BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 24 Junie 2012

PARADYS & PARASIET

- shalom gaan sondesmart en skade vervang!

In Jesaja 11:9 vind ons ‘n sielsverkwikkende profesie waar God beloof :

“Op my heilige berg sal niemand kwaad aanrig of iets verniel nie...”

Om die heerlike boodskap en belofte van Jesaja 11 ten volle te begryp moet ons eers weer praat oor die paradys.

Hoe het die paradys gelyk? ’n Pragtige tuin, met die lieflikste bome en vrugte, voëls wat sing...maar sulke tonele kan ons tog vandag nog  vind op aarde, terwyl mens baie beslis nie meer die ware  paradys op ons planeet sal  kry nie nie. Die vraag is dan :  Wat is uniek aan die paradys? 


(Op aarde is daar mooi plekke, maar nie meer 'n paradys nie, want orals is sonde, swaarkry siekte en sterflikheid aanwesig.)

In die paradys heers daar ’n toestand van volmaakte vrede soos God dit bedoel het om te wees. Die paradys is die toestand waar alles en almal in die verhouding staan wat God  behaag... volmaakte harmonie tussen God en mens, mens en mens, mens en natuur. Dis die toestand en omgewing waarvan God kan sê : “dit is baie goed” (Gen 1:31) Goed, dit wil sê volmaak in die absolute sin. Dis die toestand van dinge waarin God genot in vind. As ons in Genesis lees,  God het “gerus”, word hiermee die hele doel van die skepping aangedui. Dis God se vryheid, God se rus en vreugde, waartoe die mens ook opgeroep word om in deel te hê. Dis ware vrede, SHALOM - ’n saambestaan van God en mens en die ganse skepping in ’n toestand van geregtigheid, vervulling en verlustiging. ’n Toestand wat net vreugdevolle bewondering by die mens kan wek oor die heerlikheid van sy Skepper. ’n Volmaakte omgewing in perfekte balans -

In die paradys, daar waar shalom is, sal jy nie vrate kry nie, maar ook geen anorexia gevalle nie!  

In moderne konteks, sal paradys ’n plek wees waar besigheidsmanne hulle sal verheug in mekaar se suksesse, waar rondwaai plastieksakke en rommel nooit gesien word nie, waar verdoemende kankerdiagnoses nooit gehoor sal word nie, (en spesiaal vir die Suid-Afrikaners!) die plek waar motoriste en taxibestuurders  mekaar nooit irriteer nie, maar slegs vriendelik groet, en ja, waar diefwering ‘n stuk onbekende tegnologie sal wees...

Weereens, paradys is dinge soos God dit bedoel het om te wees. Paradys is dit wat ons tans nie beleef nie, want dinge rondom ons, ja, ook onsself is nie soos God bedoel het dat dit met wees nie. God het  nie bedoel dat mense in vrees en angs moet leef en hulleself met behulp van pille deur die lewe moet voortsleep nie, God het nie bedoel dat huwelike ‘n nes van jaloesie en ontrou moet word nie, God het nie bedoel dat huisgesinne broeiplekke van geweld en ongelukkigheid moet wees nie, dis nie God se wens  dat die werkplek  spanning, bedrog, uitbuiting, verveling, slawerny of  naywerige kompetisie moet voortbring nie ...so kan mens aangaan.

Wat ons hier in Jesaja 11 kry is niks anders as ’n beskrywing van paradysvrede nie. Die nuwe Eden, die herstelde paradys.

GOD GAAN DIE PARADYS HERSTEL! 

Natuurlik word dit in die taal en terme van destyds se leefwyse beskryf. Uiteraard dink ek nie Vers 6-9 gee vir ons detail inligting oor die fauna op die nuwe aarde nie. (om hieruit af te lei dat daar slange op die nuwe aarde sal wees mis die punt!) Dis ’n konkrete beeldryke beskrywing van ’n toestand van volkome harmonie en vrede.

Kom ons gee aandag aan twee praktiese vrae:
Wat het die paradysvrede oorspronklik verwoes?
Hoe gaan die paradys herstel word?

