BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 21 Mei 2015

VIND VREUGDE IN DIE VRYSPRAAK

- bou jou blydskap op die vaste feit dat God niks meer teen jou hou as jy in sy Seun glo nie!

Ons het nou al gesien dat een rede vir ‘n gebrek aan Christen vreugde en blydskap is dat baie mense in ‘n geestelike tussentoestand is – hulle het al iets van die werking van God in hulle lewens ervaar, maar hulle kan nog nie met sekerheid sê dat hulle aan God behoort nie.  (Kliek op TOEGEWASEMDE WINDSCREEN) Sommige het wel iewers ‘n opregte geloofskeuse vir Jesus gemaak, maar hulle is onseker of hulle werklik vergewe is en deur God aanvaar is. Een groot rede is dat hulle onkundig is oor die Bybelse begrip van vryspraak/regverdiging deur die geloof alleen. 

En dis juis ‘n kern Christelike waarheid – dis die waarheid wat vir eeue onder die stof van Roomse tradisie weggesteek was en toe deur Martin Luther en ander reformatore herontdek is. Is jy in jou gemoed helder oor die vryspraak deur die geloof alleen?

Hoe lyk iemand wat onseker of onkundig oor hierdie waarheid is? Dis iemand wat dink dat as ek goed is en oulike dinge doen hou God van my en as ek struikel dan hou Hy minder van my. Iemand wat gedurig bekommerd is, "Sê nou maar daar is een sonde wat ek vergeet het om te bely, sal ek dan hel toe gaan?" Dis iemand wat gedurig deur skuldgevoelens geteister word en knaend wonder : "Bid ek genoeg, lees ek genoeg Bybel, is ek heilig genoeg?" 

Jy maak dus baie erns met allerhande pligte (en dis goed), maar jy het nooit vrede nie en daarom ook nooit vreugde nie.  

Dis dikwels ook iemand wat gekwel bly oor die verlede. Ja, miskien is ek vergewe, maar wat van daardie een vreeslike ding? Hierdie mense sê in teorie ons word gered deur Jesus alleen, maar eintlik is dit ‘n werke godsdiens gebou op  godsdienstige prestasie. Eintlik glo hulle in redding deur die wet en omdat geen mens die wet volmaak kan hou nie, skiet hulle redding altyd te kort en het hulle nie vreugde en vrede nie. Die oplossing is die ontdekking van vryspraak deur die geloof in Jesus alleen. Vind vreugde in die vryspraak!

Kom ons kyk na ‘n paar aspekte van die vryspraak soos Paulus dit in die Romeine brief verduidelik. “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,  en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig (vrygespreek -NAB) deur die verlossing wat in Christus Jesus is.” (3:24,25) Kyk na ‘n paar implikasies van hierdie uitspraak:

Almal het gesondig. Almal is ewe skuldig. Heidene sowel as Jode. “Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer ‘n mens wat sonde is.” (3:20)   Al jou mooi godsdienstige prestasies of jou bevoorregte verbondsstatus kan nie vir jou vrede bewerk nie. Geregtigheid deur die wet is ‘n doodloopstraat, want nooit kan ek goed genoeg wees nie! 



Soos ‘n hamster op ‘n trapwieletjie bring al my ernstige pogings my nêrens nie!

Nou hoe sal ek dan ooit vrede en vreugde kan vind? Ons word vrygespreek "uit genade, sonder verdienste!" Let op die herhaling van dieselfde begrip en dus die sterk beklemtoning van God se vrye guns oor sondaars. Geen menslike verdienste of meriete is ter sprake by die redding van ‘n sondaar nie. Dis inderdaad heeltemal ‘n geskenk. Ek en jy kan dit op geen manier verdien of aanhelp nie.

Vrygespreek. Vryspraak is in wese ‘n juridiese begrip. Dit gebeur normaalweg in ‘n hof. Die regter of landdros het die mag om iemand onskuldig te verklaar. In hierdie geval, wie word onskuldig verklaar? Romeine 4:5 gee ‘n verbysterende antwoord : goddeloses!  “Maar die mens wat nie op wetsonderhouding staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddelose vryspreek, hy kry die vryspraak deur sy geloof.” Skuldiges wat die hel verdien word  onskuldig verklaar deur God. Verstommende genade!

