BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Okkulte. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Okkulte. Wys alle plasings

Vrydag 17 Mei 2019

LUISTER NA LEVITIKUS


- WEES HEILIG! 



Levitikus is nou seker nie juis die gewildste Bybelboek onder Christene nie. Dis hoofsaaklik ‘n beskrywing van offers en wette. En ons weet tog ons hoef nie meer bloedoffers te bring nie, want Jesus self is die finale en genoegsame OFFER van die Nuwe Verbond. Nou wat van al die ander wette? Ons weet tog ook dat ons nie meer onder al hierdie detailwette byvoorbeeld die voedselwette staan nie, juis ook omdat ons nou in die bedeling van die Nuwe Verbond leef. (Kliek op KREEF



Maar het Levitikus dan nog enigsins vir ons ‘n boodskap? 


Ja, baie beslis! Wat is dié boodskap? 'n Boodskap wat die kerk nou nodiger het as ooit tevore...  “En julle moet vir My heilig wees, want Ek, die HERE, is heilig; en Ek het julle van die volke afgesonder om myne te wees.” (Levitikus 20:26) 

Kyk ook na Levitikus 11:45; 19:1,2. Soos ‘n refrein klink dit deurgaans-  "Wees heilig, want ek is heilig!"

En baie belangrik!  Hierdie beginsel word eksplisiet in die Nuwe Testament herhaal. “Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: "Wees heilig, want Ek is heilig." (1 Petrus 1:15,16) 

TWAALF ARTIKELS

‘n Heilige kerk, ‘n heilige afgesonderde Godsvolk – dis ‘n kernwaarheid van die Christelike geloof! Dis immers wat ons gereeld bely in die Twaalf Artikels – “Ek glo in ‘n heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges!”

Ja,daar is twee uitstaande kenmerke van die kerk van Jesus – Eenheid. “algemeen”. God het net een kerk oor die hele wêreld, die kerk van alle tye, die kerk wat bestaan uit alle nasies volke en tale. Die ander opvallende en uitstaande kenmerk, eintlik die eerste een wat die Apostolicum uitlig, is die heiligheid van die kerk. Wat beteken dit en waarom is dit so belangrik? 

LIG IN 'N DONKER LAND

In Levitikus vertel die Here aan die volk wat Hy uit Egipte verlos het hoe hulle moet leef. Onthou God het sy volk uit Egipte verlos sodat Hy hulle God kan wees. Hy wil in ‘n innige verhouding met hulle staan. By Sinai vertel Hy aan hulle hoe dit werk... (Eksodus 19:4-6!) “Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het, en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring het. As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne. En júlle sal vir My 'n koninkryk van priesters en 'n heilige nasie wees....” 

Hierdie volk moes nou in die land Kanaän gaan woon. Die land Kanaän was vol heidene. Dit was ‘n gruwelike plek vol okkultisme en afgodery – mense het daar selfs hulle kinders aan die afgod Molek geoffer. Afgryslike onsedelikheid, tempel prostitusie, geweld en verwording... En nou sê God vir sy volk in hierdie konteks : “Julle moet anders leef as die goddelose mense rondom julle. Julle is spesiaal, julle is afgesonder vir my. Ek het julle eenkant gesit vir Myself!” Heilig beteken dus - rein, skoon, eenkant gesit, spesiaal afgesonder. “Wees anders as die verdorwe heidendom, want julle is my spesiale mense! Julle is my verteenwoordigers! Julle moet My eienskappe uitstal. Julle moet vir hierdie besoedelde en deurmekaar heidene wys hoe lyk die karakter van die ware God. Julle moet lig wees in die nagdonker duisternis. Ek is heilig, julle moet daarom ook heilig wees!” 

Ons word nou nog net so geroep om anders te wees as die wêreld rondom ons – Ons het ander standaarde as die wêreld. Ons moet God liefhê in ‘n wêreld wat God en sy ordes haat, ons moet God eer en eerste stel in ‘n wêreld wat geen ontsag meer vir God het nie, ons moet vergewe in ‘n wêreld wat vergelding en weerwraak soek, ons moet rein leef in ‘n wêreld wat sedeloos en losbandig leef, aan God getrou wees in 'n verdorwe kultuur wat homoseksualiteit verafgod! Ons moet nugter wees in ‘n wêreld waar mense dink dis snaaks en "cool” om dronk te wees, ons moet eerlik wees in ‘n wêreld wat vol bedrog en korrupsie is, ons moet nederig wees in ‘n wêreld wat altyd spog en brag en selfverheerliking nastreef… Samevattend, ons moet soos Jesus leef in ‘n wêreld wat Hom juis gekruisig het! GEVAARLIK! Hulle gaan ons wat heilig is, ook kruisig! (Vra vir Israel Folau. Terloops, dis darem jammer hy kon nie 'n afgevaardigde wees by die onlangse sinode van die NGK Weskaapland nie!) 

