BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Homoseksuele predikante. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Homoseksuele predikante. Wys alle plasings

Sondag 25 Augustus 2019

PANIEKERIG!

Soveel dinge dreig om ons paniekerig te maak... Nou praat ek nie vandag van die droogte hier by ons, die Amasone wat afbrand (foto Global News) of Trump se handelsoorlog nie. Dit gaan oor al die chaos, goddeloosheid en verwarring op die kerklike toneel... (kliek) Soveel stemme en sienings... Wie moet ek glo? Wat gaan van my word? Hoe weet ek wat is reg? Hoe gaan ek veilig by die hemelse wenstreep kom?

Valse lering saai verwoesting. Juis ook binne die kerk. Valse leringe wat die waarhede van die Bybel bevraagteken, valse leringe wat Bybelse norme ongeldig verklaar (Dit lei tot etiese onsekerheid. Wat is nou reg/verkeerd?)..), valse lering wat die opstanding van Jesus betwyfel, valse leringe wat ontken dat daar ’n oordeel en hel is, valse lering wat al die fokus op predikers, profete en wonderwerkers plaas... en so kan mens aangaan... 

Niks onder die son is egter nuut nie! Ook reeds in Paulus se tyd het hierdie valse leringe voorgekom. Hy waarsku Timoteus in 2 Timoteus 2 teen die gevaar hiervan. Hy noem twee valse leraars by die naam: Himeneus en Filetus. Dis ’n baie ernstige saak, want deur hulle valse praatjies rig hulle groot skade aan! “Maar die onheilige en sinlose praatjies moet jy vermy, want dié wat dit versprei, sal nog verder in goddeloosheid verval, en hulle woorde sal voortvreet soos kanker. Onder hulle is daar Himeneus en Filetus, wat van die waarheid afgedwaal het deur te sê dat die opstanding alreeds plaasgevind het. Daarmee vernietig hulle die geloof van sommige.” (16-18) 

Die vraag is nou gaan die kerk van Jesus, gaan ons die skuddende aanslag van valse leringe oorleef? Meer persoonlik, gaan ek en jy wat weet dat ons aan Jesus behoort veilig by die hemelse wenstreep kom? Die Goeie Nuus is : Ja, want God het aan ons ’n vaste fondament gegee! Vastigheid te midde van aardskuddende valse lering en verwarring! 

GODDELIKE FONDASIE

Dis die vertroosting wat Paulus aan Timoteus gee in 2 Timoteus 2:19 – “Nogtans, die hegte fondament wat God gelê het, staan vas met dié woorde daarop gegraveer: "Die Here ken dié wat aan Hom behoort," en: "Elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort, moet wegbreek van die ongeregtigheid." Ja, ten spyte van die groot bedreiging, is daar ’n hegte vaste Goddelike fondament, onwankelbaar! God se fondament staan vas : die duiwel brul, valse leraars spoeg vuur, omstandighede is donker, vyande kan spot, DIE KERKBODE kan propaganda maak... nogtans God se fondament staan vas! 

Op hierdie vaste fondament moet ons BOU en VERTROU! 

Laat ons prakties raak! Wat is hierdie vaste fondament? LW - dis ’n fondament wat God gelê het! Dit gaan oor ’n vaste waarheid en waarborg wat van God af kom! Hierdie fondament is onvernietigbaar! Dit gee Goddelike troos en versekering! Die fondament bestaan uit twee grondwaarhede. Twee belangrike fasette! (En die volgorde is nogal baie belangrik!) 

