BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Biseksualiteit. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Biseksualiteit. Wys alle plasings

Dinsdag 04 Oktober 2016

BOSE BELYDENIS

-bevestig morele en akademiese bankrotskap van Teologiese Fakulteite.



‘n Groep sogenaamde jong teoloë van die NG Kerk het ‘n belydenis uitgereik (sien onder) waarin hulle (heeltemal tereg) verklaar dat seksualiteit ‘n gawe van God is. Maar dan gaan hulle voort : “Hiermee bedoel ons die volle spektrum van seksualiteit, wat nie net heteroseksualiteit insluit nie, maar ook homoseksualiteit, biseksualiteit, transseksualiteit, interseksualiteit, en ander seksualiteite.” Nou ja, daar het jy dit! Dis immers die logiese uiteinde van die gay agenda. Watse perversiteite sou met “ander seksualiteite” bedoel word? Sorteer bloedskande, bestialiteit en pedofilie ook onder hierdie wye noemer? Gaan daar verwag word dat predikante binnekort die verhouding tussen ‘n man en sy hond kerklik moet bevestig? Enige kind van God kan net verslae luister en wonder of sy ore hom nie bedrieg nie. Moet mens nou verstik aan smart of stik van woede? Smart oor die verwoestende effek van die waansinnige dwaalteologie op die fakulteite waar NG predikante opgelei word op jong lewens. ‘n Heilige woede oor die Naam van ons Here Jesus en sy kerk wat deur die modder gesleep word.

Opmerklik word geen Bybelse bewyse aangetoon om al hierdie soorte perverse vorme van seks goed te praat nie. Dis seker nie vreemd as mens in ag neem dat dit by ons student ingehamer word dat die Bybel maar net nog ‘n Midde-Oosterse boek vol foute is nie. En dit lyk nie asof hulle leer van die sondeval nie... Benewens die gebrekkige Skrifkennis wat hier ten toon gestel word wonder mens ook maar onwillekeurig hoe lyk die morele lewens van hierdie jong kenners wat eeue van kerklike etiek met hulle nuutgevonde wysheid wil omverwerp? En wat raak hulle nie als van die kansels kwyt nie?  Ja, ewe vroom verklaar hierdie groepie dat Jesus die Heer is. Maar ons moet tog weet as ons bely dat Jesus die Heer is, het dit konsekwensies vir ons hele lewe, 'n lewe wat volgens Sy norme en wil geleef moet word. Oor Sy wil wat betref seksualiteit is die Woord mos baie duidelik. Kliek op BYBELSE RIGTING OOR SEKSUALITEIT

Dis tyd dat predikante, kerkrade, ringe en sinodes hulle gepoleerde kerklike taal sal laat vaar en reguit praat. Reguit praat soos die Skrif praat. Paulus was immers vir ons ‘n goeie voorbeeld van iemand wat nie onder die druk van politieke of kerklike korrektheid geswig het nie. Hy stem immers saam dat die Kretensers, “leuenaars, ongediertes, lui vrate” genoem moet word. Ek wil liewers nie heeltemal sulke beskrywende taal oor hierdie groepie kenners van seksualiteit waag nie, maar op die beste is hulle totaal onkundig, arrogant en ongeskik vir die bediening. (Hierdie insigte wat hulle toon hoort eerder by entrepreneurs in die sekstoerisme bedryf!) Die waarheid moet ‘n slag duidelik gesê word... 

Maar daar moet nog duideliker gesê word dat die teologiese fakulteite waar NG bedienaars tradisioneel opgelei is, tans onder die bewind van vals profete staan en dat ons ons gelowige kinders onder geen omstandighede daar sal laat studeer nie. 

Daar wag ‘n groot oordeel vir hierdie tipe profete wat alles wat verkeerd is, reg noem, omdat hulle die Woord van die Here verwerp het : “Hulle het ‘n goedkoop raat vir die wonde van my volk. Hulle sê net: "Alles is reg! Alles is reg!" Maar niks is reg nie. Wanneer hulle aan die kaak gestel word oor die gruwelike dinge wat hulle gedoen het, skaam hulle hulle nie eens nie, hulle weet nie van skaamte nie. Daarom sal hulle tot ‘n val kom soos al die ander voor hulle; wanneer hulle rekenskap moet gee, sal hulle omkom, sê die Here.” (Jeremia 8 :11,12)

As daar belydenis nodig is, is dit skuldbelydenis, 'n skuldbelydenis van ons almal (insluitende hierdie jong teoloë) dat ons ongehoorsaam was (en is) aan die standaarde van God se Woord. 'n Belydenis wat sigbaar moet word in bekering!






