BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Ovahimba. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Ovahimba. Wys alle plasings

Dinsdag 27 Mei 2014

KRAG IN KAOKOLAND

- ons beleef heerlike verrassings van God se kragtige genade.



‘n Man wat sy stoel vir kilometers dra om ‘n Sondagdiens te kan bywoon... Dis maar een voorbeeld van God se verrassende genadekrag wat ons groepie tydens ons afgelope 4x4 manne uitstappie in Kaokoland beleef het.

Eintlik het die verrassings vir my al Vrydagoggend begin toe ek moes ontdek dat Roelf van Tonder, wat vir ons reëlings verantwoordelik was, se swaer, Mario van Vuuren ‘n ou skoolkennis van my is vir wie ek meer as dertig jaar gelede gesien het. Dit was aangenaam om baie jare te kon invul... Op pad na Kaokoland via Ovamboland het ons ook vlugtig aangedoen by Olukonda, waar mens die bewyse van God se krag weer op ‘n ander manier kon sien in die reusewerk wat die Finse pioniersendeling, Martin Rautanen onder moeilike omstandighede vir God se Koninkryk gedoen het. Wat anders as die krag van God stel iemand in staat om soveel offers te bring? Die vier kinder graffies* langs sy eie een is ‘n stil maar kragtige getuienis, dat niks, ook geen smart en verlies God se werk op aarde sal stuit en sy Koninkryk sal kan kelder nie.



Op die polsende Opuwa (met sy bedrywige mengsel van kulture) het ons vir ds. Erik van Zyl en hoofman Jan Kasupi gekry en daarvan die pad gevat na Etanga. Die son het toe vinnig gesak en net buite Etanga het ons die eerste nag in ‘n rivierbedding ons kamp opgeslaan.

[Ds. Erik van Zyl en Hoofman Jan Kasupi]

Die geskraapte pad hou by Etanga op. Die volgende dag kon die manne hulle viertrekvoertuie behoorlik toets oor die bergpaadjie na Ondije. Dis ‘n pad wat deur die Himbas self gebou is. Almal en alles (ook nog 18 sakke sement) is darem uiteindelik veilig oor die berg. Die sement is by Ondije se besondere klipkerkie gestoor. Dit gaan gebruik word om die binnekant te pleister omdat die slange baie pla. Ons moes juis hoor van ‘n sebraslang en ‘n ander slang (“met twee skerp kante” -?) wat daar doodgemaak is!



In die Omaravarava vlakte het ons weer kamp opgeslaan. (Andre Barnard, baie dankie vir daai puik stort!) Die aand is die Jesus film gewys en sommige Himbas het sommer net daar waar hulle gekyk het oornag. Hulle het ook versoek dat die Woord aan hulle na die tyd gebring moes word, want hulle sou nie die volgende dag se diens op Ondije kon bywoon nie. Die volgende Sondag oggend voor ons vertrek is die Woord weer gebring. Dis duidelik dat God in hierdie gemeenskap werk. Hierdie openheid vir die Woord is ‘n bewys van die werking van God se Gees. Dis beslis nie orals in Kaokoland die geval nie, dis heerlik en uniek!



Die kerkdiens op Ondije was iets besonders vir die manne wat saam was. Die sang en musiek (wat deur ‘n jong kind op ‘n waterkan voortgeslaan is) was besonders. Dit was my voorreg om die boodskap uit Romeine 1:16 te bring, oor die evangelie as die krag van God! Na die tyd het die aanwesiges die geleentheid gehad om iets sê. Twee manne het hulle dank uitgespreek. Daarna het ‘n meisie ‘n getuienis gelewer en ander uitgedaag om hulle ook te bekeer. ‘n Jong seun, Yakutwa Tjavara het opgestaan as teken dat hy ook Jesus wil volg. Na die diens het ds. Erik en Jan met hom ‘n gesprek gevoer. Hy het gebid en die Here gevra dat sy lewe vrug mag dra.

Ds. Erik het deurentyd wonderlike verhale van God se genade vertel en ons aan Himba Christene voorgestel. Stralende gesigte het van verlossing en die blydskap in die Here getuig. Ook Jan het sy getuienis met ons gedeel van die pad wat God al vir jare met hom loop. Ja,op soveel maniere bewys God sy krag en genade. Jan het al baie wel en weë beleef en selfs sy een vingerpunt in ‘n worsteling met ‘n leeu verloor!



