BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Hebsug. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Hebsug. Wys alle plasings

Donderdag 14 Junie 2018

“GESEËNDE” DWAAS


- vol skure en reuse bankbalans, maar vir ewig bankrot! 



“Kyk net hoe geseënd is hy, hy het al weer sy besigheid uitgebrei, al weer ‘n nuwe motor gekoop, nog ‘n luukse eiendom by Langstrand, Kampsbaai of Clifton... Die Here is baie goed vir hom...” Dis hoe mense praat en dink. Die harde realiteit is dat hierdie sogenaamde geseëndes egter dikwels op pad is na die verderf. Hierdie “seëninge” is baie keer net ‘n mooi woord vir hebsug en gierigheid. 

Hebsug is die hoofpad na die hel! 

Gierigheid is die groot gevaar wat lei na die ewige vuur! Dis juis so gevaarlik omdat ons dit nie as ‘n sogenaamde groot sonde soos egbreuk of moord sien nie. Tog is dit een van die sake waaroor Jesus die meeste teen gewaarsku het. Waarom is gierigheid of hebsug so subtiel gevaarlik en vernietigend? Ons kry hier in LUKAS 12:13-21 (die gelykenis van die ryk dwaas) ‘n paar belangrike insigte oor die gruwel van gierigheid en hebsug. 

DIE VROOM GESIG VAN HEBSUG. 

“En een van die skare sê vir Hom: Meester, sê vir my broer dat hy die erfenis met my moet deel.” (13) Ai, tog hoe respekvol, vroom en eerbiedig klink dit! Hierdie man vra raad by Jesus. Maar luister mooi, hy roep Jesus se hulp in ter wille van sy hebsug. Nie om van sy hebsug bevry te word nie, maar om dit te bevorder. Dis tipies van baie godsdienstige mense. Hulle misbruik Jesus om hulle eie belange te bevorder. Die Here moet my nou help, want ek het nog nie genoeg nie... Natuurlik het Jesus Hom nie laat vang nie en gebruik hierdie versoek nou as aanknopingspunt om te wys op die gevaar van gierigheid/hebsug. 

DIE MISVERSTAND VAN HEBSUG. 

Die saak waaroor Jesus nou wil praat raak almal, nie net die vraagsteller nie. Hy rig Hom tot die skare met hierdie diepsinnige waarheidstelling: "Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie." (15) Jesus waarsku teen hebsug/gierigheid/liefde vir geld. Die lewe vind sy sin en betekenis nie in die omvang van mens se besittings nie! Sukses is nie gelyk aan besit nie! (al dink die meeste mense so) Die volheid van die lewe kan nie gemeet word in terme van aardse bates nie. Dis die groot misverstand van hebsug. Kom ons kyk bietjie na die konteks van Jesus se woorde. Die werk van Jesus in Palestina op daardie stadium was juis gerig op die lewe. Hy het baie wonders gedoen en verleng mense se lewe deur die genesing van siekes ens. Maar dit beteken nie dat lewe as sodanig alles is nie. Dit kom daarop neer dat mense nie moet dink as hulle nou gesondheid ontvang het dat hulle nou alles het nie. “Ek is nou weer pure perd, nou kan ek gaan geld maak!” “Nee”, wil Jesus sê, “julle lewe word verleng dat julle by God kan uitkom en Hom kan ken.” 

Die sin en inhoud van lewe, lê nie in gesondheid en besit nie, nie in materieel meetbare suksesse nie, maar in ons deelwees van God se Koninkryk. 

Dis die groot punt wat Jesus in die gelykenis maak. Dis baie duidelik dat die ryk man nêrens in die verhaal berispe word oor sy rykdom as sodanig nie. Daar is ook geen sprake van oneerlikheid nie. Hy was nie skelm nie, hy was hardwerkend, maar hy het die doel van die lewe gemis! Hy het God gemis! 

DIE VERSKONINGS VIR HEBSUG. 

Hierdie man was volgens alle sigbare aanduidings ‘n geseënde van die Here. Dit lyk asof alles in sy guns was... Goeie grond en sekerlik goeie reën! Hy sou eerlik kon sê: “Die Here seën my so wonderlik! Kyk die goeie talente wat Hy my gegee het om so suksesvol te boer, dis die Here wat my seën met grond, reën en goeie oeste . Ek kan net nie anders nie, ek moet net groter gaan en uitbrei, uitbrei...” Ons steek hebsug weg onder baie vroom praatjies – “Ag, dis die Here wat so goed is vir my, ek moet mos vir my vrou en kinders sorg.” Ja, dis so, maar dis baie keer net ‘n verskoning om meer en meer in te palm. Sorg jy ook geestelik vir jou vrou en kinders? Sorg jy nou so “goed” vir jou vrou en kinders dat hulle en jy nie meer tyd het om by die kerk, huisgodsdiens en gebed uit te kom nie? 

