BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Rampe. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Rampe. Wys alle plasings

Donderdag 23 Maart 2017

HINKEPINK*

‘N NUWE TOEKOMS IN! 

"Net toe Jakob by Pniël verbygaan, het die son opgekom. Jakob het mank gebly aan sy heup,..." 

[Jakob is op pad terug na sy geboorteland nadat hy vir Esau moes vlug. Hy moet nou weer vir Esau in die oë kyk en is baie bevrees. Hy maak allerhande planne om Esau met geskenke te paai. Maar voor hy Esau ontmoet, wag daar ’n ander verrassing vir Jakob. Hier in die nag by die Jabok rivier beleef Jakob ’n ingrypende lewensveranderende ontmoeting met God! Ons lees van hierdie ingrypende gebeurtenis in Genesis 32 :22-32] 

GROOT GEVEG

Wat ’n merkwaardige ontmoeting! ‘n Hewige worsteling! Die man wat teen Jakob baklei, is niemand anders as God self nie! Ja, God “baklei” soms met ’n mens! Maar Hy baklei nie met hom om hom te vernietig nie. Hy baklei met hom om hom te seën! 

Dit gebeur nogal dikwels dat God ’n mens op dieselfde tyd seën en slaan. Anders gesê, die tye wanneer God met ’n mens ontmoet en jou genadig is, is ook terselfdertyd ’n tyd van hartseer en pyn! Hierdie episode in die lewe van Jakob is ’n aangrypende voorbeeld daarvan. Kom ons kyk na ‘n paar praktiese beginsels uit hierdie gedeelte van hoe God dikwels met ons werk en ons ontmoet: 

Die ontmoeting is God se inisiatief! Jakob maak slim planne om Esau te paai (vers 20b), maar God het al die tyd nog ’n groter plan met Jakob gehad. Jakob maak hom reg om Esau te ontmoet, maar God ontmoet met Jakob. Jakob probeer sy verhouding met Esau reg stel, maar God wil eers werk aan die verhouding tussen Hom en Jakob! God gryp in Jakob se lewe in, Hy “oorrompel” vir Jakob. Dit laat mens onwillekeurig dink aan hoe God baie eeue later ’n Fariseër, op sy pad “oorval” het! Saulus van Tarsus se radikale bekering op pad na Damaskus! God is ’n God van ontmoetings! God werk en praat en stoei met mense! Om hulle te red en te verander. 

Dit was natuurlik nie ’n toevallige ontmoeting nie. God het al lankal ’n plan met Jakob gehad. Twintig** jaar vantevore toe Jakob gevlug het vir Esau, en hy met sy kop op ’n klip geslaap het by Bet-El en gedroom het van die leer met die engele wat opklim na die hemel, het God al met Jakob gepraat. God het hom belowe dat Hy hom sal beskerm en terugbring na sy land. (Gen 28:15) God se ontmoeting met Jakob, kom voort uit sy uitverkiesende genade! God het Jakob al lankal uitgekies en besluit om bemoeienis met hom te maak! Geliefde, die Here stap dikwels ’n lang pad met ’n mens - in jou ouerhuis, deur huisgodsdiens, in die Sondagskool, deur mense op jou pad, en Hy laat jou toe om baie draaie te loop....maar dan kom daar ’n tyd wat God sê : “Nou is die tyd! Nou moet jy voor my buig! Nou is die dag van beslissing en van redding!” Jy sal weet hoeveel keer die Here met jou gepraat het. Jy sal weet hoe lank jy al besig is om jou eie plannetjies te maak. Jy sal ook weet, dis nou die tyd. God roep my nou om Jesus te volg! 

Hy sê: "Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor, en op die dag van redding het Ek jou gehelp." Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding. (2 Korintiërs 6:2) 

Die ontmoeting met God is pynlik. Jakob is bang vir Esau. Maar nou kom hy skielik agter dat God sy eintlike "vyand" is. God baklei met hom in ’n pynlike geveg. Jakob moet eers met God versoen raak, voordat hy met sy broer vrede kan maak. Dis dikwels nodig dat die Here hardhandig moet ingryp in ons lewens. Ons is mos maar hardkoppig en hardhorend... Jakob word teen die heup geslaan sodat die heup uit die potjie spring. Paulus is met blindheid getref op pad na Damaskus. God moet ons dikwels eers slaan voor ons luister. Dit kan baie seer wees! Dit kan verskeie vorme aanneem...’n Groot verlies (dood van ’n geliefde), ’n mislukte huwelik, ’n ernstige siekte, ’n finansiële ramp of een of ander groot teleurstelling! Dit kan ook ’n groot vernederende openbare sonde wees, wat God gebruik om mens plat te slaan. (Dink aan Petrus) 

