BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Nuwe Hemel en Aarde. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Nuwe Hemel en Aarde. Wys alle plasings

Donderdag 19 Maart 2020

GOD EN SIEKTE


- DIE TOEKOMSTIGE VERLOSSING VAN ONS LIGGAME IS ‘N HEERLIKE WERKLIKHEID! 



Die algemene opvatting onder baie mense behels die volgende: “Die duiwel maak mense siek en God maak mense gesond. Die duiwel laat mense doodgaan en God maak mense lewend." Die gevolgtrekking of implikasie is dan dat as iemand siek word en doodgaan, het die duiwel gewen en as iemand gesond word en hy lewe het God gewen. So baie keer wen die duiwel dus met kanker, motorongelukke, Wuhan griep… “Maar”, word beweer “as ons net die regte formule ken om lewe te spreek en as ons geloof net sterk genoeg is hoef ons nooit siek te word of in ‘n ongeluk te kom nie…” 

Is dit wat die Skrif leer? NEE! Nou wat leer die Skrif? Kom ons kyk net na drie perspektiewe uit Romeine 8:18-25 betreffende die skepping en die nuutmaking van die skepping (ons ingesluit): 

1.God het die hele skepping aan verganklikheid onderwerp. Dis nie die duiwel wat besluit het dat daar iets soos siekte, veroudering en dood moes wees nie. Dis God! Dis Sý straf op die sondeval. “Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het.” (Romeine 8:20) God se waarskuwing aan die mens was mos baie duidelik – “as jy van hierdie boom eet sal jy sterwe.” Verder was deel van die straf dat die hele aarde vervloek is weens die mens. “En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie--vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe.” (Genesis 3:17) God is in beheer van als. Ook van ons liggame wat Hy geskape het, “En die HERE antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie?" (Eksodus 4:11) 

Belangrik egter : 

Die feit dat siekte die gevolg van die sondeval is beteken nie noodwendig dat alle siekte die gevolg van ’n persoonlike sonde is nie. 

In Johannes 9 kry ons die geval van die blindgeborene. Die dissipels wou dadelik die afleiding maak dat sonde die aanleiding was vir hierdie man se blindheid. Jesus gee egter ’n totaal ander perspektief wat die dissipels lekker in die bek ruk! 

“En sy dissipels vra Hom en sê: Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is? 
Jesus antwoord: Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word.” (Joh. 9:2,3) 

Daar is verskeie perspektiewe op siekte in die Skrif. Soms is siekte selfs as gevolg van uitputting in die werk van die Here. “Ek ag dit noodsaaklik om die broer Epafroditos, my medewerker en medestryder wat deur julle hierheen gestuur is om my in my omstandighede by te staan, na julle toe terug te stuur. 
Hy verlang gedurig na julle almal en bly hom daaroor kwel dat julle van sy siekte gehoor het. 
Hy was ook inderdaad doodsiek, maar God het Hom oor Epafroditos ontferm, en nie net oor hom nie, maar ook oor my sodat ek nie verdriet op verdriet sou hê nie. 
Ek stuur hom dan nou ook so gou moontlik terug, sodat as julle hom weer sien, julle weer bly kan wees en ek minder besorg. 
Ontvang hom met oop arms as ‘n broer in die Here, en bejeën manne soos hy met agting, 
want deur sy werk vir Christus het hy by die dood omgedraai. Hy het sy lewe gewaag om my die hulp te verleen wat julle self nie kon gee nie."  (Fil. 2:25-30) 

In sekere gevalle kan siekte en ellende die gevolg wees van demoniese invloed. (Veral waar mense by die okkulte betrokke was.) Jesus het op ‘n keer ‘n vrou genees en dit blyk duidelik dat haar siekte ‘n demoniese oorsprong gehad het, want ons lees : “Daar was ook ‘n vrou wat al agtien jaar lank gely het onder ‘n bose gees wat haar heeltemal verswak het. Sy was krom getrek en kon glad nie meer regop kom nie.” (Lukas 13:11) 

Inderdaad kan God siekte ook as tugtiging gebruik in die lewe van sy kinders. Dit word geïmpliseer in Jakobus 5:14,15. “As daar iemand van julle is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet vir hom bid en hom met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here. En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak. As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word.” Dat God siekte en selfs dood kan gebruik om sy eie kinders te tugtig kom ook treffend na vore waar Paulus met die Korintiërs praat oor die belangrikheid om die heiligheid van die nagmaal ingedagte te hou – “Elkeen wat op ‘n ongepaste wyse van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here. 
Maar elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink, 
want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur ‘n oordeel oor homself. 
Daarom is daar baie swakkes en sieklikes onder julle en sterf daar baie van julle. 
As ons onsself vooraf reg ondersoek het, sou ons nie onder die oordeel gekom het nie. 
Maar nou word ons deur die Here geoordeel en getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel sal word nie." (1 Korintiërs 11:27-32) 

Die punt is, pasop daarvoor om simplistiese verklarings vir siekte te gee! En onthou daar is net een Almagtige Regeerder van die heelal!

