BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 30 Oktober 2017

ONAFSKEIDBARE TWEELING

- Gehoorsaam aan WOORD en GEES sal ons gedurig reformeer en getrou bly aan ons evangeliese roeping!



Jesus het die genoegsame losprys vir sondaars aan die kruis betaal. Daarna het Hy opgestaan uit die dood. Regtig. Histories. Liggaamlik. “Voel aan My.” Hy eet ‘n gebakte stuk vis voor hulle oë! Maar daarna doen Hy nog iets belangrik. Hy gee aan sy dissipels (aan sy kerk) :
  • ‘n Vaste verwysingspunt (Skrif)
  • ‘n Helder roepingsopdrag (Evangelieverkondiging deur getuienis)
  • ‘n Heerlike belofte (Heilige Gees)
Dis baie belangrik om raak te sien wat Jesus na sy opstanding doen en waarop Hy fokus in die kort tydjie tussen sy opstanding en hemelvaart. Ons lees hiervan in Lukas 24. Hy doen nie nuwe dramatiese wonders nie. Hy verwys sy dissipels (ons!) terug na die Skrifte! “Daarna sê Hy vir hulle: "Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is." Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan.” (44,45) En Hy maak die belofte van die Gawe! Die Heilige Gees! “En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is.” (49)

WOORD EN GEES

Belangrik! Hier in die laaste hoofstuk van Lukas lees ons hoe lê Jesus die fondasie vir gesonde en doelgerigte kerk wees. Woord en Gees. Gehoorsaam aan die Woord en bekragtig deur die Gees kan ons ons evangeliese roeping vervul. Hierdie kern roeping is baie duidelik. Die verkondiging van bekering en vergifnis in Jesus se Naam. “Verder sê Hy vir hulle: "So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’” (46,47) Mag ons dit sommer weer duidelik hoor : Die kerk se primêre fokus mag nooit selfoorlewing, geldinsameling, sosiale betrokkenheid of kultuurprojekte wees nie. Ons moet die verlossingsboodskap aan alle mense bring. Bekering en vergifnis van sonde. 

Maar terug by die fondasie van Woord en Gees. Dis hierdie fondasie wat as’t ware weer herontdek is tydens die Protestantse Reformasie. Die gesag van die Woord en die Gees. Die leiding van die Woord en die Gees. Bemagtiging deur Woord en Gees. 

Wat beteken dit prakties? Woord en Gees gaan saam. Die Woord is ons norm. Enigste norm. Sola Scriptura. Die Woord en die alleen sê vir ons wat is reg en verkeerd. Nie die Huisgenoot, Hollywood of die algemene opinie op straat nie. Die Woord is dus onmisbaar belangrik. Maar die Heilige Gees is net so onmisbaar. Die Heilige Gees maak vir ons die betekenis van die Woord oop en bekragtig ons om dit te gehoorsaam. Hy gebruik die Woord om ons te heilige, te verander, te vernuwe... Hy bewerk die gehoorsaamheid om die evangelie van Jesus uit te leef en te verkondig. 

Die resep vir volharding en roepingsvervulling is om tegelykertyd aan beide vas te hou – Woord en Gees.

Die kerke van die reformasie het natuurlik soos dit menslik is, telkens weggedwaal van hierdie beginsel. En dit gee in ons dag steeds aanleiding tot groot verwarring, gruwelike onkunde en dwaling!


  • Soms word die Woord oorbeklemtoon ten koste van die Gees. Dit gebeur wanner die Bybel op ‘n suiwer intellektuele tegniese manier benader word. Kraakdroë ortodoksie. Ons doen deeglike, maar koue eksegese. Ons formuleer als so mooi reg, daar is geen teologiese leerstellige haar uit sy plek nie… Die regte kolletjies op die “i” en die presiese strepies deur die “t”. Maar daar is geen gebrokenheid en berou oor sonde nie, geen ware bekering nie, geen gehoorsaamheid om Jesus se opdragte uit te voer nie. Daar is min opgewondenheid, min opoffering, min liefde. Byvoorbeeld ons formuleer so mooi dat Jesus die enigste Middelaar is, maar ons kom nie prakties by gebed uit nie, ons is nie regtig lief en toegewyd aan hierdie Middelaar nie, ons het geen passie en doen geen moeite om hierdie Middelaar aan ander te verkondig nie. Ek wil vir jou vra wat die Woord en die belydenisskrifte (wat opsommings is van die Woord) so goed ken: Hoor jy nog hoe die Gees deur die Woord met jou praat, oortuig Hy jou deur die Woord van sonde en dryf dit jou opnuut na uit na Jesus om Hom te omhels? Maak die evangelie ‘n verskil in jou liefdeslewe, besigheidslewe, ontspanningslewe? Lei die Heilige Gees jou in ‘n heilige lewe?
  • Soms word die Gees losgemaak van die Woord. Die Woord word effens opsy geskuif. Dit het ook by verskeie kere in die verlede gebeur en gebeur vandag nog baie. Dis wanneer mense redeneer : “Die Gees sal my lei en dis nie nodig om erns maak met die Woord nie. Dis ook nie nodig dat ek na ernstige prediking, na Woorduitleg luister nie.” Natuurlik sal diesulkes nooit openlik die Woord weggooi nie. Hulle sal nog steeds sê : “Ons glo die Bybel.” Maar wat gebeur? Hulle gebruik die Woord op die klank af, ruk tekste uit verband uit (“Spreek Lewe” teologie), maak nie erns met die konteks nie, jaag allerhande nuwighede na wat hoegenaamd nie in die Skrif voorkom nie – “salf huise met olie”. Daar word sommer links en reg beweer : “Die Here het vir my gesê…” Ja, daar is moontlik baie opgewondenheid, baie sentimentaliteit, baie lawaai, baie nuwe idees, maar ook ongelukkig baie verwarring! Maar ongelukkig min standvastigheid, min volharding, min integriteit en heiligheid en min waarheid! Ek wil vir jou wat die Woord afskeep vra: ”Waar anders as in die Woord gaan jy die suiwer wil van God hoor, hoe anders as deur omvattende Woordkennis gaan jy koershou in ‘n chaotiese wêreld, hoe anders gaan jy weerstand bied teen die daagliks propaganda van die Satan?”

VOORTDURENDE REFORMASIE

Altyddeur moet die kerk opnuut luister en opnuut gehoorsaam word aan die Woord en die Gees. Die kerk as geheel, maar ook ek en jy persoonlik. Ons het reformasie weer net so nodig soos vyf honderd jaar gelede. Is jy daarvoor bereid? Is jy bereid om die Woord en Gees te gehoorsaam en standpunt in te neem die oorweldigende materialisme, die Hollywood welluskultuur, die afgodiese sportwaansin en prestasiebeheptheid wat op ons eie voorstoep is…? Martin Luther het teen die hele wêreld opgestaan, omdat die Woord en Gees sy siel oorweldig het. Deur die Woord en Gees het hy vrede gevind vir sy geteisterde siel. Maar dit het vir hom ook baie moeilikheid besorg… Dit het hom in botsing gebring met ‘n afgedwaalde kerk en goddelose wêreld. Hy het die brandstapel net-net vrygespring...  (Kliek op LUTHER)

Is ek en jy bereid om opnuut die Woord en Gees te gehoorsaam en die spot en haat van mense te verduur? Dis die vraag wat elkeen vandag voor God moet antwoord! Dis die voorvereiste vir voortdurende reformasie. Dis so bitter nodig in ons dag...


