BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Sosiale media. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Sosiale media. Wys alle plasings

Sondag 14 Januarie 2018

Paul Washer

vra vir jou 'n indringende vraag!

Is jy al 'n nuwe mens? Wat vertel jou sosiale media van jouself?


Maak drie minute tyd om dit eerlik te antwoord!

Kliek op WASHER

Dinsdag 12 Maart 2013

KERKBODE KASKENADES

- bring weer die uniekheid van ons GEKRUISIGDE VERLOSSER in die kollig!

Vir almal wat die waarheid liefhet is dit baie goeie nuus dat die omstrede joernalis en Kletskerk aanhitser, Jean Oosthuisen, uiteindellik weg is by DIE KERKBODE. (Die amptelike koerant van die NG Kerk) Die slegte nuus is,  dat iemand met sulke afwykende teologiese sienings  hoegenaamd daar geduld is en in die proses onherroeplike skade aan die NG Kerk (en dus ook aan die liggaam van Christus) aangerig het. Dwalinge is nie maar soos sommige mense dink net “alternatiewe en onskuldige vorms van een waarheid nie”, maar vernietig die geloof van sommige. 2 Timoteus 2:16-18 stel dit so : “Maar die onheilige en sinlose praatjies (seker tydskrifte en webwerwe ook?) moet jy vermy, want dié wat dit versprei, sal nog verder in goddeloosheid verval, en hulle woorde sal voortvreet soos kanker. Onder hulle is daar Himeneus en Filetus, wat van die waarheid afgedwaal het deur te sê dat die opstanding alreeds plaasgevind het. Daarmee vernietig hulle die geloof van sommige.”

Of die Kerkbode base goeie regverdige arbeidsetiek gehandhaaf het in sy losmaking en die skikking wat met hom bereik is, weet ek nie. Wat ek wel weet is dat dit ‘n tragedie is dat ‘n dwaalprofeet vir so lank ‘n platform in die hart van die kerk gebied is.  

Waarom sê ek so?

Kom ons bepaal ons net by een kernsaak. Jean glo baie beslis nie aan die uniekheid van Jesus as die enigste weg na die Vader nie en daardeur verwerp hy ‘n wesentlike gedeelte van die Christelike geloof! In sy onderhoud met Hanli Retief van Rapport sê hy duidelik : “Kyk, party mense dink ons geloof is ál regte een. Maar as ek in ’n Moslemland gebore is, was ek mos ook een. En ’n Jood in Israel. Wie gee mý die reg om te sê net my godsdiens is reg? Ek het God leer ken deur ­Jesus van Nasaret wie se volgeling ek is, wat rigting gee aan my lewe. Maar ek kan nie sê ’n Moslem is verkeerd nie, dis arrogant.”

Dis ‘n skreiende skande dat die NG Kerk so iemand  toegelaat het om so ‘n groot invloed op die kerklike debat uit te oefen. 

Wie hoegenaamd in die Bybelse Jesus glo, moet sy uniekheid as enigste Seun van die Vader aanvaar. God het mens geword, net in Jesus, nie ook in Mohammed of Boedha nie! Vir wie anders as Jesus het God daar op die Berg van Verheerliking gesê : "Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom." (Matteus 17:5) Van wie anders kan die  uiters ontsagwekkende stelling gemaak word : “In Hom is die volle wese van God beliggaam” (Kolossense 2:9) Wie anders het sonder sonde geleef, volmaak gehoorsaam aan die wil van God, ja, gehoorsaam tot die dood van die kruis en kon uitroep : “Dit is volbring!” (Johannes 19:30)

Dis ‘n basiese Bybelse beginsel dat geloof in Jesus die enigste ware reddende geloof is, omdat daar geen ander Naam is waardeur mens gered kan word nie. Die Geesvervulde Petrus se woorde laat hieroor geen twyfel nie : “Julle almal en die hele volk Israel moet weet dat dit in die Naam van Jesus Christus van Nasaret is dat hy hier gesond voor julle staan—dié Jesus vir wie julle gekruisig het, maar wat God uit die dood opgewek het. Hy is die klip wat deur julle, die bouers, afgekeur is. Juis Hy het die belangrikste klip in die gebou geword. Hy bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie." (Handelinge 4:10-12)

