BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 29 Januarie 2022

Boerseun van Migdol

My hart breek vir my Boerevolk wat so herderloos en leierloos is dat hulle na enige strooihalm gryp en die naaste of luidrugtigste valse profeet omhels. Die sogenaamde boerseun van Migdol (ene Japie van Zyl) is ‘n tipiese voorbeeld van laasgenoemde.

Japie herhaal al die ou dwalings en geykte ketterye van die Israelvisie en die Neser volgelinge, (kliek ISRAELVISIE) maar hy gaan ook nog verder. Hy bespreek Lukas 23 vers 34 en maak dan ‘n skokkende uitlating. Kom ons lees eers die teks. Kyk na al drie Afrikaanse vertalings. “En Jesus sê: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” (Ou Afrikaanse Vertaling) “Toe sê Jesus: "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!" (1983 Vertaling) Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” (2020 Vertaling) En sommer ook 'n Engelse vertaling. “Then said Jesus, Father, forgive them; for they know not what they do.” (King James) Japie beweer dat hierdie teks opsetlik verkeerd vertaal is en dat die Griekse negatief “ouvertaal moet word as sou Jesus gesê het “Vader vergeef hulle nie, want hulle weet wat hulle doen.” Nou ja, vir twee duisend jaar vertaal alle vertalings dit verkeerd, maar kenner Japie van Migdol weet nou skielik hoe om dit reg te vertaal! Hy sê “hulle” het dit doelbewus verkeerd vertaal. Ek vra jou Japie, wie is die hulle? (Die King James vertalers in die 1600’s. Totius of wie?) Het Japie al ooit Grieks 1 bestudeer en geleer dat woordorde in Grieks en Afrikaans verskil? Interessant dat Japie die woord “blerrie” gebruik in sy tirade oor die kwansuise verkeerde vertaling! Het profeet Japie se ouers hom nooit geleer dat “blerrie” ‘n lasterlike woord is wat afgelei is van “the bloody Christ” nie? Skaam jou Japie! Gaan was jou mond met seep, skryf in vir Grieks 1, maar belangriker, bekeer jou tot Jesus Christus!

Hoekom maak Japie sulke bewerings? Hy moet die Bybel laat inpas by sy nasionalistiese godsdiens van haat. Hy vergeet dat Jesus hier aan die kruis sy vyande vergewe, en vir hulle bid net soos Hy dit van al sy volgelinge verwag. “Julle het gehoor dat gesê is, ‘Jy moet jou naaste liefhê,’ en ‘Jou vyand moet jy haat’. Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê en bid vir hulle wat julle vervolg," (Matteus 5:43,44) Japie het seker ook nog nooit raakgelees nie dat die martelaar Stefanus tydens sy steniging Jesus se voorbeeld gevolg het, en ook vir sy vervolgers gebid het! “En hy het op sy knieë neergeval en met 'n groot stem uitgeroep: Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie! En met dié woorde het hy ontslaap.” (Handelinge 7:60)

Dis nie al nie... Japie ontken die basiese kernleerstelling van die Christelike geloof naamlik die Drie-eenheid. Hierdeur plaas hy homself buite die grense van die historiese Christelike kerk.

Japie is ‘n misleier en ‘n verdraaier van God se Woord. Mag die Here hom ware bekering skenk.

Ek treur oor almal wat Japie se onkunde opslurp... hierdie nonsens gaan nie vrede tussen jou en God bring nie. Kom ek stel dit nog eerliker... as jy hel toe wil gaan, luister na Japie...

Woensdag 12 Januarie 2022

HET JY DIE MERK?

Ek gaan nie oor nuwejaarsvoornemens praat nie... ek wil net vir jou vra:


“Het jy die merk?” Gaan jy met die regte merk in die nuwe jaar in? Die kruisie op die voorkop wat tel? Die profeet Esegiël sien hoofstuk 9 ’n visioen van God se oordele oor Jerusalem. Dis ’n oordeel wat almal gaan tref...oud en jonk, man en vrou. Dis ook opvallend dat God se oordele by sy tempel, sy heiligdom begin het. Ja, dis dikwels so - in die aanbiddingsplekke, onder God se mense word die grootste gruwels aangetref! Die goddeloosheid het binne die tempel plaasgevind. Die konteks en agtergrond van die oordeelsaankondigings in Esegiël 9 God se oordeel weens die afskuwelikhede wat in Jerusalem aangaan wat breedvoering in hoofstuk 8 beskryf word.