Die terugpad via ‘n ander roete het weer vir ‘n goeie 4x4 ervaring gesorg. Die blywende indruk was egter nie bloot die bestyging van klipperige bergpaadjies nie, maar hoe God alles beheer tot sy eer te midde van die lewe se af en opdraendes. Die laaste oggend, kort voor ons vertrek het ‘n Himba man en vrou op donkies by ons kampplek in die rivierbedding opgedaag en selfs hulle het ‘n begeerte gehad om God se Woord te hoor! ‘n Kort boodskap is ook toe met hulle gedeel.


[Selfs hierdie kinders in 'n afgeleë gebied dra nou Westerse klere.]

Mense het baie illusies oor Kaokoland. Pasop maar daarvoor. Diegene wat die Himbas as lewende kuriositeite beskou en so wil behou gaan teleurgesteld wees. Die tradisionele leefwyse en kleredrag is reeds ingrypend deur die Westerse leefstyl (en euwels) verander. Ekologies gaan dit ook nie goed in Kaokoland nie. Daar is skrikwekkende erosie en oorbenutting van natuurlike hulpbronne. Dis hartseer om te sien hoe die skepping vernietig word. As jy egter ‘n hart het vir God en graag eerstehands wil beleef hoe Hy Homself aan eenvoudige mense openbaar is hierdie deel van ons land voorwaar ‘n skatkamer van ondervindings. Dalk lei God jou om self ook hierby betrokke te raak...



In die land van die heilige vuur (die heidense "okoruwo") brand die vuur van God se Gees in mense se harte!


*Hulle het ses van hul nege kinders vroeg aan die dood afgestaan.

Dinsdag 07 Mei 2013

Maak ’n pad vir die Here in die woestyn!

(Verslag van besoek aan Kaokoland 29 April - 3 Mei 2013 deur ds. Erik van Zyl) 

Die profeet Jesaja profeteer, Iemand roep: "Maak vir die Here ‘n pad in die woestyn, maak in die barre wêreld ‘n grootpad vir ons God! "(Jesjaja 40:3) 

Die droogte is vir ’n 2de jaar besig om van Kaokoland ’n woestyn te maak, .....eers het die Ova-Himba geveg om hul beeste te red, nou is daar ’n verslae gelatenheid. "Koka" in Herero beteken dood, dit is wat jy hoor wanneer jy vra hoe dit gaan. Daar is reeds beeste dood en baie wat veg om oorlewing staar die dood in die oë.... 

Die enigste hoop is die hoop van die evangelie! Mag God in die droogtetyd ’n pad oopbreek vir die evangelie in die mense-harte van ’n dorre Kaokoland. Hoe bemoedig jy mense wat op die punt staan om in aardse terme alles te verloor? 

Hester en Frederick vergesel my en in Opuwo voorsien die Here wonderlik! Selma van der Merwe (nooiensvan), nasaat van ouma Willemiena van der Merwe, dorslandtrekker, is ons gids! Haar aansteeklike lag en humorsin en liefde vir die Here maak haar teenwordigheid ’n vreugde. Ons maak beurte, twee sit agter op die bak van die Cruiser en twee sit voor. 

Die pad na Etanga oor die berge na Okaanga oor die vlakte van Ondije, vertel ’n eie storie: die opvolgreëns het nie geval nie, die bekke is baie en die verskroeide vlakte gras is net te kort en te min en die tiende en elfde maand lê nog ver en daarby is die damme by Ondije dorleeg. 

Die krale by Ondije staan leeg en by hoofman Uasuvisa Tjavara se tydelike afgeleë staning kry ons sy vrou, Uazamuani, ’n toegewyde kind van die Here. Dit wemel van die kinders, 16 van hulle, maar net een is haar eie! ’n Himba kleuterskool of bewaarskool, noem dit wat jy wil, die ander Himbas vertel ons sy is net ongelooflik lief vir kinders. Haar vriendelikheid en positiewe ingesteldheid is aansteeklik. Die enigste Herero Bybel by ons gee ons vir haar, maar sy bemoedig ons meer as ons vir haar. 1Thessalonisense 5: 16 - 18 is haar getuigskrif, Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. Bid vir Uazamuani, want sy is besig om te midde van die droogte ’n pad vir die Here oop te maak in Himba kinders se harte. 

