BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 26 Julie 2014

WAAROM DIEN JY GOD?

- “Laat my tog U heerlikheid sien!


Waarom is jy ‘n Christen? Wat verwag jy om uit die “deal” te kry? Wat beteken dit vir jou, wat bring dit jou in die sak? Waarom dien jy God? Wat is jou doel met jou godsdiens? Is dit om beter gesondheid te geniet, geriefliker te lewe en dalk iemand te hê om vir jou te sorg? Miskien voel jy dit gaan darem jou daartoe bring om moreel ‘n beter mens te wees, om darem ordentlik volgens reëls en norme te kan leef? Miskien hoop jy dat godsdiens jou gaan help om groter geluk op aarde te beleef, of ten minste darem eendag die hel vry te spring? Sommige van hierdie dinge kan wel soos God dit wil byvoordele wees, maar daar is ‘n baie groter en meer fundamentele rede...

In Romeine 1 dring Paulus deur tot die kern van die saak. Paulus se doel met hierdie brief is om die evangelie sistematies te verduidelik. En waar begin hy? Na sy inleiding (vgl. Die kragtige uitspraak in 1:17) begin hy by die toorn (heilige wraak) van God. Lees dit saam met my...

1:18 God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk.
1:19 Wat ‘n mens van God kan weet, was immers binne hulle bereik, want God het dit binne hulle bereik gebring.
1:20 Van die skepping van die wêreld af kan ‘n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ‘n mens nie met die oog kan sien nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie,
1:21 omdat, al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie. Met hulle redenasies bereik hulle niks nie, en deur hulle gebrek aan insig bly hulle in die duister.

Hoekom begin Paulus op so ‘n negatiewe noot? Eenvoudig : ‘n Mens moet eers jou sonde besef voordat die genade boodskap vir jou sin maak. So baie mense stel nie belang in genade nie, want hulle reken eintlik dat hulle dit glad nie nodig het nie omdat hulle voel dat God nou nie juis te veel onrustig is oor hulle sonde nie! Paulus begin dus by sonde en God se oordeel daaroor. Wat is die eintlike groot sonde, die wortel van alle ander sondes? (21) Die mens besef vanuit die natuur wie God is en tog eer en dank hulle Hom nie as God nie! Anders gestel, wat is die groot wortelsonde wat die mens die hel laat verdien? Leef vir jouself! Mis so jou skeppingsdoel!

DIE GROOT DOEL VAN ALS

Nou as ons raaksien wat die groot sonde is, kan ons ook aflei wat die groot opdrag aan die mens en doel van die mens is... Om God as God te eer en te dank. Soos die Shorter Cathechism dit stel : “to glorify God and enjoy Him forever” Die doel en sin van ons bestaan is God self. Die doel waarom God sondaars red, is om hulle na Homself te bring! (1 Petrus 3:18 – kliek op REDDINGSDOEL) Dit word bevestig deur Jesus se samevatting van die wet : “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand...”

God moet aanbid en geëer word omdat Hy God is*, omdat Hy Skepper is, omdat Hy die Almagtige is, omdat Hy alleen hoog en verhewe is, omdat Sy Naam heilig is. As ons waarlik in God se teenwoordigheid kom, vergeet ons van alle byvoordele en eer Hom as God! 

God is nie ‘n middel tot ‘n doel nie, God self is die doel!


So baie lyne in die Ou en Nuwe Testament loop uit op hierdie punt. Kom ons kyk na ‘n paar:

God self is sy kinders se erfdeel. Na die Intog word die land verdeel onder die stamme van Israel. Nou is dit opvallend, die stam van Levi kry nie ‘n grondgebied nie... Die opdrag aan die Leviete in Numeri 18:20 (OAV) spreek boekdele : “Ook het die HERE vir Aäron gesê: Jy sal in hulle land nie erwe nie, en jy sal geen deel onder hulle hê nie. Ek is jou deel en jou erfenis onder die kinders van Israel.” God self is hulle erfenis en beloning. In die nuwe bedeling is ons almal priesters... Hierdie beginsel geld nou vir alle gelowiges! Vir my en jou!

God self versadig ons en is die bron van ons vreugde. Habakuk 3:17-19 spel dit so duidelik uit! "Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop. Vir die koorleier. Met snarespel. Die woordjie “nogtans...”(18) vertel als. Maak nie saak wat gebeur nie, oor God sal ek my verbly!

In Psalm 73 gaan dit oor die worsteling van ‘n gelowige met die vraag oor hoekom dit met hom sleg gaan, terwyl die goddeloses vet van die voorspoed is. Eers ontstem dit hom en maak hom sommer baie ongelukkig, maar uiteindelik kom Hy tot die gevolgtrekking dat sy geluk in God self te vind is! “Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie.” (25)

Ook die Nuwe Testament maak dit vir ons duidelik, dit gaan nie oor wat God vir ons gee nie, maar oor God self, om Hom te ken... "En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is." (Johannes 17:3) 

Die ewige lewe is nie iets wat God gee, los van Homself nie, dis HYSELF!

Die essensie van die sin van ons bestaan is om te besef wie God is en Hom as God te eer en te dank! Dis jou doel op aarde! Om God opreg en passievol te eer en te dank moet ons eers weet hoe wie en hoe Hy is. Hoe nodig het ons daarom om die heerlikheid van God raak te sien! Laat ons daarom saam met Moses verlangende tot God roep : “Laat my tog u heerlikheid sien.” (Eks 33:18 OAV) As ons nie weet hoe wonderlik Hy is nie, gaan ons nie die begeerte hê om Hom te eer, te dank en te bewonder nie! Mag ons God se heerlikheid sien! Geen ander heerlikheid kan ons versadig en ‘n doel gee om voor te leef nie!

Is jou oë al geopen vir wie God is? 

Dit bring ons by die aller belangrikste vraag : Hoe en waar kan ons God se onbeskryflike heerlikheid raaksien?

Natuurlik kan ons baie van God se grootheid, heerlikheid en almag in sy skepping sien. Ons het dit gelees... Daarom sal niemand eendag ‘n verskoning hê nie. God openbaar homself in die natuur, maar Hy het Homself nog duideliker bekend gemaak. Deur mens te word in Jesus Christus... In Jesus se woorde en dade en veral in sy kruis en opstanding skyn die heerlikheid van God, die allesoorweldigende heerlikheid wat ons op ons knieë in aanbidding voor Hom bring! Na hierdie heerlikheid gaan ons nou vorentoe verder kyk. Spesifiek hoe Jesus die verskeidenheid van die ATTRIBUTE (eienskappe) van God se eerlikheid aan ons bekend maak.

