- God se almag en soewereiniteit word vertoon deur Jesus.
Die sin van ons bestaan is om God te dank, aanbid en te bewonder. Ons kan dit net doen as ons sy heerlikheid raaksien. Een faset van God se heerlikheid waarvoor ons Hom moet bewonder is sy ALMAG! Iets van God se almag kan in die natuur gesien word. Psalm 29 herinner ons : “Dit is die magtige God wat die weer laat dreun........ die stem van die Here is vol majesteit.....dit stroop die bosse kaal. In sy paleis roep almal uit : Hoe geweldig!” (Psalm 29:3) Die almagsbewyse van God in die natuur is ‘n algemene tema in die Psalms! Vuur en hael, sneeu en damp, stormwind, wolke en weerligstrale gehoorsaam sy opdragte! (Psalm 135:5-7; 148:7,8)
Ons het gesien dat Jesus God se heerlikheid vir ons wys. (Kliek op JESUS WYS GOD) Die eienskap/attribuut van God se almag word ook deur Jesus vertoon. Daarom is dit nie verbasend dat toe Christus in die wêreld gekom het, die hele natuur voor sy gesag gebuig het nie. Die doel van sy wonders was om sy Goddelike identiteit te openbaar! Hy beveel die wind en die see en hulle gehoorsaam. "Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: "Hou op! Bedaar!" Die wind het gaan lê en daar het ‘n groot stilte gekom. Toe sê Hy vir hulle: "Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?"Hulle is met groot ontsag vervul en het vir mekaar gesê: "Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?" (Markus 4:39-41) Dis baie veelseggend, want die Jode wat ‘n nie seevarende volk was, was maar baie bang vir die see!
WATER
Water is een van die belangrikste elemente in die natuur en juis water moet maak soos Jesus wil – teen die natuurlike wette. Op sy bevel het dit “solied’ geword onder sy voete en het Hy daarop geloop. Toe sy dissipels dit sien het hulle voor Hom “gekniel” en verklaar: “U is waarlik die Seun van God.” (Matt 14:33) ’n Ander keer by die bruilof te Kana het Hy die water beveel en dit het wyn geword. Daardeur, meld Johannes “het Hy sy mag laat blyk, en sy dissipels het tot geloof in Hom gekom.” (Joh 2:11) Wind en water doen wat Jesus hulle ook al beveel. Word stil, word vas, word wyn.* Die natuurwette is deur Christus vasgelê en word ook op sy bevel verander. Goddelike almag in aksie! God is nie gebonde aan natuurwette nie en kan dit wysig en gebruik soos Hy wil.
Maar dis nie al nie...Oor sterftes en siektes. Oor vis, voedsel, vye bome... bewys Jesus sy Goddelike almag. Noem maar op, Jesus is die absolute heerser oor alle bestaanswerklikheid! Met ’n woord roep Hy dooies op tot die lewe. Die gesagswoord van die Lewegewer : “Lasarus, kom uit!” (Joh 11:43) Jesus bring 'n begrafnisstoet tot stilstand. Hy stop die dood in sy spore, as hy die weduwee se gestorwe seun aanspreek : “Jongman, Ek sê vir jou, staan op!” (Lukas 7:14) Dis heerlike Goddelike almag! 'n Dooie dogtertjie hoor : “Talita koemi” ,wat beteken : “dogtertjie....staan op! (Markus 5:41) Hy het die koors bestraf en onmiddellik het dit Petrus se skoonmoeder verlaat. (Lukas 4:39) Sy Goddelike almag omvat ontsettende detail. Hy het dit so bewerk dat ’n bepaalde vis ’n muntstuk sou insluk en aan Petrus se hoek gevang word. (Matt 17:27) ‘n Goddelike almag vol goedheid en medelye. Hy het met vyf brode vyfduisend gevoed. (Matt 14:19-21) ‘n Goddelike almag wat ook nie skroom om te oordeel nie. Hy het ’n vyeboom laat verdroog deur ’n vloek uit te spreek. (Markus 11:21)
Die Goddelike almag soos vertoon deur Jesus is allesomvattend en volledig. Die bestanddele van alle dinge is nie slegs deur Christus geskep nie (Joh 1:3; Kol 1:16) maar dit word ook oomblik vir oomblik deur Hom in stand gehou in die ganse heelal deur sy wil. “Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand.” (Hebr 1:3) “deur Hom bly alles in stand” (Kol 1:17) Sou iets vir Hom dan onmoontlik kon wees?
SOEWEREINE ALMAG
Saam met almag gaan ook soewereiniteit. God is van niemand afhanklik nie, Hy doen wat Hy wil, soos Hy wil en wanneer Hy wil! Niemand kan Hom voorskryf of dwing nie – God is waarlik in die volle sin van die woord – KONING. En dis hierdie koningskap wat ons in Jesus sien. Hy genees soos en wie Hy wil. Die verhaal van Lasarus illustreer dit so duidelik. - “Kon Hy wat die oë van die blinde man genees het, nie ook gemaak het dat hierdie man nie sterwe nie?” (Joh 11:37) Natuurlik, die antwoord op daardie vraag is, ja. Inteendeel, Jesus se tydsberekening was daarop gemik sodat sy vriend sou sterf. ‘n Doelbewuste beplande vertraging. Hy het vir twee dae gewag en gesê: “Lasarus is dood en om julle ontwil is Ek bly dat Ek nie daar was nie sodat julle in My kan glo.” Jesus kan deur niks onkant gevang word nie, ook nie deur die dood nie. Jesus het immers self die finale sê oor lewe en dood! : "Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste,die Lewende. Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid; en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk.” (Openb. 1:17,18)
Sy soewereine almag kom seker die duidelikste na vore as dit kom by die redding van sondaars. Hy red wie Hy wil. “Soos die Vader die dooies opwek en lewend maak, so maak die Seun ook lewend wie Hy wil." (Joh 5:21) Jesus is die sterkste! Aan Hom is alle mag in hemel en aarde gegee. En hierdie mag word spesifiek genoem in die konteks van die redding van sondaars! Goeie nuus. “U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee.” (Joh 17:2; ook Matt 28:18) Dis hierdie mag wat Saggeus die gierige skelm uit ‘n boom gaan haal en van hom ‘n kind van Abram gemaak het, dis hierdie mag wat die selfversekerde vyand van die kerk, Paulus in sy spore gestop het en hom tot apostel geroep het!
Inderdaad, sonder die almag van God sal mense nooit gered kan word nie! Die hartseer verhaal van die Ryk jongman in Markus 10 onderstreep dit baie goed. “En hulle was uitermate verslae en het vir mekaar gesê: Wie kan dan gered word? Maar Jesus het hulle aangekyk en geantwoord: By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie; want by God is alle dinge moontlik.” (Markus 10:26,27) Die almag van God word vir ons heerlik gedemonstreer as Hy deur Jesus mense nuut maak – nuwe skeppings! (2 Korintiërs 5:17) Eendag sal die hele skepping weer nuut gemaak word (Rom 8) en sal ons as nuutgemaakte mense dit vir ewig bewoon en God daarvoor loof en prys!
Het sy genadige almag jou al nuut gemaak? Hierdie almagtige God kan ons maar vertrou, ons kan by Hom skuil, ons kan Hom maar net aanbid en bewonder! Dis so heerlik om te weet, ons aanbid nie 'n swakkeling nie, maar die ALMAGTIGE GOD!
*John Piper. Vir die hele gedeelte is daar swaar (ook woordeliks) geleun op sy SEEING AND SAVORING JESUS CHRIST.