Hoe kan dit gebeur? Hoe is so iets dramaties moontlik?  Vanweë die verlossing in Jesus. Dit gaan hier oor die losprys* wat Hy betaal het. Die straf wat Hy in ons plek gedra het.   Die kruis is die basis waarop ons vryspraak of kwytskelding berus! “Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.” (Kolossense 2:14) Hierdie vryspraak is volledig en beteken dat God niks meer teen my hou nie! “Oor hulle ongeregtighede sal Ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie." (Hebreërs 8:12)

Hoe kry ons die vryspraak?  Hoe word dit persoonlik myne?  Deur ‘n spesiale teks of openbaring of teken? Deur ‘n warm gevoel? Deur ‘n reeks stappe te volg of ‘n voorgeskrewe rympie te prewel? Nee, deur geloof in Jesus. Romeine  5:1 laat geen onduidelikheid oor die saak toe nie. “God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.” So het ons nou 'n hoop op deelhê aan God se heerlikheid en dit lei tot blydskap!  Vryspraak deur geloof!  Dwarsdeur  die Nuwe Testament is die skakel wat ons aan Jesus se weldade bind - geloof! Glo in Jesus, glo wat God oor Sy Seun getuig.  So kry ons vrede met God en dit bring blydskap! LW – Geloof in Jesus, nie geloof in my geloof nie! (want my geloof opsigself sal altyd maar gebrekkig bly)

Horatius Bonar se opmerking bly altyd baie waar – “What God demands from us is not satisfaction with our faith but satisfaction with Christ and His work!”

Glo in Jesus Christus. Ontvang so die vryspraak en verheug jou daarin ongeag jou gevoelens, omstandighede of Satan se beskuldigings!



*Grieks - apolutrwsiV  Bauer – “buying back a slave or captive making him free by payment of a ransom”

MET ‘N TOEGEWASEMDE “WINDSCREEN”

- kan jy nie volle vreugde ervaar nie! 



Ons weet dat Jesus baie mense genees het. Hy het ook baie blindes weer siende gemaak. Maar in hierdie genesingswonder in Markus 8:22-26 is daar iets snaaks, iets anders, iets opvallend. Gewoonlik as Jesus iemand genees het, was die betrokke persoon onmiddellik volkome herstel. Hierdie keer geskied dit in twee fases. Na die eerste aanraking kon die blinde man nie heeltemal sien nie (mense lyk vir hom soos bome); eers nadat Jesus die tweede keer sy hande op hom gelê het kon hy volkome sien. Hy moes verdere behandeling ondergaan! Dit bring mens by ‘n interessante vraag : hoe sou mens hierdie man na die eerste handoplegging beskryf? Was hy ’n blinde of ’n siende? Iets tussenin? Dis moeilik om te sê! Jy kan hom seker tog nie meer ‘n blinde noem nie, maar sy “sien” was ook nie veel werd nie! Hoekom sou Jesus hierdie man in twee fases genees? Al die ander genesings van Jesus was onmiddellik en volkome? Hoekom nie hier nie? Jesus se krag is mos nie skielik minder nie!



Die waarskynlikste rede is dat Jesus hier ’n geestelike boodskap aan sy dissipels (en ons) wou oordra. Hy sinspeel op die geestelike toestand van sy dissipels op hierdie stadium. (hierdie gebeurtenis vind plaas net na die vermeerdering van die brood) Vgl. 18 “Julle wat oë het, sien julle dan nie?” Die dissipels was geestelik in so ’n tussentoestand ; hulle het gesien , maar tog nie gesien nie. Hulle het wel iets van Jesus geweet, maar was nog so onkundig en verward. Nóg vis, nóg vlees! Hulle het nog nie duidelik verstaan wie Jesus is en wat Hy kom doen het nie. Hulle was wel positief oor Jesus, maar geestelike waarhede was vir hulle nog vaag en onduidelik!

Baie mense verkeer geestelik in ’n soortgelyke toestand van verwarring en vaagheid. Geestelik gesproke is dit asof hulle Jesus deur ’n toegewasemde “windscreen” sien. 