*D.Martyn Lloyd-Jones, THE PLIGHT OF MAN AND THE POWER OF GOD, p33


Die heerlikheid van God se almag kan in die natuur gesien word, maar die volle heerlikheid, vol van genade en waarheid, kan ons alleenlik in Jesus Christus aanskou! (foto - Rundu)


Donderdag 17 Julie 2014

SIEN EN SMAAK

- wie JESUS regtig is!

[Jare gelede het ‘n broer in Jesus, Armand Kruger vir my ‘n besondere boek persent gegee. Dit was “SEEING AND SAVORING JESUS CHRIST” van John Piper. Dit handel oor die asemrowende, oneindige en veelsydige heerlikheid van Jesus. Jesus is regtig baie baie meer as wat enige een van ons besef... Hieronder is ‘n vertaling van een hoofstuk uit die boek. Skaf gerus vir jou hierdie boek aan.] 



DIE HARDE KANT VAN DIE SAAK 
- Die erns van Jesus Christus 

Die heerlikheid van Jesus Christus lê onder andere daarin dat Hy altyd uit pas is met die wêreld, maar juis daarom altyd relevant vir die wêreld is. As Hy netjies ingepas het sou Hy van min waarde gewees het. Die mens se poging om die Jesus van die Bybel “oor te maak” sodat Hy moet inpas by die gees van een geslag maak Hom juis swak in die volgende geslag. Dis beter om Jesus te laat wees wat Hy is, want dit is juis sy kant wat aanstoot gee wat ons die nodigste het. 

Wat veral aanstootlik is vir die moderne westerse sentiment is die harde, stomp en heftige vorm van Jesus se liefde. Mense wat dunvellig is sou dikwels seergemaak gevoel het deur Jesus se snydende tong. Mense wat liefde net met sagte vriendelike woorde assosieer sou herhaaldelik verontwaardig gewees het, deur die skerp, amper gewelddadige taal van die Here. 

Natuurlik was dit nie die enigste manier waarop Hy gepraat het nie. Ons het reeds gekyk na die soetheid van sy barmhartigheid, na sy geduld en vriendelikheid en vergiffenis. (Hoofstuk 10) Dis juis daarom dat sy harde woorde nie sommer afgemaak kan word as norsheid of uitbarstings van ’n humeur of ongevoelige vyandskap nie. Wat ons in die bytende taal van Jesus kry is ’n vorm van liefde wat juis gepas is in die werklike wêreld van korrupsie, dooie harte en die geweldige konsekwensies wat ons besluite inhou. As daar geen groot boosheid was nie, geen dowe harte en geen ewigheidskonsekwensies nie, dan sou die enigste gepaste vorm van liefde ’n sagte benadering en vriendelik woorde wees. So ’n wêreld sou in elk geval nie die Seun van God doodmaak en sy dissipels haat nie. Maar so ’n wêreld bestaan nie! 

Dis baie nodig vir ons om na die skokkende hardheid van Jesus se genade te luister. Dit het mense in sy eie tyd verwonderd laat staan. Selfs sy vyande het erken dat hy verstommend onverskillig was ten opsigte van andere se goedkeuring. (Jesus was m.a.w. geen “people’s pleaser” nie – vert.) Ons is geneig om oorbekommerd te wees oor wat andere van ons woorde dink. Jesus was nie so nie. “Meneer ons weet dat U in U prediking en onderrig regsinnig is. U let nie op die aansien van persone nie. U is getrou aan die waarheid, en so maak U die wil van God bekend” (Lukas 20:21) Toe die vyandige Fariseërs offisiere na Jesus stuur om hom te vang het hulle ongedane sake teruggekeer met die woorde : “Nog nooit het iemand gepraat soos hierdie man nie” (Johannes 7:46) 

Dis die getuienis van elke generasie. Niemand het nog ooit soos hierdie Man gepraat nie. Dit was al die geval toe hy nog ’n seun in die tempel was : “Almal wat Hom gehoor het was verbaas oor sy insig en antwoorde” (Lukas 2:47) Toe Hy sy openbare optrede in die sinagoge in Nasaret begin het, het almal eers goed van Hom gepraat (Lukas 4:22), maar toe Hy eers onverskrokke teen die grein van hulle selfgesentreerde verwagtings ingaan (vers 24-27), was daardie selfde mense “woedend” (vers 28) en het probeer om Hom van ’n krans af te gooi. En uiteindelik aan die einde van sy bediening, het sy deurdringende antwoorde finaal die monde gestop van sy teenstanders, behalwe vir die uitroepe : “Kruisig Hom” Ons lees : “En niemand kon Hom ’n woord antwoord nie; ook het geeneen van daardie dag af dit meer gewaag om Hom vrae te stel nie.” 

Die toestand van die wêreld wat Jesus se koms noodsaaklik gemaak het, was so sleg, dat Jesus van skokkende taal moes gebruik maak om dit te beskryf. Toe mense Hom vra vir ’n teken was sy reaksie : “ ’n Slegte en afvallige geslag wil ’n teken hê” (Matteus 16:4)Toe sy eie dissipels nie ’n demoon kon uitdryf nie, het Hy gesê : “Ongelowige geslag, hoe lank moet ek nog by julle wees?” (Markus 9:19) Toe Hy hulle geleer om te bid was sy woorde: “As julle wat sleg is.......” (Matteus 7:11) Jesus gaan van die veronderstelling uit dat hulle sleg is en sê dit dan ook reguit. 

Nie slegs het Jesus die wêreld as boos en owerspelig en ongelowig veroordeel nie, Hy het ook gesê dat almal geestelik dood is. Toe ’n dissipel vir Jesus gevra het of hy sy vader kan begrawe, was Jesus se skokkende woorde: “Volg My en laat die dooies hulle eie dooies begrawe” (Matteus 8:22) Die verskriklike situasie van lewende dooies verg geen onduidelike taal nie! Dieselfde ernstige woorde was nodig vir die Fariseërs. “Ellende wag vir julle, want julle is soos onherkenbare grafte..” En ook : “Julle is soos witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerhede is.” 

Hierdie doodsheid was Satanies, want die duiwel was van die begin af ’n mensemoordenaar. Jesus het die vroom ongelowiges die harnas ingejaag met hierdie beskuldiging : “Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen.” (Johannes 8:44) En selfs toe Jesus se eie toegewyde dissipel Petrus heldhaftig geprotesteer het teen Jesus se lydensweg, het Jesus omgedraai en om streng bestraf : “Moenie in my pad staan nie Satan! Jy is vir my ’n struikelblok....” (Matteus 16:23) Vir die mens se geestelike dood was daar net een oplossing : Jesus se plaasvervangende sterwe aan die kruis. Enige poging om dit te verhinder was inderdaad demonies. Geen taal was te sterk om dit af te weer nie. 

