BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket People's Pleaser. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket People's Pleaser. Wys alle plasings

Donderdag 18 Oktober 2018

“KRY ‘N LEWE!”

Wat bedoel jy? En wat bedoel Jesus? 



Ons het gesien Jesus self is God se finale profeet... (Kliek – Esegiël) Jesus het die waarheid onverdund en onbeskroomd (en met liefde!) aan ‘n stukkende mensdom gebring. Wat het Jesus oor geluk, geseëndheid, sukses, en saligheid gesê? Jy sien, almal het ons idees wat geluk, vervulling en sukses behels. Dikwels hoor mens hoe vir iemand gesê word : “Kry ‘n lewe!” Wat bedoel mense hiermee? Wees suksesvol? Kry rigting en geniet jou lewe? Maar wat word nou regtig daarmee bedoel? Elkeen het sy eie idees.... 



Jesus het geluk en lewensvervulling heeltemal geherdefinieer… Nee, dis te sag gestel. Jesus het roekeloos alle denke wat die wêreld oor geluk en sukses behels radikaal omgekeer! So grondig en ingrypend dat net iemand wat inderdaad weergebore is, nuut gemaak is, dit sal kan verstaan en waardeer. Nêrens seker duideliker as in Matteus 5-7 nie. Jesus word geteken as die nuwe Moses wat die berg bestyg en die grondwet of grondbeginsels van God se koninkryk afkondig. Kom ons kyk oorsigtelik na MATTEUS 5:3-12. Hierdie sogenaamde saligsprekinge is eintlik die opsomming en inleiding daarvan. En baie belangrik, jy sal agterkom, dis presies die teenoorgestelde van wat die gemiddelde mens dink lewensgeluk is. Jesus se siening oor sukses bots direk met die algemeen gangbare opvattings van ons dag...

Die wêreld sê : “Gelukkig is die wat selfversekerd is, goed voel oor hulleself en hulleself as wenners beskou en bemark.” (Dis terloops die raad wat jy by die lewensafrigters sal kry!)
Jesus sê : "Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” (“Salig is die wat arm van gees is..." OAV) Gelukkig is diegene wat weet dat hulle God nodig het. Gelukkig is die mense wat hulle geestelike bankrotskap besef! Juis aan hulle behoort die koninkryk van God.* Dramatiese waarheid! Die drumpelvereiste, die basiese vertrekpunt vir diegene wat die koninkryk wil beërwe is juis om te besef ek kwalifiseer nie, ek kan dit nie op my eie maak nie. Ek het Jesus Christus nodig! 

Die wêreld sê : “Glo in jouself!” 
Jesus sê : “Erken jou bankrotskap en afhanklikheid.” 

Die wêreld sê : Gelukkig is die wat altyd lag en positief is! 
Jesus sê : “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.” Verbysterend, kan dit wees? Wat bedoel Hy? Net diegene wat stukkend is en huil oor hulle eie sonde en gebrokenheid, net diegene wat huil oor die ramp van ‘n wêreld sonder God, sal vertroosting by God vind! Net hulle trane sal in die nuwe Jerusalem afgevee word! 

Die wêreld sê : Gelukkig is die vegters, wenners en ysters! Gelukkig is die ouens wat op ander kan trap met hulle spierkrag, geldmag en invloed. Die wat kan dreig, omkoop en afpers. 
Jesus sê : “Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.” Dit gaan hier oor ‘n houding teenoor ander. Terloops dis juis die groot kenmerk wat Jesus van Homself uitlig... “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed." Matt 11:28,29. Hulle sal die nuwe aarde beërwe ... Net hulle sal ewige wins behaal! Radikaal anders as wat die wêreld dink... Die wenners is nie die Napoleons, Hitlers en Stalins nie, ook nie die bokskampioene en rugbylegendes nie, maar God se sagmoedige kinders wat dikwels deur ander vertrap word en die oordeel aan Hom oorlaat... 

Die wêreld sê : Gelukkig is die wat geluk najaag en duidelike doelwitte van sukses nastreef. 
Jesus sê : “Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is (geregtigheid OAV), want hulle sal versadig word.” Gelukkig is die wat ‘n passie het om te doen wat God wil hê! Hulle sal versadiging en vervulling vind. 

Die wêreld sê : “Kry ‘n lewe!” 
Jesus sê : “Soek geregtigheid!” 

Die wêreld sê : “Om gelukkig te wees moet jy op jou regte staan, hard wees, jy moet wraak neem en almal terugkry.” 
Jesus sê : “Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.” Besef wat jyself van God nodig het... genade en barmhartigheid en betoon dit aan ander! Niks is meer onvanpas by ‘n volgeling van Jesus as onbarmhartigheid en hardvogtigheid nie... ‘n Lewenswyse van genade teenoor ander is ‘n bewys van iemand wat self ‘n ontvanger van Goddelike genade is. Gelukkig is jy as jy so iemand is! 

Die wêreld sê : “Image is wat tel!” (Jy moet 'n kar ry wat jy eintlik nie kan bekostig nie en ja, gewone nommerplate is vir jou te alledaags, dit moet persoonlike nommerplate wees...!)
Jesus sê: “Die hart is wat tel, ‘n rein hart!” “Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.” Die mens met ‘n rein hart kry die grootste beloning denkbaar, hy en net hy sal God sien. Hy sal die teenwoordigheid van God self beleef nou en tot in alle ewigheid! 

Die wêreld : Kyk na die IMAGE! 
Jesus : Kyk na die HART! 

Die wêreld sê : “Om gelukkig te wees moet jy jou teenstanders wen. Roei hulle uit! Wees slimmer en sterker as hulle!” 
Jesus sê: “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.” Vredemakers beteken nie hier dat ons bemiddelaars of diplomate moet wees nie, maar dat ons in die eerste plek self vrede sal nastreef met almal. Ook met diegene wat met ons verskil. God is juis die Groot Vredemaker! Hy het juis Jesus gestuur om vrede tussen ons en Hom te maak. As ons vredemakers is, vertoon ons ons Vader se karakter, dan is ons waarlik sy kinders. 

