BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 25 Junie 2018

THE SHACK

- beslis 'n tranetrekker, maar gaan dit my nader na die waarheid trek?

Die blitsverkoperboek se boodskap doen nou weer die rondte nadat dit as ‘n film in 2017 uitgereik is. Baie mense getuig van ‘n positiewe impak op hulle lewens... 

Geskryf deur William P. Young, wat op die sendingveld grootgeword het, is die boek en film (geredigeer deur Stuart Hazeldine) waarskynlik ‘n eerlike poging om antwoorde te probeer gee oor die vraag na “onregverdige lyding” in hierdie gebroke wêreld van ons. “Waar is God in ‘n wêreld van onbeskryflike pyn?” Die verhaalvorm waarin die boek geskryf word is maar net die voertuig om teologie op ‘n verstaanbare manier aan die gewone man oor te dra. Die bedoeling van die boek en film is dus teologie en nie fiksie nie. Die kwessie is dus nie of dit ‘n oulike storie is nie. Hierdie werk moet teologies beoordeel word in die lig van die Skrif. 

Die vraag voor ons is of The Shack, Bybelse teologie of menslike spekulasie en verdraaiing is? 

Young se argumente in die bespreking van lyding word min of meer soos volg deur die uiters bekwame evangeliese teoloog en kerkplanter van New York, Tim Keller opgesom : 

Die ellende in die wêreld is die gevolg van die mens se misbruik van sy vrye wil. God het nie die kwaad gekeer nie sodat Hy ‘n groter en heerliker doel kan bereik, ‘n doel wat vir ons menslike verstand onverstaanbaar is. As mens verbitterd bly teenoor God weens ‘n bepaalde tragedie, dan plaas ons onsself in die plek van die Regter van die aarde. Dis ‘n taak waarvoor ons as nietige mense uiteraard nie opgewasse is nie! Daarom moet ons liewers ‘n ewige perspektief probeer kry waarin ons God se mense vol vreugde in sy heerlike teenwoordigheid sien. Dis wat met Mack die bedroefde vader van die vermoorde dogtertjie, Missy gebeur, as hy sy oorlede dogtertjie sien in die vreugdevolle teenwoordigheid van Jesus. So word sy hartseer genees. Hierdie is alles basiese waarhede van standaard pastorale teologie, alhoewel daar dalk te veel gemaak word van die vrye wil begrip. Tog soos Keller dan verder uitwys is daar ernstige vrae en probleme rondom hierdie storie van Young... 

Wat regtig pla is dat daar deurgaans in Young se verhaal elemente* is wat basiese Bybelse waarhede oor God ondermyn. 

Die God van die Bybel vind jy nie in die Shack nie! 

Die god van die Shack en die Drie-enige God van die Bybel kan moeilik met mekaar versoen word. In Young se storie word God die Vader deur ‘n Afro-Amerikaanse vrou, Papa uitgebeeld, Jesus bly (meer realisties) Jesus, ‘n Midde Oosterse skrynwerker en die Heilige Gees is ‘n Asiatiese vrou, Sarayu. Dis om die minste te sê, ‘n vreemde en selfs bisarre uitbeelding van die Drie-eenheid! Waarskynlik is dit Young se manier om te sê dat ons moet pasop om nie vooropgestelde idees oor God te koester nie. Mens sou net wou vra, wat het geword van die tweede gebod? Verbied dit nie juis alle spekulasie en selfgemaakte uitbeeldings van God nie? Moet ons nie maar eerder by die Skrif bly nie?

Te min Skrif en te veel filosofiese spekulasie! 

Die Bybel vertel vir ons immers duidelik genoeg wie God is en hoe Hy “lyk.” Jesus Christus, die vleesgeworde Woord is die beeld van die onsienlike God, die God wat Gees is! Jesus vertoon die heerlikheid van God aan ons, ‘n heerlikheid wat vol genade en waarheid is! (Johannes 1:1,14; Johannes 14:9,10; Kolossense 1:15-20) 

Om maar net een aspek van Young se uitbeelding van God te noem wat krap. Dis opvallend en steurend dat God die Vader uitgebeeld word as ‘n vrou. Ja, ek weet, inderdaad word daar by verskeie geleenthede in die Skrif moederlike en sagte eienskappe aan God toegedig, maar deurgaans in Sy amptelike titels gebruik God manlike titels : vader en nie moeder nie, koning en nie koningin nie!**  Jesus praat met sy Vader in die Hemel, nie met sy Moeder in die hemel nie! Die misleiding oor God gaan egter veel meer as oor ‘n metafoor wat vir sommige aan Godslastering mag grens. 

Die Shack swyg oor Goddelike toorn en straf. 

Die basiese Bybelse waarhede rondom sonde en verlossing is in gedrang en dit lei weereens tot ‘n skeeftrekking van God se karakter. So is die boodskap van die profete duidelik dat God sonde haat en straf, maar in The Shack word die indruk geskep dat sonde God glad nie meer pla nie! Dit blyk ook dat Young die totale verdorwenheid van die mens ontken en die skeiding wat sonde tussen God en mens veroorsaak ignoreer. 

"Papa" sê in die verhaal : “I am not who you think I am Mackenzie. I don’t need to punish people for sin. Sin is its own punishment, devouring from the inside. It is not my purpose to punish; it is my joy to cure it.” Dit terwyl die hele Bybel daarvan vol is dat God sonde straf! Wat dan van die sondvloed, die vernietiging van Sodom en Gomorra, die verwoesting van Jerusalem en die ballingskap, wonder mens? En vir diegene wat verder wonder, dis nie net in die Ou Testament dat God se toorn teenoor sondaars ontbrand nie! 

Ja, die Nuwe Testament leer nog steeds dat God sonde haat en dat elkeen wat die offer van Jesus verwerp die ewige straf tegemoet gaan. Van offer gepraat, dis juis as dit by die betekenis van die kruis kom dat die valse teologie van Young die duidelikste ontbloot word! In Young se onlangse boek, “Lies we believe about God” raak Hy skokkende bewerings kwyt oor die kruis. As God die oorsprong is van die kruis is, is Hy volgens Young ‘n “cosmic abuser” wat “cruel and monstrous” is! Mens sou wou vra, wat maak Young met die Bybelse gegewens oor God se beskikking van die kruis soos in Jesaja 53:10 en Handelinge 2:23.*** 

Die Shack is 'n aantasting van die kruisboodskap!