Ons het op Sondag 29 Oktober 2017 die Reformasie feestelik gevier in 'n vol kerk. By die geleentheid het 'n nuwe lidmaat, Helena Boshoff ook belydenis van geloof afgelê. (en dit was boonop ook nog haar verjaarsdag!) Die Sondagskoolkinders het in 'n kort seremonie die 5 solas van die Reformasie aan 'n houtdeur vasgespyker.

Donderdag 19 Oktober 2017

BAIE OF MIN?

- Hoeveel mense sal uiteindelik die Koninkryk binnegaan? 


Is dit maklik om ‘n kind van God te wees of is dit moeilik? Dit is tog seker maklik sou mens kon redeneer, want dis alles mos genade en genade is ‘n present. En dis mos nie moeilik om ‘n persent te kry nie! Aan die ander kant leer die Bybel, net die wat volhard tot die einde sal gered word. Dit klink weer moeilik. ‘n Ander vraag, wat hiermee verband hou. Sal daar min mense gered word of baie? Die pad wat na die lewe lei is tog immers die smal pad... 

Lukas 13:22-30 gee ‘n belangrike perspektief op hierdie dringend belangrike vrae. Iemand het op ‘n stadium die moed gehad om hierdie sleutelvraag direk vir Jesus te vra : “Here, is dié wat gered word maar min?” (23) Die agtergrond van die vraag, was dalk die idee wat destyds geheers het dat almal in die volk Israel gered sal word, behalwe ‘n paar uitstaande slegte sondaars! (Jesus se lering oor die noodsaak van bekering in die voorafgaande gedeelte in Lukas sou mense dalk hieroor kon laat wonder het.) 

DIE ANTWOORD : "SPAN AL JULLE KRAGTE IN!" 

Wat antwoord Jesus? Soos gewoonlik gee Jesus ‘n verrassende antwoord. Jesus antwoord nie met statistiek nie, maar met ‘n uitdaging (24) en ‘n waarskuwing. (27,28) 

UITDAGING. “Span al julle kragte in om by die smal deur in te gaan.” (NAV) “Stry hard om in te gaan deur die nou poort.” (OAV) Met ander woorde: Moenie somme maak en spekuleer nie, maar maak seker en werp alles in die stryd dat jy wel sal ingaan! Daar het jy dit! En tog, iets pla ons miskien aan hierdie antwoord. Ons weet mos baie goed dat ons net uit genade gered word. Ons weet tog dat ons beste pogings en godsdienstige prestasies nie vir ons die ewige lewe kan koop nie. (Onthou weer Jesaja 64:4) Hoe nou? Klink dit nou of Jesus sê dat ons met eie krag of inspanning in die koninkryk moet kom? Nee, allermins! Jesus praat nie teen redding uit genade nie. Dis ‘n waarheid wat vasstaan in die hele Bybel van voor tot agter. Nee, Jesus onderstreep maar net dat redding bedoel is vir die wat dit regtig wil hê, genade is vir dié wat regtig met hulle hele hart daarna verlang! Verder ook het genade ingrypende gevolge in ons lewens. Genade wek by ons ‘n nuwe koers en ‘n nuwe passie. Genade spoor ons aan tot aksie! Genade beteken nie dat ek op my rug langs die swembad of op die sitkamermat voor die TV kan lê en redeneer :”Ag, wat dis die Here se werk om my te red, ek sal aangaan en my lewe geniet soos ek wil!” Redding is vir diegene wat daarna smag. Die wat honger en dors na geregtigheid. God se soewereine genade bestaan juis daarin dat dit ons tot ontsag vir God en aktiewe werksaamheid bring en inspireer! *Hierdie beginsel vind ons reeds in die Ou Testament waar die Here sê : “En julle sal my soek en vind as julle na my vra met julle hele hart.” (Jeremia 29:13) Jesus wil dus sê : Die genadegeleentheid moet heelhartig benut word, NOU! 

Hoekom, nou? Hoekom behoort egte genade by ons ‘n dringende erns te wek? Jesus beklemtoon dit met die verhaal van die eienaar wat sy deur sluit en mense wat dan tevergeefs sal klop. (Dieselfde situasie as wat ons in die gelykenis van die tien meisies kry, waar vyf voor ‘n geslote deur beland het.) 

Span al julle kragte in beteken dus onder andere : Gryp ten volle die genade aan terwyl die geleentheid daar is. En dis NOU… 

Werp jy alles in die stryd om die genade deelagtig te word? En maak die genade wat jy ontvang het ‘n sigbare verskil aan jou prioriteite en leefstyl? Iemand wat regtig in God se genade en vergifnis belangstel en dit waardeer sal sekere dinge anders doen. As ek met my hele hart verlang na God se genade en vergifnis sal: 

~ ek elke kans aangryp om die Woord te hoor. Deur die Woord kom geloof en deur geloof word ons gered. Dis die groot genademiddel! Iemand wat Sondae laat slaap en ander dinge eerste stel (soos om net vir rugby vroeg op te staan) is nie juis baie ernstig oor genade nie! 

~ek gebruik maak van die gawe van gebed. Jesus se oproep aan sy dissipels is telkens : waak en bid 

~ ek wegbly van plekke en dinge en mense wat my verder van God wegtrek. Iemand wat skoon voete wil hê, bly tog weg uit die modder. Is daardie TV program wat ek so graag kyk bevorderlik vir verlange na ‘n rein hart? 

~ ek andere van harte vergewe soos ek wil hê God moet my vergewe. Bitterheid is ‘n besliste struikelblok wat vergifnis by God verhinder! (kliek ONVERGEWENSGESINDHEID)

~ ek die verlossing najaag as eerste prioriteit en soek met ‘n passie, omdat dit die belangrikste ding in my lewe geword het. Geld en sakebelange, pret en plesier kan maar eers ‘n bietjie wag! 

~ ek wanneer ek genade ontvang het, volhard in die goeie wedloop en as ek geval het weer opstaan! 

WAARSKUWING. Jesus onderstreep die erns van sy uitdaging met ‘n waarskuwing. “Baie, verseker ek julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie.” (27, 28)Baie mense leef onder ‘n vals illusie. So baie gaan te laat uitvind dat hulle nooit gered was nie en dat God hulle nooit geken het nie. 

Jesus sluit sy waarskuwing af met hierdie veelseggende en betekenisvolle uitspraak : “Daar is laastes wat eerste sal wees, en eerstes wat laaste sal wees.” (30) Onthou net weer Jesus se hoorders het waarskynlik gedink dat almal wat aan die volk Israel behoort, gered sal word - hulle is die eerstes. Die heidene en die baie slegte mense (soos tollenaars en prostitute) sal nie gered word nie - hulle is die laastes. Nou keer Jesus alles om. Hy wil vir hulle sê : Baie mense wat bevoorreg is, wat deel is van die Verbondsvolk sal uiteindelik verlore gaan. Maar daar gaan slegtes wees, heidene, sondaars en uitgeworpenes wat uiteindelik gered sal word, want hulle het die genadegeskenk passievol aangegryp! 