En dis nie lekker nie en beslis nie bevorderlik vir blydskap nie!  Dis moeilik om sulke mense se geestelike toestand te beskrywe. Dis moeilik om hulle te plaas. Soms tree hulle op en praat asof hulle Jesus ken, maar ander kere weer soos ongeredde mense. Soms is daar insig, soms klink hulle totaal onkundig oor verlossing Ook hulleself weet nie aldag mooi waar hulle inpas nie. Hier het ons ‘n groot rede waarom baie nie ware Christen blydskap (soos ons Vader dit bedoel het) beleef nie. Dis ‘n innerlik verskeurde toestand! Hulle het al te veel van die Here se werking beleef en kan nie meer gemaklik voel in die sonde en tussen wêreldlinge nie. Aan die anderkant voel hulle ook nie tuis tussen mense wat God voluit dien nie. Hulle kan dus nie meer die sonde voluit geniet nie, maar kan ook nie Christus voluit geniet en dien nie.

Moontlik het jy al een of ander wonderbaarlike aanraking van God in jou lewe ervaar... Jy is dalk genees van 'n ernstige siekte, die Here het jou bewaar in 'n ongeluk of uit een of ander nood gered. Moontlik het jy al by 'n kamp of reeks dienste onder 'n diepe indruk van jou sonde gekom... maar jy het nog nooit die saak vasgemaak met die Here nie. Jy stel nog uit oor die finale besluit om Hom alleen te vertrou en te dien...

Hoe lyk hierdie mense? Wat is hulle eienskappe? Hulle :

~ besef iets is fout (al weet hulle nie altyd wat nie). As jy eerlik met jouself is weet jy dinge is nie reg nie en dit frustreer jou.

~ sien die nietigheid en leegheid van die lewe sonder God raak, maar verlang tog ook na die sondige lewe. Besef die lewe gaan oor meer as geldmaak en plesier, maar het nog nie ware lewe in Jesus gevind nie. Hulle wil is ook verdeel, hunker op twee gedagtes. Kan nie koerskry in die lewe nie, weet nooit waar hulle inpas nie.

~ besef miskien dat Jesus die Verlosser is en dat net Hy kan red, maar is onduidelik in hulle verstaan van kernsake soos wedergeboorte of vryspraak.. Vaag oor Jesus, vaag oor hulleself.


Wat is die oorsake vir ’n toestand soos hierdie ?

~ Jy is dalk tevrede met vaaghede en algemeenhede. (Dalk lui om kennis te versamel) Jy doen nie moeite om vas te stel wat die Bybel met ’n begrip soos regverdiging (vryspraak) bedoel nie. Jy verstaan nie hoe werk Bybelse verlossing nie. Dalk weens gebrekkige lering in ‘n kerk waar Skrifuitleg maar skraps is. Miskien is jy net te besig... in die week is dit net werk en oor naweke jaag jy van een skolesportbyeenkoms tot die ander. Nooit is daar tyd om die saak met die Here uit te maak nie, en so gaan die lewe verby....

~ Daar is ‘n verkeerde volgorde in hulle geestelike lewe. Jy probeer om heilig te leef maar het nog nooit by Jesus self uitgekom nie. Jy probeer leef soos ’n Christen terwyl jy nog nie regtig een is nie. (Dis ’n hopelose stryd)

~ Daar is een of ander afgod en terrein in hulle lewe wat hulle nie onder Jesus wil stel nie. Hulle haak nou al vir jare vas by een ding.... iets soos ‘n buite egtelike verhouding wat jy nie wil verbreek nie!

~ Jy het nog nooit werklik ’n doelbewuste keuse gemaak om Jesus te volg nie. Jy het wel in ‘n Christelike huis grootgeword en Sondagskool toe gegaan, jy leef redelik ordentlik, lees Bybel en Solly Osrovech se dagboeke......maar nog nooit self Jesus as jou Here aanvaar nie.


Wat is die oplossing? (Voordat ons daarby kom) Waak teen twee gevare:

~ om voor te gee asof alles reg is. (As die halfblinde man sou sê ek sien goed, sou hy maar so moes aansukkel, halfblind) Hoogmoed keer dat ons by Jesus uitkom.

~ moedeloosheid, “Ag ek sal nooit sien nie!” (wees dankbaar vir die genadewerk wat God reeds in jou tot dusver gedoen het.) Weet dat Hy dit wil klaarmaak!

Oplossing:

1. Wees eerlik oor jou toestand. (Soos hierdie halfblinde moet jy erken : “Ek sien mense, iets soos bome.”)

2. Onderwerp jou aan verdere behandeling. Besluit : “Ek wil die waarheid ken!” Bestudeer die Woord. Woon eredienste by. Gryp God se beloftes vas. Rig jou hele hart daarop om Jesus te ken, soek Hom met alles wat jy het. (Jeremia 29:13) Stel jouself bloot aan die evangelie boodskap. Maak erns met Bybelse waarhede soos byv. Vryspraak deur geloof alleen.

