BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 21 April 2016

HIERMAALS én HIERNAMAALS

Ja, daar is inderdaad ook ‘n hiernamaals, want God is almagtig en Sy Woord is waar!

Mense spot deesdae baie graag met die hiernamaals, dis amper asof sommige ‘n lewe anderkant die graf minag. “Ag, glo jy regtig in ‘n pie in the sky when you die?”, koggel hulle. By ander mense hoor mens amper ‘n fatalistiese houding :"Jong, ons moet maar net nou vir mekaar goed wees, laat ons maar nou ‘n dop saam drink, daar is nie ‘n eendag nie, daar is nie ‘n ewigheid nie! Kyk maar wat jy uit die lewe kan kry en vergeet van ‘n lewe na die dood.” En asof hulle nie genoeg doppe gedrink het nie, word gestorwe vriende en voormalige drinkebroers se lewe soms herdenk met ‘n harde kuier in ‘n kroeg... Dis die tipe van houding waarna Paulus verwys : “Laat ons eet en drink, want môre sterf ons!” 



Natuurlik is dit inderdaad ‘n Bybelse boodskap dat hierdie lewe belangrik is, dat ons nou ten volle moet leef, dat ons nou moet liefde bewys, nou iets moet doen aan armes en hongeriges... Goeie werke is immers iets wat nou op hierdie aarde gedoen moet word! Maar ons moet nooit vergeet dat die heerlike opstanding uit die dood nog altyd deel was van die kern van die Christelike boodskap van hoop nie. As jy die opstanding wegvat, vat jy die hart van die evangelie weg en bly daar niks evangelie oor nie! Hieroor is die apostel baie duidelik : “As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.” (1 Kor. 15:19) Die Bybelse boodskap (in teenstelling met wat Joel Osteen leer) maak dit duidelik, die BESTE is nie nou nie (al ontvang ons nou reeds baie seën) dit kom nog!

‘n Spottery met die hiernamaals en met die opstanding is eintlik ‘n aanval op die almag van God en die evangelie van Jesus Christus. 

UITGEBOUL?

Sulke aanvalle is ook niks nuuts nie. Dis presies wat die Sadduseërs doen in Markus 12:18-27. Die Sadduseërs was destyds een van die twee hoof Joodse groeperinge (die ander groep was die Fariseërs). Hulle het net die eerste vyf boeke van Moses as bron van gesag erken en volgens hulle het daar niks gestaan van ‘n opstanding nie en het hulle nie aan ‘n opstanding en ook nie aan engele geglo nie. (Hand 23:6-8) Die Sadduseërs kom nou met ‘n strikvraag na Jesus toe en dink hulle gaan hom uitboul en in die verleentheid stel. Die agtergrond van hulle vraag is die Mosaïese bepaling oor die leviraatshuwelik. (swaershuwelik) Dit was ‘n wet wat voorsiening gemaak het dat ‘n man ‘n verantwoordelikheid het as sy broer kinderloos sou sterwe om met die gestorwe broer se vrou te trou en so ‘n nageslag vir die broer te verseker. (Deut 25:5) Nou gebruik die vraagstellers hierdie wet in ‘n hipotetiese verhaal van ‘n vrou wie se man kinderloos gesterf het, die proses het homself herhaal en so was sy uiteindelik met sewe broers getroud. Nou in die tyd van die opstanding, in die hiernamaals, wie se vrou gaan sy nou wees? Dis die dilemma wat hulle voorhou. So probeer die Sadduseërs die waarheid van die opstanding belaglik maak. Gaan sy dan nou dalk sewe mans gelyk moet hê is die implikasie van hulle vraag? Mense kan vandag nog allerhande hipotetiese probleme uitdink om die opstanding en die lewe hierna te probeer belaglik en onmoontlik voorstel. Wat van iemand wat as baba gesterf het, sal hy in die opstanding ook ‘n baba wees en vir altyd ‘n baba bly? Wat as ‘n haai jou opgeëet het, hoe gaan jou liggaam weer bymekaargevoeg word?

Jesus reageer baie skerp en duidelik. “Julle dwaal! En die rede hoekom julle dwaal is tweeledig : Julle ken nie die Bybel nie en julle ken ook nie die krag van God nie!”

Dan lyk dit of Jesus eers iets sê oor God se krag. God se krag en sy werkinge is nie aan ons aardse begrip gebonde nie. Ons moet dit nie probeer beperk met ons aardse verstaan nie. Die huwelik is ‘n tydelike aardse instelling en gaan nie ewig voortbestaan of ‘n funksie hê nie. (Terloops, dis dalk ‘n groot troos vir die wat baie swaarkry in die huwelikJ of aan die anderkant, dis ook ‘n troos vir diegene wat om een of ander rede nooit ‘n huweliksmaat kon vind nie, hulle gaan nie vir ewig iets misloop nie!) In die opstanding gaan ons soos engele wees wat nie trou nie, maar dit sal niks van ons volheid en vreugde wegneem nie. Die doel en funksie van die aardse huwelik (hoe kosbaar nou ook al) gaan uitgedien wees! Omdat God se almag onbeperk is, gaan die opstandingslewe ook groter en heerliker wees as wat ons onsself ooit kan indink.*

SKOON GEBOUL MET GOD SE HEERLIKE  VERBONDSGETROUHEID!!

En dan val Jesus die Sadduseërs voluit aan uit die Skrif. Opvallend, Hy kies juis ‘n gedeelte uit die Pentateug wat hulle beweer om te glo. En bewys hulle daaruit verkeerd. Jesus haal aan uit Eksodus 3:6 waar God Homself aan Moses bekend maak as “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abram,die God van Isak, die God van Jakob.” God sê daardeur omdat Hy die God van hulle voorvaders is, Hy nog steeds vir Moses en die Israeliete sal lei en beskerm soos Hy hulle gelei en beskerm het. Dit gaan dus oor God se verbondsgetrouheid. Jesus impliseer dat as Gód getrou is, die dood nie die laaste sê kan hê nie. God se verbondsgetrouheid is sterker as selfs die dood en daarom is daar beslis iets soos ‘n opstanding. God IS hulle God, nog steeds en dit impliseer dat hulle leef in sy teenwoordigheid. Nou is dit Jesus wat die Sadduseërs skoonboul, hulle middelpen spat en hulle kan Hom nie antwoord nie. 

Ons het natuurlik nog minder verskoning om die opstanding te betwyfel as die Sadduseërs. (Inderdaad praat die Ou Testament nie so duidelik daaroor soos die Nuwe Testament nie.) Maar intussen het Jesus self uit die dood opgestaan, liggaamlik! Dit het alles onteenseglik en onbetwisbaar duidelik gemaak! Die dood is finaal oorwin en daar sal ‘n opstanding wees. (Kliek op SPOKE EET NIE VIS NIE)

Geliefdes, daar is ‘n opstanding om na uit te sien, daar is ‘n heerlike hiernamaals om te verwag wat sal aanbreek vir God se kinders. 