In ag genome Young se verdraaide beeld van God se heiligheid en die noodsaak van ‘n kruisoffer is dit ook te verstane dat The Shack se boodskap grens aan die leer van die universalisme, die teorie dat alle mense uiteindelik gered sal word. Natuurlik het die universalisme baie variasies. Young noem homself ‘n “hopeful universalist” en glo dat God sy Seun vir elke enkele sondaar gestuur het en dat die oordeel daarop sal uitloop dat elke sondaar Christus sal aanvaar en so met God versoen word. In “Lies we believe about God” is Young egter baie meer eksplisiet en gevaarlik as hy openlik verklaar: “Are you suggesting that everyone is saved? That you believe in universal salvation? That is exactly what I am saying!” En nog verder die skokkende kettery : “Every human being you meet . . . is a child of God” Dis nie hoe die Bybel oor kindskap van God praat nie!

Deur menslike verdorwenheid, sonde en skuld te herdefinieer word ‘n valse evangelie omhels wat dalk baie gewild gaan wees in ons dag, maar wat nie meer die krag van God is tot redding vir elkeen wat glo nie! 

The Shack, hoe goed ook al bedoel is nie waarheidsteologie nie! Ons gaan nie antwoorde kry vir ons vrae deur aan God se karakter en wese te torring nie! Ons kry die antwoorde in die Skrif!**** Ons gaan nie genesing vir ons sonde en pyn vind deur fiksie verhale nie. Die Woord is duidelik, ons almal word uitgenooi na die evangelie, God se oplossing vir die sonde en lyding van die wêreld, die kruisevangelie. Hierdie oplossing vereis geloof en lei tot bekering. Wie hierdie “groot verlossing” verwerp bly sonder hoop en sal nie die wraak van God kan ontvlug nie! (Hebreërs 2:3) 

Wie God wil ontmoet moet maar liefs wegbly van Young se kasarmte en gaan skuiling soek by die kruis! Daar kom God se liefde vir die mens en sy toorn oor sonde bymekaar. Dis waar die onbegryplike groot liefde van God vir sondaars aan ons bekend word en vrede, vergifnis en vreugde ons harte vervul! 

Die Shack is dalk gewild, maar dis gevaarlik! Dis in my opinie maar net nog ‘n voorbeeld van die sogenaamde Progressiewe Christendom wat eintlik maar 'n terugkeer na ou en gevaarlike dwalings is!

*Die bedoeling van hierdie kort kritiek op The Shack is nie om alle moontlike dwalinge hierin uit te wys nie. Daar is vele en baie ander teoloë het dit reeds elders aangespreek. 

**Hierdie dwaling om God te probeer “vervroulik” of skimpe in daardie rigting te maak, het lankal reeds ook in ons eie teologiese opleiding begin kop uitsteek. Prof. Johan Heyns het al tydens ons studiejare gesê dat God Homself as Moeder kon openbaar het en sy enigste dogter na die wêreld kon gestuur het. Natuurlik God kan enigiets doen. Die punt is, Hy het nie! Hy het Homself as Vader openbaar en Sy enigste Seun gestuur. In die teologie en lewenspraktyk moet ons ons met die Woord besig hou en nie met spekulasie nie! 

*** Jesaja 53:10 “Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel, om hom die pyn te laat ly. As hy sy lewe as skuldoffer gee, sal hy ‘n nageslag hê en nog lank lewe, deur hom sal die wil van die Here sy doel bereik.” 

Handelinge 2:23 “God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak.”

**** Moet jy dus gaan kyk? Goeie raad van David Mathis:
"We do not need a wilderness shack to hear from God. He gave us his word, through his appointed prophets and apostles in the Great Book, and he gave us the Spirit to illumine and apply our hearing. In short, the voices in your head are not God; they are you. If you want to hear God audibly, then read the Bible out loud." Ek sou hiermee graag wou saamstem!


Vrydag 22 Junie 2018

GOD IS NIE MEER KWAAD NIE!


Wie die versoeningswerk van Jesus aanvaar kan weet : “God is nie meer vir my kwaad nie, ek hoef nie te vrees nie, want ek kan Hom vertrou!” 


God werk soms baie hard met die mense vir wie Hy liefhet! Dalk het jy dit ook al beleef? Als loop skeef... "Die Here se hand druk swaar op my..." Die volk Israel het dit deeglik gevoel. Hulle het God se toorn, sy wraak en straf oor hulle sondes aan hulle eie lyf ervaar. Die ballingskap in die verre Babilonië was sekerlik die toppunt van God se oordele! God se oordele is voorwaar skrikwekkend. Tog... Deurgaans maak die profete dit duidelik : God se finale doel is egter nie straf nie, maar redding. Redding vir die oorblyfsel. Hy straf en tugtig mense om hulle tot redding te bring. Sy strawwe is nooit bedoel om ons weg te dryf nie, maar om ons nader te trek. Dis wat die volk Israel telkens beleef het. Dalk kan jy ook getuig : “Voordat ek swaargekry het, het ek gedwaal, maar nou hou ek my aan u woord.” (Psalm 119:67) 

Ons lees hier in Jesaja 12* ‘n danklied vir Goddelike verlossing. God het weer uitkoms en verlossing gebring vir sy volk. Dit beteken dat God nie meer kwaad is nie. Ja, God was kwaad, Sy toorn en wraak oor die sonde was inderdaad verwoestend! Dis geen ligtelike saak nie! Hoor bietjie...

“Ellende wag vir dié wat helde is by wyndrinkery, dapper by die meng van hulle drank, wat die skuldige vryspreek vir omkoopgeld, maar ‘n onskuldige sy reg ontneem. 
Daarom, soos stoppels deur vuur verteer word en hooi in vlamme opgaan, so sal dit met hulle gaan. Hulle sal met wortel en tak uitgeroei word, want hulle het hulle nie gesteur aan die openbaring van die Here die Almagtige nie, hulle het die woord van die Heilige van Israel verwerp. 
Daarom het die Here kwaad geword vir sy volk. Hy het sy hand teen hulle uitgesteek en hulle getref, sodat die berge gebewe het en die lyke soos vuilgoed op die strate gelê het. Ondanks dit alles bedaar die toorn van God nie en bly sy hand uitgesteek teen hulle." (Jesaja 5:22-25) 

HEERLIKE VERLOSSING

Verlossing is dus iets radikaals en onverdiend. Verlossing beteken dat God sy toorn afwend, dat hy volkome vergewe, dat Hy die kwaad nie meer teen ons hou nie. Wat behels dit presies? Die Here sê : “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke. Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos.” (Jesaja 44:22) Dis wat by die kruis gebeur het! Die dag as jy met ‘n gebroke hart gelowig na die kruis kyk dan beleef jy dit. Dan kan jy ook sê : “"Ek loof U, Here! U was kwaad vir my, maar U is nou nie meer kwaad nie en U het vir my uitkoms gegee.” (Jesaja 12:1) Dis wat mens besef as jy raaksien en regtig glo wat Jesus aan die kruis vir jou gedoen het. As ek dit beleef het sal dit ‘n verskil in my lewe maak.. Ek sal nie meer dieselfde kan bly nie. Hierdie danklied in Jesaja 12 bevat die reaksie van die verlostes op God se verlossingsdade. Dis ‘n noodwendige reaksie - as ek die verlossing raakgesien en beleef het kan dit nie anders nie , ek sal reageer. 