OU TESTAMENTIESE AGTERGROND 

Die stelling van Paulus oor die Goddelike fondament het ‘n duidelike Ou Testamentiese agtergrond. Dis die opstand van Korag, Datan en Abiram teen Moses se gesag waarvan ons lees in Numeri hoofstuk 16. Dit het oor meer as ‘n persoonlike saak gegaan, dit was ‘n verwerping van God se openbaring en ‘n poging om God se volk te mislei. (Net soos wat Himeneus en Filetus wou maak!) Wat was Moses se reaksie? “Toe Moses dit hoor, het hy op sy knieë geval en gebid. Daarna het hy vir Korag en sy hele bende gesê: "Môreoggend sal die Here die persoon aanwys wat aan Hom behoort en wat gewy is en sal Hy hom toelaat om by die altaar te kom. Die persoon wat Hy verkies, sal Hy na die altaar toe laat kom.” (Numeri 16:4,5) Moses laat als rustig in God se hande. God het mos geweet wie Hy verkies het en wie aan Hom behoort! (Die eerste deel van die fondasie waarvan Paulus praat). Korag, Datan en Abiram het toe te doen gekry met die oordeel van God self! Die res van die volk het duidelik die opdrag gekry om weg te kom van hulle en hulle nie deur hulle sonde te laat besoedel of beïnvloed nie! “Hy sê toe vir die gemeente: "Gee pad van die tente van hierdie goddelose mense af! Moenie aan iets van hulle raak nie, dat julle nie deur al hulle sondes omkom nie." (Numeri 16:2) 

TROOS EN OPDRAG

Kom ons kyk nou verder na die detail van die fondasie waarvan Paulus praat: 

Eerstens : “Die Here ken die wat aan Hom behoort” God weet wie sy uitverkore kinders is! (Al is dit nie altyd vir ons duidelik nie) Psalm 1 sê ook : “Want die HERE ken die weg van die regverdiges, maar die weg van die goddelose sal vergaan.” (OAV) Uiteraard,“ken” beteken hier baie meer as net “weet van” Dit beteken dat God die inisiatief in ons verlossing geneem het en dat Hy ook ons verlossing in stand hou en ons bewaar! Dieselfde waarheid as wat hy in Filippense 1:6 op ’n ander manier sê! "Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom." Geliefdes, dis die vertroosting binne in die chaos, teleurstellings en aanvegtinge wat ons beleef. As God my gered het, gaan hy my nie halfpad los nie! Hierdie eerste deel van die fondasie roep ons om weg te kyk van ons swak self en van ons moeilike omstandighede en bedreigings en God in al sy grootheid raak te sien. Die Skepper van die heelal is heeltemal in staat om jou te midde van bedreigings en valse lerings te bewaar en veilig in sy Koninkryk te bring! Dit word so treffend gestel in Judas 24,25! “Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid! Amen. 

Wees verseker van God se fondasie. Vind rus, vertroosting en veiligheid daarin! Bedink God se beloftes! 

Tweedens : “Elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort moet wegbreek van die ongeregtigheid” Ons moet die tweede deel van God se fondasie ook ernstig opneem! Die eerste deel van God se fondasie is ’n versekering, die tweede is ’n opdrag! God betrek onsself ook in hierdie fondasie. Ons het ’n verantwoordelikheid. Maar belangrik, ons kan en moet hierdie verantwoordelikheid nakom juis omdat God sy deel nakom. Omdat God ons gered het en omdat Hy ons redding in stand hou KAN ons erns maak met die opdrag om te breek met alles sonde in ons lewens! Kind van God - die almagtige God het jou uitgekies, Hy het jou sonde op Jesus gelê en dis klaar gestraf en klaar vergewe, Hy het jou deur Jesus verlos van sonde, dood en hel, Hy waarborg jou ewige veiligheid, DAAROM: Raak ontslae van als wat vuil en sleg is! Ons moet sonde aflê nie om onsself te red nie, maar om bruikbaar te wees vir God en sy werk. “As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy ‘n voorwerp vir besondere gebruik wees. Dan sal hy vir die eienaar afgesonder en bruikbaar wees, voorberei vir enige goeie diens.” (21) 
Hoe bemoedig God ons deur die tweede deel van die fondasie? As jy erns maak met die uitroei van sonde, is dit net ’n verdere bewys dat die eerste deel van die fondasie waar is van jou. As jy daagliks baklei teen sonde en dit uitroei is dit mos ’n duidelike bewys dat reeds God reddend in jou lewe ingegryp het en jou dus ook verder sal bewaar! 