Wat het die paradysvrede oorspronklik verwoes? Ons ken natuurlik die antwoord : SONDE. En tog weerspieël ons houding teenoor sonde nie ’n werklike besef van die aaklige, sieklike verwoestende aard daarvan nie. (en daarom het ons ook  nie altyd  ’n opregte verlange na verlossing daarvan nie) Om hierdie rede kan dit goed wees as ons net weer ’n bietjie nadink oor die saak van sonde. Sonde kom neer op vandalisme van die paradys. Sonde is skending en inderdaad strafbare skending van God se skepping. Sonde is ’n dodelike parasiet. Sonde is baie algemeen, maar dis abnormaal, dis iets vreemds, dit hoort nie in die skepping nie. Sonde kan nie op sy eie bestaan nie - net soos ’n parasiet of ’n siekte.  Sonde kan nie iets bereik of skep nie - sonde teer bloot op die heerlike skepping van God.  Byvoorbeeld, die sonde van egskeiding kan net bestaan omdat daar iets heerliks is soos die huwelik wat God ingestel het!  Die sonde van diefstal teer op die feit dat ons die gawe van besit gegee is. Sonde kan nie iets positief bou nie, dit breek net af wat mooi is. Sonde is “badness” - maar “badness” sê C.S. Lewis is net  “spoiled goodness. And there must be something good before it can be spoiled”  Hoe dwaas dus om sonde te doen.  ’n Sondige, sonde besmette menslike lewe is ’n karikatuur, ’n verwringing van wat God bedoel het ons moet wees. Sonde is ‘n bosluisplaag wat sy gasheer verinneweer tot die status van ‘n geraamte en uiteindelik die dood.  Dit teer op mense totdat daar net ’n mismaakte skepsel oorbly en uiteindelik lei dit tot die ewige dood as daar nie ’n plan met hierdie parasiet gemaak word nie.

Hoe gaan die paradys herstel word? Wel die profeet maak dit duidelik dat daar Iemand gaan kom wat alles gaan verander en vernuwe.  Weet jy Wie dit is? Ken jy Hom? Net kortliks die volgende feite wat ons hier in Jesaja 11 oor Hom kry : 
1) Sy oorsprong en identiteit.  (Vers 1) Dis ’n spesifieke individu uit die nageslag van Isaï. Dit wil sê iemand uit Dawid se nageslag. Ons weet hierdie persoon het gekom. Hy is die Seun van Dawid, Jesus Christus.
2) Sy toerusting.  (Vers 2,3a) Die Gees van die Here rus op Hom. Van God ontvang Hy dus al die kwaliteite om ’n volmaakte koning te wees. Dit het sigbaar gebeur toe die Heilige Gees soos ‘n duif op Jesus neergedaal het.
3) Die manier waarop Hy sy werk sal doen. Sy werk kan saamgevat word as regverdige regering (Vers 5), ’n  heerskappy van geregtigheid. (Dankie tog - daar kom ‘n einde aan die mag van dwase despote!)  Hy sal reg en geregtigheid laat geskied - hulpeloses word versorg, maar goddeloses word geoordeel. Onreg word aangespreek en reggestel. 

Die paradys word herstel deur koning Jesus, die volmaakte finale Dawid! 

Aan die kruis het Hy verlossing bewerk vir sy mense, maar Hy het juis ook daar die oorwinning behaal oor alle bose magte. Kolossense 2:13-15 Hy ring 'n nuwe bedeling van volmaaktheid totstand.

GELIEFDE, SIEN TOG TWEE DINGE RAAK!
  • Sien sonde vir wat dit is - ‘n afbrekende, negatiewe, verwoestende parasiet.  Sonde is nie al daardie lekker dinge wat ons graag wil doen nie, nee dis ‘n gevaarlike parasiet wat ons uitmergel en laat sterf!  Sonde is iets om gehaat en vermy te word. Dit wek God se toorn! Dis tog  logies. Kan God verdraagsaam en sag wees teenoor die parasiet wat soveel skade aan sy handewerk aanrig? Dis opstand teen God. 'n Opstand met angswekkende gevolge vir mens en skepping. Sonde is  verwoestend vir almal rondom jou - dink hoeveel skade en hartseer het jou sonde al aan jou ouers, broers en susters, familie, mense rondom jou...berokken.. Maar sonde is ook vernietigend vir die beoefenaar daarvan - my koppigheid, my hoogmoed, my selfbejammering, my  afguns, my seksuele losbandigheid, my verkeerde gewoontes, my wraaksug.... verwoes my menseverhoudinge, bederf my geluk, is skadelik vir my  gesondheid...maar die ergste : dit beroof my van gemeenskap met God, dit keer dat ek God se heerlikheid kan geniet, dit maak my  bestaan doelloos....