‘N LAASTE EEN KOM EERSTE! 

In die Lukas evangelie self kry ons ‘n pragtige voorbeeld van iemand wat laaste was, maar toe uiteindelik tog eerste gekom het. Terselfdertyd is hy ook ‘n voorbeeld van iemand wat alles in die stryd gewerp het en ruim oorvloedige genade ontvang het. Die misdadiger aan die kruis. Hy was een van die laastes. Hy was ‘n slegte mens wat iets vreesliks moes gedoen het, anders sou hy nie tot ‘n kruisdood veroordeel gewees het nie. Maar hy word nou ‘n eerste, ‘n bevoorregte, want hy kry toegang tot die koninkryk van God. Hy het al sy kragte ingespan om in die koninkryk in te gaan. Weereens dit beteken nie dat hy deur sy eie goeie werke of prestasies gered is nie. Dit beteken maar net hy het die genade heelhartig aangegryp en die geleentheid vir redding voluit benut. Ons weet mos wat het gebeur : Terwyl sy medemisdadiger met Jesus spot, het hierdie sterwende man met sy laaste bietjie krag en druppel asem uitgeroep : “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” (Lukas 24:42) ‘n Desperate roep van iemand wat na genade smag. Hy kry dan ‘n heerlike waarborg : “Ek verseker jou : Vandag sal jy saam met my in die Paradys wees.” Inderdaad het hy genade gevind. ‘n Laaste een wat eerste gekom het! ‘n Sondaar wat al sy krag ingespan het om by die smal deur in te gaan! 

Ja, wondergenade : ‘n Desperate sondaar is veilig deur die smal deur tot in die Koninkryk!



*Filippense 2:12,13

“...Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.” (NAV)

“...werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.” (OAV)

“...werk met vrees en bewing aan julle verlossing. Dit is immers God wat in julle werksaam is, sodat julle gewillig is en optree soos Hý dit goedvind.” (DAV)


[Maanlandskap - Swakopmund]

Saterdag 14 Oktober 2017

ISRAELVISIE EN DIE GEMEENTES VAN DIE VERBONDSVOLK

- ‘n sameflansing van verbeelding, onkunde en dwaling.

Hulle is/was onder verskeie name bekend soos Die Ekklesia-Evangeliegroep, Gemeentes van die Verbondsvolk,  Orde van die Verbondsvolk, Karmelbediening en wie weet wat nog. ‘n Mens voel eintlik verleë om op die onsinnighede wat hulle kwytraak te reageer, aangesien daar dan ‘n mate van legitimiteit aan die groep(e) verleen word en die Bybel ons duidelik waarsku om nie ‘n dwaas na sy sotheid te antwoord nie!

Tog is dit dalk nodig om iets oor hierdie groep en hulle afgryslike dwalings te sê. Ekself kom al ‘n lang pad “saam” met hulle. Reeds in my kinderdae was een van die boeke van pastoor FWC Neser wat oor die sogenaamde verlore tien stamme van Israel handel al in Windhoek bekend waar dit toe al verwarring by Christene veroorsaak was. Dit was so ‘n rooi boek as ek reg onthou... Later as student het ek ‘n kamer in die Jeugtuiste in Pretoria gedeel met ‘n familielid van ds. Gert Steenkamp wat een van die groot voorbokke van die beweging was. Ons het soos dit studente betaam, lang gesprekke gevoer... En dis juis hier op Tsumeb, waar ek tans die voorreg het om die Woord te bedien, waar die einste ds. Steenkamp vir ‘n tyd leraar in die NG Kerk was voordat hy by hierdie vreemde leringe betrokke geraak en na Kuruman verhuis het. Tsumeb het dalk dus ‘n ereplig om te help om kosbare broers en susters wat mislei is weer vriendelik terug te roep en ander wat na hierdie dwalinge begin luister, baie ernstig te waarsku.

Hierdie Israel groepe toon geweldig baie ooreenkomste met ander gevaarlike sektes soos die Sewendedaagse Adventiste, die Jehova getuies en veral die Hebrew Roots Movement.* Oor laasgenoemde het ek reeds breedvoerig geskryf en onder andere die naamkwessie en die voedsel debat aangeraak. (Kliek op HRM en Maankykers) As jy meer oor die sabbatkwessie wil weet, kliek op SABBAT.

Wat is dan eiesoortig aan die Israelvisie?** Hulle glo dat die blanke volkere van die wêreld die verlore tien stamme van Israel is. Dit sluit dan veral ook die blanke Afrikanervolk in. Die wortels van hierdie denke kom van ‘n beweging bekend as British Israelism en is geïnspireer deur Engelse geskrifte van die 19 de eeu waaronder John Wilson se Our Israelitish Origin (1840). Ten spyte daarvan dat daar geen argeologiese, etnologiese, genetiese en linguistiese wetenskaplike gronde is vir hulle basiese vertrekpunte nie, volhard hulle in hulle dwalinge. Die vraag is nou, hoekom? En die antwoord is eenvoudig. Hierdie denkwyse pas goed in by baie Afrikaners se diepste rasse gevoelens veral in die huidige omstandighede in Suider Afrika waar baie van ons volksgenote tans bedreig en verontreg voel. 

Volgens hierdie bewegings is die Adamiete (nageslag van Adam) slegs blankes (Kaukasiërs). Slegs blankes kan volgens hulle dus toegang tot die koninkryk van God verkry. Hulle is baie gou om vir jou te vertel dat al die nasies waarvan Openbaring praat, slegs blanke nasies is! 'n Mens wonder of hierdie mense regtig kan lees? Openbaring 5:9 kan dit tog nie duideliker stel nie! "Toe sing hulle 'n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie,"  Wat beteken ELKE dan? Hierdie dwaalleraars is so vasgevang in hulle blanke meerderwaardigheidsgvoelens dat die duidelik boodskap van die Skrif maar net gesystap word as dit nie by hulle denke pas nie.*** So is dit vir hulle ongemaklik om te erken dat God reeds in die Ou Testament ook alreeds heidene buite Israel begenadig en in die verbondsvolk opgeneem het. Dink aan Ragab en Rut. Wees maar seker vir hierdie voorbeelde sal hulle wel ook hulle gefabriseerde teenargumente gereed hê!

Blank wees is vir hulle die deursslaggewende saak. Die ander volkere is vir hulle sogenaamde "boknasies" en die sendingopdrag van Jesus geld nie vir hulle nie!**** Net hier sal elke kind van God alreeds die gevaarligte sien aangaan. Die basiese boodskap van die Bybel is dat sondaars uit genade op grond van Christus se verdienste aan die kruis gered word en nie vanweë etniese afkoms nie. Fisiese geboorte is nie die bepalende faktor vir my saligheid nie, maar wedergeboorte! (Johannes 3) En nou wonder ek sommer net waar pas mense met (effens) gemengde bloed in, diegene wat wel as blankes deurgaan, maar wie se voorgeslagte nie heeltemal so suiwer geleef het nie...?