*Uittreksel uit die e-KERKBODE :

Jong teoloë steun besluit oor gays

Neels Jackson

e•Kerkbode | September 28, 2016 

‘n Groep van 24 jong predikante en proponente van die NG Kerk het ‘n belydenis uitgereik waarin hulle hulle volle steun verklaar vir die besluite wat die Algemene Sinode van 2015 geneem het oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag. Die volledige belydenis lui soos volg:

Belydenis van Jong Proponente en Predikante aangaande Selfdegeslagverhoudings 

As jong proponente en predikante van die NG Kerk glo ons dat dit belangrik is om ‘n bydrae te lewer tot die gesprek oor die 2015-besluit van die AS oor selfdegeslagverhoudings. Ons glo dat ons nie langer kan stilbly oor die hantering van persone in selfdegeslagverhoudings nie. Ons ondersteun die besluit oor selfdegeslagverhoudings heelhartig en betreur die hantering en gebrek aan implementering van die besluit. Ons glo dat die Bybel, ons geloofsbelydenisse, en die gereformeerde tradisie ons dring om anders te dink en te praat oor LGBTIQ+ persone binne die huidige debat. Verder is ons van mening dat ons nie oor mense kan praat nie, maar dat ons deurgaans ook met LGBTIQ+ persone in gesprek moet bly aangesien dit ‘n direkte impak op mense se lewens en toekoms het. As proponente en predikante binne ‘n belydende kerk meen ons dat dit belangrik is om ons belydenis aangaande die Godgegewe menswaardigheid van alle mense duidelik te verwoord. Daarom bely ons:

Ons glo in die Drie-enige God, die gemeenskap van Trinitariese liefde waarbinne alle mense tuiskom.

Ons glo in God wat lewe skenk aan alles en almal, en wat elke mens, sonder uitsondering, met onvervreembare waardigheid geskep het.

Ons glo in Jesus Christus, wie se lewe, dood, en opstanding ons verlos en versoen, met God en met mekaar.

Ons glo in die Heilige Gees, wat ons vertroos en bemoedig, en deur wie ons tot ‘n gemeenskap van radikale liefde, gasvryheid, en geregtigheid omvorm word.

Ons glo dat Christus deur Woord en Gees oor die kerk regeer en dat die kerk moet getuig van die goeie nuus van die Evangelie aan alle mense.

Jesus is die Heer.

Die goeie nuus van die Evangelie, soos verwoord in die hele Bybel en nie alleenlik enkele uitverkore teksgedeeltes nie, is die uitgangspunt van hierdie oortuiging. Dit is vanuit hierdie oortuiging dat ons ‘n prinsipiële standpunt inneem aangaande selfdegeslagverhoudings. Hierdie behels die volgende:

Eerstens skaar ons onsself ten volle by die Seisoen van Menswaardigheid, asook die gepaardgaande waardes van respek, liefde, luister, en omarming.

Tweedens is ons dit eens dat die kerk as liggaam van Christus haarself op ‘n besondere wyse teen onreg moet posisioneer en by verontregtes moet skaar. Daarom is geen vorm van onreg binne die kerk, hetsy by wyse van sinodale besluite of gebrek aan implementering van sinodale besluite, aanvaarbaar nie.

Derdens weier ons om kerklike diskriminasie teen mense te aanvaar, hetsy op grond van ras, gender, of seksuele oriëntasie. Ons is van mening dat dit niks minder is as om mense van die volheid van God se liefde, geregtigheid, en gemeenskap te weerhou nie.

Vierdens beskou ons seksualiteit as ’n gawe van God. Hiermee bedoel ons die volle spektrum van seksualiteit, wat nie net heteroseksualiteit insluit nie, maar ook homoseksualiteit, biseksualiteit, transseksualiteit, interseksualiteit, en ander seksualiteite.

Vyfdens verstaan ons dat verhoudings kern tot menswees is en dat mense binne verhoudings die Drie-enige God uitbeeld. Dit beteken vir ons dat menslike seksualiteit floreer binne verhoudings wat gekenmerk word deur liefde en trou.

Sesdens is dit ons bede dat die hantering van hierdie saak by die komende buitengewone sinode en toekomstige kerkvergaderings met die nodige wysheid, waardigheid, en inklusiwiteit sal geskied.

Dit is vanuit ons geborgenheid in en liefde vir die kerk dat ons hierdie standpunt inneem. Ons droom van ‘n kerk waar meer mense, nie minder nie, omarm en gekoester sal word binne die gemeenskap van gelowiges.

Onderteken deur die volgende jong proponente en predikante van die NG Kerk (alfabeties gelys): 
Rozelle Bosch 
Bianca Botha 
Magriet de Villiers 
Riaan de Villiers 
Calvyn du Toit 
Elaine Dippenaar 
Eduard Enslin 
Juanita Greyvenstein 
Hanneke Janse van Vuren 
Benjan Knoetze 
Manitza Kotzé 
Nadia Marais 
Nina Muller van Velden 
Carike Noeth 
Melissa Opperman 
Helgard Pretorius 
Fourie Roussouw 
Annelet Slazus 
Sunelle Stander 
Sharaine Steenberg 
Niel Steyn 
Dawfré Theron 
Elzanne van der Westhuizen 
Anje Zeeman 



Baälaanbidding en seksuele losbandigheid gaan hand aan hand...

Lees ook gerus ds. Hector Jooste se brief aan DIE KERKBODE. Kliek op BRIEF