Die waarheid van Jesus se unieke Middelaarskap word so duidelik in 1 Timoteus 2:3-5 uitgespel dat die miskyk daarvan slegs aan totale geestelike blindheid te wyte kan wees. “...So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus wat Homself as ‘n losprys vir almal gegee het...”  (1 Timoteus 2:3-6) Hierdie Skrif ontmasker die elemente van postmodernisme wat beweer dat daar nie waarheid is nie en dat dit nie geken kan word nie, as in stryd met die Bybelse boodskap. Dit maak ook korte mette van al die praatjies oor baie godsdienste en baie middelaars wat ons by God sou kon uitbring. Juis omdat daar net een Middelaar is, is Paulus as apostel van die heidene aangestel om hulle te onderrig “in die boodskap van die geloof en die waarheid.” (2 Timoteus 2:7) Juis omdat daar net EEN MIDDELAAR is en die nasies van die wêreld nodig het om tot geloof in Hom te kom vir redding, stuur God gesante uit en is hulle te midde van groot opoffering bereid en gehoorsaam om diie blye boodskap van Jesus na die eindes van die aarde uit te dra. Omdat daar net een Middelaar is, het Martin Rautanen (Nakambale) Finland verlaat en na Ovamboland gekom om aan heidene in duisternis van die Lig te vertel. Dit was ‘n groot offer wat die lewens van ses van sy nege kinders gekos het. Omdat daar net een Middelaar is en die Moslems dit ook moes hoor, het Henry Martyn sy geluk, sy geliefde en sy lewe geoffer in diens van die verkondiging van die evangelie.  Die voorbeelde van heldedade en offers van mense wat vir hierdie waarheid geleef en gesterf het is oneindig.... Die kerk en sendinggeskiedenis is geskryf in die bloed van mense wat onwrikbaar geglo het in die enigste unieke middelaarskap van Jesus. Hulle het hulle lewens verloor weens hierdie waarheid, maar het dit juis vir ewig behou!

Dit lyk my nou asof sommige kerkmanne oor hulle voete val om mooi woordjies aan arme Jean oor te dra. Verskoon my, maar ek kan nie in hierdie rugkrapkoor sing nie. Dit spreek of van huigelary of van onkunde of van bedenklike simpatie met sy dwaalstories. Jean word geprys dat hy soos Paulus godsdiensgesprekke na die markplein toe gevat het.  Hoe kan enigiemand wat by sy volle positiewe is, Jean met Paulus vergelyk? Ja, Paulus het die evangelie na die mense geneem binne hulle konteks en denke, maar luister wat Paulus vir die Grieke en uitlanders op die Areopagus te sê gehad het : "’God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer,  want Hy het ‘n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ‘n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan.’ Toe hulle van die opstanding uit die dood hoor, het party hom uitgelag, maar party het gesê: "Ons sal jou weer hieroor wil hoor." (Handelinge 17:30-32) Paulus se debatsvoering het hom uiteindellik by ‘n duidelik verkondiging van die waarheid uitgebring. ‘n Ondubbelsinnige bekeringsboodskap aan ‘n goddelose mensdom! Ek het nog nêrens gesien of gehoor dat Jean sy kletsvriende oproep tot bekering tot die enigste Middelaar Jesus en hulle waarsku oor die komende oordeel nie!

KOM ONS BELY ONS UNIEKE MIDDELAAR ONBESKAAMD!

Dis baie dringend noodsaaklik dat ons weer die uniekheid van Jesus, die gekruisigde en opgestane Seun van God duidelik en onbeskaamd in hierdie verwarde wêreld sal bely. Ons eie finale toekoms hang daarvan af, maar meer nog, die eer van God is op die spel. Ja, ons moet inderdaad ons geloof na die markplein toe neem – die werk, die skool, die sosiale media... maar dis slegs die geloof in die enigste unieke Middelaar, Jesus wat die moeite werd is om in die openbaar onder die massas verkondig te word... al kos dit ons aansien en populariteit... oor die boodskap van die opgestane Jesus wat as Regter sal kom is Paulus immers al destyds uitgelag, dis niks nuuts nie.


Die ontkenning van Jesus se unieke middelaarskap sal lei tot ewige verdrinking in die diep waters van God se toorn!