BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Heiligmaking. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Heiligmaking. Wys alle plasings

Woensdag 22 Mei 2019

Kliniek of Paradegrond?

- Die Bybelse benadering tot praktiese Christenskap en heiligheid mag jou dalk verbaas... 


Kom ons oordink spesifiek 1 Timoteus 6:12-16. (lees dit gerus) Paulus skryf ‘n persoonlike brief aan die jongman Timoteus om hom aan te moedig en raad te gee. Hy skryf onder andere oor die gevaar van dwaalleringe en in die direkte voorafgaande gedeelte oor die groot, maar subtiele gevaar van die liefde vir geld. (9,10) Geldgierigheid is dodelik gevaarlik vir ‘n kind van God! 

Met dit as agtergrond stel Paulus nou vir Timoteus voor ‘n direkte uitdaging of sommer ‘n prontuit bevel : “Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het.” (1 Timoteus 6:12) 

Kom ons hoor dit mooi : 

“Stry die goeie stryd van die geloof!” * 

Prakties behels dit ‘n wegvlug en afkeer van als wat verkeerd is (soos geldgierigheid) en ‘n najaag en gryp na dit wat reg is. (11) Paulus wil sê :“Komaan Timoteus, jy het mos openlik voor getuies bely aan wie se kant jy is (ek herinner jou net daaraan), nou moet jy vasvat en aangaan en volhard en werk maak van jou geloof! Dis ‘n harde geveg wat voorlê!” 

Die hoofsaak wat ons aandag vra is : Die Bybelse begrip van praktiese Christenskap, heiligmaking en groei behels ‘n aktiewe robuuste stryd! 

TWEE TEENOORSTAANDE BENADERINGS 

Daar is twee sterk teenoorstaande benaderings of sienings van hoe Christene dink heiligmaking en groei aangepak behoort te word. Afhangende van watter benadering mens voorstaan, het dit ook ‘n bepaalde effek op jou verstaan van kerkwees. En wat jy van die kerk verwag... 

Die twee benaderings kan genoem word: Die kliniek benadering en die paradegrond benadering. 

KLINIEK 

Die kliniek benadering klink dikwels so: “Ag, ons verstaan hoekom jy nie betrokke wil wees by die kerk nie, want soveel mense het jou teleurgestel en jou seergemaak. Ag, ons verstaan waarom jy nie sonde wil los nie, want jy het nie ‘n goeie voorbeeld in jou ouerhuis of skool gehad nie. Ag, ons almal is so swak, ons is so besig, ons is so onvolmaak, ons is so menslik, die Here sal verstaan as ons Hom maar die laaste plek in ons lewe gee. Ag, ek is so swak ek sukkel om te groei, sonde te los of te getuig. Maar, wat dit is nie so ernstig nie, want ons almal sukkel maar...” 

Vanuit hierdie besef van voortdurende swakheid, sondigheid en ellende verstaan en beskou mense die kerk as ‘n kliniek waar ons heeldag pilletjies gee, windjies uitvryf en vars doeke aansit. O, en daar mag tog net niks gesê word wat iemand sal ontstel nie! Sonde mag nie by die naam genoem word nie. Laksheid en die verbreking van beloftes mag nie direk aangespreek word nie. As iemand my net skeef aankyk, net effentjies op my tone trap, dan vat ek my goed en loop na ‘n kerk wat as ‘n meer simpatieke kliniek kan funksioneer... Die klem in hierdie benadering is altyd op die individu se gevoelens en gemoedstoestand en allerhande probleempies. “O, soveel mense en dinge het my seergemaak in my lewe…” En wat is die gevolg? Al die aandag op myself en my hartseer situasie vuur net selfbejammering en verskonings en passiwiteit aan! Daar is ‘n sieklike klem op sentimentaliteit en subjektiwiteit… Hoe voel ek, hoe word ek behandel, hoe raak dit my….? 

PARADEGROND 

Die paradegrond benadering kyk vanuit ‘n heel ander hoek. Die vertrekpunt is juis (anders as wat jy dalk sou verwag) God se omvattende en genoegsame genade. God het ons in Jesus volkome vrygespreek, Hy dink nie meer aan ons sonde en mislukkings nie. Sy liefde is vas en seker vir sy kinders. Niks kan ons daarvan skei nie. (Romeine 8:31ev.) Maar juis weens sy groot en ryk genade rus daar ‘n dankbaarheidsplig op elke ontvanger daarvan. Die verlede is mos verby! Nou word ons opgeroep tot die stryd! Nou is die tyd vir sterk staan en weerstand bied teen die sonde! Die oorwinning is mos reeds behaal op Golgota! Die graf is leeg! 

Wat ‘n groot verskil met die kliniek benadering! Die bekende Martyn Lloyd-Jones het homself prontuit hieroor uitgespreek : “The main trouble with the Christian Church today is that she is too much like a clinic, too much like a hospital; that is why the great world is going to hell outside.”** (Terloops, hy was nie ‘n harde man nie! Hy was ‘n ware sielesorger en boonop nog ‘n mediese dokter ook! Maar hy het die waarheid van die Skrif ernstig opgeneem.) 

WEES ‘N DAPPER SOLDAAT! 

Die Bybelse benadering tot heiligmaking is die van ‘n paradegrond, van opdragte aan ‘n soldaat! Geen pamperlang benadering nie! Geen toedraai in watte aanslag nie. Geen plek vir sissies nie. Stry die goeie stryd van die geloof! Hoor Paulus se styl : “Ek gebied jou/beveel jou voor die aangesig van God...” (13) Dis paradegrondtaal! Geen mooipraatjies nie! Ja, as daar wonde en letsels is dan verbind ons dit in liefde met die Woord, maar ons bly nie broei daarop nie, ons gebruik dit nie as verskonings nie, ons gaan positief aan met die stryd, ons hardloop die wedloop! Dis dwarsdeur die Nuwe Testament die benadering tot die leef van die Christelike lewe : 

Romeine 8:13 “want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe.” Aksie, daadwerklike optrede! 

1 Korintiërs 16:13 “Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manmoedig, wees sterk!” 

Efesiërs 6 :10ev “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. 
Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. 
Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.” 

2 Timoteus 2:3 “Dra jou deel van die ontberings soos ‘n goeie soldaat van Christus Jesus.” 

Hebreërs 12:4 “Julle het nog nie so teen die sonde weerstand gebied dat dit vir julle ‘n stryd om lewe of dood geword het nie. Julle moet bereid wees om nog baie harder teen die sonde te stry!” “ten bloede toe” soos die OAV dit stel. 

2 Petrus 1:3-5 “Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag. 
Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur. 
En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met....” 

Dis duidelik, die hele spektrum van Nuwe Testamentiese skrywers het hierdie positiewe, robuuste paradegrond benadering! 

Hierdie Bybelse oproepe onderstreep : Dit gaan oor die Koning en sy opdrag, nie primêr oor myself en my puntenerige behoeftetjies nie! Sy eer en nie my gerief nie! Stop die fokus op my gevoelens, my mislukkings en my suksesse. Raak ontslae van 'n sieklike selfbeheptheid en selfgesentreerdheid! Die vraag is : Wat bring eer aan die Koning, wat maak Hom bly? Wat is sy wil, sy opdragte? Die klem is nie meer op my as individu nie, maar die saak van die Koning, die welsyn van die kerk van Jesus, die groter prentjie… Hy is immers die Koning van die konings en die Here van die here! (15) Vergeet bietjie van jouself en doen wat jy moet doen! En weet jy wat? Juis hierin lê ons vreugde! 

Kinders van God, wat vrygespreek en vergewe is, wat die Heilige Gees ontvang het, is nie meer slagoffers nie, maar soldate! 

Ons is geloofstryders! As ons ons geloof bely dan is dit ‘n openlike toetrede tot die weermag van Jesus, onderwerping aan sy gesag, ‘n bereidverklaring om die stryd tot die einde te stry onder sy bevel! My vriend in Jesus, STRY DIE GOEIE STRYD! 

*Die NAB vertaal dit effens anders, maar die nuutste Afrikaanse vertaling, sluit weer aan by die OAV. “Stry die goeie stryd van die geloof!” (DLV) 

**Martyn Lloyd-Jones, Romans 6, p174

Saterdag 18 Augustus 2018

GEEN KORTPAD

- Vergeet maar van kitsoplossings en maklike resepte vir heiligmaking en geestelike volwassenheid!