Hoe moet ’n kind van God wegbreek van ongeregtigheid? “Vermy die begeertes wat ‘n jongmens in gevaar bring, en streef na opregtheid, geloof, liefde en vrede, saam met almal wat uit ‘n rein hart die Here aanroep.” (22) Die OAV gebruik die direkte woord “vlug.” Gebruik jou voete as dit nodig is! Tree drasties op... 

Geliefdes, die aardbewings van valse leringe en verleidinge is baie hewig. Maar ons hoef nie verskrik of moedeloos te raak nie! Daar is ‘n VASTE GODDELIKE FONDAMENT!

 Hou twee sake voor oë! 

1) Fokus op God se genade en almag soos geopenbaar in Jesus wat jou gered het en jou veilig sal bewaar! 

2) Fokus op die uitroei van alle sonde in jou lewe! Haat dit en vlug daarvoor! Ook die klein jakkalsies... 

God se vaste fondament gee ons vertroue en sekerheid. Dis hoe Paulus dit self in baie moeilike omstandighede aan die einde van sy lewe ervaar het. Wat hy hier skryf is dus baie meer as mooi teorie... Hoor sy vertroue in die aangesig van die dood in dieselfde brief: “Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in sy hemelse koninkryk bring. Aan Hom kom die eer toe tot in alle ewigheid! Amen.” (2 Timoteus 4:18 )

Hiervan kan elke kind van God ook seker wees te midde van die storms!


Maandag 15 Julie 2019

WALGING, AFGRYSE...

EN ONTSTELTENIS!

Van erg na erger... Elke slag 'n bietjie verder en brutaler! DIE KERKBODE berig met groot fanfare oor die bevestiging van prop. Dietmann, 'n homoseksueeel wat onlangs met 'n man getroud is wat nou in die NG Kerk Stellenberg bevestig is as tentmakerleraar! En bid jou aan, met die oog op meditatiewe dienste!

Wat erger kan nog met ons kerkverband gebeur? Wanneer is genoeg, genoeg? Hoe moet Bybelgetroue leraars, lidmate en gemeentes protes aanteken? Moet ons maar oppak en aanbeweeg? Waarheen? Wanneer kom daar 'n punt dat die uittarting van God te ver gegaan het? Sodom het nie eens die Skrif gehad nie...

Dit raak my alles baie persoonlik en ingrypend. Ek is baie gelukkig in die NGK Tsumeb, ek is lief vir hierdie kudde, veral vir diegene wat elke Sondag met verlange na die Woord kom luister... Ons beleef goeie dinge in die gemeente. Maar my kerkverband maak dit vir my al moeiliker... bitterlik moeilik!

Ja, ek weet ons as plaaslike gemeente is ecclesia completa! Dankie daarvoor! Maar die NG etiket het 'n smet geword! Die NG verband 'n intense verleentheid!

Daarom as eerste stap wil ek my persoonlike walging, afgryse en ontsteltenis uitspreek oor hierdie optrede van NGK Stellenberg se kerkraad!

Maar wat verder? Dalk 'n persoonlike ontrekking aan alle NGK strukture? Vroeë aftrede? 'n Permanente staat van dolering?  Dis so kompleks... HELP my en BID vir my, vir ons, vir almal wat alhoewel diep bewus van ons eie gebrokenheid, tog dit ernstig bedoel met Jesus en Sy kerk... En ja, kan ander leraars wat vir die waarheid  staan ook maar 'n bietjie hulle stem laat hoor!

Luister maar net weer na die onfeilbare Woord! Romeine 1:22-27 is seker duidelik?

"Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword 
 en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van 'n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere. 
 Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen. 
Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe (hulle is nou op die kansel!) en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang. "


As jy 'n sterk maag het, kan jy maar kliek op AFGRYSE!

As jy weer bly wil word oor God se krag kan jy kliek op GENADE  (Wonderlike eerlike getuienis van 'n voormalige Lesbiese postmodernis se ontdekking van God se genade!)