  • Sien die Verlosser raak. Ons hoop vir paradysvrede moet net op een Persoon (beslis nie Obama of die VN nie) gefokus wees - Jesus, die Koning uit Dawid se nageslag. Die skade van die sondeparasiet is onberekenbaar groot, dis menslik gesproke onherstelbaar erg. Menslike wysheid en filosofie, menslike godsdiens en moraliteit, strafmaatreëls...kan niks vermag nie. Eweneens is toleransie van sonde, ‘n ontkenning of ‘n toesmeerdery daarvan magteloos om die parasiet hok te slaan.  Kyk maar net na al die gesanik en vrugtelose pogings om geweld teen vroue en kinders stop te sit. Al die moeite, praatjies en optogte en plakkate, wat help dit? Niks! Die “takkie” uit die stomp van Isaï is die antwoord. Sy regering, sy en heerskappy wat ware kennis van God bring - dit verander harte en optrede van mense. Die bevrydende evangelie van Jesus moet verkondig  en geglo word. Om na die praktiese voorbeeld terug te keer : dis eers wanneer ‘n man tot bekering kom en homself onderwerp aan die heerskappy van Jesus Christus dat hy sy vrou en kinders anders sal begin behandel...

Ons leef reeds in die herstelfase van die paradys.  Ons beleef Jesaja 11! Jesus het gekom en Hy is nou besig om mense te bevry van die besmetting deur die parasiet.  Ons sonde word nou reeds vergewe, ons word nou reeds bevry van die verslawende mag daarvan. (al val ons nog dikwels) Ons word nou reeds instaatgestel om tekens van die Koninkryk op te rig - goeie werke van vrede, genesing, heling...die doen van reg en geregtigheid aan verdruktes en vernieldes. Ons kan nou reeds vrede beleef met God en met mekaar deur die geloof in Jesus.  Dis ’n praktiese werklikheid en ons kan ons daarin verheug - dis sigbaar en heerlik. Sondaars word uit die modder getrek en nuutgemaak, vyande word met mekaar versoen, die barmhartigheid wat God se kinders aan die ellendiges bewys is ’n heerlike voorreg en ’n duidelike voorsmaak van die heelheid in die Koninkryk ....Sien dit raak, dank Jesus daarvoor, neem deel, verlustig jou daarin!  

Maar ons is  ook realistiese oopkop en oop oë mense. Ons weet ook dat alles wat Jesaja 11 in die vooruitsig stel het, nog nie ’n werklikheid geword nie. Daarom kyk ons ook uit met hoopvolle verwagting na die voleinding,  die finale voltooiing van Jesus se herskeppingswerk.  Saam met die skepping verlang ons na die bevryding van alle sonde en die gevolge daarvan : siekte, ellende, verganklikheid en dood.  (Romeine 8:18-25) Hierdie is ’n blye verwagting, dis ’n vaste hoop en dit laat ons juis met blymoedigheid daagliks in die stryd volhard. Hoe wonderlik om die versekering te hoor : “Niks en niemand sal meer kwaad doen op God  se heilige berg nie, daar sal niks verniel word nie. Geen vandalisme nie!”   Sonde sal vir ewig en altyd van die toneel verdwyn. Geregtigheid (God se volmaakte wil) word die kenmerk van die nuwe bedeling. (2 Petrus 3:13!) Wat ’n heerlike toekoms om na uit te sien. Dit sê vir ons : Ons moenie moed verloor nie!  Ons moenie moed verloor as ons ons eie sonde raaksien en met alle mag daarteen stry nie, as ons die ellende van die wêreld aanskou nie, as ons saam ly - geestelik, sowel as fisies - in hierdie vernielde wêreld nie! 

Daar is hoop : 

Die parasiet gaan ’n uitgestorwe spesie word!

Het jy  die Verlosser uit die nageslag van Isaï al persoonlik vertrou om jou van die parasiet te bevry?

(erkenning aan Cornelius Plantinga, "A Breviary of Sin.")

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.