Dis baie moeilik en eintlik nutteloos om met hierdie mense op ‘n nugtere manier te probeer redeneer, aangesien basiese taalkundige en teologiese insig grootliks by hulle ontbreek. Hulle gebruik ‘n tipe van op-die-klankaf teologie en taalkunde. Byvoorbeeld : Hulle beweer dat die woord British afgelei is van die Hebreeuse woorde “berit” (verbond) en “ish” (man). Dan word beweer dat al die lede van die verbondsras, al die nasies wat afstam van Israel, gevind word onder die “Berith-ish” of te wel “British”. (Dis natuurlik nou uitgebrei tot alle blanke volke) Verder word gesê dat die Angele, die Saksers en die Kelte, wat die basiese samestelling van die nasie van die Britse eilande vorm, die direkte afstamming van Israel is, deur wie God beloof het dat Hy sy koninkryk op aarde sou vestig.

En as jy wonder, wel hier is die “bewys” - die Engelse woord vir Saksers is “Saxon” en hierdie woord is ‘n verbastering van die begrip “Isaac-sons”. Dus begryplik dat mens met sulke skyn redenasies letterlik enigiets kan bewys. So sou ek kon bewys dat die eerste kar op Karasburg vervaardig is en dat mal mense van Maltahöhe afkomstig is!

Hulle lukrake en bedenklike Skrifgebruik (eintlik misbruik) skreeu ten hemele. Volgens (ten minste sommige van) hulle is swart mense net diere. Hoe kom hulle by so ‘n drogredenasie uit? Hulle sal byvoorbeeld na ‘n teks soos Esegiël 36:32 verwys: “Skaam julle en bloos oor julle weë, o huis van Israel”. Dan word daar soos volg geredeneer: Israel was en is mense wat kan bloos, met ‘n blanke vel en blosende rooi wange en lippe. Dan word ‘n skrikwekkende gevolgtrekking gemaak: “Israel van die Bybel was blankes net soos u en ek terwyl die kinders van die Bose, die krom en verdraaide geslag, anderskleuriges was”. Daar is nog baie ander voorbeelde van uiters belaglike eksegese, wat maar liewer hier verswyg moet word... Hierdie mense se Bybelkennis is uiters gebrekkig, maar hulle beïndruk die eenvoudiges met lang aanhalings uit veral Strongs wat baie indrukwekkend klink en lyk vir mense wat nie taalkundig geskoold is nie.

Hierdie wit teologie en rou rassisme van die Israelbeweging is ‘n ernstige dwaling wat mense wegvoer buite die histories Christelike kerk van alle eeue! (net soos die sogenaamde Swart Teologie van die Marxistiese bevrydingsbewegings) Dit skreeu ook teen die kerk se sendingwerk van twee duisend jaar! Hoe kan mens so blind wees? Wat weet hulle van die menigtes gekleurde Christene wat deur die loop van die eeue hulle getuienis van hulle geloof in ons Here Jesus met hulle bloed verseël het? Erger nog dit is ‘n ontkenning van die Nuwe Verbond en die evangelie self! Dit kom neer op ‘n minagting van Jesus ons Verlosser!

*Hulle geskrifte wemel dan ook van wolhaarstories en verdagmakery. Een so 'n bewering lui dat Calvyn se van eintlik Cohen was en dus is hy eintlik net ’n Jood wat die blankes vir eeue deur sy Institusie mislei het. 

**Hulle gebruik gewoonlik nie hierdie naam vir hulle self nie.


***Prof Malan het hierdie dwaling ook sterk aangevat :

Die volgende teks verskaf aan die Israelvisie groot hoofbrekens omdat dit hulle dogma ondubbelsinnig  weerlê:

“Die Edomiet moet jy nie as ‘n gruwel beskou nie, want hy is jou broer; die Egiptenaar moet jy nie as ‘n gruwel beskou nie, want jy was ‘n vreemdeling in sy land. Kinders wat vir hulle in die derde geslag gebore word, mag in die vergadering van die HERE kom” (Deut. 23:7-8).

Ds. Steenkamp voel verplig om hierdie gedeelte as verkeerd te beskou en gevolglik te verwerp:

“Die onmoontlike van die bestaande teks is dat dit bots met die res van die Skrif. Jahweh is onveranderlik, konsekwent. Hy sal nie die een oomblik dít sê en die volgende oomblik iets anders bedoel nie. Die Egiptenare was vyande, en uit dié slawehuis is Israel uitgelei. Die Edomiete word genoem ‘n volk op wie God vertoorn is tot in ewigheid (Mal. 1:1-4). Ek sou ook graag wou weet hoe en waar die derde geslag bepaal kon word in die praktyk van die lewe. En as die derde geslag dan kon inkom, waarom dan nie die tweede of die eerste nie? Nee, dié teksgedeelte het geen sin nie. Moses het die Egiptenare ook nie as sy naaste behandel nie (Ex. 2:12-13). Ons het hier met ‘n foutiewe teks te doen.”   (Soos aangehaal deur Prof. Johan Malan)

**** Dit lees mens in 'n sekere PJJ van Rensburg van die Orde van die Verbondsvolk se geskrif.  In hierdie uiters rasbehepte geskrif gee hy onder andere erkenning aan Neser en Steenkamp.




[ 'n Stukkie geskiedenis: Dominee Gert Steenkamp was van 1969 tot 1973 in die bediening op Tsumeb.]

Vir meer duidelikheid en Skrifuitleg kliek op HONDE

Vrydag 13 Oktober 2017

HEFNER EN HATTINGH

Hugh Hefner en Ryk Hattingh, twee banierdraers van wellus, dekadensie en die objektivering van vroue is onlangs oorlede. Hefner was al afgeleef en lank in die tand, maar die onverwagse dood van Hattingh so kort na die bekendstelling van sy jongste publikasie, HUILBOEK het die literêre wêreld in Suid-Afrika taamlik onkant gevang en erg geskok! 



Wanneer ons nadink oor die onderwerp van die mens se TOTALE EN AFGRYSLIKE VERDORWENHEID, dink ons dalk onwillekeurig uitsluitlik aan hierdie tipe ouens, maar dit mag ‘n groot fout wees... Hoe so?

Ons het onlangs die belangrike tema bespreek : “Wat ‘n groot, heerlike verlossing!” (kliek) Die heerlike verlossing wat Jesus gebring het. Tog is min mense opgewonde daaroor. Weet jy hoekom? Die meeste mense redeneer : “Ek is darem nie so sleg nie, ek is eintlik goed genoeg vir die hemel. Ek is darem nie so sleg nie. Kyk, ek is beslis nie ‘n Hefner of Hattingh nie.... Ek is darem nie so sleg nie, as Sannie dit gaan maak hemel toe behoort ek ook… Ja, ek is ‘n sondaar, ek sal nie stry nie, maar darem nie die ergste wat daar is nie… Ja, ek maak dikwels foute, maar die Here sal maar verstaan…”

Hierdie tipe redenasies openbaar skokkende onkunde oor wat die Bybel leer oor die toestand van die mens. Hierdie argumente minag die belangrikheid en onmisbaarheid van Jesus se kruisoffer! Hoe so? As ek dink ek is eintlik maar goed genoeg, as ek dink ek is darem nie heeltemal so skuldig (soos sommige ander) nie, dan maak dit mos in effek Jesus se kruisdood onnodig of oorbodig.