Die toestand van die menslike hart sal lei tot die ewige straf vir hulle wat nie die genesing wat Christus gebring het wil aanvaar nie. Daarom het Jesus geen kwesbare gevoelens gespaar om mense teen die hel te waarsku nie. Niemand in die Bybel het meer dikwels en meer skrikwekkend oor die hel gepraat as Jesus nie! “Die engele sal uitgaan en die slegtes skei van die goeies en hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.” (Matteus 13:49-50) Toe die dissipels Jesus probeer vaspen om meer presies te wees oor die plek van oordeel, het Hy eenvoudig geantwoord : “Waar aas lê daar sal aasvoëls ook bymekaarkom” (Lukas 17:37) Inderdaad is sommige werklikhede so vreesaanjaend, dat dit eerder met aanstootlike beelde geteken geword as presiese feite. 

Hel is volgens Jesus ’n plek waar “die wurm nie sterf nie en die vuur nie geblus word nie” (Markus 9:48) Dit is ’n plek van “buitenste duisternis” (Matteus 8:12; 22:13;25:30) Dit is die “ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is” (Matteus 25:41) Die vuur is “onblusbaar” (Markus 9:43) Dit is ’n “ewige straf” (Matteus 25:46) 

In die lig hiervan verduidelik Jesus met skrikwekkende logika dat blote aardse gevare - soos om doodgemaak te word - niks in vergelyking is met die bedreiging van die hel nie. “Aan julle My vriende, sê Ek : Moenie bang wees vir die wat die liggaam doodmaak en daarna niks verder kan doen nie. Ek sal vir julle sê vir wie julle moet bang wees : vir Hom wat mag het om, na die dood, in die hel te werp. Ja, Ek sê vir julle, Hom moet julle vrees.” (Lukas 12:4-5) 

Hieruit is die kru gevolgtrekking wat mens kan maak, dat die skrikwekkende ellendes in hierdie wêreld, hoe erg ook al, nie die grootste tragedie is nie. Baie groter is die tragedie om nie die hel te ontvlug, deur die weg van geloof en bekering nie. Jesus het op ’n blatante konkrete manier hierdie waarheid aan mense oorgedra wat vir die verkeerde dinge bang was. Byvoorbeeld, die klomp mense wat uiters ontsteld was oor die groep Galilese aanbidders, wie se bloed Pilatus met hulle offers gemeng het. Hulle het hierdie onreg aan Jesus meegedeel en moes waarskynlik stomgeslaan gewees het deur sy reaksie, toe Hy gesê het : “Dink julle dat hierdie Galileërs groter sondaars was as al die ander Galileërs, omdat dit met hulle gebeur het? Nee sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle net soos hulle ook almal omkom!” (Lukas 13:2-3) Met ander woorde, in plaas daarvan dat julle verbaas moet wees wat sondige mense vergaan, wees verbaas dat julle nog nie vergaan het nie. 

Jesus sal vir ons die weg na die hemel aanwys, of ons dit nou kan vat of nie. (En of ons dit nou wil hoor of nie! – vert) “As jou regteroog jou laat struikel, hal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gewerp word.” Eerder verminking as veroordeling! So is dit wat betref ons eie veroordeling, hoeveel te meer wat betref die veroordeling van andere. “Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in my glo, van my afvallig maak, vir hom is dit beter as hy met ’n groot meulsteen aan sy nek in die diep see verdrink. (Matteus 18:6) Dis beter dat jy in die see vergaan as dat jy iemand anders in die hel laat beland. 

Dit alles in ag genome is dit nie verrassend dat Jesus die ingaan in die Koninkryk as ’n daad van geweld beskryf nie. “Sedert die dae van Johannes die Doper tot nou toe breek die Koninkryk van die hemel vir homself ’n pad oop, en mense wat hulle kragtig inspan, kry dit in besit.” (Matteus 11:12)* Dis ook nie verbasend dat Hy sê : “Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry is min.” (Matteus 7:14) Die pad is smal en min bewandel dit. Daar is eerder baie wat na Jesus luister en moet sê : “Wat Hy nou is darem te erg. Wie kan daaraan gehoor gee? ” (Johannes 6:60) 

Maar dis nie al nie. Jesus spel die smal pad nie net uit in terme van ‘n rein hand en oë nie, en ’n radikale verantwoordelikheid teenoor die kleintjies nie. Hy mik ook sy harde woorde op ons onregmatige toewyding aan familie, self en besittings. “As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe.” (Lukas 14:26) “wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou.” (Johannes 12:25) Selfs liefde vir vroom ouers sal dikwels na haat lyk vir die wêreld, wanneer ons eers die Koninkryk soek.” En as ons ouers nie godvresend is nie, sal die einste geloof wat maak dat ons hulle verlossing soek, hulle teen ons laat draai. “Ek het gekom om tweedrag te bring tussen ’n man en sy vader en tussen ’n dogter en haar moeder, tussen ’n skoondogter en haar skoonmoeder; ja, ’n man se huismense sal sy vyande wees.” (Matteus 10:35,36) Beteken dit dat mens jou familie verloor as jy Christus volg? Jesus antwoord dit op ’n verrassende wyse as Hy sê : “Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is, dié is my broer en my suster en my moeder.” (Matteus 12:50)

As dit dalk vir jou nie klink na die bediening van die Prins van Vrede nie, onthou net, sy doel is nie vrede met ongeloof en ongehoorsaamheid nie. Dis die vyande wat vernietig moet word, anders vernietig hulle ons. As die amnestie wat Jesus aanbied, van die hand gewys en verag word, is verdeeldheid onvermydelik - en Hy weet dit : “Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring? Nee, sê Ek vir julle, eerder verdeeldheid.” (Lukas 12:51) “Julle sal selfs deur julle ouers en broers en susters en familie en vriende verraai word, en hulle sal party van julle doodmaak.” (Lukas 21:16) “Ek het gekom om vuur op die aarde aan die brand te steek, en hoe wens Ek dat dit al aan die brand is!” (Lukas 12:49)

Wie kan na hierdie dinge luister? Wie kan dit verstaan? Wie kan bly wees oor hierdie woorde en nog steeds verstaan wat Hy bedoel as Hy sê : “Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.” (Johannes 15:11) Jesus se antwoord is net so verrassend soos die woorde wat in die eerste plek tot die vraag aanleiding gegee het. Hy gee die antwoord met blydskap. “By daardie selfde geleentheid het Jesus deur die Heilige Gees dit uitgejubel : Ek prys U Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.” (Lukas 10:21) Die nederiges, die leerbares, die gebrokenes, die onderdaniges, die eenvoudiges - hulle sal die stem van krag en waarheid en geregtigheid en liefde hoor. Hulle sal hoor en hulle harte sal brandend in hulle binneste word as Hy praat. (Lukas 24:32) Hulle sal nie aanstoot neem nie. Hulle sal juis moed skep uit die feit dat ten minste iemand die erns van die menslike toestand raaksien, die vyand ken, nie kompromie maak nie en praat soos ’n oorwinnende Koning en ’n groot Verlosser.