Iemand sê tereg oor hierdie gedeelte dat die fisieke pyn van Jakob nie al pyn was nie. Die ergste pyn was dat Jakob die waarheid oor homself moes raaksien. God vra vir Jakob wat sy naam is. Hoekom? God het mos vir Jakob baie goed geken. Jy, sien ’n naam in daardie tyd was eintlik ’n beskrywing van jou diepste wese en karakter. Nou moet Jakob, antwoord : “Jakob! Ek is Jakob! Ek is ’n bedrieër!” (Dis mos wat die naam Jakob beteken) God konfronteer ons eers met ons eie boosheid as Hy ons wil red en seën! Jesus sê vir die Samaritaanse vrou : “Gaan roep jou man.” Hy ontbloot die feit dat sy al 5 mans gehad het, en op daardie stadium ongetroud saamgebly het met ’n man! God wil hê dat ons die eerlike waarheid oor onsself in die oë kyk. En die eerlike waarheid oor myself is dat ek ’n sondaar is. Maar Jesus het juis gekom vir sondaars en net vir sondaars! Redding begin as ek eerlik is voor God en myself sien as ’n sondaar wat genade nodig het! 

Die ontmoeting met God bring genade en ’n nuwe begin. Nadat Jakob, die bedrieër ontbloot voor God gestaan het, ontvang hy genade. God stel hom nie teleur nie. God stel desperate sondaars nie teleur nie. Ons weet Jakob was op hierdie stadium van sy lewe desperaat dat God moes ingryp in sy lewe. Vers 26 (OAV) “Ek sal U nie laat gaan nie, tensy dat U my seën.” Begeer jy God se genade bo enigiets anders! Hou moed! Dis nou die tyd dat God jou gaan antwoord! Jakob ontvang genade en die duidelike bewys daarvan is dat God hom ’n nuwe naam gee! “Die man het gesê: "Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel, want jy het teen God en teen mense ‘n stryd gevoer en jy het dit end-uit volgehou." (28) ’n Nuwe naam vir ’n nuwe mens! Iemand het dit so gestel:

Die glibberige aartsskelm word ‘n vroom aartsvader! 

Dis wat genade doen. Genade open ’n nuwe toekoms. As iemand is Christus is, is hy ’n nuwe skepsel. Die ou dinge het verbygegaan, kyk alles het nuut geword.” ( 2 Kor. 5:17) 

Daardie wond...

Miskien kan jy vandag terug dink aan die tyd toe God werklik met jou ontmoet het. Dit was dalk ’n baie pynlike tyd, maar dit was ook ’n heerlike tyd toe jy genade en vergifnis ontvang het. Dalk hou jy nou nog letsels, ou wondmerke oor van daardie tyd. Kind van God, dank God dan vir dié letsels in jou lewe, dis ’n herinnering aan die seën wat jy ontvang het! Seën en letsel gaan dikwels saam. Dit word so treffend uitgebeeld in vers 31. “Net toe Jakob by Pniël verbygaan, het die son opgekom. Jakob het mank gebly aan sy heup,...” Dit word spesiaal gemeld, die son kom op! ’n Nuwe dag het aangebreek, ’n nuwe hoofstuk in Jakob se lewe, ’n nuwe begin wat God met hom gemaak het. Positief, heerlik! Maar dit word ook gesê : “Jakob het mank gebly aan sy heup.” Soos iemand dit gestel het : Jakob hinkepink ‘n nuwe toekoms in. Vir altyd sou hierdie mank heup, Jakob herinner aan die dag toe God hom genadig was en geseën het! 

Eers eendag met die aanbreek van die heerlike toekoms by Jesus se wederkoms sal ons heeltemal sonder letsels wees!

Uiteindelik en beslis bring hierdie verhaal mens ook uit by Jesus. Hy het deur sy kruisdood en sy wonde vir ons alle seëninge wat daar is, verwerf : vergifnis, kindskap, die Ewige Lewe, die onverganklike erfenis! Maar dit het Hom ook ’n klomp pyn en letsels gekos. Die merke aan sy hande en sy voete en sy sy was getuienis daarvan - ook na sy opstanding was die letsels sigbaar. Mag Jesus se wonde ons herinner dat die volle prys vir my sonde betaal is, die boete was genoeg! Wees eerlik oor jou sonde in hierdie oomblik, bring dit na Hom. Vertrou Hom! Aanvaar sy vergifnis! Deur sy wonde het daar vir jou genesing van sonde gekom!

*"Die afloop van hierdie ontmoeting met die lewende God is nie dat mens soos 'n held in die destydse "Wilde Weste" - rolprente seëvierend die sononder inry nie. Jy hink die dagbreek van 'n nuwe toekoms binne." AF van der Merwe in  WOORD TEEN DIE LIG II/3

**Genesis 31:41

Vrydag 01 Julie 2016

TUSSEN ROKENDE RUÏNES

- kry God se kind weer nuwe hoop!