Ons glo dit omdat die Bybel so sê, ons glo dit omdat God se skeppings en herskeppingskrag onbeperk is. Hier is ook ‘n dieper stuk raad: Hoe word ons bewaar van dwaling? Leer ken die Skrifte (die Bybel), Leer ken God se krag! As jy na Jesus kom en voor Hom as jou Verlosser buig sal jy sy Goddelike krag eerstehands, proefondervindelik ervaar! God se kinders word immers verseker dat dieselfde krag waardeur Jesus uit die dood opgewek is, in ons werksaam is! (Ef 1:18-20)

Vir 'n merkwaardige getuienis oor 'n nadoodse ervaring lees, die verhaal van ds. de Kock. Kliek op GRENSE VAN DIE EWIGHEID

*Die idee van Moslem jihadi’s wat as martelare sterf dat hulle in die hiernamaals met die geselskap van maagde beloon sal word, wys net weereens dat Islam ‘n mensuitgedinkte mengelgodsdiens is wat niks begryp van God se almagtige heerlikheid nie.

Sondag 17 April 2016

ULTIMATUM AAN DIE ALGEMENE SINODE

- behoort te wees : Herstruktureer of ons tree uit! Die NG Kerk kan nie meer op hierdie manier funksioneer nie.

Dit was van die sterk gedagtes wat uitgespreek is deur Prof. Johan Janse van Renburg tydens ‘n gereformeerde saamtrek op Otjiwarongo tydens die naweek van 15-17 April 2016. Hierdie geslaagde byeenkoms is bygewoon deur belangstellendes van so ver as Aranos in die suide, Omaruru in die weste en Grootfontein in die noord ooste. ‘n Kenner op die gebied van homoseksualiteit, Dr. Peet Botha het ook ‘n sinvolle bydrae gelewer.

Prof. Janse van Rensburg (skrywer van die boekie, “In Gesprek met die Kerk”) het reguit en duidelik gepraat oor sake wat ons na aan die hart lê soos Skrifgesag, Post Modernisme, leierskap, die gevare van die Ontluikende Kerk (Emerging Church), die kommerwekkende stand van teologiese opleiding, kerkvergaderings, Belhar, die AS besluit oor selfdegeslagverhoudings en vele ander verwante sake.

Ekself was net die Saterdag teenwoordig en onderstreep net ‘n paar wyshede van Prof. Janse van Rensburg by wyse van kort aanhalings. Wees gewaarsku, dis nie vir mense met swak siele nie...

SKRIFGESAG EN HERMENEUTIEK

“Ons is klowe uit mekaar wat betref Skrifgebruik.” Ons is ook weer daaraan herinner hoe die relativisme van die postmodernisme so 'n sterk invloed op ons kerk uitoefen dat 'n Algemene Sinode al besluit het dat elkeen maar self moet besluit of daar 'n duiwel is of nie.

“‘n Professor in Ou Testament sê : ‘Ek aanvaar nie Handelinge 8 se uitleg van Jesaja 53 nie.”

“Dis tyd om hermeneutiese keuses te maak en daarby te bly. ‘n Akkommoderende houding kan nie anders as om op relativisme uit te loop nie.”

“Ek was verstom toe ‘n dosent van ‘n fakulteit verklaar dat die Bybel vir ons geen etiese voorskrifte gee nie.”

HOMOSEKSUALITEIT

Oor die hantering van homoseksuele – “Ek sal jou met liefde behandel, maar moet net nie vra ek moet die Bybel verander sodat jy beter kan voel nie.”

ONTLUIKENDE KERK (EMERGING CHURCH)

Prof Janse van Rensburg het gewys op die idees van leiers in hierdie beweging soos Rob Bell, Allen Jones. Sommiges het sterk afwykende beskouings oor sake soos sonde en die kruisdood van Jesus. Met verskeie voorbeelde het Prof. Janse van Rensburg ons attent gemaak op die skrikwekkende invloed van die Ontluikende Kerk binne ons kerk.

“Waar kom die obsessie vandaan om inklusief te wees? Dit kom van die New Age af. Die emerging church is die vertoonvenster van die New Age.”

“Die vorige moderator (AS) is ‘n vurige ondersteuner van die Ontluikende kerk.”

LEIERS EN TEOLOGIESE OPLEIDING

Oor die bedenklike toestand in ons kerk - “Die AS en die leierskap en die teologiese opleiding het ons gebring waar ons nou is.”

“Die invloed van leiers op strategiese beplanning het handuit geruk. Die leiers het teologiese idees wat hulle wil deurvoer in die kerk.”

“Daar is nie ‘n fakulteit van die NG Kerk wat gereformeerde teologie doseer nie.”

GEREFORMEERDE KERKREG

“Ons het die beginsels van die gereformeerde kerkreg opsygesit. Een daarvan is dat die plaaslike kerk volledig kerk is.”

ALGEMENE SINODE

“Dit is absoluut ondenkbaar dat die AS 2015 besluit het dat die Wes Kaap kan besluit om Belhar as belydenisskrif te aanvaar. Dis onwettig. Die AS het dus sy verantwoordelikheid gedelegeer na die Wes Kaap.”

“Die moderator is voorsitter van die sinode in sitting. Na die sinode kan die moderator nie namens die sinode praat nie.”

“Die Algemene Sinode is ver verwyderd van die kerkverband. Die besluite van die Algemene Sinode word al hoe minder deur die publiek in die kerk aanvaar.”

MY GEWAARWORDINGE

Die dinge wat deur Prof. Janse van Rensburg aangeroer is, het mens weer opnuut warm onder die kraag gemaak en mens se ergste vermoedens bevestig. (‘n Mens weet nou ook hoekom word hy nie genooi na een ons predikantekonferensies hier in Namibië nie, of is ek nou verkeerd?) Hy praat van dinge waarvan ons intens bewus is. Soos die gewoonte om die dagwydings te gebruik om ‘n sinode (spesifiek verlede jaar se Algemene Sinode) te probeer manipuleer, die cliché van “Ons moet mekaar vashou” terwyl ons Skrifbeskouing myle van mekaar verwyderd is en nog vele ander.

Wat nou, moet ons moedeloos raak? Nee, selfondersoek, reformasie en herlewing begin by elkeen van ons. Dis ons elkeen se verantwoordelikheid en dan ook op ‘n besondere manier elke ouderling van ‘n plaaslike gemeente s’n. Mense val vir die leuens van die emerging church omdat hulle na ‘n ervaring soek aangesien die suiwer en bevrydende Woordverkondiging al skaarser word. As die Heilige Gees in ons werk en ons oortuig van ons sondelas, as die evangelie boodskap dan aan ons bevryding van hierdie las bring, sal daar waarlik blydskap en vreugde wees in Jesus Christus, en sal ons nie die kunsmatige en okkulte ervarings van die New Age ten prooi val nie.

