BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 22 Januarie 2016

OPGEWONDE DEEL VAN ‘N LEWENDE GEMEENTE

- fokus op die kernbestanddele van egte Christenskap!



Wil jy graag ‘n opgewonde lid van ‘n lewende gemeente wees? Jou antwoord is seker, ja, maar dit bring mens dan by 'n klompie vrae...  Wat is die kern bestanddele van ‘n sprankelende gemeente? Hoe lyk egte volle Christenskap? Nou elke mens het sy eie idees oord hierdie saak. Die vraag moet egter wees : Wat is vir God belangrik as Hy na ‘n gemeente kyk? ‘n Mooi kerkgebou? ‘n Opwindende orkes? Groot getalle? ‘n Suksesvolle basaar? ‘n Vol bedrywige program? ‘n Lys wonderwerke? 

Wat tel werklik vir God en wat maak Hom gelukkig? Waarop moet ons konsentreer dat ons Christenskap nie vaal en vervelig word nie? Die brief aan die Kolossense gee detail antwoorde op al hierdie vrae.

Vandag kyk ons net na die drie basiese kernbestanddele van egte opwindende Christenskap soos dit vir ons uitgespel word in Kolossense 1:3-5

Van Paulus, ‘n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, en van die broer Timoteus.

Aan almal in Kolosse wat aan God behoort, getroue broers in Christus. Genade en vrede vir julle van God ons Vader!

Wanneer ons tot God, die Vader van ons Here Jesus Christus, bid, dank ons Hom altyd vir julle

omdat ons gehoor het van julle geloof in Christus Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges.

Hierdie geloof en liefde is gegrond op die hoop wat vir julle in die hemel bewaar word en waarvan julle reeds gehoor het toe die waarheid, die evangelie, aan julle verkondig is.

Wat is die kernbestanddele van ware gemeentewees? Ons kan dit aflei uit dit in die gemeente waarvoor Paulus God dank in hierdie brief. Watse dinge in die gemeente beskou hy as die moeite werd om oor opgewonde te raak? Wel, hy dank God vir hulle geloof in Christus Jesus, hulle liefde tot al die heiliges, vanweë die hoop wat vir hulle bewaar word. Die kern bestanddele van gemeentewees is dus: Geloof, liefde en hoop. Dwarsdeur die NT is hierdie drie die aanduiding van ware Christelike ervaring/belewing.* Wanneer Christelike ervaring en dus praktiese gemeentewees van alle versiersels en verpakkings gestroop word is dit die essensiële basiese kern.

Kom ons kyk ‘n bietjie na hierdie drie sake. Onthou dis die dinge wat tel, die dinge wat die apostel bly maak, dis die eienskappe wat “ geestelike sukses” verteenwoordig. Hierdie dinge is die dinge wat in ‘n gemeente moet wees wat “lewendig” is en dit is die bestanddele van ware Christenwees.

1) GELOOF IN DIE HERE JESUS

Daar is baie wanopvattings oor geloof. Dis nie ‘n algemene positiewe gesindheid nie. Dis nie die “geloof” van die “Word Faith” wat geloof sien as ‘n instrument om die lewe vir my makliker te maak nie. Dis nie net bloot ‘n abstrakte “glo” dat dinge beter sal gaan nie. Die geloof van die Christen het ‘n spesifieke Objek. Geloof in Christus, d.w.s. die God-gestuurde, gesalfde Verlosser en Koning, die historiese persoon, Jesus van Nasaret – die gekruisigde, maar ook die opgestane Een. Geloof beteken dat ek opreg in eenvoud die volle getuienis van God oor Sy Seun as waar sal aanvaar. Maar dis nog iets meer...Geloof, het ons mos geleer is KENNIS èn VERTROUE! Dis ‘n verbintenis, ‘n commitment, ‘n lojaliteit aan ‘n Persoon. Dis ‘n vertroue op Hom alleen as genoegsame Redder. Ek maak nie meer staat op my godsdienstigheid, seremonies of my goeie eienskappe nie, maar klou desperaat vas aan die feit van sy genoegsame kruisdood. ‘n Lewende gemeente is dus waar lidmate ‘n persoonlike verbintenis aan Jesus het. Hyself is die middelpunt van ons geloof en alle aktiwiteite. Wat ons doen, doen ons omdat Hy belangrik is en doen ons vir Hom! Hy is die basis van alles. Deur Hom eer ons God die Vader! 

‘n Opgewonde Christen is iemand wat opgewonde is oor Jesus en die genoegsaamheid van sy kruisoffer!