[Wat maak jy as die pôpô die fan strike?]

1 Samuel 30 is ‘n aangrypende verhaal van uiterste benoudheid, geloofsvertroue en triomf... soos dit gebeur het in die lewe van Dawid.

Vooraf : Op hierdie stadium was Dawid nog nie koning van Israel nie, maar ‘n vlugteling vir koning Saul. Vir veiligheid het hy tussen die Filistyne gaan bly en ‘n vertroueling van die Filistynse koning Agis geword. Agis het die stad Siklag aan Dawid en sy vriende as woonplek gegee het. (1 Sam. 27:6) Die Filistyne het hulle nou weer gereed gemaak vir ‘n groot geveg teen Saul en die Israeliete en Dawid wat nou ‘n onderdaan van Agis was het hom en sy manskappe by die Filistynse soldate gevoeg. Dit was natuurlik vir Dawid en sy manne ‘n baie moeilike saak om teen hulle eie volk te gaan veg. Gelukkig het sommige van die Filistyne beswaar gemaak teen hulle teenwoordigheid en so is hulle verlos uit hierdie ongemaklike dilemma. Agis stuur toe Dawid en sy manne terug na hulle woonplek Siklag. Toe hulle daar aankom wag ‘n aaklige verrassing op hulle – in die tyd was hulle weg was het die Amelekiete die stad aangeval, hulle vroue en kinders ontvoer en die stad aan die brand gesteek. 

GROOT BENOUDHEID TUSSEN DIE SMEULENDE PUINHOPE

Ons het dit seker al almal beleef – daardie tye wanneer als wat kan skeefloop, skeefloop en alles wat verkeerd kan gaan verkeerd gaan. Die ergste in hierdie tye is wanneer jou eie mense naaste aan jou, ook nog teen jou draai, jou verwyt en jou wil stenig. 

As selfs jou eggenoot, kinders, familie en vriende, jou afskryf of wil vernietig... Groot benoudheid! Wat maak jy dan? 


As almal jou die rug keer, waarheen gaan jy? Groot moeilikheid – dis waar Dawid hom op ‘n dag bevind het. Sien die hartseer Dawid staan tussen die smeulende puinhope van sy woonplek Siklag. ‘n Toneel van smart en verwoesting... Hierdie dapper krygsmanne het, het soos kinders gehuil oor hulle weggevoerde gesinne. “Daarop het Dawid en die manskappe wat by hom was, hulle stem verhef en geween totdat daar geen krag meer in hulle was om te ween nie.” (4) 

Maar dis nie al nie, dit lyk of hierdie manne in hulle bittere smart alle sin vir rede verloor en vir Dawid die sondebok gemaak het . Nou wil hulle hul woede en hartseer op hom uithaal. Hulle dreig om hom letterlik te stenig! Dinge het uiters lelik gelyk... wat nou gemaak? 

KIES OM BY GOD TE SKUIL

Wel, Dawid gee nie moed op nie, hy gee nie iemand anders die skuld nie, hy draai nie teen God en verwyt Hom nie. Wat doen hy? Vers 6 stel dit pragtig helder : “..maar Dawid het homself versterk in die HERE sy God.” (OAV)

Wat beteken dit nou prakties? Belangrik weereens, Dawid gee nie boedel oor nie. Dawid gaan sit nie op ‘n hopie en bejammer homself nie. Hy slaan nie paniek en vlug die vlaktes in nie. Ja, alles lyk donker en almal is negatief, maar God is nog steeds God! God het nog nie verander nie, God is nie oorweldig nie, God is nie verslaan of verslae nie. Hy wend hom dus tot God, Hy soek die aangesig en teenwoordigheid van God op. Hier word nie veel uitgewei daaroor nie, maar as ons ook bietjie nadink oor die Psalms kan ons ‘n paar afleidings maak vanuit die konteks:

  • Dawid beoefen geloof in God. Sy geloof in God wat ons kan aflei hy reeds as jong skaapwagter gehad het, wat hy in sy geveg teen Goliat beoefen het, word nou weer in werking gestel. Hy maak opnuut ‘n keuse om hom nie deur die bittere omstandighede te laat onderkry nie, maar in die lewende God te glo. Geloofskeuse! Herhalende keuse! Dis prakties gesproke ‘n keuse om by God te skuil (Vergelyk Ps. 11:1, 16:1, 18:3 ) Dis ‘n keuse om te besef, God is groter as my slegte, hartseer en benouende omstandighede. God is sterker as my vyande oftewel my vriende wat nou my vyande geword het! Hoe kry Dawid dit reg? Hy het in ‘n geloofsverhouding geleef met God – “sy God” Hy moes dit nou net prakties weer in werking stel. Ek en jy moet telkens weer kies om te glo, ongeag ons sigbare omstandighede! “...want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie.” (2 Kor. 5:7)