My sterk gevoel is, die gewone lidmaat, ouderling en predikant, die kind van God wat nog glo in God se Woord, moet die kerk terugeis en terugvat van vreemde beheer en invloed wat ingesypel het deur ons leiers en teologiese fakulteite! Ons moet weer buig voor die koningskap van Jesus, die Here van die Kerk, wat sy kerk deur die Woord en Gees regeer.

Lewer gerus kommentaar en gee jou mening!

Vrydag 15 April 2016

AS EK REEDS ALS PROBEER HET...

en niks of niemand kon my help nie, dan is HY nog steeds daar...


Ons het verlede Sondag gekyk na die noodsaaklikheid om na Jesus te kom en so die lewe by Hom te kry. Dis nie genoeg om die Bybel te lees en te ken nie, die Bybel wil ons juis na Jesus lei. (kliek op BLINDE BYBELLESERS) Miskien weet jy dis die enigste oplossing om na Jesus te kom, maar daar is baie dinge wat jou laat terugdeins. Baie dinge het nou al in jou lewe gebeur wat jou moedeloos of bang laat voel om na Jesus te kom. Ek hoop dat jy deur hierdie wonderwerk van Jesus (waarvan ons lees in Matteus 17:14-21) jou sal oortuig dat jy regtig maar kan kom! Dat jy met kinderlike vertroue na Jesus sal kom, vandag nog.

Jesus keer terug van die berg van verheerliking. (1-8) Daar het die stem uit die hemel sy Goddelike majesteit bevestig! “Terwyl hy nog praat, het ‘n helderligte wolk skielik sy skaduwee oor hulle gegooi, en ‘n stem uit die wolk het gesê: "Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom." (5) Die Goddelike heerlikheid en gesag van Jesus wat so helder geskyn het in die teenwoordigheid van Moses en Elia op die berg word nou getoets en gelukkig bevestig in die harde werklikheid van ‘n stukkende wêreld waar die duiwel verwoesting saai! 

Jesus en sy drie leier dissipels is nou weer terug by die mense en hier kom kniel ‘n man voor Hom. Dis duidelike dat hy ‘n groot nood het, dat hy desperaat is. Waarom is sy nood so groot? Hy het ‘n seun wat geestelik versteurd is en in ‘n toestand van uiterste ellende verkeer. Hierdie is nie maar net ‘n gewone siekte of versteuring nie, maar die direkte werk van ‘n bose gees. ‘n Seun vasgevang in die greep van Satan. (Terloops, alle mense wat aan epilepsie ly of ‘n versteuring het is nie noodwendig van ‘n bose gees beset nie) ‘n Mens kan jou die desperaatheid en die smart van die pa kwalik voorstel. Dit was al ‘n probleem wat ‘n lang pad gekom het. “Jesus het vir die pa gevra: "Hoe lank is dit al dat dit hom oorkom?" "Van kleins af," antwoord hy, "en baiekeer het die gees hom al in vuur en in water gegooi om hom dood te maak.” (Mark 9:21-22) Om alles te vererger het die gees hom stom en doof gemaak (Mark 9:25), so jy kon nie eens met die seun ‘n sinvolle gesprek voer om te probeer vasstel wat die probleem is nie.

Asof alles nie reeds erg genoeg is nie, het hierdie man tevergeefs sy seun na die dissipels gebring, hulle kon hom nie help nie. “Ek het hom al na u dissipels toe gebring, en hulle kon hom nie gesond maak nie." (16) Dink net die geweldige teleurstelling! In effek het hulle hierdie seun tot ‘n ongeneeslike geval verklaar. Wat ‘n ontmoediging! 

"BRING HOM NA MY TOE!"

Maar toe in die diepste donkerte van wanhoop, die helder stem van Jesus : “Bring hom na My toe!” Toe die seun na Jesus self gebring word, moet die duiwel die onderspit delf en die hasepad kies. 

Teen die mag en majesteit van Jesus het die duiwel geen kans nie! 

Twee troosvolle feite kom na vore:

  • Jesus se almag en gewilligheid om mense uit die mag van die duiwel te verlos! 

Jesus bevry hierdie seun van ‘n bose gees en hy word ook genees. Hier is hoop vir sondaars. Alle sondaars is weliswaar nie besete nie, maar alle sondaars is onder die mag van die bose. (Ef 2:1-3) Alle onbekeerdes is maar slawe van satan, of hulle dit besef of nie! Maar Jesus kan en wil sulke slawe bevry! Miskien is jy moedeloos oor jou toestand... jy’t al alles probeer om vergifnis en vrede te kry, maar dit ontwyk jou steeds. Jy het al alles geprobeer om van verkeerde gewoontes en verslawing vry te kom, maar dit teister jou nog steeds. Jy het al hulp en raad gevra by kerkmense, sielkundiges, psigiaters, predikante, pastore en profete en selfs professore, maar niks het gewerk nie... Jy is moedeloos, wanhopig, stukkend, verward... Vriend, hoor Jesus se woorde : Bring hom na My toe!”

WAAROM SOU JY NOG WANHOOP?

Moenie moedeloos wees nie, moenie wanhoop nie. Waarom sal jy moedeloos wees as daar ‘n almagtige God is? Waarom sal jy moedeloos wees terwyl hierdie almagtige God ‘n genadige God is? Waarom sal jy moedeloos wees as Jesus sy liefde vir jou, ‘n liefde tot die dood, reeds aan die kruis bewys het? Waarom sal jy moedeloos wees as Jesus uitgeroep het : “Dis volbring!” Waarom sal jy moedeloos wees terwyl Jesus self stukkendes en moedeloses soos jy uitnooi : ”Kom na my toe almal wat uitgeput en oorlaai is”? (Matteus 11:28) Waarom sou jy langer wanhoop en twyfel aan die krag van Jesus se genade as Jesus ‘n Saggeus, ‘n Petrus, ‘n Paulus, ‘n Maria Magdalena en ontelbare ander reeds gehelp en uit die mag van Satan bevry het?

  • Jesus openbaar sy reddende mag waar daar geloof is, al is die geloof opsigself maar baie swak. 

Geloof is die hand waarmee ons aan Jesus vashou en sy seëninge ontvang, die oog waarmee ons hoopvol na Hom kyk soos die Israeliete na die koperslang op die paal gekyk het en genees is van die gif! Die dissipels kon hierdie seun nie help nie en Jesus raas baie ernstig met hulle. Hy sinspeel met sy woorde in vers 17, “ongelowige en ontaarde geslag” op Deuteronomium 32:5,20 waar dit verwys na die volk Israel se ongeloof en verdorwenheid. Maar juis deur die Here (JHWH) se woorde in sy mond te neem wil Hy hulle laat verstaan dat dit die HERE self is wat nou in Hom (Jesus) na hulle kom. 

