BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 12 April 2017

OPGEWONDE OOR DIE OPSTANDING

- die vaste feit wat die verskil maak!


Goeie Vrydag is natuurlik glad nie deur die dissipels aanvanklik as “goed” beleef nie. Allesbehalwe! Probeer jouself indink in die situasie van die destydse dissipels. Hulle het Jesus gevolg en besef Hy is die Gestuurde, die Gesalfde van God, die Messias. Hulle het hulle hoop op Jesus gevestig. Hy gaan God se Koninkryk oprig, Hy gaan ’n einde bring aan al die ellende en verdrukking en ’n nuwe bedeling laat aanbreek. En hulle het inderdaad wonderlike dinge beleef... genesings, duiweluitdrywing, wonders en veral die boodskap van hoop dat die Koninkryk inderdaad nou naby gekom het... 

En toe? Toe sterf Jesus aan die kruis. Die gruwelikste en skandelikste marteldood denkbaar. Die dood van ’n veragte misdadiger. Hulle het Hom self daar sien hang. Hulle hoop was verpletter. Ontnugtering. Wanhoop. Hulle harte was leeg en vol niks. Vol vrees, ja. Daar was geen vooruitsig, geen toekoms meer oor nie. Ja, smart, vrees en skuldgevoelens was al wat hulle oorgehad het. (Hulle eie lafhartigheid het immers nog vars in die geheue gelê.) Petrus self is waarskynlik die meeste geteister deur skuldgevoelens. Die haan se gekraai weerklink nog vretend vars in sy ore... ’n Toestand van wanhoop! 

JESUS IS NIE MEER TUSSEN DIE DOOIES NIE! 

Maar nou kom daar ‘n dramatiese wending en ommeswaai op hierdie wonderlike Sondagmôre! Ons lees dit in Lukas 24:1-12. ‘n Heerlike en buite die bereik van alle woorde tipe verrassing! Die vroue kom by ‘n leë graf en hoor die soetste woorde ooit : “Waarom soek julle die Lewende by die dooies!?” Dis goeie nuus, maar die implikasie is ook ‘n stukkie verwyt. "Hoe kon julle twyfel, hoe kon julle moed verloor, hoe kon julle vrees? Hy het mos gesê Hy gaan opstaan!"  Die vroue vertel hierdie verhaal aan die dissipels wat dit eers as onsin afmaak. Petrus se hart word egter geroer en hy hardloop om self te gaan kyk. (Hy was nie ‘n man wat enige ding halfpad gedoen het nie.) Hy gaan ondersoek instel, sommer tot binne die graf! Ja, die graf is leeg en baie belangrik daar lê net doeke. (Dis natuurlik van groot betekenis, want dis ‘n bewys dat Jesus se liggaam nie gesteel is nie, want as jy ‘n lyk wou steel sal jy nie die doeke eers afhaal nie...) Daar kan net een verklaring wees...Jesus leef! Die boodskap van die vroue is waar. Later ontmoet Jesus persoonlik met Petrus. Ook die ander sien uiteindelik die lewende Jesus van aangesig tot aangesig. Vat aan Hom, praat met Hom en sien hoe Hy brood en vis eet voor hulle oë! (kliek op SPOKE EET NIE VIS NIE) Jesus leef inderdaad! Sy lewe beteken ook vir Petrus en die ander nuwe lewe. Die opstanding open ‘n nuwe lewe van vergifnis, 'n nuwe gewaarborgde toekoms, vol blywende hoop!

Die opstanding het van ‘n tragiese Vrydag, Goeie Vrydag gemaak. 

Deur die aanskoue van die lewende Jesus is daar weer hoop in hulle harte gebore. Ja, hier was die bewys, die kruisdood was nie die einde nie, Jesus was voorwaar God se Gesalfde. Hier is die lewende onweerlegbare bewys dat al God se beloftes waar is!