Almal gaan geoordeel word behalwe diegene wat gemerk is! (6) 








DIE VRAAG

Die interessante en baie belangrike vraag is : Wie is die gemerktes wat die oordele van God sal vryspring? Wie gaan gered word? Waaroor gaan die merk van God?

DIE ANTWOORD

Ons vind die antwoord in vers vier.


 Dis almal wat sug en kla oor die ongeregtigheid. Dis met ander woorde die mense wat ontsteld, verontwaardig en hartseer is oor die sonde wat rondom hulle aangaan. Dis diegene wat nie met die sonde saamstem en kompromie maak nie. Dis diegene wat stroomop swem – en nie saam met die stroom afdryf nie!



God se ware kinders kan uitgeken word aan die feit dat sonde en die gevolge van sonde hulle ontstel, bekommerd maak, hartseer maak, met weersin en afgryse vervul. Sonde is ’n pyniging vir ’n regverdige! Die sonde in die samelewing kan nie ongesiens by God se kinders verbygaan nie. Dit raak ons elkeen wat Jesus liefhet.

Dis ‘n waarheid wat dwarsdeur die Skrif na vore kom. Kyk na 'n paar voorbeelde :

Psalm 119:53 “Woede het my beetgepak oor goddeloses – hulle wat U wet verlaat.”

Lot se siel word gepynig deur die goddeloosheid wat hy moet aanskou in Sodom. 
2 Petrus 2:7 “Terwyl hy (Lot) tussen hulle gewoon het, moes hierdie eerbare man dag vir dag soveel van hulle gruweldade aanskou en sulke dinge aanhoor dat dit ‘n foltering was vir sy opregte gemoed.”

Ware kinders van God is ontsteld oor sonde, want....

Ons besef sonde tas God se eer aan. Dis opstand teen God, dis ’n vertrapping van sy goeie en heilige wette. Sonde beteken eintlik dat klein mensies hulle vuis wys vir die Almagtige God en Hom uittart. Skrikwekkend!

Ons weet dat dit Jesus se bittere smart en kosbare bloed gekos het om ons sondes te vergewe. Sonde is dus ’n belediging van Jesus se liefde en genade. Dis ’n gruwelike ondankbaarheid teenoor Jesus wat sy lewe vir ons gegee het. Dis vreeslik en afgryslik ondankbaar as mense onbeskaamd net aangaan met sonde!

Ons beleef en sien sonde is ’n verwoestende en verslawende mag. Dit veroorsaak soveel ellende en hartseer in huwelike, huisgesinne, gemeenskappe. Dit maak mense seer en nog erger dit skend God se beeld in die mens en maak dat ons erger as diere optree. Dis ‘n parasiet wat als besmet...als wat deur God goed en mooi gemaak is ly onder hierdie parasiet – huwelike, gesinne, menseverhoudings, besittings, geluk, vrede.... als word aangetas deur hierdie parasiet. Dis een aaklige toneel van verwoesting en ellende!

Ons weet sonde is gevaarlik want dit bring God se wraak oor mense en lei tot ’n ewige hel. Mense wat aanhou sondig en die plesier van sonde geniet is soos motte wat al nader aan ’n kersvlam vlieg. Die mense wat nou in sonde volhard en sonde geniet is op ’n glyplank wat sonder dat hulle besef eindig in ’n bodemlose afgrond van ewige duisternis en pyn. Onkundig en niksvermoedend is hulle op pad na ’n grusame bestemming!

Sonde keer dat ons ons skeppingsdoel bereik naamlik om Hom te eer en te loof en te prys. Sonde keer dat ons ‘n ware loflied met ons lippe en ons lewe tot God kan sing.

Ek as kind van God weet (en dis baie persoonlik) - hoe maklik ekself vir die leuens van die duiwel val en self kan struikel en sondig. En ek weet watter hartseer dit veroorsaak... Daar is NIKS goeds in sonde nie!

Dis waarom die profeet Jesaja so diep bedroef was oor sy eie sonde en sy volk se sonde. Nadat hy die heerlikheid van God gesien het roep hy uit : “Wee my, ek is verlore! Want ek is 'n man onrein van lippe en woon onder 'n volk wat onrein van lippe is;” Jesaja 6:5

ONTSTELD?