Jesus se dissipels het met hulle eie krag en gesag genesing probeer bewerk. Dit was hulle fout... Sonder geloof in Jesus kan ons niks vermag of verwag nie. Geloof is vertroue op Jesus en juis nie op onsself nie. Geloof self is maar gering soos ‘n mostertsaadjie, maar dit is gerig op Jesus en dis wat belangrik is. Dit gaan dus nie oor ‘n klein bietjie geloof nie (geloof kan tog nie gemeet word nie), dit gaan oor geloof in Jesus al lyk dit maar gering! Dit gaan nie oor die krag en kwaliteit van ons geloof nie, dit gaan oor in WIE ons glo. Die pa se houding soos ons dit in Markus kry verduidelik dit mooi. “"Ek glo," roep die seun se pa dadelik uit. "Help my in my ongeloof." (Markus 9:24) Sy eie geloof lyk vir homself maar gering, hy beskryf dit self as “ongeloof”... maar Jesus help hom, want die essensie van geloof is by hom aanwesig – hy kom na Jesus! Dis geloof – om na Jesus te kom, Hom te vertrou, al voel my geloof nie baie sterk nie! Moenie op die grootheid van jou geloof vertrou nie. Geloof kom in aksie wanneer jy met jou sondenood na Jesus kom en Hom vertrou om jou te vergewe en te red! 

Jesus het nie hierdie pa wat erken het dat sy geloof swak is, teleurgestel nie, Hy sal jou ook nie wegwys nie!

Geliefde, weet net dit: 

As al my eie pogings en probeerslae misluk het, as al die raad wat ek gekry het, gefaal het, as al die mense na wie ek opgekyk het, my teleurgestel het, dan is Jesus nog steeds daar, die magtige Verlosser, die Gesalfde van God, die Lam wat vir ons geslag is, die magtige Koning, die Helper van sondaars in nood!




Vrydag 08 April 2016

SKRIFAFKRAKING

- die “vroom” waarskuwing teen ‘n papierpous.



Dit het mode geword om die Bybel af te kraak. Sommige Bybelhaters stel dit so vroom dat baie oningeligtes en eenvoudiges vir hulle geslepe praatjies sal val. Hulle gooi dit al te stroperig oor die boeg van : “Ons enigste bron van gesag vir leer en lewe is Jesus self. Ons moet immers nie die Bybel aanbid nie, maar vir Jesus.” O, ja en daar word sonder enige historiese bewyse te lekker saamgebulder teen die onding van ‘n sogenaamde reformatoriese “papierpous”. En op grond hiervan word ‘n hele rits Bybelse uitsprake en norme meteens van die tafel gevee, sodat bose mense rustig met hulle sondige lewensstyle onder die dekmantel van liefde en genade kan aangaan.



Ek noem twee voorbeelde van geleerde menere wat graag die gesag van die Skrif afkraak :


"Miskien is ons vreemde denke oor God self die kern van die probleem. As die volheid van God in Jesus geopenbaar is (soos die Totius-vertaling dit so poëties uitdruk) is daar tog nie plek vir die reformatoriese dualisme nie. Die genadige Jesus teenoor die kwaai, veroordelende God van die Ou Testament.* En solank die kerk die gesag van die OT en die Jesus-verhaal op dieselfde vlak plaas, sal die kwaai God van die OT vir die meeste gelowiges eenvoudig in die NT en die Jesus-verhaal ingelees word. Vir my lyk dit of ons by Jesus moet begin. Alles wat sy leer en lewe weerspreek, is onvolledige of onvolmaakte openbaring (as ons nog die reformatoriese taal moet gebruik). Skep 'n nuwe stelreël: Sola Jesus." (NH)

"Die nuwe papierpous van die reformasie, nl 'n onfeilbare Godsgeïnspireerde en onaantasbare "Woord van God" is net 'n uitvloeisel van die laaste kwart van die bestaan van die kerk. Hierdie papierpous het belangriker geword as Jesus self en het mensgemaakte grense om Jesus se liefde gespan. Mag geloof losbreek daarvan." (SK)

(ek wonder waarnatoe wil hierdie vriend losbreek?)

WAT LEER JESUS SELF?

Natuurlik moet ons nie die Bybel aanbid nie, en is Jesus self die fokus van ons hartsverlange en aanbidding. En daar is seker mense wat ‘n ongesonde Bybelverering het, en die sentrale boodskap van die Bybel, naamlik Jesus Christus miskyk en nie na Hom wil kom vir verlossing nie. (Vergelyk Johannes 5:39,40) Maar het hierdie menere al ooit gevra oor wat Jesus self oor die Bybel (spesifiek die Ou Testament) te sê gehad het? En wat weet ons hoegenaamd van Jesus en oor geloof in Hom, buiten wat die Skrif as betroubare bron ons vertel?

Dis merkwaardig dat Jesus as Seun van God Hom in sy stryd teen Satan telkens op die Skrif beroep (Matteus 4), en ook op ander maniere duidelik maak hoe onontbeerlik kennis van die Skrifte is. In dispuut met sy teenstanders is dit baie opvallend : 

“Maar Jesus antwoord hulle: "Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie.
Met die opstanding trou die mense nie meer nie, maar is hulle soos die engele in die hemel.
En wat die opstanding van die dooies betref, het julle dan nie gelees wat God vir julle gesê het nie: ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak, en die God van Jakob’? Hy is nie die God van dooies nie maar van lewendes." (Matteus 22:29-32)

Terloops is dit nie dalk waar baie van ons teoloë uit die bus val nie, hulle ken nie meer die Skrifte nie en het geen proefondervindelike belewenis van God se krag nie?

Lukas 24 gee merkwaardige insig in hierdie saak (Christus en die Skrif), wat miskien deur die slimmes misgekyk word:

Wanneer Jesus met die twee Emmausgangers in gesprek is lees ons : 

“Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê.” (Lukas 24:27)

Wanneer Jesus Homself nog ‘n keer lewend aan sy dissipels vertoon nadat Hy ‘n stuk gebakte vis voor hulle oë geëet het sê Hy :

“Daarna sê Hy vir hulle: "Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is."
Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan.
Verder sê Hy vir hulle: "So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’ (Lukas 24:44-47)

Let net op:

  • Jesus het sy dissipels na sy opstanding onderrig en voorberei vir hulle taak, nie juis deur nuwe openbarings en wonderwerke nie, maar deur hulle terug te verwys na die Skrif. Die Ou Testament in geheel. (Wet, Profete en Geskrifte)

  • Die Skrifte leer niks anders as wat Jesus leer nie en bevestig sy Persoon, werk en opdragte. Binne konteks van die Nuwe Verbond het Jesus als kom vervul. Terloops as iemand jou al verwar het met die "Skulpvis argument" kliek op SKULPVIS.