Donderdag 10 Julie 2014

LEEF IN VREDE

- omdat die God van vrede my Vader is.

Vrede is seker een van die skaarste artikels wat daar is. Daar’s ‘n groter gebrek aan vrede as aan kos of enigiets anders op aarde. Niemand kan hierteen stry nie. Die afwesigheid van vrede is sigbaar (en hoorbaar) elke dag, maar nog meer dikwels is dit ’n stille onderstroming - daar is net ’n skyn van vrede in baie situasies en op baie gesigte - onder kook dit van woede, onmin en onvrede. Hierdie hartseer toestand heers vanaf die sondeval... Die heel eerste gesin beleef ’n moord. (Rapport en Huisgenoot sou toe al ‘n bestaan kon maak uit geweldsensasie...) Ons leef in ’n wêreld waar daar geen harmonie is nie. Rusie, afguns, stryd, gemene wedywering, miskenning, benadeling, vertrapping, hartseer, verskeurdheid is deel van die mens se alledaagse bestaan. Haat, onmin en geweld kom voor tussen huweliksmaats, gesinslede, kollegas, volke en nasies! (En ja... ook binne in gemeentes...) Elke nuusbulletin bevestig hierdie afgryslike feit. Byna elke slaapkamer ook... Onvrede en onmin is die kenmerk van ’n wêreld sonder God. ’n Mensdom wat vervreemd is van God en op sy eie aankarring. Die wêreld met sy gebrek aan vrede is die uiterste teenpool van God se Koninkryk. God se Koninkryk is ’n Koninkryk van vrede en harmonie. 

“Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.” (Matteus 5:9) is dus ’n baie diep betekenisvolle uitspraak. Vrede is ’n fundamentele saak in die Koninkryk van God. 

Slegs vredemakers sal toegang hê tot die Koninkryk, want slegs vredemakers kan waarlik kinders van God genoem word.

Wie en wat is ’n vredemaker? Die klem val nie hierop dat God wil hê ons moet klein diplomaatjies wees wat orals tussen mense bemiddel nie. So hoe moet ons die term vredemaker verstaan? Die term vredemaker kry vir ons betekenis in die lig van die tweede helfte – “hulle sal kinders van God genoem word”. God is die God van vrede, God self is die groot vredemaker. Wat beteken dit? Ons lees hiervan direk in Kolossense 1:19,20 “God het besluit om met sy volle wese in Hom (Jesus) te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.” God het deur die bloed van Jesus vrede gemaak met ons as sondaars. Deur Sy Seun in ons plek te straf het God versoening bewerk tussen Hom en ons. Ons sondes is regverdiglik gestraf, so die lug tussen ons en God is gesuiwer. Die gevolg van die sterwe van Jesus is dat God nie meer ons vyand is nie maar ons vriend. Nie meer ’n bedreiging nie, maar ’n skuiling. Ons staan nie meer in ’n misdadiger-Regter verhouding nie, maar ’n kind-Vader verhouding. 

EK KAN VREDE EN VERGIFNIS SKENK OMDAT (EN NET OMDAT) EK DIT ONTVANG HET!

Hierdie Saligspreking fokus ons aandag dus weereens op die Here Jesus self. God het Hom gestuur om vrede te maak - dit is reeds by sy geboorte aangekondig. “Vrede op aarde!” Jesus self het die vrede tussen ons as skuldiges met God bewerk. Wat Jesus vir my gedoen het moet ek uitleef. Teenoor alle mense, selfs ook my vyande. (dit sou insluit die taxibestuurder, "spietkop", politieke opponent, rugbyteenstander... almal wat my ontstig of benadeel) Vrede maak beteken dus eerstens dat mens met jou eie vyande vrede maak en alle stryd teen hulle opskort. Wat God dus vir ons gedoen het (vrede gemaak met ons) verwag Hy dat ons ook met ons vyande sal doen.

PRAKTIESE KWESSIES

  • Hoe kan ek ’n vredemaker in praktyk wees? Ek moet eers my eie behoefte aan vrede raak sien! Het jy al besef jy is van nature ‘n vyand van God en het daarom sy vergiffnis en vrede nodig? Slegs deur geloof in Jesus en sy bewerking van vrede aan die kruis. Jesus het die vrede volledig bewerk (daar’s geen uitstaande boetes wat ek nog moet betaal nie), ek moet net in dankbaarheid en blydskap aanvaar dat die boete wat Hy betaal het genoegsaam was. Vrede met God word deur die geloof verkry en geensins deur enige prestasie nie. (Romeine 5:1) Vrede met God is ’n voorvereiste om prakties as vredemaker te kan leef.
  • Die kind van God, wat vrede het met God, kan nie anders as om ‘n vredemaker te wees nie, want sy Vader is dan die God van vrede. ( hulle sal kinders van God genoem word) Hoe lyk vrede maak in die praktyk? Die kind van God haat onmin, disharmonie, geweld, gebroke menseverhoudings nie net omdat dit lyding veroorsaak is nie, maar omdat dit in stryd met God se wil en karakter is. Daarom doen hy alles in sy vermoë om vrede te bevorder - deur ander hulle kwaad nie toe te reken nie, deur ander se misstappe oor te sien of as dit nodig is dit uit te praat, deur rusie te vermy, selfs as dit nodig is onreg te ly, die minste te wees, stil te bly. (Laasgenoemde is baie doeltreffend om die meerderheid van potensiële konflikte te ontlont! - probeer dit)

Die ding van vrede maak is beslis rof en seer, maar ons kan nie anders nie!

  • Natuurlik, ons moet geen illusie hê nie om ’n vredemaker te wees in hierdie wêreld waar geen vrede en geregtigheid is nie, is ’n ontsagwekkende taak, wat geweldige eise stel. Dit kom neer ons moet die beginsels van die Koninkryk uitleef in ’n omgewing en tussen mense wat niks omgee vir God en sy beginsels nie. dit gaan baie kos, dit gaan ons seermaak! Jesus spel vorentoe die praktiese konsekwensies van hierdie beginsel uit in Matteus 5:39-44 “Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ‘n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe. As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere. As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer. Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie." "Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg,” Sjoe, dis meer as ‘n mond vol!*  Mag die Gees die implikasies hiervan in elkeen se situasie vir ons duidelik maak... Dit behels o.a.’n vaste beginsel besluit om aan almal goed te doen - ook die wat my haat en misbruik, en om heeltemal af te sien van die wêreldse beginsel van vergelding. “Maar,” is die vraag - “gaan ek nie geweldig skade ly en seerkry nie?” Ja, jy gaan! God se kinders is inderdaad weerlose lammers onder wolwe maar onthou ons vrede is te danke aan die Een Lam wat vir ons geslag is. En alles skade gely het ter wille van ons...
  • Die saak van vredemaak is juis iets wat in werking kom wanneer daar verskil van opinie is, onreg gepleeg word en vergelding oorweeg word. Dis in sulke situasies dat ons graag verskonings uitdink om nie Jesus se opdrag te gehoorsaam nie, maar juis in sulke omstandighede moet ons wys dat ons kinders van God is, mense wat heeltemal anders dink en anders opereer as die wêreld...
  • Nodeloos om te sê - Hierdie gesindheid van vredemaker wees is belaglik in die oë van die wêreld. Dit lyk soos roekelose selfvernietiging. Maar nou ja al die Saligsprekinge lyk onsinnig vir die wêreld, trouens die hele evangelie van die gekruisigde is ’n dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word is dit die krag van God. (1 Korintiërs 1:18)

NIE OPSIONEEL NIE, MAAR PRIORITEIT!