REAKSIE

Ons tref hier 'n drieledige reaksie aan : vertroue, blydskap en dankbare lofprysing. Vandag kyk ons na die reaksie van vertroue in vers 2. “God is my redder; Ek vertrou op Hom, ek is nie meer bang nie. Die Here my God is my krag en my beskerming; Hy is my redder." 

Ons gaan twee sake van nader bekyk: 

1) Wat is vertroue? Vertroue behels 'n bewuste daad en ingesteldheid van my denke. Jy weet wat jy doen wanneer jy vertrou. Dis nie maar net 'n lekker of positiewe gevoel nie. Om te glo en te vertrou is min of meer dieselfde ding. Maar hoe sal mens dit nou prakties verduidelik ? 


John Paton (1824-1907), 'n Skot, het na die New Hebrides ('n groep eilande in die suidwes-Stille Oseaan) gereis om die stamme daar oor Jesus te vertel, maar hy het gesukkel om die regte woord vir 'geloof' te vind. Eendag, toe sy inheemse bediende ingekom het, het Paton albei voete van die vloer af opgelig, agteroor in sy stoel geleun en gevra: 'Wat doen ek nou?' In sy antwoord het die bediende 'n woord gebruik wat beteken: ‘om met jou hele gewig te leun op '. Dit het die uitdrukking geword wat Paton gebruik het. Geloof behels om met ons hele gewig op Jesus te leun! 

Dis die betekenis van vertroue op God, ek leun, maak staat eksklusief op Hom, sonder om in die minste op enige van my eie bronne of bates staat te maak. Natuurlik omdat ons onvolmaakte mense is moet ons onmiddelik sê, solank ons in hierdie lewe is, sal ons vertroue in God ook nooit volmaak wees nie. Ja, selfs ons wat volledig vertrou op Jesus vir ons verlossing is nog so dikwels geneig om van ons eie valse selfvertroue en trots, vertroue op die werke van die wet in ons verhouding met God in te dra. Ons moet gedurig daarteen waak en dit uitroei. Met 'n doelgerigte beslistheid moet ek dag vir dag en keer op keer besluit ek gaan op God vertrou ongeag my gevoelens en omstandighede. Ek gaan net op Jesus leuen. Ek gaan glo en nie bang wees nie, al slaan die golwe van die lewe my van my voete af. Al voel ek asof ek wil sink in die branders van vrees... Ek vertrou op God se beloftes en die stellings in sy Woord.... (Terloops dis veral belangrik as jy ly aan Obsessiewe Kompulsiewe Versteuring – die “twyfelsiekte” – kliek op OCD

Vertroue, geloof en verlossing is onlosmaaklik aan mekaar verbind. Vertroue is die eerste daad van die wedergebore siel. Ek vertrou die Here. As jy nie Jesus persoonlik vertrou vir jou verlossing nie is jy nie 'n Christen nie. Dis die eerste verskil as ek kind van God word : “Ek vertrou nie meer op my geregtigheid, my gebede, my ordentlikheid, my afkoms, godsdienstigheid of prestasies nie. Ek vertrou op Jesus, ek vertrou op sy prestasie, sy meriete! Ek vertrou dat omdat hy reeds die volle straf vir my eie persoonlike sondes ondergaan het,dat God nie meer vir my ook sal straf nie.” 

Vertroue is 'n opdrag van God wat ons moet gehoorsaam Vertrou God, glo God! Dis die herhaalde opdrag in die Bybel, as ek vertrou doen ek nie iets besonders of snaaks nie (dis nie 'n buitengewone geloofskragtoertjie wat slegs vir 'n paar supergeestelikes beskore is nie), dis maar net die basiese minimum wat God van my verwag. Vertroue op God is die primêre manier, belangrikste manier hoe ons eer bring aan God. 

Op wie vertrou 'n mens normaalweg? Jy vertrou iemand op wie jy kan staatmaak, iemand met 'n standvastige karakter. Vol eerlikheid en integriteit. Om God te vertrou behoort eintlik die mees natuurlike ding te wees, want God se karakter is volmaak. Hy is goed, betroubaar, eerlik. Liefdevol, genadig! 

Kan jy iets inbring teen God se karakter? Nou waarom vertrou jy Hom dan nie? 

Waarom vertrou jy nie sy beloftes wat hy maak in Jesus nie? Sy beloftes dat hy al jou skuld kwytskeld, sy beloftes dat niks jou kan skei van sy liefde nie. Om God te vertrou is om eer aan hom te bring, te erken dat hy waarlik die volmaakte God is; om God nie te vertrou nie is 'n mosie van wantroue in Hom. Wat 'n dwaasheid van my 'n klein swak onvolmaakte mensie om die lewende almagtige God nie te vertrou nie! Gaan terug na die Woord, gaan na God se beloftes, sê : "Here ek vat U op U woord, want U is God" U is nie 'n mens dat U sou lieg nie. (Sien Numeri 23:19!) 

2) Die gevolg of uitvloeisel van ware vertroue op God 

“Ek vertrou...ek is nie meer bang nie.” Wat 'n heerlike uitspraak. Hoe wonderlik vir 'n mens om nie meer te vrees nie. Hoekom sê ek so? U sien van nature het ons as mense rede om bang te wees, veral bang te wees vir God vanweë ons sondeskuld (dink aan Adam in die paradys). Sondaars is vreesagtig. Ons is bang want ons dink aan ons sondes, die dwase sondes van ons jeug , die diep verskuilde en partykeer subtiele sondes wat in ons harte skuil, elke dag se sondes - dit laat ons vrees, want ek weet die lewende God sien alles. Ons vrees God, die dood, die oordeel, die ewigheid ....ja, maar as ek op God se beloftes vertrou kan ek sê: “Ek vertrou en is nie meer bang nie." Ja, ek is deeglik bewus van my skuld en ek huil daaroor, maar ek vertrou God se beloftes in Jesus, dat Christus aan die regverdige eis van die wet voldoen het, die doodstraf in my plek gekry het. Ek glo dit , my skuld is betaal ek glo dit en is nie meer bang nie. Nie omdat ek voel my sonde is nie so erg nie, maar omdat daar vir die sonde wat wel baie erg is volkome betaal is. Ek is nie meer bang nie, want God se karakter is volmaak. Hy sal sy beloftes van vergifnis nie breek nie. God sal nie op sy woord teruggaan nie- “EK is die Here, ek verander nie,” sê Hy in Maleagi 3:6. 