2) LIEFDE VIR DIE HEILIGES

Ware geloof in Jesus lei tot ‘n ware liefde vir ander mense wat ook in Hom glo. Dis die gom wat ‘n gemeente aanmekaar hou. Praktiese Christenskap moet gemeet word, nie aan die mooi dinge wat ons sê nie, maar die kwaliteit van ons liefde. As dit nie so is nie meet ons met verkeerde maatband. Wat word bedoel met hierdie liefde? Kol 1:8 gee die antwoord. “Dit is ook hy wat ons vertel het van die liefde wat deur die Gees in julle gewek is.” Die Christelike liefde vir ons medegelowiges is ‘n bonatuurlike werk van die Gees. Hierdie liefde is nie bloot ‘n warm gevoel nie. Niks te doen met Valentynsdag nie! Wat Paulus spesifiek met hierdie liefde in praktiese terme vir die Kolossense bedoel, word uitgespel in Kol 3:12-14. “Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees.
Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.
Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind.”

Dit gaan oor praktiese optrede! Dit gaan oor opoffer – OFFER JOUSELF! Dit stem grootliks ooreen met 1Kor 13 nie waar nie? Christelike liefde word prakties uitgeleef in slegte omstandighede, wanneer mense my kwaad aandoen, irriteer, ongeduldig maak ens. Dis ‘n “ ten spyte van liefde” -ek het lief ten spyte van mense wat my irriteer, kwaad aandoen, verkeerde verstaan ens. Dis mos hoe Jesus ons liefgehad het en steeds liefhet? Let op: Christelik liefde is ‘n liefde vir al die gelowiges (heiliges). Nie net vir sekeres nie. Nie net vir die wat van dieselfde sosiale stand en selfde intellektuele vlak as ek is nie, of in dieselfde uitsoekkringe beweeg nie, maar almal in die gemeente. 

3) ‘N VASTE HOOP OP DIE ERFENIS

As die Nuwe Testament praat van die Christelike hoop is dit nie ‘n blote wens nie, maar iets vas en seker. Die Christelike hoop is daardie ywerige verlange, daardie versekerde verwagting, en daardie geduldige wag op die vervulling van God se beloftes. Finaal word dit vervul by Jesus se wederkoms.

Die spesifieke ding waarvoor ons hoop word in Kol 1:12 uitgespel. “Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig.” Maar let op dit is nooit los van Christus nie soos Kol 1:27 dit uitspel “Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid”. Hierdie hoop is dus ‘n verlange na ‘n ewige toekoms waar Jesus self sentraal en allesoorheersend belangrik sal wees. ‘n Lewende gemeente het ‘n gesonde balans – ons is nou besig met dade van liefde, maar ons is ook toekomsgerig, ons sien uit na ‘n beter bedeling! Ons besef hierdie lewe is nie als nie. Ons harte is nie so verknog aan die sigbare dinge nie, ons kyk verder...

Opgewonde Christene is ten diepste toekomsmense... 

Ons kyk verder as die probleme van nou en ons kyk ook verder as die vreugdes van nou, beide gaan verby, maar daar wag ‘n ewige volmaakte toekoms en ons sien aktief daarna uit!


WAAR EN HOE?

Jy hoef nie ver te gaan soek na ‘n opwindende gemeente nie, jy kan maar net hier aangespoor deur die Woord begin fokus op geloof in Jesus, liefde vir jou mede Christen, hoop op ons heerlike erfenis en dan is ons in ‘n lewende gemeente, want ek en jy wat hierdie fokus het is mos die gemeente! Waar die evangelie (die waarheid) ** verkondig word, kom hierdie geloof, liefde en hoop as vrug tot stand! Laat ek en jy hierin volhard! AMEN!


*As jy wil seker maak van hierdie feit kyk gerus na Rom 5: 1-5; 1Tess 1:3; 1Pet 1:3-8; Heb 6:10-12 en die bekendste sekerlik 1Kor 13:13.

**Waar die evangelie nie meer verkondig word nie, met ander woorde waar die plaasvervangende sterwe van Jesus en sy liggaamlike opstanding nie meer geglo en gepreek word nie, kan daar dus nooit sprake wees van ‘n lewende gemeente nie.

Sondag 17 Januarie 2016

HIER BO IN DIE NOORDE...

het die Ring van die Noorde van die NGKN vergader.



Die feit dat die AS van die NGK se besluite oor selfdegeslagverhoudings (wat o.a. voorsiening maak vir die bevestiging van praktiserende homoseksuele predikante op die kansel) na verskeie appèlle effektief vir twee jaar uitgestel is, het nog nie die bedreiging van hierdie dwaling afgeweer nie. Sekere teoloë beywer hulle nog steeds baie sterk vir die invoer van hierdie afwykende beskouings.


Daarom is dit verblydend en 'n groot bemoediging vir evangeliese Christene dat die Ring van die Noorde van die NG Kerk in Namibië hierdie AS besluit verwerp het op haar vergadering van 16 Januarie 2016 te Otjiwarongo. Twee gemeentes te wete Tsumeb en Otjiwarongo het die buitengewone sitting aangevra. 

Die Ring van die Noorde het ook 'n beskrywingspunt opgestel ter voorlegging aan die komende sitting van die NG Kerk in Namibië se sinodesitting in Maart.

Die besluite van die Ring van die Noorde is soos volg:

1. Die Ring van die Noorde verwerp die besluite van die Algemene Sinode 2015 oor selfdegeslagverhoudings en handhaaf die besluite van die AS van 2013 en vroeër rakende selfde-geslag-verhoudings.

