BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 13 Junie 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (11)


- Armageddon en konflik. 

Armageddon roep skrikwekkende beelde op : ‘n bloedige veldslag iewers in die Midde Ooste, ‘n Derde Wêreld Oorlog, wapens van massavernietiging of gaan daar dalk eerder perderuiters wees? ... en "drones"?

Maar is die beskrywing van Armageddon in Openbaring regtig bedoel as soort van futuristiese koerantberig geskryf deur 'n oorlogskorrespondent? Sou so iets hoegenaamd troos vir die eerste Christene kon bied?

Wat is die boodskap wat Johannes met die beskrywing van Armageddon aan sy eerste lesers (en ook aan ons) wou oordra? Hoe pas dit in by die deurlopende temas in Openbaring? Openbaring soos reeds gesien in hierdie studie gaan oor die troosvolle boodskap dat die Oorwinning van Jesus Christus 'n seker vaste waarheid is, wat deur geen teenstand en vervolging of bedreiging ongedaan gemaak kan word nie. Hier word nog 'n belangrike aspek daarvan onderstreep:

Oorwinning kom nie sonder konflik nie!

Konflik is deel van die Christen se alledaagse  belewenis. (Jyself as kind van God  sou dit beslis al agtergekom het...konflik met die ou sondige natuur, die wêreld se verleidinge, Satan se aanvegtinge, teenstand van Bose magte...) Jesus laat by ons geen onsekerheid oor die werklikheid van konflik en swaarkry in die kind van God se lewe nie.  Hy sê in Johannes 16:33: 

“Dit sê ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê, maar hou goeie moed : Ek het die wêreld klaar oorwin.”

STRYD IS ONVERMYDELIK DEEL VAN EGTE CHRISTENSKAP

Hierdie konflik van die Christen is nie iets vreemds nie, maar deel van ’n groter prentjie van konflik. Vir die Christene van die eerste eeu, maar ook vir miljoene ander dwarsdeur die geskiedenis was hierdie konflik so werklik, dat hulle besittings en hulle lewens bedreig is. Konflik was en is onvermydelik! Hoe pas hierdie konflik in by die groot slag van Armageddon in Openbaring 16:12-16?

Kom ons kyk eers net na die oorsprong van die konflik: Satan en die sonde het ‘n aanslag gemaak op God se skepping! God laat egter  nie toe dat Satan sy wêreld steel nie. Deurdat die mens geswig het voor Satan se slim praatjies, het die Satan ’n reg en toegang gekry tot die wêreld - dit het sy domein geword. Maar, God het as’t ware Satan se domein binnegeval. Dit lei tot gedurige konflik, soos reeds voorsien in Genesis 3:15! Hierdie konflik bereik ‘n klimaks met die koms en werk van Jesus Christus.  Elke verlossingsdaad van God deur Jesus is ’n bestraffing van Satan.  Daarom lê die evangelies so klem op Jesus se oorwinning oor Bose geeste! Dis ’n aanduiding van die oorwinningsaspek van Jesus se Messiaanse missie. Die beslissende deel van die konflik was die lewe en sterwe en opstanding van Jesus Christus.  Oorwinning is namens en vir ons behaal. Die bose magte se houvas op ons is gebreek! Die konflik het egter nie gestop nie. Jesus se konflik en stryd met die bose word gereflekteer in die lewe en bestaan van die kerk. Konflik is ’n element in al drie fassette van ons verlossing : Vryspraak, Heiligmaking en Verheerliking!
~ Ons vryspraak het deur konflik gekom. Toe Jesus die beskuldigende magte wat ons aanklae en teister ontwapen het.(Kol 2:14,15)
~ Die lewe van God se kind is ’n worstelstryd teen versoekings en aanslae teen die sonde en bose magte. Efesiërs 6:10ev. Wie vryspraak ontvang het is outomaties op die pad van heiligmaking wat konflik behels... Satan los jou nie rustig uit om heilig vir die Here te leef nie!
~ Ons finale verheerliking (vervolmaking) sal eers ’n werklikheid word wanneer die Satan in die poel van vuur gegooi word. (Openb 20:10)

Dwarsdeur Openbaring word hierdie konflik tussen God en Satan (waarby die kerk betrokke is) uitgebeeld, op verskeie maniere : die perderuiters in hfst 6, die trompette in hfst 8-9, die oorlog in hfst 12 :7-9, 17 (Lees) , die bakke vol van die toorn van God (hfst 16) Die sesde bak van wraak maak die pad oop vir ’n groot konflik naamlik die slag van Armageddon. Die sewende bak is ’n voorspel tot die vernietiging van Babilon. Babilon is die simbool van afgodery en afvalligheid.. Sien “MAAK OOP BY OPENBARING (10) ’n Hoogtepunt word bereik met die beskrywing van die Ruiter op die wit perd, Jesus . Openbaring 19:11-13, 19-21. (Lees) Al hierdie stryd en oorloë beeld die konflik uit tussen God en die Satan en sy handlangers.