Kom ons vertrou God! Vertrou Hom altyd en in alle omstandighede. Vertroue op die volmaakte God wat Sy Seun as offer gegee het. Hy sal jou vrese en angste verban en selfs in die aangesig van die dood sal jy nie vrees nie, maar met verlange uitsien dat Hy jou die kroon van die lewe sal gee. AMEN

NASKRIF

Hoe wonderlik om te kan sê "ek vertrou en sal nie vrees nie" Donald MacDonald sê in aansluiting by hierdie teks dat mens in die lig hiervan eintlik 4 soorte mense kry : 

1) Die wat vertrou en nie vrees nie. (Reeds hierbo bespreek) 

2) Die wat vertrou en tog nog vrees. Ja, ek maak nie staat op myself nie, ek het my vertroue op Jesus gestel, en tog bly ek wonder en verval in ‘n voortdurende sieklike introspeksie: Is ek regtig vergewe, mislei ek nie dalk myself nie? Ek begin weer twyfel soos Petrus op die water... Hou gedurig jou vinger op die pols om seker te maak of ek regtig lewe, i.p.v. te lewe. Ware kinders van God kan twyfel en vrees ervaar. Johannes 5:9-13 is van groot hulp. Vertrou God se beloftes! Jesus het met groot geduld en sagtheid met die twyfelende Thomas gewerk. Vertrou Hom om ook jou vrese weg te neem en vastigheid en sekerheid te gee. 

3) Daar is sommige wat vrees, maar hulle vertrou nie. Jou sonde pla jou, jy weet jy kan nie so voor God verskyn nie, jy weet daar is 'n hel en dit laat jou by tye sidder van vrees en tog weier jy om jou vertroue op Jesus te plaas. Jy kom wel kerk toe , jy hoor die woord, maar jy deins terug van om die stap te neem om jou aan Jesus oor te gee en jou vertroue op Hom te stel. Onthou om bang te wees vir God se oordeel, om jammer te wees oor jou sonde kan jou nie red nie, jy moet by Jesus uitkom - Hy nooi jou! 

4) Laastens is daar die wat nie vertrou nie, maar ook nie eers bang is nie. Miskien is daar diesulkes ook hier. Jou hart is kliphard, jy ken die feite, jy weet jy is nie reg met God nie, jy weet daar is 'n oordeel en tog lewe jy ongesteurd voort. Mag God jou hart laat ontwaak en jou weer leer om te vrees sodat jy Hom sal soek en vertrou vir jou verlossing. 

*In hierdie kort, maar heerlike hoofstuk kry ons twee psalms of liedere, wat ons kan noem lofsange van bevryding of verlossing. Sommige sien hierin 'n verwysing na die wonderbaarlike bevryding van Jerusalem uit die hand van Sanherib die koning van Assirië in die tyd van koning Hiskia toe die engel van die Here 185000 soldate doodgemaak het (hfs. 37) . Dis moontlik, maar dis ook duidelik dat die blikrigting van hierdie vreugdesuitinge verder gaan as net die tyd van Hiskia. Ons kom dit agter as ons kyk na die heerlike beloftes wat hoofstuk 12 voorafgaan. In hfs. 7 kry ons die aankondiging van Immanuel (Jesus) se geboorte, in hfs. 9 'n verdere aankondiging van 'n Seun wat gebore sou word met Goddelike eienskappe, wat nie op 'n gewone aardse koning van toepassing gemaak kan word nie (vers 5) en in die voorafgaande hoofstuk weer 'n duidelike verwysing na die verlossingswerk van Jesus (11:1) Dit gaan dus in hfs. 12 oor iets dieper en heerliker as net Israel se fisiese bevryding.



Donderdag 14 Junie 2018

“GESEËNDE” DWAAS


- vol skure en reuse bankbalans, maar vir ewig bankrot! 



“Kyk net hoe geseënd is hy, hy het al weer sy besigheid uitgebrei, al weer ‘n nuwe motor gekoop, nog ‘n luukse eiendom by Langstrand, Kampsbaai of Clifton... Die Here is baie goed vir hom...” Dis hoe mense praat en dink. Die harde realiteit is dat hierdie sogenaamde geseëndes egter dikwels op pad is na die verderf. Hierdie “seëninge” is baie keer net ‘n mooi woord vir hebsug en gierigheid. 

Hebsug is die hoofpad na die hel! 

Gierigheid is die groot gevaar wat lei na die ewige vuur! Dis juis so gevaarlik omdat ons dit nie as ‘n sogenaamde groot sonde soos egbreuk of moord sien nie. Tog is dit een van die sake waaroor Jesus die meeste teen gewaarsku het. Waarom is gierigheid of hebsug so subtiel gevaarlik en vernietigend? Ons kry hier in LUKAS 12:13-21 (die gelykenis van die ryk dwaas) ‘n paar belangrike insigte oor die gruwel van gierigheid en hebsug. 

DIE VROOM GESIG VAN HEBSUG. 

“En een van die skare sê vir Hom: Meester, sê vir my broer dat hy die erfenis met my moet deel.” (13) Ai, tog hoe respekvol, vroom en eerbiedig klink dit! Hierdie man vra raad by Jesus. Maar luister mooi, hy roep Jesus se hulp in ter wille van sy hebsug. Nie om van sy hebsug bevry te word nie, maar om dit te bevorder. Dis tipies van baie godsdienstige mense. Hulle misbruik Jesus om hulle eie belange te bevorder. Die Here moet my nou help, want ek het nog nie genoeg nie... Natuurlik het Jesus Hom nie laat vang nie en gebruik hierdie versoek nou as aanknopingspunt om te wys op die gevaar van gierigheid/hebsug. 

DIE MISVERSTAND VAN HEBSUG. 

