BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 26 Februarie 2016

LOSPRYS VIR ‘N SLAWEBRUID

- die aangrypende boodskap van die “mooiste” liefdesverhaal ooit!


Die evangelie is eintlik ‘n aangrypende liefdesverhaal. Ons sien dit ook hier in die beeld wat Paulus in 2 Kor. 11:2-4 gebruik. 

"Ek waak oor julle met ‘n ywer wat van God kom, want julle is soos ‘n jongmeisie wat ek aan een man toegesê het as sy bruid en wat ek vlekkeloos na hom toe wil bring. Die man is Christus.

Maar ek is bang dat julle gedagtes weggelei sal word van die onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus, net soos Eva verlei is deur die listigheid van die slang.

Ek sê dit omdat julle so maklik daarmee genoeë neem as iemand ‘n ander Jesus kom verkondig as wat ons verkondig het, en julle neem net so maklik ‘n ander gees en ‘n ander evangelie aan as dié wat julle van ons ontvang het."

Kom ons vertel dit in storievorm... ‘n Ryk en dapper Prins onderneem ‘n wêreldtoer... Op ‘n dag loop Hy by ’n slawemark verby in ’n verre land. Wat Hy sien bring sy hart in beroering. Hy sien ’n pragtige slawemeisie, vasgeketting, vuil en verwese. Dadelik steel sy die Prins se hart. Sy verkeer in ‘n uiterste toestand van ellende en verwaarlosing, maar die Prins kyk verby haar vuil vodde en vernedering, verby die letsels van lyding en smart. Hy sien haar potensiaal as toekomstige bruid in sy Koninkryk. Op daardie oomblik is sy nog ’n gevangene in die mag van ’n uiters gewetenlose en wrede baas. Die Prins is egter vasbeslote om haar vryheid te bewerk en Hy betaal ’n ontsaglike groot prys vir haar. Sy word losgekoop. Sy kry haar vryheid terug, maar dis nie al nie! Hy vra haar onmiddellik om sy bruid te word! En? Sy sê "Ja!" Dan vra Hy haar om geduldig eers vir Hom te wag sodat Hy die paleis in Sy Koninkryk in gereedheid kan bring vir die grootste Bruilof ooit! Vir ’n feestelikheid wat die wêreld nog nooit gesien het nie! Hulle groet en die meisie beloof om geduldig te wag totdat Hy haar kom haal. Sy onderneem plegtig om aan Hom getrou te bly en haarself gereed te maak vir die groot dag...

VERLEIERS

Maar weet jy wat? Die Prins is skaars weg, toe kom die eerste vreemde vryer en verleier al aan die meisie se deur klop... Wat sal nou gebeur, sal sy getrou kan bly...? Gaan hulle dit regkry om haar te verlei? Gaan sy vergeet van die Prins se opofferende liefde? Gaan sy ontrou word? Gaan sy haar heerlike toekoms net so weggooi...?

Natuurlik verstaan jy die verhaal seker baie goed: Die Prins is Jesus Christus wat ons oneindig liefhet! Die wrede slawemeester is natuurlik Satan. Hy bind ons vas met kettings van sonde. Ons lewens is verniel en geskend. Ons (die slawemeisie) is egter vrygekoop op Golgota met Jesus se kosbare bloed, die hoogste prys moontlik; sy eie lewe! Dis die kernevangelie! “Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense." (Markus 10:45)

Toe jy jou bekeer het en vir Jesus deur die geloof “Ja” gesê het, het jy ingestem om sy bruid te wees. So het die Korintiërs ook deel van die bruid geword. Paulus het deur sy prediking die gemeente van Korinte voorgestel aan die Verlosser Prins Jesus Christus. Hulle het reageer in geloof en so die aanstaande bruid van Jesus geword. Sy Verloofde. Maar nou was daar die gevaar dat hulle mislei sal word deur ʼn “ander Jesus” en ʼn “ander evangelie.” Anders gestel : daar was die gevaar dat daar vreemde vryers sou kom en hulle sou afrokkel van die een ware bruidegom Jesus Christus. Dis ‘n voortdurende gevaar wat almal wat aan Jesus behoort bedreig : dat ons sal val vir ‘n ander Jesus en ‘n ander evangelie. 

Oor hierdie bedreiging skryf Paulus ook aan die Galasiërs :

“Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle deur die genade van Christus geroep het, afvallig word en ‘n ander evangelie aanneem.
Daar is geen ander evangelie nie! Tog is daar mense wat die evangelie van Christus probeer verdraai, en dit is hulle wat vir julle in verwarring bring.
Maar al sou een van ons of selfs ‘n engel uit die hemel aan julle ‘n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het—die vloek van God sal hom tref!”  (Galasiërs 1:6-8)

Wie of wat is hierdie “ander Jesus” waarteen Paulus ons waarsku? (Let wel, dis ‘n valse Jesus, so hierdie ander Jesus gebruik steeds die naam Jesus en dis hoekom ons so wakker en waaksaam moet wees dat ons nie mislei word nie!) Hierdie tipe misleiding is immers net so subtiel en gevaarlik soos die gladbekkige misleiding van Eva deur die geslepe slang in die paradys!

Die enigste manier hoe om die ander valse Jesus uit te ken en te vermy is om die ware Jesus baie goed te ken. Die beste manier om vals geld te leer uitken is om die kenmerke van die egte geld baie deeglik onder die knie te kry.

WIE IS DIE WARE JESUS?

Die ware Jesus is die Een wat gekom het om ons van ons sondes te verlos! Dis reeds duidelik van voor Jesus se geboorte af! “Sy sal ‘n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos." (Matt 1:21) Hy bring vergifnis en bevryding van sonde! Die valse Jesus beloof ander dinge soos geld, gerief, genot en gewildheid, maar hy laat jou rustig voortgaan met sonde! Die valse Jesus minimaliseer sonde en soek verskonings vir sonde. “relax maar net en wees happy!” Jy kan die aanhangers van die valse Jesus maklik uitken... “Ag, wat dis nie so erg om in dronkenskap, onsedelikheid, gierigheid... te leef nie, die Here sal maar verstaan ons is net mense!” Die ware Jesus se volgelinge jaag na heiligheid en dankbaarheid, want hulle besef hulle verlossing het 'n groot prys gekos!

