BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 27 September 2022

ONREG EN KORRUPSIE

- sou God dit in sy diens tot sy eer kon gebruik?


God se opregte kinders ervaar dikwels onreg. Ons ly onder die gevolge van ander mense se sonde, blatante bedrog en skrikwekkende korrupsie. (Dink nou maar sommer aan die ellendes wat die ESKOM korrupsie veroorsaak!) Dan is daar natuurlik ook nog rampe en ongelukke wat ons diep kan raak. In sulke tye voel dit vir ons so maklik - "Ek kry onregverdiglik swaar!" Dit maak ons moedeloos, depressief en soms ook opstandig teen God. "Here, hoe kan U dit toelaat? Waar is U? Sien U nie die onreg raak nie? Here, het U van my vergeet?"

Ek wil jou herinner aan die veelbewoë geskiedenis van twee Bybelfigure. Josef in die Ou Tstament en Paulus in die Nuwe Testament. Dis nou twee persone wat met reg sou kon vra – “Here, waar is U, het U van my vergeet?”

JOSEF

Ons ken die geskiedenis van Josef. Hy was die dromer, hy was ook die witbroodjie van sy pa. Sy broers doen ‘n vreeslike sonde en verkoop hom as ‘n slaaf in Egipte. Onregverdig! Hy word aangestel in die huis van Potifar. Hy is ‘n getroue en betroubare slaaf. Hy doen als wat reg is. Potifar se vrou probeer hom verlei. Josef weier, want hy weet dis sonde teen God. Hy doen die regte ding. Maar wat gebeur? Potifar se vrou beskuldig hom valslik en hy word in die tronk gegooi. Onregverdig! Hy lê die bakker en skinker se drome reg uit. 'n Goeie daad aan sy naaste. Dit bring eer aan die ware God. Maar wat is die gevolg? Skynbaar niks. Die skinker vergeet van Josef en nog twee jaar moet Josef as onskuldige persoon sy lewe in ‘n Egiptiese tronk slyt. Onregverdig! Toe droom Farao ook en die res is geskiedenis… 

Josef word onderkoning van Egipte en red so ook die lewens van sy familie en dus die volk Israel. Hoe sien Josef sy eie geskiedenis? Na sy pa, Jakob se dood was die broers bekommerd dat Josef uiteindelik sou wraak neem, maar Josef stel hulle gerus. “Moenie bang wees nie, want is ek in God se plek? Julle het kwaad teen my beplan, maar God het dit vir iets goeds in gedagte gehad, met die doel om te doen wat vandag gebeur – om ‘n groot volk aan die lewe te hou.” (Genesis 50:19,20) Ja, Josef se broers doen sonde, Josef ly onreg as gevolg van hulle sonde, maar God het ‘n wonderlike plan daarmee gehad – om sy volk Israel te spaar! In al die tye wat Josef so onregverdig gely het, het God nie vir Josef vergeet nie, maar het God ‘n groter heerliker doel gehad. God was deurgaans met Josef, al het dit dalk nie so gelyk nie. (Genesis 39:2,23)

PAULUS

Ons ken ook die geskiedenis van Paulus. Hy was ‘n vyand van die evangelie, maar Jesus gryp in sy lewe in op pad na Damaskus. Die Here het toe vir Annanias na Paulus gestuur met die woorde : “Gaan, want Ek het hom uitgekies as instrument om my Naam uit te dra na nasies en na konings en na Israel. Ek sal boonop aan hom toon hoeveel hy ter wille van my Naam moet ly.” (Handelinge 9:15,16)  Let op - LYDING is deel van God se "wonderlike plan" met Paulus se lewe! En dis presies wat met Paulus se lewe gebeur het… dink aan die baie ontberings, gevangenskappe en martelings wat hy moes verduur. Uiteindelik het God dit so beskik dat hy tot in Rome voor die keiser moes gaan getuig. Maar hoe het dit gebeur? Hy is onskuldig gevang in Jerusalem. Na sy verhoor deur die Joodse raad het die Here Jesus self Paulus kom bemoedig.  Daardie nag het die Here by Paulus kom staan en gesê : "Hou moed! Want net soos jy in Jerusalem oor My getuig het, so moet jy ook in Rome getuig." (Handelinge 23:11) 

Dit was God se plan vir hom – getuienis in Rome! Toe volg daar een onregverdige verhoor na die ander… niemand kon hom skuldig bevind nie, maar hy word ook nie vrygelaat nie. Beide Feliks en Festus wou die Jode se guns soek en het Paulus onregmatig onder arres gehou. Daar was omkoopgeld betrokke! Onregverdig! Uiteindelik moes Paulus noodgedwonge appelleer na die keiser en Festus het dit toegestaan. 

