BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Verbondstekens. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Verbondstekens. Wys alle plasings

Donderdag 09 Augustus 2018

HUIL JESUS OOR JOU?

BENUT BETYDS DIE GENADE, WANT GENADETYD KAN VERBYGAAN! 


Jesus huil. Die Seun van God is in trane. Waarom? Ons vind hierdie gebeurtenis in Lukas 19:41-45. Ons is hier by die intog van Jesus in Jerusalem m.a.w. kort voor sy gevangeneming en kruisiging. Huil Jesus oor die pyn en dood wat vir Hom wag? Is Jesus hartseer oor die afskeid wat Hy moet neem van sy moeder, sy dissipels? Nee, Jesus huil oor die goddelose stad Jerusalem. Wie is hulle? Afgodsdienaars, rowers, heidene? NEE! Verbondsmense, tempelgangers en Skrifkenners aan wie die beloftes van genade behoort. 

“Toe Hy nog nader kom en die stad voor Hom sien, het Hy daaroor gehuil en gesê: "As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor.” (41,42) Jesus is bitterlik bedroef, want hulle het die tyd van genade, die geleentheid tot redding by hulle laat verbygaan. Hulle was blind vir die genadekans wat na hulle kant toe gekom het. 

GENADE ONBESKRYFLIK GROOT SOOS BELOOF IN DIE VERBOND 

Wat ’n heerlike ding is genade tog nie! Genade beteken God kom besoek ons met onverdiende guns alleen. “En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie.” (44 OAV) Hy besoek ons om ons te red. God besoek vir Jerusalem en ons om redding te bring. Jerusalem het hierdie kans laat verbygaan. God het genade beloof in die verbond met Abraham, Isak en Jakob. Dis hierdie genadeverbond wat God tot aksie laat oorgaan het om die volk destyds uit Egipte te red. “Die jare het verbygegaan, en die koning van Egipte het te sterwe gekom, maar die Israeliete het nog steeds gesug en gekreun onder die swaar werk. Hulle geroep om hulp het tot God opgegaan. God het hulle gekerm gehoor en aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob gedink. Hy het die nood van die Israeliete gesien en dit ter harte geneem.” (Eksodus 2:23-25) 

As ons die lofsang van Maria lees dan sien ons, God se verbondsbeloftes is ook die rede hoekom Jesus deur God gestuur is! “Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekom deur te dink aan sy beloftes van ontferming soos Hy dit toegesê het aan ons voorvaders, aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid." (Lukas 1:54,55) 

Jesus se koms na hierdie wêreld, sy menswording, maar ook sy kruis en opstanding is ‘n vervulling van die verbondsbeloftes aan Abram. 

God besoek ons ook in genade deur Jesus. Hy sê vandag vir jou: “My Seun het al julle sonde op Hom geneem. Hy het die straf gedra. Hy het alles volbring. Hy het alles gedoen wat nodig was om vergifnis te bewerk. Hy het die volle prys betaal.” Hierdie genade maak ‘n appèl op elkeen wat hoor... 

Genade nooi ons : “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” (Matteus 11:28) 

Genade verseker ons : “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.” (Johannes 6:37) 

God se genade is volledig en heerlik. Die slegste mens wat bestaan kan dit nou op hierdie oomblik ondervind. Miskien is jy tans betrokke in ‘n buite egtelike verhouding, besig met bedrog, vol haat en bitterheid of dalk net ’n klipharde onbekeerde vorm godsdienstige.... Genade is nommerpas vir jou! As jy God se geskenk in Jesus aanvaar en Hom dank vir sy dood, staan jy op van jou rekenaarskerm of selfoon as ’n mens wat in God se oë nog nooit gesondig het nie! Doen moeite en gaan lees Hebreërs 8:12

Genade skenk volkome vergifnis en maak van rebelle kinders van God! 

Dis hierdie genade wat die vuil besetene van Gadara wat tussen die grafte gewoon het nuut gemaak het. 