Vrede met alle mense is ’n prioriteit vir elke kind van God. “As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.” (Romeine 12:8) Dit behoort so te wees omdat elke kind van God per definisie iemand is wat vrede ontvang het deur die vergifnis wat daar in Jesus is. ’n Kind van God kan nie iets anders wees as ’n vredemaker, vrede soeker, vrede liefhebber nie. 

EN DAARDIE BITTERHEID?

Ons sal die negatiewe ook moet stel - wie houtgerus kan voort leef in onmin, haat, konflik met sy medemens kan nie ’n kind van God genoem word nie. Die vertroeteling van jare se bitterheid wys net een ding : JY SELF HET NOG NIE VREDE MET GOD NIE! Wie onmin liefhet kan nie deel wees van God se Koninkryk nie, want God is ’n God van vrede.

*Natuurlik het ons hier te doen met 'n KONINKRYKSBEGINSEL wat mens laat duisel! Ons moenie hier verstrengel raak in letterlike detail nie. Die punt wat Jesus wil tuisbring is baie duidelik : God se kinders moet in situasies van onreg, op 'n onverwagte (bykans kreatiewe?) manier reageer, omdat die genade wat ons ontvang het, ons aanspoor om ander (ons vyande) deur liefde te oorwin, eerder as om die wêreld se opsie van vergelding en wraak na te volg. Ons reageer dus nie volgens ons "regte" nie, maar volgens 'n radikale andersheid van liefde! Daarin lê geweldige getuieniskrag!

Destyds het die Romeinse soldate wat Palestina beset het, die mag gehad om inwoners te dwing om hulle te help. (Dink aan die geval van Simon van Cirene wat gedwing is om die kruis te dra.) Dink nou wat sou die reaksie wees, as 'n gehate Romeinse soldaat jou gedwing het om 'n swaar pak goed vir een myl te dra en dan sê jy vir hom : "Kom ek dra dit sommer vir jou nog 'n myl!" Hierdie soldaat sou moes besef dat jy aan 'n groter Koninkryk as hy behoort en 'n groter Heerser as hy dien! So bring jy binne 'n situasie van onreg, eer aan God! Ongelooflik!(Sien Sinclair B. Ferguson se THE SERMON ON THE MOUNT)

Vrydag 04 Julie 2014

DADELIK MORSDOOD

- pasop vir die minagting van die Gees binne die heilige gemeenskap! 

As jy die boek Handelinge lees word mens getref deur die positiewe klanke van oorwinning, liefde, blydskap en getuienis in die eerste gemeente. Alles gaan so goed. Dan skielik die hartseer en skrikwekkende gebeure rondom Ananias en Saffira (Handelinge 5:1-11) wat uitstaan soos ‘n seer vinger, ‘n vals noot. Tragies, skrikwekkend, om van te sidder! ‘n Hele paar vrae word by ons opgeroep. Die spoed en die strengheid van hulle straf klink vir ons vreeslik, buitensporig en vreemd. Was dit regtig nodig en geregverdig om so drasties op te tree of het ons dalk hier te doen met die onbeheerste uitbarsting van ‘n outoritêre figuur? (Petrus) Word hier ‘n metode van tug in die kerk voorgeskryf? Wat is die betekenis vir ons vandag?

WIE IS GOD?

Reg aan die begin moet ons sê dat baie van die moderne verbasing en onbegrip vir hierdie gebeure te maak het met die feit hoe vêr ons denke en optrede verwyder geraak het van die Bybelse begrip van die ontsagwekkende heiligheid van God. Ons het ons eie inhoud aan God gegee. Vir ons self ‘n mak Vader Krismis god gemaak...een wat altyd met al ons doen en late saamstem... Die boodskap van Jesaja 6* het vergete geraak...

NOU WAT WAS FOUT?

Hoe moet ons hierdie twee mense se skokkende straf verstaan? Wel, om begrip vir die straf te kry sal ons eers die aard van hulle sonde moet probeer verstaan. Daar was geen verpligte kollektivisme in die Vroeë Kerk nie, so hulle sonde het niks te maak met die weiering om afstand te doen van persoonlike besit nie. Dit was ook nie net ‘n geval van gierigheid opsigself nie. Nee, die saak wat hier ter sprake kom is die kwessie van integriteit in die teenwoordigheid van die God van Waarheid. Ananias en Saffira het nie besef dat daar waar God se Gees is , daar is God, nie. Die God wat as heilige God ‘n verterende vuur is, wat alle valsheid vernietig.

Uit Lukas se vermelding van die gebeure is dit baie duidelik dat Ananias en Saffira met voorbedagte rade daarop uit was om te mislei. Hulle was daarop uit om op ‘n valse manier erkenning vir hulleself te kry in die geledere van die kerk. Daar was ‘n groot verskil tussen hulle optrede en die van Barnabas. Barnabas het vanuit ‘n gesindheid om andere te dien die volle prys van sy eiendom na die apostels gebring. Ananias het hierdie liefdesdaad vir mense oë gedoen en nog boonop doelbewus die waarheid verdraai. Hy het deel van die geld agtergehou.

AGAN EN ANANIAS

Deur die gebruik van die Griekse woord vir “agterhou” (2) vestig Lukas waarskynlik die aandag op die enigste plek waar hierdie betrokke woord in die Griekse vertaling van die Ou Testament (die Septuagint) gebruik word, naamlik die verhaal van Agan se sonde (Josua 7) Onthou weer die parallelle wat tussen die Intog gebeure (Josua) en die heilshistoriese fase wat in Handelinge vir ons geskets word. (Kliek op MET JOU) Agan het van die bangoed (dit wat aan die Here behoort) agtergehou vir homself. Deur dit te doen het Agan op ‘n tweeledige manier God geminag: 

· Hy het God se alwetendheid geminag, deur te dink dat hy God kan flous en ongesiens kan wegkom met sy daad.

· Hy het God se heiligheid en heerskappy geminag deur so arrogant te wees om te vat van dit wat aan God behoort het.

