BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 31 Januarie 2020

WAARHEIDSKOMPAS

- God se WOORD in tye van misleiding en lyding! 


Die lering van die valse profete word gekenmerk deur ‘n liefde vir die self. (Kliek op Selfbeheptheid) Teenoor die leer van die vals leraars het Timoteus die voorbeeld van Paulus, die ware apostel gevolg. Ons lees hiervan in 2 Timoteus 3:10-17. Dis ook in hierdie gedeelte waar Paulus positief vir Timoteus (en ook vir jou en my) aanmoedig! 

‘N LEWE VAN VRUG ÉN VERVOLGING 

Dit is ‘n totaal teenoorgestelde koers en rigting. Die pad van die valse leraars is ‘n pad van selfgesentreerdheid – selfbeheptheid, selfbelang, ‘n liefde vir geld en ‘n liefde vir genot eerder as vir God! Die leefstyl en loopbaan van Paulus staan in skrille kontras met die van die vals leraars. 

Paulus se lewe word bepaal deur ‘n liefde vir God en selfopoffering. Die pad wat Paulus geloop het en wat Timoteus nagevolg het is ‘n lewenswyse gekenmerk deur geloof, geduld, liefde en dit lei noodwendig tot vervolging en ontbering. “Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word.” (12) Kategoriese uitspraak! En dis waar van alle Christene, alle tye, in alle omstandighede... As jy dus nog nooit teenstand, bespotting of vervolging gekry het ter wille van jou Christenskap nie, dan is daar iewers fout... Hoor mooi ter wille van Christenskap – met ander woorde as jy ly omdat jy nie jou skuld betaal nie, is dit jou eie fout en nalatigheid. Dis iets heel anders as Christelike lyding! 

Terloops, Paulus het op baie plekke gely, maar hy noem waarskynlik juis hierdie drie stede in Galasië, naamlik Antiochië, Ikónium, en Listra, omdat Timoteus self ‘n inwoner van Listra was en heel moontlik ‘n ooggetuie was toe ‘n skare hom daar buite die stad uitgesleep het en met klippe gegooi het. (Vgl. Hand 16:1)* 

Die punt wat Paulus maak is – “Timoteus, daar sal altyd vervolging en swaarkry wees vir Christene en daar sal altyd die gevaar wees van goddelose bedrieërs wat ander mislei. Jy weet mos wat het met my gebeur!” 

AANMOEDIGING 

Timoteus het die regte pad geloop en nou wil Paulus hom aanmoedig om in die toekoms nog steeds die regte pad te bewandel. Teen die agtergrond van die misleiding van die mensgesentreerde boodskap van die dwaalleraars word Timoteus nou aangemoedig. (14) Die hoofsaak is: “Bly by wat jy geleer het.” Die boodskap wat jy by my as apostel geleer het. Moenie nou agter hierdie nuwe rigting en nuwe idees aanloop nie. Pasop vir die sogenaamde progressiewes! Progressiewe Christenskap is niks anders as regressiewe dwaling nie! Bly by die oorspronklike evangelie boodskap wat ek Paulus die apostel aan jou verkondig het. Terloops – as mense beweer dat hulle nou ‘n nuwe openbaring ontvang het, of dat God nou iets nuuts aan die kerk in die laaste dae bekend gemaak het- dan moet die rooi ligte flikker. Die evangelie is vir eens en altyd oorgelewer. God sal nooit n nuwe boodskap gee in stryd met die Skrif nie. Orals in die NT word ons opgeroep om vas te hou aan die boodskap wat reeds aan die apostels en kerk gegee is. “Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.” (Judas 3) 

Pasop vir nuwe morele waardes. Byvoorbeeld- Dwarsdeur die Bybel was God se bedoeling vir die huwelik ‘n lewenslange verbintenis tussen man en vrou – nou skielik wil mense dit verander, omdat ons in nuwe tye woon! Paulus vermaan Timoteus om te bly by wat hy van hom (Paulus) geleer het. 

DIE HEILIGE SKRIF HOU ONS OP KOERS! 

Maar nou - baie belangrik! Paulus se prediking het nie sommer uit die lug geval nie. Paulus se prediking was vanuit die Skrifte, gebou op die Skrifte! Luister na wat Paulus aan koning Agrippa tydens sy verhoor vertel in Handelinge 26:22. “Omdat God my tot vandag toe bewaar het, staan ek hier as sy getuie voor klein en groot. Ek verkondig maar net waarvan die profete en Moses gepraat het” (Vgl. Romeine 1:2) 

In ’n vyandige omgewing van misleiding en swaarkry, is daar net een manier hoe jy gaan oorleef - ken die Skrif! 