Vir die Tsumeb NG kerk se amptelik standpunt oor hierdie sake kliek op STANDPUNT


[foto - DIE KERKBODE]


Donderdag 07 Maart 2019

BRIEF UIT TAFELBERG


Gelukkig is alle NG Kerke in die Kaap nog nie saam met NG Kerk Parke op 'n duistere dwaalpad nie. Die leraar van die NG Kerk Tafelberg het 'n duidelike brief  van beswaar en vermaning aan die NG Kerk Parke en die Ring van Durbanville gestuur. Dankie dr. Chris Saayman!


Van: Dr C Saayman
Leraar: Tafelberg NG Kerk

Aan: Die Voorsitter van die Kerkraad
NG Kerk Parke >> kantoor@parke.co.za

Aan: Die Voorsitter van die Ringskommissie
Ring van Durbanville >> carika@sonstraal.org.za

6 Maart 2019

Geagte kollegas

BEROEP EN BEVESTIGING VAN DS L VAN DER RIET

Met groot ontsteltenis het ek daarvan kennis geneem dat ‘n praktiserende homoseksuele persoon in NG Parke as leraar bevestig is aangesien dit strydig is met die Skrif asook die besluit van AS 2016.

Uit ‘n onlangse media-onderhoud met die leraar, blyk dit dat daar geen vooraf onderneming tot selibaatskap van hom vereis was nie. Hy verklaar naamlik - volgens Netwerk 24 - dat hy (sonder enige berou) voorheen in ‘n homoseksuele verhouding met ‘n priester van die VSA betrokke was en dat hy - indien die geleentheid hom voordoen - weer in ‘n verhouding betrokke sal raak en ook met ‘n man sal trou in dieselfde gemeente waar hy tans predikant is. Hy is immers “nie net homoseksueel van sy middellyf af boontoe” nie.

Dit kom dus voor asof AS 2016 eenvoudig onder die mat ingevee is. Wat nog te sê die heldere en duidelike getuienis van die Skrif.

My vrees is dat nie net die kerkraad nie, maar ook die Ring wat instemming verleen het, skuldig is aan iets wat indruis teen God se Woord. Dit sluit die Moderator van die NG Kerk in - wat namens die kerk verklaar het dat die kerk “oneindig trots” is op Ds vd Riet. Hier is diepe inkeer en bekering nodig.

Het die kerk se skande dan nou sy trots geword? Is dit nie tragies dat kerkleiers so maklik kapituleer voor die aanslag van die wêreld se “gay-agenda” en liberale Bybelloënende progressiewe denke nie?

Hierdie aangeleentheid gaan die NG Kerk onberekenbare skade berokken. Daarom my afkeur en beswaar teen hierdie toedrag van sake.

Ek dink die kerkraad en Ring is aan die NG Kerk as geheel ‘n verduideliking & apologie verskuldig.

Daarbenewens behoort daar onmiddelik van die betrokke leraar ‘n skriftelike onderneming tot selibaatskap vereis te word.


Die uwe

Dr Chris Saayman - Leraar: Tafelberg Gemeente 





Woensdag 06 Maart 2019

KRAAIFONTEIN (PARKE GEMEENTE)

BEKEER JULLE!



Ons weet teen die tyd seker almal dat die NGK Parke gemeente (in Kraaifontein) in die Kaap ‘n openlik homoseksuele predikant aangestel het. Dit veroorsaak natuurlik (tereg) groot bohaai en ontsteltenis by God se kinders in alle kerkverbande. 



In my persoonlike hoedanigheid as leraar van die NG Kerk Tsumeb wil ek myself net kortliks hieroor uitspreek ter wille van duidelikheid en vir die rekord : 



1.Die aanstelling van ‘n openlike homoseksueel as leraar by die NGK Parke gemeente vervul my met afgryse, skok en hartseer. 



2.Ek wil in nederigheid op grond van die Heilige Skrif, NGK Parke gemeente oproep tot bekering! 