DIE MENS SE TOESTAND

Wat is die realistiese werklikheid oor die mens se toestand? ROMEINE 3:9-18 gee ‘n baie duidelike beskrywing. Voor ons daarna kyk, net een belangrike vraag : Wie beskryf die mens se sonde dilemma hier? God self. Dis God se Woord. Dis die God van liefde. Hy sal nooit onnodig iets hard of onbillik sê nie. Hy is die God van ontferming, dis Hy wat uitgereik het na die gevalle Adam en Eva… Wat vandag nog sy hand na sondaars uitsteek. Hy is ook die God van Waarheid. Hy kan nooit lieg of vals wees nie. Hy smeer nie heuning om die mond of mislei ons tot ‘n valse gerustheid nie. As God dus praat oor die mens se werklike toetstand en nood, kan ons gerus maar luister…

Paulus het reeds in die begin van sy brief nadat hy die tema van die evangelie aangekondig het, eers gepraat oor die sondeskuld van die heidene en hoe dit die toorn van God ontlok. (Romeine 1:18ev) Maar daarna het hy ook aangetoon dat die Jode, al het hulle die wet, net sulke sondaars is. (Romeine 2) Nou vat hy alles mooi saam. Alle mense is in die mag van die sonde. Almal is totaal verdorwe.

Hy begin met die kategoriese stelling. “Daar staan immers geskrywe: "Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie,” (10) Daar is geen uitsondering nie, niemand is regverdig nie. Anders gestel, almal is sondaars. Almal verdien God se oordeel. Nie-godsdienstige mense sowel as godsdienstige mense!

Nou gaan Paulus voort en spel in meer detail uit wat die sondige toestand van die mens behels. “daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie.” (11) Niemand ken en verstaan God nie, niemand het ook ‘n begeerte om Hom te ken nie! Konkreet gestel, niemand wil eers tot bekering kom nie, niemand soek die waarheid nie. Geestelik blind en geestelik dood! Lyke, vrot lyke!

STINKENDE VROT VRUGTE!

Alle mense het afgedwaal en op die verkeerde pad beland, almal het ontaard – wild , korrup, nutteloos geword. “Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie.” (12) Soos ‘n vrug wat vrot geword het nou nutteloos is en nie meer geëet kan word nie. Ja, die sondaar is ‘n stinkende vrot vrug vol wurms net geskik vir die ewige ashoop van die hel! En dit geld ons almal, want Paulus beklemtoon en onderstreep weer – “Daar is nie een wat goed nie, selfs nie een nie.” Miskien vra jy – Maar hoe kan dit wees? Daar is tog baie mense wat goed – wat geld gee vir weeskinders en ou mense… In God se oë tel dit opsigself niks nie, want as ons Hom nie ken nie is alle sogenaamde goeie dade nutteloos en veragtelik vir Hom. “Ons het almal geword soos mense wat onrein is, ons beste dade is soos vuil klere; ons is almal soos verdroogde blare, ons word deur ons sondes weggewaai soos deur ‘n wind.” (Jesaja 64:6)

Nou raak Paulus nog meer konkreet en beskryf die verdorwenheid van die mens in terme van die woorde wat ons gebruik. “Hulle keel is ‘n oop graf, met hulle tonge bedrieg hulle. Oor hulle lippe kom woorde so giftig soos slange,hulle mond is vol vervloeking en bitterheid.” (13,14) Die mens se leuenagtige, bytende, aanvallende, galbrakende woorde bevestig die boosheid van sy hart!

Die verdorwe mens het ‘n verwoestende effek op sy medemens. “Hulle voete is vinnig om bloed te vergiet. Hulle laat ‘n spoor van verwoesting en ellende agter. Die pad van vrede het hulle nie leer ken nie,” (15-17) ‘n Spoor van verwoesting en ellende! (Dink aan die onlangse Orkane!!) Dis realiteit, ons sien dit. Binne in ‘n gemeenskap, binne in families, binne huisgesinne, binne huwelike!

DIE ERGSTE!

Die verdorwe men het geen vrees (ontsag) vir God nie. “ontsag vir God het hulle nie.” (18) Dis die aakligste kenmerk van die sondaar, die kern walglikheid van ons gevalle toestand. Daar is geen respek vir God nie. O, ja ons ken sy naam, maar Hy word as noodwiel gebruik en soos ‘n stuurjonge behandel. Afgryslik arrogant! Hy moet ons met die eksamen help, sorg dat die reën betyds kom en boonop nog help dat ons gunsteling sportspan presteer. Maar as dit kom by sake soos respek vir sy dag, bywoning van sy erediens en gehoorsaamheid aan sy voorskrifte vir die huwelik, liefde vir medemense en opdragte oor elke aspek van ons lewe, dan ignoreer ons Hom heeltemal. As die finansies knyp word Hy baie gou ingeroep – “Asseblief, Here U moet help!” Maar as dit goed gaan bly die bidure en eredienste leeg, die strande en rugbypawiljoene vol... 

WAAROM SO KRAS?

Paulus sê harde woorde oor die mens… Die rede? Hy wil beklemtoon dat ons God se genade evangelie regtig nodig het. Jesus is die onmisbare enigste weg! Daar is geen selfhelp oplossing nie, nie eens met behulp van God se wet (Tora) nie! Daar is net een oplossing en uitkoms! Let op -  “Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.” (23,24!) Vir die mens wat sy eie verdorwenheid besef het is hierdie woorde soos koue water in ‘n dorre woestyn! Het jy al besef jy het hierdie genade en vryspraak nodig en dit by Jesus kom kry?

Totale verdorwenheid gaan dieper as Hefner, Hattingh en Weinstein... dit gaan ook tot by my en jou!

TOTALE VERDORWENHEID RAAK ONS ALMAL!

ONS ALMAL HET DUS JESUS REGTIG NODIG!


Mag ons huil oor ons eie verdorwenheid en Jesus as enigste hoop vasgryp!

Donderdag 05 Oktober 2017

WEGDRYWE?

“SO ‘N GROOT SALIGHEID!” : DIE GENADEGELEENTHEID WAT ONS NIE DURF MISLOOP NIE!


“So ‘n groot saligheid!” So ‘n groot verlossing! Hoe sal ons ontkom as ons so ‘n groot saligheid verontagsaam het? As ons God se groot verlossingsplan vertrap of selfs net ignoreer, hoe sal ons ontsnap of ontvlug van Sy skrikwekkende, maar regverdige wraak en oordele?


“So ‘n groot saligheid!” Reeds reg aan die begin van sy brief het die Hebreërs skrywer verduidelik waarom die verlossingsplan so oneindig finaal, groot en heerlik is! Sien Hebreërs 1:1-3. Dit gaan oor Jesus as die finale Woord van God! Voorheen het God op baie maniere met sy mense gepraat deur die profete… wonders, drome, die wet (tora), tabernakel, tempel, maar NOU in hierdie laaste dae het Hy finaal gepraat deur die SEUN! Jesus self is die finale hoogtepunt van God se selfopenbaring aan die mens!