  • Jesus het nooit ‘n teenstelling gesien tussen sy Vader soos geopenbaar in die OU Testament en sy Vader soos Hy Hom geken het tydens sy wandel op aarde nie. Jesus het net een God en Vader geken, die God van Abram, Isak en Jakob. (Matteus 22:32)

Om God se Woord in twyfel te trek is nie iets nuuts nie, dis ‘n ou set van Satan wat hy met sukses in die paradys gebruik het om Eva te laat wankel. Sy trawante gebruik vandag nog dieselfde taktiek met groot sukses.

Ons verlossing lê in Jesus alleen. Ons moet na Hom kom. Dis juis die Skrifte (Ou en Nuwe Testament) wat ons van Hom vertel en ook uitnooi om by Hom rus te vind!


*Waar NH aan sy kennis van die reformatoriese teologie kom weet ek nie, maar die Bybel en die reformatore ken net een God in die Ou en Nuwe Testament. In beide Testamente is Hy die genadige en barmhartige God, (wat alreeds in die tuin van Eden na die gevalle mens uitreik met liefde) maar in beide Testamente is Hy ook die heilige en regverdige God. Net soos in die Ou Testament word God ook in die Nuwe Testament ‘n “verterende vuur” genoem! (Hebreërs 12:28,29)


Boesmangif (Adenium boehmianum) op 'n plaas naby Tsumeb. Sommige teoloë hanteer die Bybel deesade asof dit gif is, maar Paulus sê dat dit vir ons die "kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Jesus Christus" ( 2Timoteus 3:16)

NASKRIF

Een van die groot gewaardeerde teoloë van ons tyd wie se siening oor die Skrif baie verwarrend is, is Walter Brueggemann.

Op 'n vraag oor die LGBT kwessie en hoe die Ou Testamentiese tekste daaroor praat het Brueggemann as volg geantwoord :  "The gospel is about God’s saving love that wants to restore all of humanity to full communion. To reach back to an ancient text that has now been corrected by the revelation of God in Jesus Christ is simply a bad maneuver and poor methodology and theologically irresponsible. Those texts are not the determinative texts. The texts that are determinative are those that talk about the love of God that has been shown to us in Jesus. We can’t compromise that."
Kyk wat doen Brueggemann, hy impliseer dat gedeeltes van die Ou Testamant verkeerd was en gekorrigeer is deur Jesus. (Dis 'n oorvereenvoudiging) Alles in die Bybel kan ons dus nie vertrou nie. Die bepalende tekste is volgens hom diegene wat praat van die liefde van God. Natuurlik glo ons Jesus as Hy praat vaan die liefde van God, maar wat van die baie uitsprake deur Jesus wat wel ook praat van die oordele van God?

Natuurlik sê Brueggemann ook baie wonderlike dinge op baie treffende wyse. Hy verwys na die val van Jerusalem in 587vC as die 9/11 van die Ou Testament, bedoelende dat die volk Israel totaal van hulle voete af geslaan is deur so iets wat net nooit sou kon gebeur het nie. Maar juis in so 'n situasie spreek God weer vars tot sy volk. Net so beskryf hy Goeie Vrydag as die 9/11 van die Nuwe Testament, want vir die Jode is 'n gekruisigde Messias, Koning van die Jode ondenkbaar, maar weereens dis soos God werk.

Tog bly Brueggemann se Skrifbeskuing gevaarlik en dien dit as basisberedenering vir afwykende beskouings van ons tyd.

Lees ook : IS DAAR IETS SOOS WAARHEID?

JESUS OF PILATUS?

- aan wie se kant is jy met betrekking tot die waarheidsvraag?

Jesus sê : "Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê."

Pilatus sê :  "Wat is waarheid?"

Jesus maak dit baie duidelik dat dit sy roeping is om van die waarheid te getuig. Hy impliseer dus baie duidelik dat daar iets soos waarheid is. Verder in die Johannes evangelie is dit duidelik dat hierdie waarheid geken kan word en ons sodoende kan bevry, dat God se Woord die waarheid is en dit Jesus self die beliggaming van die waarheid is! Waarheid staan volgens Jesus in duidelike kontras met die leuen. As iets nie waar is nie, is dit 'n leuen. (sien Joh 8:44)

Pilatus tree merkwaardig baie op soos die twyfelende post-modernis wat totaal onseker en skepties klink oor die konsep van waarheid.

Sommige “Christene” klink vandag meer soos volgelinge van Pilatus as dissipels van Jesus!

Lees self hoe die Johannes evangelie die konsep van waarheid hanteer:

(Joh 1:14)  Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.

(Joh 1:17)  God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.

(Joh 3:21)  Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is."


(Joh 4:23)  Maar daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen.

(Joh 4:24)  God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid."

(Joh 5:33)  "Julle het ‘n afvaardiging na Johannes toe gestuur, en wat hy getuig het, is die waarheid.

(Joh 8:32)  en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak."

(Joh 8:40)  Maar nou wil julle My doodmaak, vir My wat die waarheid wat Ek by God gehoor het, aan julle verkondig. Dit is nie wat Abraham gedoen het nie.

(Joh 8:44)  Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af ‘n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ‘n leuenaar en die vader van die leuen.

(Joh 8:45)  En omdat Ek die waarheid praat, glo julle nie in My nie.

(Joh 8:46)  Wie van julle kan sonde by My aanwys? As Ek dan die waarheid praat, waarom glo julle nie in My nie?

(Joh 9:24)  Die Jode het toe die tweede keer die man wat blind was, geroep en vir hom gesê: "Praat die waarheid voor God; ons weet mos hierdie man is ‘n sondaar."

(Joh 14:6)  Jesus het vir hom gesê: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.

(Joh 14:17)  naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

(Joh 15:26)  "Wanneer die Voorspraak kom wat Ek vir julle van die Vader af sal stuur, die Gees van die waarheid, wat van die Vader uitgaan, sal Hy oor My getuig.

(Joh 16:7)  Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur.

(Joh 16:13)  Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig.

(Joh 17:17)  Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid.

(Joh 17:19)  en ter wille van hulle wy Ek My aan U toe, sodat hulle ook deur die waarheid aan U toegewy kan wees.

(Joh 18:37)  "Dan is jy tog wel ‘n koning?" vra Pilatus. "Dit is soos u sê: Ek is ‘n koning," antwoord Jesus. "Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê."

(Joh 18:38)  "Wat is waarheid?" sê Pilatus toe vir Hom. En toe hy dit sê, gaan hy weer uit na die Jode toe en sê vir hulle: "Ek vind geen skuld in hom nie.