Die wêreld sê : “Sorg dat jy populêr is en dat almal van jou hou. Wees ‘n manteldraaier, ‘n people’s pleaser!” Die wêreld se siening is hoe meer “likes” jy kan kry op Instagram hoe beter. 
Jesus sê: “Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” ("ter wille van geregtigheid" OAV) Hier kom die kontras tussen die wêreldse denke en Koninkryksdenke van Jesus die sterkste na vore. In Lukas 6:22,23 en 26 word dit nog meer drasties beklemtoon! “Geseënd is julle wanneer die mense julle haat en julle verstoot en uitskel en julle naam vermy soos iets wat sleg is, alles ter wille van die Seun van die mens. Wees bly op daardie dag en spring rond van vreugde, want vir julle is daar groot beloning in die hemel. Hulle voorvaders het immers met die profete net so gemaak.” Maar “Ellende wag vir julle as al die mense goed van julle praat. Hulle voorvaders het immers met die vals profete net so gemaak."

Hier in vers 10 is die klimaks van die Saligsprekinge. Hierdie een kry die meeste klem en word daarom ook verder uitgewerk in vers 11 en 12. "Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg." Hier vind ons ook die geheime sleutel vir die regte verstaan van al die saligsprekinge. Wat is dit? “ter wille van My” Baie belangrik - Ek is nie geseënd as ek ongewild is weens my onvriendelikheid of moeilike humeur nie. Ek is geseënd as ek ongewild is weens my lojaliteit aan Jesus! Nou eers verstaan ons ook vers 6! Om te honger en te dors na geregtigheid, is om te honger en te dors na Jesus! Hy is ons geregtigheid! Net in Hom kry ek deel aan die koninkryk! Saligheid en geluk gaan oor ‘n lojale verbintenis aan Jesus! Hierdie verbintenis sal ‘n sigbare verskil in my lewenshouding maak wat deur die wêreld as belaglik en tragies beskou sal word! 

VERSNIPPER EN VERPLETTER!

Die saligsprekinge sny baie diep! Dit versnipper en verpletter ons huidige westerse lewensbeskouing! Dit daag ons uit om weer diep na te dink oor ons lewensdoel en verstaan van lewensgeluk! Die saligsprekinge is nie maar ‘n mooi klompie morele reëls nie. Dit gaan oor Jesus. Dit vra vir my en jou of ons navolgers is van die nederige, rein, sagmoedige Jesus. Is ons bereid om radikaal aan sy kant te kom staan en die veragting en vervolging van die wêreld te verduur soos Hy? Salig is diegene wat aan Sy kant is! Dis hulle en net hulle wat ‘n "lewe" gekry het! 

*Koninkryk van God is die hooftema. Daarom die inclusio. Dit word genoem by die eerste saligspreking in vers 3 en die laaste een by vers 10. Vers 10 is die laaste een en word net verder uitgebrei in vers 11 en 12.


Kleine Marula/Dikbas - naby Tsumeb

Vrydag 17 Oktober 2014

IS JESUS “COOL”?

- Nee, as Beeld van God is Hy ontsagwekkend heilig anders en pas glad nie in by die sondige mens se misplaaste verwagtings nie! 


By geleentheid het die mense van Nasaret vir ‘n kort rukkie gedink “Jesus is cool”, maar spoedig daarna het Hy hulle so kwaad gemaak dat hulle Hom van ‘n krans wou afsmyt. Toe Hy hulle onverdund die waarheid rondom God se soewereine genade vertel, wou hulle Hom vermoor! Lees gerus die gebeure in Lukas 4:14-32.

God is anders as die mens. Juis omdat HY GOD IS! Hy is volmaak liefdevol, maar terselfdertyd heilig en regverdig. Jesus is die sigbare bekendmaking van God se karakter en Hy is vol genade* én waarheid! (Johannes 1:14) God pas nie by ons idee van ‘n bloot sentimentele liefde sonder enige norme en beginsels nie! Die heerlikheid van Jesus Christus lê onder andere daarin dat Hy altyd uit pas is met die wêreld, maar juis daarom altyd relevant vir die wêreld is. “Uit pas” – beslis nie “cool” nie! As Hy netjies ingepas het sou Hy van min waarde gewees het. Mense probeer mos Jesus mak maak om by hulle eie sondige begeertes te pas... Die rugbymalles wil graag hê Jesus moet help dat hulle span wen, die politici eis Jesus op vir hulle siening en doelwitte (Dis hoekom selfs Malema die vals profeet TB Joshua gaan besoek het), die geldgieriges glo Jesus gaan hulle help om geld te maak... Ongetroudes wat saambly en vroom vertel hoe hulle elke aand saam hande vashou en bid voor hulle in die bed spring, probeer Jesus inspan vir hulle sondige begeertes... Daar is net geen perke aan die boosheid waarvoor mense hulle selfgemaakte “Jesus” wil aanwend nie... ‘n Jong dame het al selfs beweer dat Hy haar gelei het om ‘n skoonheidskompetisie te wen! Watter belaglike snert! Sal Jesus wat so sterk gewaarsku het teen wellus met die oë, ‘n jong meisie aanmoedig om met haar skrapse uitrustings haarself as ‘n objek van wellus op verhoë uit te stal? (Kliek op SKOONHEIDSKOMPETISIES)

Waarvoor wil jý dalk Jesus misbruik?

Daar is ‘n “harde kant” van Jesus se liefde wat veral vir ons sentimentele westerse mense aanstootlik is. Almal sê vandag : “Jesus is cool”, maar dink mooi, mense wat dunvellig is sou seergemaak gevoel het deur Jesus se snydende tong. Sy woorde was dikwels amper gewelddadig. Natuurlik was dit nie die enigste manier waarop Hy gepraat het nie. Ons het reeds gekyk na die rykdom van sy barmhartigheid, na sy geduld en vriendelikheid en vergifnis. Sy liefde is oneindig eg en buitengewoon groot. Juis daarom dat sy harde woorde nie sommer afgemaak kan word as onbeheerste norsheid of woede uitbarstings nie. Wat ons in die bytende taal van Jesus kry is ’n vorm van liefde wat juis gepas is in die wêreld van korrupsie, dooie harte en rebellie teen God. (Nasaret se mense moes tot hulle ontsteltenis hoor dat God se genade nie inpas by hulle eie volksvoorkeure nie! Hulle kon dit nie sluk toe Jesus hulle herinner dat God gekies het om ‘n heidense weduwee en ‘n heidense generaal uit te kies vir sy guns bo baie Israeliete nie!) 