Ontstel sonde jou nog? Maak dit jou hartseer en kwaad? As dit nie die geval is nie, moet jy ernstig selfondersoek doen of jy self al die genade van God aanvaar het. Of jy self al vergifnis en bevryding van sonde beleef het. Daar is niks mooi of positief in sonde nie! Ons durf dit nie ignoreer nie, ons durf nie daaroor grappe maak nie! Ons moet dit tog net nooit gewoond raak nie...

MERK VAN DIE DIER


Baie mense is bang vir die merk van die dier. Die eintlike vraag moet wees : "Het ek God se merk? God se merk is presies die teenoorgestelde as die merk van die dier. Die merk van die dier is kompromie- die 666 op die voorkop en op die hand - dink soos die wêreld, doen soos die wêreld. God se kinders wat sy merk dra is die wat NIE kompromie met sonde maak nie, maar daaroor treur, sug, ontsteld en verontwaardig is!

Ontstel sonde ons nog? Maak dit ons nog seer as God se wette vertrap word en sy liefde geminag word? Net ’n praktiese vraag... As sonde jou met afgryse vervul hoe kan jy dit geniet om daarna in die sepies te kyk? Hoe kan jy dit geniet op plekke soos die dansbaan en drinkpartytjies waar sonde uitgestal en gevier word? As ons nie ontsteld is oor sonde nie, is daar net een gebed wat ons moet bid : “O, God skep vir my ’n rein hart!” Psalm 51 Kom ons maak dit ons gebed vir die nuwe jaar! Mag ons die erns van sonde besef en daarvan bekeer. 

Kom ons vlug met ons sonde in berou na Jesus. Sodat Hy ons kan merk met die Heilige Gees... dan alleen is ons veilig teen die oordele van God!

Maandag 03 Januarie 2022

Dis amper dag – word wakker!

- die boodskap wat 'n bandelose jongman tot sy sinne geruk het, en wat elkeen van ons nodig het om weer te hoor...

Elke minuut, elke dag, elke jaar wat verby is bring ons nader aan die groot en heerlike dag van Jesus se wederkoms. Dis die dag van ons finale verlossing. Besef jy die implikasies daarvan? Maak dit jou opgewonde? Raak dit jou gedagtes en leefstyl en beplanning?

Paulus praat hier in Romeine 13:11-14 met mense wat reeds God se kinders is – “ja, ons verlossing is nou nader as toe ons tot geloof gekom het.” En dis hierdie kinders van God vir wie hy nou aanmoedig om wakker te word. (11a) 


Hier is ‘n dringendheid in Paulus se spraak. Mense daar is nie nou meer tyd vir sluimer en slaap nie! Word wakker, staan op! Inderdaad, kinders van God, ja mense wat waarlik die verlossing in Jesus beleef het, word maklik slaperig, lui, laks en lam! Die simptome daarvan is kompromie met sonde… “Ag dit en dat is darem nie so erg nie! Ag ons hoef darem nie so streng en eng te wees nie…” en dan begin ons saamdoen met die sondige wêreld rondom ons. Dis egter nie net verkeerde dinge wat ons doen nie, maar ook sondes van versuim – dinge wat ons nalaat… ons raak meegevoer deur die partytjie en vermaaklikheidsgees van hierdie wêreld, deur die groot afgod van “entertainment” en dit stomp ons af en bederf ons verlange na God en sy dinge– ons begin die Woord en gebed en die gemeenskap van die gelowiges afskeep. Kyk maar dis die dinge wat menige Christen se val voorafgaan. Dis die gevaartekens… "ag, ek is nou nie lus vir die Bybel nie, nie lus vir ware gebed nie, nie lus vir die erediens nie…"

DRIE TYE

Paulus herinner ons – die finale verlossing is voor die deur! Die Bybel praat in drie tye oor die verlossing van God se kinders –





Verlossing is iets wat reeds afgehandel is, soos  ons dit kry in Efesiërs 2:8; 











Verlossing is iets wat nou besig is om te gebeur soos 1 Korintiërs 1:18 dit stel.




 









Verlossing is iets wat nog in die toekoms sal gebeur volgens Romeine 5:9.