OPSTANDING, WEDERGEBOORTE EN HOOP!

Jare later skryf Petrus ’n brief van hoop. Juis vir Christene in moeilike omstandighede, in ’n situasie van vervolging en swaarkry wat hulle maklik moedeloos sou kon maak. Deur sy brief bring hy vir hulle hoop. Meer korrek deur sy brief wys hy hulle op die hoop wat hulle reeds het. hierdie hoop is nie ’n vae mogge troffe hoop nie, maar ’n lewende werklike realistiese hoop. Hy herinner hulle, Christene is mense met hoop! Hoe so?

“Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot 'n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode,...” (1 Petrus 1:3)

God self het vir ons hoop gegee deur die opstanding van Jesus Christus! Petrus loof God daarvoor. Die opstanding van Jesus het hoop gebring, want die opstanding beteken dat Jesus leef. Dis rede vir groot blydskap. Dis egter nie al gevolg van die opstanding nie. Jesus se opstanding beteken nie net dat Hy leef nie, maar ook dat ons wat aan Hom behoort leef! Hoe so? Wel, deur die opstanding het God ons weer nuut gebore laat word. God het deur die opstanding nuwe lewe aan Christus gegee, maar ook aan ons! Deur Jesus se triomf oor die dood het God ’n nuwe begin gemaak, maak God alles nuut, maar Hy begin by ons as mense. Terloops wedergeboorte (radikale nuutmaking) is iets wat die hele verdorwe skepping gaan raak en nie net die mens nie. Ons het die nuwe geboorte ontvang deur die opstanding van Jesus Christus. As ons normaalweg die term wedergeboorte gebruik dink ons gewoonlik aan die verandering wat God deur Sy Woord en Gees binne in ons bewerk. En dis reg! Petrus verwys self ook hierna in 1:23-25. Van die mens se kant gesien kry deel ons aan die nuwe lewe wanneer ons God se Woord, die Goeie Nuus van Jesus gelowig aanvaar via die Gees se werk. Hier word die wedergeboorte egter gebruik in verband met die opstanding van Jesus. Hier is die fokus op wat buite ons gebeur het. Toe Jesus opgestaan het, het Hy ons verlossing, ons nuutmaking bewerk en verseker! Omdat gelowiges in Christus is beteken dit dat toe Jesus opgewek is, ons ook opgewek is tot ’n nuwe lewe. 

MENSE VAN HOOP

God se mense is mense van hoop! ‘n Vaste onwankelbare hoop op die verlossing wat Hy deur Jesus Christus bewerk het. In ’n swartgallige wêreld vol ellende, sonde, siektes, onreg en Zuma’s -kan elkeen wat in Jesus glo sê : “Ek het hoop. ’n Vaste seker hoop wat God vir my gegee het.” 

Wat is die praktiese nut van Petrus se boodskap vir ons? Hy wil ons leer : Fokus op die vaste feit van die opstanding, juis ook in die tye wanneer jy so ellendig voel dat jy selfs sou kon begin wonder oor jou geloof en bedenkinge kry oor jou bekering. 

Bedink en herkou die feit van die opstanding!

Jesus se triomf oor sonde Satan, dood en hel aan die kruis is bevestig deur die wonder van die opstanding en daarom onaanvegbaar seker! Dis iets wat HY klaar gedoen het! Dit stimuleer juis weer geloof en dit motiveer ons juis weer tot bekering! Die fokus is dus nie hier op wat ek beleef en voel en ervaar nie, maar op die vaste feite van Jesus se werk. Dis die bron en versekering van ons hoop. Ja, deur die opstanding het ons vandag (wat ook al my omstandighede) weer opnuut HOOP! As jy miskien nou wanhopig en beangs voel moet jy dalk saam met die vroue weer hoor wat die engele vra: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies?” 