In die stormsee van teenstand en dwalings is daar net een manier hoe jy veilig gaan seil - as jy die kompas van die Woord het. Hoe gaan jy volhard as jy nie die beloftes van God ken wat mens krag gee om vas te byt nie? Hoe op aarde gaan jy onderskei wat is misleiding en wat is waarheid as jy nie spesifieke Bybelse kriteria en voorskrifte ken nie? Geestelike dwaling kom waar mense nie die Skrif ken nie... “Maar Jesus antwoord hulle: "Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie.” (Matteus 22:29) Die groot vyand is Satan en sy bose magte - hoe oorwin ons en bly staande? Ons het 'n kragtige wapen nodig. Wat is dit? Die swaard van die Gees. En wat is dit? Die Woord van God! (Efesiërs 6:10ev)  Selfs Jesus het hierdie wapen gebruik tydens sy versoeking in die woestyn. "Daar staan geskrywe..." (Matteus 4.) 

Voordat die Woord vir jou tot nut kan wees, moet jy dit lees en ken. Toe onder die stof op jou bedkassie is die Bybel wat jou ouma jou geskenk het van weinig waarde! Ken die Woord soos jy die alfabet of maaltafels ken. Iewers het jy dit geleer - anders sou jy dit nie geken het nie. Iewers moet jy die Woord leer ken. En neem tog kennis, Timoteus het dit van kleins af geken. “en jy ken van kleins af die heilige Skrif.” (15) Die belangrikste kennis wat jy jou kind kan leer, is kennis van die Skrif. In Timoteus se geval was dit waarskynlik sy ma en ouma wat dit vir hom geleer het. 

DIE WAARDE VAN DIE WOORD 

Watter praktiese verskil maak Skrifkennis aan ’n mens? Anders gesê, waarom moet ek die Bybel ken? 

1) Dit vertel jou hoe jy verlos kan word. Dit lei jou na die Persoon, Jesus! “...Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus.” (15) Ken jy dit? Weet jy wat ’n mens moet doen om gered te word? Sal jy dit met beloftes uit die Skrif kan verduidelik? As jy dit nie vir ander kan verduidelik nie, ken jy dit self waarskynlik ook nie. Dis tog op grond van die Skrifbeloftes wat mens glo, dat jy gered word. 

2) Dit rus jou as reeds verloste toe vir goeie werke. Dit vertel jou hoe om as kind van God op die regte manier uit dankbaarheid te leef. Paulus noem ’n paar praktiese dinge in vers 16. “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek,” Dis ‘n mondvol. Dink bietjie daaroor. 

Voel jy geestelik onseker, moedeloos en verward? Word jy gebombardeer deur versoekings en beskuldigings van Satan? Begin erns maak met die Woord. Dit verg ’n doelbewuste poging. 

Vat daai Bybel en begin dit lees en leer! Gaan na 'n kerk waar die Woord suiwer binne konteks uitgelê word!

GOD PRAAT MET JOU! 

Die kruks van die saak kry ons in 16. “die hele Skrif is deur God geïnspireer...” Glo jy werklik dat God deur hierdie boek praat? Die lewende God, die Skeppergod wat alles gemaak het, die genadige Verlossergod, ook die God wat ons eendag gaan oordeel... Hier in hierdie boek praat Hy duidelik en persoonlik met jou en my... Stel jy belang om te hoor wat Hy sê? 

Wat jy met hierdie Woord maak, gaan ’n radikale verskil in jou lewe maak NOU en EWIG! 

* “Paulus het in Derbe gekom en daarna in Listra. Dáár was ‘n gelowige met die naam Timoteus. Sy ma, ook ‘n gelowige, was ‘n Joodse vrou en sy pa ‘n Griek.”

Vrydag 24 Januarie 2020

SELFBEHEPTHEID EN SELFLIEFDE

- die groot leuen van die valse profete 



“Jy moet glo in jouself! Jy moet jouself liefhê! ‘Like’ jouself! Wees net positief - Jy is geregtig op die mooiste vrou, die duurste kar; jy verdien die beste werk en ‘n luukse leefstyl… Jy vlieg mos besigheidsklas”* Dis die boodskap wat aan onkundige mense opgedis word, dis die lering waarvan die gierige massas hou en waarvoor die opgesweepte skares hande klap. Dis die boodskap van die valse profete. 



Dis teen hierdie mense, hulle invloed en lering waarteen die apostel Paulus vir die jong man, Timoteus waarsku in 2 Timoteus 3:1-9. As Paulus die groot verdorwenheid – die afval, verval en boosheid van die laaste swaar tye beskryf dan begin hy by – “Die mense sal selfsugtig wees.” (NAB) Letterlik in die Grieks staan daar - “filautoi" - "liefhebbers van hulleself.”(OAV)* As mens kyk na die laaste sin van die paragraaf wat die valse Christene en valse leraars se gedrag beskryf dan sien mens ‘n duidelike kontras. “Eerder liefhebbers van genot as liefhebbers van God!” (OAV) Dis die klimaks kontras tussen liefhebbers van hulleself (filautoi) en liefhebbers van God (filotheoi) Jy sien dis eintlik die twee kontrasterende en opponerende opsies – liefde vir die self of liefde vir God! Al hierdie ander bose eienskappe gaan saam met hierdie selfliefde en selfbeheptheid… as ek myself eerste stel dan word ek geldgierig (liefde vir geld), dan lei dit tot grootpratery (spoggery en “brag”)…ens. Selfgesentreerdheid en selfbeheptheid is die groeibodem van alle ander sonde en skande! Waarom steel en lieg mense, waarom bly mense ongetroud saam en leef losbandig, waarom skinder ons, waarom word ek dronk en gee nie om hoe dit ander mense rondom my raak nie...?



Selfbeheptheid is kunsmis vir alle soorte sonde! 

UITERLIK GODSDIENSTIGES – BLY WEG! 

Maar dan kom Paulus seker by die heel skokkendste uitspraak in hierdie gedeelte. “Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af.” (5) Hierdie mense lyk en klink godsdienstig. Hierdie selfliefhebbers is deel van die kerk. Hierdie godsdienstige narsiste beweeg onder die vaandel van Christenskap! Hulle ken die Bybel en hulle gebruik die Naam van Jesus! Party bou selfs luukse megakerke! 

Hulle lyk baie vroom. Die gedaante, die vorm van godsaligheid! Hulle praat saam en sing saam, hulle stuur Christelike whatsapps, hulle ken al die Christelike woordeskat… Maar hulle kort iets – die krag van die godsdiens. Hoe so? Die krag van ware godsdiens lê juis daarin dat dit oorwinning oor selfsug, selfgesentreerdheid, selfbeheptheid en sonde bring! Die krag van ware godsdiens word juis gesien daarin dat mense hulleself opoffer om God en hulle naaste lief te hê. (Ook hulle onbeheersde drange opoffer) Die praktiese raad van Paulus aan Timoteus i.v.m. sulke mense is kort en kragtig : BLY WEG! 

Moenie eers gaan kyk nie, moenie eers gaan luister nie! Spaar jouself baie skade en skande! 

MISLEIDING VAN ONSTABIELE MENSE 

Saam met die vals profete se oënskynlike godsdienstigheid gaan hulle ywer om ander te mislei. Dis hoekom hulle so gevaarlik is. Dis hoekom mens van hulle moet wegbly! Mense wat hierdie selfliefde boodskap verkondig, beïnvloed baie ander rondom hulle. Hulle neem ander mense gevange met hulle slim en oorredende stories. Mens sien dit! Paulus noem hier ‘n praktiese voorbeeld uit sy tyd. Dit lyk asof hierdie valse profete van huis tot huis gegaan het en onstandvastige en naïewe, liggelowige vroue maklik met hulle valse stories mislei het. Hulle boodskap het aanklank gevind by hierdie vroue se sondige begeertes. Die valse profete kry sulke mense maklik in hulle mag. Dis vandag nog hulle taktiek… hulle maak jag op onstabiele en onkundige mense wat nie sterk staan in die Woord nie en nie sterk Woordgebaseerde oortuigings het nie. As voorbeeld van valse profete noem Paulus vir Jannes en Jambres. Dié name kom nie in die Ou Testament self voor nie, maar was volgens die Joodse tradisie twee towenaars aan die hofhouding van Farao. Die Joodse Targum (kommentaar) voeg hulle name in by Eksodus 7:11. “Die farao roep toe ook sy manne bymekaar wat dié soort ding ken, sy goëlaars. Dié Egiptiese towenaars doen toe met hulle towerkunste presies dieselfde: soos elkeen sy kierie neergooi, verander dit in ‘n groot slang. Maar toe sluk Aäron s’n hulle s’n in! (Eksodus 7:11,12) Ons ken mos die geskiedenis- Hierdie towenaars kon God se wonders tot op ‘n punt naboots. (Hulle kieries het ook slange geword!) Dit het gelyk asof hulle Goddelike mag het! Maar hulle was teen God. Hierdie vervalsers het Moses se boodskap teengestaan net soos die valse apostels die boodskap van Paulus en die apostels teengestaan het. 

Die selfliefde evangelievervalsers gaan uitgevang word! 

Gelukkig sal die vals profete nie ver kom nie. Die towenaars van Egipte kon ook net tot op ‘n punt bybly en die plae en die wonders van God naboots. Kort voor lank moes hulle die onderspit delf. Die valse leraars se dwalinge word uiteindelik ontmasker. Hulle sal noodwendig iewers ontbloot word en almal sal besef dat hulle net geestelike swendelaars en kwaksalwers was. 

WEES GEWAARSKU! 

Pasop vir enige lering en filosofie wat die klem op die mens en sy behoeftes en sy begeertes, sy plesier en sy prestasies plaas! (Al gebruik hulle stringe Bybeltekste om hulle punte probeer staaf) Die valse evangelie (soos byv. Prosperity Gospel/Voorspoedevangelie) lê gedurig klem op die self – my drome, my suksesse, my finansies, my gesondheid, my seksuele vervulling… Die mens wat nie weergebore is nie, vind natuurlik aanklank by hierdie selfgesentreerde boodskap – van nature wil alle mense mos ryk en gerieflik lewe, almal smag na mag en plesier... Slegs deur die wedergeboorte bewerk deur die Gees word ‘n nuwe stel waardes in ons harte gevestig. Eers dan word God en sy eer ons eerste prioriteit! Net dan kan ons ons naaste waarlik liefhê! 

Die boodskap van Jesus het reëlreguit ingedruis teenoor dié van die welvaartsleraars. “Verloën jouself!” Dis wat die Nuwe Testament ons leer. “Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.” (Matteus 16:24) 

Ons moet egter nie net pasop vir die valse leraars en hulle boodskap nie. Ons moet onsself positief bewapen en versterk teen die valse leringe van ons dag. Ons moet ‘n lewe van volharding leef wat gebou is op die waarheid van die Woord! (Sien 2 Timoteus 3:10-4:5) Ons moet kies teen selfgesentreerdheid en selfbelang en vir God se Woord en God se wil! 

*Dis letterlik die strekking van wat At Boshoff van die CRC leer! 

**“people will be lovers of themselves” (NIV), “Die Menschen werden viel von sich halten” (Duits) maw “die mense sal baie van hulleself dink”


Ons dank die Here vir milde reën in Januarie!

Donderdag 09 Januarie 2020

NOU!

- DIE KRAG VAN VANDAG 



Jesus is nooit laat nie! (Kliek NOOIT LAAT) Hy is presies betyds vir die wat Hom soek, die wat na Hom roep. En tog gaan baie mense verlore. Anders gestel – dit blyk dat sommige die genade by hulle laat verbygaan, dat hulle geen baat vind by die genade nie al is Jesus altyd betyds. Wat is die rede? Waarom gebeur so ‘n vreeslike tragedie? 



Daar is net een duidelike rede. Hulle weier om die versoening te aanvaar wat God deur Jesus bewerk het. Dalk is jy een van hulle? Die meeste mense se verweer is: “Nee, ek weier nie, ek is darem nie so erg nie, ek stel net nog ‘n bietjie uit om die versoening te aanvaar.” Weier of uitstel (al klink laasgenoemde dalk meer ordentlik) – die gevolg is maar dieselfde skrikwekkende uiteinde… ‘n Christuslose en uitsiglose ewigheid! HEL!


Ons gaan kortliks na twee sake kyk wat Paulus in hierdie verband in 2 Korintiërs 5:20-6:2 aanroer. 

1) Die heerlike vaste feit van die versoening en hoe dit gebeur het. 

2) Die dringende oproep om dit vandag te aanvaar. 

1) DIE VASTE FEIT Paulus vertel hier van die wonderlike verlossingswerk van God. God self het hierdie versoening met ’n vyandige sondige mensdom bewerk. God het ‘n nuwe begin gemaak. Trouens, Hy is besig om deur Jesus ‘n nuwe skepping tot stand te bring. As ek aan Jesus behoort is ek deel van hierdie nuwe skepping. “Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel (skepping); die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” (5:17) Paulus is ambassadeur van hierdie besondere boodskap. Nou weet ons uit die res van die brief dat daar teenstand was teen Paulus se boodskap in die gemeente van Korinte. Daar was vals apostels wat twyfel gesaai het oor Paulus se apostelskap en boodskap. Paulus sê : “Kom terug na hierdie boodskap” en “Laat julleself met God versoen”
Hoor die dringende pleitrede : "Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ‘n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!" (5:20) Hy sê dit hier vir mense wat alreeds deel van die kerk was maar klaarblyklik afvallig of twyfelagtig begin word het. 

Binne die konteks van Paulus se kragtige oproep vind ons ‘n geweldige uitspraak in vers 21. “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.” (NAB) Heel moontlik vind ons hier ‘n tipe van ‘n vroeg Christelike belydenis. Hier kry ons die helder antwoord op vraag : 

Hoe word 'n sondige mens herstel tot guns van God? 

Hoe word ‘n skuldige weer beskou as onskuldig? Hoe word die vuil sondaar deel van God se koninkryk? Hoe werk vergifnis? Kom ons kyk stuk vir stuk na die uitleg.  Die OAV vertaal dit baie letterlik en ons gebruik dit as basis. “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.” (OAV) 

"Hom wat geen sonde geken het nie" – dis Jesus. Hy was sonder sonde. Die ware volmaakte Israeliet. (Dink aan die subtiele versoekings in die woestyn wat Hy meesterlik geslaag het.) Die vlekkelose Lam van God! 

God het vir Jesus sonde gemaak vir ons – Dit gaan hier oor die straf op sonde. NAB- “as sondaar behandel” God het Hom gestraf as sondaar wat die dood verdien! Dit steun duidelik op uitsprake van die profeet in Jesaja 53:5,6,10.* In Galasiers 3:13 kry ons ook ‘n soortgelyke uitspraak. “Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons 'n vloek te word” 

Jesus kry die straf en die vloek. Wat kry ons? Wat is die effek op ons wat glo? Ons kry die geregtigheid van God in Hom. Met ander woorde deur ons verbondenheid aan Jesus staan ons in ‘n nuwe verhouding met God. Ons is nou vergewe, vrygespreek. Dit is duidelik dat deur die aksie van God in Jesus daar ‘n nuwe verhouding met God tot stand kom. Al drie hoof terme in die gedeelte : nuwe skepping, versoening, geregtigheid van God saam, beskryf die nuwe verhouding wat tot stand gekom het en radikaal ons verhouding met God en al ons aardse verhoudings beïnvloed. 

Samevattend: 

Dit gaan hier oor ’n ongelooflike wonderbaarlike OMRUILING - die sondelose Christus is as sondaar behandel, Hy word belaai met ons sonde, Hy is veroordeel as sondaar, behandel as ’n vervloekte wetsoortreder. Hy kry die doodstraf. Ons kry die lewe. 

Hy is ons plaasvervanger, Hy het plekke met ons omgeruil. Ons kry die status van sy geregtigheid. As ek in Jesus is staan ek sonder skuld, sonder straf, sonder veroordeling voor God, nie op grond van iets wat ek gedoen het nie, maar van Christus se werk aan die kruis! Daar bestaan geen beter nuus as dit vir helbestemde sondaars nie! Wat maak jy met hierdie nuus? 

2) DIE DRINGENDE OPROEP Paulus waarsku hulle dat hulle nie die genade wat deur Jesus na ons kom deur hulle vingers moet laat glip nie. “As medewerkers van God doen ons ‘n beroep op julle om te sorg dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie.” (6:2) Hy pleit met ander woorde: “Moenie hierdie heerlike verlossing misloop nie! Moenie God se genade in Jesus verwerp nie!” Hy wil as’t ware waarsku : “Die genadeboodskap het dan geen uitwerking op julle nie, pasop dis gevaarlik!” Jy sien, genade moet mos ‘n verskil in jou lewe maak! Ook in ons verhoudings met mekaar. Genade moet mos lei tot groei in heiligheid, liefde vir God, liefde vir mekaar. Genade moet tog die gevolg hê – dat ons begin leef vir die Een wat sy lewe vir ons gegee het. ‘n Lewe vir Hom, nie meer vir geld, aansien en wellus nie! “Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het. En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.” (5:14,15) 

Paulus onderstreep die dringendheid met ‘n aanhaling wat kom uit Jesaja 49:8. “Hy sê: "Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor, en op die dag van redding het Ek jou gehelp." Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding.” (6:2) Met Jesus se koms het die regte tyd, die unieke geleentheid vir redding nou aangebreek! Moenie uitstel nie, moenie laat dit verbygaan nie. Daar sal nooit ‘n beter tyd en geleentheid vir redding wees as nou nie! Moenie nog wag vir ‘n wonderwerk of ‘n teken nie. Die trein het gestop, nou moet jy opklim! Moenie uitstel nie! Hoe lank stel jy al uit om die reddingsgenade van Jesus te aanvaar? Hoe lank haak jy vas by daardie een sonde wat hinder dat jy dankbaar kan wees vir God se genade? Jy besef al vir baie jare daar is gewoontes, gesindhede of verhoudinge in jou lewe wat ‘n gruwel is vir God! Kom vir hulp na Jesus. Kom met erns. Kom met bereidheid om te breek met daardie verkeerde gewoonte of sondige verhouding... Vergeet van alle ander nuwejaarsvoornemens. Hierdie is die een saak bo alles! 

Die tyd van redding is NOU. 

Die verlede is in elk geval onherroeplik verby. Die toekoms, selfs die volgende uur, wat nog te praat van môre is onbekend en buite ons beheer. Jy het net NOU, NOU om die grootste besluit van jou lewe te neem... 

Die veld is groen. Dit het positief gereageer op die genadereën! (Tsintsabis, Januarie 2020)


* Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.
Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom. Jesaja 53:5,6

Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel, om hom die pyn te laat ly. As hy sy lewe as skuldoffer gee, sal hy ‘n nageslag hê en nog lank lewe, deur hom sal die wil van die Here sy doel bereik. Ná sy bitter lyding sal hy weer die lig sien en hy sal die Here ken. My dienaar, die regverdige, sal baie mense regverdig maak: hy sal die straf vir hulle sonde dra. 

Jeasaja 53:10,11

Donderdag 02 Januarie 2020

NOOIT LAAT NIE!


JA, JESUS IS NOOIT LAAT NIE – GLO EN HOU OP VREES! 



TYD


Tyd speel ‘n deurslaggewende rol in ons lewens. Ons kan nooit wegkom van tyd nie. Ons aardse lewens is onlosmaaklik verbonde aan tyd. Ons hele lewe word ingedeel deur tyd en geregeer deur tyd. Die sekondewyser staan nooit stil nie. Elke uur en elke dag kry ons net een keer. Verlede jaar 2019 is onherroeplik verby! En die onbekende 2020 hardloop reeds met ‘n spoed! Ons word beperk deur tyd en tydsindelings- deur vervaldatums, afsnydatums, sluitingsdatums en uiteindelik ’n sterfdatum! 

Hoe het Jesus met tyd gemaak? Jesus is waarlik mens. Hy is gebore as mens. Ook die beperkings van menswees is deel van Hom – Hy word honger, moeg, Hy kon net op een plek wees… As mens was Hy ook in ‘n sin beperk deur tyd en ook Hy het ’n sterfdatum gehad. En tog, was Hy nooit laat nie! * Hy het die beperkings van tyd oorkom. Hy sal ook nooit te laat by jou kom nie! Hierdie tweedelige ineengevlegte genesingsberig in Lukas 8 demonstreer dit so duidelik. 

Jesus is altyd betyds en op die regte tyd op die regte plek – al dink mense nie so nie. Al voel ons beslis nie altyd so nie.

Ons sien dit so duidelik in Lukas se beskrywing van hierdie twee wonders in Lukas 8:40-56die genesing van die vrou wat aan bloedvloeiing gely het en die opwekking van Jaïrus se dogtertjie uit die dood. Onthou net – Jesus se wonders was bedoel om te demonstreer dat Hy mag het, Goddelike mag om die vloek en onreinheid van die sondeval om te keer. 

Beide die vrou en die dogtertjie het gely onder die gevolge van die sondeval en die gevolglike vloek wat die wet meebring. Volgens die Mosaïese wette was hierdie vrou permanent in ’n toestand van onreinheid. (vgl. Levitikus 15:19-28) Dit verklaar haar skaamte. Ook die dogtertjie was in ’n sin onrein, sy was ’n lyk en volgens die wet van Moses mag ’n priester byvoorbeeld nie aan ’n lyk geraak het nie. Dit sou hom onrein maak. (Levitikus 21:1) 

TWAALF JAAR

Dis opvallend dat in beide die vrou en die dogter se geval die getal van twaalf jaar ’n rol speel. Sien vers 42 en 43. Mens kry die indruk dat Lukas dit doelbewus wil uitlig. Dit sê iets van die erns en hartseer van beide die vrou en dogtertjie se situasies. ‘n Paradoks. Vir die dogtertjie was 12 jaar te kort – sy het nog nie genoeg tyd gehad om groot te word en te lewe nie – 12 jaar se tyd was te min. Vir die vrou was 12 jaar te lank. Die siekte het ’n te groot tyd van haar lewe gesteel. Van die dogtertjie sou mens kon sê : “Hoekom so kort! Waar was die Here?” Van die vrou : “Hoekom so lank? Waar was die Here?” 

ONGEDULDIG, MOEDELOOS, BANG...?