VIR ALMAL!

Hierdie heiligheid is inherent deel van Christenwees. Dis nie net ‘n opdrag vir sommige Christene nie, maar vir almal. 

Alle Christene word as heiliges aangespreek in die Nuwe Testament. (1 Korintiërs 1:2) “Aan die gemeente van God wat in Korinthe is, aan die geheiligdes in Christus Jesus, die geroepe heiliges, saam met almal wat die Naam van onse Here Jesus Christus in elke plek aanroep, hulle sowel as onse Here:" (OAV) 
"Aan die gemeente van God in Korinte, wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort, en verder aan almal, waar hulle ook al mag wees, wat die Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here en ons Here." (NAB) 

Alle Christene word dringend opgeroep tot heiligheid! (Hebreërs 12:14) “Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ‘n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie.” 

Wanneer die kerk nie meer heilig is nie verloor sy haar getuieniskrag en maak ‘n bespotting van die evangelie! Inderdaad kan die kerk so onheilig raak dat selfs die goddelose wêreld daaroor geskok is!* 

Sonder heiligheid kan ons nie ons roeping vervul nie, sonder heiligheid kan ons nie getuies wees nie, nie bruikbaar wees nie. Sonder heiligheid sal ons nie blydskap en sekerheid beleef nie! Sonder heiligheid verloën jy Jesus wat jou juis losgekoop het om juis heilig en afgesonder vir Hom te wees. 

As jy hoegenaamd dankbaar is vir Jesus se kruisdood in jou plek, as jy vanoggend bely om aan die lewende God te glo en aan Jesus behoort, hoor en gehoorsaam hierdie opdrag : Wees HEILIG, WANT EK IS HEILIG! 

*Hierdie pynlike feit is nou weer op skokkende wyse aan die lig gebring deur die Pool, Tomasz Sekielski se skokkende dokumentêr : TELL NO ONE (2019)


Heiligheid beteken vir ons nie meer dat ons nie kameelvleis mag eet nie, maar wel dat ons soos Jesus moet leef volgens die beginsels van die Nuwe Verbond!



Sondag 01 Oktober 2017

VASTE SEKERHEID

- te midde van baie onsekerhede op ons geloofspad. 


Alle mense het ‘n behoefte aan sekerheid. Ek wil graag seker wees dat ek ‘n werk en ‘n woonplek sal hê. Ons het ‘n behoefte aan sekerheid oor die toekoms : dat ons en ons kinders veilig sal wees, dat hulle eendag ‘n goeie lewe sal hê... Ons sou graag sekerheid wou hê oor die reënseisoen wat op hande is en nog baie ander dinge... Die mens is van nature bang en onseker (en moet mens seker byvoeg, nuuskierig!). Dit kom vanaf die sondeval en ons verjaging uit die sekuriteit van die paradys, weg van God se nabye teenwoordigheid... Ons soek gedurig na waarborge, insigte en antwoorde rakende die toekoms en sekuriteit. Dis terloops een van die redes waarom soveel mense by die okkulte betrokke raak! (waarsêers en waterwysers, toordokters en slamse, kaart- en palmlesers, spiritiste ens.) Hulle soek antwoorde op hulle vrae en vrese en die duiwel verskaf die (valse) antwoorde en waarborge maar al te graag om so ‘n houvas op mense te kry. 

Moet ons en kan ons, spesifiek as kinders van God oor alles seker wees? Die antwoord wat die Bybel gee en spesifiek die 1 Johannes brief is dat die gelowige se pad beide ‘n pad van sekerheid en “onsekerheid” is! Anders gesê : daar is dinge waaroor ons moet en kan seker wees, maar ons moet ook aanvaar daar is dinge waaroor ons altyd onseker sal wees in die sin dat ons nie weet hoe dit gaan wees of presies wanneer wat gaan gebeur nie. 

SEKERHEID 

Waaroor kan en moet ons seker wees? 

