evangelie uitnodiging en evangelie belofte. Goddelike goeie nuus en vertroosting! 

In die Nuwe Testament, baie jare later,  neem Jesus hierdie woorde as’t ware in sy eie mond as Hy met die sondige Samaritaanse vrou (alreeds deur vyf mans!) by die put praat en vir haar die evangelie bring : 

“Maar Jesus antwoord haar: "Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ‘n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.” (Johannes 4:13,14) 

Mens kry die indruk dat Jesus besonder bekend was met hierdie Jesaja gedeelte, want ons hoor iets daarvan ook in sy woorde aan die skare as Hy sê : “Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen." (Johannes 6:27) 

En seker die aangrypendste voorbeeld van hierdie Jesaja belofte in Jesus se bediening hoor ons tydens die loofhuttefees. Jesus roep uit : “Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: "As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei." (Johannes 7:37,38) 

Die heerlike weerklank van hierdie troosvolle belofte in Jesaja kry ons tot aan die einde van die Nuwe Testament en wel in Openbaring 22:17. “Die Gees en die bruid sê: "Kom!" En elkeen wat dit hoor, moet sê: "Kom!" En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” Hoor jy? VERNIET! Die verlossing wat God jou skenk in die evangelie van Jesus is heeltemal verniet. 



God se gawe van vergifnis en vrede is ‘n persent, maar dis wel moontlik om ‘n persent mis te loop of te verbeur as ek sou weier of uitstel om dit te aanvaar. Daarom met ek jou vra: 

GAAN JY HIERDIE UITNODIGING ERNSTIG OPNEEM? 

As jy dit ernstig opneem, gaan jy nie langer uitstel om na Jesus te kom nie, want hierdie geleentheid tot genade kan dalk verbygaan. Ons word gewaarsku - “Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is. (6) 

As jy hierdie uitnodiging ernstig opneem, sal jy nie langer teen jou beterwete vasklou aan jou sondige leefstyl en jou sondige planne nie. “Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan, die slegte mens sy slegte planne. Hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees; hy moet hom tot ons God bekeer, Hy vergewe altyd weer.” (7) 

Bekering, genade en oorvloedige vergifnis gaan saam! 

Ek bring hierdie wonderlike evangelie uitnodiging aan jou met positiewe hoop en verwagting! God belowe hier dat net soos reën en sneeu ‘n effek het op aarde, so sal Sy Woord ook ‘n besliste effek en positiewe gevolg hê. “Die reën en die sneeu kom uit die hemel uit en dit gaan nie daarheen terug nie maar deurweek die aarde en laat die plante bot en vrugte dra, sodat daar saad is om te saai en brood om te eet. So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.” (10,11) 

Wat ‘n wonderlike wete dat hierdie genadige evangelie uitnodiging van God kragtig, lewegewend en effektief is! Dit maak ‘n verskil! Die evangelie beloftes van God bewerk ‘n kragtige ommekeer . ‘n Heerlike en blywende verandering tot eer van God. Ons word bevry uit die verknegting en ballingskap van sonde. Ons sal jubel en juig! Dit word met pragtige poëtiese taal beskryf. “Julle sal met blydskap uit Babel wegtrek en in vrede gelei word; die berge en die heuwels sal voor julle uit jubel en juig en al die bome in die veld sal hande klap. In die plek van ‘n doringbos sal daar ‘n sipres opskiet, in die plek van ‘n dissel sal daar ‘n mirteboom opskiet. Dit sal tot eer van die Here wees, ‘n blywende teken wat nooit vernietig sal word nie.” (12,13) 

My vriend, moenie langer in jou sonde ellende en hongersnood ly nie. Kom na Jesus. Sien sy volmaakte kruisdood raak! Glo Hom. Vertrou Hom alleen vir vergifnis en vrede. Hy gee dit verniet!