3. Die belangrikste en finale oplossing : buig voor Jesus, vertrou kinderlik en volkome op Hom, rig jou oog op Hom, bewonder Hom en wat Hy aan die kruis gedoen het. Kom na Hom vir die behandeling! Vertrou Hom, vertrou sy volkome offer en moenie meer op godsdiens staatmaak nie. Jesus nooi jou! (Matteus 11:28, Johannes 6:37) Dis nou die regte tyd! (2 Korintiërs 6:2)  KOM NA HOM! 1 Petrus 2:4 Hy gee nie bloot die antwoord nie, HY IS DIE ANTWOORD EN OPLOSSING! HY HET DIE SKULD AAN DIE KRUIS UITGEDELG! VOLKOME!

[erkenning aan Dr. Martyn Lloyd-Jones, Spiritual Depression]




Maandag 18 Mei 2015

WAAROM IS JY NIE BLY NIE?

[ Die sprankelende en egte blydskap van hierdie KOPTIESE CHRISTENE in Egipte het my diep getref. Waarom is ons wat sê dat ons God se kinders is, so dikwels sonder blydskap? Wat mis ons?]


Kom ons kry net eers duidelikheid vir onsself : Dit is God se bedoeling dat sy kinders bly moet wees. Vol vreugde! Regtig? Is dit God se wil en plan vir ons reeds hier op aarde dat ons altyd bly moet wees? Is dit realisties moontlik? Hoe lyk hierdie blydskap? Wat bevorder hierdie blydskap? Wat bedreig dit?

Blydskap en Christenskap, vreugde en verlossing gaan saam. 

Kom ons kyk na ‘n paar redes waarom ons so kan sê:

Die Vader van die verlostes wil hê dat sy verloste kinders bly moet wees. Dis tog net logies dat ‘n pa wil hê dat sy kinders bly moet wees! Gelukkige kinders! Sou daar enige rede wees waarom God ongelukkige kinders sou wou hê? Hy wat dan ‘n volmaakte Vader is? So weet maar dat wat jy ook al beleef, God in beginsel wil hê dat sy kinders ware vreugde sal beleef.

Die aard van ons verlossing behoort blydskap by ons te wek. As jy die verlossing deur Jesus ontvang het is jy mos verlos van sonde, Satan, dood en hel. Jy was verlore, maar is gevind, jy was skuldig, maar is nou vry verklaar, jy was ‘n slaaf, maar is nou ‘n kind, jy was in die duisternis, maar nou sien jy die lig.... Dink tog net, as iemand uit ‘n dodesel vrygelaat word, as gyselaars bevry word... wat is die eerste mees spontane en natuurlike reaksie? Blydskap. Wat anders? In Handelinge 8:39 lees ons hoe die pas bekeerde Etiopiese amptenaar sy weg met blydskap voortgesit het.

Die einddoel van ons verlossing moet ons bly maak. Die verlostes kan uitsien na ‘n vaste ewige erfenis. Ons het nou ‘n verwagting en ‘n vaste hoop wat ander mense nie het nie. Dis tog ‘n spontane natuurlike reaksie... as jy hoor jy het ‘n prys gewen, as jy ‘n brief kry wat jou inlig dat jy onverwags ‘n plaas geërf het word jy bly! Petrus verwys na hierdie beginsel in 1 Petrus 1:8,9. “Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap.”

Die opdrag aan die verlostes is duidelik. “Wees altyddeur bly.” (1 Tessalonisense 5:16) Nie net hier nie, maar veral ook in die Filippense brief word dit herhaaldelik gestel : Fil. 3:1, 4:4 “Verbly julle in die Here...” God sal nie aan ons ‘n opdrag gee as dit nie realisties is of as Hy dit nie bedoel nie.

Die Gees wat die verlostes ontvang is die Heilige Gees en Hy gee blydskap. Anders gestel, blydskap is een van die vrugte van die Gees. Die Heilige Gees bewerk blydskap in diegene in wie Hy woon! “Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee. Wie op hierdie manier vir Christus dien, geniet die guns van God en die agting van die mense.” Romeine 14:17,18 Paulus sê dit in die konteks van mense wat wou stry oor watter kos Christene mag en eet en watter dae hulle as spesiaal moet beskou. Nou sê hy, moenie verstrengel raak in randsake nie, fokus op die basiese beginsels van die Koninkryk, naamlik geregtigheid, vrede en blydskap. Blydskap is ‘n fundamentele saak!