2. Die Ring van die Noorde stuur die volgende beskrywingspunt na die eersvolgende sinode van Namibië (18 tot 21 Maart 2016):

Beskrywingspunt na Namibiese sinode 2016

In die lig van die ontsteltenis en besware van talle gemeentes in Namibië oor die Algemene Sinode se besluite oor selfdegeslagverhoudings besluit die sinode van die NG Kerk in Namibië om:

2.1. Die besluite van die AS 2015 oor selfdegeslagverhoudings te verwerp en die besluite van die AS van 2013 en vroeër rakende selfdegeslagverhoudings te handhaaf.

2.2 ‘n beroep te doen op die volgende Algemene Sinode om die besluite oor selfdegeslagverhoudings 2015 te herroep in die lig van die getuienis van die Skrif en die belydenisskrifte.

2.3. sy teenkanting uit te spreek oor die wyse van Bybelgebruik op die AS 2015 wat aanleiding gegee het tot die besluite oor selfdegeslagverhoudings deur die Algemene Sinode van 2015 en te vra vir ’n herbesinning oor ons kerk se maniere van omgaan met die Bybel.

2.4. in die lig van bogenoemde ‘n kommissie aan te wys om dringend oor alternatiewe teologiese opleiding op eie bodem te besin.

2.5. ons kerkverbandelike verhoudings te heroorweeg.

2.6. aan te beveel by die AS om besluite oor selfdegeslagverhoudings te verwys na al die kerkrade in elke sinodale streek vir hantering en goedkeuring of nie nadat die appélle afgehandel is.

Kommentaar (myne) : Die enigste manier hoe die NGKN binne die huidige opset nog getrou aan Christus en sy Woord kan wees, is as die Algemene Sinode tot bekering kom en hulle besluit van 2015 oor selfdegeslagverhoudings herroep. Indien dit nie gebeur nie, is ons enigste alternatief om ons hier in Namibië los te maak van die Algemene Sinode van die NGK (uit die verband te tree) en net so belangrik is dat ons alternatiewe Bybelgetroue opleiding aan voornemende predikante sal bied. (byvoorbeeld deur by NETS in te skakel)




Vrydag 15 Januarie 2016

GAY HUWELIKE : ANGLIKANE TREE OP

Die groot Anglikaanse kerk het die liberale American Episcopal Church wat Gay huwelike goedkeur geskors. Hierdie kerk in Amerika het reeds in 2003 'n openlike gay biskop, Gene Robinson aangestel.  Dis verblydend dat daar genoeg persone in die Anglikaanse gemeenskap is wat darem nog vir basiese beginsels van die Woord opstaan. Dit laat mens ongelukkig ook weereens met hartseer besef hoe ver liberaal die NG Kerk geword het wat verlede jaar selfdegslagverhoudings op sy Algemene Sinode goedgekeur het. Die besluit is weliswaar vir twee jaar op die ys geplaas, maar die pro gay propagandiste in die NG Kerk gaan beslis nie die saak laat vaar nie. Daarom het elke lidmaat wat die Here en sy kerk liefhet, die plig om steeds helder en duidelik te getuig teen die gruwelike verdraaiing van die Skrif wat die grondslag in die eerste plek vir die AS besluit gelê het!

Donderdag 14 Januarie 2016

OFFER JOUSELF!

NIE ‘N LYSIE NIE, MAAR ‘N LEWENSRIGTING! 



[Die raad wat jy nie by jou “lifecoach” gaan hoor nie...]

Gelukkig lees ons nêrens in die Bybel dat ons ‘n lysie van nuwejaarsvoornemens moet opstel nie. Ons kry wel in die Skrif ‘n baie duidelike , maar radikale koersaanduiding vir die kind van God. Nie net vir die nuwe jaar nie, maar vir ons hele lewe. Dit kom neer op : OFFER JOUSELF!

Ons vind hierdie dringende opdrag in ROMEINE 12:1,2

"En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is."

Sjoe! Offer is nou nie juis ‘n term wat ons met ons lewensideale in verband bring nie.  "Offer jouself" is nie een van die temas van al hierdie motiveringsprekers en “lifecoaches” nie, maar dis die Bybelse ideaal en doelwit vir God se kinders. Om geoffer te word is nie juis ‘n lekker ding nie. Dink aan wat met ‘n offer dier gebeur – vasgebind op ’n altaar, keel afgesny en verbrand. Dis niks minder nie as ‘n volkome prysgawe van jouself...