DIE BANKROTSKAP EN ELLENDE VAN HEBSUG. 

Hebsug laat jou eindig met niks. Dis die bitter skokkende ironie. Baie mense wat als het, het eintlik niks. Hulle is so arm hulle het net geld! Hierdie man het baie skatte gehad, maar hy gaan die ewigheid tegemoet sonder enige bates, sonder enige hoop! Hy het groot skure op aarde ja, maar het hy ‘n hemelse tuiste? Baie het hom dalk sy rykdom beny, maar eintlik moes hulle hom bejammer het! Hebsug is die verkeerde en gevaarlike opsie in die lig van die eindtyd. Jakobus spel die gevaar konkreet uit : “En nou, julle rykaards, kerm en kla oor al die swaar wat oor julle gaan kom. Julle rykdom sal tot niet gaan en julle klere sal deur motte opgevreet word, julle goud en silwer sal verroes. Die roes sal teen julle getuig en aan julle vreet soos ‘n vuur. Julle maak skatte bymekaar, en dit terwyl dit die laaste dae is.” (Jakobus 5:1-3) Dis nie woorde wat ons graag wil hoor nie, maar God het besluit dat ons dit moet hoor en gewaarsku moet wees... 

GOD SE BEOORDELING VAN HEBSUG. 

Hierdie man voel baie tevrede met homself. Sy aftreeplanne is in plek. Hy kan gaan op vervroegde pensioen. Hy hoef nie meer te werk nie; hy kan nou sonder sorge gholf speel en na Thailand toer! Maar wat is God se opinie? “Dan sal ek vir myself sê: ‘Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.’ Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?’” (19,20) Skokkend! God self noem hierdie slim, vlytige, flukse en vooruitstrewende entrepreneur, ‘n dwaas! God kyk so anders as ons. God se beoordeling van ‘n suksesvolle gierigaard verskil hemelsbreed van mense se siening. Die wêreld en sy vriende sê : “Kyk wat ‘n sukses!” Die prosperity gospel aanhangers mymer baie vroom : “Kyk hoe geseënd!” God sê: “Kyk wat ‘n dwase mislukking!” Mense het hom dalk geprys, maar God beskou hom as ‘n swaap! Daar was dalk pragtige huldeblyke by sy begrafnis, maar God se opinie is dat hy ‘n pateet was. Wat gaan God oor ons lewe sê, as jy of ek vannag sou sterf? Hebsug het van hierdie man ‘n dwaas gemaak. Hebsug is ‘n skrikwekkende sonde, dit laat ons ons ware doel op aarde mis. En vir ewig...

DIE LEWE!

En wat is dan die ware sin van ons bestaan en ons eintlike doel? Wat is LEWE? Om na te jaag om God te ken! Om Hom te eer en Hom te geniet vir altyd! As my hoof ambisie en lewensdoel word om geld en besittings bymekaar te maak dan verloor ek visie op my eintlike doel om God te leer ken. Ook op ‘n praktiese vlak verhinder hebsug kennis van God. Ons bestee soveel tyd om ons onversadigbare dors na besittings te bevredig, dat ons nie tyd het om God se aangesig te soek nie. Hebsug maak ook dat ons nie lus het vir God nie. Al die mooi en blink dinge, bring ‘n skyn versadiging, dis eintlik net ‘n aptyt bederwer vir die ware voedsel, en dis om God te ken en sy wil te doen. 

Hierdie gelykenis stel ons voor ‘n vraag. Die eintlike vraag is nie vandag hoeveel geld jy het nie, die vraag is : Is jy ryk by God? Ken jy Hom? Is jy geseënd met die ewige lewe? Is dit dalk juis hebsug en gierigheid wat keer dat jy Hom ken? Gelukkig is daar ook vergifnis vir hebsug! Wees ryk by God, leef vir Hom deur Jesus te volg!




Vrydag 03 Februarie 2017

JY KAN GOD NIE MANIPULEER NIE,

want God is anders as die afgode!