Ons Christenwees van begin tot einde, in totaliteit word gekenmerk en omring deur blydskap en dit veroorsaak blydskap. So is daar groot blydskap by die engele as ‘n sondaar hom bekeer. “So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor ‘n sondaar wat hom bekeer.” (Lukas 15:10) Die laaste woord wat ons sal hoor voor ons ingaan na ons nuwe tuiste sal “vreugde” wees! “Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Mooi so! Jy is ‘n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!’” (Mat 25:21)

God ons Vader is bly oor ons* en wil dat ons bly moet wees tot in alle ewigheid. Blywende blydskap is ‘n onmisbare bestanddeel van basiese Christenskap.

Sekere misverstande moet ons uit die weg ruim. BLYWENDE BYBELSE BLYDSKAP...

  • beteken nie dat ons nooit huil en treur nie. Kinders van God word immers opgeroep om te treur oor ons sonde. (Jakobus 4) Maar juis dit bewerk groter besef van vergifnis en daarom groter blydskap!
  • beteken nie dat ons nie beproewings en hartseer en moeilike tye beleef nie. Juis daarom is ons blydskap iets anders as gewone blydskap dis ‘n blydskap ten spyte van en te midde van slegte omstandighede
  • beteken nie dat ons 24 uur 7 dae ‘n week ‘n tandepaste glimlag vertoon nie, ons blydskap gaan dieper as dit, dis ‘n blydskap ook as ons treur en swaarkry. Ook onder trane is ons bly. Eers eendag by die wederkoms sal die trane finaal van ons oë afgevee word.
  • beteken nie dieselfde as ‘n oppervlakkige drankgedrewe wêreldse karnaval vrolikheid nie. Ons blydskap is fundamenteel anders en ons bly weg van hierdie soort valse blydskap wat die wêreldling na smag. So bid die psalmis : “Hou my gedagtes weg van verkeerde dinge, dat ek nie in sonde verval saam met manne wat onreg doen nie, en dat ek nie deelneem aan hulle feeste nie.” (Psalm 141:4)
Is jy ‘n gelukkige kind van God vol blydskap? Hoekom is dit nie altyd so nie? Het jy hierdie blydskap gehad, maar dit verloor? Wat verhinder of steel ons blydskap? Dis tog duidelik dat God wil hê dat ons moet bly wees. Ons verlossing is nie iets om te verduur nie, maar om te vier! Ons gaan in die res van die reeks kyk na faktore wat die blydskap van God se kinders belemmer en hoe dit reggestel kan word.

*Sefanja 3:17




Vrydag 15 Mei 2015

LOFPRYSING IN EGIPTE

Hierdie video het trane in my oë gebring. Hoe lieflik is die Bruid van Christus, sy bloedgewaste kerk oor die ganse aarde! Dit sluit ook hierdie Koptiese Christene in. Kyk die vreugde van Christene in 'n Moslemland. Ek kyk beslis met nuwe oë na Egipte... Mag ek en jy ook hierdie blydskap in Jesus beleef!

Joy of Christians in Egypt!

Le visage accueillant et joyeux de l’Eglise en Égypte!

Kliek op CAVE CHURCH


Lees ook MARTELARE OP STRAND


Saterdag 09 Mei 2015

GENADE IN AFRGYSLIKHEID

Met die herdenking van die einde van die Tweede Wêreldoorlog die afgelope tyd word mens weer getref deur die afgryslike waansin daarvan... een maniak in die hande van Satan wat miljoene se lewens verwoes en die ewigheid laat instort... Daar is soveel skrikwekkende hoofstukke van menseslagting, barbaarse wreedheid, onbeskryflike lyding... Ek het weer so bietjie rondgelees en sommige feite het vir die eerste keer my aandag getrek. Het jy geweet van die barbaarse moord deur die NAZI's by die Franse dorpie Oradour-sur-Glane (ondermeer is vroue in kinders, lewend in 'n kerk verbrand) of besef ons dat 26 miljoen Russe die lewe gelaat het? Op hulle beurt het die Russe na skatting in Berlyn alleen 'n 100 000 vroue verkrag... En wat van die vreeslike tol op die Poolse bevolking waarvan 17% uitgewis is. Die Jodeslagting, die atoombomme op Japan... So sou mens kon aangaan. Die woorde van Genesis 6:11 maak weer opnuut sin : "Die aarde was korrup in die oë van God, vol geweld."

