BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Hou koers!. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Hou koers!. Wys alle plasings

Saterdag 02 Januarie 2016

KOERSVAS IN DIE NUWE JAAR

- nie los voornemens nie, maar ‘n duidelike roeping en rigting!



Die Bybel praat nêrens van nuwejaarsvoornemens nie (gelukkig nie), so jy hoef nie so sleg te voel as jy nie so iets het nie of hulle binne die eerste week al vergeet het nie.


Die Woord gee egter ‘n duidelike roeping en rigting waarvolgens die kind van God sy hele lewe en dus ook die jaar 2016 behoort in te rig. Die apostel Paulus is ‘n handboekvoorbeeld van iemand wat hierdie roeping en rigting ernstig opgeneem en konkreet uitgeleef het.

Twee voorbeelde uit sy lewe kom by mens op. Dit sal jou as kind van God dalk baie goed doen om dit so ‘n bietjie te herkou voordat die nuwe jaar op dreef kom en ons die gevaar loop om maar net weer deur die maalkolk van verpligtinge en gebeure meegesleur te word.

Die een voorbeeld kom uit Paulus se brief aan die Filippense. Dis brief wat hy uit die tronk skryf. Wat dit so merkwaardig maak is dat jy tevergeefs na pessimisme en selfbejammering in hierdie brief soek. Inteendeel, gaan lees bietjie die kort briefie en kyk hoeveel keer kom die woord blydskap daarin voor... Hoe kry Paulus dit reg? Hy het geleef volgens ‘n duidelik doelwit en roeping sedert sy ontmoeting met Jesus op pad na Damaskus. Al sy vorige bates het vir hom onbelangrik en niksseggend geword en nou het hy een fokuspunt en ideaal : JESUS CHRISTUS!

Kyk hoe treffend stel hy dit: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.” (Filippense 3:10,11 NAB) 

Sy lewe draai om Christus (dit sê hy reeds in hoofstuk 1) tot so ‘n mate dat hy homself ten volle met Christus vereenselwig tot op die punt om ook in Jesus se lyding te deel. “Kom wat wil, ek wil net Jesus en sy krag beter leer ken en ondervind!”

Hierdie roeping van Paulus en die lewensrigting waarvoor hy gekies het, was nie maar net ‘n stuk filosofie op papier nie, maar was bepalend vir sy praktiese besluite en keuses. 

Ons kry ‘n pragtige voorbeeld hiervan in Handelinge 20. Paulus is besig met sy terugreis na Jerusalem na die voltooiing van sy derde sendingreis. Hy neem nou afskeid van die ouderlinge van Efese in ‘n aangrypende rede. Op hierdie stadium was dit duidelik dat groot moeilikheid en vervolging op Paulus in Jerusalem sou wag, soos dit inderdaad ook gebeur het. Paulus sê onder andere:

“En kyk, ek gaan nou gebind deur die Gees na Jerusalem; en watter dinge my daar sal oorkom, weet ek nie, behalwe dat die Heilige Gees in elke stad kragtig getuig en sê dat boeie en verdrukkinge my wag. 
Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap* my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God.” (Handelinge 20:22-24 OAV)

Een ding tel vir Paulus en dis om sy bediening wat hy van Jesus ontvang het te volvoer. In die lig van dreigende gevaar gaan sit hy nie op ‘n hopie en kou angsbevange sy naels nie... Nee, een visie oorheers sy hele lewe, die opdrag wat Jesus hom gegee het, om te getuig vir die evangelie van God se genade. Hierdie roeping vervul hy met BLYDSKAP! Wat verder met hom gebeur is ‘n bysaak... Dit wou hy voluit doen sonder vrees. Hoekom moes hy vrees? As hy lewe beteken dit vrugbare arbeid en as hy dan wel moet sterwe, dan is dit net wins, want dan is hy waar hy volkome gelukkig kan wees, vir altyd by Jesus!

Elkeen wat genade ontvang het, is geroep om 'n getuie te wees van hierdie genade, maak nie saak op watse manier nie!

Uit al twee voorbeelde is dit duidelik dat 'n koersvaste roepingsbewustheid, gepaard gaan met vreugde en blydskap, ongeag die omstandighede!

KOERSVAS MET VREUGDE!

Ek dink dis geweldige bevrydend om hierdie lewensbeskouing te hê en opnuut ons aan die begin van hierdie jaar daartoe te verbind en onsself gedurig weer hiertoe op te skerp...

Mag ek jou ‘n koersvaste 2016 toewens, gekenmerk deur ‘n duidelik roeping en rigting... wat ook al met ons verder sou gebeur, sal ons Here ons voor krag gee...



* volgens Bisantynse teks

Vrydag 21 Augustus 2015

HOU KOERS!

- en kom sonder vrees, veilig by die Vaderhuis!


“HOU KOERS!” is die pragtige en kragtige leuse van die Voortrekkers, maar dit het vir elkeen van ons iets belangrik te sê. Wat beteken dit? Dis om te hou by die regte pad en die regte rigting sodat jy by die regte plek kan kom. Dis die teenoorgestelde van verdwaal of afdwaal. Verdwaal is baie gevaarlik. Verdwaal maak dat jy jou bestemming en doel mis. Verdwaal kan jou jou lewe kos! As jy geestelik verdwaal, mis jy die ewige lewe!