  • Dawid dink weer aan God se karakter en God se handelinge met hom in die verlede. God het hom in die verlede gehelp teen die leeu en beer, teen Goliat en hoeveel kere het God nie sy lewe uit die jaloerse Saul se hand gered nie? Dawid dink nugter oor die grootheid en die getrouheid van God en laat nie toe dat sy gevoelens met hom weghardloop nie. Wie aan die getrouheid van God dink moes sekerlik aan sy verbond gedink het met Abram Isak en Jakob. Geliefde, dink terug aan God se getrouheid deur jou lewe, maar nog belangriker dink aan die hoogtepunt van God se goedheid, liefde en getrouheid- die kruis van Jesus! Niks kan ons van hierdie liefde skei nie! “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” (Rom 8:38,39)

  • Dawid soek wysheid by God. “Dawid het vir die priester Abjatar seun van Agimelek gesê: "Bring tog vir my die skouerkleed nader." Abjatar het die skouerkleed vir Dawid nader gebring. Dawid het die Here geraadpleeg: "Moet ek hierdie bende agtervolg? Sal ek hulle inhaal?" Die Here het hom geantwoord: "Ja, want jy sál hulle inhaal en jou mense red." (7,8) Destyds is die skouerkleed en die urim en tummim gebruik om God se wil te soek. Ons het nou die Woord en die Heilige Gees wat die Woord vir ons uitlê. Ons kan bid. Jakobus moedig ons aan om wysheid by God te soek. “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.” (Jakobus 1:5) Kind van God, onthou, die Woord het iets vir jou te sê in jou huidige omstandighede... Doen moeite om dit uit te vind en toe te pas.

‘N RAMP OMGEKEER TOT WINS!

Jy bevind jouself dalk ook op hierdie oomblik tussen rokende ruïnes – alles is stukkend en swart gebrand, onheilsrook prikkel jou neusgate – jy beleef benoudheid en angs, jou huwelik is besig om te verbrokkel, jou finansies is donker, jou vriende het teen jou gedraai... alles en almal is teen jou. Hoor dan : God is nog daar. Aan sy liefde het nog niks verander nie. Die kruisboodskap bly ‘n onwankelbare feit, 'n vaste baken van God se liefde in alle omstandighede!

NOU...Nou is die tyd om opnuut die aangesig van die Here te soek. Nou is die tyd om weer te kies om kinderlik te glo. Nou is die tyd om die wysheid van die Woord te gehoorsaam. Kom na die Here en jy sal vind hoe waar is Psalm 46:1 se woorde : “God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood.”


God is getrou! 

God se getrouheid het nie gekeer dat Siklag geplunder word nie, maar God se getrouheid het Dawid wel deur die krisis gedra en daar was ‘n heerlike en gelukkige einde en groter doel agter als. (gaan lees gerus die res van 1 Samuel 30) Dawid verslaan die Amelekiete en maak ‘n baie groot buit. Hy toon sy wysheid deur die verstandige manier waarop hy die buit verdeel en so word sy posisie as toekomstige leier van Israel versterk. 

God verander ‘n ramp in ‘n wins!

Maandag 01 Februarie 2016

AS ONREG OF RAMPE MY TREF...

-is dit tyd om vas te hou aan die voorsienigheid van God!

As slegte goed met goeie mense gebeur, as rampe die regverdiges tref, dan word ons maklik verward, mismoedig en selfs wankelrig in die geloof. Hoe kan dit dan wees, hoekom beskerm God dan nie sy kinders nie? Kan Hy nie of wil Hy nie?

Dis hier waar ons iets moet verstaan van die voorsienigheid van God. Min mense ken nog die woord of begrip. (en dis so jammer) Maar ons voorgeslagte het hierdie saak deeglik deurdink en dit baie mooi geformuleer. Ons vind dit duidelik uitgespel in NGB artikel 13. Dit beteken nie dis ‘n waarheid of leerstuk wat mense uitgedink het nie, die saak word duidelik in die Bybel aangespreek. 

En een van die Bybelverhale waar die voorsienigheid van God op die mees dramatiese manier figureer is die verhaal van Josef. So kom laat ons die geskiedenis van Josef eers so ‘n bietjie afstof. Ons ken dit darem seker almal... 