Agan se optrede het meer as net persoonlike implikasies gehad. Deur sy minagting van God het Agan Israel ontheilig. Dit was ‘n ernstige saak en loop uit op Israel se vernederende neerlaag teen die klein stadjie Ai. In ooreenstemming met die erns van die sonde is Agan en sy familie ook dan gestraf. Hulle almal is gestenig en verbrand. God is voorwaar ‘n verterende vuur! God laat nie met Hom speel nie!

Die ooreenkomste is ook verder baie opvallend. In beide gevalle het die weerhouding van die Here van dit wat aan Hom behoort tot die doodstraf gelei. Die vraag is nou net of Ananias wel die Here se eiendom gesteel het? Petrus het dit tog duidelik gestel dat hy sy eiendom kon gehou het. Die kernsonde wat Ananias se sonde ‘n parallel gemaak het met die van Agan was sy misleiding en bedrog. Ananias het openlik in die teenwoordigheid van die Heilige Gees (onthou die Heilige Gees woon in die gemeente) verklaar dat dit die volle prys van sy eiendom was. Daardeur het sy hele eiendom die Here se besitting geword. In hierdie opsig het hy dus van God gesteel. Net soos Agan het Ananias en Saffira die kennis en heiligheid van God beledig en geminag. Vir God gelieg! “Die grond was mos joune, en toe dit verkoop is, kon jy met die geld gemaak het wat jy wou. Wat het jou besiel om dit te doen? Jy het nie vir mense gelieg nie maar vir God." (Handelinge 5:4) Hierdie paartjie het die arrogante sonde begaan om dit te durf waag om in die teenwoordigheid van die Heilige van Israel bedrog te pleeg.

DIT RAAK ONS!

Lukas wil ‘n bepaalde boodskap aan die kerk van alle eeue oordra. Deur hierdie gebeure toon God Sy heiligheid en sy standaard van heiligheid vir Sy volk. (Sy kerk) Opvallend – die episode met Agan redelik vroeg gebeur het in die nuwe fase van God se plan met Sy volk - die intog in die beloofde land. Hierdie gebeure is ook aan die begin van ‘n nuwe bedeling, die bedeling van die Heilige Gees in die Nuwe Verbond, die veroweringstog van die kerk in die wêreld! (kort na Pinkster) 

Die kerk is die gemeenskap van die heiliges, reeds hier op aarde. Ons bely mos : “Ek glo in ‘n heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges!” Ons moet besef ons leef in die teenwoordigheid van ‘n heilige God. Hierdie besef moet ons motiewe en optrede bepaal. ‘n Lewe voor die aangesig van God! Coram Deo! Om vir elke oomblik te besef ek het met Hom te doen die Almagtige, Alwetende, Alheilige. God se oordeel tref hulle onmiddelik. 

Tog weet ons dat dit nie altyd so gebeur nie. (Ook maar goed so). Waarom gebeur dit nie aldag nie? Dis ‘n teken van God wat vooruitwys na die finale en skrikwekkende oordeel van misleiers en skynheilige meelopers by die finale koms van Jesus. 

VREUGDEVOLLE VOORREG, MAAR OOK GEVAARLIKE VUUR!

Om God in ons midde te hê is ‘n oneindige voorreg en genade, maar sy teenwoordigheid moet ook ‘n heilige eerbied en erns by ons wek, met hierdie God kan ons nie oneerlike speletjies speel nie! 

Binne die heilsgeskiedenis is hierdie nie ‘n voorbeeld wat ons presies so moet probeer navolg nie, maar is dit ‘n teken! Voor die finale aanbreek van die groot dag sien ons nog nie die volle seën en volle vloek waarvan hierdie tekens getuig nie. Ook in die Vroeë Kerk is nie alle ernstige sonde dadelik gestraf nie. Soms straf God sy kerk fisies deur byvoorbeeld siekte (1 Korintiërs 11:30-32; Jakobus 5:15), maar aan die anderkant sal daar baie skynheiliges wees wat eers by die finale oordeel aan die pen sal ry. Ons lewe nou nog in genadetyd, dis God se lankmoedigheid wat ons kans gee vir bekering. Daar is reeds tekens van God se oordele, maar alles word nie nou al voltrek nie.

EN NOU...?

Hierdie skrikwekkende gebeure rondom Ananias en Saffira :

~ is ‘n duidelike boodskap van waarskuwing aan die kerk van alle eeue. Dis kranksinnige dwaasheid om God se heiligheid en alwetendheid uit te daag en te dink ek gaan daarmee wegkom. Dis dwaas om die gemeente van die lewende God te probeer bedrieg of skade aandoen! (Ook jy wat jou liggaam, God se tempel skend deur onreinheid, jy wat probeer mislei deur in twee wêrelde te leef, neem kennis voor dit te laat is.

~ korrigeer die eensydige klemme wat op die Heilige Gees se werk en teenwoordigheid geplaas word. Ja, die Heilige Gees bring vreugde en blydskap (13:52; 8:39) By ‘n vorige keer het ons gesien dat dit juis die teenwoordigheid van die Heilige Gees is wat die gemeenskap van die gelowiges moontlik maak. (Kliek op GEMEENSKAP) Maar die Heilige Gees se teenwoordigheid hou ‘n skrikwekkende gevaar in vir almal wat Sy krag en heiligheid ligtelik opneem of wil misbruik.

~ laat ons besef die gepaste reaksie op die bewustheid van die brandende heerlikheid van die Heilige Gees se werk en teenwoordigheid is eerbiedige vrees en ontsag. (5:5,11,13) Lukas volg die Ou Testament se voorbeeld (Psalm 103:17; Spreuke 1:7) en som die hele lewe van geloof en vroomheid op met die frase, “die vrees van die Here” (Lukas 1:50; Handelinge 9:3) Waar is die vrees van die Here? Dit het ‘n skaars bestanddeel geword in die kerk van die Here. Is dit nie ‘n aanduiding dat ‘n groot deel van die Christendom maar besig is met hulle eie mensgemaakte here nie? Hartgrondige vreugde en eerbiedige vrees is nie vir God se kinders teenstrydige emosies nie. Ons vrees vir God is juis gegrond in die feit dat Hy die regverdige, heilige en konsekwente God is, maar dis juis ook die rede vir ons blydskap. Hy is deur Jesus ons Vader, ons is versoen met Hom. Dis met ander woorde nie dieselfde as die heidene se vrees vir hulle wispelturige gode nie. Wie bewus is van die angswekkende heiligheid van God verbly hulle in Sy genade en sal dit nooit goedkoop maak en God tart nie.