HOU KOERS is dus ‘n baie belangrike lewens motto. Hou koers beteken prakties : “Kry die regte pad en bly by die regte pad!”

Die groot vraag is dan wat is die regte pad? Dis nie mos nie so eenvoudig nie. Ons kry so baie rigtings en idees wat aanspraak maak dat hulle die regte pad sou wees.

Daar’s soveel verwarring, soveel afdraaipaaie. Wat gister verkeerd was is vandag skielik reg in die oë van die wêreld.

Gelukkig dui die Bybel, God se Woord vir ons baie duidelik die regte pad aan. Johannes 14:1-6 is baie helder en gesaghebbend oor hierdie saak. Hierdie regte pad is nie ‘n idee of ‘n lysie reëls nie, dis ook nie ‘n klomp godsdienstige rituele of gewoontes nie, maar ‘n PERSOON! Jesus het vir hom gesê: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie." (6) Dis ‘n geweldige omvattende antwoord van Jesus self op Thomas se half pessimistiese siniese vraag in vers 5. Tomas sê toe vir Hom: "Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken?"

Jesus self is die pad (weg), die waarheid en die lewe! Die Johannes evangelie sê vir ons in geheel baie duidelik wie hierdie Jesus is : Hy bestaan van ewigheid af, want God het deur Hom alles geskep, Hyself is waarlik God. Net Hy kan God as’t ware aan ons verduidelik en verklaar. Hy het absolute mag oor die natuur : Hy kon water in wyn verander, Hy kon die brood vermeerder, Hy kon ‘n man wat blindgebore is weer laat sien. Hy is ook sterker as die dood – Hy wek Lasarus op wat al vier dae in die graf was. Maar Jesus is nie net sterk nie, Hy verneder Homself, maak Homself swak om ons te red. So is Hy is ook die Lam van God wat vir ons sondes geoffer is aan die kruis. Hy sterf aan die kruis juis tydens Paasfees toe die offerlammers in die tempel geslag word. Ja, toe sterf God se Lam vir my sondes! Die volmaakte Paasoffer! Sy werk aan die kruis was heeltemal genoegsaam, want Hy roep uit : “Dis volbring!” Hierdie Jesus het ook uit die dood opgestaan. Hy is vol genade en waarheid. Hy help die ongelowige Thomas om te glo, Hy vergewe Petrus en stel hom weer aan om sy skape op te pas! Jesus is alles wat ons nodig het om God te ken en toegang te kry tot die huis van die Vader. Hy kom weer om almal wat aan Hom behoort te kom haal.

Kom ons besef mooi wat hier staan:

Jesus wys nie net vir ons die pad nie, Hy is die pad/weg. Die pad na God. Eers as ek Jesus ken is ek op die regte pad. Om koers te hou is dus om gelowig by Jesus te bly en Hom te vertrou.

Jesus vertel ons nie net die waarheid nie, Hyself is die waarheid. As ek Jesus ken, ken ek die waarheid en het niks anders nodig om gered te word nie. Om koers te hou is dus om alles wat teenstrydig is met Jesus te verwerp en aan Hom vas te hou.

Jesus gee nie bloot vir ons die ware lewe nie, Hy self is die lewe. As ek Hom ken lewe ek regtig voluit. As ek Hom ken het ek die ewige lewe, wat nou reeds begin en altyd aanhou, ook na die dood. (1 Johannes 5:12) Om koers te hou beteken dus dat ek nie die sin en vreugde van die lewe sal soek in ander dinge wat my wegtrek van Jesus af nie.

EKSKLUSIEF!

Jesus self is die eksklusiewe pad na God. “Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” Hy is ook eksklusief die waarheid, eksklusief die lewe! Daar is geen ander manier om gered te word nie, behalwe deur Jesus! Hy is nie maar een van baie opsies nie, Hy is ons enigste opsie en hoop! Hy is die enigste Middelaar wat ons met God versoen (1 Timoteus 2:5), Hy is die enigste ware Hoëpriester wat vir ons intree by God as ons gesondig het. Hy is die enigste Redder en Verlosser. Deur geen ander Naam kan ons gered word nie! (Handelinge 4:12)

BEVRY VAN VREES!

Waarom sê Jesus hierdie dinge? "Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My.” (1) Hy wil ons bevry van vrees, angs en onsekerheid. Hy wil keer dat ons verdwaal. Hoe gaan
ons koershou, hoe gaan ons gevrywaar word van verdwaal? Glo in God, glo ook in Jesus! Dis so belangrik! Dis nie genoeg om net in die algemeen te glo dat daar ‘n Almagtige God is nie. Dis nie genoeg om te glo dat daar ‘n Goeie Vader is wat sorg nie. Ja, ons glo in Hom, maar ons moet ook spesifiek glo in Jesus Sy Seun wat die enigste pad na Hom is. Om kind van God te word, moet ons Jesus doelbewus aanvaar. (Johannes 1:11,12)

HOU KOERS beteken dus hou by Jesus. Hy self is die enigste regte koers! Kry Hom in jou lewe en bly by Hom!


Hou koers! (diep in Botswana)