God is anders as die afgode! “Wel”, sal iemand miskien sê, “dis seker nie nodig om dit vir ons te vertel nie, ek bedoel wie weet dit nou nie?” Die waarheid is dat baie van ons dit nie weet nie, miskien teoreties, maar ons praktiese houding teenoor God wys dat ons oor Hom dink asof hy maar net nog 'n afgod is. Dat Israel dikwels hierdie verkeerde denke oor God gehuldig het is baie duidelik, ook uit 1 Samuel 4 :1-11. Die ongehoorsame Israeliete wat gedink het hulle kon God dwing om hulle teen die Filistyne te help as hulle die verbondsark saamneem na die slagveld toe... As ons 'n bietjie oor die saak nadink kom 'n mens tot die skokkende besef dat 'n baie groot persentasie van mense wat hulleself as Christene beskryf dieselfde foute begaan. 



Mense (ook binne in die kerk) dink oor God en hanteer Hom asof Hy maar net nog een van die afgode is. 



Die grootste dowwe kol in die kerk se denke is 'n verkeerde en gebrekkige Godsbegrip. Ons besef nie wie is die God met wie ons te make het nie. God word verwar met die afgode al word Hy by die regte naam genoem. Dit kom eintlik daarop neer dat ons vir onsself ‘n “god” gemaak het wat by ons behoeftes pas.

Om die verskil tussen die lewende God en die afgode duidelik te onderstreep is dit nodig om te vra : Hoe lyk die afgode? In watter opsigte is God anders as die afgode?

WIE EN WAT IS DIE AFGODE?

Afgode is menslike skeppings wat voortkom uit menslike gedagtes. In sommige gevalle word hulle fisies deur mense voorgestel of gemaak.

Omdat die afgode menslike skeppings is, is hulle vreeslik mens en sonde vriendelik. Die afgode het baie ruimte vir sonde... Dis lekker gode soos byv. die Kanaäniete se vrugbaarheidsgodsdiens wat gepaard gaan met allerhande losbandigheid en uitspattigheid wat goed aangepas is by die mens se sondige begeertes. Dink maar net ook aan die Griekse gode en godinne se losbandige eskapades!

Afgodery is eintlik maar duiwelsdiens en Satan se doel hiermee is om die mens te vernietig. Die afgode vra 'n ontsaglike prys en is baie wreed. Afgodsdiens behels dikwels selfkastyding of selfpyniging (dink aan hoe die Baälpriesters hulleself stukkend gekerf het op Karmelberg) en eis selfs kinderoffers en natuurlik lei dit tot die ewige verdoemenis. (maar dit besef die misleides natuurlik nie) Hierdie vernietigende aspekte is natuurlik net so waar van die moderne afgode dink maar byv. aan die gevolge van hebsug/gierigheid. (dit word pertinent afgodery genoem in Efesiërs 5:5)

Baie belangrik – die afgode is manipuleerbaar sodat hulle tot voordeel van die mens optree. Hierdie manipulasie vind plaas deur die regte rituele en formules. Die afgode is nie so gesteld op die hartsgesindheid nie, solank die regte offers, woorde, rites en voorskrifte gevolg word doen die afgode wat ons wil hê : gee reën en oeste, help met liefdesprobleme en vrugbaarheid, sukses en rykdom...

Die afgode staan dus eintlik in diens van die mens wat hulle gemaak het. Daarom is afgode hoofsaaklik etnies gebonde. Dagon is ons Filistyne se god, hy tree in ons belang op. Baäl is weer die van die Kanaäniete ens. (En mens wonder sommer, het baie van ons Afrikaners nie al probeer om God te reduseer tot 'n "god" wat altyd aan die Afrikaner se kant is nie??)

Omdat afgode eintlik maar net 'n menslike skepping is, is hulle beperk en in ‘n sekere sin van mense afhanklik. Mense bring kos vir hulle en verskaf woonplek. (tempels) 

Israel se optrede in hierdie krisis tyd wys baie duidelik dat hulle oor die lewende God dink in terme van hierdie afgodsdenke. Wat gebeur hier? 