VIR BEGENADIGDES

Radikaal, byna onwerklik. Amper absurd... Is dit regtig wat God van ons vra? Hoe moet ons dit verstaan? Vir die agtergrond van hierdie opdrag moet ons eers weer teruggaan na die eerste helfte van die Romeine brief wat eindig aan die einde van hoofstuk 11. Julle sal onthou hoe ons verlede keer besin het oor die doksologie in vers 33-36. (Kliek op DOKSOLOGIE) Paulus bars uit in verwondering en aanbidding voor God. Waarom? Hy word oorweldig deur die verbysterende, asemrowende, verstommende genade en wysheid van God wat hy beskryf het in die eerste deel van sy brief. Wat behels dit alles? God skenk vir ons in Jesus Christus volledige vryspraak uit genade, vrede met God, kindskap, ‘n ewige erfenis saam met Jesus. Hy gee verder die heerlike belofte van sy standhoudende liefde. (niks kan ons van hierdie liefde skei nie) Dis alles onverdiende guns en genade! Dis onbeskryflik en onbegryplik heerlik!

Die opdrag om jouself te offer maak net sin teen hierdie dramatiese agtergrondsfeit van die genade van God. Anders gesê, hierdie opdrag kom eksklusief net na mense wat God se genade reeds gesmaak het...en dus saam met Paulus wil uitjubel oor God se guns en goedheid! (Onthou hierdie dringende beroep geskied op grond van die groot ontferming van God.) In effek sê Paulus, omdat dit als waar is, is daar net een redelike reaksie, net een soort sinvolle godsdiens : GEE JOUSELF AS OFFER AAN GOD! Hier het ons die ideaal en ambisie van die begenadigdes!

HOE OFFER EK MYSELF?

Wat behels hierdie offer van jouself prakties? Dit gaan oor die beskikbaar stelling, eenkant sit en toewyding van jou hele menswees aan God. Letterlik staan die woord “liggaam” in die Griekse teks.* Toewyding is nie net ‘n geestelike saak nie, dit gaan oor konkreet prakties anders leef en anders doen. Paulus het eintlik reeds hierdie saak in Rom 6:13 aangeroer. “Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ‘n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil.”

In vers 2 word dit nou vir ons prakties verder ingevul wat dit beteken om jouself volkome aan God te offer of dan nou toe te wy. Dit word eers negatief en dan positief gestel.

Negatief. “moenie aan hierdie sondige wêreld gelykvormig word nie” Wees anders en doen anders! Breek met die gedragspatrone, die gewoontes, die leefstyl van die sondige sosiale en kulturele sisteem waarin julle julleself bevind. Die wêreld rondom ons het ‘n siening oor geld, oor mag , oor populariteit (in wees), oor sukses, oor seksualiteit, oor sekuriteit, oor vergelding... wat teen God se Woord en opdragte indruis. Die wêreld se siening is (en dit word in elke fliek wat jy kyk en byna elke liedjie wat jy luister gepropageer...) kry soveel geld as moontlik, probeer by almal in en gewild wees, jaag na sukses soos die glanstydskrifte vir ons voorskryf en die glansganse dit projekteer, leef losbandig met selfsugtige seksuele genot as hoogste ideaal, bou jou eie sekuriteit met geld, mag en invloed, kry almal terug wat jou leed aandoen en trap hulle in die grond in...

Ons wat genade ontvang het moet teen hierdie sienings en leefstyl kies. Ons moet daarmee breek. Dis ‘n baie ernstige saak, as ons kyk wat die apostel Johannes hieroor gesê het. “Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie Die wêreldse dinge -alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit - kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.” (1 Johannes 2:15-17) Die wêreld se sienings maak elke dag ‘n appèl op ons, dit nooi ons en roep ons om deel te wees, maar dis waar die offer van jouself inkom, breek daarmee, kies daarteen, dink en doen anders...

DIE WIL VAN GOD IS DIE NORM EN NIE DIE MODES EN OPINIES VAN DIE SAMELEWING NIE!

Positief. “laat God julle verander deur julle denke te vernuwe” Hier sien ons pragtig wat praktiese heiligmaking in ‘n Christen se lewe behels. Dis ‘n voortdurende proses van denkverandering. Ons doen mos soos ons dink, elke daad het sy oorsprong in 'n gedagte. Om anders as die wêreld te doen, moet ons leer om anders te dink... Ons breine moet herbedraad ("ge-rewire") word! Die ou sondige patrone moet afgeleer word en die nuwe Bybelse patroon aangeleer word!

Hier word nie ‘n eenmalige “second blessing” ** of krisiservaring voorgeskryf nie, maar God se kinders word eerder opgeroep tot ’n proses van konstante denkvernuwing en transformasie. Hierdie transformasie word in 2 Kor. 3:18b so beskryf... “...Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word." Dit gaan daaroor dat ons prakties in elke lewenssituasie en keuse ons sal onderwerp aan God se wil. Die wil van God en nie die modes of opinies van die wêreld nie, moet ons lewens reguleer. Die wil van God is nie ‘n geheim nie, ons hoef nie te wag vir ‘n stem of engel nie, dis wat God in sy Woord leer. Die kind van God onderwerp homself aan ‘n voortdurende leerproses om volmaak gehoorsaam te wees aan die Here. So ‘n kind van God het ‘n honger na die Woord, so ‘n kind van God het ‘n opregte begeerte om te verander en die Here te gehoorsaam, al kos dit wat... Ja, gehoorsaamheid aan God se wil en opdragte kan selfs fisies ons lewe kos hier op aarde.