Geliefde kind van God, pasop dat jy nie dalk onbewustelik aan Jesus dink as ‘n dooie veraf historiese figuur van die gryse verlede nie. Jesus is NOU lewend! Hy leef inderdaad en daarom is daar hoop! Hy leef en hierdie feit maak die verskil!

Donderdag 06 April 2017

IN MOEILIKE TYE

- BLY STEEDS BY DIE BASIESE BEGINSELS!



Moeilike tye… dit kan seker baie dinge beteken. Vir verskillende mense verskillende dinge. Vervolging, swaarkry, finansiële druk, diefstal van jou eiendom, ervaring van onreg, gesondheidskrisisse, geestelike stryd…(baie mense in Suider Afrika koppel moeilike tye nou sekerlik aan Zuma se katastrofale besluite...) Hoe moet ons optree in sulke tye? Waarvoor moet ons pasop? Wat moet ons onthou?

Mens sou kon sê dat die brief aan die Hebreërs juis geskryf is vir Christene in moeilike tye. Daar was die groot gevaar van afvalligheid, van afdwaling ("wegdrywe" 2:1), van moedeloosheid... Daar was mense met "slap hande en lam knieë". Daar was ook vantevore reeds fisiese swaarkry. Sommiges is blykbaar van hulle goed beroof en dit lyk ook asof van hulle in die tronk gegooi is.

Die sentrale boodskap aan hierdie Christene was : 

Hou vas aan Jesus die volmaakte hoëpriester!

Jesus is God se finale openbaring aan die mens. (1:1) Jesus oortref die engele by verre in heerlikheid en majesteit. Hy is God! Jesus vervang al die offers, tempeldiens en hoëpriesters van die Ou Verbond. Hy het self die pad na God vir ons oopgemaak. Ons kan weet Hy het medelye met ons en ons kan dus met vrymoedigheid na God se genadetroon gaan. 

 “Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.” (Hebr 4:14-16) 

Jy wat aan Jesus behoort moet weet dat Hy ‘n volmaakte hoëpriester, Middelaar is wat vir ons toegang tree tot die troon van God bied. En dis ‘n genadetroon! Maak met vrymoedigheid gebruik van die geleentheid om jou hart voor Hom uit te stort en op die regte tyd sal jy gehelp word. Moenie tou opgooi nie, volhard, moenie eers dink aan omdraai nie, hou die oog op Jesus. Onthou Jesus moes ook eers deur lyding en swaarkry gaan voordat Hy sy beloning gekry het.

En onthou – juis in moeilike tye : 

Jesus het nog nooit verander nie! 

 “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.” (13:8) 



Jesus is volmaak en algenoegsaam. Dis die hooftema.

Hier aan die einde van die brief in hoofstuk 13 vind ons ‘n paar kort praktiese sake wat eintlik al die aspekte van ons lewe dek en wat juis baie sin maak in die konteks van moeilike tye. Dis waarop ons kortliks wil fokus *:

Beoefen broederliefde. (1) So kosbaar juis in moeilike tye. Dis ‘n opdrag wat ons nie moet vergeet nie. Pasop dat moeilike tye jou nie in ‘n dop van selfsug en selfbejammering laat kruip nie. Reik uit na ander deur broederliefde. Dis nie bloot ‘n gevoel nie, maar om ander prakties te help… “Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie-hoe kan die liefde van God in hom wees. Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.” (1 Johannes 3:16-18) Daar is positiewe krag en genesing in broederliefde, nie net vir die wat die ontvangers is nie, maar juis ook vir diegene wat dit gee… toets dit maar!

