BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 23 April 2022

GELUKKIG!

- Psalm 32 Sondebelydenis : die duidelike pad na ware vryheid en geluk.


Ons weet almal hoe vindingryk en bedrewe ‘n alkoholis is om sy drank en sy sonde weg te steek… Hy steek dit so goed weg dat hyself nie eers besef hy het ‘n probleem nie. Maar dis natuurlik net alkoholiste wat deskundiges is op hierdie gebied nie. Alle sondaars dra maskers… almal is maar skelms en redeneer "Ag, die mense moet tog net nie weet nie! Ek moet maar net maak asof alles reg is."


Maar dis juis die groot tragedie. Om stil te bly oor sonde, om dit weg te steek of dit te ontken, los geen probleme op nie. Inteendeel. Dit mergel jou uit, dit maak jou siek, dit tap jou kragte, want die Here se hand druk swaar op jou. 

Ons leer dit in Psalm 32:3,4




Ja, onbelyde en verswygde sonde versteur die gemeenskap met God. Dit maak o.a. dat jou gebede nie verhoor word nie. Jesaja 59:1,2 leer ons dat God nie doof en magteloos is om te help nie, maar dat ons ongeregtighede die probleem is waarom Hy nie reageer op ons gebede nie...




As ek egter eerlik word voor God en my sonde erken en bely, dan kom daar ‘n heerlike verandering. VERGIFNIS. 



En hierdie vergifnis wat God skenk lei tot bevryding en vreugde! Kyk watter groot verandering en ommekeer het hierdie psalmis beleef. Dit lyk asof vers 3-5 ‘n persoonlike bekeringsgetuienis is. Hy wil sê : Ek het eers my sonde probeer wegsteek en ontken, maar dit het geen verligting vir my gebring nie. Als het net erger geword. Maar toe ek my sonde deeglik, omvattend voor God bely het, het daar ‘n onbeskryflike verligting gekom. Die psalmis gebruik drie verskillende Hebreeuse woorde wat hier vertaal word as sonde, sondeskuld en oortredings om die omvattendheid, volledigheid, erns van sy belydenis te beklemtoon. Moenie net halfhartig erken, ja ek is ook maar ‘n sondaar nie – nee, erken voor die Here – “Ek is ‘n dief, ‘n leuenaar, ‘n dronkaard, ‘n hoereerder, ‘n ongehoorsame….” Hierdie belydenis het onmiddellike heerlike gevolge gehad. 


Sondebelydenis is soos die oopmaak van ‘n dam se sluise. Dink aan ‘n oorvol dam wat dreig om te kraak en te breek as gevolg van die geweldige waterdruk wat opbou en al erger word… En dan eensklaps word die sluise voluit oopgetrek en daar kom verligting… die druk neem af en die gevaar is verby! 



TREK OOP DIE SLUISE VAN BELYDENIS EN VOEL DIE VERANDERING!

GELUKKIGE MENS!

En daarom word die mens wat vergifnis ontvang het – as ‘n gelukkige mens beskryf! 



(1) LW – bedek – nie wat die mens bedek nie , maar wat deur God bedek word! 




(2) LW – opvallend dat bedrog uitgesonder word. Vergifnis is bedoel in die konteks van hierdie psalm vir mense wat nie hulle sonde wegsteek nie, maar eerlik bely. Net wanneer hierdie belydenis openhartig sonder bedrog en valsheid is, sal daar vergifnis kom. Hierdie inleiding van die Psalm beskryf ‘n algemene wysheidsbeginsel. Gelukkig is die mens wie se sondes vergewe is. Dis belangrik, hierdie beskrywing veronderstel nie ‘n sondelose persoon nie – die psalmis weet baie goed mense is sondige wesens – as geluk berus het op sondeloosheid sou ons nooit gelukkig kon wees nie – Nee, geluk is moontlik vir ons as sondaars omdat daar iets bestaan soos vergifnis. Ware vergifnis wat volg op eerlike belydenis.

Hierdie volledige vergifnis en die gevolglike vreugde pas in by die Nuwe Testament se evangelieboodskap. Hierdie vergifnis is deel van die vryspraak wat die gebroke sondaar ontvang as hy in berou sy vertroue op Jesus stel. Paulus behandel die vryspraak deur die geloof in Jesus en verwys dan na die voorbeelde van Abram en Dawid. En met verwysing na Dawid haal hy hierdie psalm aan. (Romeine 4:6-8)







Nadat die psalmis sy getuienis gedeel het, roep hy nou alle gelowiges op om ook te bid vir dieselfde bevryding as wat hy ervaar het. Ons word elkeen aangemoedig – maak gebruik van die geleentheid! 

 









Belydenis en vergifnis is net die begin van die pad vorentoe. God wil nie net vir jou bevryding gee nie, maar ook insig oor hoe jy verder moet lewe. Hy wil ‘n wakende oog oor jou hou. (8)





Alles is nie net goeie nuus nie, hier is ook ‘n waarskuwing vir ons elkeen. 


 (9,10) Moenie hardkoppig wees nie. Moenie aanhou om jou sonde weg te steek en te ontken nie. Moenie jou gedra soos ‘n dwase hardkoppige dier sonder verstand nie. Moenie weerstand bied teen sondebelydenis nie. Dit bring net smart. Daar is net twee opsies voor jou. Die pad na geluk is belydenis, die pad na ellende is ontkenning en wegsteek van sonde.





Die Psalm eindig met ‘n lofprysing. (11) Laat ons bly wees dat God vir ons die duidelike resep vir geestelike gesondheid en vreugde gegee het. Dis nie ‘n ingewikkelde resep nie. Dis net ‘n basiese fundamentele waarheid – erken jou sonde en bely dit! Los die verskonings en verduidelikings, bring jou sonde voor God in berou en belydenis. 




Die groot kerkvader Augustinus het hierdie waarheid so goed besef. Hy sê “ intellegensia prima est ut te nôris peccatorem” – “die begin van kennis is om te weet dat jyself ‘n sondaar is” Blykbaar was Psalm 32 sy gunsteling psalm en het hy dit voor sy dood geskryf op die muur by sy siekbed. 


VANDAG!

Mag hierdie psalm ook vir my en jou troos en uitkoms bied, nou en eendag as ek en jy ook op die drumpel van die ewigheid staan. Maar hoor ook die dringende uitdaging – moenie sondebelydenis en vertroue op Jesus uitstel nie... 

Dis een van die groot hartsere wat ek in my bediening hier op Tsumeb beleef... mense stel uit en as jy weer hoor het hulle gesterf...


 Vandag is die dag van JOU verlossing!

Luister hierdie boodskap ook op YouTube by GELUKKIG   (kliek)