~ dwing ons om weer te besef met wie het ons te doen. Die Heilige van Israel! Sy volk moet ook ‘n heilige volk wees, dit was Sy standaard gewees in die Ou Bedeling, dis ook Sy standaard in die Nuwe Bedeling! (1 Petrus 1:16) Ja, Sy deur van Genade staan wyd oop, maar diegene wat dink hulle kan onheiligheid en disrespek en misleiding by hierdie deur insmokkel maak ‘n fatale fout. Genade en die feit dat God op grond van Jesus se werk al ons gruwelikste sonde vergewe, beteken nooit dat God Sy heiligheid prysgee nie. Dis juis hoekom genade die bloed van Jesus gekos het sodat God ons kan vergewe sonder om sy heiligheid prys te gee.

*Lees gerus hoe die profeet met die heiligheid van God gekonfronteer word en so sy eie en sy volk se sonde besef, maar dan ook vergifnis (en ‘n opdrag) ontvang!

(Hierdie boodskap was die laaste van die Pinksterreeks van 2014 oor temas uit Handelinge. Vir die eerste aflewering in die reeks, kliek op JESUS TEENWOORDIG)


Dinsdag 01 Julie 2014

SPREEK LEWE

- die resep vir sukses?

MENS IN DIE MIDDELPUNT


Ek sit onlangs en luister na ‘n uitstekende motiveringspraatjie. Die gehoor van hoofsaaklik hoërskoolkinders hang aan die spreker se lippe... Hierdie man straal gesondheid, positiwiteit en ‘n lus vir die lewe die uit. Hy sê beslis ook goeie en waar dinge. Hy praat eerlik en uit eie ondervinding. Hy het die volle aandag van sy gehoor. (en hy geniet dit) Maar ek voel onrustig, die tekste wat hy aframmel is al die klassieke “bewysplekke” van die Word Faith Movement. Ons noem hulle sommer die “Spreek lewe” beweging... By verdere nadenke besef jy, die mens en sy behoeftes en prestasies is in die middelpunt... Iewers skort iets. Ek het dan niks van die kruis gehoor nie? Net gehoor, “Moenie worry oor sonde nie, doen net wat reg is!” Daarin lê ook ‘n element van waarheid in..., maar Paulus begin tog sy verkondiging van die evangelie by die aaklige werklikheid van die sonde. Was Paulus dan verkeerd? (Rom 1:18ev) 

Ek wil nie ‘n persoon aanval of onnodig snorbaarde trek nie, maar ek mag nie stilbly oor die kruisboodskap as die enigste ware Goeie Nuus nie! Ek mag ook nie maar net goedsmoeds stilbly oor die gevaarlike dwalings van ons dag nie. Wie valse lering hoor en daaroor swyg is medepligtig.

Elke boom word aan sy vrugte geken, maar elke boom het ook wortels (‘n agtergrond) wat heel dikwels baie ver terugstrek in die verlede. Daar is immers niks nuuts onder die son nie. Die wortels van die Word Faith Movement lê in ’n ou dwaling genaamd die Gnostiek. (Dit kom van die Griekse woord - gnosis = kennis) Volgens hierdie denkwyse kan ons alles regkry deur die regte kennis. Ons moet ten alle koste hierdie geheime kennis (resep) kry en daardeur bepaal ons ons eie toekoms. Hiervolgens werk die geestelike wêreld volgens ’n sekere stel wette/beginsels van kennis. As ek dit ken, kan ek my eie bestemming bepaal en beheer neem daaroor.

Ek het na die tyd met die Lewe Spreek profeet gaan praat en uitgevind dat sy wortels by Myles Munroe lê. By nadere ondersoek blyk dit - hierdie Munroe is “Myles” away from truth! Munroe verklaar openlik dat die Goeie Nuus nie oor Golgota gaan nie! Hy bots dus direk teen wat Paulus in 1 Korintiers 15:1-4 sê. Ek verstaan dus nou ook hoekom die erns van sonde en die kruisboodskap so verswyg is!

Kom ons kyk in die algemeen na ‘n paar kenmerke van die Word Faith Movement*:

1. Vals siening van Geloof. Geloof is by hierdie mense iets heel anders as in die Bybel. Geloof is ’n spirituele energie of krag wat ons op God rig (of die geestelike wette). Al wat ek nodig het is konsentrasie, ’n positiewe houding, meditasie of een of ander formule om die kragte van die natuur te beheer. Positive confession is dus baie belangrik. Volgens die Bybel is geloof egter om God se beloftes te glo byv. die belofte oor vergifnis! 

2. Sterk klem op genesing! Dis vir almal, jy moet net die regte resep kry! Siektes moet net aangespreek word, dan bly ek en my familie gesond! Natuurlik maak so ‘n benadering ‘n groot appèl op mense, want wie wil nou siek wees? Genesings bewys egter nie dat daardie krag wel noodwendig van God af kom nie. In alle heidengodsdienste kry mens dramatiese onverklaarbare genesings. Die klem in die Bybel val nie op genesing nie, maar op die verlossing van sonde! En op die ou end gaan alle Christene buitendien dood weens een of ander siekte... wat dan nou? Was daar ‘n fout met hulle geloof?

3. Elitisme. Elke ervaring lig die gnostisis tot ’n hoër vlak van kennis, hoër dus as sy mede Christene! Die indruk word gelaat : “Ons het iets meer.” Die evangelie is dus nie genoeg nie. Daar word gesoek na iets beter en dieper. Geloof in Jesus, liefde vir die heiliges en hoop op die erfenis soos ons dit in Kolossense 1 aantref is nie voldoende nie. Daarom kry mens ’n naarstigtelike gesoek na nuwe ervarings! Paulus spreek hierdie dinge baie duidelik aan in die Kolossense brief.

4. Klem op die individu. As kennis die sleutel is, het ek nie ander mense nodig nie, ook nie die plaaslike gemeente nie. (Ek kan my kerk op TV kyk by die huis) Daar’s nie meer ’n gevoel en Bybelse waardering vir die kerk nie! Die erediens in my gemeente is nie prioriteit nie, nee, ons reël sommer ons eie dinge in kerktyd! 

Die motiverings-Word-Faith-teacher is individueel-gesentreer, mens-gesentreer, maar alles behalwe God-gesentreerd!

5. Dit stel die mens en sy behoeftes eerste. Die Word Faith leraars verkondig dat ons nou die beste kan hê in hierdie lewe! Jy is bestem om hierdie geweldige suksesverhaal te wees! Dis glad nie die beeld wat ons in die Nuwe Testament kry nie. Vgl. Johannes 16:33; Romeine 8:18ev (hulle beweer ook valslik dat Jesus ryk was, maar sien Matteus 8:20) Die hele klem val op die self! Dit klink ook asof God die mens se dienaar is wat ons moet help om ons ideale te verwesentlik. God moet as’t ware agter jou aan hardloop om jou wense en ambisies waar te maak.. (Miskien wonder jy dan nou wat die WINS van Christenskap is. Kliek op WARE WINS)

In hierdie benadering staan God in diens van die mens se ideale!