Ons mos hou almal maar van kortpaaie en kitsoplossings. Skoolkinders wens hulle kon net hulle handboeke onder die kopkussing sit en siedaar! Gierige grootmense val na al die jare nog steeds vir gou-ryk-word skemas... Hierdie drang na kortpaaie kry mens ook by ons as Christene ten opsigte van ons geestelike lewens. Ons soek na kitsoplossings vir ons stryd teen sonde en onvolmaaktheid, ons soek na kitsantwoorde vir sukses in evangelisasie, ons soek na suksesresepte vir gebed en maklike wenresepte vir kerkgroei. En daarom gebeur dit so dikwels dat net soos gierige mense maklik gevang word deur kitsrykword skemas ons as Christene maklik kan val vir allerhande geestelike resepte en foefies wat maklike vinnige oplossings bied. Maar, helaas...die einde is groot teleurstellings, skade en verwarring. (Al die mense wat by ‘n spesiale diensreeks “omgeval" het, se lewens daarna getuig nie juis van die vrugte van die Gees nie...) Veral as iets gewerk het vir ’n ander persoon of ’n ander gemeente dan wil ons dit sommer ook net vinnig by ons toepas. God werk egter anders - Ja, Hy werk kragtig en radikaal - maar nie met eenvormige kitsoplossings nie. Ja, Hy gee sommige mense wonderlike ervarings wat binne ’n oomblik ’n reuse verskil maak, maar selfs ’n besondere keerpunt ervaring is slegs maar net ’n deel van die pad wat God met sy kinders stap. God stap ’n pad met elkeen van ons. God gaan geduldig op weg met sy kerk. Hy werk deur langsame prosesse. Dis ’n feit - daar is baie bewyse vir hierdie beginsel. Mense word nie onmiddellik na hulle bekering hemel toe oorgeplaas nie. Die baie Nuwe Testamentiese vermanings oor sonde en stryd wys dat dit “normaal” is vir ’n Christen om te stry teen sondes en om met probleme te kampe te hê. 


God se werkinge met sy volk in die Ou Testament is ’n verdere bewys dat Hy tyd en prosesse gebruik om sy doelwitte te bereik.

Die verlossing uit Egipte en die daaropvolgende woestyntog en verowering van Kanaän is uitstekende voorbeelde. Daar is immers duidelike parallelle tussen ons verlossing en die redding uit Egipte, tussen ons heiligmaking en die woestyntog ens.

Deuteronomium 8:1-5 is ‘n uitstekende voorbeeld van Ou-Testamentiese lering wat vir ons wonderlike insig gee in God se werking met ons op die pad van heiligmaking. 

1."Jy moet elke gebod wat ek jou vandag gee, gehoorsaam en daarvolgens lewe. Dan sal jy bly lewe, baie word, die land ingaan en dit in besit neem soos die Here met ‘n eed aan jou voorvaders beloof het.

2."Jy moet onthou hoe die Here jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het. Hy het dit gedoen om jou nederig te laat word en om jou op die proef te stel sodat Hy kan weet wat jy dink en of jy sy gebooie sal gehoorsaam of nie.

3. Hy het jou laat swaarkry, laat honger ly en toe met manna gevoed, iets waarmee nóg jy nóg jou voorvaders bekend was. Hy het dit gedoen om jou te leer dat ‘n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom.

4. Jou klere het in die veertig jaar nie verslyt nie, en jou voete het nie geswel nie.

5. Jy moet diep in jou hart weet: soos ‘n man dissipline by sy seun kweek, so het die Here jou God vir jou dissipline geleer.

Moses is hier aan die woord. Hy spreek die volk toe in die woestynvlakte oos van die Jordaan.* Die oos Jordaangebied is nou reeds verower en nou moes hulle nog die Jordaan oorsteek om Kanaän te verower. In die eerste gedeelte van Deuteronomium gaan Moses se preke oor dit wat God gedoen het en nog sal doen. Spesifiek in hfst. 7-11 gaan dit oor lesse wat tydens die woestyntog geleer is. Die volk Israel het 40 jaar lank in die woestyn rondgeswerf. Dit kom rofweg daarop neer dat Israel veertig jaar geneem het om ’n tog te voltooi wat eintlik maar 11 dae sou kon duur.** Die rede vir die rondswerf was hulle ongeloof en ongehoorsaamheid.....(behalwe natuurlik in die geval van Josua en Kaleb) Hier in 8:2-5 kry ons ’n opsomming van dit wat die Here vir hulle geleer het gedurende die lief en leed van veertig jaar:

1) God het hierdie pad gebruik om vir hulle nederigheid (2) te leer. (OAV - verootmoediging). Israel se hoogmoed en trots moes afgebreek word. Hulle moes leer dat hulle niks sonder God is of kan nie. (Vgl. 1:41-46)***   As kinders van God moet ons ons plek voor Hom ken - in nederigheid en gebrokenheid. Christene het gedurig nodig om dit te leer - ons het dit nie sommer vanself nie. Ons vroomheid is dikwels deurspek met hoogmoed en ’n hoe dunk van onsself. “Ek is gered en nou gaan ek die wêreld omkeer.” Ons moet onthou - God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. God gebruik baie metodes om ons nederigheid te leer, selfs ons sonde, mislukkings en foute. Die selfversekerde Petrus moes eers deur ‘n baie diep mislukking en teleurstelling gaan. Hy kan ook ander ellende en beproewinge gebruik. Soos die doring in die vlees” in Paulus se geval... Kind van God - God gaan vir my en jou nederigheid leer al kos dit wat! Ja, ons kry die opdrag om onsself te verneder onder sy hand, maar ons gehoorsaam dit nie juis dikwels nie en daarom gebruik Hy die toetse en beproewings op die harde “woestyn pad” van die geloof.

2) In tye van swaarkry en moeilikhede, en teleurstellings word, is Israel se gehoorsaamheid getoets.(2b) Ons werklike gesindheid teenoor God se wet en wil word geopenbaar as ons onder druk kom. Ons weet ons moet geduld hê as een van die vrugte van die Heilige Gees. Maar hoe sal ek ooit weet of ek geduldig is voordat ek vir ure in ’n ry moet staan en wag om dan nog verder te wag terwyl ‘n onbeholpe amptenaar ongewillig of onbevoeg is om my vinnig te help? God verwag vriendelikheid. Om tussen vriendelike mense se vertoef sal nooit ’n toets wees of ek vriendelikheid het nie - daarom het die Here jou dalk in ’n kantoor vol onvriendelike mense geplaas. Die groot eis van die wet is liefde - om te weet of daar liefde in jou hart is plaas die Here jou in ’n huis saam met ’n moeilike eggenoot of kinders. Op die moeilike woestynpad van die geloof word ons gelouter, word die verborge sondige geneigdheid van ons harte aan die lig gebring en ons gehoorsaamheid word deeglik getoets.

3) Tydens die woestyntog moes Israel afhanklikheid van en vertroue op God en sy beloftes te leer ken. (3) God het vir sy volk in ’n woestyn gesorg. Gevoed en geklee en beskerm. In ’n woestyn waar daar nie kos is nie het Hy vir hulle kos gegee. Hy het hulle van brood voorsien en van vleis voorsien. (Vgl. 2:7) Geloof in God en afhanklikheid van God is iets wat ons nie in boeke kan leer nie. Geloof in die lewende God word net deel van ons in die harde woestyn wêreld van krisisse, finansiële nood, die magteloosheid van ’n siekbed... Die ware aard van ons geloof kom aan die lig - is dit net mooi woorde en fyn uitgewerkte teorie? In die woestyn omstandighede waar mense nie meer kan help nie word ons gedwing om ons ten volle op God en sy beloftes te verlaat. “Niemand kan nou iets meer doen nie, Here net U alleen.” Ons moet ook leer dat alles eintlik om God self gaan, sy Woord en sy karakter en nie dit wat Hy vir ons gee nie! Hy is baie meer wonderlik en heerlik as dit wat HY vir ons gee. Ons moet Hom aanbid vir wie Hy is!