Jesus se harde woorde van waarskuwing maak juis sin en is juis nodig in ‘n wêreld wat op pad is na ‘n skrikwekkende oordeel en ‘n ewige hel! Kom ons luister na die skokkende hardheid van Jesus se genade. Dit het mense in sy eie tyd verwonderd laat staan. Selfs sy vyande het erken dat hy nie bekommerd was oor andere se goedkeuring nie. “Hulle vra Hom toe: "Meneer, ons weet dat u in u prediking en onderrig regsinnig is. U let nie op die aansien van persone nie. U is getrou aan die waarheid, en so maak u die wil van God bekend.” (Lukas 20:21) Jesus was nooit ‘n people’s pleaser nie! 

Toe Jesus sy openbare optrede in die sinagoge in Nasaret begin het, het almal aanvanklik goed van Hom gepraat (22), maar toe Hy eers onverskrokke teen die grein van hulle selfgesentreerde verwagtings ingaan (24-27), was daardie selfde mense “woedend” (28) en het probeer om permanent van Hom ontslae te raak. Jesus pas by niemand se kortsigtige sondige selfsugtige verwagtings in nie – daarom raak baie mense net vir ‘n tydjie opgewonde oor Hom, maar as Hy op ons tone trap draai ons teen Hom. Soos die skare wat eers Hosanna skreeu, maar nie lank daarna nie : “Kruisig Hom” 

Die heerlikheid wat Jesus van God vertoon is ook vol waarheid, daarom draai Hy nie doekies om die skokkende toestand van die sondige mens te beskryf nie. Toe mense Hom vra vir ’n teken was sy reaksie : “ ’n Slegte en afvallige geslag wil ’n teken hê” (Matteus 16:4) Toe sy eie dissipels nie ’n demoon kon uitdryf nie, trap Hy hulle uit met : “Ongelowige geslag, hoe lank moet ek nog by julle wees?” (Markus 9:19) Sy reguit taal moes mense van woede laat stik het!  “Julle is soos wit geverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerhede is.” Vir verbondsmense : “Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen.” (Johannes 8:44) En selfs toe Jesus se eie toegewyde dissipel Petrus heldhaftig geprotesteer het teen Jesus se lydensweg, het Jesus hom streng bestraf : “Moenie in my pad staan nie Satan!....” (Matteus 16:23) Jesus as beeld van God, die God van waarheid, sluit ook die waarheid van die oordeel en die hel in. Hieroor was Jesus uitgesproke eerlik. Niemand in die Nuwe Testament het meer oor die hel gepraat as Hy nie. Maar dis juis genade en opregte liefde wat Hom daartoe gebring het. Jesus geen kwesbare gevoelens gespaar om mense teen die hel te waarsku nie. (Matteus 8:12; 13:49-50; 22:13;25:30 en Markus 9:43,48) In die lig hiervan verduidelik Jesus met skrikwekkende logika dat blote aardse gevare - soos om doodgemaak te word - niks in vergelyking is met die bedreiging van die hel nie. “Aan julle My vriende, sê Ek : Moenie bang wees vir die wat die liggaam doodmaak en daarna niks verder kan doen nie. Ek sal vir julle sê vir wie julle moet bang wees : vir Hom wat mag het om, na die dood, in die hel te werp. Ja, Ek sê vir julle, Hom moet julle vrees.” (Lukas 12:4-5)

Glo jy in God? Glo jy in Jesus as die een wat God kom openbaar het? Dan moet ons die volle waarheid glo. Met eerlikheid wys Jesus ons die weg na die hemelse heerlikheid, of mense daarvan hou of nie! Rym hierdie waarhede met die GOD VAN LIEFDE? Ja! As dit dalk vir jou nie klink na die Prins van Vrede nie, onthou net, sy doel is nie vrede met ONGELOOF en SONDE nie. Dis vyande wat vernietig moet word, anders vernietig hulle ons. Daarom noem Jesus ons probleme by die naam en roep mense op tot bekering! Hy spel die konsekwensies ondubbelsinnig uit as ons ons nie bekeer nie.

Wie kan hierdie reguit boodskap vat? Wie kan na hierdie dinge luister? Wie kan dit verstaan? Die mens kom van nature in opstand teen hierdie feite! Jy kan die waarheid van God net aanvaar as Hy dit self aan jou openbaar! “By daardie selfde geleentheid het Jesus deur die Heilige Gees dit uitgejubel: "Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.” (Lukas 10:21) Die nederiges, die leerbares, die gebrokenes, die onderdaniges, die eenvoudiges - hulle sal die stem van krag en waarheid en geregtigheid en liefde hoor in die woorde van Jesus. As God my hart verander sal ek nie aanstoot neem aan Jesus se woorde nie. Ek sal juis moed skep uit die feit dat daar ten minste Iemand is wat die erns van die menslike toestand raaksien, die vyand ken, nie kompromie maak nie en praat soos ’n oorwinnende Koning en ’n groot Verlosser. HY wil ook jou Verlosser wees sodat jy Hom kan aanbid en bewonder!

GOD IS ONTSAGWEKKEND HEILIG ANDERS, JUIS DAAROM IS HY ONS EWIGE AANBIDDING WAARDIG!

(met erkenning aan John Piper se “Seeing and Savoring Jesus Christ”)



[Juis omdat God so heerlik heilig anders is, kan Hy van menslike wrakke "kunswerke" maak tot Sy eer!]

*Lees meer oor die RYKDOM VAN SY GENADE. Kliek op GOUD, DIAMANTE...


Maandag 15 Julie 2013

VALS VERBONDSVERTROUE

- voer jou na die vuur!