Is jy ‘n begenadigde? Het jy besef dat jy ‘n rebel en verlore sondaar was, maar dat God jou heeltemal vergewe het en as sy kind aangeneem het? Dan is daar net een logiese reaksie van dankbaarheid... Juig oor die genade en gee jouself as ‘n lewende heilige offer aan God. Dis die verpligting waaronder ons as begenadigdes staan, maar dis veral ons vreugdevolle voorreg...***

Sterkte vir die offer in 2016!


*Moontlik beklemtoon hy dit omdat die Grieke die liggaam as minder belangrik beskou het en mense die gevolgtrekking gemaak het dat wat jy met jou liggaam doen, nie juis belangrik is nie. Die OAV lees as volg : ” Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.


** “It is not the beggarly notion of second blessing that the apostle propounds but that of constant renewal, of metamorphosis in the seat of consciousness.” John Murray se kommentaar op Romeine, p114

*** Dis ook die voorwaarde vir "sukses" in Koninkryksterme. Sien Johannes 12:24,25!



[Die graf van Martin Rautanen en drie van sy kinders. Hierdie Finse pioniersendeling in Owamboland het die konsep van "offer jouself"  verstaan en prakties uitgeleef! Hierdie radikale gehoorsaamheid het egter tot heerlike vrug en ewigheidsvreugde gelei...]

Woensdag 13 Januarie 2016

RAMP BY KEURBOOMSTRAND



Die Kersdiens sonder Jesus


Ons kamp by Keurboomstrand. Die omgewing is pragtig en die weer wonderlik. ‘n Mens voel sommer lus om die Here groot te maak. Met hierdie gemoedstoestand besluit ek en vroulief op Oukersaand dat ons die volgende oggend ons spannetjie gaan aanjaag na die “Boskerk” wat volgens ou kampers laer af in die kampterrein onder die bome gehou word. Blykbaar ‘n baie gewilde bymekaarkomplek. Ek is van vroeg al op en soos gewoonlik bekommerd dat ons weer laaste daar gaan opdaag en ons kan nie juis ongemerk insluip met ‘n ‘n 18 jarige, ‘n eenjarige en iets van alles tussenin nie.

Ek raak daarom toe ook besonder kriewelrig toe al meer en meer mense met stoele al van vroeg oggend by ons tent verbystroom onmiskenbaar op pad na die Boskerk met stoele in die hand, op die kop en selfs op bakkies gelaai. Die diens begin mos eers 10HOO? Om onnodige spanning te voorkom maak ek so 9H30 die voorstel dat ek maar solank sal gaan om plek te hou. Op pad soontoe is my stille gebed dat die preek tog my oudste sal aanraak wat maar swaar op my hart lê.

Ook maar goed ek het betyds gegaan. Die plek was stampvol. Maar nog net met stoele. Dit was blykbaar die gewoonte om eers jou stoel te gaan plaas en dan later, kort voor die diens jouself op die stoel te gaan plaas.

Nou ja, uiteindelik het my spannetjie darem opgedaag en het ons ons sit gekry. Die Boskerk was gepak. Baie bekende openbare figure het na ‘n stoel geskuif, van oud springbokke tot bekende predikante. Nadat ‘n paar bekende Kersliedere gesing is, party minder geslaagd as ander, is ons welkom geheet en die prediker voorgestel. Nogal van Pretoria en ‘n studenteleraar. Sekerlik die regte man vir die kinders....

Met verwagting het ek na Johannes 3 geblaai wat ons teksgedeelte sou wees. Ja, dit is nou ‘n goeie gedeelte vir die geleentheid het ek stilweg gedink – jy kan wedergeboorte en Jesus se koms wonderlik hier bymekaarbring.

Die preek begin goed. Enkele sinvolle inleidende opmerkings word gemaak oor die feit dat Jesus in Johannes evangelie dikwels iets leer deur misverstand. So byvoorbeeld dink die vrou by die put Jesus praat van gewone water terwyl Jesus van geestelike water praat. Hier in Johannes 3 praat Jesus oor geestelike geboorte, terwyl Nikodemus dag Jesus praat oor fisiese geboorte. Ek is heel opgewonde, vanoggend kan hier dalk iets gebeur...

Daar was nog een, volgens my, sinvolle aanhaling van iemand wat verwys na die feit dat ons dink ons is vry met al ons sosiale media, maar eintlik is ons meer vasgevang as ooit. Dit was dit. Hierna is my verwagtinge stadig maar seker tot poeier verpletter. Of daar ooit weer in die preek na Jesus verwys is kan ek nie heeltemal onthou nie, maar indien wel, net so terloops. Van Sy koms, onthou dit was Kersdag – niks. Toe ons almal nog dink dat hy gaan begin, toe eindig hy en maak verskoning teenoor die kinders dat die diens so lank was!