4) Israel is in die woestyn onderwerp aan onderrig en dissipline. (5) die woestyntog was ’n leerskool van vaderlike dissipline. Die lewe wat God van hulle verwag moes ingeoefen word. Hulle moes op die harde manier leer om sy wet te gehoorsaam en sy wil te doen. Op die harde manier moes hulle die gevolge van ongehoorsaamheid leer ken - dink maar aan die verhaal van die giftige slange. Hulle moes leer om God se opdragte ernstig op te neem, want hulle sou dit baie nodig kry in die verowering van Kanaän. As kinders van God moet ons dikwels op die harde manier leer om sy Woord en wil te gehoorsaam. Het dit al gebeur dat jy ’n ding doen of na ’n plek gaan en jy beleef so ‘n vae onrus? Jy weet dis verkeerd, maar dan doen jy dit steeds. En wat gebeur dan dikwels? Dit loop dit uit op ’n groot mislukking, hartseer of selfs skade! Dan besef mens die Here het die hele tyd deur sy Gees met my gepraat, maar ek wou nie hoor nie. Nou moet ek voel. Dis nie lekker nie, maar dit sal my leer om volgende keer meer sensitief te wees vir sy stem.

Elke kind van God is in ’n proses van voorbereiding. 

Voorbereiding vir die beloofde land, voorbereiding tot diensbaarheid. Partykeer verloop baie jare voordat Hy jou vir ‘n groot lewenstaak gebruik of wanneer Hy dink HY het jou nou genoeg aan ‘n bepaalde les laat leer. Dink maar aan die geskiedenis van Moses, Paulus , Jesus...

Kom ons aanvaar met opgewondenheid dat Hy besig is met ons, met my, jou in die spesifieke krisisse wat ons dalk nou mag beleef. 

Kom ons onderwerp ons met blymoedigheid aan sy dissipline. 

Kom ons wees wakker om te verstaan, wat Hy vir ons wil leer en wat Hy in ons wil verander. 

Kom ons sien sy liefde in alles raak. Wat jy dalk NOU beleef is nie lekker nie, maar weet dit is ‘n Liefdevolle Vader wat besig is met opvoeding!

*“In hierdie boek word die woorde van Moses weergegee. Hy het al die Israeliete toegespreek in die woestynvlakte oos van die Jordaan, oorkant Suf, in die omgewing van Paran, Tofel, Laban, Gaserot en Di-Sahab.” (Deuteronomium 1:1)

**“Dit vat elf dae om met die Seïrbergpad van Horeb af by Kades-Barnea te kom.” (Deuteronomium 1:2)

*** Dit gaan hier oor die rampspoedige veldtog teen die Amoriete toe Israel teen hulle gaan veg het sonder dat die Here by hulle was! Israel moes die onderspit delf.


Oom Willie de Bruijne is die afgelope week oorlede... ook hy het 'n lang en harde pad gestap!

Maandag 08 Mei 2017

DSK : ‘n Nuwe wind van lering?



Moenie geflous word deur hierdie "fotostaatsiele" nie!

Eben Swart beweer dat jy as Christen dalk ‘n kopie van Agab, Herodes of Hitler (of selfs ‘n lewende persoon) se siel in jou binneste kan huisves…natuurlik met nare gevolge. Hierdie kopie laat jou immers dink en doen soos wat jy nie regtig wil dink en doen nie. Dis ‘n taamlik nuutontdekte verskynsel in die beradingswêreld bekend onder die term DSCs (Demonic Soul Copies). Afrikaans : DSK's. Hoe gebeur dit dat mens blootgestel kan word aan hierdie besmetting van DSCs? Dis die bekende lys wat Eben aanbied : sogenaamde bloedlynsondes, sonde (veral seksuele en okkultiese sonde), onheilige sielsbande (onheilige emosionele bande) en fisiese, emosionele en geestelike trauma. (Indien ons eerlik is, beteken dit dat ons min of meer almal potensiële slagoffers is van hierdie duiwelse truuk!)

Donderdag 14 Januarie 2016

OFFER JOUSELF!

NIE ‘N LYSIE NIE, MAAR ‘N LEWENSRIGTING! 



[Die raad wat jy nie by jou “lifecoach” gaan hoor nie...]

Gelukkig lees ons nêrens in die Bybel dat ons ‘n lysie van nuwejaarsvoornemens moet opstel nie. Ons kry wel in die Skrif ‘n baie duidelike , maar radikale koersaanduiding vir die kind van God. Nie net vir die nuwe jaar nie, maar vir ons hele lewe. Dit kom neer op : OFFER JOUSELF!

Ons vind hierdie dringende opdrag in ROMEINE 12:1,2

"En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is."

Sjoe! Offer is nou nie juis ‘n term wat ons met ons lewensideale in verband bring nie.  "Offer jouself" is nie een van die temas van al hierdie motiveringsprekers en “lifecoaches” nie, maar dis die Bybelse ideaal en doelwit vir God se kinders. Om geoffer te word is nie juis ‘n lekker ding nie. Dink aan wat met ‘n offer dier gebeur – vasgebind op ’n altaar, keel afgesny en verbrand. Dis niks minder nie as ‘n volkome prysgawe van jouself...

VIR BEGENADIGDES

Radikaal, byna onwerklik. Amper absurd... Is dit regtig wat God van ons vra? Hoe moet ons dit verstaan? Vir die agtergrond van hierdie opdrag moet ons eers weer teruggaan na die eerste helfte van die Romeine brief wat eindig aan die einde van hoofstuk 11. Julle sal onthou hoe ons verlede keer besin het oor die doksologie in vers 33-36. (Kliek op DOKSOLOGIE) Paulus bars uit in verwondering en aanbidding voor God. Waarom? Hy word oorweldig deur die verbysterende, asemrowende, verstommende genade en wysheid van God wat hy beskryf het in die eerste deel van sy brief. Wat behels dit alles? God skenk vir ons in Jesus Christus volledige vryspraak uit genade, vrede met God, kindskap, ‘n ewige erfenis saam met Jesus. Hy gee verder die heerlike belofte van sy standhoudende liefde. (niks kan ons van hierdie liefde skei nie) Dis alles onverdiende guns en genade! Dis onbeskryflik en onbegryplik heerlik!

Die opdrag om jouself te offer maak net sin teen hierdie dramatiese agtergrondsfeit van die genade van God. Anders gesê, hierdie opdrag kom eksklusief net na mense wat God se genade reeds gesmaak het...en dus saam met Paulus wil uitjubel oor God se guns en goedheid! (Onthou hierdie dringende beroep geskied op grond van die groot ontferming van God.) In effek sê Paulus, omdat dit als waar is, is daar net een redelike reaksie, net een soort sinvolle godsdiens : GEE JOUSELF AS OFFER AAN GOD! Hier het ons die ideaal en ambisie van die begenadigdes!

HOE OFFER EK MYSELF?

Wat behels hierdie offer van jouself prakties? Dit gaan oor die beskikbaar stelling, eenkant sit en toewyding van jou hele menswees aan God. Letterlik staan die woord “liggaam” in die Griekse teks.* Toewyding is nie net ‘n geestelike saak nie, dit gaan oor konkreet prakties anders leef en anders doen. Paulus het eintlik reeds hierdie saak in Rom 6:13 aangeroer. “Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ‘n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil.”

In vers 2 word dit nou vir ons prakties verder ingevul wat dit beteken om jouself volkome aan God te offer of dan nou toe te wy. Dit word eers negatief en dan positief gestel.

Negatief. “moenie aan hierdie sondige wêreld gelykvormig word nie” Wees anders en doen anders! Breek met die gedragspatrone, die gewoontes, die leefstyl van die sondige sosiale en kulturele sisteem waarin julle julleself bevind. Die wêreld rondom ons het ‘n siening oor geld, oor mag , oor populariteit (in wees), oor sukses, oor seksualiteit, oor sekuriteit, oor vergelding... wat teen God se Woord en opdragte indruis. Die wêreld se siening is (en dit word in elke fliek wat jy kyk en byna elke liedjie wat jy luister gepropageer...) kry soveel geld as moontlik, probeer by almal in en gewild wees, jaag na sukses soos die glanstydskrifte vir ons voorskryf en die glansganse dit projekteer, leef losbandig met selfsugtige seksuele genot as hoogste ideaal, bou jou eie sekuriteit met geld, mag en invloed, kry almal terug wat jou leed aandoen en trap hulle in die grond in...