Josef word deur sy pa Jakob voorgetrek  en dit veroorsaak 'n giftige en wraaksugtige jaloesie by sy ander broers. Om sake te vererger het Josef drome gedroom, wat geïnsinueer het dat sy eie familie eendag voor hom sou buig. Toe op ‘n dag toe hy gaan kos wegneem vir sy broers, neem hulle hulle kans waar, vang hom, gooi hom in ‘n put en verkoop hom aan handelaars wat hom toe weer in Egipte as slaaf verkoop. In Egipte beland hy in Potifar se huis, dit gaan baie goed en hy word bevorder, maar dan kom daar weer moeilikheid. Potifar se vrou probeer hom verlei en toe sy dit nie regkry nie beskuldig sy Josef valslik. Die woedende Potifar laat Josef in die tronk gooi. Sjoe, Josef bly getrou aan God se gebod, maar kyk wat gebeur met hom! Kan dit sin maak? Dit sou kon lyk asof God vir Josef vergeet het of in die steek gelaat het ('n Egiptiese tronk is nie juis 'n vyfster hotel nie!), maar te midde van al hierdie ellendes lees ons dat Here by Josef was! (Genesis 39:2,21,23) Ons ken ook die verhaal verder, hoe Josef die bakker en skinker se drome in die tronk uitgelê het. Die skinker is vrygelaat soos Josef voorspel het en het belowe dat hy Josef se saak by die farao sou stel. Maar ons weet mos wat gebeur met mense se beloftes... Die skinker vergeet van Josef en vir nog twee lange jare moes Josef in die tronk deurbring. (Twee jaar voel soos lewenslank as jy onskuldig in 'n tronk sit.) Weereens sou dit kon lyk asof nie net die skinker nie, maar God self van die arme Josef vergeet het. Maar toe droom die Farao ook en Josef word uit die tronk gehaal om dit uit te lê. Dit lei uiteindelik daartoe dat hy as onderkoning in Egipte aangestel word sodat hy toesig kon hou oor die projek om graan op te gaar. Toe die wêreldwye hongersnood kom wat Josef voorspel het, het sy eie broers daar kom koring koop en uiteindelik het Josef se vader Jakob en sy familie permanent in Egipte kom bly. Toe Jakob sterf was die broers bang dat Josef sou wraak neem oor die onreg wat hulle teen hom gepleeg het en dis toe dat Josef die wysheid en insig oor Goddelike voorsienigheid kwytraak. “Maar Josef het hulle geantwoord: "Moenie bang wees nie. Ek is nie God nie. Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ‘n groot volk nou in die lewe gebly het.” (Genesis 50:19,20)

In effek sê hy : “Ja, julle het verkeerd gedoen, maar God het dit alles gebruik om sy goeie plan te volvoer!” Josef se woorde word bevestig deur Psalm 105:16,17. “Toe Hy (God) hongersnood oor die land gebring het en al hulle kos laat opraak het, het Hy iemand voor hulle uit gestuur: Josef is as slaaf verkoop.” Kyk hoe word hierdie twee sake parallel gestel. God “stuur” Josef – hy beland nie maar sommer toevallig in Egipte nie, maar die manier hoe Hy dit doen is deur die “verkoop” van Josef as ‘n “slaaf”. 'n Slegte daad staan in diens van God!

Die waarhede oor God se voorsienigheid, met ander woorde oor sy soewereine bestuur en beheer van als wat in die skepping gebeur word duidelik gesien in hierdie geskiedenis van Josef en dit word pragtig saamgevat in die NGB Art 13*. Kom ons kyk daarna:

"Ons glo dat die goeie God, nadat Hy alle dinge geskep het, dit nie laat vaar of aan die toeval of geluk oorgegee het nie maar dit volgens sy heilige wil so bestuur en regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie." God onttrek Homself nie van hierdie wêreld nie, maar beheer en bestuur alles volgens sy volmaakte wysheid. Die hongersnood is nie toevallig nie, God het daarmee sy doel gehad. Josef se koms na Egipte en als wat daar met hom gebeur het, was ook nie toevallig nie, God het daarmee ‘n doel gehad. Inderdaad is God se hand agter alles!

"Tog is God nie die bewerker van die sondes wat gedoen word nie en Hy dra ook nie die skuld daarvoor nie. Sy mag en goedheid is immers so groot en onbegryplik dat Hy sy werk baie goed en regverdig beskik en uitvoer, selfs al handel die duiwels en goddelose mense onregverdig." As ons sê dat God se hand agter als is kan mense nou maklik redeneer dat Hy ook skuldig is aan die verkeerde dinge wat gebeur. Daarom sê NGB Art 13 pertinent dat dit nie so is nie. God se voorsienigheid vat nie ons skuld of ons verantwoordelikheid weg nie. Josef se broers het sonde gedoen deur hom te verkoop (en hulle sou daaroor verantwoording moet doen), dis nie God se sonde of skuld nie, maar God is so groot dat hy ook verkeerde dinge kan gebruik om sy raadsplanne te volvoer. Selfs onreg is ‘n instrument in God se hand. Ja, dit sluit ook ons eie verkeerde keuses en foute in... dit bly ons skuld, maar God gebruik selfs ook dit om sy doelwitte te bereik!

MAAR DIT KLINK SO ONBEGRYPLIK?