So wat het hy eintlik gesê? Hier is my beskeie poging om nadat ek alles gesif het, uit te kom by die kern van die preek. Johannes 3 gaan volgens die prediker oor vryheid. Nikodemus was nie vry nie, hy was deel van ‘n groep waar hy nie vry was nie. Daarom kom hy na Jesus. Hiermee kan ek nog saamgaan. Maar hoe word ek vry? Wat is wedergeboorte volgens die prediker? Wedergeboorte vind plaas wanneer jy deel word van ‘n groep/gemeente waar jy aanvaar word met al jou unieke andersheid. Dan is jy waarlik vry. 

As ek hom verkeerd verstaan het sou ek graag reggehelp wou word. Maar dit is maar wat my vrou ook gehoor het. My arme kinders het helaas niks gehoor nie!

Ek was, om dit lig te stel, ontstoke. Ek het gevoel ek is gekul, beroof. My hart was stukkend oor die honderde om my wat net mooi niks oor Jesus, Sy menswording en verlossing op hierdie heerlike dag gehoor het nie.

Nadat die prediker op ligter toon die kampgangers vermaan het om nie Bybelse vrae vir hom op die strand te vra nie aangesien hy wil ontspan, het ons almal soos skape ( wat geen groen gras gekry het nie) malende wegbeweeg na ons tente. Ek kan nie onthou dat ek iemand iets hoor sê het oor die feit dat daar geen Kersfees, geen Jesus, geen evangelie was nie. Ek het gewonder. Aanvaar almal dit maar? Sekerlik moet daar nog wees wat voel soos ek... 

Almal kan tog nie tevrede wees met ‘n Kersdiens sonder Jesus nie?

[Geskryf deur  dr. Jacobus de Koning van Pretoria]






Donderdag 07 Januarie 2016

‘N DOKSOLOGIE VIR DIE NUWE JAAR

- Sien God raak en begin Hom bewonder en prys!

Hoe moet ons ‘n nuwe jaar begin? Hoe moet ons na die toekoms kyk en waarop moet ons fokus?



Ons grootste probleem (nie net nou nie, maar oor die algemeen) is dat ons by onsself begin. Ons is so subjektief, so egosentries, so opgetrek met onsself. Selfs ook as ons hier in die kerk is, ja juis ook wanneer ons die Woord oopmaak of as ons bid is ons so dikwels gepreokkupeer met onsself. Hoe gaan my probleme opgelos word, hoe gaan my planne in werking gestel word, hoe gaan ek my hoogste ideale bereik? Hoe raak die droogte, Zuma en die swak Rand my sak? Weet jy, dis ‘n groot dwaasheid om op hierdie dinge te sit en broei! 

Hoe meer ek op my probleme fokus hoe groter word hulle. Jy sal weet, daar is probleme waarmee jy al jare worstel en jy kom niks verder nie. Jy bid miskien baie oor die probleme en dit help nie, al wat gebeur is jy herinner jouself net daaraan en dit maak jou dalk net meer depressief*. Of ons is geneig om altyd net planne te maak en uit te dink wat om onsself draai. Ook wat ons geestelike lewe betref, draai ons denke maar om onsself, my geloof, my getuienis, my rol in die kerk...Dit is natuurlik nie opsigself verkeerd nie, maar dis nie waar ons moet begin nie...

BEGIN BY GOD. WIE HY IS EN WAT HY DOEN!

Ons moet altyd by God begin. Dis waar die Bybel begin. "In die begin het God die hemel en aarde geskape." Dis waar Paulus ook sy brief aan die Romeine (en al sy ander briewe begin) By God... In sy aanhef tot die brief is hierdie klem al duidelik... “afgesonder vir die evangelie van God” (1:1) Moenie begin by jouself en jou behoeftes nie. Begin by God. Wie is Hy en wat het Hy gedoen en wat doen Hy nog steeds! Wees verwonderd oor God en jy sal uiteindelik ook verbaas wees oor die verskil wat Hy in jou lewe maak en hoe jou eie probleme al kleiner en minder belangrik raak!

HOE MEER EK GOD SE GROOTHEID EN GOEDHEID BESEF, HOE KLEINER KRIMP MY EIE PROBLEME!

Kom ons lees saam deur die Romeine brief en staan saam met Paulus verwonderd oor wat God doen... Sommer net so ‘n paar voorbeelde:

Dis God wat die evangelie geïnisieer en lankal deur die profete aangekondig het. “Van Paulus, ‘n dienaar van Christus Jesus, geroep om apostel te wees, afgesonder vir die evangelie van God. Hierdie evangelie het Hy vooruit deur sy profete in die Heilige Skrif aangekondig," (1:2)

God het julle lief en Hy skenk genade en vrede! “Aan almal in Rome vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort. Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!” (1:7)

In 1:16,17 raak Paulus lieries oor die evangelie , want dis die KRAG VAN GOD... Daarna egin hy met sy uiteensetting van die evangelie boodskap...