Ons wat genade ontvang het moet teen hierdie sienings en leefstyl kies. Ons moet daarmee breek. Dis ‘n baie ernstige saak, as ons kyk wat die apostel Johannes hieroor gesê het. “Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie Die wêreldse dinge -alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit - kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.” (1 Johannes 2:15-17) Die wêreld se sienings maak elke dag ‘n appèl op ons, dit nooi ons en roep ons om deel te wees, maar dis waar die offer van jouself inkom, breek daarmee, kies daarteen, dink en doen anders...

DIE WIL VAN GOD IS DIE NORM EN NIE DIE MODES EN OPINIES VAN DIE SAMELEWING NIE!

Positief. “laat God julle verander deur julle denke te vernuwe” Hier sien ons pragtig wat praktiese heiligmaking in ‘n Christen se lewe behels. Dis ‘n voortdurende proses van denkverandering. Ons doen mos soos ons dink, elke daad het sy oorsprong in 'n gedagte. Om anders as die wêreld te doen, moet ons leer om anders te dink... Ons breine moet herbedraad ("ge-rewire") word! Die ou sondige patrone moet afgeleer word en die nuwe Bybelse patroon aangeleer word!

Hier word nie ‘n eenmalige “second blessing” ** of krisiservaring voorgeskryf nie, maar God se kinders word eerder opgeroep tot ’n proses van konstante denkvernuwing en transformasie. Hierdie transformasie word in 2 Kor. 3:18b so beskryf... “...Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word." Dit gaan daaroor dat ons prakties in elke lewenssituasie en keuse ons sal onderwerp aan God se wil. Die wil van God en nie die modes of opinies van die wêreld nie, moet ons lewens reguleer. Die wil van God is nie ‘n geheim nie, ons hoef nie te wag vir ‘n stem of engel nie, dis wat God in sy Woord leer. Die kind van God onderwerp homself aan ‘n voortdurende leerproses om volmaak gehoorsaam te wees aan die Here. So ‘n kind van God het ‘n honger na die Woord, so ‘n kind van God het ‘n opregte begeerte om te verander en die Here te gehoorsaam, al kos dit wat... Ja, gehoorsaamheid aan God se wil en opdragte kan selfs fisies ons lewe kos hier op aarde.

Is jy ‘n begenadigde? Het jy besef dat jy ‘n rebel en verlore sondaar was, maar dat God jou heeltemal vergewe het en as sy kind aangeneem het? Dan is daar net een logiese reaksie van dankbaarheid... Juig oor die genade en gee jouself as ‘n lewende heilige offer aan God. Dis die verpligting waaronder ons as begenadigdes staan, maar dis veral ons vreugdevolle voorreg...***

Sterkte vir die offer in 2016!


*Moontlik beklemtoon hy dit omdat die Grieke die liggaam as minder belangrik beskou het en mense die gevolgtrekking gemaak het dat wat jy met jou liggaam doen, nie juis belangrik is nie. Die OAV lees as volg : ” Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.


** “It is not the beggarly notion of second blessing that the apostle propounds but that of constant renewal, of metamorphosis in the seat of consciousness.” John Murray se kommentaar op Romeine, p114

*** Dis ook die voorwaarde vir "sukses" in Koninkryksterme. Sien Johannes 12:24,25!



[Die graf van Martin Rautanen en drie van sy kinders. Hierdie Finse pioniersendeling in Owamboland het die konsep van "offer jouself"  verstaan en prakties uitgeleef! Hierdie radikale gehoorsaamheid het egter tot heerlike vrug en ewigheidsvreugde gelei...]

Vrydag 13 Maart 2015

HEEL WORD IN GOD SE HUISGESIN

- waar die genade van God ons verander en herstel.

Ons bly in ‘n stukkende wêreld met stukkende mense. Die plek waar hierdie gebrokenheid die duidelikste gesien word is binne huwelike en huisgesinne. Tussen man en vrou, ouers en kinders.... Reg van die begin af kon die verwoestingswerk van sonde die duidelikste in mensverhoudinge binne gesins en familieverband gesien word. Die heel eerste gesin beleef ‘n broedermoord! Kain slaan sy broer Abel dood. Noag gaan hom te buite aan drank en sy eie seun Gam spot met hom en bring ‘n vloek oor sy nageslag. In Abram se gesin ontstaan ‘n konflik tussen die twee seuns Ismael en Isak wat nou nog voortduur. Onder Isak se seuns gaan dit nog erger. Jakob bedrieg sy tweelingbroer Esau. Byna is daar nog ‘n moord. Die stukkendheid word voortgesit onder Jakob se eie seuns. Josef word voorgetrek en sy broers haat hom so dat hulle hom wou doodmaak, maar uiteindelik as slaaf verkoop. Van die een geslag na die volgende is daar ‘n patroon van leuens, voortrekkery, en broederkonflik voortgedra. Verder aan in die geskiedenis is Dawid se gesin en nageslag ‘n goeie voorbeeld van stukkende verhoudings. Dit begin met sy owerspel met Batseba en die moord om dit te probeer toesmeer. Die gevolge is onder andere bloedskande, broedermoord, opstand en baie ander ellendes... 


Hierdie stukkendheid raak ons almal, maar word oor die algemeen baie goed weggesteek. Dis grootliks onsigbaar. Soos ‘n ysberg. Ons sien op die oppervlakte net almal se mooi en goeie kant. Vriendelike gesigte, kerkklere, mooi maniere en korrekte antwoorde... Maar binne in huise en huwelike is daar groot smart en ellende. Agter geslote deure bloei ons... Die grootste skok is dat hierdie dinge gebeur in die huise van mense wat Christene is. Nie net naamchristene nie, maar mense wat werklik kan getuig, dat hulle die Here as Verlosser leer ken het, maar ‘n klomp van hierdie dinge het oorgebly in ons lewens...

JOU OUERHUIS BLY BY JOU

Die grootste invloed op ‘n mens kom uit die gesin waarin jy grootgeword het. Dit het ‘n effek op mens ook al het jy ‘n Christen geword. (dit beteken nooit ek mag my ouers dieskuld gee vir my sonde nie, maar dat hulle foute en gebreke 'n invloed op my hat is onontkenbaar)

Sommer net ‘n paar voorbeelde of ‘n paar vrae om oor te dink: Was daar voortrekkery en onregverdigheid in die huis waarin ek grootgeword het? Was daar traumatiese gebeure of skandes soos ‘n egskeiding, bankrotskap, aborsie, alkoholisme, molestering, buite egtelike verhoudings, gesinsgeweld? Hoe is dit hanteer? Is dit maar net altyd weggesteek? Dit het ‘n effek op wie jy vandag is, al is jy miskien nie eers bewus daarvan nie. Hoe is sukses en prestasie gedefinieer in jou ouerhuis? Was dit in terme van geld? (Kyk hoe gelukkig is daardie mense want hulle bly in so 'n huis of ry so 'n kar...") Sport? Akademiese prestasie? (Jy is net belangrik in so verre jy presteer) Hoe was die kommunikasie in jou ouerhuis? Is probleme maar net toegesmeer of is dit uitgepraat? Die antwoorde op hierdie vrae raak jou... ook nou miskien na baie jare.

[Die ooglopende fanatieke ywer van sommige ouers dat hulle kinders op sport of akademiese gebied moet presteer en gevolglik tot in die rooi gedruk word, kan dikwels aan hierdie invloede in hulle eie ouerhuise toegeskryf word.]

Dis duidelik, ons ouers en huisgesinne waarin ons grootgeword het, het ‘n blywende invloed op elkeen van ons. Hulle het baie goeie dinge gedoen, maar almal het ook baie foute gemaak wat tot vandag toe nog ‘n invloed op ons het. Stukkende gevolge. As ons nie heel word nie, word dieselfde sondige patrone en ellendes net weer so aan die volgende geslag oorgedra en dit word al erger...

Nou wat nou, is daar hoop, kan ons heel word? 

NUWE GESIN

Ja, vir God se kinders is daar hoop, want ons word in ‘n nuwe huisgesin opgeneem. Dis die dramatiese en gewigtige implikasie van Jesus se woorde in MARKUS 3:30-35. Hoor wat sê Hy : “Hy het die mense aangekyk wat in ‘n kring om Hom sit en gesê: "Hier is my moeder en my broers! Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder." (34,35) As ek wedergebore word, kind van God word, dan word ek deel van ‘n nuwe gesin, ‘n nuwe familie. Ja, 'n nuwe begin...  Hierdie familie is ‘n nuwe skepping van God. Hierdie nuwe familie is baie belangrik, dit het prioriteit selfs bo my aardse familie. Dis duidelik wat Jesus impliseer. Die gemeente van Jesus is die huisgesin van God, dis ons nuwe naaste familie! ( Vergelyk 1 Timoteus 3:15)

En dis binne hierdie familie waar die Here ons wil heelmaak. Ons het almal letsels vanuit ons ouerhuise en opvoeding, maar binne in die gemeente as familie van God word ons nou as’t ware heropgevoed. Scazzero praat van “reparenting”.* Dit maak nie saak wat my agtergrond is nie, die kind van God kan heropgevoed word. Hoe gebeur dit? As ons eerlik na onsself kyk in die Woord en saam met ander gelowiges die Woord begin gehoorsaam - dan verander ons en word heel. (eerlikheid is ‘n kernvereiste!!) As ons erns maak met die Bybel (kliek op BLY BY DIE BYBEL ), dan word ons geleer om ou sondige patrone af te lê en te oorwin en nuwe lewenspatrone aan te leer. (Gaan lees gerus Kolossense 3 om te sien wat ons moet los en wat ons moet aanlaar...) So word ons geleidelik verander, so word ons gehoorsaam aan God, so word ons heropgevoed, so word ons heel! Sonde letsels word heel, sondige denkpatrone word verander, sondige gewoontes word oorwin, stukkende verhoudings word herstel... Die Bybel se benaming vir hierdie proses is heiligmaking. Hierdie proses is natuurlik persoonlik, maar dit vind ook juis plaas binne die konteks van my nuwe geestelike familie! Hulle bedien my met die Woord, hulle is geduldig met my, hulle help my op, hulle wys my foute uit met die gesindheid van Jesus, want almal wat deel is van Jesus se familie is maar te bewus van hulle eie geestelike gebrokenheid! Dit kan mos nie anders nie...

Daar is duidelike fasette van Christenskap wat ons moet onderskei:

Vryspraak – volle vergifnis van al my sonde. Niks van my hele verlede word meer teen my gehou nie. Ek staan sonder skuld voor God.

Heiligmaking – die daaglikse proses van verandering volgens God se wil, van heel word in al ons verhoudings.

Moenie moed verloor oor die stukkendheid in jou eie lewe nie!  Laat ons ook geduldig wees met mekaar, want ons almal is deur die sonde geskend! Jesus het juis gekom om heel te maak, wat Satan gebreek het. Hy doen dit deur vryspraak en heiligmaking. Hy doen dit deur Sy Woord en Sy Gees! Hy doen dit binne die huisgesin van God, die gemeente. Hy doen dit sodat ons ‘n lewe kan leef wat God sal eer!

*Scazzero, The Emotionally Healthy Church

Vrydag 14 November 2014

STOP DAARMEE!

- REGUIT RAAD VIR ELKEEN WAT SUKKEL MET SONDE.  

“Ek sukkel met sonde. My sonde maak my moedeloos! Ek voer 'n jarelange stryd teen...” Dis die versugting van baie kinders van God. Die kind van God het inderdaad ‘n stryd teen sonde. Dit weet ons almal uit eie ondervinding en die Bybel praat ook baie daarvan. Die vraag is net, is daar raad vir hierdie stryd, is daar oorwinning? Of moet ons soos baie mense skuil agter die verskoning van “ons is maar net swakke mense”? 

Die Apostel Paulus gee baie duidelike reguit raad oor die stryd teen sonde onder andere in Efesiërs 4:17-5:5. (Maak gerus jou Bybel daar oop) Of anders gestel, hy verskaf duidelike opdragte oor die proses van heiligmaking. Voor ons daarna kyk moet ons net eers seker maak met wie hy hier praat. Hy praat nie met alle mense nie, maar met mense wat reeds kinders van God is. Wedergeborenes! “Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg.” (5:1) Ja, hulle was heidene, maar is mense wat nou Christus leer ken het. “Maar dit is nie hoe julle Christus leer ken het nie. Julle het tog van Hom gehoor, en omdat julle sy volgelinge is, is julle onderrig volgens die waarheid wat in Jesus is.” (4:20,21) Die oplossing wat Paulus hier gee vir die probleem van sonde is dus ‘n oplossing wat bedoel is slegs vir mense wat reeds aan Jesus Christus behoort. (As jy nog buite Jesus staan, ‘n onbekeerde is sal dit jou niks help nie. Dan woon die Gees nog nie in jou nie en is jy magteloos teen sonde en ‘n slaaf daarvan. Dan is die enigste raad bekeer jou en glo in die Here Jesus!)

SKYNOPLOSSINGS

Voor ons by die Bybelse raad van Paulus kom wil ek net twee valse sienings van heiligmaking uitwys wat baie verwarring en ellende onder opregte Christene veroorsaak :

1.Sommige sien heiligmaking as ‘n eenmalige bonatuurlike ervaring.* Net soos regverdiging/vryspraak, inderdaad ‘n eenmalige gebeurtenis is beskou hulle heiligmaking as een daad of belewenis. In ‘n krisisoomblik ontvang ek dan heiligmaking en betree ‘n “dieper lewe.” Dis egter baie duidelik uit hele Nuwe Testament – heiligmaking is ‘n voortdurende proses. Dit gaan oor die voortdurende doodmaak en uitroei van sonde! (Vgl. Romeine 8:13,)

2.Sommige sien heiligmaking as iets passief – dit word soms verwoord in die uitdrukking : “Let go and let God” Jy hoef niks te doen nie, laat net toe dat Jesus deur jou leef en besluite neem. Soos die passiewe mistisisme wat verkondig is deur (kliek op) Hannah Whitall Smith en deel was van die Keswick Teologie. Hierdie lering druis direk teen die Skrif in wat sê : “werp alles in die stryd...” (2 Petrus 1:5ev; Filippense 2:12) Die Bybelse lering is dat die kind van God, ‘n mens is wat nou die Heilige Gees binne in hom het. Die Heilige Gees maak ons nie passief nie, maar gee ons die krag waarmee ons teen versoekings, sonde en satan kan baklei!

[Baie aanhangers van bogenoemde teorieë is uiters opregte Christene wat smag na ‘n heilige lewe. Hulle kom bykans by elke heiligheidskonferensie na vore vir ‘n “oorgawe”, omdat hulle nie die Bybelse lering oor heiligmaking verstaan nie. Ander word moedeloos van “wag” op een of ander bonatuurlike ervaring wat hulle in ‘n baan van geestelike oorwinning sal inslinger...]

NIE BID NIE, MAAR : STOP! STOP! STOP!

Nou watse raad het Paulus vir Christene wat sukkel met sonde? Baie prakties, kort en kragtig : HOU OP! STOP! “Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.” (4:22-24) Nie, "gaan bid daaroor" nie, net - Stop daarmee! Geen lang verduidelikings nie. Paulus gee ook geen simpatie nie, maar ‘n opdrag! (So baie mense wil raad hê oor geestelike probleme, maar wat hulle eintlik soek is simpatie. Hulle wil graag hoor hulle sonde is nie so erg nie, of nie hulle eie skuld nie, maar die sameloop van omstandighede. As hulle dit nie kry nie, word hulle sommer kwaad vir die kerk...) Paulus sê eenvoudig : Stop met die verkeerde dinge en vervang dit met die regte dinge. Lê die ou mens af en beklee julle met die nuwe mens! (OAV) Om ‘n paar praktiese voorbeelde te noem : Stop met steel en begin werk. (4:28) Stop met vuil praatjies en sê eerder dinge wat mense kan opbou.(4:29) Stop met bitterheid en woede en vergewe mekaar. (4:31,32)

Begin eenvoudig om as Christen, wat reeds vergewe is, wat reeds Jesus se liefde ondervind het, die opdragte van God in die Nuwe Testament te gehoorsaam. “Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ‘n offergawe gegee het, ja, ‘n offer wat vir God aanneemlik was.” (5:2) Jy het geen verskoning om meer soos ‘n heiden in onsedelikheid, gierigheid, vuil praatjies en dergelike dinge voort te ploeter nie! Jy moet hoegenaamd niks meer daarmee te doen hê nie! (Kan jy nog ongestoord na jou immorele sepies kyk? Kan jy in ‘n saambly verhouding voortleef? Onmoontlik!)

KAN NIE OF WIL NIE?

Jy sê : “Ek kan nie. Dis juis my probleem. Ek is maar net ‘n mens. ” Is dit regtig waar of is dit dalk eerder : “Ek wil nie?” Waarom stop ons nie met dit wat God duidelik nie van hou nie? Ons besef nie die erns van die saak nie! Ons hou maar aan met ‘n bepaalde sonde, want ons besef nie die skrikwekkende konsekwensies nie!

Wat is die vreeslike gevolge van voortleef in sonde? Paulus noem twee dinge:

Jy bedroef die Heilige Gees! “En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag.” (4:30) Dis iets vreesliks! Die Gees van God wat in jou woon word hartseer. Hy word hartseer omdat Hy in ‘n verhouding met jou staan. “Bedroef “ veronderstel ‘n innige verhouding. Ek bedroef nie ‘n polisieman as ek die wet oortree nie, maar ek bedroef wel my ouers of vrou as ek teen hulle oortree, want ons staan in ‘n verhouding! As ek die Heilige Gees wat in my woon bedroef is, kan ek geen vreugde beleef nie en ook geen sekerheid en troos nie, want dis juis Hy wat hierdie dinge aan ons skenk.

Paulus gaan nog verder om die erns van sonde te onderstreep. “Dít moet julle goed besef: iemand wat ontug pleeg, onsedelik lewe of ‘n gierigaard is—want gierigheid is afgodery—het nie deel aan die koninkryk van Christus en van God nie.” (5:5) Christenskap en immoraliteit is twee uiterste teenoorgesteldes! As jy aanhou met hierdie dinge, mislei jy jouself om te dink dat jy deel gaan wees van die koninkryk van God. Laat ons nie oor hierdie waarskuwing rasionaliseer nie. Kom ons luister maar net, dis God se Woord!

Kind van God, jy moet stop met dit wat verkeerd is, want sonde het skrikwekkende konsekwensies. Kind van God, jy kan stop met wat verkeerd is, want die Heilige Gees van God woon in jou.

En as ek dan wel nou weer geval het? Staan dadelik op en haas jou na jou Middelaar! 'n Christen is mos juis iemand wat in Jesus 'n onfeilbare Hoëpriester en Middelaar het! (Hebreërs 4:14-16)

*Dit kan nie ontken word dat sommige Christene na ‘n spesifieke ondervinding of ervaring, nuwe krag en oorwinning in hulle geestelike lewens vertoon nie. Wat waarskynlik gebeur het was dat so ‘n persoon nie nou eers heiligmaking ontvang het nie, maar wel insig in sekere waarhede gekry het, wat ‘n groot sprong in sy geestelike groei tot gevolg gehad het. 'n Groot stuk vordering word natuurlik ook gemaak as ek uiteindelik met 'n bepaalde sonde breek. Sulke ervarings vanuit mense se getuienis, kan egter nie as bewys aangevoer word vir ‘n “second blessing” teologie wat vryspraak en heiligmaking as twee afsonderlike losstaande fases in ‘n Christen se lewe verkondig nie. (Sien hieroor Martyn Lloyd-Jones se “Life in the Spirit”, spesifiek p386ev.)


Niks gebeur sonder moeite nie. (Kavango rivier by Rundu)

Vrydag 10 Januarie 2014

BEPLAN 2014

- hoe hoog is heiligmaking op jou agenda?

Nie almal het spesifieke nuwejaarsvoornemens nie, maar daar is darem seker by almal van ons verwagtinge oor die nuwe jaar en ‘n mate van beplanning. Daar is sekere dinge wat ons graag wil doen of weet dat dit gedoen moet word. Daar is dinge waarna ons uitsien of wat ons graag wil aanpak. Daar is gebeure waarop ons ons voorberei... soos 'n nuwe skool of nuwe besigheid, soos ‘n kind wat moet gaan studeer of wil gaan trou... Jou beplanning en jou dagboek, jou agenda of jou program, jou verwagtinge sê baie van wie jy regtig is... ‘n Sportman het ‘n oefenprogram en al sy groot byeenkomste word ook vooraf gemerk in sy dagboek sodat hy gereed kan wees. ‘n Besigheidsman teken sy afsprake aan... ens. Nou hoe sal 'n Christen se beplanning daar uitsien?

Vrydag 11 Oktober 2013

DIE "SWAK" CHRISTEN

- hoor die verrassende waarheid met betrekking tot elke kind van God!

Twee bevelvoerders praat elk met hulle troepe. Hulle het twee heeltemal verskillende benaderings... 


Vrydag 03 Augustus 2012

GERAAMTES WAT RAAS

- maak ‘n Christen se verkeerde verlede nog saak?  

Maak my verlede nog saak? Daardie gruwelike geraamtes in die kas? Spesifiek nou, as ek ’n kind van God geword het, moet ek nog nadink oor my verlede, moet ek al die sondes en mislukkings onthou, moet ek daarmee rekening hou? Elkeen van ons het ’n donker verlede! Ja, ja, elkeen... ons is mos in sonde gebore en ons het almal aktief sonde gedoen. Ons het oortree teenoor God en teenoor ons medemens! Ons het almal dinge gedink, gesê en gedoen waaroor ons (as ons kinders van God geword het) nog steeds skaam is! Deur ons sondige besluite het ons dikwels onherroeplike  skade aangerig aan onsself en aan ander. En ja, ander se sonde het ook weer letsels op ons gelaat.

Ek vra hierdie vraag spesifiek as kind van God : Maak my verlede nog saak as ek ’n  vrygespreekte kind van God geword het? Die antwoord is NEE, maar die antwoord is ook JA! Dis baie belangrik vir elkeen se geestelike gesondheid en vreugde om te verstaan waarom die antwoord NEE is, maar dis net so belangrik om ook te verstaan waarom die antwoord, JA is!

Kom ons kyk na die perspektief wat twee gedeeltes uit die Hebreërs brief vir ons gee:

~ Eerstens die NEE antwoord. Maak die kind van God se verlede saak? Die antwoord is NEE. Hoekom nie? Hier in Hebreërs  8 word die heerlike implikasies van die Nuwe Verbond verduidelik en vers 12 stel dit baie duidelik oor hoe God  oor ons sondige verlede voel.

 “Oor hulle ongeregtighede sal ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie.”

 Geliefde, verstaan dit mooi : As jy jou vertroue as sondaar op Jesus gestel het, as jy nie meer staatmaak op jou eie prestasies nie, maar op Jesus se offer aan die kruis, dan sê God vir jou dat Hy nooit meer aan jou sondes dink nie. Dis die gevolg van die vryspraak wat ons ontvang as ons Jesus aanvaar as Verlosser en Middelaar - ons sonde, ja ook al die aakligste sondes en gruwelikste mislukkings van die verlede word glad nie, hoegenaamd nie, meer teen ons gehou nie! GOD DINK NIE EERS MEER DAARAAN NIE! Ons oortredings bestaan nie meer in God se boeke nie! Dis uitgewis vir eens en altyd! Al die beskuldigings teen ons is eintlik alreeds by die kruis vernietig! (Kol 2:14) Daarom kan Paulus so duidelik verklaar in Rom 8:1 : “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie!” As jy in Jesus is, sien God  jou as ’n volmaakte skuldlose  mens! Ek hoef dus nie meer skuldig of minderwaardig te voel nie!

So : Maak die kind van God se verlede nog saak, moet ek nog daaroor tob en bekommerd wees? Wat betref ons nuwe status voor God, is die antwoord ’n baie duidelike NEE!

~ Maar nou die JA antwoord. In Hebreërs  12:1-3 is dit baie duidelik dat die Christelike lewe met ’n wedloop vergelyk word.   Dit gaan dus hier oor mense wat reeds vergewe en reeds vrygespreek word. Maar nou word hierdie Christene (en ons) sterk aangemoedig om al die "laste en sonde wat ons so maklik verstrik" en ons wedloop belemmer, af te gooi! Hoor nou mooi : Ja, God dink nie eers meer aan ons sonde nie, Hy hou dit glad nie meer teen ons nie, maar in ons elke dag se Christelike lewe is dit nodig dat ons sekere oorblyfsels van ons sondige verlede moet afgooi sodat ons die Christelike wedloop met sukses kan voltooi! Ons sondige verlede, agtergrond en neigings is ‘n belemmering vir ons geestelike wedloop.
In hierdie opsig is dit duidelik dat ons sondige verlede wel saakmaak en dat ons beslis daarmee moet rekening hou!

Die punt is : Daar is oorblyfsels van ons sondige verlede, daar is gevolge van ons sondige natuur en agtergrond, wat nog steeds ’n effek op ons het! 

Ons moet dit weet en ons moet iets daaraan doen! Ons sondige agtergrond, ons ou sondige lewenspatrone beïnvloed steeds  ons daaglikse lewens as Christene in ons persoonlike lewe, in ons huweliks en gesinslewe, in ons verhoudinge by die werk en in die gemeente!          

 Kom ons raak prakties met enkele voorbeelde :

Ons het almal ’n onvolmaakte sondebevlekte opvoeding gehad (ja, ek weet by verre die meeste mense wat hier lees het ’n baie goeie Christelike opvoeding gehad, maar ons weet ook ons almal se ouers was ook net mense en het ernstige foute gemaak met ons opvoeding al het hulle dit nie bedoel nie.)   Jy het dalk selfsugtig grootgeword en altyd jou sin gekry... nou word jy ’n Christen en die Here het al daardie selfsug en al daardie  vloermoere vergewe! Maar weet jy wat, daardie selfsugtige neigings dra jy nou in jou huwelik in... nou verstaan jy nie : “Ek is dan ’n Christen en my vrou is ’n Christen, maar hoekom sukkel ons so, hoekom is daar soveel konflik?”  Dis dan wanneer jy moet besef : My verlede maak saak! Ek moet ernstig daaraan aandag gee en hierdie selfsugtige neigings uitroei met die krag van die Heilige Gees!

Dalk het jy grootgeword met ’n alkoholis pa wat altyd gelieg en bedrieg het of ander ongelukkige huislike omstandighede. So het daar ’n diepgewortelde wantroue teenoor ander mense in jou lewe ontstaan... Jy het intussen ’n kind van God geword, maar in jou agterkop dra jy nog hierdie wantroue rond en jy vertrou niemand nie, jy is oorkrities op ander mense. Hierdie wantroue het ’n effek op jou huweliksmaat, jou kinders, jou werksmense... Jy moet besef, jou verlede maak saak! Deur die Heilige Gees en dalk met behulp van Christen vriende sal jy moet leer om van hierdie kritiese gesindheid van wantroue ontslae te raak.

Moontlik is daar een of ander verslawing of hardnekkige gewoonte vanuit jou verlede... pornografie, nikotien, vloek, allerhande vrese... noem maar op. Toe jy ’n Christen geword het, het God jou op een oomblik als vergewe. Jou verlede maak nie meer saak nie, want God aanvaar jou volkome as sy kind! En tog maak jou verlede saak, want dit werk nie altyd so dat hierdie verslawings en gewoontes  onmiddellik gebreek word nie. (Anders sou sulke opdragte soos hier in Hebr 12 mos nie nodig gewees het nie) Dis waar baie Christene die fout maak en in ontkenning leef : “Ag, ek is nou God se kind en als is wonderlik!”  Maar dis nie waar nie! Daar is nog laste en sondes wat ek moet aflê! Deur die kragtige werking van die Heilige Gees, deur gebed, deur die Woord, deur die hulp van ander Christene moet ek ontslae raak van hierdie verslawings en ou patrone uit die verlede. In hierdie opsig maak my verlede saak en moet ek dit hanteer!

Miskien is jy deur die hartseer van egskeiding, dalk het jy weer getrou. God het jou al jou sondes op hierdie terrein vergewe, maar in jou daaglikse wandel met Hom en ander mense sal jy moet rekening hou met die gevolge van hierdie verlede. Om byvoorbeeld in ‘n hersaamgestelde gesin te leef, met ontwrigte kinders wat seergekry het is nie so eenvoudig nie en verg baie geduld, gebed, aanpassing en volharding. Jy gaan dalk ook die hulp nodig hê van ervare en kundige medegelowiges om jou te begelei. Dis normaal. Moenie skaam wees daaroor nie. Vertrou bo alles die Heilige Gees om jou te help om aanpassings te maak en verdraagsaam te wees met jou huweliksmaat, gesin en familie.

Voor my bekering het ek dalk baie mense te na gekom en skade aangedoen. Wanneer ek Jesus aanvaar word al hierdie misdade vir my volkome vergewe. Maar nou moet ek realisties wees. Ek sal waar nodig en waar moontlik  ook hierdie verontregte mense om verskoning moet vra en dinge moet regstel, anders sal my getuienis ongeloofwaardig en kragteloos wees. Ek kan nie maar net aangaan asof hierdie slegte dinge nooit gebeur het nie.

 In my daaglikse stryd moet ek rekening hou met die effek wat my ou sondige lewe nog op my kan hê en dit dan deur die vernuwende krag van die Heilige Gees hanteer!

MAAK MY VERLEDE SAAK?

Kom ons vat net weer saam. Kind van God, wees verseker God het jou heeltemal vergewe, NEE, jou verlede maak nie saak nie! Dank God en wees bly!

Kind van God, ons is besig met ’n harde wedloop, daar is laste en sondes wat uit ons verlede voortkom, JA, ons verlede maak saak, ons moet dit besef en ons moet dit hanteer soos God  se Woord vir ons voorskryf. Laat ons eerlik wees en mekaar hierin help! Laat ons bo alles die oog hou op Jesus! 

Wat betref ons status  voor God en ons aanvaarding by Hom  speel ons verlede genadiglik hoegenaamd geen rol nie! Die kruis van Jesus het daardie verlede vir eens en vir altyd uitgewis. Wat betref my daaglikse keuses, besluite en stryd, moet ek deeglik rekening hou met die gevolge en oorblyfsels van my vorige sondige leefwyse. Gelukkig, deur die krag van die Heilige Gees kan ek oorwinnend daaroor leef. 

Om dit teologies korrek te stel : Wat ons vryspraak (justification)  betref, maak ons verlede glad nie saak nie! Wat ons daaglikse stryd van heiligmaking (sanctification) betref, maak ons verlede saak en moet ons eerlik daarmee rekening hou en daaraan werk! Daartoe stel God sy kinders instaat, deur die bekragtiging van die Heilige Gees!

Donderdag 24 Mei 2012

LEI DIE GEES MY?

- ek hoor dan nie stemme nie!   

God Drie-enig is betrokke by ons verlossing : Vader,  Seun en Heilige Gees. Hier in die Pinkstertyd is dit gepas om te praat oor die praktiese rol wat die Heilige Gees in elke kind van God se lewe speel. (maak gerus oop by Romeine 8)

Die Heilige Gees is nie ‘n teorie of krag  nie; Hy is ‘n  lewende Persoon. Hy is onmisbaar in ons verlossing.  Ek kan nie sonder die Heilige Gees die evangelie aanvaar nie. Dis onmoontlik om sonder die oortuigingswerk van die Heilige Gees vir Jesus Christus waarlik te ken. Daar is ‘n onmisbaar noue verband tussen Christus en die Heilige Gees.  Trouens, Hy word spesifiek genoem die Gees van Christus. (Vers 9)  Dis Hy wat Jesus aan ons openbaar en in ons harte werk dat ons waarlik in Hom kan glo. Belangrik : Die Heilige Gees werk nie net eenmalig in mens se lewe nie, maar Hy lei die kind van God op ‘n daaglikse basis. In Romeine 8:14 stel Paulus dit as ’n feit:

“Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.”

