BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Heilige Gees vroulik?. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Heilige Gees vroulik?. Wys alle plasings

Donderdag 20 Junie 2019

HY OF SY?

Mag ons van die Heilige Gees as "SY" praat?

As leraar van die NGK Tsumeb wil ek sonder om in lang redenasies te verval my tog duidelik en openlik distansieer van en uitspreek teen ‘n vroue leraar ds. Hestie Hay-Blaauw se verwysings na die Heilige Gees as vroulik. Die gewraakte uitlatings het sy gemaak tydens ‘n gesprek wat sy en ds. Clem Marais in die program van Kanaal 7, Onder die Kameelboom gehad het oor Johannes 16. 



Dis so hartseer dat Hestie ’n wonderlike hoofstuk en ‘n heerlike onderwerp skade aangedoen het met haar verwarrende opmerkings rakende die Heilige Gees soos : “Dis nogal ‘n sy.” “Sy met ons is.” “Haarself” Die herhaling wys dit was nie ‘n toevallige glips of terloopse opmerking nie! Klink of dit nogal belangrik is vir Hestie.  Wat sou hier agter sit? Feministiese teologie? (Uit die teologiese fakulteite van vandag kan mens enige gogga verwag.) Kom dit uit dieselfde kringe as “Die Shack” met verwysings na God die Vader as ‘n swart vrou (Papa) en die Heilige Gees as ‘n Indiese vrou (Sarayu)? Is dit spekulatiewe teologie wat probeer inval by die tydsgees se geslagsverwarrende agenda? Ek weet nie… Hestie sal moet verduidelik. 

Natuurlik weet ons dat God nie geslagtelik is in die menslike sin van die woord nie. God is immers Gees. (Johannes 4:24) 

En tog het God Homself as Vader (nie moeder nie) geopenbaar en Sy enigste Seun (nie enigste dogter nie) na die wêreld gestuur! 

Dis hoe God self besluit het om Hom aan die mens bekend te stel in Sy onfeilbare Woord. God het dit nodig geag om binne in 'n konteks en omgewing van baie gode en godinne na Homself in manlike terme te verwys. Daar word oorweldigend na God in die Bybel verwys as Vader. En manlike voornaamwoorde word gebruik. “En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.” (1 Johannes 1:3). En ons weet dat die Heilige Gees die Gees van God genoem word, ook die Gees van Christus en spesifiek die Gees van Jesus. (Handelinge 16:7) Om dus van die Heilige Gees ‘n “sy” te maak het nie Skriftuurlike gronde nie! 

Ons moet God aanbid in terme van hoe Hy Homself duidelik openbaar in die Skrif, anders verval ons in "goue kalf godsdiens" waarvan die gevolge skrikwekkend sal wees!

Ja, ons weet dat mens in Hebreeus manlike en vroulike naamwoordvorme aantref en dat “ruach” (gees) ‘n vroulike naamwoord is. Dis natuurlik op ‘n taalkundige vlak, want “ruach” word ook spesifiek gebruik om na die gees van ‘n man te verwys. Grieks (soos Duits) het drie vorms naamlik manlik, vroulik en onsydig. Die Griekse woord vir Gees (pneuma) is onsydig, maar daaruit kan ons niks ten opsigte van geslag aflei nie. Die Duitse woord vir meisie “das Mädchen” is immers ook onsydig! 

Ek betreur Hestie se uitsprake. Dis hartseer dat sy terugval op die holruggeryde slagspreuk van die liberalisme en relativisme dat ons God nie in “boksies” moet plaas nie, asof dit beteken dat ons nou maar sommer kan spekuleer oor Hom. Natuurlik betreur ek ook die feit dat party mense nou weer met leedvermaak en kwaadwilligheid hierdie tipe uitlatings van een persoon gebruik om die kerk aan te val! 

Kliek op KANAAL 7 om self te luister na Hestie.