Maar waar was God? God was ook daar ten midde van menslike waansin en wreedheid, sonde en selfvernietiging. Hy was daar via die evangelie van Sy Seun en die reddende toepassing daarvan in menselewens. Selfs geharde NAZI's moes voor hierdie groter krag, die evangelie as krag van God, buig. (Romeine 1:16,17) Nico van der Walt het een so 'n verhaal op sy kenmerkende onderhoudende manier opgesom.

Kliek op WONDERGENADE. Lees dit gerus, dis aangrypend! Dit laat mens opnuut weer besef dat die evangelie ook nog vandag ons enigste hoop is vir 'n mensdom wat steeds in geweld, rebellie en ellende vasgevang is. Laat ons dit onthou as ons hoor van die wreedhede van ISIS, BOKO HARAM,... maar ook as ek en jy die booshede van ons eie harte ontdek!

[Oom Lukas Nel, 'n veteraan uit die Tweede Wêreldoorlog en lidmaat van ons gemeente.]


Dinsdag 05 Mei 2015

VIER FEITE WAT NIE VERSWYG MAG WORD NIE

(ook nie by ‘n begrafnis– of roudiens nie!)



In die aangesig van die dood droog ons slimmighede en stories op... Gelukkig het ons God se Woord vir ‘n tyd en geleentheid soos hierdie. Kom ons kyk saam na Hebreërs 9:27,28.


‘n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel. So is Christus ook net een maal geoffer om die sondes van baie weg te neem. As Hy die tweede keer verskyn, kom Hy nie in verband met sonde nie, maar om verlossing te bring vir dié wat Hom verwag.

Die meeste mense glo nie meer die Bybel nie... Vriende, ek glo die Bybel – dis natuurlik nie ‘n prestasie nie maar ‘n genadegawe, ek glo dis God wat hier praat en dat sy woorde die verskil tussen lewe en dood, hemel en hel maak. Ek gaan net vier basiese feite uit die gelese gedeelte uitlig, vier feite wat die Woord hier leer, vier feite wat onomstootlik waar is...

DIE MENS IS BESTEM OM TE STERWE. (hiermee kan jy nie stry nie, selfs al is jy 'n ateïs) Die dood is die een ding wat niemand kan vryspring of ontwyk nie. Dit kom beslis. Meestal onverwags – dink maar aan die skrikwekkende gebeure onlangs in Nepal! Ons is bestem om eenmaal te sterwe. Beslis te sterwe, maar ook net een maal... Daar bestaan dus nie iets soos ‘n tweede kans, ‘n vagevuur of reïnkarnasie nie! En dus die hartseer, wat ek ook telkens sien en beleef, mense weet die dood is ‘n feit, maar die meeste is nie voorbereid daarvoor nie – daai ding van uitstel, jy weet...

NA DIE DOOD WAG DIE OORDEEL. Die dood is nie die einde van ons bewustelike bestaan nie. Na die dood kom daar ‘n oordeel. God maak onderskeid tussen mense. Die mens word tot verantwoording geroep. Daar kom ‘n skeiding – die skape word van die bokke geskei. Die een groep deel in die ewige heerlikheid saam met God, die ander groep word weggestuur na die ewige smart weg van God af.

In hierdie lewe sowel as in die ewigheid bestaan daar vir elke mens net twee opsies, twee moontlikhede. Die Bybel sê dit op baie maniere : Daar is ‘n smal pad na die lewe of ‘n breë pad na die verderf. (jy kan op hierdie oomblik net op een van die twee wees) Jou huis is op die rots gebou of op sand gebou. (nie op beide nie) Jy dien God of jy dien Mammon. (jy kan nie altwee dien nie) Daar is nie ‘n tussengroep nie. Daar is nie iets soos ‘n halwe Christen of ‘n half geredde nie! Net soos jy ook nie iets soos ‘n halwe bestuurderslisensie kry nie – jy het een of jy het nie een nie!