DRINGEND BELANGRIK

Paulus herinner ons. “Die nag het reeds ver gevorder; dit is amper dag.” (12) Dis ‘n metafoor wat Paulus gebruik om dit onder ons aandag te bring dat hierdie huidige bedeling op hierdie aarde nie vir altyd gaan duur nie. Hierdie wêreld met sy sondeduisternis en ellendes gaan nie vir altyd aangaan nie. Die finale en heerlike voltooiing van ons verlossing kom al hoe nader! Hierdie feit moet julle laat wakker skrik. Hierdie feit moet ons leefstyl laat verander. Ons lewens moet pas by die dag wat aan die kom is. Die gewoontes en lewenswyse van die nag moet ons van ontslae raak. Kies teen die duisternis, kies vir die lig. Ja en onthou dit behels ‘n stryd. Maar ten spyte van hierdie stryd moet ons ‘n lewe leef wat by die daglig van Jesus se heerlikheid en verlossing pas. En dan raak Paulus baie prakties. Hy noem konkrete dinge wat deel is van die duisternis en glad nie meer pas by ‘n kind van die lig nie. Dis baie aktuele dinge. Destyds en nog steeds. (13)





Dis drie groepe van sondes wat hy hier noem. 

Eerstens - gefuif en dronkenskap – dis sonde van selfsug en gebrek aan selfbeheersing. Dis ‘n meesleuring deur die vermaak en plesier van die oomblik – ‘n verslawing aan “entertainment.” Wilde drink partytjies en uitspattigheid. 

Tweedens - “ontug en losbandigheid.” Dit gaan oor alle vorme van sedeloosheid en seksuele losbandigheid. Dit skyn mos die hoogste ideaal en norm van ons tyd te wees – doen als waartoe jou luste jou lei. Hoerery is maar reg. Daar is geen respek vir God se ordes oor die huwelik en reinheid nie. Dis ‘n goedkoop bandelose rondgefladder van een persoon na die ander. Die geboorte van buite egtelike kinders word selfs toegejuig op sosiale media! Die opperste vorm van rebellie teen God se wette en die aakligste vorm van selfsug. 

Derdens. “rusie en afguns” Onmin en gevegte tussen mense. Dis alle vorme van liefdeloosheid wat uit harte van haat en jaloesie opborrel en jou medemens skade aandoen. Dis alle vorme van geweld – van skinder en minagting tot openlike vyandskap en moord! 

Al hierdie voorbeelde in Paulus se lys vorm deel van die domein van die duisternis! En al hierdie sondes kom neer op ‘n mislukking van egte liefde, die oortreding van die liefdesgebod teenoor jou medemens! Paulus verwys in die voorafgaande gedeelte na die liefdesgebod. (10) 


Al hierdie dinge kom neer op ‘n flagrante oortreding van die liefdesgebod. Wie homself aan hierdie sondes skuldig maak, wys dat hy nie omgee vir sy medemens nie en dus ook nie omgee vir God nie.






TREK JESUS AAN!

Paulus stel teenoor hierdie bose lewe ‘n heerlike alternatief. (14a) “Beklee julle egter met die Here Jesus Christus.” Dis ‘n kragtige metafoor vir radikale toewyding – trek daagliks vir Jesus aan! Dis ‘n daaglikse assosiasie en identifisering met Jesus. Wees soos Jesus. Dis meer as net ‘n eenmalige besluit – dis ‘n daaglikse volg van Hom, dis ‘n daaglikse bekering om te kies om Hom te gehoorsaam, dis ‘n daaglikse wandel met Hom en die opsoek van sy teenwoordigheid. Dis ‘n lewe van oorgawe aan Jesus, wat daaglikse dissipline behels. En let op hierdie navolging van Jesus gaan saam met ‘n baie sterk keuse teen alle vorme van sonde! (14)


VERKLAAR OORLOG TEEN ALLE SONDE!

Moenie ruimte vir enige sonde in jou lewe maak nie! Moet op geen manier eers vir die moontlikheid van sonde beplan of voorsiening maak nie. Gun die sonde geen duimbreedte nie. Reeds as sonde net by die voorhekkie verskyn, jaag dit weg dan sal dit nooit in jou huis en lewe kom nes maak nie! Bewaar jou gedagtes, wees versigtig wat jy luister, kyk en lees… Roei elke geringste teken van sonde uit! 


Mag ons vers 14 onthou as ‘n duidelike koerswyser vir die nuwe jaar.
Mag hierdie oproep van die apostel Paulus ‘n kragtige verskil in jou lewe maak, net soos dit baie eeue vantevore gelei het tot ‘n lewensveranderende bekering by die latere beroemde kerkvader Augustinus! Hy was ‘n regte bandelose rokjagter maar hierdie woorde het hom tot besinning geruk en hy het ‘n nuwe mens geword!


Ware voorspoed en seën vir die nuwe jaar!