2.Die hele skepping sal eendag van hierdie verganklikheid bevry word. “die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê.” (Romeine 8:21) God belowe ‘n nuwe hemel en nuwe aarde waar daar nie meer sonde, swaarkry, siekte, en dood sal wees nie. Die wortels van hierdie belofte vind ons reeds in die Ou Testament. “Soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek gaan maak, in my diens sal staan, sê die Here, so sal julle nageslag en julle roem in my diens staan.” (Jesaja 66:22 ) Dis ‘n eksplisiete waarheid in die Nuwe Testament en nie net in Openbaring nie! Ook Petrus praat hiervan. “Maar ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.” (2 Petrus 3:13) Ons toekoms is nie hier op hierdie stukkende aarde nie Ons beste tyd is nie nou nie, maar eendag! Alle siekes gaan nie nou genees word nie. Daar is geen reseppie om alle siekte te vermy of die dood te systap nie. Raak realisties en moenie jou ore uitleen vir die (kliek) spreek lewe dwaling nie. Moenie dink daar is ‘n geheime formule om altyd gesond te bly nie. Ja, natuurlik soos in die geval van alle gebrokenheid in die skepping mag ons alle moontlike wettige middele gebruik om siekte te bestry. Ek sê wettig – want daar is ook ongeoorloofde middele – soos die okkulte. En terloops, baie sogenaamde alternatiewe geneesmiddel is niks anders as versuikerde okkultisme en duisternis nie! (Die duiwel buit hierdie drang om gesond te wil wees uit en so kry hy juis mense nog verder in sy mag…) Maar daar is wel geoorloofde middele wat ons mag gebruik om siekte te bekamp. Paulus se raad aan Timoteus wat klaarblyklik dikwels siek was is veelseggend. “Moenie langer net water drink nie. Gebruik ‘n bietjie wyn vir die maag en vir jou herhaalde ongesteldhede.” (1Timoteus 5:23) Wyn is beskou as medisyne. Volg ‘n gesonde leefstyl met die regte oefening en voedsame kos. Maak gebruik van die mediese wetenskap. Die Bybelis positief oor die mediese wetenskap - een van die Nuwe Testamentiese skrywers, Lukas was 'n dokter.  En natuurlik gebed! Gebed saam met behandeling. (Ons het dit reeds gesien in Jakobus) Deur gebed erken ons ons Vader se soewereine beheer en stel ons ons hoop op Hom om vir ons te sorg (en te genees) volgens Sy wil! 

Ons besef hierdie wêreld is gebroke en stukkend en verlang daarom veral na die toekomstige bedeling wat God beloof het!

3.Ons liggame gaan ook eendag bevry word. God se kinders sien uit na die verlossing van hulle liggame, die volle uitwerking van die aanneming tot kinders. “En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam.”*(23) Ons sug as’t ware saam met die res van die skepping. Daar leef by ons ‘n sterk verlange na die bedeling van geestelike en liggaamlike volmaaktheid! Dis ‘n verdere bewys dat ons nie nou reeds liggaamlike volmaaktheid geniet nie. Wanneer gaan dit gebeur? Dieselfde tyd wanneer hele skepping nuutgemaak sal word. Dit gebeur nie nou al nie. Daar is ‘n bepaalde orde in God se herstel; eers geestelik dan fisies. (Dieselfde volgorde was waarneembaar net na die sondeval – dit het eers geestelike dood veroorsaak, daarna fisiese dood.) 

KORONA VIRUS EN WUHAN GRIEP 

Tot met Jesus se wederkoms sal siekte (ja ook virusse!) met ons wees en word alle mense (ook God se kinders) daaraan blootgestel. 

Jesus bring ‘n omvattende en heerlike verlossing. Hy herstel nie net sondaars nie, Hy maak die hele skepping nuut! Hy red nie net siele nie, Hy verlos uiteindelik die totale mens – ook ons liggame! As totaal nuutgemaakte en volmaakte mense sal ons op ‘n nuwe aarde woon. Dis ons vaste hoop. Die hoop wat ons nie nou al sien nie, maar geduldig en volhardend op wag! Dit maak ons bly ook in die tye waarin ons ons nou bevind. (Romeine 8:25) 

Met Jesus in jou lewe het jy ‘n TOEKOMS al is jy nou sieklik of gebreklik. Sonder Jesus is jy gedoem al is jy topfiks en blakend gesond!


*So in die OAV wat ‘n direkte weergawe is van die Grieks - την  απολυτρωσιν  του  σωματος ημων (die verlossing van ons liggame) Ek verkies dus die OAV hier bo die NAV.


Woensdag 15 Augustus 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (13)

- totaal nuutgemaakte skepping!