3.Ek wil weer onder almal se aandag bring dat die NGK Tsumeb se uitvoerige en gebalanseerde standpunt oor homoseksualiteit gevind kan word by TSUMEB SE STANDPUNT (Kyk spesifiek na Bylaag A) 

4.Ek wil graag alle broers en susters daaraan herinner dat die plaaslike kerk, selfstandig kerk is. (ecclesia completa) Die NG Kerk Tsumeb is dus ‘n selfstandige kerk van Jesus Christus onder Sy gesag onder leiding van die ampte met die Woord, gebruik deur die Gees as norm. (Dit beteken natuurlik nie dat ons volmaak is nie, maar wel dat ons ons Here in gehoorsaamheid probeer volg te midde van ons gebrokenheid.) As ander NG Kerke dwaal beteken dit nie dat alle NG Kerke dwaal nie! Dis wel baie hartseer as ander kerke in dieselfde verband of ander verbande die smal pad byster raak en dis ons plig om hulle dan op te roep tot bekering. 

5. Ek wil my dank betuig teenoor ds. Hector Jooste van NGK Otjiwarongo wat hom ook baie sterk uitgespreek het teen hierdie vreeslike daad van afvalligheid. Ek doen 'n nederige beroep op ander kerke en leraars om ook onbeskaamd standpunt in te neem teen alle dwaling en verval.

In Sy diens
Johannes de Koning

Naskrif : Lees gerus die reguit brief van Dr. Chris Saayman van NGK Tafelberg aan NGK Parke gemeente en die Ring van Durbanville. (Kliek op BRIEF)

Saterdag 29 Oktober 2016

BUITENGEWONE ALGEMENE SINODE

- die Ooste vra vir die herroeping van die 2015 besluit oor selfdegeslagverhoudings!

Die Algemene Sinode 2015 se onskriftuurlike, onnadenkende en inkonsekwente besluit oor selfdegeslagverhoudings het onmeetlike skade en verwarring in die kerk veroorsaak. Dit het onder andere gevra vir die toelating van praktiserende homoseksuele predikante. Verskeie streeksinodes (waaronder ook Namibië) het hierdie besluit verwerp. Nou is dit verblydend dat een van die groot streeksinodes, die Oostelike Sinode ook gevra het vir 'n herroeping van die 2015 besluit. (sien 5.3 van die beskrywingspunt hieronder) *

BESKRYWINGSPUNT AAN DIE BUITENGEWONE VERGADERING VAN DIE ALGEMENE SINODE,

GEHOU TE WORD 7 TOT 10 NOVEMBER 2016 TE PRETORIA


1.          EENHEID EN DIVERSITEIT

Die Oostelike Sinode loop reeds 'n lang pad met die saak van selfdegeslagverhoudings en ons is diep bewus van die diversiteit van beskouings binne ons Sinode. Ons lê die volgende aan u voor as getuienis en standpunte.

Op ons pad tot hier het ons daarin geslaag om ten spyte van ons verskille mekaar vas te hou en familie te bly wat vir mekaar omgee en ruimte skep. Ons vorige besluite in 2003 en 2005 het gespreek van hierdie gesindheid.

2.          Uittreksel uit die standpunte en besluite van 2003

2.1 Saambindende Uitgangspunte

2.1.1  Die Sinode het met deernis geluister na die verhale van lidmate van die Kerk wat hulleself beleef as homoseksueel georiënteer en tegelyk die begeerte het om hulle Christenskap binne die geloofsgemeenskap van die Kerk uit te leef.

2.1.2  Die Sinode erken met spyt dat daar dikwels in die verlede nie genoeg sensitiwiteit en begrip vir die situasie van persone met 'n homoseksuele oriëntasie binne kerklike geledere was nie.