Johannes die Doper was vreesloos en vurig! Geen people’s pleaser nie, maar ‘n ware onverskrokke profeet, wat mens onwillekeurig herinner aan die dapper Elia van ouds! Inderdaad was daar baie ooreenkomste tussen hierdie twee wat voorkoms én boodskap betref. Duidelik en suiwer het Johannes die waarheid aan sy tydgenote bekend gemaak net soos Elia eeue vantevore. Of hulle daarvan gehou het of nie. Aan alle soorte mense, selfs ook aan koning Herodus, toe hy hom aangespreek het omdat dié, Herodias sy broer se vrou gevat het. Dit het Johannes in die tronk laat beland en uiteindelik het sy kop op ‘n skinkbord geëindig!

Johannes het aan almal die waarheid gebring. Ons hoor in Lukas 3:7-9 hoe hy die mat van valse verbondsvertroue onder die godsdienstige Jode se voete uitruk! 

7) Die mense het in groot getalle uitgegaan om deur Johannes gedoop te word. Hy het vir hulle gesê: "Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug?
8) Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek.
9) Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi."

Drie belangrike waarhede word in hierdie uitspraak onderstreep:

- Pasop vir ‘n valse vertroue. Hierdie Jode het gedink hulle saak met God is outomaties reg, want hulle was mos die nageslag van Abraham. Hulle was met ander woorde verbondskinders. Johannes sê : “Nee, nee, julle maak ‘n groot fout! Julle flous julleself!” Dit moet ons baie mooi verstaan : die regte afkoms, regte opvoeding of selfs regte Bybelse geluide is geen waarborg van redding nie. Ja, dis ‘n groot voorreg om groot te word met die verbondsbeloftes, maar ons moet reageer op die verbondseise, anders help dit niks. Die eis van die verbond is : bekeer jou! Enige kontrak (verbond) het voordele, maar ook eise en voorwaardes. As jy ‘n gesogte kontrak kry – sê nou maar om ‘n groot kompleks te bou is dit ‘n groot voorreg met baie voordele. Maar nou moet jy ook die kontrak se voorwaardes nakom, anders kry jy niks! Afstamming van Abraham (deelwees van die verbondsgemeenskap) is ‘n groot voorreg, maar nie ‘n verskoning of ‘n wegkruipplek nie. Dit stel die mens onder ‘n verpligting : BEKERING! Reeds in die Ou Testament was dit die dringende boodskap van die profete : “Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is. Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan, die slegte mens sy slegte planne. Hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees; hy moet hom tot ons God bekeer, Hy vergewe altyd weer.” (Jesaja 55:6,7) Sonder ware bekering is alle verbondsvertroue ‘n misplaaste illusie.

- Egte bekering het duidelik sigbare gevolge. Natuurlik, ons word nie gered deur selfverbeterings nie, maar deur geloof. Geloof in die Here Jesus. Maar onthou, geloof en bekering gaan saam. Bekering is ‘n “change of mind” (metanoia). My denke verander, ek besef wat ek doen is verkeerd, ek het berou, en daarom verander my doen en late. Bekering is prakties en duidelik sigbaar. Kyk na die voorbeelde in vers 10-14. Dit raak sensitiewe sake soos die houding teenoor geld en besittings! Ja, bekering maak ‘n verskil in jou eie konteks en omstandighede. Dit raak veral juis jou wortelsonde, daardie een ding of gesindheid wat so ‘n groot invloed in jou lewe het en ‘n skeidsmuur tussen jou en God vorm! Bekering is dringend noodsaaklik. Hoekom? Daar wag ‘n oordeel. (9) Hierdie dringende waarskuwing moet ons selfondersoek laat doen : is daar duidelike vrugte, bewyse dat ek ‘n bekeerde mens is? Bekeerde mense is duidelik herkenbaar – hulle leef nuwe lewens volgens God se Woord. Hulle kan wel val, maar kan nie meer soos voorheen gelukkig voortploeter in die vullis nie.

- God kan uit klippe ware kinders van Abraham maak. Wat sou Johannes bedoel met hierdie vreemde uitspraak? Dit vertel ons : As dit gaan oor kindskap van God is menslike afstamming of bevoorregting nie die deurslag nie, maar Goddelike ingryping. Dit laat mens terugdink aan die profesie van Esegiël, waar God beloof om die volk se klipharte uit te haal en harte van vleis te gee. Hierdie uitspraak van Johannes moes vir die godsdienstige mense van sy tyd ‘n vreeslike skok gewees het. Hulle was so trots op hulle afkoms en historiese verbintenis met die aartsvader Abraham en nou sê die kameelhaarprofeet, God kan sommer van hierdie klippe kinders van Abraham maak. Weet dit : God kan deur ‘n wonderwerk enige mens verander om sy kind te word. (Jood of nie-Jood, godsdienstig of nie-godsdienstig) Dit bring ons by die waarheid van die wedergeboorte, ‘n wonderwerk van God in die lewe van die sondaar. ‘n Herskeppingswonder! As Jesus in Johannes 3 met Nikodemus praat oor die wedergeboorte dan sluit Hy aan by Johannes die Doper se prediking. Sonder hierdie wonderwerk kan niemand deel hê aan die ewige koninkryk van God nie! Ons is volkome van God afhanklik. Ons elkeen het ‘n nood en behoefte aan God! Om kind van God te wees is nie sommer iets outomaties nie, dis nie vanselfsprekend nie, al word ek in ‘n goeie godsdienstige huis groot.

Om ‘n kind van God te wees, het ek ‘n genadewonderwerk in my lewe nodig en hierdie wonderwerk word sigbaar in ‘n hartgrondige bekering wat my lewenskoers verander!

Die waarheid van God wat instaat is om kinders uit klippe te maak, moet ‘n tweeledige effek op ons hê:

Dit bring ons by nederige afhanklikheid. Ons almal het mos maar klipharte en as God nie ‘n versagtings en herlewingswonder in ons binneste doen nie, sal ons vir ewig buite sy koninkryk bly.

Aan die anderkant wek hierdie stelling van Johannes ‘n heerlike hoop by ons : Geen klip is vir God te hard nie, niks is vir ons almagtige God onmoontlik nie. Hy kan aan die grooste sondaar bekering en vernuwing skenk.