"Ons wil ook nie verder as wat ons kan verstaan, nuuskierig ondersoek instel na dié dinge wat Hy bo die vermoë van die menslike verstand doen nie; inteendeel, ons eerbiedig juis in alle nederigheid en in aanbidding die regverdige oordele van God wat vir ons verborge is. Ons is tevrede daarmee dat ons leerlinge van Christus is om slegs te leer ken wat Hy aan ons in sy Woord openbaar, sonder om die grense daarvan te oorskry." Ons kan God se voorsienigheid nie verstaan nie, ons verstand is te klein om alles uit te pluis. Die mens sou kon vra of God nie maar op ‘n ander makliker manier Jakob en sy familie in die hongersnood kon deurgedra het nie. (Of waarom nie sommer van die begin af gesorg het dat daar nie hngersnood was nie?) Ons wonder dalk hoekom moes hy so onskuldig ly? Dis waar ons moet buig voor God en sê dat ons Hom net vertrou al verstaan ons nie. Ek en jy verstaan meestal nie die slegte en hartseer dinge wat oor ons pad kom nie, maar ons kan weet God is God en Hy weet wat Hy doen. 

TROOS! NIKS IS TOEVALLIG NIE!

"Hierdie leer bied onuitspreeklike troos as ons daardeur geleer word dat niks per toeval oor ons kan kom nie maar alles deur die beskikking van ons goeie hemelse Vader oor ons kom. Hy waak oor ons met vaderlike sorg en heers so oor alle skepsels dat sonder die wil van ons Vader nie een haar van ons kop - hulle is almal getel - en ook nie een mossie op die aarde sal val nie (Mat 10:29, 30). Ons verlaat ons hierop, omdat ons weet dat Hy die duiwels en al ons vyande in toom hou, sodat hulle ons sonder sy toelating en wil geen skade kan aandoen nie. Daarom verwerp ons ook die gruwelike dwaling van die Epikureërs, wat sê dat God Hom met niks bemoei nie en alle dinge aan die toeval oorlaat." Die wêreldgeskiedenis, maar ook ons eie lewensgeskiedenis is nie soos ‘n vragmotor wat sonder remme by ‘n bergpas afhardloop nie... Ons is nie aan ‘n blinde noodlot, kans, geluk of toeval uitgelewer nie. Niks kan met ons gebeur as God dit nie toelaat nie! Dis ons troos binne in ons smart. Die God wat ons liefhet en sy liefde deur Jesus aan die kruis bewys het, is in die finale beheer van sake en Hy bestuur alles tot ons uiteindelike beswil! Dit laat ons geduldig wees in teëspoed en dankbaar wees in voorspoed! Dit laat ons die toekoms met vertroue ingaan, want niks in die skepping kan roer of beweeg sonder God se wil nie!**

NIE FATALISME!

God se voorsienigheid beteken nie (soos sommige ons daarvan wil beskuldig) dat ons maar fatalisties agteroor moet sit in ellendes en net kyk wat God aan die saak gaan doen nie. Beslis werk dit nie so nie! Weereens is Josef 'n pragtige voorbeeld. In uiterste slegte omstandighede doen hy steeds sy uiterste bes en maak die beste van 'n slegte saak. As slaaf in Potifar se huis blink hy uit en kry bevordering, as hy ten onregte in die tronk beland is sy optrede weer so onberispelik dat hy as toesighouer aangestel word. Ons doen wat ons kan, ons gehoorsaam steeds God en sy gebooie en laat dan die res oor aan sy soewereine wil...wetende dat God ons nie vergeet het nie!

Kind van God, (jy wat swaarkry of verontreg voel) weet op hierdie oomblik dat soos God nie vir Josef in die tronk vergeet het nie, Hy jou ook nie vergeet het nie, maar besig is om sy doel met jou te bereik!

NIKS IS TOEVALLIG NIE! SONDER GOD SE WIL KAN GEEN SKEPSEL ROER OF BEWEEG NIE!

*Die tekste wat die NGB Art 13 vermeld is : Joh. 5:17; Heb. 1:3; Sp. 16; Ef. 1:11; Jak. 4:13,19; Job 1:21; 2 Kon. 22:20; Hand. 4:28; 2:23; 1 Sam. 2:25; Ps. 115:13; Jes. 45:7; Amos 3:6; Deut. 19:5; Spr. 21:1; Ps. 105:25; Jes. 10:9; 2 Tess. 2:11; Eseg. 14:9; Matt. 10:29; Rom. 1:28; 1 Kon. 11:23; Gen. 45:8; 50:20; 2 Sam. 16:10; Matt. 8:31; 1 Joh. 2:16; Ps. 5:5; 1 Joh. 3:8; Gen. 1:26; Kol. 1:15; 3:10.

** Die Heidelbergse Kategismus Sondag 10 praat ook heerlik vertroostend oor die voorsienigheid van God, ja dit noem selfs droogte (dit wat baie gebiede tans teister) by die naam!