JESUS SE STERWE WAS GENOEGSAAM VIR ONS SONDE. Jesus se sterwe was ‘n offer vir ons sonde. Sy offer was genoeg om die sondes van baie mense (met ander woorde sy miljoene kinders) weg te neem. Die begrip “een maal” is hier baie belangrik. Dit beklemtoon die genoegsaamheid van Jesus se sterwe. Dit gaan immers hier in Hebreërs oor die voortreflikheid van die Nuwe Verbond bo die Ou Verbond. Jesus se eenmalige sterwe was genoegsaam in teenstelling met die oneindige en ontelbare bloed offers van die ou bedeling wat telkens herhaal moes word. Jesus se sterwe was genoeg vir die grootste en aakligste sondes en gruwelikste sondaars... genoeg vir Saggeus, die Samaritaanse vrou, Paulus, Petrus... Hulle is deur Jesus aangeraak en het deur Hom vergifnis en vryspraak gekry. As jy jou tot Jesus wend, maak nie saak wat agter jou lê nie, sal jy agter kom dis ook genoeg vir jou. Nog nooit het Jesus ‘n berouvolle sondaar weggejaag nie. (Johannes 6:37)

AS EK AAN JESUS BEHOORT KAN EK UTSIEN NA ‘N HEERLIKE FINALE VERLOSSING. As Jesus weer kom bring Hy die finale verlossing vir diegene wat Hom verwag. Dit sluit ook in die bevryding van ons liggame van verganklikheid! (Romeine 8:23, Filippense 3:21) Vir diegene wat in die geloof volhard bestaan daar 'n heerlike toekoms om na uit te sien! Maar diegene wat in hierdie toekoms wil deel, moet nou reeds na Jesus kom en sy genade aanvaar. Na die dood is daar nie ‘n tweede kans vir berou en bekering nie. Daarom, Jesus se wederkoms is nie goeie nuus vir almal nie, maar net vir die wat Hom verwag, wat uitsien na sy koms, wat weet hulle behoort aan Hom. Is jy aan Hom verbonde en leef jy in die verwagting van ‘n aangesig tot aangesig ontmoeting? Het jy al tot bekering gekom en Jesus as Verlosser aanvaa? Volhard jy in die geloof of het jy weggedwaal? Onthou, nie alle mense sal in die hemelse RUS ingaan nie! Hemelse rus word nie deur ‘n Christelike begrafnis, ingewikkelde rituele of ‘n spraaksame dominee se lofredes verseker nie, maar deur die genade van God wat ons deur geloof in Jesus as genoegsame Verlosser ontvang!

Vandag is ‘n baie belangrike en beslissende dag vir elkeen wat kan hoor.... luister na die waarskuwing van die Hebreër skrywer in hoofstuk 3:7-17.

Luister daarom na wat die Heilige Gees sê: "Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het en My in die woestyn op die proef gestel het.

Daar het hulle My op die proef gestel en uitgetart, hoewel hulle veertig jaar lank gesien het wat Ek vir hulle gedoen het.

Daarom het Ek ‘n afkeer van hierdie geslag gekry en gesê: ‘Met hulle hart is hulle gedurig op ‘n dwaalspoor, hulle wou my paaie nie leer ken nie.’

Toe het Ek in my toorn ‘n eed afgelê: In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie."

Broers, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle ‘n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie.

Maar solank daar nog ‘n "vandag" is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie.

Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het.

Daarom word daar gesê: "Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het."

Wie was dit dan wat gehoor het en tog in opstand gekom het? Was dit nie hulle almal wat onder leiding van Moses uit Egipte getrek het nie?

En van wie het God veertig jaar lank ‘n afkeer gehad? Was dit nie van hulle wat gesondig het en wie se dooie liggame in die woestyn agtergebly het nie?

Oor wie anders as dié wat ongehoorsaam was, het Hy ‘n eed afgelê dat hulle nie in sy rus sou ingaan nie?

Ons sien dus dat hulle as gevolg van hulle ongeloof nie in sy rus kon ingaan nie.

Glo jy hierdie Bybelse feite? Baie sê wel nog so, maar hulle lewens wys dat hulle hul glad nie meer aan God se Woord steur nie. Daar is geen lewende geloof, geen lewensverandering, geen honger en dors na God se Woord en sy geregtigheid nie. 

Kom ons vat saam : Daar wag beslis ‘n oordeel na die dood. Daar is iets soos genade vir sondaars, omdat Jesus se offer genoegsaam was. Inderdaad, oorvloedige genade in die volste sin van die woord! Maar hierdie genade moet nou aanvaar word, anders mag dit te laat wees vir ewig!