6. Dit vergoddelik die mens. Die grens tussen God en mens word uitgewis as die mens se woorde skeppingsmag het. God is daarom nie meer die soewereine almagtige God nie. Die onderstaande gesprek tussen Munroe en die groot dwaalleraar Benny Hinn spreek vanself :

Myles Munroe, “Yes let me define prayer for you in this show. Prayer is man giving God permission or licence to interfere in earths affairs. In other words prayer is earthly licence for heavenly interference.” 

Benny Hinn, “That is incredible.”

Myles Munroe, “God could do nothing on earth. Nothing has God ever done on earth without a human giving him access.”

Benny Hinn, “So he is always looking for that somebody.”

Myles Munroe, “Always looking for a human to give him power and permission. In other words God has the power but you have got the permission. God has got the authority and the power but you have the licence. So even though God can do anything he can only do what you permit him to do.”

DIE MENS WIL GOD WEES!

Charles Capps sê : “Anything man can imagine or conceive in his heart he can perform.” 

Die Bybel leer dat God alleen almagtig is, dat God soewerein is en doen wat Hy wil! In sy groot genade betrek Hy ons en ons gebede, maar Hy bly altyd God! Hy kan doen wat Hy wil en Hy kan gebruik wie Hy wil! God het selfs heidense konings gebruik om sy wil uit te voer. Die mensgemaakte god van die Word Faith Movement is eintlik baie klein… Dis ‘n maaksel van die mens self, ontwerp om die mens se behoeftes te pas!

In hierdie leuen oor die goddelikheid van die mens is daar ’n duidelike ooreenkoms tussen Word Faith en die New Age filosofie wat leer dat ons moet kontak maak met die god in ons! Shirley MacLaine sê : I hold each yoga position for twenty seconds and internally chant : “I am God in light.” ( maak kontak met jou hoër self, innerlike lig, ens.)

EEN SAAK STAAN VOOROP IN HIERDIE VALSE LERING:

DIE MENS EN SY GERIEF

Dit gaan eintlik in alle valse strome en leringe om een saak nl. die mens se soeke na bonatuurlike metafisiese krag om die lewe vir homself so gerieflik moontlik te maak, om sy eie toekoms te bepaal, om met ander woorde God te probeer speel! Dis natuurlik die ou leuen van die Satan in die paradys, die suggestie dat die mens soos God kan word... Die mens se soeke na goddelike krag maak hom nou nog kwesbaar vir hierdie leuen. Dis waarom ‘n rou heiden na die sjamaan/toordokter gaan, maar dis ook hoekom post-moderne materialiste gaande is oor die Word Faith gebaseerde motiveringspraatjies! Dis die aantrekkingskrag van die New Age en okkultisme, swart en wit magie, hekse en Satanisme en die Word of Faith Movement (Die Spreek lewe beweging)... Daarteenoor, die krag wat die lewende God ons gee is ‘n eties-morele krag om geduldig in alle omstandighede te kan volhard (Kolossense 1:22) Om in alle omstandighede dankbaar en vergenoegd te wees.

7. Pragmatisme. “As dit werk is dit waar en reg” Menslike ervarings word die norm van die waarheid. “Dit het gewerk, ons het ’n engel gesien, hy is gesond daarom is dit waar! Kyk net watter positiewe invloed het hierdie ou!” Hulle vergeet dat die Satan enige menslike ervaring kan naboots en homself as ’n engel van die lig kan voordoen! (Net soos wat die valse profeet in Openbaring13:13 sal doen!) Paulus waarsku in Galasiërs 1 teen ’n ander evangelie! Word Faith met die mens en sy behoeftes in die middelpunt is ‘n ander evangelie. Die soeke na ervarings het die objektiewe waarheid van die kruis en die opstanding verdring. Hierdie mense jaag van een ervaring na die ander, hulle is uiters naïef en verslind alles wat opgedis word. Die oplossing is om terug te keer na die nugtere (binne konteks) bestudering van God se Woord! Die antwoord is om weer die genoegsaamheid van Jesus raak te sien! Natuurlik gebruik die Word Faith sprekers ook Bybeltekste, maar hulle haal dit buite konteks aan, van deeglike Bybelstudie en eksegese is daar maar min sprake!

MAAR DIT WERK DAN?

Is die Word Faith Teachers en Spreek Lewe guru’s effektief? Ongetwyfeld! Enige goeie spreker kan mense se koppe draai! Dit het Hitler eens en vir altyd vir ons gewys. Word mense se lewens ten goede verander deur hierdie positiewe praatjies. Beslis! In elke kultus is daar duisende wat hoog en laag sal sweer dat hulle die geheim van die lewe ontdek het! Is hierdie boodskap van die Word Faith sprekers, die evangelie van Jesus Christus? NEE! En dis die probleem, want net die evangelie, soos Paulus en die apostels dit verkondig het, is die krag van God tot REDDING vir elkeen wat glo! (Romeine 1:16)


*Ek probeer nie insinueer dat ‘n spesifieke persoon aan al hierdie wanopvattings skuldig is nie. Dis algemene kenmerke van hierdie beweging.

**’n Teks wat dikwels uit konteks (mis)gebruik word deur die Word Faith leraars om die belangrikheid van hierdie ingewyde kennis te onderstreep is Hosea 4:6 “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis;…” (OAV) Dis egter baie duidelik, dit gaan nie hier oor geheime kennis nie, maar God se geopenbaarde wil naamlik sy Woord. God se wil is nie ’n geheim nie, maar in die Skrif geopenbaar! Die fokus van hierdie openbaring is Jesus self! En, Jesus self is die waarheid! (Johannes 14:6) Hy maak ons vry. Vry van die skuldlas én die mag van sonde! Ware kennis is kennis van Jesus! Daar is nie meer ’n geheime kennis wat ons moet ontdek nie! Die Geheim is uit - dis Jesus! (Kol 2:3) Dis reeds geopenbaar (Kol 1:26) Die volheid van God is in Jesus beliggaam en elkeen wat aan Jesus behoort deel daarin! (Kol 2:9,10) Dis wat mens mis by hierdie praatjiesmakers. Christus word nie verkondig nie, nee bloot ‘n mensgedrewe verbeteringsprogram met ‘n dun Christelike sousie oor.

Jesus en sy kruisdood is nie regtig nodig nie, want volgens hulle word die heelal regeer deur geestelike wette. Die sleutel is dus om kennis van hierdie geestelike wette te hê , want dan kan ek my eie toekoms en welsyn bepaal. Ek kan die lewe vir myself gerieflik en lekker maak, deur reg te dink!

Bronne : Crenshaw, Man as God – the Word Faith Movement

              MacArthur, Charismatic Chaos