JESUS SE UNIEKE HEERLIKHEID

Nou het God deur Jesus gepraat en HY oortref alles en almal in heerlikheid, uniekheid en belangrikheid. Dis nie sommer praatjies nie. Die skrywer noem sewe redes waarom Jesus se heerlikheid so ontsagwekkend heerlik en onvergelykbaar is.

1.Deur Hom is die wêreld geskep. “Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.” (Joh. 1:3)

2.Hy is die erfgenaam van alles. “Vra My, en Ek gee volke vir jou as eiendom, die hele aarde as jou besitting.” (Ps. 2:8 ) Ja, aan Jesus behoort die aarde, maar ook die ganse heelal!

3.Hy is die afskynsel van God se heerlikheid! Anders gestel die heerlikheid van God straal uit Hom. As jy na Jesus se karakter lewe en optrede kyk sien jy God! Dink maar hoe het Jesus opgetree teenoor die Samaritaanse vrou, Saggeus, klein kindertjies... vol genade en waarheid!

4.Hy is die afdruksel van sy wese, die ewebeeld van God. Hy wys vir ons hoe lyk God wat Gees is (soos ‘n afdruksel van ‘n muntstuk in klei) Ja, ook wat betref sy heilige toorn. (dink aan die reiniging van die tempel)

5.Hy hou die heelal in stand. “Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand.” (Kol 1:17) Hy voer alles na ‘n heerlike finale bestemming en doel.

6.Hy het die reiniging van ons sondes bewerk. Hier is nou ‘n wending. ‘n Verskuiwing van Jesus se kosmiese funksies na sy persoonlike betrokkenheid by ons. Jesus het iets drasties gedoen aan ons verskriklike sondeprobleem, die probleem wat skeiding maak tussen ons en God… Verder maak die skrywer dit duidelik dat Jesus deur Sy een volkome offer ons volkome en vir altyd van ons sondeskuld bevry! “Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vry gemaak.” (Hebr. 10:14)

7.Hy sit aan die regterhand van God! Dis die absolute magsposisie en ereplek in die ganse heelal. “Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is,sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig,...” (Fil. 2:9,10) Hy is in beheer, nie Satan of sy trawante nie. Dis ‘n heerlike troos wat ons bevry van vrees!

Verder in die hoofstuk word dan ook beklemtoon dat Jesus ook ver verhewe is bo die engele.

PASOP!

Na die beskrywing van die heerlikheid van Jesus as die fokus en uitvoerder van God se verbysterende heerlike verlossingsplan, kom die skrywer by sy eerste waarskuwing in hierdie brief. Sien Hebreërs 2:1-3. Pasop, moenie wegdrywe nie! Dis so belangrik om dit te hoor. So baie mense gaan verlore, nie omdat hulle op ‘n dag, eensklaps Jesus verwerp nie, nee hulle drywe maar net so stadig en stelselmatig weg van die waarhede van die evangelie… Hulle harte raak geleidelik afgestomp, koud en ongevoelig teenoor Jesus! Dis ‘n resep vir die hel!

Dis ‘n baie dringende ernstige waarskuwing om nie die evangelie te ignoreer of te verwerp nie. Om nie te verswak in die geloof nie. Om die erns te onderstreep verwys die skrywer na die tradisie dat die wet van Moses met behulp van engele oorgelewer is.* As daardie wette deur mense oortree is, is hulle baie swaar gesterf. Die punt is, hoeveel swaarder sal ons gestraf word as ons die verlossingsplan soos geproklameer in die evangelie verwerp? Die evangelie is immers nie aarde toe gebring deur ‘n engel nie, maar deur die Seun van God self!

Hou jy nog vas aan die evangelie van Jesus Christus of het jy al begin wegdrywe?

Wees baie eerlik, wat is jou reaksie tans op hierdie groot saligheid? Raak dit jou hart, het dit al gelei tot waaragtige bekering, motiveer dit jou tot ‘n heilige lewe, maak dit jou opgewonde om spesiaal op Sondae die Here te aanbid en te loof saam met sy kinders in die erediens, het jy ‘n passie vir die gekruisigde en opgestane Jesus, neem jy standpunt in vir Jesus of dryf jy saam met die groot stroom van laksheid en goddeloosheid…? Jy sê : “Ek is nou nie seker oor hierdie vrae nie, maar ek is darem ‘n goeie ordentlike eerlike mens!” Ag vriend, die Bybel leer dat ons almal sondaars is. “Daar staan immers geskrywe: "Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie,...” (Romeine 3:10) Daar is niemand sonder sondeskuld voor God nie, nie een nie en daar is net een hoop – hierdie groot saligheid wat Jesus gebring het! Hy het die skuld betaal! As jy Hom nie ken nie, of weggedryf het van Hom is daar geen uitkoms nie, geen ontvlugting nie, geen hoop tot in alle ewigheid nie! 

Onthou net God in sy groot genade stuur hierdie waarskuwing ook vandag na my en jou, juis omdat Hy ons bemin en wil behou!

*Dat die wet deur middel van engele oorgelewer is, vind ons nie direk in die Ou Testament self nie. Ons vind hierdie tradisie wel in Galasiërs 3:7 en Handelinge 7:53



Ugab

Maandag 02 Oktober 2017

#PrayForLasVegas

Las Vegas is die nuutste plek waarvoor gebed gevra word... ons ken nou al die lys van die onlangse verlede wat insluit London, Parys, Brussels... Wat moet ons bid vir hierdie plekke, plekke waar die meeste inwoners in elk geval sonder God en sy gebod lewe? Wil hulle voor gebid word? Moet hulle iets leer of moet ons dalk iets leer uit hierdie rampe?

Wat sou Jesus sê?

Ons hoef nie regtig te raai nie, want Jesus het toe Hy op 'n stadium met 'n soortgelyke ramp gekonfronteer is, baie insiggewende en duidelike kommentaar gelewer... Lees gerus Lukas 13:1-9. Mense bring hier vir Hom die nuus van ‘n menseslagting deur die wrede Pilatus. 

Jesus se reaksie (soos gewoonlik) is onverwags. Hy vaar nie uit in veroordeling teen Pilatus of die vermoordes nie. Hy gee ook nie allerhande slim verklarings vir die misdaad nie. Dis seker wat hulle sou wou gehad het, - dat Jesus die korrupte Romeinse regering van die dag sou slegsê. Of was daar iets fout met die godsdiens van die slagoffers? (terloops dis wat ons sou wou gehad het as dit in ons tyd gebeur het - “Ja, daardie goddelose dobbelaars van Las Vegas moet vir hulle kry...") Nee, Hy kom met ‘n deurdringende teenvraag“Toe antwoord Jesus hulle: "Dink julle dat hierdie Galileërs groter sondaars was as al die ander Galileërs omdat dit met hulle gebeur het? Nee, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle net soos hulle ook almal omkom!” (Vers 2,3) 

Waarom sê Jesus dit? Dit was dalk inderdaad hoe hulle gedink het. Onthou hierdie skare was besig om na Jesus se lering te luister oor die noodsaaklikheid van tydige versoening. Jesus se boodskap was dat hulle betyds moet regmaak vir die naderende oordeel. (12:58-59) So tipies mens kyk hulle nou weg van hulleself na ander. Hulle wil insinueer : “Kyk, hoe tref die oordeel vir ander!” Dis mos wat ons ook so graag doen, nê?