Die ware Jesus se kruisoffer was genoegsaam en finaal. Toe Hy aan die kruis gehang het Hy uitgeroep : “Dis volbring” (Joh 19:30) Die valse Jesus voeg ekstra dinge by as voorwaarde vir redding. Jy moet die Joodse Saterdag sabbat hou, jy moet in tale praat, jy moet Hebreeuse name gebruik,  jy moet net aan hierdie kerkgroep behoort... Die valse Jesus se volgelinge is altyd aan die rondskarrel agter nuwighede, hoorsêstories en godsdienstige foefies aan. Die ware Jesus se volgelinge vind gemoedsrus en vergenoegdheid in sy volledige en volmaakte werk!

Die ware Jesus het vir sy volgelinge gesê julle sal verdrukking hê in hierdie lewe, maar hou moed ek het die wêreld oorwin. (Joh 16:33) Hy beloof nooit dat ons dit nou maklik sal hê nie, maar Hy beloof vir ons die ewige heerlikheid. Hy beloof vir ons ‘n hemelse erfenis. Sy volgelinge is pelgrims wat uitsien na ‘n beter vaderland. Die valse Jesus sê : “Die beste lewe is hier en nou!” Sy volgelinge is ingestel op die bymekaarmaak van skatte, maar verklaar ewe vroom hoe die “Here ons seën!”

PASOP

Die hoofboodskap van Paulus is duidelik. “Moenie na almal luister wat met mooi stories na julle kom nie. Sulke mense is glad met die tong maar hulle bly nie meer by die ware Jesus en die ware evangelie nie! En onthou die ware evangelie is die evangelie wat ek aan julle verkondig het.” Nou waar vind ons dan die suiwer evangelie wat Paulus en die ander apostels verkondig het? In die Bybel! Dit bring ons weer terug by die belangrikheid van die Woord, om dit te ken en binne konteks te verstaan. Ons noem die Woord ‘n genademiddel. Dit dra genade oor aan ons, dit versterk en verhelder die genade. 

LIEFDESMAALTYD

God het ons ook ander genademiddele gegee soos die doop en die nagmaal. Dis nie goedvoelrituele nie, maar dit onderstreep weer die basiese evangelie waarhede. Anders gesê dit herinner ons weer aan wie die ware Jesus is! Dit fokus ons hart en gedagtes en hoop op die kern verlossingswerk van Jesus, sy genoegsame en afgehandelde werk wat ons volkome verlos van God se wraak en ons bevry om as nuwe mense te leef. Die nagmaal is ‘n liefdesmaaltyd wat ons elkeen opnuut aanspoor om getrou aan die ware Jesus, ons aanstaande bruidegom te bly en alle valse Jesusse en valse evangelies te verwerp. Ons word weer opnuut bewus van die groot losprys wat vir ons betaal is tydens hierdie liefdesmaal. Die ware Jesus is die een wat sy lewe vir jou gegee het, wat jou straf aan die kruis gedra het in jou plek en jou nou uitdaag om Hom met gehoorsaamheid en dankbaarheid en blydskap te volg ! 

Is jy getrou aan Hom?


Vrydag 19 Februarie 2016

ALLES IS TOE NIE OK NIE!

- Moenie deel wees van die hartseer statistiek van die soutpilare nie!

Sommige verkondig ‘n nuwe “evangelie” – “Moenie stress nie, alles gaan OK wees!” “ ‘n Mens hoef nie te stress oor ‘n wederkoms of finale oordeel nie”, sê ‘n tipiese lekkerleef post modernistiese profeet van ons tyd. Jesus self skets vir ons egter ‘n heeltemal ander prentjie in LUKAS 17:26-35.* Volgens Hom sal baie nie gereed wees op die dag van oordeel en finale skeiding nie. Vir baie mense gaan dinge nie OK wees nie, vir ewig gaan dit nie OK wees nie!

Waarom gaan so baie mense die Koninkryk van God misloop? Waarom gaan so baie mense onverhoeds betrap word deur die oordeel van God? (Gaan hulle dalk die hemel mis omdat hulle nie die sogenaamde profesie van Haggee oor die bloedmane geglo het nie? NEE!) Die verrassende Bybelse antwoord, is dat niemand die hemel gaan misloop omdat hy te sleg was nie! Ja, jy het reg gehoor, niemand gaan verlore omdat hy te sleg was nie. “Hoe kan jy so sê?”, vra jy. Dis maklik om te bewys : In die hemel gaan daar voormalige moordenaars en egbrekers wees – Dawid om maar een voorbeeld te noem. Daar gaan voormalige skelms wees – jy sal beslis vir Saggeus daar kry. (Vgl. 1 Kor. 6:9-11)

GEEN REAKSIE OP GOD SE WAARSKUWINGS NIE!

Mense gaan die Koninkryk en die vrede van God misloop omdat hulle nooit tyd gehad het vir Jesus en sy boodskap nie. Mense gaan die Koninkryk misloop omdat hulle nooit hulle behoefte aan genade besef het nie. Mense gaan die Koninkryk misloop omdat hulle nie gereageer het op God se waarskuwings nie. Mense gaan die Koninkryk misloop, omdat hulle nooit tot ‘n daadwerklike keuse gekom het om Jesus se vergifnis te aanvaar nie, en onthou as jy Jesus nie aanvaar nie, verwerp jy Hom! (as jy hier lees en jouself  nog nooit aan Hom oorgegee het nie, is jy tot op hede besig om die Seun van God te minag en te verwerp!) 

Het jy al erns gemaak met God se waarskuwings en jou bekeer?

Kom ons stel dit anders, in ‘n algemene sin : Wat is die grootste gevaar wat bestaan? Die grootste gevaar is om nie die gevaar te besef nie! Die grootste gevaar is nie dat daar ‘n brand in jou huis uitbreek nie, maar om onbewus te wees daarvan en rustig te lê en slaap, terwyl die vlamme al nader kruip... Die grootste gevaar is nie die ernstige siekte nie, maar om onbewus te wees van die siekte wat besig is om jou liggaam op te vreet...

DIE GEWONE GANG VAN DIE LEWE...

Ons grootste gevaar is om so vasgevang in die gewone gang van sake te wees, sodat ons nie betyds aandag gee aan die waarskuwings en die genadeverkondiging in God se Woord nie! Opvallend in hierdie gedeelte - ‘n Mens hoef nie ‘n vreeslike openbare sonde te pleeg of in misdaad te verval om onder God se oordeel te beland nie Jy kan maar net rustig en selfgesentreerd met jou lewe aangaan...