Ons kan seker wees van God. Dat Hy bestaan en dat Hy waarlik God is, die Almagtige Skepper van hemel en aarde. Hy is in beheer van sy skepping en alles sal gebeur sodat Hy sy ewige doelwitte sal bereik. Dis ‘n heerlike vertroostende sekerheid. Dit word nie hier in 1 Johannes eksplisiet genoem nie, trouens nêrens probeer die Bybel die bestaan van God bewys nie. (God glo nie in ateïste nie!) Johannes probeer dit ook nie. Die Bybel veronderstel dit maar net! God is daar en dis net die dwaas wat in sy hart sê dat daar geen God is nie. Kyk na die sterre en seisoene, die woestyne en die woude...wie anders kan die oorsprong daarvan wees as God? “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.” (Psalm 19:1) 

[God se skildery by Swakopmund]

Ons kan (en moet) seker wees dat ons kinders van God is. Dis een van die hooftemas van die hele 1 Johannes brief en eintlik die groot doel waarom hy dit skryf. “Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie. Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.” (1 Johannes 5:12,13) 

Ons kan seker wees van God se liefde. “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook.” (1 Johannes 3:1) Dit gaan saam met die vorige saak. Dat ons as gebroke mense nou reeds kinders van God genoem kan word is ‘n duidelike bewys van die Vader se liefde. (Dink net, gewone mense in ‘n direkte verwantskap, ‘n Vader-kind verhouding met die Almagtige God!) Hierdie liefde is ‘n vaste feit. Ons gevoelens en ons omstandighede kan dit nie verander nie! Dit beteken : al voel ek hoe sleg en emosioneel af, al voel ek hoe eensaam, al voel ek net donkerte - die feit van God se liefde staan vas. Hierdie Vaderliefde is konkreet eenmalig genoegsaam bewys aan die kruis! Al is my omstandighede nou hoe benoud en benard, al is daar geen vooruitsigte en geen uitkoms nie, bly God se liefde ‘n onbeweeglike feit. “Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.” (1Johannes 4:10) 

Ons kan seker wees van God se einddoel met ons. “Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is.” (1 Johannes 3:2) Ons weet dat Jesus beslis weer sal kom en dat ons soos Hy sal wees. Ons sal in sy heerlikheid deel. Johannes sê nie presies hier wat hy bedoel nie, maar uit die res van die Skrif weet ons dat ons verlossing volledig afgehandel sal wees, dat ons sonder sonde sal wees en dat ons ‘n verheerlikte liggaam soos Jesus sal hê. “Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.” (Fil. 3:21) Hierdie doelwitte van God kan deur geen teenstand van die wêreld en die Bose gekeer word nie! Ja, en terloops van hierdie teenstand kan elke kind van God ook seker wees! “...En die wêreld ken ons nie, omdat dit Hom nie ken nie.” (1 Johannes 3:1) 

ONSEKERHEID 

Die kind van God kan bly wees en getroos wees deur heerlike vaste sekerhede. Tog is daar ook ‘n element van onsekerheid op ons geloofspad. Hoe so? “Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie” (1 Johannes 3:2) God het nog nie als vir ons gesê wat Hy kan sê nie. Daar is geopenbaarde dinge en daar is dinge wat Hy in sy wysheid nie aan ons geopenbaar het nie. Dis ‘n belangrike onderskeid. "Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God, maar wat geopenbaar is, is vir altyd bekend aan ons en ons nageslag: ons moet lewe volgens al die woorde van hierdie wet" (Deuteronomium 29:29) Kinders van God moet deur die geloof lewe, dit impliseer dat ons nie nou alles weet, vooruit sien en verstaan nie. “Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie.” (2 Korintiërs 5:7) Die geloofspad is ‘n stap vir stap paadjie gerig deur die beloftes van God. God gee nie vir ons die detail van elke stap wat wag nie. Hy sê net as’t ware kom agter My aan, vertrou My en ek sal jou by die heerlike bestemming uitbring. 

Ons sien dit baie treffend in die lewe van Abram. God het duidelike beloftes aan Hom gemaak oor ‘n nageslag, ‘n land en ‘n ewige seën wat hy sal meebring. Dis vaste sekere doelwitte en onveranderlike beloftes. Abram glo, maar Abram het nie vooraf geweet wat alles oor hom sou kom nie. Daar is vir hom niks vooraf gesê oor die droogte in die beloofde land nie, oor jare se kinderloosheid, wag en frustrasie nie, oor die toets wat sou wag op Moria nie. Nee, stap vir stap het God vir Abram op die geloofspad gelei. Die geestelike pad wat God met sy kinders stap is ‘n pad vol verrassings. Ons weet nie wat môre, volgende week en volgende jaar als oor ons pad kom nie, maar ons weet in wie ons glo en ons weet dat sy genade in alle omstandighede genoeg sal wees. Ons weet daar wag ‘n heerlike eindpunt. Ons weet dat God die goeie werk wat Hy in ons begin het sal klaarmaak en voltooi. (Filippense 1:6) 

EERSTE PRIORITEIT

En nou? Hoe moet ons leef in ‘n situasie waar ons nie als weet nie? “Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is.” (1 Johannes 3:3) ‘n Belangrike ideaal en fokuspunt vir elke kind van God. Hou jouself rein! Die wete dat ons Jesus sal sien as einddoel moet ons motiveer om altyd gereed te wees. Ons weet nie watter gevare, versoekings en probleme môre sal bring nie. Maar vandag, nou moet ons heilig lewe. Los die vrese en bekommernisse oor môre en leef volgens God se geopenbaarde wil in sy Woord. Raak ontslae van als wat verkeerd, vuil en veragtelik is! Nie toekomsspekulasies nie, maar daaglikse gehoorsaamheid ! Dit moet ons fokus wees te midde van baie dinge wat ons nie weet of nou reeds verstaan nie. 

Om dit op te som: Ons is seker van God, maar ons is nie altyd seker oor presies wat Hy met ons gaan doen nie. Maar die sekerheid oor God en dat Hy ons Vader is, en dat Hy ‘n volmaak goeie en liefdevolle Vader is, gee aan ons ‘n heerlike sekerheid, ‘n onwrikbare vastigheid te midde van ons onsekerheid. Vertrou Hom en gehoorsaam Hom een dag op ‘n slag! So kom ons uiteindelik by ons bestemming aan.

Donderdag 29 November 2012

SEKERHEID


- ten spyte van die onbekende pad anderkant die berg!

Alle mense het ‘n behoefte aan sekerheid. Ek wil graag seker wees dat ek ‘n werk en ‘n woonplek sal volgende jaar. Ons het ‘n behoefte aan sekerheid oor die toekoms : dat ons en ons kinders veilig sal wees, dat hulle eendag ‘n goeie lewe sal ... ons sou graag sekerheid wou oor die reënseisoen wat op hande is en nog baie ander dinge... Die mens is van nature bang en onseker... dit kom vanaf die sondeval in die paradys... en soek gedurig na waarborge, antwoorde oor die toekoms en sekuriteit. Dis terloops een van die redes waarom soveel mense by die okkulte betrokke raak (waarsêers en waterwysers, kaart en palmlesers, spiritiste ens.)...hulle soek antwoorde op hulle vrae en vrese en die duiwel verskaf die (valse) antwoorde en waarborge maar te graag om so ‘n houvas op mense te kry.

Moet ons en kan ons, spesifiek as kinders van God oor alles seker wees? Die antwoord wat die Bybel  is dat die gelowige se pad beide ‘n pad van sekerheid en onsekerheid is! Anders gesê : daar is dinge waaroor ons moet en kan seker wees, maar ons moet ook aanvaar daar is dinge waaroor ons altyd onseker sal wees. Kom ons kyk bietjie vanuit hierdie vraag na 1 Johannes 3:1-3.

SEKERHEID 

Waaroor kan en moet ons seker wees?

Ons kan seker wees van God. Dat Hy bestaan en dat Hy waarlik God is, die Almagtige Skepper van hemel en aarde. Hy is in beheer van sy skepping en alles sal gebeur sodat Hy sy ewige doelwitte sal bereik. Dis ‘n heerlike vertroostende sekerheid. Dit word nie hier in ons teksgedeelte eksplisiet genoem nie, trouens nêrens probeer die Bybel die bestaan van God bewys nie. Johannes probeer dit ook nie. Die Bybel sê maar net dis die dwaas wat in sy hart sê dat daar nie ‘n God is nie! (Psalm 14:1)

Ons kan (en moet) seker wees dat ons kinders van God is. (1) Dis een van die hooftemas van die hele 1 Johannes brief en eintlik die groot doel waarom hy dit skryf. “…Dit het ek geskrywe  aan julle wat glo in die Naam van die  Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het…” (5:12,13) Die frase “Kinders van God” is so ryk en het sulke geweldige implikasies. Die Almagtige Skepper van die heelal verbind himself aan ons op hierdie intieme manier! Hoekom sou ons dan nog bang wil wees?

Ons kan seker wees van God se liefde. (1) Dit gaan saam met die vorige saak. Dat ons as gebroke mense nou reeds kinders van God genoem kan word is ‘n duidelike bewys van die Vader se liefde. Hierdie liefde is ‘n vaste feit. Ons gevoelens en ons omstandighede kan dit nie verander nie! Dit beteken : al voel ek hoe sleg en emosioneel af, al voel ek hoe eensaam, al voel ek net donkerte - die feit van God se liefde staan vas, want dit is eenmalig genoegsaam bewys aan die kruis! Dit beteken : al is my omstandighede nou hoe benoud en benard, al is daar geen vooruitsigte en geen uitkoms nie, bly God se liefde ‘n onbeweeglike feit. Weereens dis aan die kruis bewys. (4:10) God het ons eerste liefgehad sonder enige prestasies van ons kant af. Ons wederliefde is maar net ‘n (gebrekkige) reaksie.

Ons kan seker wees van God se einddoel met ons. Ons weet dat Jesus beslis weer sal kom en dat ons soos Hy  sal wees. (2) Ons sal in sy heerlikheid deel. Johannes sê nie presies hier wat hy bedoel nie, maar uit die res van die Skrif weet ons dat ons verlossing volledig afgehandel sal wees, dat ons sonder sonde sal wees en dat ons ‘n verheerlikte liggaam soos Jesus sal hê. (Fil 3:21)

ONSEKERHEID/ONBEKENDHEID

Die kind van God kan bly wees en getroos wees deur heerlike vaste sekerhede. Tog is daar ook ‘n element van onsekerheid op ons geloofspad. Hoe so? Ons vind iets daarvan in die frase “Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie” God het nog nie als vir ons gesê wat Hy kan sê nie. Daar is geopenbaarde dinge en daar is dinge wat Hy in sy wysheid nie aan ons geopenbaar het nie. Dis ‘n belangrike onderskeid. (Deuteronomium 29:29) Kinders van God moet deur die geloof lewe, dit impliseer dat ons nie nou alles weet, vooruit sien  en verstaan nie. “Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie.” (2 Korintiërs 5:7) Die geloofspad is ‘n stap vir stap paadjie gerig deur die beloftes van God. God gee nie vir ons die detail van elke stap wat wag nie. Hy sê net as’t ware  : “Kom agter My aan, vertrou My en ek sal jou by die heerlike bestemming uitbring.”

Ons sien dit baie treffend in die lewe van Abram. God het duidelike beloftes aan Hom gemaak oor ‘n nageslag, ‘n land en ‘n ewige seën wat hy sal meebring. Abram glo en reageer gehoorsaam, maar Abram het nie onmiddellik als geweet wat oor hom sou kom nie. Daar is vir hom niks vooraf gesê oor die droogte in die beloofde land nie, oor jare se kinderloosheid, wag en frustrasie nie. Oor die toets wat sou wag op Moria nie. Nee, stap vir stap het God vir Abram op die geloofspad gelei. Die geestelike pad wat God met sy kinders stap is ‘n pad vol verrassings. Ons ken nie die besonderhede en tydsduur van ons aardse pelgrimspad nie. Ons kan nie anderkant die eerste berg sien nie, maar God wat my tot hiertoe gelei het sal dit ook vorentoe doen.  Ons weet nie wat môre en volgende jaar als oor ons pad kom nie, maar ons weet in wie ons glo en ons weet dat sy genade in alle omstandighede genoeg sal wees. Ons weet daar wag ‘n heerlike eindpunt. Ons weet dat God ons nie langs die pad sal laat val nie, want die goeie werk wat Hy in ons begin het sal Hy voltooi! (Fil 1:6)

En nou? Hoe moet ons leef in ‘n situasie waar ons nie als weet nie?  Waarop moet ons fokus? Vers 3 gee ‘n belangrike riglyn. Hou jouself rein! Die  wete dat ons Jesus sal sien as einddoel moet ons motiveer om altyd gereed te wees. Ons weet nie watter gevare, versoekingss en probleme môre sal bring nie. Maar wat word van my verwag? Ek moet heilig lewe! Los die vrese en bekommernisse  oor môre en leef volgens God se geopenbaarde wil in sy Woord. 

Nie toekomsspekulasies nie, maar daaglikse gehoorsaamheid! 

Dis wat nou belangrik is.

Om dit op te som: Ons is seker van God, maar ons is nie altyd seker oor presies wat Hy met ons gaan doen nie. Maar die sekerheid oor God en dat Hy ons Vader is, en dat Hy ‘n volmaak goeie en liefdevolle Vader is, gee aan ons ‘n heerlike sekerheid te midde van ons onsekerheid. Vertrou Hom en gehoorsaam Hom een dag op ‘n slag! So kom ons uiteindellik by ons bestemming aan.


Naby Swakopmund.