- ‘n sameflansing van verbeelding, onkunde en dwaling.
Hulle is/was onder verskeie name bekend soos Die Ekklesia-Evangeliegroep, Gemeentes van die Verbondsvolk, Orde van die Verbondsvolk, Karmelbediening en wie weet wat nog. ‘n Mens voel eintlik verleë om op die onsinnighede wat hulle kwytraak te reageer, aangesien daar dan ‘n mate van legitimiteit aan die groep(e) verleen word en die Bybel ons duidelik waarsku om nie ‘n dwaas na sy sotheid te antwoord nie!
[Wat sê Jesus oor die Torah? Kliek op Yashua en die Torah]
Tog is dit dalk nodig om iets oor hierdie groep en hulle afgryslike dwalings te sê. Ekself kom al ‘n lang pad “saam” met hulle. Reeds in my kinderdae was een van die boeke van pastoor FWC Neser wat oor die sogenaamde verlore tien stamme van Israel handel al in Windhoek bekend waar dit toe al verwarring by Christene veroorsaak was. Dit was so ‘n rooi boek as ek reg onthou... Later as student het ek ‘n kamer in die Jeugtuiste in Pretoria gedeel met ‘n familielid van ds. Gert Steenkamp wat een van die groot voorbokke van die beweging was. Ons het soos dit studente betaam, lang gesprekke gevoer... En dis juis hier op Tsumeb, waar ek tans die voorreg het om die Woord te bedien, waar die einste ds. Steenkamp vir ‘n tyd leraar in die NG Kerk was voordat hy by hierdie vreemde leringe betrokke geraak en na Kuruman verhuis het. Tsumeb het dalk dus ‘n ereplig om te help om kosbare broers en susters wat mislei is weer vriendelik terug te roep en ander wat na hierdie dwalinge begin luister, baie ernstig te waarsku.
Hierdie Israel groepe toon geweldig baie ooreenkomste met ander gevaarlike sektes soos die Sewendedaagse Adventiste, die Jehova getuies en veral die Hebrew Roots Movement.* Oor laasgenoemde het ek reeds breedvoerig geskryf en onder andere die naamkwessie en die voedsel debat aangeraak. (Kliek op HRM en Maankykers) As jy meer oor die sabbatkwessie wil weet, kliek op SABBAT.
Wat is dan eiesoortig aan die Israelvisie?** Hulle glo dat die blanke volkere van die wêreld die verlore tien stamme van Israel is. Dit sluit dan veral ook die blanke Afrikanervolk in. Die wortels van hierdie denke kom van ‘n beweging bekend as British Israelism en is geïnspireer deur Engelse geskrifte van die 19 de eeu waaronder John Wilson se Our Israelitish Origin (1840). Ten spyte daarvan dat daar geen argeologiese, etnologiese, genetiese en linguistiese wetenskaplike gronde is vir hulle basiese vertrekpunte nie, volhard hulle in hulle dwalinge. Die vraag is nou, hoekom? En die antwoord is eenvoudig. Hierdie denkwyse pas goed in by baie Afrikaners se diepste rasse gevoelens veral in die huidige omstandighede in Suider Afrika waar baie van ons volksgenote tans bedreig en verontreg voel.
Volgens hierdie bewegings is die Adamiete (nageslag van Adam) slegs blankes (Kaukasiërs). Slegs blankes kan volgens hulle dus toegang tot die koninkryk van God verkry. Hulle is baie gou om vir jou te vertel dat al die nasies waarvan Openbaring praat, slegs blanke nasies is! 'n Mens wonder of hierdie mense regtig kan lees? Openbaring 5:9 kan dit tog nie duideliker stel nie! "Toe sing hulle 'n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie," Wat beteken ELKE dan? Hierdie dwaalleraars is so vasgevang in hulle blanke meerderwaardigheidsgvoelens dat die duidelik boodskap van die Skrif maar net gesystap word as dit nie by hulle denke pas nie.*** So is dit vir hulle ongemaklik om te erken dat God reeds in die Ou Testament ook alreeds heidene buite Israel begenadig en in die verbondsvolk opgeneem het. Dink aan Ragab en Rut. Wees maar seker vir hierdie voorbeelde sal hulle wel ook hulle gefabriseerde teenargumente gereed hê!
Blank wees is vir hulle die deursslaggewende saak. Die ander volkere is vir hulle sogenaamde "boknasies" en die sendingopdrag van Jesus geld nie vir hulle nie!**** Net hier sal elke kind van God alreeds die gevaarligte sien aangaan. Die basiese boodskap van die Bybel is dat sondaars uit genade op grond van Christus se verdienste aan die kruis gered word en nie vanweë etniese afkoms nie. Fisiese geboorte is nie die bepalende faktor vir my saligheid nie, maar wedergeboorte! (Johannes 3) En nou wonder ek sommer net waar pas mense met (effens) gemengde bloed in, diegene wat wel as blankes deurgaan, maar wie se voorgeslagte nie heeltemal so suiwer geleef het nie...?