Dis waar van elke kind van God. As ek nie deur Heilige Gees gelei word nie, is ek nie ’n kind van God nie.  Maar wat beteken dit nou prakties? Beteken dit dat ek nou gedurig stemme hoor, skimme sien of drome droom? Dis allermins wat hier in Romeine ter sprake is.  Die konteks waarin Paulus  hierdie uitspraak maak  is belangrik. Dit gaan oor ’n nuwe lewe wat vereis dat ons ons sondige praktyke moet uitroei en gehoorsaam raak aan God se wil. Kom ons kyk na 'n paar maniere hoe die Heilige Gees elke kind van God in hierdie opsig lei :
1. Hy gee aan my ’n nuwe lewensuitkyk : God raak vir my belangriker as geld,  goed en genot. (1 Korintiërs 2:12) Die Gees laat my die waarde van God se genade en vergifnis, wat ek deur Jesus ontvang, besef. Hy gee my insig in en aptyt vir geestelike dinge. Ek ervaar ‘n honger na die Woord, die Bybel gaan vir my oop, ek geniet geestelike gesprekke. (Voorheen was dit dor en droog en irrelevant). Toets jouself : sien jy uit na gemeentelike byeenkomste of voel dit soos ’n straf?  Hy wek ook  ‘n liefde in my vir ander Christene; hulle gesprekke en belewenisse maak nou vir my sin. Die Heilige Gees  laat sien my die hele lewe vanuit ‘n  ewigheidshoek. Ek sien my aardse bestaan as ’n pelgrimsreis na ’n beter bestemming. Iemand wat deur die Gees gelei word,  sien uit  na die heerlike erfenis wat alle  smart van nou by verre sal oortref! (Rom 8:18)

2. Hy wek in my ’n begeerte om tot God, my Vader se eer te leef. Die Vaderskap van God word vir my ‘n persoonlike werklikheid. Hy bewerkstellig ‘n innige band tussen my en my Hemelse Vader!  (Rom 8:15) As die Heilige Gees my lei, leef ek ‘n lewe voor die aangesig van God. En ek vra nie meer wat mense dink nie nie, maar : “Vader, wat is U wil?” Die Heilige Gees maak my dus bekommerd oor my gebrekkige liefde vir God en laat my smag na ‘n inniger verhouding met Hom. Hy bring ook kommunikasie tussen my en my Vader tot stand deurdat Hy vir ons pleit. (Rom 8:26)

3. Hy laat my die heerlikheid van Jesus, sy genoegsaamheid en genade, raaksien, juis in die konteks van die bewustheid van my sonde! Ek besef die allesoortreffende  waarde van Jesus (die kosbare hoeksteen). Ja, ander mense weet dalk  van Hom, maar dis waar dit eindig. Die Heilige Gees verheerlik Jesus en  openbaar Hom en sy werk aan ons. (Joh 16:14) Waar die Heilige Gees mense lei, val die fokus op Jesus en sy werk. Soos  ligte (floodlights)  ‘n gebou in die aand verlig, nie om die fokus op die ligte te plaas nie, maar op die gebou.

4. Hy maak my toenemend bewus van my sondigheid. Hoe meer ek geestelik groei, hoe meer raak ek bewus van sondige gewoontes, denkwyses en  motiewe wat nog in my binneste skuil. Onthou Hy is die Heilige Gees! Hy is heilig en kan nooit met enige sonde kompromie maak nie. Hy maak mens sensitief vir versoekings en sonde. Hy wek in my ’n kommer en  hartseer oor my sonde. Die ongelowige is wel ook soms teleurgesteld in homself of voel sleg oor die gevolge van sy sonde. Die Heilige Gees laat my egter  besef, dis teen die Here wat ek gesondig het. Soos  Dawid in Psalm 51:6  ervaar het. 

Die Heilige Gees  stem my versigtig en onrustig oor sekere  plekke of persone. Ek weet net : “Bly weg hier. Dis gevaarlik vir jou wandel met God!”   

Die Heilige Gees lei mens dus om in alle situasies teen die wêreld en sy aanloklike begeertes te kies en vir die  navolging van Jesus.

5. Hy gee positief in my hart ’n begeerte na geregtigheid. ‘n Honger en dors om te doen wat reg is. Hy laat my ook oorgaan tot aksie om teen sonde te stry en dit uit te roei. Dis waarskynlik die belangrikste inhoud van wat dit hier beteken om deur die Heilige Gees gelei te word, want vers 13  onderstreep die belangrikheid om alle sondige praktyke in ons lewens uit te roei. Ons self moet praktiese stappe neem, maar dis die Heilige Gees wat ons oortuig van wat verkeerd is en die krag en moed gee om daadwerklik op te tree.

Romeine 8:13 sê : “...maar as julle deur die Gees ‘n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe.”

6. Die Heilige Gees gee ons nie net krag om die verkeerde uit te roei nie,  maar produseer positiewe vrug in ons lewens. Die  vrugte van die Gees. Galasiërs 5:22  (Lees) Alle Christene sal al die vrugte vertoon in toenemende mate. Die Gees lei ons dus om heilig en al heiliger te leef!  

Alle Christene het die Heilige Gees en alle Christene word gelei deur die Heilige Gees. Sonder sy werk in ons kan ons nie kinders van God word nie en ook nie as kinders van God leef nie! Kom ons bid vir ‘n groter bewuste werk van die Heilige Gees in ons lewens. Kom ons verbind ons tot ‘n groter gehoorsaamheid aan die Heilige Gees se leiding, spesifiek om teen sonde te stry en dit uit te roei. 

* Dis in hoofsaak dinge wat  D.Martyn Lloyd-Jones in sy reeks oor Romeine noem.

Donderdag 19 April 2012

DIE GELUKKIGE TWEELING

- Heiligheid en Blydskap.

Laat ons nou maar eerlik wees. Heiligheid is nie ‘n onderwerp waaroor alle Christene altyd graag gesels nie. Ons sal dalk eerder oor sake soos gawes van die Gees redeneer of bespiegel oor tekens wat die wederkoms sal voorafgaan. Heiligheid en heiligmaking bring so ietsie van ‘n benoudheid in ons binneste, want ons word in ons agterkoppe wysgemaak dat ‘n heilige lewe dalk tot vreugdeloosheid sou kon lei. “Jong, as jy nou ernstig begin om ‘n heilige lewensstyl na te volg, gaan jy ‘n klomp lekker dinge misloop”, fluister die Verleier in ons ore.

Nou, die opdrag tot heiligmaking aan alle kinders van God is so duidelik soos daglig. In 1 Petrus 1:16 kom God se opdrag kort en klaar na ons:

“Wees heilig, want ek is heilig”

Heiligheid is egter nie iets waarvoor ons hoef terug te deins of te skrik nie. ‘n Heilige lewe volgens God se bedoeling verarm nie ons lewens nie en maak ons ook nie nors ongelukkige on-mense nie! Hoe so? Heiligheid gaan saam met vreugde.  Ware heiligheid en ware blydskap is ‘n baie gelukkige tweeling! Kom ons probeer verduidelik. Ons weet die praktiese standaard van heiligheid wat God vir ons daargestel het is gelykvormigheid aan Jesus Christus. Hy  is nie net ons Redder nie, maar is ook ’n voorbeeld wat gereddes moet navolg. (1 Petrus 2:21) En dink daaraan : Jesus was volkome gelukkig, maar Hy was sonder sonde! Die gelukkigste mens ooit!  In Hebreërs 1:9 (OAV) word daar na Jesus verwys as die skrywer uit die Psalms aanhaal : “U het geregtigheid liefgehad en ongeregtigheid gehaat, daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle (tydgenote)” Ja, selfs die lyding en spot wat Jesus as die Man van Smarte moes verduur kon hierdie blydskap nie uitwis nie.  En hierdie blydskap het Jesus ook vir ons bedoel. “Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.” (Johannes 16:24)

Oor die onskeibaarheid van heiligheid en blydskap het Robbert Murray M’Cheyne die volgende gesê : 

“To gain entire likeness to Christ, I ought to get a high esteem of the happiness of it. I am persuaded that God’s happiness is inseparably linked in with his holiness. Holiness and happiness are like light and heat. God never tasted one of the pleasures of sin. Christ had a body such as I have, yet He never tasted one of the pleasures of sin. The redeemed through all eternity, will never taste one of the pleasures of sin; yet their happiness is complete. It would be my greatest happiness to be from this moment entirely like them. Every sin is something away from my greatest enjoyment. ...The devil strives night and day to make me forget this or disbelieve it.”

Heiligheid bevorder ons blydskap, sonde steel ons vreugde!