Die saak waaroor Jesus nou wil praat raak almal, nie net die vraagsteller nie. Hy rig Hom tot die skare met hierdie diepsinnige waarheidstelling: "Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie." (15) Jesus waarsku teen hebsug/gierigheid/liefde vir geld. Die lewe vind sy sin en betekenis nie in die omvang van mens se besittings nie! Sukses is nie gelyk aan besit nie! (al dink die meeste mense so) Die volheid van die lewe kan nie gemeet word in terme van aardse bates nie. Dis die groot misverstand van hebsug. Kom ons kyk bietjie na die konteks van Jesus se woorde. Die werk van Jesus in Palestina op daardie stadium was juis gerig op die lewe. Hy het baie wonders gedoen en verleng mense se lewe deur die genesing van siekes ens. Maar dit beteken nie dat lewe as sodanig alles is nie. Dit kom daarop neer dat mense nie moet dink as hulle nou gesondheid ontvang het dat hulle nou alles het nie. “Ek is nou weer pure perd, nou kan ek gaan geld maak!” “Nee”, wil Jesus sê, “julle lewe word verleng dat julle by God kan uitkom en Hom kan ken.” 

Die sin en inhoud van lewe, lê nie in gesondheid en besit nie, nie in materieel meetbare suksesse nie, maar in ons deelwees van God se Koninkryk. 

Dis die groot punt wat Jesus in die gelykenis maak. Dis baie duidelik dat die ryk man nêrens in die verhaal berispe word oor sy rykdom as sodanig nie. Daar is ook geen sprake van oneerlikheid nie. Hy was nie skelm nie, hy was hardwerkend, maar hy het die doel van die lewe gemis! Hy het God gemis! 

DIE VERSKONINGS VIR HEBSUG. 

Hierdie man was volgens alle sigbare aanduidings ‘n geseënde van die Here. Dit lyk asof alles in sy guns was... Goeie grond en sekerlik goeie reën! Hy sou eerlik kon sê: “Die Here seën my so wonderlik! Kyk die goeie talente wat Hy my gegee het om so suksesvol te boer, dis die Here wat my seën met grond, reën en goeie oeste . Ek kan net nie anders nie, ek moet net groter gaan en uitbrei, uitbrei...” Ons steek hebsug weg onder baie vroom praatjies – “Ag, dis die Here wat so goed is vir my, ek moet mos vir my vrou en kinders sorg.” Ja, dis so, maar dis baie keer net ‘n verskoning om meer en meer in te palm. Sorg jy ook geestelik vir jou vrou en kinders? Sorg jy nou so “goed” vir jou vrou en kinders dat hulle en jy nie meer tyd het om by die kerk, huisgodsdiens en gebed uit te kom nie? 

DIE BANKROTSKAP EN ELLENDE VAN HEBSUG. 

Hebsug laat jou eindig met niks. Dis die bitter skokkende ironie. Baie mense wat als het, het eintlik niks. Hulle is so arm hulle het net geld! Hierdie man het baie skatte gehad, maar hy gaan die ewigheid tegemoet sonder enige bates, sonder enige hoop! Hy het groot skure op aarde ja, maar het hy ‘n hemelse tuiste? Baie het hom dalk sy rykdom beny, maar eintlik moes hulle hom bejammer het! Hebsug is die verkeerde en gevaarlike opsie in die lig van die eindtyd. Jakobus spel die gevaar konkreet uit : “En nou, julle rykaards, kerm en kla oor al die swaar wat oor julle gaan kom. Julle rykdom sal tot niet gaan en julle klere sal deur motte opgevreet word, julle goud en silwer sal verroes. Die roes sal teen julle getuig en aan julle vreet soos ‘n vuur. Julle maak skatte bymekaar, en dit terwyl dit die laaste dae is.” (Jakobus 5:1-3) Dis nie woorde wat ons graag wil hoor nie, maar God het besluit dat ons dit moet hoor en gewaarsku moet wees... 

GOD SE BEOORDELING VAN HEBSUG. 

Hierdie man voel baie tevrede met homself. Sy aftreeplanne is in plek. Hy kan gaan op vervroegde pensioen. Hy hoef nie meer te werk nie; hy kan nou sonder sorge gholf speel en na Thailand toer! Maar wat is God se opinie? “Dan sal ek vir myself sê: ‘Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.’ Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?’” (19,20) Skokkend! God self noem hierdie slim, vlytige, flukse en vooruitstrewende entrepreneur, ‘n dwaas! God kyk so anders as ons. God se beoordeling van ‘n suksesvolle gierigaard verskil hemelsbreed van mense se siening. Die wêreld en sy vriende sê : “Kyk wat ‘n sukses!” Die prosperity gospel aanhangers mymer baie vroom : “Kyk hoe geseënd!” God sê: “Kyk wat ‘n dwase mislukking!” Mense het hom dalk geprys, maar God beskou hom as ‘n swaap! Daar was dalk pragtige huldeblyke by sy begrafnis, maar God se opinie is dat hy ‘n pateet was. Wat gaan God oor ons lewe sê, as jy of ek vannag sou sterf? Hebsug het van hierdie man ‘n dwaas gemaak. Hebsug is ‘n skrikwekkende sonde, dit laat ons ons ware doel op aarde mis. En vir ewig...

DIE LEWE!

En wat is dan die ware sin van ons bestaan en ons eintlike doel? Wat is LEWE? Om na te jaag om God te ken! Om Hom te eer en Hom te geniet vir altyd! As my hoof ambisie en lewensdoel word om geld en besittings bymekaar te maak dan verloor ek visie op my eintlike doel om God te leer ken. Ook op ‘n praktiese vlak verhinder hebsug kennis van God. Ons bestee soveel tyd om ons onversadigbare dors na besittings te bevredig, dat ons nie tyd het om God se aangesig te soek nie. Hebsug maak ook dat ons nie lus het vir God nie. Al die mooi en blink dinge, bring ‘n skyn versadiging, dis eintlik net ‘n aptyt bederwer vir die ware voedsel, en dis om God te ken en sy wil te doen. 

Hierdie gelykenis stel ons voor ‘n vraag. Die eintlike vraag is nie vandag hoeveel geld jy het nie, die vraag is : Is jy ryk by God? Ken jy Hom? Is jy geseënd met die ewige lewe? Is dit dalk juis hebsug en gierigheid wat keer dat jy Hom ken? Gelukkig is daar ook vergifnis vir hebsug! Wees ryk by God, leef vir Hom deur Jesus te volg!




Vrydag 08 Junie 2018

AS DIE “PARTY” ROF RAAK

en jy word ontstel en gekwel... 