Jesus praat hier baie ernstig oor die koms van die Koninkryk en die finale skeiding wat sal plaasvind. Hy waarsku dat dit skielik en onverwags sal wees. Mense sal maar “soos gewoonlik” nog met hulle lewens aangaan en dan kom die oordeel.

NOAG EN LOT

Om dit te onderstreep noem Hy twee voorbeelde uit die geskiedenis : Noag en die sondvloed, Lot en die verwoesting van Sodom. Hierdie twee tydperke gee vir ons insig in die wederkoms. Die gebeurtenis van die wederkoms sal soortgelyk wees. In beide gevalle het God die goddeloosheid van mense skielik gestraf. In beide gevalle was die oordeel van God baie onverwags. Die waters van die sondvloed het die mense verswelg voor hulle kon voorsorg tref, die vuur uit die hemel het die mense verteer voor daar tyd vir planne was! Die mense het maar met hulle gewone lewens aangegaan en hulle nie gesteur aan God se waarskuwings nie. Die verkeerde was nie dat hulle geëet en gedrink en getrou en gebou het, maar nie tyd gemaak het om hulle lewens voor God reg te stel nie! Hulle het nie geluister na Noag se verkondiging nie. (2 Petrus 2:5) Ook die mense van Sodom het ‘n regverdige in hulle midde gehad naamlik Lot. (2 Petrus 2:6-8) In beide gevalle het God se oordeel die selfversekerde massas verdelg, maar ook ‘n klein groepie gered. Noag en sy familie. Lot en sy twee dogters.

Wat was die verskil tussen die massas aan die eenkant en Noag en Lot aan die anderkant. Natuurlik genade! Maar hoe het dit prakties gewerk? Beide Noag en Lot het betyds gehoor gegee aan God se waarskuwings. Vir Noag het God gesê om ‘n ark te bou, vir Lot het God gewaarsku om te vlug!

STATISTIEK VAN DIE SOUTPILAAR!

My vriend/vriendin luister terwyl daar tyd is! Vlug terwyl daar kans is. Moenie huiwer nie! Vlug vir jou lewe, die ewigheid is op die spel. Jesus beklemtoon die belangrikheid van drastiese optrede met die dringende waarskuwing : "Onthou wat gebeur het met die vrou van Lot!"  Tragies. Sy het wel die opdrag om te vlug gehoorsaam, maar net halfhartig. Haar gerieflike huis en mooi meubels was vir haar belangriker as God se opdrag. Daar is belangrike dinge in jou lewe wat keer dat jy die belangrikste, die ewige lewe kan ontvang! Vlug weg van jou ou lewe en vlug na Jesus, ons enigste ware skuilplek teen die toorn van God. Dink aan die vrou van Lot is ook die spesiale boodskap wat ek aan ons nuwe lidmate wil gee. Julle bely dat julle gehoor gegee het aan God se waarskuwings, julle bely dat julle ‘n keuse gemaak het – Volhard in hierdie keuse! Dink aan die hartseer statistiek van die soutpilare. So baie jong mense het al voor die kansel gestaan en bely dat hulle omgedraai het van die verkeerde pad en nou Jesus wil volg, maar na ‘n ruk het hulle weer omgekyk en terugverlang na die ou lewe! Vandag is hulle lewelose soutpilare...hard en ongevoelig vir God se Woord, koud, leweloos en verlore!

Alles gaan nie OK wees nie! Sommige mense tussen ons gaan nie gereed wees nie! Sommige in ons eie huise , sommige wat saam met ons werk... maak seker dat jy een van diegene sal wees wat wel gereed is!

Maak betyds seker. Vlug betyds. Vlug na Jesus! En bly by jou keuse!


*"Net soos dit in die tyd van Noag gegaan het, so sal dit ook gaan in die tyd van die Seun van die mens:
hulle het maar soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. Toe kom die sondvloed, en dit het hulle almal uitgewis.
In die tyd van Lot het dit ook net so gegaan: hulle het maar soos gewoonlik geëet en gedrink, gekoop en verkoop, geplant en gebou.
Maar op die dag toe Lot Sodom verlaat het, het vuur en swael uit die hemel gereën, en dit het almal uitgewis.
Net so sal dit ook gaan op die dag wanneer die Seun van die mens verskyn.
"Dan moet die man wat op die dakstoep sit, nie ingaan om sy besittings in die huis te gryp nie. Net so moet ook die man wat op die land is, nie omdraai huis toe nie.
Onthou wat met die vrou van Lot gebeur het!
Elkeen wat sy lewe probeer behou, sal dit verloor, maar elkeen wat dit verloor, sal dit behou.
Ek sê vir julle: Dan sal twee mense op een bed slaap, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word.
Twee vroue sal koring maal, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word."

Vrydag 12 Februarie 2016

HOE WEET EK?

[Vaste waarheid en norme in die onseker wêreld van wisselende gevoelens en groeiende relativisme]

Hoe weet ek dat God my liefhet? Sommige sal sê : “Ek voel so.” of “Die Here het my gehelp.” Maar wat van die kere wat jy nie so voel nie of nie ervaar dat die Here jou help nie? Is Hy dan nou nie meer lief vir jou nie? 

Hoe weet ek dat ek ‘n kind van God is? Weereens, sommige sal beweer : “Ek voel so.” Maar dis ‘n uiters wisselvallige barometer, want ons weet ons gevoelens verander gedurig en meer nog, ons emosies en buie is altyd maar baie onbetroubaar. (Almal wat positief voel hulle het ‘n wiskunde toets deurgekom, is nie altyd deur nie.) Hoe kan mens iets so belangrik soos jou ewigheidsbestemming op gevoelens grond? 

Hoe weet ek wat is reg en verkeerd? (Al hoe meer word dit in ons postmodernistiese wêreld betwyfel of daar hoegenaamd nog iets soos reg en verkeerd is, want elkeen, so word beweer, is mos sy eie norm en maatstaf.) So dikwels hoor mens : “Ek voel net dis reg.” Dis mode (en ek dink dit word goed bedoel) om ‘n WWJD bandjie om jou arm te dra. Maar die vraag is nog steeds, hoe weet jy wat Jesus sou gedoen het? Is dit maar net jou subjektiewe opinie en pas jy nie maar daardie opinie aan by jou gevoelens en voorkeure nie? Verskriklike onreg en losbandigheid word gepleeg onder die naam van Jesus...