(Joh 19:35)  Hy wat dit gesien het, lê daarvan getuienis af, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat julle ook kan glo. (Hier gaan die begrip waarheid baie duidelik oor sigbare verifieerbare getuienis, dis hoegenaamd nie ‘n wollerige begrip nie)

"Dankie Here Jesus dat ons die waarheid mag ken... lei ons deur U Gees om dit al duideliker te mag verstaan!"

Naskrif : Die teenstanders van die Bybel as normatiewe bron van waarheid is baie lief vir die Skulpvis argument. Kliek op SKULPVIS



Donderdag 07 April 2016

BLINDE BYBELLESERS

- mis die lewe en bly vir altyd in die duisternis!

“Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie” Wat ‘n skrikwekkende en hartseer verwyt wat uit die mond van Jesus persoonlik kom. Dis nog meer hartseer as mens besef dat hierdie mense wat nie na Jesus wil kom nie, nie kommuniste, terroriste, misdadigers, korrupte presidente, Moslems of bankrowers is nie, maar ja, hoor mooi, Bybellesers! Ernstige bekwame Bybellesers! Mense wat die Skrifte noukeurig ondersoek het, met ‘n bepaalde doel naamlik om die ewige lewe te verkry! Dis juis vir hulle wat hier deur Jesus uitgetrap word!

“Julle ondersoek die Skrif, omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry. En dit is juis die Skrif wat oor My getuig.
Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie.” (Johannes 5:39,40)

‘n Paar praktiese waarhede en belangrike vertrekpunte kom hier na vore :

1.Nie almal wat die Bybel het, lees of selfs ken het al die lewe nie. 

Nie alle Bybellesers is kinders van God nie. Hierdie Jode was ywerige Bybellesers, hulle het groot respek gehad vir die heilige Skrifte, maar tog was hulle verlore. Paulus self was ‘n geleerde kenner van die Skrifte, maar voor sy ontmoeting met Jesus was hy ‘n verlorene en vyand van die waarheid! Dis moontlik om ‘n doktorsgraad in die teologie te verwerf en steeds die ewige lewe mis te loop!

2.Dis moontlik om baie dinge van die Bybel te ken, maar die kernboodskap mis te kyk. 

Wat is die kernboodskap van die Bybel in geheel? Wel , ons weet die Nuwe Testament gaan oor Jesus Christus, maar wat van die Ou Testament? In die Johannes evangelie is daar ‘n hele paar plekke wat dit direk of indirek duidelik maak dat die Ou Testament oor Jesus gaan. Kom ons kyk sommer wat word reg aan die begin van die Johannes evangelie al vir ons gesê in Joh 1:45. “Filippus kry toe vir Natanael en sê vir hom: "Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef." (Vgl. ook Joh 2:21,22; 3:10; 5:45-46; 20:9) Ook in die ander evangelies maak Jesus dit baie duidelik dat die hele Ou Testament oor Homself gaan. (Lukas 24:27,44,45) Die Bybel is nie ‘n doel opsigself nie, die Bybel is God se Woord waardeur Hy ons wil lei na ‘n lewende verhouding met die lewende Jesus Christus.*

3. Die Bybel vertel ons van Jesus en as ons na Hom kom kry ons die lewe. 

- Jesus het gekom om vir ons die lewe te gee. Wat beteken dit? Om dit te verstaan moet ons net vinnig weer terug gaan na die tuin van Eden. Met die sondeval het daar skeiding gekom tussen ons en God. Soos wat die takke van ‘n boom afgebreek word en afgesny word van die bron van die lewe. Van nature is ons so afgesny. Dood is skeiding. Daarom kan ons net soos ‘n tak wat los is van ‘n boom, nie lewe nie, laat staan nog van vrugdra en groei. Daarom help dit nie om mense wat nie vas aan Jesus is se gedrag te probeer verander nie! ‘n Tak los van ‘n moederboom, sê nou maar ‘n mangoboom , sal nie vrugte dra nie, al doen jy wat. God het sy Seun Jesus na ons gestuur, nie om ons te veroordeel nie, maar om vir ons redding met ander woorde lewe te bring. Kom ons lees die bekende Joh 3:16, maar ook vers 17. “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.” Jesus het nie gekom om ons te veroordeel nie, maar as ons Hom nie aanvaar nie, dan bly ons in die dood, bly ons onder die oordeel van God.

- Kom na Jesus is die groot uitnodiging. Jesus het na ons gekom, maar ons word nou uitgedaag om na Hom te kom en so die lewe deelagtig te word. Dit was die groot fout van hierdie mense wat die Bybel wel geken het, hulle het ten spyte van hulle kennis geweier om na Jesus te kom. Hulle het Jesus dus nie aanvaar nie, nie aangeneem nie, nie waarlik in Hom geglo nie. Om Jesus aan te neem, om na Jesus te kom, om waarlik in Jesus te glo is presies dieselfde ding. Dis sinonieme in die Johannes evangelie. Die implikasie is: As jy Jesus nie aanneem nie, verwerp jy Hom en bly in die dood, as jy Jesus aanneem word jy ‘n kind van God en kry deel aan die ewige lewe. “Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.” (Joh 1:11,12) Jesus verwyt hierdie mense met hulle Bybelkennis en al dat hulle nie na Hom wou kom nie. Waarom wou hulle nie na Hom kom nie en wat is vandag nog die kernrede dat mense nie na Jesus wil kom nie? Joh 3:19-21 gee vir ons ‘n duidelike antwoord. “En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is."

Let op : Dis ‘n morele rede, dit het niks met slimgeit of domgeit te doen nie. Jesus is die Lig en ‘n ontmoeting met Hom beteken ook dat ek gekonfronteer word met die werklikheid van my sonde. Hy is soos ‘n lig wat in ‘n vertrek skyn en al die stof en gemors uitwys. Dis die eintlike rede hoekom mense van Jesus wegskram, want hulle wil nie hê dat Jesus die verkeerde dinge in hul lewens ontbloot en hulle daarvan bevry nie! Maar onthou, Jesus laat die lig val op die verkeerde dinge in ons lewe, nie om ons te veroordeel nie, maar om ons te help. Dit laat mens amper dink aan ‘n kind wat kruppel loop, want daar’s ‘n doring in sy voet. Met groot liefde kyk ‘n pa na sy kind en wil hom help. Daar is net een manier om werklike hulp te bied, die doring moet uitgetrek word. Maar die kind is bang daarvoor. Dalk bang vir die pyn. Dalk bang vir ongemaklike vrae, want miskien het hy die doring opgetel toe hy een aand skelm uit die huis geglip en toe in die donker in die doring getrap... Die kind besef nie, sy pa wil hom nie veroordeel en uittrap nie, maar help... Maar solank die kind bang is om na sy pa te kom kan die probleem nie verwyder word nie. Waarom is jy bang om na Jesus te kom? Watter sonde is vir jou te kosbaar, wat bly steek jy weg? Moenie dwaas wees nie. Die weiering om na Jesus te kom, om waarlik in Hom te glo het skrikwekkende implikasies. “Daarom het Ek vir julle gesê julle sal in julle sondes sterwe, want as julle nie glo dat Ek is wat Ek is nie, sal julle in julle sondes sterwe." (Joh 8:24)

Vriend, Jesus wil jou nie veroordeel nie, maar red!