God het besluit om Sy volk te straf. Hy gebruik die Filistyne as instrument in sy hand. Die volk word daarom verslaan deur die Filistyne, soos Hy dit bekend gemaak het aan Samuel. Hulle besef dit, maar nou maak hulle wat hulle dink ‘n slim plan is.... “Toe die manskappe van Israel in die laer kom, het die leiers gesê: "Waarom het die Here ons vandag voor die Filistyne laat vlug? Kom ons gaan haal die verbondsark van die Here uit Silo na ons toe dat dit by ons kan wees om ons te red uit die greep van ons vyande." (1 Sam 4:3) Hulle redenasie is duidelik die van afgodsdienaars...”wag 'n bietjie ons gaan hierdie Filistyne 'n ding wys, God gaan vir ons veg en ons gaan seker maak dat Hy aan ons kant is. Gaan haal die ark, waar die ark is sal Hy mos wees en dan sal Hy aan ons laat wen!”

Israel dink hulle kan God dwing en manipuleer om in hulle belang te veg!

GOD IS (HEERLIK) ANDERS!

In skrille maar ook heerlike kontras staan die Lewende God teenoor die afgode. Hy is waarlik God, van ewigheid af. Kom ons stip net 'n paar aspekte aan wat hoofsaaklik uit hierdie stuk geskiedenis in 1 Samuel na vore kom :

God is nie deur mense gemaak nie, trouens Hy self en Hy alleen is die Skepper van die mens en alles wat bestaan. Hy openbaar Homself aan wie Hy wil. Hy slaan die priester Eli oor en maak Homself aan die jong seun Samuel bekend. Hy het geen beperkings nie. Hy is die Almagtige. Daarom het God het Israel nie nodig nie en is Hy van geen mens en geen priester afhanklik nie. Terloops, Hy benodig ook nie offers as ‘n lewensmiddel nie, want buitendien al die vee behoort aan Hom. Hy is ook nie verleë oor die tempel as 'n woonplek nie. Salomo* het dit duidelik geweet. Hy handhaaf Homself. Dit wat in Dagon se tempel gebeur het (lees 1 Samuel 5:1-5), bewys dat Hy nie verslaan is nie, maar dat Hy selfs heerskappy voer in die tempel en land van Sy vyande. Hy tree nie op ter wille van mense as sodanig nie, Hy tree op ter wille van Sy Naam en sy eer.

Die ware God dien nie die mens nie, mense is veronderstel om Hom te dien volgens Sy voorskrifte. Hy kan nie gemanipuleer word nie en Hy laat Hom nie misbruik nie. Israel se poging misluk jammerlik en dit lei tot 'n ramp... Daar was 'n groot slagting, hulle moes vlug en die ark is deur die vyand buit gemaak. God se arm kan nie gedraai word nie. Ons afkoms of bepaalde gebruike en rituele veroorsaak nie dat Hy outomaties aan ons kant is nie.** 

Die Heilige God, moet aanbid word volgens Sy voorskrifte, en met eerbied. Hy self bepaal die voorwaardes en manier van aanbidding. Dit moes die mense van Bet Semes op 'n harde manier uitvind toe hulle die ark met sy terugkoms in Israel onwettig bekyk het. (1 Samuel 6:19).*** 

Hoe tree mense vandag teen God op? By nadere ondersoek blyk dit baie dink aan God en oor God asof Hy eintlik maar net nog 'n afgod in ons diens is. Ons ontwerp 'n “god” in ons gedagtes wat by ons behoeftes pas. Ons laat Hom in ons lewens toe in soverre ons dink Hy vir ons nuttig kan wees.

Ons betrek God by ons planne i.p.v. in te val by Sy wil en planne. Dikwels is hierdie planne direk teen Sy geopenbaarde wil. Dink aan skelm besigheidstransaksies, huwelike met ongelowiges en projekte wat net op ons eie eer ingestel is en dan het ons die arrogante vermetelheid om Hom te vra dat hy dit sal seën. 

Ons maak God ook klein in ons denke. Al meer mense twyfel oor Sy almag en soewereiniteit. Mense praat en dink asof God nie volmaak in beheer is nie. Party mense betwyfel God se almag deur in vrees vir die duiwel te leef... 

Daar is al hoe meer 'n terugkeer na ritualisme. Die dwase mens dink God kan tevrede gestel word deur die regte rituele en formules! Vir sommiges is die doop of belydenisaflegging so ‘n formule wat saligheid en sukses verseker. 

Ons verlaag God tot afgodsstatus deur sy seën en hulp net by sekere geleenthede in te roep sekere geleenthede... By begrafnisse en troues word God se naam gehoor en gaan ons kerk toe, maar die res van ons lewens leef ons soos ons wil! 