Dis deur God se genade dat die Samaritaanse vrou met haar vyf mans van die verlede en sondige saamblyverhouding, lewende water by Jesus gekry het 

Dis deur genade dat die skelm Saggeus ‘n kind van Abram geword het. 

Genade is oneindig in omvang! Kom ons sê dit weer - vir die ergste sondaar op aarde kan ek nou verseker : “Glo in Jesus en jy sal gered word!” 

GENADE KAN MISGELOOP WORD 

Die genade aanbod is egter beperk in tydsduur - Dit kan onbenut verbygaan, misgeloop word, verpas word! Jesus self wou so graag dat Jerusalem se mense God se genade ontvang. Hy het ‘n hart vir hierdie stad gehad. Hoor die versugting van sy hart... "Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie!" (Lukas 13:34) 

God se genadetyd kan tot ‘n einde kom en dan begin sy onafwendbare oordele. Baie mense glo dit nie – “God is mos liefde.” Die Bybel leer duidelik dat diegene wat sy genade aanhou verwerp onder sy oordele gaan deurloop. 

Dit was letterlik die geval met Jerusalem - Jesus kondig Jerusalem se oordeel aan : “Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande vestings teen jou oprig en jou omsingel en jou van alle kante beleër. Hulle sal jou met die grond gelyk maak en jou inwoners uitwis. Hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die betekenis van die tyd toe God gekom het om jou te red, nie besef het nie." ( 43,44) Dit het toe gebeur...

Die verbondsteken aan hulle liggame het nie die Romeine se swaarde gekeer nie! Hulle bevoorregte status het nie God se oordele afgeweer nie! 

Deur die eeue heen het dit gebeur dat God se genadetyd verbygaan en dan kom sy oordele. Dit het gebeur tydens die sondvloed, dit het gebeur met Sodom en Gomorra, met Israel en met Juda .... menseslagtings, ballingskap... Ja, Jesus se oordeelswoorde oor Jerusalem is letterlik vervul in 70nC. Dit was 'n afgryslike slagting en ongekende verwoesting...

Die punt is : Daar kom ‘n tyd wanneer God sê : “Genoeg is genoeg!” Al die oordele, oordele, rampe in die geskiedenis wys heen na die werklikheid van Goddelike oordeel. Dis als ’n voorfilm vir die groot finale oordeel. 

Genadetyd kan verbygaan! Ons moet mense ook hierteen waarsku, maar ons moet dit nie met ’n harde selfgeregtigheid doen nie, maar met bewoënheid soos Jesus. 

KLIM OP! 

Geliefdes ons bly geestelik gesproke in ’n beleërde stad. Die stad se naam is hierdie sondige wêreld. God se skrikwekkende toorn het die stad reeds omsingel. Hy staan gereed om die goddelose wêreld finaal te oordeel en vir ewig te straf. Maar op hierdie oomblik staan ’n trein gereed. Dis ‘n GENADETREIN! Dis die trein van God se verbondsbeloftes. Dis die laaste en enigste ontvlugting uit hierdie verdoemde stad. Die trein se naam is eintlik JESUS. Het jy al opgeklim? Voor Hom gebuig? Sy beloftes geglo en toegeëien? Talm jy? Huiwer jy nog? Waarom langer wag? Die trein kan enige oomblik vertrek. Dan is die laaste kans vir ewige verby... Dan kan die verbondsbeloftes nie meer troos bring nie..

KLIM JY?


Vrydag 04 November 2016

NET EEN VRAAG…

- KEN JY GOD?


Ken jy God? Ken jy Hom regtig? Dis die belangrikste vraag in jou hele lewe. 
Waarvoor is ons geskape? Om God te ken. 
Wat is die grootste doelwit wat jy vir jouself kan stel? Om God te ken. 
Wat kan jou nooit verveel nie? Om God te ken. 
Wat is die beste ding in hierdie lewe, wat maak regtig saak, wat bring die grootste vreugde en vergenoegdheid? Om God te ken. 