Tot hier het ons die oorvleulingstyd tussen die ou en die nuwe bedelings ondersoek - "die alreeds-nog nie fase". Die tyd waarin ons ons tans nog bevind. Dit behels stryd, maar binne in die konteks van vaste sekerheid dat Jesus die beslissende oorwinning reeds behaal het. In hierdie tyd kan die Satan nog groot verwoesting aanrig, maar sy mag is beperk. (sien vorige Openbaring studie) In hierdie tyd moet die kind van God volgens die geloof leef en nie let op die sigbare ellendes nie, maar die onsigbare realiteite van God se Almag en vertrou op die vervulling van al sy beloftes. Dis die tyd om die hoop te behou.

Die wonderlike nuus is dat hierdie voorlopige bedeling tot ’n einde kom, dat die hoop in vervulling gaan en dat die geloof sal oorgaan in aanskoue! Die klein tydjie wat Satan losgelaat word dui op sy beperkte mag al kan hy nog baie skade aanrig. (Vgl. 1 Petrus 5:8) Hierdie “klein rukkie” (20:3) is die voorloper van die slottonneel nl. Die totale vernietiging van Satan (20:10), die finale oordeel en die nuwe hemel en die nuwe aarde.

Kom ons bekyk Openbaring 21:1-5.  Die essensie is dat God se woonplek by die mense is. Die gebroke verhouding is volledig herstel! Ons staan dan in volmaakte verhouding met God in ‘n volmaakte omgewing.  Hoe gaan dit wees en lyk? Dikwels het ons ’n baie onBybelse siening van hemel. ’n Vae beeld van kore en mense wat op harpe speel!   Baie belangrik vir ons verstaan is Romeine 8:18-25. Jesus se werk loop uit op die bevryding van die hele skepping. Ook die verlossing van ons liggame! (Rom 8:23 - OAV en NIV is hier beter as NAV)

Ons ken nie die detail van als nie (dis in elk geval te groot om te verstaan), maar dis duidelik, die Nuwe Hemel en Nuwe Aarde is die oplossing en einde van alle konflik, lyding en betekenisloosheid.*

Dis ’n herstel van die totale harmonie tussen God, mens en die hele geskape werklikheid... God laat nooit sy skepping vaar nie, nooit as nimmer sal Hy maar sy handewerk net so los in ’n stukkende toestand nie! Hoekom nie? Hy het geskep tot sy eer! Die eer van God se naam is op die spel! Deur sonde is die skepping verwoes (mense, onderlinge verhoudings en natuur) maar juis daarom het Jesus gekom om te HERSKEP! Jesus se herskepping is ’n totale herskepping - nie net mense nie maar ook die natuur! Nie net siele nie, maar ook liggame. Met die sondeval het die mens eers geestelik gesterf (sy verhouding met God is verbreek), maar daarna ook fisies. (Daarom gaan almal dood) As Jesus ons herstel, herstel Hy dit wat eerste verkeerd gegaan het (geestelik), maar dit stop nie daar nie! 

Ons liggame word ook herstel by die wederkoms!

Die skepping word herstel tot heerliker as wat dit was! Kyk na Openbaring 22:1-2.

Hierdie nuwe bestaan kom van God af (sy troon) - dit kan nooit die produk van ’n menslike proses wees nie.  Diegene wat dink dat die mens deur opvoeding, tegnologie of morele verbetering ‘n volmaakte wêreld op aarde kan skep leef in ‘n gekkeparadys! Ons hoop is op Hom wat op die troon sit en self alles tot ‘n heerlike einddoel sal bring!  LW - die Lam speel nog steeds ’n belangrike rol! ’n  Mens sou kon dink dat Jesus na die finale oorwinning slegs as Leeu vermeld word! Ja, inderdaad is Hy die kragtige oorwinnaar, maar dis die Lam wat hier ewig op die troon is! Tot in alle ewigheid is ons geregtigheid afhanklik van die Lam se offer en nie op ons eie verdienste nie. Ons posisie voor die troon van God staan vas op die meriete van die Lam se offer! Ons sal altyd roem op die kruisgebeure!

Opvallend is die terminologie wat aan die paradysgeskiedenis in Genesis herinner. Hier is weer ’n boom van die lewe, maar hy dra nou twaalf keer ’n jaar vrugte - dis heeltemal ongekend en buitengewoon, alles oortreffend! Die skepping (Eden) word herstel, maar dis duidelik dat die nuwe Eden soveel heerliker gaan wees as die oorspronklike!

Dis nou nie meer ’n tuin nie, maar ’n stad! ’n Stad in Bybelse denke is baie meer permanent as net ’n tuin! Die einde gaan selfs baie heerliker wees as die begin van die aarde voor die sondeval en die heerlikheid sal sonder einde wees.

Ons woonplek is ’n totaal herskepte werklikheid, waar volmaakte harmonie tussen God, mens en die hele skepping sal heers! Die erfenis wat God vir ons in die oog het, gaan al ons verwagtings oortref!

Maak seker dat jy ook 'n erfgenaam is! Maak seker dat jy ook deel van die bruid is. (oor die Bruid van die Lam praat ons by 'n volgende keer)

* Goldsworthy p315