Geliefde, miskien ken jy die Bybel al baie lank. Jy ken al die verhale. Jy het moontlik selfs al ‘n Bybelstudie kursus of twee voltooi. Maar jy skram weg van Jesus. Jy het nog nooit die saak met Hom uitgemaak en jou vertroue kinderlik op Hom alleen gestel nie. So bly jy in die duisternis. Jy mis die lewe...nou en ewig. Hy nooi opnuut : “Kom” En Hy gee vir elkeen wat kom ‘n wonderlike belofte. “"Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.” (Joh 6:37)

Waarom nie sommer nou jou kinderlik in die arms van Jesus werp nie??

*Dis daarom ‘n skreiende skande dat daar op teologiese fakulteite geleer word dat Jesus nie in die Ou Testament te vinde is nie!




 Die grootste nombessie/wilde dadel (Berchemia discolor) wat ek nog gesien het. Oppad na die plaas Mylpaal, noordoos van Tsintsabis. 'n Boom is so 'n pragtige voorbeeld van lewe, maar demonstreer ook doeltreffend wat dood beteken. 'n Tak wat afgebreek word is dood, want hy kan ie sonder die lewensbron bestaan nie. Ons is geestelik dood, geskei van God en moet weer op Jesus (Immanuel - God met ons) ingeënt word om die lewe deelagtig te word.

Saterdag 02 April 2016

BLY OP DIE BRUG!

- Waardeer en respekteer die grootste geskenk van God.

Genade vir helverdiende sondaars! Dis God se grootste geskenk aan ons. Die hele Bybel is ‘n dramatiese verhaal van God se genade. Dit klink alreeds helder in die tuin van Eden as die Here God in liefde na die sondegevalle mens uitreik en roep: “Adam waar is jy?” Ons sien dit in die velklere wat God vir die mens gemaak het om hulle uit te help na hulle powere poging om hulle naaktheid met vyeblare te bedek. Ons sien dit as God vir Noag en sy familie spaar. Ons hoor dit duidelik as God die afgodsdienaar Abram roep en heerlike beloftes maak aan hom maak. Ons sien dit as God Moses stuur om die slawevolk Israel uit Egipte te lei...die bloed van die paaslam aan die deurkosyne...manna, kwartels, water uit die rots... Natuurlik sien ons dit die heel duidelikste as God die finale Verlosser Jesus Christus stuur om ons straf in ons plek volledig aan die kruis te dra sodat elkeen wat in Hom glo kwytgeskel kan wees van sondeskuld en die ewige lewe kan geniet. God se genade vernietig sonde, Satan, dood en hel!


Genade bring vergifnis. Genade bring herstel. Genade bring veral eer aan God want dit wys God se rykdom van genade en dat Hy daarvoor maar net ewig geprys kan word. Dis dus verstaanbaar dat die duiwel nie baie gelukkig is oor genade nie. Genade bevry ons uit sy greep van verslawing en skuldgevoelens en hy hou nie daarvan dat ons gelukkig is en God loof en prys nie. Daarom het die duiwel ‘n dubbele taktiek om te probeer keer dat ons die genadegeskenk waardeer en aanvaar. Anders gesê, die duiwel vertel twee groot leuens oor genade om ons van die volle genadeseën te probeer beroof:

1.Hy probeer ons wysmaak dat God se genade nie genoeg is nie. Hy wil dus hê dat ons genade moet geringskat. Hoe so? Dis die wese van die probleem wat Paulus in die Galasiese gemeente moes aanspreek. Daar was Judaïseerders wat die mense geleer het dat die genade wat ons deur geloof in Jesus ontvang nie genoeg is nie. Hulle het mense probeer wysmaak dat die genade deur sekere wetsvoorskrifte aangevul moes word. Hulle het vir die mense geleer dat hulle besny moet word en sekere Joodse feeste moes vier. Paulus het sy kommer in geen onduidelik taal hieroor uitgespreek nie. “Daar was ‘n tyd toe julle nie vir God geken het nie en slawe was van nikswerd afgode. Maar noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken, hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls? Wil julle van voor af weer slawe daarvan wees? Julle hou aan om besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare te vier. Ek vrees my harde werk aan julle was dalk tevergeefs.” (Gal 4:8-11) 

En daarom het Paulus vroeg reeds in die brief bevestig dat die genade wat ons kry deur in Jesus te glo heeltemal genoegsaam is, en dat om die genoegsaamheid daarvan te betwyfel eintlik op die verwerping van genade neerkom. “Ek verwerp nie die genade van God nie. As ‘n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het.” (Gal 2:21) Soveel mense leef daagliks in vrees, twyfel of skuldgevoelens omdat hulle nie regtig glo dat Jesus se genade vir ons (my) genoeg is nie! Hulle sal sê, ja ek glo in Jesus, maar ek het seker nie genoeg gehuil oor my sondes nie, ek voel nie reg nie, ek twyfel want ek kry party reëls nie reg nie, ek wonder of ek God se kind is want ek het nog nooit in tale gepraat nie, ek is bang ek is nie gered nie, want sê nou maar die name wat ek vir God en Jesus gebruik is nie reg nie... O, en daardie een verskriklike sonde wat ek nie kan vergeet nie... Sulke mense moet duidelik hoor: 

God se genade deur Jesus is genoeg! Moenie iets (hoe vroom ook al) as aanvulling by God se genade gebruik nie.  Moenie twyfel dat God se genade die grootste sonde uitwis nie!

2.Maar daar is ook ‘n ander leuen wat die Satan ons vertel om ons van genade te probeer beroof. Dis weer die anderste uiterste. Hy wil ons laat glo dat genade beteken dat ons maar lustig en houtgerus kan aangaan met sonde. Dit kom neer op ‘n minagting en misbruik van genade. Hy wil ons laat verstaan dat die vryheid wat genade bring, ‘n vryheid is om ons sondige luste te laat seëvier. Paulus waarsku ook duidelik hierteen. “Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ‘n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde. Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself." Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie. Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie....Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie." (Gal 5:13-16, 19-21) 

Moenie kanse vat met genade nie. Moenie God se genade misbruik as ‘n verskoning om lustig aan te hou met sondig nie. 