Bewys gasvryheid. (2) In moeilike tye moet jy juis jou hart en huis oopmaak vir ander. Ook wat vreemdelinge betref. Die skrywer gee ‘n spesiale aanmoediging tot gasvryheid deur te verwys na Abram wat niksvermoedend engele ontvang het. Die bedoeling van die skrywer is natuurlik nie om te spekuleer of die persoon voor jou deur ‘n engel is of nie. Die punt wat hy maak is, is dat sommige van jou gaste ware boodskappers van God gaan wees wat groter seën vir jou gaan gee as wat hulle van jou ontvang!**

Toon opregte medelye met diegene wat swaarkry selfs ook die wat in die tronk gegooi is. (3) Hierdie lesers het reeds ervaring hiervan gehad. “Dink terug aan vroeër dae toe God julle tot die lig gebring het, hoe julle in die stryd staande gebly het toe julle baie moes ly. Deels is julle deur beledigings en vervolging openlik tot bespotting gemaak en deels het julle gely omdat julle julle vereenselwig het met ander wat hierdie dinge oorgekom het. Julle het met die gevangenes meegevoel gehad, en toe op julle besittings beslag gelê is, het julle dit met blymoedigheid aanvaar omdat julle geweet het dat julle ‘n besitting het wat beter en blywend is.” (10:32-4) Weereens in moeilike tye moet ons pasop vir ‘n selfsugtige beheptheid net met ons eie situasie, maar ons ook probeer indink in ander mense se omstandighede.

Betoon respek vir die heiligheid van die huwelik. (4) Moeilike tye plaas huwelike en sedes onder druk. Mense kan redeneer ons kan nou maar ons eie reëls maak. Hier word twee woorde gebruik naamlik pornous en moigous.*** Dit gaan oor meer as net owerspel of egbreuk maar oor die hele spektrum van ongeoorloofde seksuele verhoudings. Die erns word onderstreep deur die spesifieke vermelding dat die oordeel van God oor hierdie mense sal kom! Ook ander NT skrywers verwys hierna soos Paulus in 1 Tess 4:4-7. “Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe; julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie. Ook mag niemand hom in hierdie verband te buite gaan en sy broer bedrieg nie, want die Here straf al sulke dinge. So het ons julle trouens al vroeër gewaarsku; ons het julle nadruklik hierop gewys. God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe." 

Die media leer vir ons – “alles is maar reg”, die Woord leer dat God hierdie dinge straf!

Pasop vir gierigheid. (5,6) Hoe groter die nood, hoe groter is die gevaar vir gierigheid en vertroue op geld. (ironies) Paniek en selfsug neem so maklik oor! Hier vind ons ‘n heerlike belofte binne die raamwerk van geldsake. Wat egter belangrik is, die belofte kom saam met ‘n duidelike tweeledige waarskuwing en opdrag. Hou jou lewe vry van geldgierigheid. Dis net ‘n ander manier om Jesus se waarskuwing te herhaal : Julle kan nie God en Mammon dien nie! (baie probeer, maar dit bly vandag nog steeds onmoontlik) Die opdrag gaan oor tevredenheid, vergenoegdheid. Ook in moeilike tye wanneer die skoen druk, moet ons tevrede wees. “Die godsdiens is ‘n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees.” (1Tim 6:6-8) Tevredenheid gaan saam met vertroue op God. Ek vertrou Hom en ek is tevrede met dit wat Hy vir my gee op hierdie stadium van my lewe. Maar juis dan en net dan kan ek verseker wees van sy sorg en nabyheid en hulp. Hy sal my nooit as te nimmer verlaat nie. (Hierdie versekering word baie sterk in die Grieks gestel deur middel van vyf negatiewe) 

As ek hierdie belofte glo word ek bevry van vrees! 



Ja, moeilike tye is nooit maklik nie, maar ook in moeilike tye kan God se kind steeds in blydskap en dankbaarheid lewe sonder vrees! Ja, al maak Zuma nou ook wat...

                                    (foto - Afrisake)                      



*Hier word net aandag gegee aan die opdragte in Hoofstuk 13:1-6. Gaan gerus die hele hoofstuk deur vir die ander opdragte.

**FF Bruce,  The New International Commentary, The epistle to the Hebrews, p391

*** πορνους   en   μοιχους