Lot was nie op ‘n lekker plek nie! Hierdie regverdige en eerbare man het in die goddelose stad Sodom gewoon. Sodom was inderdaad ‘n bose plek, soveel so dat die naam Sodom in die Bybel ‘n simbool en spreekwoord geword het van uiterste sonde en skrikwekkende verdorwenheid! Daar was bitter min regverdiges in hierdie stad. Ons kan dit aflei uit Abraham se vurige gebed toe by God gepleit het vir Sodom nadat God aangekondig het dat hy Sodom en Gomorra gaan verwoes. “Abraham het toe nader gekom na die Here toe en gevra: "Sal U die regverdiges saam met die goddeloses vernietig? Miskien is daar vyftig regverdiges in die stad. Sal U die plek werklik vernietig? Sal U dit nie spaar oor vyftig regverdiges daarin nie?” (Genesis 18:23,24) So het Abraham begin by 50 en aangehou tot hy later by 10 was en nog steeds het God besluit om hierdie plekke te vernietig. Daar was dus nie eens 10 regverdiges in die hele stad nie... “Toe sê Abraham: "Moet tog nie kwaad word nie, Here! Ek wil nog net een keer praat; miskien word daar tien gekry." En die Here sê: "Ook oor tien sal Ek dit nie verdelg nie." Toe die Here klaar met Abraham gepraat het, het Hy weggegaan, en Abraham het na sy plek toe teruggegaan.” (Gen 18:32,33) 

Die regverdige Lot se lewe in Sodom was uiteraard nie maklik nie. (Lees 2 Petrus 2:4-10)* Hy het “gebuk gegaan onder die losbandige lewenswyse van goddelose mense” (7) Die gruweldade wat hy moes aanskou en die dinge wat hy moes hoor was ‘n “foltering” (marteling) vir sy opregte hart! (8) Die OAV stel dit so : “hom baie gekwel” , “sy regverdige siel gepynig.” (7,8) Dis ‘n valse idee dat God se kinders altyd met ‘n glimlag sal rondloop, altyd kalm en vrolik sal wees, altyd lekker sal voel, altyd gewild sal wees, dat almal van ons sal hou… Lot het swaargekry in Sodom. Dit wat hy gesien en gehoor het, het hom diep verontrus en seergemaak. Dit was vir hom ‘n beproewing. Dit sluit waarskynlik in die gespottery van sy eie aanstaande skoonseuns, toe hy hulle wou oortuig om die oordele van God te ontvlug! “Lot het toe vir sy aanstaande skoonseuns gaan sê: "Kom uit hierdie plek uit, want die Here gaan hierdie stad verdelg," maar hulle het gedink Lot maak ‘n grap.” (Genesis 19:14) Ja, goddeloses (selfs in ons eie families) spot met ons wanneer ons hulle die pad na verlossing wil aandui. 

Vandag nog is die bose kultuur waarin ons leef vir regverdiges ‘n gruwel. Regverdiges wat erns maak met God se wil word ontstel en gepynig deur dit wat ons hoor en sien. Ons word ontstel deur die sedelose lewe en die vernietiging van huwelike, die minagting van God se wette en sy dag. Die bedrog, gierigheid, korrupsie, haat en geweld, walg ons siele. Ons moet dikwels gedwonge luister na die goddeloses se skaamtelose gespog, sinnelose grappe, liederlike blêrmusiek, dronkmansgelag... letterlik! Ons moet pynlik toekyk hoe jong dogters soos skouperde uitgestal word en dan word dit nogal deesdae met een of ander Christelike sousie geregverdig!. (Kliek op SNEEUWITJIE) Dit maak ons seer as ons sien hoe mense dinge soos sport, plesier en geld bo God stel. (Kliek op RUGBYVELD) Vir al hierdie dinge is daar tyd, maar nie vir God nie! Dit maak ons veral hartseer as mense geen waarde heg aan die verlossingsevangelie nie. (net soos Lot se aanstaande skoonseuns) Baie wend geen poging aan om eens die Woord te hoor nie! Vir alles is daar tyd, maar nie vir God en Sy Woord nie! Net soos Lot se aanstaande skoonseuns, verwerp hulle die enigste manier om gered te word en God se oordele vry te spring! 

Ontstel hierdie dinge jou? As dit jou nie ontstel nie, moet jy jouself deeglik gaan vra of God jou al ‘n nuwe hart gegee het... 

Maar die groot troos is... 

Die verhaal van Lot soos Petrus dit hier gebruik is egter nie net ‘n negatiewe voorbeeld nie. Hier is ‘n heerlike boodskap van troos en aanmoediging vir God se kinders, juis vir God se kinders wat swaarkry omdat hulle Hom wil dien te midde van ‘n goddelose kultuur! 

God sal sy kinders uit hierdie beproewinge red! God sal sy kinders bewaar en ons veilig by ons ewige bestemming bring! Dis ‘n waarheid wat dwarsdeur die Skrif gestel word. Twee voorbeelde : 

“My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” (Johannes 10:27,28) 

“Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid! Amen." (Judas vers 24,25) 

God bewaar sy kinders! Hoe doen Hy dit? Hy gebruik sy Woord (waarskuwings en aanmoedigings), sy kerk (medegelowiges), Sy Gees, ja ook die sakramente! 

GOD BEWAAR SY GEKWELDE KINDERS! 

Aan die anderkant sal God beslis die goddelose straf! Die goddeloses pynig ons nou, maar God sal hulle ewig pynig. Ons moenie wraak neem nie, dis God se werk! God is regverdig, die dag van oordeel kom, beslis! “God is tog regverdig: die mense onder wie julle nou so ly, sal Hy as straf ook laat ly; en aan julle lyding, en ons s’n, sal Hy ‘n einde maak wanneer die Here Jesus met sy magtige engele in ‘n vuurvlam uit die hemel verskyn. Dan sal Hy die mense straf wat nie vir God ken nie en dié wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie.” (2 Tessalonisense 1:6-8) God het sy tyd al lyk dit nou vir ons soms of Hy Hom nie steur aan goddeloosheid en onreg nie! 

Vir die regverdige Lot was die lewe in Sodom nie maklik nie. Vir die regverdige volgeling van Jesus Christus is die lewe in Tsumeb (Pretoria, Kaapstad, Windhoek, Perth...) 2018 ook nie maklik nie. Hier is baie dinge wat ons kwel en pynig. Maar uit Lot se geskiedenis kan ons die troos put dat God sy kinders sal bewaar en dat God die goddeloses wel sal straf. Reg en geregtigheid sal geskied. Daarom kan ons ons vrede en vreugde in alle omstandighede behou ook ten midde van ons sielefoltering!