Die God wat wonders doen, doen dit nog steeds! Die grootste wonderwerk is die wedergeboorte. As Hy dit reeds in jou gedoen het, dank Hom en gaan dra nog meer oorvloedige vrug! As jy onseker is, moenie rus nie, totdat jy rus gevind het in Jesus nie. Hy is nou die Redder wat ons met sy Heilige Gees doop en nuutmaak. Hy nooi jou uit! (Jesaja 1:18; Matteus 11:28) Maar maak gou, binnekort kom Hy as Regter om skeiding te maak tussen bekeerdes en onbekeerdes. “Hy het sy skop in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Die koring sal Hy in sy skuur bymekaarbring, maar die kaf sal Hy met onblusbare vuur verbrand." (Lukas 3:17) 

Is jy deel van die koring of dalk van die kaf?

Saterdag 22 Junie 2013

JESUS EN DIE SWAARD

Wat maak ons met sy skokkende uitspraak in Matteus 10:34 en verder?

"Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard.  Ek het gekom om tweedrag te bring tussen ‘n man en sy vader en tussen ‘n dogter en haar moeder, tussen ‘n skoondogter en haar skoonmoeder; ja, ‘n man se huismense sal sy vyande wees."

“Swaard en tweedrag”, kan dit regtig die woorde wees van die Prins van Vrede? Pas dit nie dalk eerder by Mohammed en sy Islam nie?

Die nag toe Jesus gebore is het die engele met hemelse note uitgeroep: “Vrede op aarde...” Inderdaaad het Jesus ‘n boodskap van vrede gebring en ander aangemoedig om vrede na te jaag. In die bergrede leer hy tog duidelik: “Geseënd  is die vredemakers want hulle sal kinders van God genoem word.” Jesus se hele doelwit was tog vrede. Hy het juis mos  gekom sodat daar vrede tussen ons en God kan wees. Jesus het ook sy dissipels uitgestuur met ‘n boodskap van vrede. Ons lees daarvan in die begin van hierdie hoofstuk: "As julle in ‘n stad of dorp kom, stel dan vas by wie julle daar kan tuis gaan en bly by hom totdat julle die reis voortsit.  As julle in die huis kom, wens die mense vrede toe.” (Matteus 10:11,12)

Maar hoe nou? Ons hoor dan nou dat Jesus self sê dat Hy nie gekom het om vrede te bring nie, maar die swaard en tweedrag! Weerspreek Jesus homself of het die skrywer Matteus iewers ‘n liederlike fout begaan?

Kom ons kyk bietjie mooi na hierdie gedeelte in sy konteks.  Jesus stuur sy dissipels op ‘n sendinguitreik en berei hulle voor vir die teenstand wat hulle te wagte kan wees.  Hy praat openhartig oor die vervolging wat voorlê, maar herinner hulle ook daaraan dat hulle nie mense met beperkte mag hoef te vrees nie, maar eerder God, wat liggaam en siel in die hel kan laat vergaan. In die lig hiervan spoor Hy hulle aan om sy naam openlik te bely. Hierdie dinge kan hulle dalk vir hulle vreemd op die oor val en daarom gee Hy nou ‘n belangrike perspektief op sy koms en doel.  Dis asof Hy wil sê: “Julle moet nie verbaas wees oor al hierdie moeilikheid wat ek vir julle voorspel nie, julle moet verstaan dat my boodskap  en bediening noodwendig tot vyandskap en tweespalt gaan lei.”

Ons kry in Jesus se woorde ‘n rowwe verwerkte aanhaling uit  die Ou Testamentiese profeet  Miga. “Die seun beledig sy pa, die dogter kom in opstand teen haar ma, die skoondogter teen haar skoonma. ‘n Man se huismense het sy vyande geword. Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed verhoor.” (Miga 7:6) Dit gaan daaroor dat die profeet weet dat hy teenstand en vyandskap van sy eie mense sal moet verduur (dalk sy vrou – sien vers 5) om in die geloof te volhard.

Jesus bring verdeeldheid omrede nie almal sy boodskap van vrede aanvaar nie. Sommige reageer positief en bekeer hulle, ander verset hulle bly onbekeerd en verhard. Reeds toe Jesus die twaalf apostels uitgestuur het, het Hy met hierdie dubbele reaksie rekening gehou en hulle daarop voorberei. Daarom sê vir hulle:

“As die huismense se gesindheid goed is, handhaaf julle vredewens vir die huis. Maar as hulle nie goedgesind is nie, trek julle vredewens dan terug.
As iemand julle nie ontvang nie en nie na julle woorde luister nie, gaan uit sy huis of uit daardie dorp uit en skud die stof van julle voete af.
Dit verseker Ek julle: Dit sal in die oordeelsdag vir die gebied Sodom en Gomorra draagliker wees as vir daardie dorp." (Matteus 10:13-15)

Die probleem is nie by Jesus se boodskap nie, maar by die mense wat sy boodskap van bekering en vrede verwerp!

Omdat nie almal Jesus se boodskap aanvaar en voor Hom wil buig nie, omdat sommige vir Jesus en ander teen Jesus kies, bring dit verdeeldheid binne ‘n gemeenskap, ja, selfs binne families, huisgesinne en eggenotes! Die evangelie bring nou reeds ‘n mate van skeiding in aanloop tot die groot en finale skeiding wat eenmaal by die wederkoms sal plaasvind. Die eggo van Sodom en Gemorra (15) is ‘n belangrike leidraad. Net soos die engel wat Lot hulle kom waarsku het, aangedring dat hulle hulle moes afskei van hulle ongelowige verwante en stadsgenote in die aangesig van die naderende oordeelsvuur, net so skei Jesus mense af van die ongelowiges deur die verkondiging van sy bekeringsboodskap!

Jesus se woorde oor die familie in vers 37 klink baie hard. “Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie.” Wat sou dit beteken? Natuurlik, Jesus begeer nie familietwis nie, maar Hy wil tog nie hê dat mense ter wille van familie se opinie en invloed die ewige lewe moet misloop nie!* Om Jesus te volg kom eerste, al moet ek dan nou my ongelowige ouers of rebelse kinders ongelukkig maak en myself hulle gramskap op die hals haal!

Neem standpunt in vir Jesus in alle omstandighede, anders is jy nie werd om Hom te volg nie!