Dis tog die duidelike implikasie van God se boodskap hier in Jeremia 9:23,24 wat lees : “So sê die Here: Die wyse man moet nie in sy wysheid roem nie, die soldaat nie in sy krag nie, die ryk man nie in sy rykdom nie. Laat hom wat wil roem, daarin roem dat hy insig het en My ken. Ek is die Here. Ek bewys liefde, reg en geregtigheid op die aarde, want dit is wat Ek wil hê, sê die Here.”

NIKS BELANGRIKER

Jy kan slim wees (met ‘n Dux toekenning agter jou naam), sterk wees (ysterman of dalk die bes geboude ou in die gym), ryk wees, in alle opsigte suksesvol wees, maar as jy God nie waarlik ken nie, beteken dit als niks. Dan is jy soos die ryk dwaas in die gelykenis waarvan God gesê het, “so gaan dit met iemand wat nie ryk is by God nie.” 

Kom ons vra dit so: Wat is die lewe? Om God te ken. Wat is die ewige lewe? Om God te ken. 

In Johannes 17:3 sê Jesus self : “En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.” 

Dis duidelik : 

Om God te ken is vir nou en eendag die heel grootste en verhewe saak waarmee ek en jy kan besig wees!

WAT STAAN MY TE DOEN?

Begeer jy om God te ken? En hoe en waar gaan ons Hom regtig leer ken? 
Die eerste stap is sekerlik om eerlik te besef, dat ons Hom sleg ken, eintlik glad nie ken nie. Ja ons is dalk besig met godsdienstige dinge, maar ons ken Hom so sleg. Daarom is daar so min blydskap oor Hom, so min entoesiasme, so min liefde vir Hom. Soveel vrees, onsekerheid...

Nou wat beteken dit om God te ken, prakties? Is dit ‘n spesiale gevoel? Is die koue rillings wat langs my ruggraat afhardloop? Is dit soos ‘n soos hallusinasies of visioen? Moet ek ‘n stem hoor? Is dit ‘n diep intellektuele ervaring, ingewikkelde stellings wat ek moet kan verduidelik?

Kom ons begin hier... Wat beteken dit om ‘n ander persoon te ken? Wel, “ken” kan op verskillende vlakke wees, jy kan bloot van iemand gehoor het, jy kan iemand al vlugtig ontmoet het, jy kan iemand so van sien ken en af en toe ‘n paar woorde wissel, daar is baie grade van “ken”. Om God waarlik te ken is iets meer as om net van Hom te weet...

Om God te ken is om sy karakter te ken, Hom volkome te vertrou en in ‘n verhouding met Hom te staan, ‘n verhouding wat kosbaar, diep, innig, verhewe is bo enigiets anders op aarde. Om God te ken, die verhewe almagtige God, skepper van hemel en aarde, ver bo ons verstand en denke is natuurlik baie meer kompleks as om ‘n medemens te leer ken. 

Daar is ‘n groot afstand tussen ons en Hom: 

God is Gees; ons is net mense van vlees en bloed. 

God is onsigbaar en orals; ons is net beperkte mense met beperkte sintuie. 

God is ewig; ons is net tydelik.

God is heilig en volmaak; ons is sondig, boos en gebroke. 

Dis hier waar die groot probleem lê. Ons lees ook in Jeremia 9, God is ‘n God van liefde, reg en geregtigheid. Maar net verder aan lees ons : "Daar kom dae, sê die Here, dat Ek selfs almal wat besny is, gaan straf, of dit nou Egipte, Juda, Edom, die Ammoniete of Moab is, of die woestynbewoners wat hulle koppe aan die kante kaal skeer, want al hierdie volke is tog maar onbesnede, en die hele Israel is onbesnede van hart, hulle is ontrou aan My". Hy is dus ook ‘n God wat straf. Hoe kan ons hierdie God leer ken en met Hom in ‘n verhouding staan, want ons liefdeloos, vol onreg en onregverdigheid. Gaan sy straf ons dan nie verteer nie?