*God het selfs die engele wat gesondig het, nie gespaar nie. Hy het hulle in die hel gestort en hulle laat boei om in die duisternis gevange gehou te word vir die oordeel.
Hy het ook die wêreld van die outyd nie gespaar nie, maar die sondvloed oor die wêreld van goddelose mense gebring. Net vir Noag wat die wil van God verkondig het, en sewe ander mense het Hy gered.
Die stede Sodom en Gomorra het Hy tot verwoesting veroordeel en tot as verbrand, en met hierdie voorbeeld het Hy getoon wat oor die goddelose mense gaan kom.
En tog het Hy vir Lot gered, ‘n eerbare man wat gebuk moes gaan onder die losbandige lewenswyse van sedelose mense.
Terwyl hy tussen hulle gewoon het, moes hierdie eerbare man dag vir dag soveel van hulle gruweldade aanskou en sulke dinge aanhoor dat dit ‘n foltering was vir sy opregte gemoed.
Die Here weet dus om dié wat Hom dien, uit beproewing te red, maar om die goddeloses te straf en vir die oordeelsdag gevange te hou.
Veral húlle sal gestraf word wat toegee aan hulle wellustige vleeslike begeertes en wat die gesag van die Here verag. Hierdie leraars is uitdagend en verwaand en huiwer nie om hemelwesens te beledig nie.  2 Petrus 2:10



Karnavaltyd in Rio, 'n skouspel vir die wêreld; 'n pynlike gruwel vir die Christen!

Vrydag 01 Junie 2018

ONGEMAKLIKE GENADE

- die genade wat Jesus uitdeel pas nie altyd by ons eie idees van genade nie! 



Die heerlikheid van Jesus is ‘n heerlikheid vol genade en waarheid. (Johannes 1:14) Genade en waarheid word deur Jesus gedemonstreer soos in niemand anders se lewe nie. Trouens, sy lewe is ’n PLAKBOEK van genade .... dink aan sy genade teenoor die sedelose Samaritaanse vrou, die skelm Saggeus, die gevalle dissipel Petrus... almal het genade op genade ontvang! Reeds hier reg aan die begin van sy bediening (sien LUKAS 4:16-30) stel Jesus sy missie van genade. Hy doen dit in die sinagoge van Nasaret, sy tuisdorp toe Hy die geleentheid gekry het om die Skrifvoorlesing te doen. “Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig." (18,19) Jesus het voorgelees uit die profesie van Jesaja.* 

Die heerlike genade van Jesus bring bevryding vir die grootste sondaars, maar andere word juis daardeur afgestoot! 

Genade, so heerlik! Maar pasop, genade is nie altyd presies wat ons verwag nie! Hier tydens die dramatiese gebeure in Nasaret sien ons ook ’n ander faset van genade... Die skerpheid, verrassing, gevaar, risiko en ongemaklikheid van genade is dwarsdeur Jesus se bediening baie opvallend. Jesus se genade is so anders heerlik en uniek dat sommige juis afgestoot word daardeur. 

Ons sien dit in die dramatiese ommeswaai in hoorders se houding - eers bewondering en instemming. “Almal het hulle instemming met Hom betuig en was verwonderd oor die aangename woorde uit sy mond.” (22) Uiteindelik word hierdie einste hoorders, woedend en moorddadig! “Almal in die sinagoge was woedend toe hulle hierdie dinge hoor. Hulle het opgespring, Hom uit die dorp uitgejaag en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was, om Hom van die krans af te gooi.” (28,29) 

Hoekom? Jesus het teen hulle selfgesentreerde verwagtings ingegaan. Hulle hou net van genade volgens hulle idees en voorwaardes. Hy het nie ingepas by hulle denke nie. Hulle betwyfel Jesus se Messiasskap. “En hulle sê: "Is hy dan nie die seun van Josef nie?” (22b) Ja, dit was wonderlik om God se woorde van genade te hoor, maar dit was vir hulle onaanvaarbaar dat dit aan die persoon van Jesus gekoppel kon wees! "Hy is dan ‘n gewone dorpskind en timmerman se seun. Jesus, die beloofde Messias? So nimmer as te nooit!" 

Jesus reageer deur te impliseer dat Nasaret geen spesiale aanspraak op Hom kan maak nie. Hulle kon Hom nie dwing om wonders daar te doen nie. (En trouens, Hy het ook nie, weens hulle ongeloof!) Jesus verwys nou na twee Ou Testamentiese verhale, wat diep sny. Dit gaan oor God se genade vir totale buitestaanders, vyande van die volk, vreemdes… 

Die eerste handel oor die wondergenesing van Naäman, die heidense generaal, ‘n vyand van Israel wat groot skade n ellende aangedoen het. God het hom deur Elisa sy kneg genees van melaatsheid. Ja, hy ontvang ‘n wondergenesing, terwyl daar baie melaatses in die destydse Israel was wat nooit genees is nie. Onverdiende, onverklaarbare soewereine genade van God! 

Die ander verhaal handel oor die weduwee van Sarfat. God het die profeet Elia tydens die groot droogte na haar toe gestuur om deur haar versorg te word. Sy beleef verbysterende Goddelike genadewonders, die vermeerdering van die olie en meel, en nog heerliker die opwekking van haar seun wat gesterf het. Tog was sy ‘n heidense weduwee wat gewoon het in die landstreek van Israel se vyande. Weereens is die Goddelike genade uniek en onverstaanbaar, want daar was beslis in hierdie tyd baie weduwees in Israel, maar Elia is nie na een van hulle toe gestuur nie en hulle het ook nie wonders beleef nie! 

Hierdie verhale moes ‘n groot skok gewees het vir die sinagogegangers van Nasaret. Dit druis in teen hulle selfsugtige sienings en vooropgestelde idees! Natuurlik, hierdie voorbeelde kom uit die Skrifte en hulle het dit goed geken, maar dit trap op hulle tone en maak hulle eggo’s bitterlik seer. Dit laat hulle in woede en haat uitbars! Hulle verstik in hulle eie vooroordele! 

Genade is heerlik. Maar genade is nie iets wat ons kan voorskryf en manipuleer nie. God se genade is soewereine genade, Hy bepaal hoe dit uitgedeel word... Ons is ontvangers, ons kan nie die bepalings en voorwaardes opstel nie... So maklik vergeet ons dit nes die mense van Nasaret. 

Kom ons dink net bietjie oor nog twee aspekte van Jesus se genade wat die ongemak en skerp kant daarvan uitlig: 

JESUS SE GENADE HET HOM NOOIT ONEERLIK GEMAAK NIE. 