God stort sy heilige toorn (wraak) en regverdige oordeel uit oor die goddelose mensdom. “God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk.” (1:18)

Maar dis juis ook God wat ryk is in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! “God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?” (2:4)

En dan nadat Paulus die sondigheid van beide heiden en Jood onderstreep het, kom hy by die groot tema van die brief, God wat vryspraak gee deur die geloof in sy Seun. Vryspraak beteken dat God ons as skuldige sondaars onskuldig verklaar! “Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo.” (3:21,22) 

So bewerk God self vrede tussen ons en Hom. “God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.” (5:1)

SIEN JY, GOD SPEEL DIE HOOFROL? DIT GAAN OOR SY MAGTIGE DADE EN GROOT LIEFDE!

Ook as Paulus die probleem van ons swaarkry en verdrukking aanspreek dan fokus hy op God wat met alles ‘n doel en plan het. (vrygespreekte kinders van Good is immers soos ons al almal agtergekom het nie, gevrywaar van verdrukking en ellende nie) En dit bring ons by die verbysterende heerlike uitspraak van 8:28-30! “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.” Ons hele verlossing word van voor tot agter beplan en suksesvol voltooi deur God! En God gebruik alles, ja ook droogte, Zuma, siekte of ongelukke... om ons by sy heerlike doel met ons uit te bring!

Dan kan Paulus nie anders nie as om die heerlike gevolgtrekking in vers 8:31-39 te maak nie! (lees dit in jou eie Bybel weer ‘n slag aandagtig)

GEHEIMENIS

Maar Paulus is nog nie klaar gepraat oor God nie. Die volgende saak wat hy aanspreek is die hele kwessie van Israel. Mense sou kon wonder of God se plan met Israel misluk het, want hulle het Jesus dan verwerp. Paulus gebruik hierdie saak om die onbeskryflike wysheid van God en sy soewereiniteit en sy weergalose genade te onderstreep. God gee sy genade soewerein aan wie Hy wil! (9:15-16) Dan verduidelik Paulus dat alles deel van God se plan was. Deurdat Israel die evangelie verwerp het, het die heidennasies nou ook ‘n kans gekry om deel van God se volk te word. So sal al God se uitverkorenes uiteindelik gered word! Dis ‘n groot geheimenis! “Ons staan hier voor ‘n geheimenis, broers, en ek wil hê julle moet weet wat dit is, sodat julle nie te selfversekerd sal wees nie. Die verharding het oor ‘n deel van Israel gekom en duur totdat die volle getal uit die heidennasies in die koninkryk ingegaan het;” (11:25) Terloops, God se werkinge is ‘n geheimenis, en as jy ooit voel om God se planne en werkinge met jou te kritiseer, sit liewer jou vinger voor jou mond soos Job en swyg. Want wie kan God verstaan?

DOKSOLOGIE

En as Paulus so oor die grote God gepraat het, oor sy liefde en sy genade, oor sy heiligheid en sy oordele, oor sy ewige uitverkiesing en soewereiniteit, dan kan hy nie anders as om uit te bars in ‘n lofprysing (doksologie) nie!

“O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!

"Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad?

Wie bewys Hom ‘n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?"

Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen. (11:33-36)

Dit gaan oor een heerlike saak – GOD IS REGTIG GOD, ver verhewe bo ons begrip en verstand. Ons kan Hom nie analiseer,ontleed of "uit figure" nie! Ons kan Hom nie verstaan nie, maar kan maar net sy grootheid, wysheid, almag, genade... bewonder en Hom aanbid! Hy is God, Hy het ons nie nodig nie, ons het Hom nodig! Hy skuld ons niks nie, en tog is sy genade onbeskryflik groot!

O, vriende, so dikwels verval ons in die vermetele dwaasheid om vir God te wil reghelp en raadgee... is dit nie totaal simpel nie? Ons nietige mense wil vir die Skepper van die oneindige heelal, vertel wat Hy moet doen... Ons sondige wesens wil kritiek lewer op die regverdigheid van die liefdevolle God wat sy Seun vir ons geoffer het...

God is die bron van alles, alles begin by Hom! God is die bewerker van alles, Hy voer sy planne uit en daarom sal niks en niemand Hom stuit nie! God self, sy eie heerlikheid is die doel van alles. Dis so duidelik ook van toepassing op ons verlossing : God het ons eerste uitgekies en ons verlossing beplan en sy Seun gestuur as soenoffer, Hy maak deur die Heilige Gees die verlossing 'n werklikheid in ons lewe deurdat Hy vir ons geloof en bekering skenk. Hierdie verlossing dien alles tot die eer en verheerliking van sy Heilige Naam, ja alles tot Hom!

Mag ons as mense ons nederige plek ken. Mag ons bevry word van die verknegting aan onsself! Die heelal draai nie om my nie, maar om God. En tog hierdie grote God is my genadig deur Jesus! Hy spreek skuldige nietige mense vry en maak hulle sy eie kinders en erfgename sodat ons Hom, Abba, Vader mag noem!

Wat is dus die beste manier om 2016 mee te begin? Fokus op God en loof Hom. Begin met ‘n doksologie. Begin sommer elke dag van jou lewe so! AMEN!