Wat, waar en wanneer  is Armageddon dan? Kom ons kyk net eers na die agtergrond van die naam. Armageddon sou kon terugslaan op har-Mageddon. Dit beteken berg van Megiddo. Dit kan ook verwys na ir-Mageddon dws stad van Megiddo. Op die ou end maak die spesifieke etimologiese oorsprong nie soveel saak nie. Megiddo is ’n baie strategiese valleitjie (daar is nie juis veel van ‘n berg nie) in die noorde van Palestina en word waarskynlik gebruik as ’n simbool van stryd omdat verskeie veldslae in die geskiedenis daar plaasgevind het.   Dis duidelik simbolies bedoel, want in elk geval dui die profesieë in die Ou Testament  immers  Jerusalem aan as die toneel van die groot finale slag tussen God en sy vyande. (Sag 12:3, Sag 14:2-3) Armageddon gaan  beslis nie oor ’n letterlike plek vir ’n eenmalig letterlike veldslag nie!  Dit gaan oor die totale stryd en konflik tussen God en die Bose. Die mens en sy heersers is in opstand teen God, aangehits deur die bose geeste (paddas) van Satan. As ons Megiddo en oorlog bymekaarbring, bied Rigters 5:19-21 ’n interessante agtergrond! (Lees) Dit gaan hier oor die oorlog teen die konings van Kanaän wat God se volk onderdruk het. Daar is ook ander konnotasies van stryd en oorlog aan hierdie plek byv 2 Konings 23:29. Hierdie pleknaam word gebruik as simboliese agtergrond en aanduiding van God se finale oorhand oor die Bose!  Dis heeltemal in lyn met Johannes se gebruik om historiese en geografiese gegewens uit die Ou Testament aan te wend in in te kleë om aspekte van sy boodskap van stryd en oorwinning op ‘n beeldryke manier oor te dra. Ons het ‘n vorige keer reeds gesien hoe hy dit met die begrip Babilon/Babel (simbool van verleiding en vervolging) gedoen het.

Wanneer vind Armageddon plaas? Die antwoord is aan die einde, op die groot Dag van die Here! (Op 16:14) Maar onthou weer die omvattende betekenis van die Dag van die Here!  Al hierdie konflikte wat in Openbaring beskryf word is deel van die Dag van die Here. Ons kan dit nie kronologies rangskik nie. Die groot  Dag van die Here waarvan die OT praat word vanuit verskeie hoeke belig in Openbaring. Dis iets van die verlede  (Jesus het gesterf en opgestaan), dit is die daaglikse stryd van ons heiligmaking, dis die finale vernietiging van Satan en alle Godloënaars by die wederkoms.  Johannes gebruik ’n mengsel van historiese en geografiese gegewens (byv die Eufraatrivier wat voorheen van groot strategiese belang was en ‘n natuurlike grens of beskering gevorm het)  en kleë dit simbolies in om die aanslag teen God en sy kerk dramaties te teken! (Du Rand)
Armageddon het plaasgevind en is besig om plaas te vind en sal nog plaasvind. Elke konfrontasie is Armageddon! Dis iets van die verlede, maar dit gaan aan in die verkondiging van die evangelie wat die Koninkryk naderbring, dis die toekoms wanneer Jesus weer kom! Armageddon is Golgota (Goldsworthy), Armageddon is elke stukkie oorwinning wat die verkondiging van die evangelie behaal. En wat van ’n moontlike wêreldwye en mensvernietigende Derde Wêreld Oorlog? Dit sou  ook deel wees van Armageddon waar God toelaat dat die opstandige mens homself vernietig as deel van God se oordele, net soos God dit bewerk het dat bose mense Jesus gekruisig het, waardeur die Bose homself eintlik vernietig het. Weereens, wat dit nie sê nie, is die spesifieke geografiese plek waar so ’n oorlog sou kon woed nie!

Die konflik van elke kind van God (ja, ook in jou eie hart of eie huis) is deel van ’n groter konflik : Die konflik van Jesus aan die kruis, die voortgaande konflik waartydens die Gees in ons werk sodat ons  heiliger kan word en die stryd wat daarmee gepaard gaan. Die konflik gaan finaal opgelos word by die wederkoms, wanneer al God se vyande finaal vernietig word! God oorwin, maar dit gebeur nie sonder stryd en konflik nie! Ons moet dus nie verbaas word of moedeloos word as gevolg van konflik nie! Dit is die boodskap van versterking en troos wat vir ons vandag nog net so relevant is as vir die Christene van die vroeë kerk! Dis die troos, kind van God, wat ek en jy elke dag nodig het...want ons beleef mos stryd en konflik!


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.