Dis baie moeilik en eintlik nutteloos om met hierdie mense op ‘n nugtere manier te probeer redeneer, aangesien basiese taalkundige en teologiese insig grootliks by hulle ontbreek. Hulle gebruik ‘n tipe van op-die-klankaf teologie en taalkunde. Byvoorbeeld : Hulle beweer dat die woord British afgelei is van die Hebreeuse woorde “berit” (verbond) en “ish” (man). Dan word beweer dat al die lede van die verbondsras, al die nasies wat afstam van Israel, gevind word onder die “Berith-ish” of te wel “British”. (Dis natuurlik nou uitgebrei tot alle blanke volke) Verder word gesê dat die Angele, die Saksers en die Kelte, wat die basiese samestelling van die nasie van die Britse eilande vorm, die direkte afstamming van Israel is, deur wie God beloof het dat Hy sy koninkryk op aarde sou vestig.
En as jy wonder, wel hier is die “bewys” - die Engelse woord vir Saksers is “Saxon” en hierdie woord is ‘n verbastering van die begrip “Isaac-sons”. Dus begryplik dat mens met sulke skyn redenasies letterlik enigiets kan bewys. So sou ek kon bewys dat die eerste kar op Karasburg vervaardig is en dat mal mense van Maltahöhe afkomstig is!
Hulle lukrake en bedenklike Skrifgebruik (eintlik misbruik) skreeu ten hemele. Volgens (ten minste sommige van) hulle is swart mense net diere. Hoe kom hulle by so ‘n drogredenasie uit? Hulle sal byvoorbeeld na ‘n teks soos Esegiël 36:32 verwys: “Skaam julle en bloos oor julle weë, o huis van Israel”. Dan word daar soos volg geredeneer: Israel was en is mense wat kan bloos, met ‘n blanke vel en blosende rooi wange en lippe. Dan word ‘n skrikwekkende gevolgtrekking gemaak: “Israel van die Bybel was blankes net soos u en ek terwyl die kinders van die Bose, die krom en verdraaide geslag, anderskleuriges was”. Daar is nog baie ander voorbeelde van uiters belaglike eksegese, wat maar liewer hier verswyg moet word... Hierdie mense se Bybelkennis is uiters gebrekkig, maar hulle beïndruk die eenvoudiges met lang aanhalings uit veral Strongs wat baie indrukwekkend klink en lyk vir mense wat nie taalkundig geskoold is nie.
Hierdie wit teologie en rou rassisme van die Israelbeweging is ‘n ernstige dwaling wat mense wegvoer buite die histories Christelike kerk van alle eeue! (net soos die sogenaamde Swart Teologie van die Marxistiese bevrydingsbewegings) Dit skreeu ook teen die kerk se sendingwerk van twee duisend jaar! Hoe kan mens so blind wees? Wat weet hulle van die menigtes gekleurde Christene wat deur die loop van die eeue hulle getuienis van hulle geloof in ons Here Jesus met hulle bloed verseël het? Erger nog dit is ‘n ontkenning van die Nuwe Verbond en die evangelie self! Dit kom neer op ‘n minagting van Jesus ons Verlosser!
*Hulle geskrifte wemel dan ook van wolhaarstories en verdagmakery. Een so 'n bewering lui dat Calvyn se van eintlik Cohen was en dus is hy eintlik net ’n Jood wat die blankes vir eeue deur sy Institusie mislei het.
**Hulle gebruik gewoonlik nie hierdie naam vir hulle self nie.
***Prof Malan het hierdie dwaling ook sterk aangevat :
Die volgende teks verskaf aan die Israelvisie groot hoofbrekens omdat dit hulle dogma ondubbelsinnig weerlê:
“Die Edomiet moet jy nie as ‘n gruwel beskou nie, want hy is jou broer; die Egiptenaar moet jy nie as ‘n gruwel beskou nie, want jy was ‘n vreemdeling in sy land. Kinders wat vir hulle in die derde geslag gebore word, mag in die vergadering van die HERE kom” (Deut. 23:7-8).
Ds. Steenkamp voel verplig om hierdie gedeelte as verkeerd te beskou en gevolglik te verwerp:
“Die onmoontlike van die bestaande teks is dat dit bots met die res van die Skrif. Jahweh is onveranderlik, konsekwent. Hy sal nie die een oomblik dít sê en die volgende oomblik iets anders bedoel nie. Die Egiptenare was vyande, en uit dié slawehuis is Israel uitgelei. Die Edomiete word genoem ‘n volk op wie God vertoorn is tot in ewigheid (Mal. 1:1-4). Ek sou ook graag wou weet hoe en waar die derde geslag bepaal kon word in die praktyk van die lewe. En as die derde geslag dan kon inkom, waarom dan nie die tweede of die eerste nie? Nee, dié teksgedeelte het geen sin nie. Moses het die Egiptenare ook nie as sy naaste behandel nie (Ex. 2:12-13). Ons het hier met ‘n foutiewe teks te doen.” (Soos aangehaal deur Prof. Johan Malan)
**** Dit lees mens in 'n sekere PJJ van Rensburg van die Orde van die Verbondsvolk se geskrif. In hierdie uiters rasbehepte geskrif gee hy onder andere erkenning aan Neser en Steenkamp.

[ 'n Stukkie geskiedenis: Dominee Gert Steenkamp was van 1969 tot 1973 in die bediening op Tsumeb.]
Vir meer duidelikheid en Skrifuitleg kliek op HONDE