Die allerbelangrikste vraag is geliefdes, hoe weet ons wat is regtig waar, hoe weet ons wat is regtig reg of verkeerd, hoe weet ek my sonde is vergewe, hoe weet ek dat ek in ewigheid by die Here sal wees?

Kom ons kyk wat het Jesus self as die bron van waarheid aangedui in Lukas 24:44-49.

Daarna sê Hy vir hulle: "Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is."
Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan.
Verder sê Hy vir hulle: "So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan,
en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’
Julle is getuies van hierdie dinge.
En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is."

(Jesus sê hierdie dinge na sy opstanding en nadat Hy Homself lewend aan sy dissipels vertoon het.) 

Merkwaardig! Hoe versterk en bou Jesus die wankelrige dissipels se geloof? Waarheen verwys Hy hulle om die waarheid te weet? Hy verwys hulle terug na die Ou Testament. Die wet, die profete en die psalms, met ander woorde die Bybel van daardie tyd, want die Nuwe Testament was nog nie op skrif nie. Jesus doen nou nie meer opspraakwekkende sigbare wonderwerke nie hier na sy opstanding nie, maar wat doen Hy? (45) Hy doen ‘n innerlike wonderwerk, Hy open die dissipels se verstand om die Skrifte te verstaan. Jesus verduidelik die betekenis van sy koms en die dissipels se opdrag aan die hand van die Bybel. Let op – “So staan daar geskrywe...” Niemand kan meer twyfel aan die waarde, gesag en belangrikheid wat Jesus self aan die geskrewe Woord toeken nie! 

As jy respek het vir Jesus sal jy respek hê vir die Bybel!

En veelseggend, Jesus gaan dan verder en herinner hulle aan die belofte oor die koms van die Heilige Gees. Die Heilige Gees wat hulle sou ontvang as hulle in Jerusalem sou gaan wag. Hier vind in dus reeds baie duidelik die kombinasie : WOORD en GEES! Woord en Gees gaan altyd saam en is onlosmaaklik aan mekaar verbind! Ons sien dit baie duidelik in ‘n gedeelte soos 2 Petrus 1:20-21.

Dít veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie,
want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig.

Petrus het reeds in vers 19 gesê dat die boodskap van die profete soos ‘n lamp is wat in ‘n donker plek skyn. Dis duidelik hy verwys na die Skrif. Maar dis ook duidelik dat ons die Skrif nie deur eie insig kan uitlê of verklaar nie, maar net met behulp van die Heilige Gees, want die Heilige Gees was direk betrokke by die skryf van die Woord. Jesus open nog vandag steeds mense se verstand om die Skrif te verstaan! Dis seker een van die duidelikste kenmerke van die wedergeboorte. Die Bybel wat altyd vir jou dof en deurmekaar was begin skielik sin maak en lewend word! Jesus doen dit deur die Heilige Gees! Weereens , WOORD en GEES! 

Implikasies :

1.Die Woord is die enigste vaste norm- nie tradisie nie, nie ons “gut feeling” nie, nie openbare mening nie, nie politieke korrektheid nie, nie een of ander opwindende ervaring of visioen nie. En beslis ook nie een of ander uitspraak van ‘n hedendaagse geldmaakprofeet of postmodernistiese verwarringsteoloog nie! As ons praktiese vrae wil beantwoord hê en eerlik God se wil wil doen moet ons na die Woord toe gaan. Praktiese vrae oor kerk toe gaan, hoe moet ‘n huwelik en gesin lyk, hoe moet ek geld hanteer, wat moet ek maak in omstandighede waar ek benadeel en sleg behandel word, hoe word ek gered...? Dis dwaas om te sê, “dit of dat voel vir my reg of nie”, die Woord sê duidelik wat ek moet doen!

2. Ons moet vashou aan beide die belangrikheid van die Woord en die Gees. Mens hoor : “Ons het nie meer die Bybel nodig nie, ons is nou verby daardie fase, die Gees praat sommer nou direk met ons.” Dit geliefdes is ‘n baie gevaarlike mite!* Ja, die Gees praat met God se kinders, maar Hy gebruik die Woord as instrument. Daarom noem Paulus die Woord, “die swaard van die Gees.” (Ef 6:17) Aan die anderkant is daar mense wat net ‘n blote kopkennis van die Woord het, dit help ook niks nie. Ons bly gedurig afhanklik van die Gees. As die Gees nie in ons werk nie, sal ons die waarskuwings van die Woord nie regtig ter harte neem nie, sal die Woord nie regtig vir troos bring nie. As die Gees nie ons harte sag maak nie, bly ons onaangeraak deur die beloftes en vermanings van die Woord, dan by ons sonder bekering, sonder geloof, sonder liefde, sonder hoop! 

3. Die Woord moet gehoor, uitgelê en verstaan word as ons wil groei en vrug dra. Ons het gesien hoe Jesus self sy dissipels terugverwys na die Skrif. Hy het seker mos darem geweet wat hulle (en ons) nodig het! Geen vrug sonder verstaan van die Woord nie! ‘n Toe Bybel en ‘n onverstaanbare Bybel is nutteloos! Jesus beklemtoon dit self in die gelykenis van die Saaier. “Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer ‘n oes: soms honderdvoudig, soms sestigvoudig, soms dertigvoudig." (Matteus 13:23) Vir vrugdra moet ons dus erns maak met praktiese geleenthede soos huisgodsdiens, Bybelstudie, katkisasie, prediking...

Daar is geen kortpaaie na volwasse vrugbare kindskap nie! Ons het die Woord, die Gees is hier by ons, kom ons maak erns met Woord en Gees!

*Die gevaar om Woord en Gees van mekaar los te maak is sterk deur die Reformatore beklemtoon in hulle stryd beide teen die Roomse en Anabaptiste. Op klassieke manier word die noue verbintenis tussen Woord en Gees deur Calvyn verdedig in sy beroemde brief aan die Roomse biskop Sadoletus wat die mense van Genève probeer teruglok het onder die Roomse juk in. Hierin sê Calvyn onder andere dat Christus die kerk inderdaad regeer deur die Heilige Gees, maar sodat hierdie regering nie vaag en onstabiel sou wees het Hy dit verbind aan die Woord. Vir hierdie rede het die Gees by monde van Paulus verklaar dat die kerk gebou is op die fondament van die apostels en profete. (Ef 2:20) Calvyn beskuldig beide Anabaptiste en Roomse dat hulle terwyl hulle uitermate roem oor die Gees, hulle die geneigdheid het om die Woord te begrawe en so ruimte te maak vir hulle eie valshede.

