BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag, 15 Junie 2012

SOOS SEMENT EN WATER

- beloftes beteken niks sonder geloof nie!

Rus!  God se kinders is oppad na ‘n ewige rus... Wat behels die rus van ons eindbestemming? Is dit nou iets soos vakansie hou of laatslaap? Wat sê die Woord? Kom ons maak oop by Hebreërs 4:1-10.  Rus is ‘n heerlike deurlopende tema in die Bybel:  
  • Ons hoor die eerste keer van hierdie rus by die skepping as ons lees dat God op die sewende dag gerus het. Dit beteken nie dat God passief niks gedoen het nie. God kan tog nie moeg word nie. Nee, dit beteken dat God sy heerlike skeppingsdoel bereik het. Met rus bedoel die Bybel volle vervulling, volmaakte heerlikheid. 
  • Baie jare later het God sy volk uit Egipte gelei en aan hulle die rus in die land,  Kanaän beloof. (Psalm 95:11)
  • Ons kry weer die saak van rus in die Sabbatsgebod. Die Sabbatsgebod het oor meer gegaan as maar net fisiese rus. Die rus van die Sabbat het teruggewys na God se skeppingsdoel, maar ook vooruitgewys na  Jesus wat ware rus sou bring. (Kolossense 2:15,16) 
  • Jesus nooi ons na homself om ware rus te kry. (Matteus 11:28) Dis die rus van vergifnis en vrede met God. 
  • Maar daar wag nog ‘n finale sabbatsrus vir God se kinders. (8)* Dis die volmaakte ewige heerlikheid in die teenwoordigheid van God. Daar sal geen sonde, swaarkry, siekte en dood meer wees nie. Ons sal dan volmaak voldoen aan God se doel met ons tot sy eer.


Waarom word die tema van rus hier opgehaal? Die Hebreërbriefskrywer rig ‘n dringende  waarskuwing. Hy skryf vir mense wat begin moeg word het in die geloof, daarom vermaan hy hulle baie ernstig : Pasop dat julle nie die rus wat God julle beloof het, misloop nie. 

Hy gee gewig aan sy waarskuwing deur die voorbeeld van die ongehoorsame Israeliete in die woestyn tydens die Uittog onder ons aandag te bring. Ons weet God het daardie geslag Israeliete met groot krag en genade uit die verdrukking van Egipte uitgelei. Hy het hulle uitgelei met die belofte om die beloofde land, Kanaän, die land van rus, van melk en heuning aan hulle te gee. Hulle was dus ontvangers van God se beloftes! Besonder bevoorreg! Verbondsmense aan wie die beloftes behoort.  Maar helaas, ons weet wat het gebeur.  Hulle was opstandig, ongehoorsaam en ongelowig en daarom het God gesweer dat hulle nie in Sy rus sal ingaan nie. (3) Die gevolg van hulle ongeloof, was dat hulle nooit die land Kanaän ingegaan het nie, maar dat hulle lyke in die woestyn agtergebly het. Nou gebruik die skrywer hierdie voorbeeld om sy lesers te waarsku. (4:2) Al God se beloftes het die Isaeliete hoegenaamd niks gehelp nie. Die boodskap is dus : Julle moet volhard in die geloof, anders sal julle ook die ewige rus wat God julle beloof het misloop! 

Wat ’n skrikwekkende saak - dit kan wees dat mense die heerlike evangelie hoor en selfs die sakramente ontvang, maar op die ou end nooit die ewige lewe bereik nie.  

Hoe so? Dit gebeur as mense die woord hoor,  maar nie in geloof daarop reageer nie. Ek hoor wat Jesus gedoen het, ek weet van die kruis en die opstanding, ek weet van die beloftes,  maar ek kom nooit tot ’n daadwerklike besluit om Hom persoonlik te vertrou en as my Here te aanvaar nie. 

In die prediking hoor ons God se beloftes, in die sakramente (doop en nagmaal) word God se beloftes sigbaar onderstreep en bevestig. Maar hierdie beloftes moet aanvaar word in geloof. Ek moet doelbewus reageer deur my vertroue in Jesus te stel. Soos die verlore seun moet ek ‘n besluit neem om op te staan en na my Vader terug te gaan...God se beloftes sonder gehoorsame aanvaarding daarvan beteken niks!  God se beloftes red ons nie outomaties nie.  Die feit dat ek al baie jare in die kerkbanke sit of dat daar ‘n pragtige doopfoto van my op oupa en ouma se kamermuur pryk, maak my nog nie ‘n kind van God nie. Miljoene kerkgangers, gedooptes en nagmaalgebuikers gaan die ewige lewe misloop. Die prediking van die beloftes moet geglo word!  

Belofte en geloof gaan saam soos sement en water! 

Jy kan hoë kwaliteit sement koop en gebruik, maar daar moet water bygevoeg word om dit in werking te stel of te aktiveer, anders bly dit ‘n nuttelose poeier!

Het jy al gereageer op God se beloftes deur ‘n persoonlike geloof? Geloof het ons  gesien (in BOU OP GOD SE BELOFTES) in die geskiedenis van Abram is ‘n doelbewuste keuse om God te vertrou. Volhard jy in hierdie geloof of het jy in ongehoorsaamheid geval? Vandag is die dag om die saak reg te stel!  Jou ewige rus is op die spel! Hoor die dringende vermaning wat die skrywer twee keer herhaal... Hebr 3:15; 4:7

"Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie..."

God se beloftes is waar. Hy kan nie lieg nie, want Hy is nie ‘n mens nie. (Numeri 23:19)  Hy gee aan elkeen wat Jesus aanvaar die belofte van ewige rus! Wat maak jy met hierdie belofte?

*In vers 8 word vir ons verdere lig gewerp op die “rus”. Die skrywer wil sê : dis mos duidelik dat die rus waarna  Psalm 95:11 verwys tog nie die letterlike aardse Kanaan wat onder bevel van Josua ingeneem is, kan wees nie. Hoekom kan hy so sê? Wel, die mense wat in Psalm 95 aangespreek word is mos reeds in die land Kanaän. So die rus waartoe hulle dringend vermaan word,  moet  iets anders wees as blote verblyf in Kanaän. Dis iets anders as die rus wat Josua hulle gegee het van hulle vyande. Die skrywer wil dus hê ons moet die onderskeid raaksien tussen die tydelike rus wat Josua in Kanaän vir die volk bewerk het en die ware ewige  rus wat nog gereserveer word vir God se mense.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.