Sien jy – God gebruik onreg en korrupsie om te sorg dat Paulus voor die keiser kon getuig! 

Maar dit was nog nie die einde van die storie nie – op pad na Rome beland die skip waarmee Paulus gereis het in ‘n woeste storm – dit lyk of die einde gaan kom. Wat gebeur? Die Here stuur 'n engel na Paulus om Hom te verseker dat God se plan dat hy in Rome moet getuig steeds op koers is!  Hy vertel die vreesbevange mense in die skio daarvan. Verlede nag het 'n engel van die God aan wie ek behoort en vir wie ek dien, by my kom staan en gesê, "Moenie bang wees nie, Paulus, jy moet nog voor die keiser verskyn. Kyk, God het in sy genade die behoud van almal wat saam met jou vaar, aan jou geskenk." (Handelinge 27:23-24!) Niks kan God se planne dwarsboom of keer nie! God se weë is onbegryplik vir ons, maar God weet wat Hy doen. Ek en jy kan Hom vertrou!

GOD SE VOORSIENIGHEID

Ons kan natuurlik baie leer uit God se werksaamheid in beide Josef en Paulus se lewens.

Ek wil net een groot saak uitlig – GOD SE VOORSIENIGHEID. Beide se lewens en ook spesifiek die onreg wat hulle gely het is ‘n illustrasie van God se voorsienigheid. Kyk hoe die NGB dit opsom Artikel 13 DIE VOORSIENIGHEID VAN GOD. (Sien hieronder ook die HK Sondag 10)*

Ons glo dat die goeie God, nadat Hy alle dinge geskep het, dit nie laat vaar of aan die toeval of geluk oorgegee het nie, maar dit volgens sy heilige wil so bestuur en regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie. Tog is God nie die bewerker van die sondes wat gedoen word nie, en dra Hy ook nie die skuld daarvoor nie. (Dis nie God se sonde wat maak dat Josef verkoop word as slaaf of dat Paulus onregverdig aangehou word nie, maar Hy gebruik dit!)

Sy mag en goedheid is immers so groot en onbegryplik dat Hy sy werk baie goed en regverdig beskik en uitvoer, selfs al handel die duiwels en goddelose mense onregverdig. (Soos Josef se broers, soos Feliks en Festus...) Ons wil ook nie verder as wat ons kan verstaan, nuuskierig ondersoek instel na dié dinge wat Hy bo die vermoë van die menslike verstand doen nie; inteendeel, ons eerbiedig juis in alle nederigheid en in aanbidding die regverdige oordele van God wat vir ons verborge is. Ons is tevrede daarmee dat ons leerlinge van Christus is om slegs te leer ken wat Hy in sy Woord openbaar, sonder om die grense daarvan te oorskry. Hierdie leer bied onuitspreeklike troos as ons daardeur geleer word dat niks per toeval oor ons kan kom nie maar alles deur die beskikking van ons hemelse Vader oor ons kom. Hy waak oor ons met vaderlike sorg en heers so oor alle skepsels dat sonder die wil van ons Vader nie een haar van ons kop - hulle is almal getel - en ook nie een mossie op die aarde kan val nie. (Matt. 10:29-30). 

Ons verlaat ons hierop, omdat ons weet dat Hy die duiwel en ons vyande in toom hou, sodat hulle ons sonder sy toelating en wil geen skade kan aandoen nie. Daarom verwerp ons ook die gruwelike dwaling van die Epikureërs, wat sê dat God Hom met niks bemoei nie en alle dinge aan die toeval oorlaat. 

DIE GROOTSTE ONREG

Beleef jy onreg? Moenie moed verloor of in opstand kom nie. Glo in God se voorsienigheid. Hy is met jou juis ook in daardie donker onverstaanbare tye. Hy sal sy doel met jou bereik! En dis altyd 'n saak van blydskap, al huil ons nou. Vertrou Hom. Dis hoe God werk. Van die heel grootste onreg het ons nog nie eers gepraat nie. En wat was dit? Jesus se kruisiging. Pilatus kon Jesus op geen regsgronde of bewyse skuldig bevind nie, maar lewer hom tog oor aan die Jode. Veroordeling van die enigste Onskuldige op aarde!  Korrupsie! Onreg! Maar juis deur Jesus se kruisiging het God finaal bewys dat Hy onreg in sy diens kan gebruik om die grootste en heerlikste triomf te behaal. Juis daarom het ons hoop en kan ons God blindelings vertrou!

* Heidelbergse Kategismus

Sondag 10 - VRAAG EN ANTWOORD: 27

Vraag: Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?

Antwoord: Die almagtige en oralteenwoordige krag van God1 waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte,  vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom. 



Sondag:10 - VRAAG EN ANTWOORD: 28

Vraag: Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?

Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader  kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie, aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie.