BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 02 Oktober 2017

#PrayForLasVegas

Las Vegas is die nuutste plek waarvoor gebed gevra word... ons ken nou al die lys van die onlangse verlede wat insluit London, Parys, Brussels... Wat moet ons bid vir hierdie plekke, plekke waar die meeste inwoners in elk geval sonder God en sy gebod lewe? Wil hulle voor gebid word? Moet hulle iets leer of moet ons dalk iets leer uit hierdie rampe?

Wat sou Jesus sê?

Ons hoef nie regtig te raai nie, want Jesus het toe Hy op 'n stadium met 'n soortgelyke ramp gekonfronteer is, baie insiggewende en duidelike kommentaar gelewer... Lees gerus Lukas 13:1-9. Mense bring hier vir Hom die nuus van ‘n menseslagting deur die wrede Pilatus. 

Jesus se reaksie (soos gewoonlik) is onverwags. Hy vaar nie uit in veroordeling teen Pilatus of die vermoordes nie. Hy gee ook nie allerhande slim verklarings vir die misdaad nie. Dis seker wat hulle sou wou gehad het, - dat Jesus die korrupte Romeinse regering van die dag sou slegsê. Of was daar iets fout met die godsdiens van die slagoffers? (terloops dis wat ons sou wou gehad het as dit in ons tyd gebeur het - “Ja, daardie goddelose dobbelaars van Las Vegas moet vir hulle kry...") Nee, Hy kom met ‘n deurdringende teenvraag“Toe antwoord Jesus hulle: "Dink julle dat hierdie Galileërs groter sondaars was as al die ander Galileërs omdat dit met hulle gebeur het? Nee, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle net soos hulle ook almal omkom!” (Vers 2,3) 

Waarom sê Jesus dit? Dit was dalk inderdaad hoe hulle gedink het. Onthou hierdie skare was besig om na Jesus se lering te luister oor die noodsaaklikheid van tydige versoening. Jesus se boodskap was dat hulle betyds moet regmaak vir die naderende oordeel. (12:58-59) So tipies mens kyk hulle nou weg van hulleself na ander. Hulle wil insinueer : “Kyk, hoe tref die oordeel vir ander!” Dis mos wat ons ook so graag doen, nê?

Jesus wil dus sê : “Waarom skram julle weg, waarom dink julle nie aan julle eie toekomstige ondergang nie? Julle moenie dink julle kan die voorafgaande boodskap van oordeel sommer so van julle af weg skuif nie." Onthou hierdie is mense wat die prediking van Johannes die Doper en Jesus (en sy uitgestuurde apostels) gehoor het. Dit was die prediking van bekering en verootmoediging. Nou herinner Jesus hulle: "As julle julle nie bekeer nie sal dieselfde lot julle tref. Die gebeurtenis van die vermoorde Galileërs moet vir julle ‘n teken en waarskuwing wees wat met julle sal gebeur as julle nie bekeer tot Jesus nie. Ja, hierdie oordeel wag vir julle al is julle so godsdienstig..."

Om hierdie boodskap nog verder vas te lê by sy hoorders verwys Jesus na nog ‘n ramp waarvan almal kennis gedra het. ‘n Ingenieursfout waarin 18 mense hulle lewens verloor. ‘n Gebou wat ineenstort...iets wat dikwels ook in ons tyd gebeur... Jesus se boodskap is : “Moenie hierdie ramp afmaak as ‘n uitsondering wat julle dink julle nooit sal tref nie. Dit wat op klein skaal gebeur het met 18 inwoners van die stad Jerusalem sal met almal gebeur wat My verwerp en hulle nie tot My bekeer nie."

NIE VINGERWYS NIE, MAAR SELFONDERSOEK!

Die punt is : Die geluide wat ons hoor (massamoord, onreg of rampe) is waarskuwingskote vir die eindoordeel wat verseker kom. Ons moenie redekawel oor ander se skuld of onskuld nie, maar die hand in eie boesem steek...

HOE MOET ONS DIE NUUS VAN DIE DAG VERSTAAN?

Jesus gee dus in hierdie gedeelte vir ons ‘n oefening in die lees en verstaan van die nuus van die dag. Hoe ons die nuus van al die ellendes rondom ons moet interpreteer... Hy leer mense om die tekens van die tyd reg te onderskei. Hoe om die boodskap van aktuele gebeure reg te verstaan en te beoordeel. Dit was die skare se probleem. (12:56) Die tye en omstandighede het iets vir hulle gesê : “Bekeer julle!” Maar hulle was doof en blind daarvoor. Al die ellendes wat die afgelope jaar en elke dag onder ons aandag kom, basuin eintlik net een boodskap uit : “Bekeer julle, draai om, verander!”

Sommige sondaars gaan ’n vroeë oordeel tegemoet; ander s’n word uitgestel. Alle rampe is eintlik maar voorafskaduwings van die groot finale oordeel. 

Ons wat nou leef kry nog tyd vir bekering. 

Die finale oordeel word uitgestel. Maar onthou uitstel beteken nie in hierdie geval afstel nie. 

Uitstel van die oordeel is ‘n geleentheid wat aangegryp moet word. Hierdie geleentheid is vandag! Dis die boodskap van die gelykenis wat Jesus nou vertel in vers 6 tot 9. Hierdie gelykenis van die onvrugbare vyeboom volg dus logies op die voorafgaande.

Die hoofstrekking van die gelykenis is baie duidelik. Jesus het in die voorafgaande gedeeltes verwys na die onafwendbare oordeel. Israel, deur hulle weiering om hulle tot Hom te bekeer verdien hierdie oordeel. Die tekens van die oordeel is reeds daar. Die nuusgebeure van die dag is voortekens van God se oordeel. Daar is egter nog ’n kans vir bekering. Jesus self, die tuinier tree as middelaar en pleitbesorger op. In die situasie van destyds het Hy prakties deur Sy genesings en seëninge mense se lewens verleng en hulle nog kans gegee tot bekering. Jesus rek die tyd uit sodat ons tot insig en inkeer kan kom. Hy gee ons nog kans.... Die gelykenis maak dit baie duidelik :

Daarna het Hy hierdie gelykenis vertel: "‘n Man het ‘n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was. Toe hy vrugte daaraan kom soek maar niks kry nie, sê hy vir die tuinier: ‘Kyk, dis nou drie jaar dat ek aan hierdie vyeboom vrugte kom soek, en ek kry niks nie. Kap hom uit! Waarom moet hy langer die grond uitput?’
Maar die tuinier antwoord: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes. Miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra. Maar so nie, kan u hom uitkap."

“Laat hom nog hierdie jaar staan...” NOU is nog genadetyd. Hierdie genadetyd sal egter nie vir altyd duur nie. Benut dit nou!


Hier is twee groot sake wat ons hier moet raaksien en prakties toepas op onsself. Die gelykenis teken vir ons aan die een kant ‘n besonder geduldige tuinier en aan die ander kant ‘n onvrugbare boom wat eintlik net in die pad is, maar tog ten spyte daarvan buitengewone sorg en aandag kry. Bedink en herkou bietjie hierdie twee gedagtes. Dink oor die boom... ekself, onsself... mag ons onsself sien vir wie ons is ... ondankbaar, onvrugbaar, van weinig nut vir God en sy Koninkryk. Laat ons nadink en onsself toets... “Het ek die afgelope jaar die vrugte van die Heilige Gees gedra, was daar liefde en blydskap en tevredenheid in my lewe, kon God sy doel met my bereik of was daar eerder onrein en bose gedagtes, gesindhede van onvergewensgesindheid, wraakgevoelens, bitterheid? Het ons Hollywood se modes en gewoontes nagevolg in plaas van God se Woord?” Dink aan al die voorregte en geleenthede wat na ons kant gekom het... bo alles die evangelie van die Seun van God wat die volle prys vir sondaars betaal het! Wat was ons reaksie, het ons omgedraai en Jesus gevolg of het ons net soos Israel volhard in ongeloof en sonde? Mag die Heilige Gees ons oortuig van sonde en verdorwenheid... Maar kyk ook na die Tuinier... sien sy vriendelike gesig, sien die merke in sy hande en voete! Jesus Christus... luister na sy pleitroep, sy uitnodiging... Hy wil jou en my (en die oorlewendes in Las Vegas) nog ’n kans gee...

7 opmerkings:

  1. Dink jy regtig die lys van “rampe” is ‘n metode van Hom om mense oor te haal om hulle te bekeer? Dink jy nie dit is bietjie siek om aaklige insidente te gebruik om ‘n liefdesboodskap te versprei nie?

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Anoniem, ek antwoord jou baie graag:

      1. Dit gaan natuurlik nie oor wat ek dink nie, maar oor wat die duidelike boodskap van Lukas 13 soos hierbo verwys is, beteken. Jesus dring baie duidelik in die lig van die tragiese moord op die Galileers aan op bekering en onderstreep dit met die gelykenis van die onvrugbare vyeboom.
      2. Jou verstaan van liefde blyk gebrekkig te wees. Om mense dringend te waarsku teen die oordeel wat gaan kom, wat oneindig groter is as enige ander ramp op aarde is heeltemal binne die lyn van God se liefde! Las Vegas is 'n piekniek teen God se wraak op die oordeelsdag!

      Vee uit
    2. 1. Ek gee nie om om te sê ek dink NIE dit is Sy metode nie.
      2. Hoekom bangmaakstories gebruik om ‘n liefdesboodskap te versprei. Ek verstaan seker die liefde verkeerd.
      P.S. Ek dink nie Las Vegas slagoffers gaan hou van jou aanmerking “Las Vegas is 'n piekniek teen God se wraak op die oordeelsdag!” nie.

      Vee uit
    3. Jy het baie antwoorde, maar jou antwoorde word nie uit die Heilige Skrif gestaaf nie.
      Hoe kan jy Jesus se waarskuwings as "bangmaakstories" afmaak? Jesus maak dikwels van oordeelsgeskiedenisse uit die verlede gebruik om die erns van die komende oordeel te illustreer soos byv. die sondvloed uit die tyd van Noag en die geval van Lot se vrou.

      Dit gaan hoegenaamd nie oor wat Ek of JY dink nie, dit gaan oor die duidelike woorde van Jesus self. Hy praat dikwels van die dreigende oordeel om mense te waarsku om betyds te bekeer!

      Vee uit
    4. Word “God se wraak op oordeelsdag” regtig nog verkondig?
      Glo mense regtig nog Jesus gaan op ‘n dag op ‘n wolk in die hotspot Jerusalem aankom en links en regs “God se wraak”, wat Las Vegas se insident na ‘n piekniek laat lyk, begin uitdeel aan al die nie-bekeerdes? Regtig?
      Dit is nie hoe ek liefde verstaan nie.

      Vee uit
    5. Anonieme vriend, jy mis die punt. Dit gaan nie oor wat verkondig word of hoe jy dinge verstaan nie. Dit gaan oor die duidelike boodskap van die Bybel. Jesus self het dit meer as enigiemand anders duidelik gemaak dat daar 'n oordeel kom en dat God sy wraak gaan uitoefen! Jy moet maar 'n keuse maak of jy die Woord gaan glo of nie! (en dan die gevolge dra)

      En ek wonder ook maar net waarom is jy skaam vir jou naam?

      Vee uit
  2. Die werklikheid van God se liefde is juis in Sy reddingsplan vir die wereld te kry.

    Maar die mens sal dit nie verstaan nie, nooit nie want ons lewens is self gesentreerd en nie God gesentreerd.

    Slegs wanneer ons God se genade en Christus se offer verstaan op grond van die verduideliking van die Heilige Gees kan ons regtig verstaan en dan aanvaar.

    Wie ore het moet luister -

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.