Nooit was Jesus skuldig aan vleitaal nie! Nie eens vir die mense van sy tuisdorp het Hy die heuningkwas uitgehaal nie. Jesus sê ’n ding soos Hy is. Ja, vol van genade en WAARHEID! Dwarsdeur die Nuwe Testament word mens getref deur Sy absolute skokkende eerlikheid! Die toestand van die wêreld wat Jesus se koms noodsaaklik gemaak het, was so sleg, dat Jesus van brutale taal moes gebruik maak om die werklikheid daarvan beskryf. Toe mense Hom vra vir ’n teken was sy reaksie : “ ’n Slegte en afvallige geslag wil ’n teken hê” (Matteus 16:4) Hy ruk die selftevrede godsdienstiges in die bek met hierdie snydende beskuldiging: “Julle is soos witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerhede is.” 

Jesus het die vroom godsdienstige ongelowiges die harnas ingejaag met hierdie beskuldiging : “Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen.” (Johannes 8:44) En selfs toe Jesus se eie toegewyde dissipel Petrus heldhaftig geprotesteer het teen Sy lydensweg, het Jesus omgedraai en Hom streng bestraf : “Moenie in my pad staan nie Satan! Jy is vir my ’n struikelblok....” (Matteus 16:23) Hoekom reageer Jesus so skerp? Vir die mens se geestelike dood was daar net een oplossing : Jesus se plaasvervangende sterwe aan die kruis. Enige poging om dit te verhinder was inderdaad demonies. Petrus is hier die Satan se agent en Jesus sê dit duidelik. Jesus se eerlikheid het niemand gespaar nie! Genade praat reguit, en dis mense ongemaklik maak... 

GENADE HET 'N BITTER SKERP SNYKANT VIR DIE WAT DIT VERWERP. 

Ons sien in hierdie gedeelte hoe Jesus se genade mense in opstand bring. Nie almal was bly oor sy boodskap van wye genade nie, nie almal het dit met dankbaarheid aanvaar nie. Daarom het Jesus dikwels gewaarsku teen die gevolg van die verwerping van sy genade! Dis die hel! Hy het geen kwesbare gevoelens gespaar om mense teen die ewige straf in die poel van vuur te waarsku nie. Terwyl die onderwerp van “hel” ‘n taboe kwessie geword het in die meeste kerke is dit ‘n feit dat niemand in die Bybel meer dikwels en meer skrikwekkend oor die hel gepraat het as Jesus nie! “Die engele sal uitgaan en die slegtes skei van die goeies en hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.” (Matteus 13:49) Hel is volgens Jesus ’n plek waar “die wurm nie sterf nie en die vuur nie geblus word nie” (Markus 9:4) Jesus gebruik kliniese logika om aan te toon dat blote aardse gevare - soos om doodgemaak te word - niks in vergelyking is met die bedreiging van die hel nie. “Aan julle My vriende, sê Ek : Moenie bang wees vir die wat die liggaam doodmaak en daarna niks verder kan doen nie. Ek sal vir julle sê vir wie julle moet bang wees : vir Hom wat mag het om, na die dood, in die hel te werp. Ja, Ek sê vir julle, Hom moet julle vrees.” (Lukas 12:4-5) 

As Jesus vandag weer op aarde moes wees, sou die meeste kerke Hom nie toelaat om daar te preek nie! 

Hoekom is Jesus so ontsettend eerlik? Hy het meer as enigiemand die mens regtig lief! Hy wil bitter graag dat ons die oordele van God gespaar bly! Jesus sal vir ons die weg na die koninkryk aanwys, of ons daarna wil luister of nie. “As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gewerp word.” (Matteus 5:29) Eerder verminking as veroordeling! 

Jesus het ook eerlik gesê dat die evangelie skeiding tussen mense en onmin op aarde gaan veroorsaak! “Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring? Nee, sê Ek vir julle, eerder verdeeldheid” (Lukas 12:51) “Ek het gekom om tweedrag te bring ‘tussen ‘n man en sy vader en tussen ‘n dogter en haar moeder, tussen ‘n skoondogter en haar skoonmoeder.” (Matteus 10:35) 

Sjoe, pas hierdie woorde by die Prins van Vrede? Onthou net, sy doel is nie vrede met ongeloof, ongehoorsaamheid en sonde nie. Dis vyande wat vernietig moet word, anders vernietig hulle ons. Waar die radikale boodskap van Jesus se vergifnis verkondig word, kry mens tweeledige reaksie - aanvaarding of verwerping. Die evangelie van genade veroorsaak onrus en opstand op aarde! “Ek het gekom om vuur op die aarde aan die brand te steek, en hoe wens Ek dat dit al aan die brand is!” (Lukas 12:49) Ons moenie dink ons kan vir Jesus “makmaak” om by ons sienings en voorwaardes te pas nie... 

Genade is onbeskryflik heerlik, maar ook gevaarlik as jy dit misbruik of verwerp! 

Harde dinge uit Jesus se mond! Wie kan dit verdra om na hierdie dinge te luister? Wie kan so ’n Jesus volg? Die gelese gedeelte impliseer dit eintlik reeds. (Vers 18) Die behoeftiges, nederiges, leerbares, gebrokenes, diegene wat hulle nood en afhanklikheid van Jesus besef en erken... Hulle sal in sy woorde die stem van krag en waarheid en geregtigheid en liefde hoor. Die mens wat werklik sy sondenood besef sal nie aanstoot neem nie, maar Jesus se vergewende genade aangryp! Hulle sal juis moed skep uit die feit dat ten minste iemand die erns van die menslike toestand raaksien, die vyand ken, eerlik is, nie kompromie maak nie en praat soos ’n oorwinnende Koning en ’n groot Verlosser.** Dit kom hierop neer - genade is verniet, maar dis vir die dorstiges - die wat dit regtig wil hê - meer as enigiets anders! “Die Gees en die bruid sê: "Kom!" En elkeen wat dit hoor, moet sê: "Kom!" En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Openbaring 22:17) Is jy in opstand teen Jesus se genade of is jy ‘n dorstige wat dit blymoedig aanvaar? 

(Om verder te lees oor die misbruik van genade waarteen die Nuwe Testament waarsku, kliek op  HEILIGE BALANS) 

*Jesaja 61:1 

** John Piper, “Seeing and Savouring, Jesus Christ”




Genade vir gebrokenes! ( 'n foto wat baie jare gelde deur my Pa, Johan de Koning in die Kavango geneem is.)