2.1.3  Die Sinode onderskryf die saambindende uitgangspunte wat deur die Diensgroep vir Homoseksualiteit geformuleer is, naamlik:

dat alle mense, ongeag oriëntasie, geslag, ras en kulturele agtergrond met respek en medemenslike liefde bejeën en behandel moet word;

en
dat persone wat verskillende standpunte oor homoseksualiteit huldig, mekaar nie in die proses van besinning sal verloor nie;

en
dat homoseksualiteit 'n komplekse aangeleentheid is en dat mense dit verskillend beleef;

en
dat alle mense onderworpe is aan die gebrokenheid van hierdie sondige wêreld en 'n behoefte het aan verlossing in Christus.  Alle mense moet streef na die heelheid in Hom.
2.1.4  Die Sinode oordeel dat alle mense wat  glo, hulle Christenskap in die kerk behoort uit te leef, ongeag hulle seksuele oriëntasie.

2.2 Verskillende sienings

2.2.1  Die Sinode is nie eenstemmig oor die manier waarop 'n homoseksuele oriëntasie verstaan en hanteer behoort te word nie.  Dit blyk veral duidelik uit die twee teenstrydige verslae uit die geledere van die Diensgroep vir Homoseksualiteit.  Sommige meen dat die beoefening van homoseksualiteit sonde is en dat die enigste aanvaarbare opsie 'n lewe van seksuele onthouding (selibaat), of 'n verandering in oriëntasie is, terwyl ander oordeel dat dieselfde norme in 'n homoseksuele verhouding moet geld wat in 'n heteroseksuele huwelik geld.

2.3 Proses

Punt ses:  Die Sinode erken hiermee dat ons nie 'n eenstemmige antwoord kan gee op 'n hoogs ingewikkelde vraagstuk nie en oordeel dat die proses van besinning met die oog op uiteindelike besluitneming moet voortgaan.  Die klem moet egter verskuif na 'n ernstige poging om die teenoorstaande standpunte op 'n eerbare en verantwoordelike wyse nader aan mekaar te bring. Die uitgangspunte bly steeds 'n ernstige en afhanklike soeke na die wil van God en 'n onvoorwaardelike liefde vir die medemens.
(...)
Punt agt:  Die Sinode oordeel dat besinning oor die manier waarop 'n homoseksuele oriëntasie deur Christene hanteer behoort te word, nou doelgerig op alle vlakke van die kerklike gemeenskap en veral in gemeentes gevoer moet word.

2.4 In 2003 het die sinode sy afgevaardigdes hieroor getoets en die uitslag hieroor was soos volg

2.4.1 Die Kerk het reg opgetree deur verskoning te vra vir gedrag in die verlede wat mense met homoseksuele oriëntasie seergemaak het.

2.4.2​ Die huwelik word gesien as ’n verbintenis tussen een man en een vrou en huweliksluiting tussen homoseksuele paartjies is glad nie aanvaarbaar nie.

2.4.3 ​Die interpretasie van die Skrifgegewens oor homoseksualiteit skep probleme.  Hieroor bestaan daar standpunte wat teenoorstaande pole verteenwoordig.

2.4.4 Die term “seksuele oriëntasie” wat in die gesprek oor homoseksualiteit gebruik word, vra verdere verheldering wat navorsing oor die oorsake vir homoseksuele gedrag, verhoudings en deelname aan die geloofsgemeenskap insluit.

3.          Uittreksel uit die standpunte en besluite van 2005

3.1 In 2005 is die volgende besluite geformuleer:

3.1.1 ​Die Sinode onderskryf die evangelie-boodskap dat die genade van die Here vir elkeen geld.

3.1.2​ Die Sinode bevestig dat lidmaatskap op grond van ’n persoon se geloofsverklaring berus.

3.1.3 ​Die Sinode bevestig dat die huwelik Skriftuurlik gesien word as ’n verbintenis tussen een man en een vrou.

3.1.4 ​Die Sinode verklaar dat huweliksluiting tussen homoseksuele paartjies glad nie Bybels aanvaarbaar is nie.

3.1.5 ​Die Sinode erken dat die Skrif-gegewens oor homoseksualiteit verskillend vertolk word.

3.1.6 ​Die Sinode verklaar dat dit die  Sinode se oorheersende standpunt is, dat die beoefening van homoseksualiteit teen die leer van die Bybel is.