Jy worstel dalk ook met dinge in jou lewe waarvan jy wil sê: “Here hoekom so kort? Waar is U? Here, hoekom so lank, waar is U?” Die troos is dat Jesus altyd daar is vir jou op die regte tyd en op die regte plek. Ja, ons verstaan nie sy tyd nie, ons verstaan nie sy plan met ons nie. Dikwels sou ons dinge anders of vinniger wou gehad het. Maar Hy is nooit laat nie. Hy weet wat Hy doen. Ons raak ongeduldig, moedeloos, beangs, paniekerig... Dink hoe moedeloos moes hierdie vrou wees na 12 jaar... Dink hoe beangs en benoud moes Jaïrus wees oor die vertraging... Dit lyk of Jesus te laat by sy kind gaan opdaag! Terloops, dit lyk asof Jesus doelbewus toegelaat het dat sy gaan na Jaïrus se kind vertraag was. In die geval van Lasarus se dood was dit nog duideliker... Hy het Hom glad nie gehaas na Lasarus nie en vier dae “laat” gekom! (Lasarus was toe al in sy graf) Volgens menslike beskouing het die vertraging in tyd wat deur die vrou se genesing veroorsaak is, gemaak dat Jesus te laat by Jaïrus se dogtertjie gekom het. En tog was Jesus presies betyds, betyds om God op 'n baie groter manier te verheerlik as wat die geval sou wees as Hy vroeër daar was en genees het. Nou toon Jesus dat Hy mag het, selfs oor die dood! 

Jesus was elke keer presies betyds om redding te bring en op so ’n manier dat God geëer is! 

Kom ons weet hier aan die begin van 2020: 

Jesus bring hoop vir sondaars in nood. Ons grootste nood is die sonde en natuurlik die gevolge van sonde. Jesus kom verlos ons van beide. Hy vergewe, reinig en verlos nou reeds. Eendag by die wederkoms sal alle gevolge en letsels van die sonde uitgewis word. 

Jesus in sy reddingswerk is nooit beperk nie. Hy is nooit laat nie! Jesus se genade en krag om sondaars aan te raak kan nie deur tyd en omstandighede ingeperk word nie. Jesus is die Here. Die Here ook oor tyd, oor moeilike omstandighede, Hy triomfeer oor ons beperkings en gebreke, ja oor al die ellendes van 'n stukkende wêreld. Hy stel diegene wat na Hom soek en na Hom roep (soos die vrou en  Jaïrus) nooit teleur nie!

Omdat Jesus se almag groter is as die beperkings van tyd, groter is as die mag van sonde en dood hoef ons nie moedeloos, bang en paniekerig te wees nie. Jesus se almag en juis sy liefdevolle almag roep ons op tot geloof. Mag sy gerusstellende woorde aan die bekommerde en angstige Jaïrus ook rus en vrede in jou en my harte bring... vers 50! “Moenie vrees nie. Glo net, en sy sal gered word.” ** Met hierdie woorde sê Jesus : “Vertrou my , want ek is in beheer, ek is nooit laat nie, my mag is onbeperk...”

Laat jou geloof tot aksie oorgaan – Kom na Hom met jou diepste nood en vertrou Hom! Vertrou Hom al pas Hy nie by jou tydskema in nie. Vertrou Hom, HY IS NOOIT LAAT NIE!





*Erkenning aan Paul Every. Oordenking op YouTube by MMM297
** “gered word” -  swqhsetai in Grieks



Woensdag 01 Januarie 2020

VIR 2020 : Johannes 20

Jesus se nuwejaarsboodskap - ontvang onverdiend die gawe van vrede, maar ook die opdrag om die vrede uit te deel…



Dit gaan nie goed met Jesus se dissipels hier in Johannes 20:19-23 nie. (Dalk ook nie met jou hier aan die begin van die nuwe jaar nie?) Sedert Jesus se indringende gesprekke met hulle in die bokamer voor die kruisiging het baie dinge gebeur. Hulle moes sien hoe Jesus voor hulle oë verneder en bespot word en hoe Hy ‘n grusame marteldood aan die kruis sterwe. Erger nog, hulle het Hom in die steek gelaat en voel seker baie skuldig en vol selfverwyt. Hulle het misluk as volgelinge, misluk in geloof en vertroue. Hulle is onseker, bang, vol vrees... (daarom is hulle hier weggekruip agter geslote deure) Dit lyk asof hulle die troos en opdrag wat Hy hulle voor sy kruisiging in Johannes 14:1 heeltemal vergeet het. 



“VREDE VIR JULLE!”

Maar nou kom die opgestane Jesus weer op sy inisiatief na hierdie jammerlike mislukte groepie toe. En merkwaardig, Hy kom nie met verwyte en beskuldigings nie, Hy kom nie met harde woorde en strafaankondigings nie. Hy kom met ‘n positiewe helende boodskap. ‘n Boodskap wat hoop en herstel bring : “Vrede vir julle!” Dis meer as net ‘n gewone groet. Dit sien ons uit die feit dat dieselfde woorde in vers 21 herhaal word. Jesus vervul ook hier ‘n belofte wat Hy voor Sy kruisiging gemaak het. (14:27; 16:33)

Jesus kom gee ook opnuut sy vrede hier aan elkeen van ons wat ‘n dissipel is aan die begin van die jaar 2020. 

En dis so wonderlik, Jesus se vrede is nie ‘n beloning wat Hy gee vir supermense nie. Nee, Jesus deel vrede (vergifnis, vernuwing, 'n skoon gewete) uit aan juis skuldige, stukkende en sondige mense soos ons, want Hy het aan die kruis ons skuld, skande en sonde reeds uitgewis! 

Hy identifiseer Homself baie duidelik as die Gekruisigde! Hy het hulle sy deurboorde sy en hande pertinent gewys. (20) Ja, die Opgestane Here is Niemand anders as die Offerlam van God nie! Dis juis die einste weersinwekkende en afgryslike kruisgebeure wat die basis is van die vrede wat aan die dissipels hier toegesê word. Sy bloed was die prys waarmee ons vrede gekoop is!  Ons Koning en Heer het sy lewe vir ons as bevrydingsoffer gegee! Ons skuld voor God is finaal uitgewis aan die kruis! Daarom en net daarom is ons nie nou ontvangers van straf nie, maar van vrede!

“...SO STUUR EK JULLE”

Jesus gee aan elkeen wat Hom in die geloof aanvaar sy vrede. (Ja, al verdien ons dit hoegenaamd nie – nes hierdie dissipels) Maar dan gaan Hy verder. Hy gee die opdrag : “Soos die Vader My gestuur het stuur ek julle.” Is dit nou nie weereens verbasend nie? Die groepie wat misluk word weer uitgestuur! Ons sou dalk redeneer, "nee wat julle het julle kans gehad en dit verbrou." Jesus se vrede en vergifnis is so volledig, Hy skenk nie net vergifnis nie, maar vertrou hulle met 'n nuwe opdrag! En dis 'n geweldige opdrag in omvag en belangrikheid :  Ons moet Jesus se bediening van vrede en vergifnis verder neem. Jesus se taak gaan voort via sy dissipels. 

Ons gaan aan met Jesus se werk. 

Met sy missie! Dis nie ‘n nuwe vreemde gedagte nie. Jesus het reeds daarvan melding gemaak in sy hoëpriesterlike gebed nog voor die kruisiging. “Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur;” (Joh 17:18) 

Hierdie gestuur wees het ingrypende implikasies vir my en jou. Om ‘n gestuurde te wees beteken om die opdragte en wense te gehoorsaam van die Een wat jou gestuur het. Jesus se opdragte moet van nou af eerste in ons lewens wees. (ek is nie meer my eie baas nie) As gestuurdes moet ons voorbereid wees op lyding en verwerping (selfs in ons eie families), net soos Jesus as Gestuurde van die Vader gely het en verwerp is. Maar as gestuurdes kan ons ook weet, wag daar ‘n heerlike beloning van die Vader, net soos Jesus beloon is.

Is jy ‘n onverdiende ontvanger van Jesus se vrede? Onthou dan hierdie jaar, jy is ‘n gestuurde. Sien jouself as ‘n gestuurde gemeentelid en nie net as ‘n ontvanger of passiewe toehoorder nie. En natuurlik die eerste groep mense waarheen ons gestuur word is ons eie huismense. Juis daar moet ons die boodskap van vergifnis en vrede uitleef en toepas. Maar ons word ook verder gestuur – werksmense, mense van ander kulture, binne ons landsgrense en ook buite ons landsgrense, soos die Here deure sal open. 

Ja, ons is stukkende gebroke mense – net soos die dissipels, maar dis juis na mense soos ons wat Jesus kom en ons bemoedig, troos, maar ook uitdaag met sy groet : “Vrede vir (jou) julle!” Dis mense soos ons wat ook uitgestuur word.

Jesus gee nie opdragte waarvoor Hy ons nie toerus nie. Johannes 20:22 is ‘n simboliese handeling van die bekragtiging van die Gees wat sou kom. “Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: "Ontvang die Heilige Gees!” En die Gees het tydens Pinkster gekom en is tot beskikking van elke kind van God. Die boodskap waarmee ons gestuur word is niks anders as die evangelieboodskap nie. Die kruisboodskap. Want daar het God self deur die offer van sy Seun vrede bewerkstellig. Oor hierdie boodskap mag en kan jy nie stilbly as jy self vrede ontvang het nie.


Ontvang die vrede wat Jesus ook hier in die begin van die jaar 2020 uitdeel, aan mense wat waarlik in Hom glo, maar juis ook aan mense vol mislukkings, foute, vrese... en gaan deel dit uit...

En is jy dalk glad nie 'n dissipel nie? Wel, Hy nooi jou, juis  deur die boodskap waarmee Hy hulle uitgestuur het.

By die Spitskoppe