Ons gee ons eie inhoud aan Bybelse terme : Die term geloof is baie gewild selfs onder die goddeloses! Hulle dink : Geloof in God sal die lewe beter laat uitwerk vir jou! Dis egter ‘n selfsugtige afgodsgeloof en dis nie wat die Woord met geloof bedoel nie! 

Gebed word misbruik as ‘n towerstaf dat God MY drome moet waarmaak. In die Bybel gaan gebed oor onderwerping aan God se wil. 

Genade is 'n denkmantel vir 'n losbandige lewe volgens ons eie begeertes en behoeftes. Die Woord waarsku baie duidelik teen hier die misbruik van genade.

Die godsdienstige praktyke van baie wat as Christene bekend staan kom neer op 'n oortreding van die tweede gebod. Hulle maak 'n god in hulle gedagtes, volgens hulle behoeftes en grille en koppel die naam van God van Jesus aan Hom.

Hierdie geskiedenis maak dit baie duidelik dat God Hom nie laat manipuleer nie. Israel se kastige slim plan om God te betrek het in hulle gesigte ontplof met skrikwekkende gevolge...

KOM ONS BESEF WIE GOD IS...

Ons moet opnuut weer besef God het ons nie nodig nie. God kan uit klippe kinders van Abram maak.

Ons moet opnuut weer besef God kan nie geflous word nie. 'n Bybel voor my bed beteken nie dat Hy aan my kant is nie! Ons moet opnuut weer besef God handhaaf homself, Hy is nie verleë oor ons pogings of (suinige) bydraes nie!

Ons moet opnuut weer besef ons kan God nie met die regte tegnieke dwing of oorreed om by ons betrokke te wees en ons te seën volgens ons verwagtings nie. Dis nie regte gebedstegnieke nie, maar die gebed van die regverdige m.a.w. die een wat in die regte verhouding met Hom staan wat groot krag het!

Ons moet opnuut weer besef dis nie moderne kommunikasie en preek metodes (of toegang tot die internet) nie, maar geheiligde en gehoorsame instrumente wat deur Hom gebruik word. 

Ons moet opnuut weer besef dis nie obskure geestelike oorlogvoeringstegnieke en spreek-lewe resepte wat ons die oorwinning oor die bose sal laat behaal nie, maar gehoorsaamheid aan die waarheid van die Woord.

DIE WEG TOT GOD

Wel, hoe moet ons die Lewende God benader? Slegs binne 'n persoonlike verhouding of anders gestel ‘n weg van gehoorsaamheid en heiligheid. Ja, ons self kan nie aan sy standaarde voldoen nie, maar deur Jesus het Hy ons in ons sondenood te hulp gekom. Jesus Christus is die Weg en die Waarheid en die Lewe. Ons kan God nie beveel, manipuleer, misbruik en om die bos lei nie, maar (en dis onbeskryflik heerlik) ons kan wel Sy genadetroon nader in heilige eerbied in die naam van ons ewige hoëpriester Jesus Christus. Ons nader God nie met valse motiewe volgens uiterlike rituele en voorgeskrewe formules nie, maar deur die verdienste van Jesus met opregte harte.  Ja, deur Jesus word Hy ons Vader en mag ons  met vrymoedigheid ons harte voor Hom uitstort en Hy sal hoor...AMEN

*Salomo se gebed by die inwyding van die tempel wys duidelik dat hy besef dat God nie in ‘n gebou wat deur mense opgerig is woon nie. "Sou God werklik op die aarde woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het!” (1 Konings 8:27) 

** Dink ook aan die waarskuwing van die profeet Jeremia (lees Jer 7:4)...... "die Here se tempel, die Here se tempel..." (Kliek op TEMPEL)

*** Israel was traag om hierdie les te leer. Baie jare hierna moes Ussa ten spyte van sy goeie bedoelings ook die verskriklike gevolge dra omdat hy nie die voorskrifte van God ernstig opgeneem het nie en aan die ark geraak het. “Toe hulle by die dorsvloer van Nakon kom, gryp Ussa na die ark van God om dit teë te hou, want die osse het gestruikel. Die toorn van die Here het teen Ussa ontvlam en God het hom net daar, by die daad van heiligskennis, getref. Hy het op die plek gesterf, langs die ark van God. ( 2 Samuel 6:6,7)

VERDER. HOE LYK HIERDIE "AFGODSDIENS" EN MANIPULASIE IN DIE PRAKTYK ONDER ONS AFRIKANERS? Kliek op AFRIKANER BYGELOOF