Vrydag 05 Februarie 2016

DIE GROOT HONGER VAN DIE MENSEHART

- ‘n verlange na die genadeglorie van God!


“Laat my tog u heerlikheid sien.” Hierdie teks is geskrywe in die voorportaal van ons kerkgebou hier op Tsumeb. Dis nie toevallig daar nie, dis eintlik ‘n samevatting van die rede hoekom ons hier is! Kom ons kyk bietjie...

Moses rig ‘n passievolle versoek tot God in Eksodus 33:18. (OAV) “Laat my tog u heerlikheid sien.” Wat ‘n gewigtige smeekroep! Voordat ons kyk na hoe God hom geantwoord het moet ons eers na die konteks en agtergrond vra van Moses se woorde. In Eksodus 32 lees ons van die volk Israel se sondige opstand teen God, toe hulle die goue kalf aanbid het. Dit het die toorn van God laat ontvlam soos ons lees in 32:9,10. “Verder het die Here vir Moses gesê: "Ek het gesien dat dit ‘n opstandige volk is hierdie. Moet My nie probeer keer nie. Ek is toornig op my volk en Ek wil hulle vernietig. Vir jou sal Ek dan tot ‘n groot nasie maak." 

Moses pleit egter om genade by God en God vernietig nie die volk nie, al straf Hy hulle baie swaar. God gaan dan voort met sy plan om die volk na die beloofde land te lei, maar Hy sal dit deur ‘n engel doen. “Gaan lei jy nou die volk na die plek toe waarvan Ek met jou gepraat het. My engel sal voor jou uit gaan. Op die dag dat Ek rekenskap eis, sal Ek die volk straf oor hulle sonde." (32:34) God wil nie meer saam met hulle trek nie, want Hy weet Hy sal hulle vernietig omdat hulle so moedswillig en hardkoppig is. “Julle is so ‘n moedswillige volk dat Ek nie sal saamtrek na hierdie land wat oorloop van melk en heuning nie, want dan verdelg Ek julle op pad daarheen." (33:3) Moses pleit egter by die Here om self saam te gaan. “Toe het Moses vir Hom gesê: "As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie." (33:15) En God staan die versoek toe! “Die Here het vir Moses geantwoord: "Ook wat jy nou gevra het, sal Ek doen. Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam." (33:17)

Dis teen hierdie agtergrond wat Moses vra om die heerlikheid van God te sien. (vers 18) Dis asof Hy die versekering en gerustelling wou verkry in die openbaring van God se heerlike karakter dat God vir Hom en die volk genadig sal wees! Dis asof hy vra, “Here wys my tog regtig wie U is sodat ek daarop kan vertrou dat U ons genadig sal wees en nie sal vernietig nie, al verdien ons om vernietig te word!” Toe antwoord die Here hom...

“Maar die Here sê: "Ek sal al my voortreflikheid voor jou laat verbykom en Ek sal die Naam ‘die Here’ vir jou uitroep, want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm.
Vir My kan jy nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie."
Die Here het verder gesê: "Maar hier by My is ‘n plek waar jy op die rots kan staan.
As Ek in my magtige verskyning verbykom, sal Ek jou eers in ‘n rotsskeur sit en jou met my hande toemaak totdat Ek verby is.
Dan sal Ek my hande wegvat sodat jy My van agter kan sien. Niemand mag my gesig sien nie."
(Eksodus 33: 19-21)

Twee sake kom duidelik na vore:

God se heerlikheid gaan oor genade. God se heerlikheid is 'n genadige heerlikheid! God koppel sy Naam aan genade! Vers 19! In die volgende hoofstuk word dit bevestig. “Die Here het in ‘n wolk afgekom en daar by Moses kom staan en die Naam "die Here" uitgeroep.
Terwyl Hy by Moses verbygaan, roep die Here: "Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou.
Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag."
Moses het toe vinnig gebuig in eerbied
en gesê: "As ek u goedgesindheid geniet, Here, moet U saam met ons wegtrek. Al is die volk moedswillig, moet U ons ongeregtigheid en sonde vergewe. Laat ons tog u volk bly, u eiendom."
(Eksodus 34:5-9)

God se genade beteken dat Hy vergifnis skenk aan skuldige mense en hulle 'n erfdeel gee. Aan mense wat dit nie verdien nie, soos hierdie hardkoppige volk. Dis werklike genade, Hy gee dit soos Hy besluit, dis op geen menslike verdienste of prestasie gegrond nie! Maar moenie kanse met God probeer vat nie, vergifnis is nie ‘n ligtelike saak nie. Moenie sy genade as swakheid opvat nie! Moenie dwaas wees soos sommige en dink dis "ons voorreg om te sondig en God se plig om te vergewe" nie!

God se genade is nie vanselfsprekend nie, dis 'n voorreg wat met diep ontsag en eerbiedige dankbaarheid ontvang moet word!

God het sy heerlikheid net ten dele aan Moses geopenbaar. Moses sien God net van agter af. God voldoen aan Moses se versoek, maar op beperkte skaal.

ONS SIEN 'N GROTER HEERLIKHEID AS MOSES!

Die goeie nuus vir onder die bedeling van die Nuwe Verbond is dat God nou deur Jesus sy heerlikheid aan ons ten volle bekend gemaak het. Om dit te verstaan moet ons blaai na Johannes 1:14-18. 

 “14. Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid. 15. Johannes getuig van Hom en roep uit: "Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: Hy wat ná my kom, is my vóór, want Hy was voor my reeds daar." 16.Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. 17. God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. 18.Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak."


Sien jy die raakpunte met die Eksodusgebeure is uiters opvallend? Dit lees trouens soos ‘n opvolg kommentaar oor die gedeelte wat ons in Eksodus gelees het! Dit gaan oor Jesus, die Woord, wat mens geword het. God maak Homself nou sigbaar vir mense! Ons het die voorreg om sy heerlikheid te sien. 

Jesus self is die finale volle antwoord op Moses se versoek! 

Hoe lyk hierdie heerlikheid wat Hy vertoon? Wat is die aard van God se heerlikheid? Vol genade en waarheid! (14) Dis twee wye begrippe wat handel oor God se barmhartigheid, guns, verbondsliefde, getrouheid, waaragtigheid. Dis ‘n duidelike terugverwysing na die gebeure in Eksodus 33-34* Spesifiek na 34:6 waar hierdie twee elemente beklemtoon word. Die punt is, die heerlikheid van God wat aan Moses geopenbaar is, word nou ten volle in Jesus sigbaar vir elkeen wat waarlik glo... En deur Jesus word ons lewens persoonlik aangeraak deur God se heerlikheid, want ons ONTVANG genade op genade! (16) Dis nie maar net iets waarvan ons teoreties moet kennis neem nie, die sondaar smaak hierdie genade as ons vergifnis en vryspraak in Jesus verkry! Meer nog, God is nie suinig met hierdie genade nie, dit kom uit sy oorvloed! Die res van die Johannes evangelie gee vir ons praktiese voorbeelde van hierdie oorvloed...die Samaritaanse vrou, die vermeerdering van die boord, die blinde man, die gelykenis van die Goeie Herder (Johannes 10:10 "lewe in oorvloed"), Petrus se herstel na sy groot val... God se openbaring aan Moses wat die wet ingesluit het was net ‘n tydelike voorlopige fase. Die volle openbaring van God se heerlikheid en genadige karakter beleef ons nou in Jesus. Daarom word ook die kontras tussen Jesus en Moses hier deur Johannes uitgelig. (17) Die genade van Jesus is die genade van die Nuwe Verbond!

Moses se verlangende begeerte en dringende behoefte is eintlik elke mens se begeerte. Dit verwoord die diepste nood en versugting van elke mens. Die groot honger en hunkering van elke hart. Ons is geskape met hierdie behoefte na God se heerlikheid. Ons wil vervulling en gerusstelling vind in God se heerlikheid en karakter! Ons smag na iets groter as net ‘n bestaan van eet en drink, grootword, trou, kinders kry... Ons is trouens geskape om God se heerlikheid te bewonder, gemaak om ons te verlustig en te verbly in die asemrowende en ontsagwekkende majesteit van God. Dis die hunkering van elke mens, al is alle mense nie noodwendig daarvan bewus nie. Wanneer die Heilige Gees in die mens werk, dan eers besef ons ons nood, ons sonde en die leegheid van ‘n lewe sonder God. Ons besef al die plaasvervangers van geld en plesier kan my nie bevredig nie, maar neem my net verder weg van God. En dan kom hierdie versugting op in ons harte: “Here, laat my tog U heerlikheid sien! ‘n Heerlikheid wat my nie sal vernietig nie, maar sal vergewe en herstel.”

En nou antwoord God ons deur Jesus. So lyk my heerlikheid, vol troue waaragtige genade! Niemand het God ooit gesien nie, selfs nie Moses nie. Maar nou kan ek en jy wat Jesus aangeneem het God se heerlikheid “sien”, want God se eie Seun Jesus Christus het Hom aan ons bekend gemaak, verklaar!

Het jy ‘n honger en dors na God se heerlikheid? Voel jy ‘n behoefte aan genade? Kom kry dit in Jesus! Hy nooi jou uit! “Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.” (Joh 6:37) Dis natuurlik nie net ’n eenmalige ervaring nie. Nee, elke dag saam met Jesus word ons iets meer bewus van God se heerlikheid. En tot in ewigheid sal ons ons in hierdie heerlikheid verbly en Hom daarvoor bewonder! AMEN

*So sien Carson dit in sy "The Gospel According to John"


Donderdag 04 Februarie 2016

GEREFORMEERDE SAAMTREK IN DIE DORSLAND

- maak solank 'n knoop in die oor!


Die NG Gemeente Otjiwarongo reël 'n Gereformeerde saamtrek van 15-17 April op die noordedorp in Namibië. Tydens hierdie geleentheid sal Prof. Johan Janse van Rensburg, wat 'n lang bediening as predikant en teoloog agter die rug het as spreker optree. Hy is een van die min geleerdes in ons kerkverband wat nog 'n duidelike stem vir die waarheid laat hoor. Sy Skrifgegronde standpunte word in helder en eenvoudige taal verwoord in sy onlangse boekie, "IN GESPREK MET DIE KERK" 

Tydens die geleentheid gaan Prof. Janse van Rensburg  'n wye verskeidenheid van aktuele sake aanroer, waaronder :


Gereformeerde identiteit
Leerdwaling in die kerk
Skrifgebruik in die gedrang
Die eeu van relatiwisme
Homoseksualiteit en die Skrif


Hierdie en nog ander temas sal deur Prof Janse van Rensburg ingelei word en in 'n gespreksformaat hanteer word.

Die geleentheid is gratis! Verblyf op Otjiwarongo sal beskikbaar wees.

Vir verdere inligting rondom die program en praktiese reëlings kan u vir ds. Hector Jooste by hector@otjiweb.com kontak. Doen dit sommer sou gou as moontlik!


Prof. Johan Janse van Rensburg



Dinsdag 02 Februarie 2016

ISLAM OPMARS IN MADAGASKAR

2500 Moskees!

Madagaskar, die pragtige eiland met sy besondere natuurskoon, waaronder unieke plantegroei en die bekende lemoers is sommer hier op ons voorstoep net oorkant 'n stukkie see. Tog is dit vir baie van ons mense 'n totaal onbekende wêrelddeel, ook wat die werk van die Koninkryk betref.


My vriend Johannes (Wolf) Celliers en sy vrou Wenda is betrokke by sendingwerk op hierdie eiland, waaronder Bybelverspreiding, kerkplantig en opleiding.

In 'n onlangse nuusbrief meld hy die volgende skokkende feite:

"Islam - ‘n projek is geloods om 2,500 nuwe moskees te bou en hulle het dit ook bewerk om die regering se goedkeuring daarvoor te kry. Hulle het onlangs in die verre noorde begin bou. In lig daarvan het ‘n leraar in daardie gebied my om bystand versoek om daar ook gemeentes te help vestig in gebiede waar daar nog nie gemeentes is nie. Dis egter buite ons huidige werksgebiede en as iets sou realiseer sal ons ekstra middele en fondse benodig. Bid vir leiding asb."

Kom ons dink aan hulle in die gebed en soek ook die Here se leiding oor moontlike hulp en betrokkenheid!

Wolf se e-pos adres is jwcilliers@yahoo.com





Maandag 01 Februarie 2016

AS ONREG OF RAMPE MY TREF...

-is dit tyd om vas te hou aan die voorsienigheid van God!

As slegte goed met goeie mense gebeur, as rampe die regverdiges tref, dan word ons maklik verward, mismoedig en selfs wankelrig in die geloof. Hoe kan dit dan wees, hoekom beskerm God dan nie sy kinders nie? Kan Hy nie of wil Hy nie?

Dis hier waar ons iets moet verstaan van die voorsienigheid van God. Min mense ken nog die woord of begrip. (en dis so jammer) Maar ons voorgeslagte het hierdie saak deeglik deurdink en dit baie mooi geformuleer. Ons vind dit duidelik uitgespel in NGB artikel 13. Dit beteken nie dis ‘n waarheid of leerstuk wat mense uitgedink het nie, die saak word duidelik in die Bybel aangespreek. 

En een van die Bybelverhale waar die voorsienigheid van God op die mees dramatiese manier figureer is die verhaal van Josef. So kom laat ons die geskiedenis van Josef eers so ‘n bietjie afstof. Ons ken dit darem seker almal... 

Josef word deur sy pa Jakob voorgetrek  en dit veroorsaak 'n giftige en wraaksugtige jaloesie by sy ander broers. Om sake te vererger het Josef drome gedroom, wat geïnsinueer het dat sy eie familie eendag voor hom sou buig. Toe op ‘n dag toe hy gaan kos wegneem vir sy broers, neem hulle hulle kans waar, vang hom, gooi hom in ‘n put en verkoop hom aan handelaars wat hom toe weer in Egipte as slaaf verkoop. In Egipte beland hy in Potifar se huis, dit gaan baie goed en hy word bevorder, maar dan kom daar weer moeilikheid. Potifar se vrou probeer hom verlei en toe sy dit nie regkry nie beskuldig sy Josef valslik. Die woedende Potifar laat Josef in die tronk gooi. Sjoe, Josef bly getrou aan God se gebod, maar kyk wat gebeur met hom! Kan dit sin maak? Dit sou kon lyk asof God vir Josef vergeet het of in die steek gelaat het ('n Egiptiese tronk is nie juis 'n vyfster hotel nie!), maar te midde van al hierdie ellendes lees ons dat Here by Josef was! (Genesis 39:2,21,23) Ons ken ook die verhaal verder, hoe Josef die bakker en skinker se drome in die tronk uitgelê het. Die skinker is vrygelaat soos Josef voorspel het en het belowe dat hy Josef se saak by die farao sou stel. Maar ons weet mos wat gebeur met mense se beloftes... Die skinker vergeet van Josef en vir nog twee lange jare moes Josef in die tronk deurbring. (Twee jaar voel soos lewenslank as jy onskuldig in 'n tronk sit.) Weereens sou dit kon lyk asof nie net die skinker nie, maar God self van die arme Josef vergeet het. Maar toe droom die Farao ook en Josef word uit die tronk gehaal om dit uit te lê. Dit lei uiteindelik daartoe dat hy as onderkoning in Egipte aangestel word sodat hy toesig kon hou oor die projek om graan op te gaar. Toe die wêreldwye hongersnood kom wat Josef voorspel het, het sy eie broers daar kom koring koop en uiteindelik het Josef se vader Jakob en sy familie permanent in Egipte kom bly. Toe Jakob sterf was die broers bang dat Josef sou wraak neem oor die onreg wat hulle teen hom gepleeg het en dis toe dat Josef die wysheid en insig oor Goddelike voorsienigheid kwytraak. “Maar Josef het hulle geantwoord: "Moenie bang wees nie. Ek is nie God nie. Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ‘n groot volk nou in die lewe gebly het.” (Genesis 50:19,20)

In effek sê hy : “Ja, julle het verkeerd gedoen, maar God het dit alles gebruik om sy goeie plan te volvoer!” Josef se woorde word bevestig deur Psalm 105:16,17. “Toe Hy (God) hongersnood oor die land gebring het en al hulle kos laat opraak het, het Hy iemand voor hulle uit gestuur: Josef is as slaaf verkoop.” Kyk hoe word hierdie twee sake parallel gestel. God “stuur” Josef – hy beland nie maar sommer toevallig in Egipte nie, maar die manier hoe Hy dit doen is deur die “verkoop” van Josef as ‘n “slaaf”. 'n Slegte daad staan in diens van God!

Die waarhede oor God se voorsienigheid, met ander woorde oor sy soewereine bestuur en beheer van als wat in die skepping gebeur word duidelik gesien in hierdie geskiedenis van Josef en dit word pragtig saamgevat in die NGB Art 13*. Kom ons kyk daarna:

"Ons glo dat die goeie God, nadat Hy alle dinge geskep het, dit nie laat vaar of aan die toeval of geluk oorgegee het nie maar dit volgens sy heilige wil so bestuur en regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie." God onttrek Homself nie van hierdie wêreld nie, maar beheer en bestuur alles volgens sy volmaakte wysheid. Die hongersnood is nie toevallig nie, God het daarmee sy doel gehad. Josef se koms na Egipte en als wat daar met hom gebeur het, was ook nie toevallig nie, God het daarmee ‘n doel gehad. Inderdaad is God se hand agter alles!

"Tog is God nie die bewerker van die sondes wat gedoen word nie en Hy dra ook nie die skuld daarvoor nie. Sy mag en goedheid is immers so groot en onbegryplik dat Hy sy werk baie goed en regverdig beskik en uitvoer, selfs al handel die duiwels en goddelose mense onregverdig." As ons sê dat God se hand agter als is kan mense nou maklik redeneer dat Hy ook skuldig is aan die verkeerde dinge wat gebeur. Daarom sê NGB Art 13 pertinent dat dit nie so is nie. God se voorsienigheid vat nie ons skuld of ons verantwoordelikheid weg nie. Josef se broers het sonde gedoen deur hom te verkoop (en hulle sou daaroor verantwoording moet doen), dis nie God se sonde of skuld nie, maar God is so groot dat hy ook verkeerde dinge kan gebruik om sy raadsplanne te volvoer. Selfs onreg is ‘n instrument in God se hand. Ja, dit sluit ook ons eie verkeerde keuses en foute in... dit bly ons skuld, maar God gebruik selfs ook dit om sy doelwitte te bereik!

MAAR DIT KLINK SO ONBEGRYPLIK?

"Ons wil ook nie verder as wat ons kan verstaan, nuuskierig ondersoek instel na dié dinge wat Hy bo die vermoë van die menslike verstand doen nie; inteendeel, ons eerbiedig juis in alle nederigheid en in aanbidding die regverdige oordele van God wat vir ons verborge is. Ons is tevrede daarmee dat ons leerlinge van Christus is om slegs te leer ken wat Hy aan ons in sy Woord openbaar, sonder om die grense daarvan te oorskry." Ons kan God se voorsienigheid nie verstaan nie, ons verstand is te klein om alles uit te pluis. Die mens sou kon vra of God nie maar op ‘n ander makliker manier Jakob en sy familie in die hongersnood kon deurgedra het nie. (Of waarom nie sommer van die begin af gesorg het dat daar nie hngersnood was nie?) Ons wonder dalk hoekom moes hy so onskuldig ly? Dis waar ons moet buig voor God en sê dat ons Hom net vertrou al verstaan ons nie. Ek en jy verstaan meestal nie die slegte en hartseer dinge wat oor ons pad kom nie, maar ons kan weet God is God en Hy weet wat Hy doen. 

TROOS! NIKS IS TOEVALLIG NIE!

"Hierdie leer bied onuitspreeklike troos as ons daardeur geleer word dat niks per toeval oor ons kan kom nie maar alles deur die beskikking van ons goeie hemelse Vader oor ons kom. Hy waak oor ons met vaderlike sorg en heers so oor alle skepsels dat sonder die wil van ons Vader nie een haar van ons kop - hulle is almal getel - en ook nie een mossie op die aarde sal val nie (Mat 10:29, 30). Ons verlaat ons hierop, omdat ons weet dat Hy die duiwels en al ons vyande in toom hou, sodat hulle ons sonder sy toelating en wil geen skade kan aandoen nie. Daarom verwerp ons ook die gruwelike dwaling van die Epikureërs, wat sê dat God Hom met niks bemoei nie en alle dinge aan die toeval oorlaat." Die wêreldgeskiedenis, maar ook ons eie lewensgeskiedenis is nie soos ‘n vragmotor wat sonder remme by ‘n bergpas afhardloop nie... Ons is nie aan ‘n blinde noodlot, kans, geluk of toeval uitgelewer nie. Niks kan met ons gebeur as God dit nie toelaat nie! Dis ons troos binne in ons smart. Die God wat ons liefhet en sy liefde deur Jesus aan die kruis bewys het, is in die finale beheer van sake en Hy bestuur alles tot ons uiteindelike beswil! Dit laat ons geduldig wees in teëspoed en dankbaar wees in voorspoed! Dit laat ons die toekoms met vertroue ingaan, want niks in die skepping kan roer of beweeg sonder God se wil nie!**

NIE FATALISME!

God se voorsienigheid beteken nie (soos sommige ons daarvan wil beskuldig) dat ons maar fatalisties agteroor moet sit in ellendes en net kyk wat God aan die saak gaan doen nie. Beslis werk dit nie so nie! Weereens is Josef 'n pragtige voorbeeld. In uiterste slegte omstandighede doen hy steeds sy uiterste bes en maak die beste van 'n slegte saak. As slaaf in Potifar se huis blink hy uit en kry bevordering, as hy ten onregte in die tronk beland is sy optrede weer so onberispelik dat hy as toesighouer aangestel word. Ons doen wat ons kan, ons gehoorsaam steeds God en sy gebooie en laat dan die res oor aan sy soewereine wil...wetende dat God ons nie vergeet het nie!

Kind van God, (jy wat swaarkry of verontreg voel) weet op hierdie oomblik dat soos God nie vir Josef in die tronk vergeet het nie, Hy jou ook nie vergeet het nie, maar besig is om sy doel met jou te bereik!

NIKS IS TOEVALLIG NIE! SONDER GOD SE WIL KAN GEEN SKEPSEL ROER OF BEWEEG NIE!

*Die tekste wat die NGB Art 13 vermeld is : Joh. 5:17; Heb. 1:3; Sp. 16; Ef. 1:11; Jak. 4:13,19; Job 1:21; 2 Kon. 22:20; Hand. 4:28; 2:23; 1 Sam. 2:25; Ps. 115:13; Jes. 45:7; Amos 3:6; Deut. 19:5; Spr. 21:1; Ps. 105:25; Jes. 10:9; 2 Tess. 2:11; Eseg. 14:9; Matt. 10:29; Rom. 1:28; 1 Kon. 11:23; Gen. 45:8; 50:20; 2 Sam. 16:10; Matt. 8:31; 1 Joh. 2:16; Ps. 5:5; 1 Joh. 3:8; Gen. 1:26; Kol. 1:15; 3:10.

** Die Heidelbergse Kategismus Sondag 10 praat ook heerlik vertroostend oor die voorsienigheid van God, ja dit noem selfs droogte (dit wat baie gebiede tans teister) by die naam!

Sondag 10

27 Vraag: Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?

Antwoord: Die almagtige en oralteenwoordige krag van God (a) waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer (b) dat lower en gras, reën en droogte (c), vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte (d), rykdom en armoede (e) en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom (f).

(a) Hand 17:25-28; Jer 23:23, 24; Jes 29:15, 16; Eseg 8:12. (b) Heb 1:3. (c) Jer 5:24; Hand 14:17. (d) Joh 9:3. (e) Spr 22:2. (f) Matt 10:29; Spr 16:33.

28 Vraag: Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?

Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig (a) en in voorspoed dankbaar (b) kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader (c) kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie (d), aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie (e).

(a) Rom 5:3; Jak 1:3; Ps 39:10; Job 1:21, 22. (b) 1 Tess 5:18; Deut 8:10. (c) Ps 55:23; Rom 5:4. (d) Rom 8:38, 39. (e) Job 1:12; 2:6; Spr 21:1; Hand 17:2.


Geen ramp of ongeluk is toevallig nie, ook al is mense daaraan skuldig...