3.1.7 ​Die Sinode versoek verdere opheldering oor die term “homoseksuele oriëntasie,” wat in die gesprek gebruik word.  Dit sluit ook navorsing oor die oorsake vir homoseksuele gedrag, en die aard van homoseksuele verhoudings in.

3.1.8 Die Sinode verseker homoseksuele persone van die NG Kerk se opregte pastorale bewoënheid en verklaar dat alle mense hartlik welkom in ons gemeentes is.

3.1.9 Die Sinode verklaar dat homoseksuele gedrag teen die leer van die Bybel is.

3.1.10 Die Sinode versoek dat vir enige voortgaande besinning ingevolge punte 3.1.5 en 3.1.7 homoseksuele mede-gelowiges wesenlik deel van die proses sal wees.


3.2 Die Sinode verklaar:

3.2.1 Ons is deel van die familie van Christus.  Ons verskil tans nog oor hoe om gelowig na te dink oor homoseksualiteit.  Ons stem wel saam dat alle mense in die Kerk welkom is.  Ons stem ook saam dat ons sag met mekaar moet wees en nie te vinnig moet oordeel nie.  Wat verkeerd is, kan egter nie goedgepraat word nie.

3.2.2 Ons verskil oor hoe om die Bybel te verstaan. Vir die meerderheid van ons afgevaardigdes, gemeentes en lidmate is die Skrifgegewens duidelik teen enige homoseksuele dade.  Hierdie lidmate glo dat ons die Bybelwoorde sal verswak en God se heiligheid oneer sal aandoen, as ons enigsins homoseksuele dade goedpraat.

3.2.3 Vir ’n minderheid van afgevaardigdes, lidmate en gemeentes is dit nie duidelik hoe die Skrifgegewens toegepas moet word nie. Hierdie lidmate wil graag langer nadink oor hoe ons die Bybeluitsprake oor sake soos hierdie in nuwe tye moet verstaan en toepas.

3.2.4 As familie wil ons aan mekaar vashou, want ons het mekaar nodig.  Die Gees is immers aan ons almal saam gegee.  Ons aanvaar mekaar se goeie trou in hierdie saak. Trouens, die hantering hiervan het ’n openbare toets van liefde geword. Ter wille van God se eer gaan ons hierin slaag.

4.          die 2015 besluite oor selfdegeslag verhoudings

Na aanleiding van die 2015 besluite oor selfdegeslag verhoudings het die Sinodale Diensraad op verskillende maniere vir leraars, gemeentes en ringe terugvoer gevra oor die besluite. Daar is ook twee konsultasies met leraars gehou om hulle terugvoer te kry.

Die meeste kerkrade en ringe se terugvoer oor die besluite was negatief, maar daar was ook ’n aantal gemeentes en leraars wat positief was oor die besluite of nie ’n probleem daarmee gehad het nie. Dit is kenmerkend van die diversiteit wat ons weet in die Sinode bestaan.

5.          sinodesitting van 23 TOT 26 Oktober 2016

Tydens die sinodesitting van 23 tot 26 Oktober 2016 is die saak weer op die Sinode se tafel geneem. ’n Gespreksdokument het voor die Sinode gedien wat gebaseer is op bogenoemde terugvoer en ’n aantal beskrywingspunte wat van gemeentes gekom het. Tydens die sitting het ’n aantal individue ook voorstelle ingedien. Dit alles is gekonsolideer en het voor die Sinode gedien. Die volgende besluite is goedgekeur en word nou as ’n beskrywingspunt na die Algemene Sinode deurgestuur:

5.1 Die Oostelike Sinode stuur die onderstaande besluite aan die Buitengewone sitting van die Algemene Sinode deur met die bewustheid dat daar nie in die Sinode eenstemmigheid hieroor is nie. In ons familie is daar ook ander standpunte en die Sinode wil duidelik ons waardes van eenheid te midde van diversiteit onderstreep.