Die rede vir die ervaring van verwerping deur jou eie mense kry ons in vers 38. Jesus sinspeel duidelik hier op sy eie kruisdood. Ja, Jesus is die bewerker van ewige vrede, maar juis sy boodskap en optrede het die swaard eerstens oor Homself gebring.  Jesus se pad na vrede het via die bittere en eensame kruisdood geloop. Sy verkondging van God se wil het daarop uitgeloop dat Hy op wrede manier gekruisig is. Jesus is deur die wêreld gehaat en vervolg, en daarom moet ons wat aan Hom behoort ook bereid wees om gehaat en vervolg te word.

Vra jouself : Word ek vervolg oor my Christenskap?

Ons keuse om ter wille van Jesus vervolg te word, is maar net die verlengstuk van sy eie lyding in hierdie wêreld! Die lojaliteit teen die gekruisigde Jesus maak ook ons onaanvaarbaar vir ander mense!

Jesus se woorde moes baie skokkend vir die dissipels gewees het! Dit klink nou asof volgelingskap van Jesus net tot onmin, geweld en vernietiging sal lei!  Is dit dan nog die moeite werd om Jesus te volg? Bring dit nie maar net moeilikheid nie? Daarom bemoedig Hy hulle in vers 39. Wie op aarde sy lewe verloor (dit verwys na al die vyandskap en teenstand wat God se kinders moet verduur, selfs tot die dood toe) sal dit juis vind! Die tydelike verliese wat ons lei omdat ons Jesus volg, word opgevolg  met ewige wins! Die wins van die Koninkryk!

Jy sê jy wil Jesus volg. Dis goed so. Maar wees realisties, wees voorbereid om harde bene te kou, dink mooi voor jy sommer net "ja", sê.  Hou rekening met die gevolge. (sien Lukas 14:28ev) Hier op aarde gaan dit vir jou nie altyd vrede bring nie.  Moet onder geen illusie leef nie. Moenie van die mensdom beter behandeling verwag, as wat Jesus te beurt geval het nie. Maar weet ook, dis oor en oor die moeite werd om jou openlik met die verworpe gekruisigde Jesus te identifiseer! By Hom alleen vind ons die lewe!

Jesus is nie ‘n populistiese people’s pleaser  of ‘n beginsellose verdraagsaamheidsvraat nie!

“Jesus en die swaard”, impliseer nie ‘n wrede Jesus nie, maar ‘n Jesus wie se kompromislose liefdesboodskap van bekering en vergifnis vir die meerderheid van sondaars onaanvaarbaar is - daarom het die swaard op Hom (en sy volgelinge) neergekom! Jesus bring noodwendig verdeeldheid, want niemand kan neutraal staan teenoor Hom nie!

Aan wie se kant is jy?


*Eksegese : erkenning aan Jakob Van Bruggen 

Woensdag 01 Mei 2013

EK “LIKE” ELIA

Ek het Elia jare gelede leer "ken" langs die pad iewers tussen Okahandja en Otjiwarongo. Dit was nou nie juis ‘n aangename dag nie. Ek was oppad na Tsumkwe in Boesmanland (in die verre noordooste van Namibië) en het van die pad afgetrek omdat ek van mening was daar was fout met die bakkie waarmee ek gereis het. Vanaf die oggend het ek ander voertuie gestop en boodskappe by Windhoek probeer uitkry na my pa om te kom help. (dit was voor die tyd van selfone) Eers laatmiddag, ongeveer by vyf uur se kant, het Pa en ‘n werktuigkundige opgedaag, net om uit te vind daar was al die tyd niks fout nie... Praat van ‘n groot verleentheid... Maar nietemin, terwyl ek uur na uur daar gewag het, het ek aan A.W. Pink se bekende boek, “Elijah” gelees... 

Die profeet Elia is vir my ‘n fassinerende en inspirerende persoon. ‘n Held met ‘n harige mantel en ‘n leergordel. Natuurlik, gaan dit nie oor sy voorkoms nie, maar sy onverskrokke karakter. Op sy Facebookprofiel sou ek baie graag ‘n “like” wou registreer. Kyk bietjie saam met my na sy profiel soos die Woord dit vir ons teken : 

Elia het in die teenwoordigheid van God geleef. Coram Deo was die groeibodem van sy lewensuitkyk en aksies. Ons lees : “die God van Israel... voor wie se aangesig ek staan...” (1 Konings 17:1,18:15)* Hier lê die geheim van sy lewe en loopbaan. Hy het in eerbiedige kontak met God geleef. God se wil, wense en eer was sy ambisie en motivering. Hy het nie een of ander selfsugtige of selfgerigte agenda nagevolg nie, maar bloot opgetree volgens God se duidelike opdragte. Telkens lees ons : “toe kom die woord van die HERE tot hom...” (1 Konings 17:2,8; 18:1; 21:17) Al sy aksies was in gehoorsaamheid aan God se woord. (1 Konings 18:36) Elia was ‘n regverdige wat in ‘n verhouding met die Lewende God gestaan het en nie bloot ‘n beroepsprofeet nie. Hy het ‘n passie vir God gehad, ‘n ywer vir die HERE wat sy hart in beroering gebring het. Soos Henog het hy met God gewandel en soos Henog word hy lewend in die hemel opgeneem. Hy word die unieke voorreg gegun om die heerlikheid van God binne te gaan met ‘n wa en perde van vuur. Verbysterend! 

Elia was God se leerling avonturier en moes telkens nuwe grense van gehoorsaamheid oorsteek. God het vir Elia stap vir stap geleer wat geloof en vertroue behels. Hy moes ondervind dat God vir hom op enige plek en deur enige agent kan sorg. By die spruit Krit, het God kraaie gebruik om brood en vleis te bring. Elia is egter nooit toegelaat om in een of ander gemaksone te stagneer nie. Die spruit het al stadiger geloop en op ‘n dag heeltemal opgedroog... Wat nou? Elia moes eenvoudig net nog dieper op God vertrou. Van alle mense stuur God hom toe na ‘n weduwee (heeltemal hulpeloos in die destydse sosiale opset) en boonop nog ook ‘n heiden, juis in die gebied waarvan Elia se grootste vyand, die bose Isebel vandaan gekom het! Kyk, God het darem ‘n sin vir humor! Vanuit ‘n krisis stuur God vir Elia na iemand wat nog in ‘n groter krisis is om vir hom te sorg. Die dreigende ramp word afgeweer deur ‘n wonderwerk (vermeerdering van die meel en olie), maar Elia se geloofskursus was nog nie klaar nie. ‘n Groter ellende het gewag. Dink net sy groot verleentheid toe sy weldoener se enigste seun sterf... Alles deel van God se plan om Homself en sy almag aan Elia te openbaar, alles ter voorbereiding vir die groot slag van Karmel.


Elia het proefondervindelik geweet : 
GOD LEEF! 

Elia was nie ‘n people’s pleaser nie. Dink jou in, ‘n “kerkman” wat vir droogte bid! Laat ‘n predikant dit vandag waag om so iets te doen... Elia het hom bitter min aan enige openbare opinie of tydsgees gesteur. Dit kon nie anders nie, want ons het mos gesien hy het voor God se aangesig geleef. Toe Agab vir hom beskuldig dat hy die beroerder is van Israel, vertel Elia hom kaalkop die waarheid : “Toe sê hy: Ek het Israel nie in beroering gebring nie, maar u en u familie, deurdat u die gebooie van die HERE verlaat het en agter die Baäls aan geloop het.” (1 Konings 18:18) Elia het nie geglo aan ‘n sagte diplomatiese boodskap met mooi woordjies nie. Hy het gesê wat hy bedoel, en het bedoel wat hy gesê het. Op Karmel daag hy die volk in reguit taal uit : “En Elia het nader gekom na die hele volk en gesê: Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die HERE God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na!” Elia, aangevuur deur sy ywer vir die ware God, het nie belanggestel in samesprekings met dwaalprofete en kompromieë met Satan se agente nie. Sy houding teenoor God se vyande was eenvoudig en duidelik , sy aksie was deeglik en dodelik : “Gryp die profete van Baäl! Laat niemand van hulle vryraak nie! En hulle het hul gegryp; en Elia het hulle afgebring na die spruit Kison en hulle daar geslag.” (1 Konings 18:40) 

Kan jy raai wat sou die etiket om Elia se nek gewees het, as hy vandag sou optree? Ja, reg – ONVERDRAAGSAME FUNDAMENTALIS! 

Elia was ‘n bidder. ‘n Bidder volgens God se wil en plan. As God gesê het daar sal droogte wees, dan bid Elia vir droogte (Jakobus 4:17) en as God besluit het, dit moes weer reën, dan bid Elia vir reën! (Jakobus 4:18) Sy gebede was egter nie net tot water beperk nie. Vreesloos bid Elia vir vuur, nie om mense te vermaak of lof vir homself te probeer inoes nie, maar vanuit ‘n hartstogtelike begeerte dat God se volk na Hom moet terugkeer. Hy stort sy hart voor God uit. “En op die tyd dat hulle die spysoffer bring, het die profeet Elia nader gekom en gesê: “HERE, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God in Israel is, en ek u kneg, en dat ek al hierdie dinge op u woord gedoen het. Antwoord my, HERE, antwoord my, sodat hierdie volk kan erken dat U, HERE, God is, en dat U hulle hart tot U laat terugkeer.” (1 Konings 18:36,37) God antwoord inderdaad hierdie vurige gebed met vuur! Maar nog was dit nie die einde van Elia se gebede nie! Toe Agab optrek om te eet en te drink, het Elia opgeklim om te smeek en te pleit voor God vir die reën! (1Konings 18:42) Ware bidders stel alles uit en af om eers met God besig te raak! Elia het die kuns verstaan om met sy kop tussen sy knieë voor God te pleit totdat die deurbraak kom en God hoor! En was dit ‘n worsteling! Eers nadat sy dienaar die sewende maal gaan kyk het, het ‘n wolkie so groot soos ‘n man se hand verskyn... 

Elia was tog ook net ‘n gewone brose swakke mens. Elia moes ook die dure les leer dat die sterkste gelowige nog steeds niks en volkome afhanklik van God se genade is. Elia wag hierdie keer nie vir die woord van die HERE nie en die gevolge is katastrofies : die dapper profeet word bang, vlug vir ‘n vrou en verval in patetiese pessimisme en diepe depressie. (Lees meer hieroor, kliek op – PROFEET ONDER DIE BOS) Die held van Karmel se moed verkrummel en hy wankel op die rand van selfmoord! Gelukkig is God getrou. Hy verlos Elia en gee aan hom weer ‘n nuwe visie van Homself en nuwe opdragte. Elia se uitgesprokenheid en waagmoed, maar op ‘n manier juis ook sy swakheid inspireer my... 

(as jy wonder, ja, Elia het volkome van sy angste herstel en later vreesloos in opdrag van die HERE geprofeteer dat die honde Isebel sou opvreet...) 

Man, ek sê weer, ek “like” Elia. Mag God ons genadiglik sulke manne skenk wat vreesloos en met integriteit sal optree. Dit kan gebeur, want die God van Elia is nog steeds God! 


*Skrifaanhalings kom uit die Ou Afrikaanse Vertaling

Sondag 24 Februarie 2013

JESUS FASSINEER MY!

- want Hy is volmaak liefdevol en regverdig, maar nooit ‘n people’s pleaser nie. 


Jesus fassineer my! Daar is niemand soos Hy nie! Hy is waarlik God! Van ewig is Hy daar. Hy is ook  volledig mens, iemand wat honger en dors kan kry. Wat kan huil. Maar Hy is ‘n volmaakte mens – die Enigste Volmaakte Mens! Dis so duidelik uit sy verhouding met sy Hemelse Vader. Een ding het vir Hom saakgemaak – om die wil van sy Vader uit te voer. Ons lees hier in Lukas 9:51 hoedat Hy vasbeslote die reis na Jerusalem aangepak het. Ja, Hy het geweet wat daar wag – verraad deur sy eie dissipel, bespotting, lyding en dat Hy uiteindellik die wreedste marteldood denkbaar sou sterf! En tog gaan Hy in gehoorsaamheid aan sy Vader...in die angsnag van Getsemane bevestig Hy dit weer. 