Die aand kamp en kuier ons in ’n droë rivierloop naby Tjise Tjambiru se kraal in Okaanga. Die boodskap trek ver, sommiges word aangery, daar is omtrent 30 bymekaar wat na die Jesusfilm kyk. Donderdagoggend, met die kruisgebeure vars in ons geheue, vier ons nagmaal; soos met die laaste avondmaal was ons 12 gelowiges. Die Here lê op my hart ’n boodskap van hoop uit die boek Job, met Jakobus (1:3) se woorde as inleiding: My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. 

Die geheim is om God te midde van beproewings, swaarkry, droogte ..... met blymoedigheid te dien, want dan gaan dit oor Hom en nie oor Sy seëninge nie! Bid vir die Ova-Himba gelowiges, dat hulle in die droogte-tyd ’n pad vir die Here sal oopmaak en die Here sigbaar sal maak deur die blymoedigheid en vreugde waarmee hulle die Here volhardend dien en liefhet. 

Ons vertrek na hoofman Langman Muhenje, ’n vriend. Hy is nie by Omuatjivingu nie, maar oppad na die Ovivero-dam tussen die berge. Een van Kaokoland se slegste paaie, dalk die slegste! Selma sê dit is nie ’n pad nie! Die twee seuns wat langs die pad opklim is ook die twee engele wat afklim om die pad na hoofman Muhenje se tydelike kraal-staanplek te wys. Tagtig meter van die pad af daar onder in ’n kloof. Te voet kry ons die hoofman waar hy in laaste lig by sy vuurtjie sit. “Ek het gesien dit is my vriende ” sê hy. Ons groet en gesels. Ek kyk na die kloof en berg en bosse en wonder hoe gaan die Here dit vir my moontlik maak om vanaand die Jesus-film hier te wys. “Kan ’n mens met die kloof in die rivierloop terugry tot hier?” vra ek. 

Ons stap terug en ry verder, maar ons soektog na ’n pad is tevergeefs, die rivierloop in die kloof is onrybaar. Met ons terugtog stop ons, die bokwagtertjies langs die pad kan ons boodskap aan die hoofman oordra. “Ons het ’n probleem” sê Selma wanneer sy terugstap van die bokwagters. “Himba seuns is besig om ’n pad met pangas oop te kap !” “Dan ry ons die pad!” 

Voetjie vir voetjie en tree vir tree ry ons die pad tussen die afgekapte Mopanie boompies wat soos spiespunte ’n hinderlaag lê vir die Land Cruiser se bande. Hoofman Langman Muhenje het ’n grootpad gemaak vir die Here!, want ’n uur later staan die Cruiser in die rivierloop terwyl ongeveer 30 mans, vrouens en kinders na die Jesus-film kyk. Selma getuig baie van hulle het die Jesus film vir die eerste keer gesien! 

Vrydagoggend sit ons in die beeskraal en luister na die Woord van die Here uit Jesaja 40. Die hoofman het pad gemaak vir die Here, maar daar is ook ’n nou pad en breë pad. Selma getuig van God se liefde in haar lewe. Bid dat die Here ’n pad vir die evangelie sal oopmaak in die harte van die hoofman en sy hele kraal. Nadat Hester en Selma die hoofman se vrou se seer voet verpleeg en verbind het, vertrek ons terug met die hoofman se pad. 

Vrydagaand oornag ek en Hester op Queen Sophia, ’n hervestiging plaas van die regering tussen Outjo en Otjiwarongo. Die Here het vir Chris en Jessie van Rooyen geroep om daar te gaan bly. Met die regering se goedkeuring en seën het hulle as deel van ’n Kunene vir Christus projek reeds daar ingetrek en is hulle daartoe verbind om ten minste vir die volgende 5 jaar betrokke te wees om die lewenskwaliteit van die ongeveer 400 mense wat op Queen Sophia woon, te verbeter. Landbou, gesondheid en opvoeding is van die terreine waarby hulle betrokke sal wees. Bid ook vir hulle dat hulle blote teenwoordigheid daar ook ’n pad vir die Here sal oopmaak na die harte van die mense van Queen Sophia. Chris en Jessie noem die projek, projek Sagaria (6:4), want hulle weet in eie krag sal hulle nie slaag nie, alleen deur die Gees van die Here!


Ds. Erik van Zyl aan die woord.


Himba weduwee.