Sondag 10

27 Vraag: Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?

Antwoord: Die almagtige en oralteenwoordige krag van God (a) waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer (b) dat lower en gras, reën en droogte (c), vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte (d), rykdom en armoede (e) en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom (f).

(a) Hand 17:25-28; Jer 23:23, 24; Jes 29:15, 16; Eseg 8:12. (b) Heb 1:3. (c) Jer 5:24; Hand 14:17. (d) Joh 9:3. (e) Spr 22:2. (f) Matt 10:29; Spr 16:33.

28 Vraag: Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?

Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig (a) en in voorspoed dankbaar (b) kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader (c) kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie (d), aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie (e).

(a) Rom 5:3; Jak 1:3; Ps 39:10; Job 1:21, 22. (b) 1 Tess 5:18; Deut 8:10. (c) Ps 55:23; Rom 5:4. (d) Rom 8:38, 39. (e) Job 1:12; 2:6; Spr 21:1; Hand 17:2.


Geen ramp of ongeluk is toevallig nie, ook al is mense daaraan skuldig...

Woensdag 01 Januarie 2014

NUUSGEBEURE EN ‘N NUWE JAAR

- jy kry nog ‘n geleentheid...

‘n Nuusoorsig oor ‘n voorafgaande jaar is altyd interessant, maar ook stof tot nadenke. Ook in die afgelope  jaar 2013 was daar rampe, ellendes en tragedies wat ons almal op een of ander manier geraak of vrae laat vra het... of dalk maklike oordele laat uitspreek het! Dink maar aan nou die dag se hartseer Zirk Bergh skietery, die Oscar Pistorius en Reeva Steenkamp sage, Joost se siekte, Schumacher se ongeluk, die Griekwastad raaisel-tragedie wat in die hof ontvou, die geweldige bloedvergieting en verwoesting in Sirië en meer onlangs in Suid-Sudan. Die skrikwekkende natuurgeweld in die Filippyne... maar miskien nader aan ons... gruwelike misdaad naby ons voordeur... mense wat besteel, verkrag en vermoor word. Padongelukke of dalk 'n familielid se stryd teen kanker... Het al hierdie dinge dalk iets vir ons te sê oor 2014?

Vrydag 21 September 2012

STILLE SEËN VIR ‘N SKOPPENDE SIEL

- vertroue al verstaan ek nie.

Slegte dinge gebeur met alle mense. Ook met kinders van God. Veral as dit slegte dinge is wat ons nie verstaan nie, raak dit ons diep en skud dit soms ons geloofsfondasies. As dit slegte dinge is wat vir ons nie logies lyk nie, slegte dinge waarvoor ons geen skuld dra nie, slegte dinge waarin ons geen sin en doel kan sien nie,  wat vir ons heeltemal onregverdig voel,  kan dit ons verhouding met God  groot skade aandoen.  

Die meeste van ons het seker al sulke onverstaanbare slegte dinge beleef : As ek van my kant af alles doen om ‘n verhouding of vriendskap te laat werk en dit dan misluk, as ek eerlik en hard werk en dan tref ‘n finansiële ramp my,  nog erger ...as ‘n jong kind in ‘n ongeluk sterf, wanneer 'n geliefde lewenslank aan 'n siekbed gekluister is, as ‘n egpaar wat sendingwerk doen vermoor word...

Hoe reageer ons, as onverstaanbare slegte dinge ons tref? Wat is ons reaksie teenoor die misterie van slegte dinge wat met “goeie mense” gebeur? 

Ons ontwikkel maklik ‘n hoogmoedige wantroue en suspisie teenoor God  of ons verval in bekommernis en vrees. Ek  raak arrogant teen God. Ek kry ‘n suspisie : “God is nie lief vir my nie of God is nie almagtig nie.” Ons redeneer : “Hierdie slegte dinge is ‘n bewys dat God nie vr my omgee nie of hierdie slegte dinge is ‘n bewys dat God dat God nie die vermoë het om my te beskerm nie.” Kortom : God wil my nie help nie, want Hy is nie vir my lief nie of God kan my nie help nie, want Hy is nie sterk genoeg nie! 

Die gevolg van hierdie gedagtes is dat ons lewe nou deur twyfel en bekommernisse en vrese oorheers word. Ons probeer als op ‘n menslike manier uitredeneer en verklaar. Ons maak onsself moeg om oorsake te soek vir ons ellendes, ons draai onsself vas in allerhande teorieë en gedagtes... Die wortelgesindheid van hoogmoed en wantroue vertoon uiterlik natuurlik 'n verskeidenheid van gestaltes : sommige raak verhard en spot met die geloof, ander voel verbitterd in die stilte en raak kopsku vir God en onttrek hulle aan die gemeenskap van die gelowiges... Hoe dit nou ook al sy : Onverstaanbare slegte dinge laat ons vertroue verloor en maak ons harte onrustig!