Weereens : Hoe kan ons hierdie hoë verhewe en heilige God leer ken? Wel dis baie duidelik, ons is afhanklik van Hom dat Hy Homself aan ons openbaar. Hy moet as’t ware afdaal na ons. Hy moet sê : Hier is ek! Kom leer ken my!

HY KOM EERSTE NA ONS

Weet jy, dis wat God doen. Hy kom na ons en Hy kom na ‘n mens baie persoonlik. Hy kom knoop ‘n verhouding aan. Hy begin die verhouding deur eerste te praat. “Adam, waar is jy” 

Dis soos dit vandag nog gebeur. Die almagtige God kom op ‘n dag na jou as ‘n geringe, ellendige sondige mensie en begin met jou praat. Miskien was jy al jare lank deel van die kerk, miskien baie getrou met al jou godsdienstige pligte, miskien baie kennis van die Bybel en tog sonder ware kennis van God..., maar dan op ‘n dag begin iets in jou hart roer. God praat met jou deur die Woord en die Heilige Gees, ook deur die sakramente. Soos Hy met jou begin praat voel jy baie vuil en laag en klein. Jy besef ek is soos een van die Israeliete waarvan die Here hier praat – “onbesnede van hart” (25) Ek deel wel in die uiterlike verbondstekens – ek is gedoop en gebruik die Nagmaal, maar my hart is ver van God af! 

God die Heilige Gees praat met jou oor jou sonde, skuld, rebellie, dwaasheid, hardkoppigheid, oor ‘n lewe wat vermors is in diens van die duiwel... Jy begin sien jouself as hopeloos en hulpeloos. En tog ten spyte van dit alles vertel die Gees jou dat God jou Verlosser, Vriend en Vader wil wees. Dat Hy van jou ‘n verbondsgenoot, meer nog, ‘n kind wil maak.

Om God te ken behels dat ons begin ernstig luster na SY Woord soos die Heilige Gees dit vir ons duidelik maak en van toepassing maak in ons harte.

Ons SIEN God se karakter raak – vol liefde, reg en geregtigheid!
Ons AANVAAR God se uitnodiging tot oorgawe en vertroue. Ons ONDERWERP ons aan sy wense en gebooie.

Ons word bly oor Sy liefde wat Hy aan ons bewys het, dat Hy ons nadergetrek het as sy vriend, as sy kind.

DIT GAAN ALS OOR JESUS

Anders gestel, om God te ken is om erns met Jesus te maak. Hy is die fokus van die Woord, Hy is immers self die lewende WOORD! As ons ernstig na die Woord luister, hoor ons hoe die Woord ons van Jesus vertel en die Heilige Gees ons oë open om Jesus raak te sien.

Ons SIEN God se karakter raak in Jesus – Jesus het deur Sy lewe en sterwe vir ons gewys hoe lyk God se liefde en geregtigheid. Dink aan Saggeus, die Samaritaanse vrou, Levi die tollenaar...verhale vol van vergifnis en liefde... (kliek op JESUS WYS VIR ONS GOD

Die Gees maak my hart sag en ek AANVAAR God se uitnodiging, om in sy Seun Jesus te glo en alleenlik op Hom te vertrou.

Ek ONDERWERP my aan Jesus se opdragte. Ek begin ‘n lewe van dankbaarheid en blydskap leef omdat Jesus vir my aan die kruis prakties gewys het wat liefde is, my skuld uitgewis het en die skeiding tussen my en God weggeneem het.

Om God te ken en in ‘n verhouding met Hom te staan, gaan daaroor dat ek waarlik Jesus Christus deur die geloof ken. Dat ek in die geloof sal volhard... en in blydskap 'n gehoorsame lewe uit dankbaarheid sal lewe!

(Volgende keer meer oor die WONDERWERK wat nodig is om Jesus raak te sien en so God te leer ken)

[Erkenning aan J.I. Packer - KNOWING GOD]