Jesus wil dus sê : “Waarom skram julle weg, waarom dink julle nie aan julle eie toekomstige ondergang nie? Julle moenie dink julle kan die voorafgaande boodskap van oordeel sommer so van julle af weg skuif nie." Onthou hierdie is mense wat die prediking van Johannes die Doper en Jesus (en sy uitgestuurde apostels) gehoor het. Dit was die prediking van bekering en verootmoediging. Nou herinner Jesus hulle: "As julle julle nie bekeer nie sal dieselfde lot julle tref. Die gebeurtenis van die vermoorde Galileërs moet vir julle ‘n teken en waarskuwing wees wat met julle sal gebeur as julle nie bekeer tot Jesus nie. Ja, hierdie oordeel wag vir julle al is julle so godsdienstig..."

Om hierdie boodskap nog verder vas te lê by sy hoorders verwys Jesus na nog ‘n ramp waarvan almal kennis gedra het. ‘n Ingenieursfout waarin 18 mense hulle lewens verloor. ‘n Gebou wat ineenstort...iets wat dikwels ook in ons tyd gebeur... Jesus se boodskap is : “Moenie hierdie ramp afmaak as ‘n uitsondering wat julle dink julle nooit sal tref nie. Dit wat op klein skaal gebeur het met 18 inwoners van die stad Jerusalem sal met almal gebeur wat My verwerp en hulle nie tot My bekeer nie."

NIE VINGERWYS NIE, MAAR SELFONDERSOEK!

Die punt is : Die geluide wat ons hoor (massamoord, onreg of rampe) is waarskuwingskote vir die eindoordeel wat verseker kom. Ons moenie redekawel oor ander se skuld of onskuld nie, maar die hand in eie boesem steek...

HOE MOET ONS DIE NUUS VAN DIE DAG VERSTAAN?

Jesus gee dus in hierdie gedeelte vir ons ‘n oefening in die lees en verstaan van die nuus van die dag. Hoe ons die nuus van al die ellendes rondom ons moet interpreteer... Hy leer mense om die tekens van die tyd reg te onderskei. Hoe om die boodskap van aktuele gebeure reg te verstaan en te beoordeel. Dit was die skare se probleem. (12:56) Die tye en omstandighede het iets vir hulle gesê : “Bekeer julle!” Maar hulle was doof en blind daarvoor. Al die ellendes wat die afgelope jaar en elke dag onder ons aandag kom, basuin eintlik net een boodskap uit : “Bekeer julle, draai om, verander!”

Sommige sondaars gaan ’n vroeë oordeel tegemoet; ander s’n word uitgestel. Alle rampe is eintlik maar voorafskaduwings van die groot finale oordeel. 

Ons wat nou leef kry nog tyd vir bekering. 

Die finale oordeel word uitgestel. Maar onthou uitstel beteken nie in hierdie geval afstel nie. 

Uitstel van die oordeel is ‘n geleentheid wat aangegryp moet word. Hierdie geleentheid is vandag! Dis die boodskap van die gelykenis wat Jesus nou vertel in vers 6 tot 9. Hierdie gelykenis van die onvrugbare vyeboom volg dus logies op die voorafgaande.

Die hoofstrekking van die gelykenis is baie duidelik. Jesus het in die voorafgaande gedeeltes verwys na die onafwendbare oordeel. Israel, deur hulle weiering om hulle tot Hom te bekeer verdien hierdie oordeel. Die tekens van die oordeel is reeds daar. Die nuusgebeure van die dag is voortekens van God se oordeel. Daar is egter nog ’n kans vir bekering. Jesus self, die tuinier tree as middelaar en pleitbesorger op. In die situasie van destyds het Hy prakties deur Sy genesings en seëninge mense se lewens verleng en hulle nog kans gegee tot bekering. Jesus rek die tyd uit sodat ons tot insig en inkeer kan kom. Hy gee ons nog kans.... Die gelykenis maak dit baie duidelik :

Daarna het Hy hierdie gelykenis vertel: "‘n Man het ‘n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was. Toe hy vrugte daaraan kom soek maar niks kry nie, sê hy vir die tuinier: ‘Kyk, dis nou drie jaar dat ek aan hierdie vyeboom vrugte kom soek, en ek kry niks nie. Kap hom uit! Waarom moet hy langer die grond uitput?’
Maar die tuinier antwoord: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes. Miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra. Maar so nie, kan u hom uitkap."

“Laat hom nog hierdie jaar staan...” NOU is nog genadetyd. Hierdie genadetyd sal egter nie vir altyd duur nie. Benut dit nou!


Hier is twee groot sake wat ons hier moet raaksien en prakties toepas op onsself. Die gelykenis teken vir ons aan die een kant ‘n besonder geduldige tuinier en aan die ander kant ‘n onvrugbare boom wat eintlik net in die pad is, maar tog ten spyte daarvan buitengewone sorg en aandag kry. Bedink en herkou bietjie hierdie twee gedagtes. Dink oor die boom... ekself, onsself... mag ons onsself sien vir wie ons is ... ondankbaar, onvrugbaar, van weinig nut vir God en sy Koninkryk. Laat ons nadink en onsself toets... “Het ek die afgelope jaar die vrugte van die Heilige Gees gedra, was daar liefde en blydskap en tevredenheid in my lewe, kon God sy doel met my bereik of was daar eerder onrein en bose gedagtes, gesindhede van onvergewensgesindheid, wraakgevoelens, bitterheid? Het ons Hollywood se modes en gewoontes nagevolg in plaas van God se Woord?” Dink aan al die voorregte en geleenthede wat na ons kant gekom het... bo alles die evangelie van die Seun van God wat die volle prys vir sondaars betaal het! Wat was ons reaksie, het ons omgedraai en Jesus gevolg of het ons net soos Israel volhard in ongeloof en sonde? Mag die Heilige Gees ons oortuig van sonde en verdorwenheid... Maar kyk ook na die Tuinier... sien sy vriendelike gesig, sien die merke in sy hande en voete! Jesus Christus... luister na sy pleitroep, sy uitnodiging... Hy wil jou en my (en die oorlewendes in Las Vegas) nog ’n kans gee...

Sondag 01 Oktober 2017

VASTE SEKERHEID

- te midde van baie onsekerhede op ons geloofspad. 


Alle mense het ‘n behoefte aan sekerheid. Ek wil graag seker wees dat ek ‘n werk en ‘n woonplek sal hê. Ons het ‘n behoefte aan sekerheid oor die toekoms : dat ons en ons kinders veilig sal wees, dat hulle eendag ‘n goeie lewe sal hê... Ons sou graag sekerheid wou hê oor die reënseisoen wat op hande is en nog baie ander dinge... Die mens is van nature bang en onseker (en moet mens seker byvoeg, nuuskierig!). Dit kom vanaf die sondeval en ons verjaging uit die sekuriteit van die paradys, weg van God se nabye teenwoordigheid... Ons soek gedurig na waarborge, insigte en antwoorde rakende die toekoms en sekuriteit. Dis terloops een van die redes waarom soveel mense by die okkulte betrokke raak! (waarsêers en waterwysers, toordokters en slamse, kaart- en palmlesers, spiritiste ens.) Hulle soek antwoorde op hulle vrae en vrese en die duiwel verskaf die (valse) antwoorde en waarborge maar al te graag om so ‘n houvas op mense te kry. 