*Natuurlik mag ons ons probleme voor die Here in gebed bring. (Vgl. Filippense 4:6), maar gebede wat altyd net in die eerste plek oor myself en my behoeftes gaan, is nie in lyn met God se wil nie. Soos ons in die ONSE VADER geleer word moet gebed in die eerste plek op God se eer en koninkryk fokus. Selfsugtige gebede sonder dank aan God wat net altyd op my probleme en behoeftes fokus gaan my inderdaad depressief maak.


Saterdag 02 Januarie 2016

KOERSVAS IN DIE NUWE JAAR

- nie los voornemens nie, maar ‘n duidelike roeping en rigting!



Die Bybel praat nêrens van nuwejaarsvoornemens nie (gelukkig nie), so jy hoef nie so sleg te voel as jy nie so iets het nie of hulle binne die eerste week al vergeet het nie.


Die Woord gee egter ‘n duidelike roeping en rigting waarvolgens die kind van God sy hele lewe en dus ook die jaar 2016 behoort in te rig. Die apostel Paulus is ‘n handboekvoorbeeld van iemand wat hierdie roeping en rigting ernstig opgeneem en konkreet uitgeleef het.

Twee voorbeelde uit sy lewe kom by mens op. Dit sal jou as kind van God dalk baie goed doen om dit so ‘n bietjie te herkou voordat die nuwe jaar op dreef kom en ons die gevaar loop om maar net weer deur die maalkolk van verpligtinge en gebeure meegesleur te word.

Die een voorbeeld kom uit Paulus se brief aan die Filippense. Dis brief wat hy uit die tronk skryf. Wat dit so merkwaardig maak is dat jy tevergeefs na pessimisme en selfbejammering in hierdie brief soek. Inteendeel, gaan lees bietjie die kort briefie en kyk hoeveel keer kom die woord blydskap daarin voor... Hoe kry Paulus dit reg? Hy het geleef volgens ‘n duidelik doelwit en roeping sedert sy ontmoeting met Jesus op pad na Damaskus. Al sy vorige bates het vir hom onbelangrik en niksseggend geword en nou het hy een fokuspunt en ideaal : JESUS CHRISTUS!

Kyk hoe treffend stel hy dit: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.” (Filippense 3:10,11 NAB) 

Sy lewe draai om Christus (dit sê hy reeds in hoofstuk 1) tot so ‘n mate dat hy homself ten volle met Christus vereenselwig tot op die punt om ook in Jesus se lyding te deel. “Kom wat wil, ek wil net Jesus en sy krag beter leer ken en ondervind!”

Hierdie roeping van Paulus en die lewensrigting waarvoor hy gekies het, was nie maar net ‘n stuk filosofie op papier nie, maar was bepalend vir sy praktiese besluite en keuses. 

Ons kry ‘n pragtige voorbeeld hiervan in Handelinge 20. Paulus is besig met sy terugreis na Jerusalem na die voltooiing van sy derde sendingreis. Hy neem nou afskeid van die ouderlinge van Efese in ‘n aangrypende rede. Op hierdie stadium was dit duidelik dat groot moeilikheid en vervolging op Paulus in Jerusalem sou wag, soos dit inderdaad ook gebeur het. Paulus sê onder andere:

“En kyk, ek gaan nou gebind deur die Gees na Jerusalem; en watter dinge my daar sal oorkom, weet ek nie, behalwe dat die Heilige Gees in elke stad kragtig getuig en sê dat boeie en verdrukkinge my wag. 
Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap* my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God.” (Handelinge 20:22-24 OAV)

Een ding tel vir Paulus en dis om sy bediening wat hy van Jesus ontvang het te volvoer. In die lig van dreigende gevaar gaan sit hy nie op ‘n hopie en kou angsbevange sy naels nie... Nee, een visie oorheers sy hele lewe, die opdrag wat Jesus hom gegee het, om te getuig vir die evangelie van God se genade. Hierdie roeping vervul hy met BLYDSKAP! Wat verder met hom gebeur is ‘n bysaak... Dit wou hy voluit doen sonder vrees. Hoekom moes hy vrees? As hy lewe beteken dit vrugbare arbeid en as hy dan wel moet sterwe, dan is dit net wins, want dan is hy waar hy volkome gelukkig kan wees, vir altyd by Jesus!

Elkeen wat genade ontvang het, is geroep om 'n getuie te wees van hierdie genade, maak nie saak op watse manier nie!

Uit al twee voorbeelde is dit duidelik dat 'n koersvaste roepingsbewustheid, gepaard gaan met vreugde en blydskap, ongeag die omstandighede!

KOERSVAS MET VREUGDE!

Ek dink dis geweldige bevrydend om hierdie lewensbeskouing te hê en opnuut ons aan die begin van hierdie jaar daartoe te verbind en onsself gedurig weer hiertoe op te skerp...

Mag ek jou ‘n koersvaste 2016 toewens, gekenmerk deur ‘n duidelik roeping en rigting... wat ook al met ons verder sou gebeur, sal ons Here ons voor krag gee...



* volgens Bisantynse teks