Hoe kry ek weer rus en vrede as ek onverstaanbare slegte dinge my in opstand of vrees laat veral het? Dawid sê vir ons Psalm 131 dat hy rus gevind het. Hy het “sy siel tot bedaring gebring!” (OAV) Nou hoe kry mens dit reg? Wat is Dawid se resep? Kortliks, kan ons sê dat hy twee keuses maak
  • Hy kies teen hoogmoed en bekommernis. 
  • Hy kies vir kinderlike vertroue


Die oplossing lê in ‘n nederige kinderlike onderwerping aan die Amagtige Alwyse God : “Here, ek gaan my nederig voor u buig en nie als probeer uitredeneer en verstaan nie. Ek gaan my plek as beperkte mens ken. Ek berus by die feit dat U God is en ek ‘n mens. Ek erken : U sien verder as ek, U sien die onsigbare, U alleen sien die eindpunt en doel van alles. Ek aanvaar daar is dinge wat ek nie nou in hierdie lewe sal verstaan nie. Ek maak vrede met die feit dat daar altyd dinge is wat vir my onverstaanbaar en verborge sal bly”  Dis nie God se wil om alles aan ons bekend te maak nie. Deuteronomium 29:29 stel dit duidelik : “Die verborge dinge is vir die Here onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders...” (OAV)

Kies om te berus by die feit dat dit nie God se wil is om nou reeds antwoorde en verduidelikings op al my vrae te gee nie.

Die digter gebruik dan in vers 2 ‘n pragtige en treffende metafoor om sy rustende oorgawe aan  en vertroue in God  uit te beeld.  ‘n Rustige tevrede kindjie by sy moeder. Vers 2 : “Ek het rus en kalmte gevind. Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.”   Sien die prentjie! Spesifiek ‘n “gespeende kind” (sien OAV en NIV - “weaned child”) Dis opvallend en moontlik veelseggend dat hy hierdie term “gespeende kind” (gamul) kies en nie byv. ‘n baba (‘ul) of suigeling (yoneq) nie. Die gespeende kind is een wat al moes leer dat alles nie so maklik is nie (hy het al teleurstelling en skok ervaar), hy is nie meer konstant aan sy moeder se bors soos die suigeling  nie.  Kos en veiligheid is nie meer so vanselfsprekend nie; maar hy kan tog tevredenheid en rus vind by sy moeder. Hy skuil by sy ma, hy vertrou sy ma al verstaan hy baie dinge nie. Kyk na die toneel : Hierdie kindjie skop en skree en raas nie meer, nie hy rus net en so raak hy vol tevredenheid aan die slaap...veilig by sy moeder.

Dis die punt waarby Dawid uitgekom het : 

Volkome vertroue al verstaan ek nie!

Hierdie houding en gesindheid, is die enigste manier hoe ons vrede kan beleef in ‘n hartseer stukkende wêreld. Maar baie belangrik, dis juis hierdie gesindheid van vertroue en oorgawe wat eer bring aan God!  “Here , ek sal U vertrou, ek sal U eer, ek sal U gehoorsaam,  al verstaan ek nie. Ek bly U aanbid al verkeer ek in droefheid en benoudheid!”  Dis die diep vlak van heiligheid waartoe God sy kinders wil bring. Dis die omkering, die teenoorgestelde van die sonde van Adam en Eva  in Eden. Hulle het hoogmoedig geword en God gewantrou, hulle het geredeneer : “Ons weet beter as God, ons vertrou Hom nie, hoekom mag ons nie van al die vrugte eet nie? Ons wil ons eie bestemming bepaal en ons eie besluite neem.” Dit was opstand teen God, dit het God se eer geskend en tot onmeetlike smarte gelei. Wanneer jy God se kind word as  jy Jesus as Verlosser aanvaar, begin Hy om jou gesindheid van hoogmoed, wantroue en opstand te verander na een van nederige berusting en vertroue. God gebruik juis die onverstaanbare hartseer dinge om ons by hierdie radikale punt van vertroue te bring. En dink mooi,  hierdie beginsel van “vertroue al verstaan ek nie”, is tog juis ook die manier hoe ons aanvanklik verlossing en vrede vind by God. Die Christen is iemand wat kinderlik op God se beloftes aangaande sy Seun Jesus Christus vertrou, al verstaan ek nog steeds baie dinge nie. Dis veelseggend as Jesus in Markus 10:15 verklaar : “Wie die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”

Die Psalm sluit af met ‘n uitdaging. Vers 3 : “Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.”  Dit kom na elkeen van ons! Maak hierdie doelbewuste keuse! Ek sal vertrou al verstaan ek nie! Ek sal aanhou vertrou en hoop op God, al bly baie dinge onverstaanbaar!