Moet ons en kan ons, spesifiek as kinders van God oor alles seker wees? Die antwoord wat die Bybel gee en spesifiek die 1 Johannes brief is dat die gelowige se pad beide ‘n pad van sekerheid en “onsekerheid” is! Anders gesê : daar is dinge waaroor ons moet en kan seker wees, maar ons moet ook aanvaar daar is dinge waaroor ons altyd onseker sal wees in die sin dat ons nie weet hoe dit gaan wees of presies wanneer wat gaan gebeur nie. 

SEKERHEID 

Waaroor kan en moet ons seker wees? 

Ons kan seker wees van God. Dat Hy bestaan en dat Hy waarlik God is, die Almagtige Skepper van hemel en aarde. Hy is in beheer van sy skepping en alles sal gebeur sodat Hy sy ewige doelwitte sal bereik. Dis ‘n heerlike vertroostende sekerheid. Dit word nie hier in 1 Johannes eksplisiet genoem nie, trouens nêrens probeer die Bybel die bestaan van God bewys nie. (God glo nie in ateïste nie!) Johannes probeer dit ook nie. Die Bybel veronderstel dit maar net! God is daar en dis net die dwaas wat in sy hart sê dat daar geen God is nie. Kyk na die sterre en seisoene, die woestyne en die woude...wie anders kan die oorsprong daarvan wees as God? “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.” (Psalm 19:1) 

[God se skildery by Swakopmund]

Ons kan (en moet) seker wees dat ons kinders van God is. Dis een van die hooftemas van die hele 1 Johannes brief en eintlik die groot doel waarom hy dit skryf. “Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie. Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.” (1 Johannes 5:12,13) 

Ons kan seker wees van God se liefde. “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook.” (1 Johannes 3:1) Dit gaan saam met die vorige saak. Dat ons as gebroke mense nou reeds kinders van God genoem kan word is ‘n duidelike bewys van die Vader se liefde. (Dink net, gewone mense in ‘n direkte verwantskap, ‘n Vader-kind verhouding met die Almagtige God!) Hierdie liefde is ‘n vaste feit. Ons gevoelens en ons omstandighede kan dit nie verander nie! Dit beteken : al voel ek hoe sleg en emosioneel af, al voel ek hoe eensaam, al voel ek net donkerte - die feit van God se liefde staan vas. Hierdie Vaderliefde is konkreet eenmalig genoegsaam bewys aan die kruis! Al is my omstandighede nou hoe benoud en benard, al is daar geen vooruitsigte en geen uitkoms nie, bly God se liefde ‘n onbeweeglike feit. “Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.” (1Johannes 4:10) 

Ons kan seker wees van God se einddoel met ons. “Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is.” (1 Johannes 3:2) Ons weet dat Jesus beslis weer sal kom en dat ons soos Hy sal wees. Ons sal in sy heerlikheid deel. Johannes sê nie presies hier wat hy bedoel nie, maar uit die res van die Skrif weet ons dat ons verlossing volledig afgehandel sal wees, dat ons sonder sonde sal wees en dat ons ‘n verheerlikte liggaam soos Jesus sal hê. “Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.” (Fil. 3:21) Hierdie doelwitte van God kan deur geen teenstand van die wêreld en die Bose gekeer word nie! Ja, en terloops van hierdie teenstand kan elke kind van God ook seker wees! “...En die wêreld ken ons nie, omdat dit Hom nie ken nie.” (1 Johannes 3:1) 

ONSEKERHEID 

Die kind van God kan bly wees en getroos wees deur heerlike vaste sekerhede. Tog is daar ook ‘n element van onsekerheid op ons geloofspad. Hoe so? “Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie” (1 Johannes 3:2) God het nog nie als vir ons gesê wat Hy kan sê nie. Daar is geopenbaarde dinge en daar is dinge wat Hy in sy wysheid nie aan ons geopenbaar het nie. Dis ‘n belangrike onderskeid. "Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God, maar wat geopenbaar is, is vir altyd bekend aan ons en ons nageslag: ons moet lewe volgens al die woorde van hierdie wet" (Deuteronomium 29:29) Kinders van God moet deur die geloof lewe, dit impliseer dat ons nie nou alles weet, vooruit sien en verstaan nie. “Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie.” (2 Korintiërs 5:7) Die geloofspad is ‘n stap vir stap paadjie gerig deur die beloftes van God. God gee nie vir ons die detail van elke stap wat wag nie. Hy sê net as’t ware kom agter My aan, vertrou My en ek sal jou by die heerlike bestemming uitbring. 

Ons sien dit baie treffend in die lewe van Abram. God het duidelike beloftes aan Hom gemaak oor ‘n nageslag, ‘n land en ‘n ewige seën wat hy sal meebring. Dis vaste sekere doelwitte en onveranderlike beloftes. Abram glo, maar Abram het nie vooraf geweet wat alles oor hom sou kom nie. Daar is vir hom niks vooraf gesê oor die droogte in die beloofde land nie, oor jare se kinderloosheid, wag en frustrasie nie, oor die toets wat sou wag op Moria nie. Nee, stap vir stap het God vir Abram op die geloofspad gelei. Die geestelike pad wat God met sy kinders stap is ‘n pad vol verrassings. Ons weet nie wat môre, volgende week en volgende jaar als oor ons pad kom nie, maar ons weet in wie ons glo en ons weet dat sy genade in alle omstandighede genoeg sal wees. Ons weet daar wag ‘n heerlike eindpunt. Ons weet dat God die goeie werk wat Hy in ons begin het sal klaarmaak en voltooi. (Filippense 1:6) 

EERSTE PRIORITEIT

En nou? Hoe moet ons leef in ‘n situasie waar ons nie als weet nie? “Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is.” (1 Johannes 3:3) ‘n Belangrike ideaal en fokuspunt vir elke kind van God. Hou jouself rein! Die wete dat ons Jesus sal sien as einddoel moet ons motiveer om altyd gereed te wees. Ons weet nie watter gevare, versoekings en probleme môre sal bring nie. Maar vandag, nou moet ons heilig lewe. Los die vrese en bekommernisse oor môre en leef volgens God se geopenbaarde wil in sy Woord. Raak ontslae van als wat verkeerd, vuil en veragtelik is! Nie toekomsspekulasies nie, maar daaglikse gehoorsaamheid ! Dit moet ons fokus wees te midde van baie dinge wat ons nie weet of nou reeds verstaan nie. 

Om dit op te som: Ons is seker van God, maar ons is nie altyd seker oor presies wat Hy met ons gaan doen nie. Maar die sekerheid oor God en dat Hy ons Vader is, en dat Hy ‘n volmaak goeie en liefdevolle Vader is, gee aan ons ‘n heerlike sekerheid, ‘n onwrikbare vastigheid te midde van ons onsekerheid. Vertrou Hom en gehoorsaam Hom een dag op ‘n slag! So kom ons uiteindelik by ons bestemming aan.