Hierdie misbruik van genade is so oud soos die kerk self en 'n ernstige dwaling, wat deur valse leraars gepropageer word. (Kliek op Judas 3-4) Dit gaan hier oor mense wat redeneer : “Ag, wat God is mos genadig, ag Jesus het mos vir sondes gesterf, laat ek maak soos ek wil!” As jy so redeneer is jy in vir ‘n aaklige verrassing. Jy staan onder God se oordeel. Nie omdat God se genade te klein of te beperk is nie, maar omdat jou houding wys dat jy nog nooit sy genade aanvaar het nie. Want die kind van God wat sy genade aanvaar het, besef sy genade het die bloed en lyding van Jesus gekos, dis kosbaar, daarom kan ek dit nie misbruik nie, en wanneer ek dit wel doen sal ek diep berou hê daaroor.

Neem kennis van die duiwel se dubbele aanval op God se genadeboodskap:
Hy gaan jou wysmaak dis nie genoeg nie, sodat jy genade sal geringskat en wanhopig en vol twyfel raak en self die genade probeer aanvul deur wettisisme. 
Of hy gaan jou probeer vertel dat genade beteken dat jy hoegenaamd nie meer oor sonde bekommerd hoef te wees nie (minagting van genade), dat jy rustig met jou ou lewe kan aangaan en dat heiligmaking iets onnodig is. 
Geringskatting van genade lei tot twyfel, hardvogtigheid en wettisisme. 
Misbruik of minagting van genade, skep 'n valse sekerheid en valse gerustheid loop uit op 'n onheilige lewe van losbandigheid. Beide benaderings is dodelik gevaarlik en bring God se oordeel oor ons. 

Genade is soos ‘n stewige brug wat na God lei. 
Dis inderdaad 'n baie sterk brug wat die "gewig" van die grootste sondaar veilig kan dra, al was hy ook skuldig aan lastering, moord, owerspel....



Aan weerskante van die brug (bo-aansig) is twee gevaarlike afgronde. Die een afgrond is die geringskatting van genade (wettisisme) die ander is minagting/misbruik van genade (losbandigheid).

Hoe bly ek op die brug? Aanvaar die genade van God as ‘n volkome genoegsaam, glo dat Jesus die volle boete vir jou sonde betaal het. Ja, ook daardie een sonde wat jou so teister en jou lewe geskend het. En leef dan ‘n dankbare lewe in gehoorsaamheid aan die Heilige Gees! Roei alles uit wat die Gees vir jou deur die Woord wys wat nie reg is nie! (Gal 5:16) Jy sal baie goed weet wat hoort nie meer in jou lewe nie. En as jy inderdaad weggedwaal of geval het, roep God se genade jou weer terug en tel jou weer op...

Kom ons juig oor die genade en dank God met liefde en gehoorsaamheid!


Vrydag 01 April 2016

BROOD en brood

- God se gawes word uitgedeel op Tsintsabis!

Die NG Kerk Tsumeb het ‘n bedrywige Paasnaweek agter die rug. Behalwe ons gewone Vrydagoggend Nagmaal en Opstandingsdiens Sondag (hierdie preek is waargeneem deur ds. Janré van Jaarsveld van die Doppers) was ons die hele naweek betrokke by ‘n Paaskonferensie op Tsintsabis (so 60 km noord van Tsumeb) in samewerking met ds. Josef Gevers en sy span van Wildevy gemeente en Africa Outreach.

Franz Bense van Africa Outreach saam met sy vrou Brenda het ons kom besoek en met behulp van prente vir ons “VASTE FONDASIES - Skepping tot Christus” kom aanbied. Dis die hele Bybelse storielyn wat uitloop en fokus op die heerlike genoegsame werk van Jesus om ons redding te bewerk. Die vertrekpunt is die gedeelte in Lukas 24 waar die opgestane Jesus sy dissipels terugverwys na die Ou Testament toe Hy gesê het : "Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is. Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan.” (Lukas 24:44,45) 

Ja, die evangelie begin alreeds in Genesis en word tot vervulling gebring deur Jesus se kruis en opstanding! Voor die naweek het Franz die program ook op drie weeksaande in ons gemeente self aangebied en dit het voorwaar weer iets van die wonder van die evangelie laat kliek...

Op Tsintsabis is ‘n tent opgeslaan reg teenaan die kerkgeboutjie. ‘n Bekende Duitse boer in die omgewing, Reinhard Friederich het die tent beskikbaar gestel. Die prente is dan buite teen die muur vasgesit in volgorde om die hele storielyn maklik volgbaar te maak. Mense van Oerwoud en Bravo is ook aangery om die geleentheid te kon bywoon. Franz as Nataller het sy vuurdoop met die Afrikaans goed geslaag – hy moes eenvoudig maar net. Vanuit die Afrikaans is daar na Damara/Nama (die taal wat die Hei//om gebruik) sowel as !Kung (vir die Boesmans vanuit die Kavango gebied) getolk. Die kinders is ook nie vergeet nie en is onder andere deur Trudie en Emka bedien. In die aand is daar groepies gemaak om die waarhede van die dag verder te bespreek.

Die fokus van die hele byeenkoms was natuurlik, Jesus self, die BROOD van die lewe, maar mense van vlees en bloed het ook gewone brood nodig. Dis waar Tsumeb se gemeentelede so wonderlik hulle gewig ingegooi het, deur reëlings tref, skenkings, verskaffing van vervoer en self kom krom staan by die swart potte. (Dankie aan Andries Gous wat voorgevat het, maar ook aan ieder en elk wat meer as julle deel gedoen het) Onder ‘n groot Maroelaboom is die kos gemaak en daar was genoeg vir almal, selfs ‘n honger hond of twee kon ook ietsie vir die maag opraap. Daar was sop, brötchens, aartappels, maalvleis en wat nog, maar die lekkerste was seker Saterdagaand se koedoe braaivleis!

Dit was vir ons almal wat betrokke was ‘n wonderlike ervaring om op ‘n praktiese manier goed te doen aan die geringstes van die geringes. Ons het egter nie net gegee nie, maar ook so baie ontvang. Ons harte is ook verbly deur die prysenswaardige samewerking van Wildevy se mense. Ons bede is dat die Woord vrug sal dra in baie harte. Daar is ook die realistiese hoop dat verdere geleenthede vir getuienis sal voortvloei uit dit wat die naweek gebeur het.





Frans gooi die Afrikaans! En dan weerklink die Woord verder in Damara/Nama en !Kung.



Onder die maroelaboom moes ons letterlik bontstaan, want, dis nou die tyd wat die maroelas begin val... amper soos 'n bombardement!









Ook klein Natanie het gehelp om aartappels in die pot te gooi!














Bravo se mense sing vir ons.