Jesus is volmaak gebalanseerd en heilig. Hy was absoluut regverdig, liefdevol, genadig, maar Hy het nooit iemand gelek of iemand se guns gesoek nie. Hy was nooit onbeskof of onvriendelik nie, maar ook nooit ‘n people’s pleaser nie! In ‘n tyd wanneer een na die ander held of “celebrity” val – van Joost van der Westhuizen tot Lance Armstrong tot Oscar Pistorius is dit so wonderlik om die volmaakte held, Jesus Christus te aanbid en te bewonder! Mag ons alle mensafgode laat staan en Hom alleen vereer! 

Jesus se absolute volmaaktheid, liefde en regverdigheid, ja sy onkreukbare karakter, maar ook sy allesoortreffende belangrikheid en Goddelike gesag, kom so duidelik hier in Lukas 9:51-62 na vore. Mag dit ons elkeen bring tot ‘n nuwe oorgawe aan Hom. Mag ons Hom bewonder en aanbid vir Wie Hy is! 

Oppad na Jerusalem moes Jesus deur die Samaritaanse gebied reis. (dit was so noord van Jerusalem) Hy probeer toe oornag verblyf daar reël, maar die Samaritane weier dit, want hulle was die Jode vyandig gesind en hulle het nie Jerusalem as aanbiddingsplek erken nie. (“hulle was nou lekker spiteful”) Toe dit nou gebeur, raak twee van Jesus se dissipels, Jakobus en Johannes ewe skielik baie entoesiasties en ywerig. Voortvarend sou mens kon sê. (54) “Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel afroep om hulle te verteer?” Hoe boos en bedrieglik is die mens se hart! Dit klink of die dissipels hier begaan is oor Jesus se eer, maar eintlik wil hulle maar net aan hulle eie negatiewe gevoelens teenoor die Samaritane uiting gee.* Hulle dink hulle kan Jesus inspan om hulle eie nasionalistiese wraaksug teen die Samaritane te bevredig. Maar hulle misgis hulle met Jesus. Jesus het hulle skerp tereggewys. (55) Jesus het geen wraakgevoelens teenoor die Samaritane nie. Hy wil dat hulle ook gered word. Hy het ook genade en liefde vir Samaritane! (Dink maar aan Sy gesprek met die Samaritaanse vrou in Johannes 4. Hy bied haar die lewende water aan, al is Hy baie eerlik met haar en ontbloot Hy haar sonde van losbandigheid om ongetroud saam met ‘n man te woon. Weereens Jesus is nooit 'n people's pleaser nie!) Jesus laat Hom nie misbruik nie! Nie vir ons politieke of sport voorkeure nie (Hy is nie daar om die blou Bulle op die rugbyveld te bevoordeel nie), maar ook nie vir ons aardse materiële ambisies nie! Interessant, later in die boek Handelinge lees ons ons hoe baie Samaritane hulle tot Jesus bekeer het... 

Terwyl Jesus oppad is na Jerusalem om gekruisig te word gebeur daar nog dinge wat ons beter laat verstaan wie Hy is... Iemand bied aan om Jesus te volg. Hy klink baie oortuigend en entoesiasties. “Ek sal U volg waar u ook al gaan.” (57) Ons sou dalk dink, dis ‘n uitstekende kandidaat om ‘n dissipel te word. Maar Jesus gooi bietjie koue water op sy opgewondenheid. “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens ‘n rusplek vir sy kop nie.” (58) Jesus is baie eerlik. Hy wil nie hê iemand moet Hom volg weens verkeerde motiewe of misplaaste verwagtings nie. Hy wil hê ons moet weet dit bring swaarkry as jy Hom gaan volg. Dis asof hy wil sê : “Meneer, dink mooi, daar is geen gerief of materiële voordele betrokke as jy my wil volg nie!” 

Jesus het nooit die “Prosperity Gospel” van Joel Osteen en ander Amerikaanse kwaksalwers verkondig nie! 

Jesus roep ‘n ander persoon : “Volg my” (59) Die man klink heel gewillig, maar hy wil eers die belangrike medemenslike taak verrig om sy Pa te gaan begrawe. Jesus wys dit sterk af. (60) Sjoe, dit klink nogals hard. Wat bedoel Jesus hierdeur? Hy probeer nie sê dat ons nie respek vir ons ouers moet hê nie – Hy wil maar net duidelik stel dat as ek Hom wil volg Hy absoluut eerste prioriteit moet geniet. 

In die lig van Jesus se absolute majesteit, word alle ander belangrike dinge minder belangrik! 

Nog iemand bied aan om Jesus te volg, maar hy stel ‘n voorwaarde : “Laat my eers toe om my familie te groet.” Ons weet nie presies wat die konteks was nie, miskien was sy familie dalk ver of sou dit lank neem. Jesus se antwoord (62) wys egter maar net weer : Hy vereis totale oorgawe! Absolute “commitment!” 

Net Jesus kan absolute oorgawe van ons wil, emosies, besittings, noem maar op, eis! Hoekom? 

Die antwoord sien ons voor ons hier op die Nagmaalstafel : brood en wyn, die tekens van sy volle oorgawe aan die wil van die Vader ter wille van ons. Jesus gee alles! Jesus het Homself as offer gegee. Sy liggaam is stukkend gebreek, sy bloed het vryelik gevloei. Hy het Homself gegee om in ons plek verbrysel en deurboor te word. Hy is vir al my aaklige sondes gestraf. Sy lewe was vir my ‘n genoegsame boetebetaling. Deur geloof in Hom is ek vry, sonder skuld voor God. Sy genade vir stukkende sondaars is onbeperk ruim – Ja, Hy het genade selfs vir die Samaritane wat Hom nie eers slaapplek wou gee nie. Genade vir ‘n Saggeus, ‘n Petrus, ‘n Paulus... maar moenie ‘n fout maak nie, Hy vra totale oorgawe en toewyding en gehoorsaamheid... Hy gaan nie vir my en jou lek om Hom te volg nie... Hy stel die voorwaardes...nie ons nie! Om Hom na te volg kan dalk my vriende, my reputasie, my geld kos... Maar weet verseker, om Hom te glo en te volg is ewige absolute wins! Amen.

*Ja, dit lyk op die oog af dat hulle God se eer wil verdedig soos Elia in 2 Konings 1:10,12, maar Jesus is nie beïndruk nie.