5.2 Die Sinode bevestig die uitgangspunte, verklarings en besluite van 2003 en 2005 rakende homoseksualiteit en stuur dit na die Algemene Sinode.

5.3 Die Sinode versoek die Algemene Sinode om die besluit oor selfdegeslagverhoudinge te herroep in die lig van die feit dat die vergadering nie getrou was aan 'n vorige besluit van 2004  [Algemene Sinode Besluiteregister 2004 p 428] om eers met gemeentes in gesprek te gaan voordat 'n sensitiewe besluit geneem word nie, en dat die besluite van 2007 en 2013 oor selfdegeslagverhoudings as die standpunt van die NG Kerk sal geld.

5.4 Die Sinode bevestig dat “slegs die verbintenis van een man en een vrou as ’n huwelik beskou word” (Algemene Sinode 2015) en dat “dat seksuele gemeenskap buite so ’n vaste, formele verbintenis/verhouding nie aan Christelike riglyne voldoen nie” (Algemene Sinode 2013).

Die Sinode het besluit om die “verbintenis/verhouding” duideliker te omskryf as ’n huweliksverbintenis, soos in die volledige 2013 besluit verwoord: “Die Algemene Sinode oordeel dat, in die lig van bostaande, gelowiges met reg die huwelik ’n gawe van God noem en dat seksuele gemeenskap buite so ’n vaste, formele verbintenis/verhouding nie aan Christelike riglyne voldoen nie.”

5.5 Die Sinode versoek dat daar herbesin moet word oor seks binne en buite die huwelik. Daar blyk ’n dubbele standaard geskep te word tussen homo- en heteroseksuele predikante. Indien ’n burgerlike verbintenis nie ’n huwelik is nie (soos die 2015 besluit dit stel), val seks binne so ’n verbintenis of selfdegeslagverhouding buite die aanvaarbare grense wat die Sinode self gestel het op grond van Bybelse riglyne.

5.6 Die Sinode bevestig die oortuiging dat die Bybel hoër morele eise aan leiers stel (Jakobus 3:1) en soos wat dit neerslag vind in die Kerkorde. Daarom kan geen persoon wat in 'n saamwoon-verhouding of 'n "ander formele verbintenis / verhouding" (bv 'n burgerlike verbintenis) staan, as leraar dien of tot die bediening toegelaat word nie. Dieselfde seksueel-etiese vereistes wat aan ongetroude heteroseksuele predikante gestel word, word ook aan homoseksuele predikante gestel. 

5.7 Kerkrade besluit self oor die vereistes waaraan ander leiers in die gemeente moet voldoen en vervat dit in 'n beleidsdokument.


5.8 Die Algemene Sinode word versoek om beleidsbesluite oor pastorale kwessies in die hande van gemeentes te los en nie beleidsbesluite hieroor te neem sonder konsultasie nie. 

* My plasing van hierdie beskrywingspunt beteken nie noodwendig dat ek met alles daarin saamstem nie. Ek is wel bly oor die duidelike versoek tot herroeping van die 2015 besluit en die sterk pleidooi vir seksuele reinheid.

Vrydag 13 November 2015

GEVEG IN DIE VOLKSBLAD

Die Algemene Sinode se skokbesluit om praktiserende homoseksuele predikante tot die bediening toe te laat, het 'n diepe teologiese verskeurdheid binne die NG Kerk blootgelê. Dis 'n keuse tussen gewiligheid aan die tydsgees of gehoorsaamheid aan die Skrif. Daar is wel sekere pogings om die sinodebesluit as gehoorsaamhed aan die Skrif aan die publiek te verkoop. Dit mag dalk vir sommiges geloofwaardig klink (en ek wil ook nie te kenne gee dat almal wat die besluit steun, nie respek het vir die Bybel nie), maar dis duidelik ook nie waar dat slegs die Skrif 'n faktor in die besluit was nie.

Prof. Johan Janse van Rensburg wys in 'n antwoord op Prof Hermie van Zyl se rubriek* in die VOLKSBLAD duidelik uit dat die Algemene Sinode nie kan aanspraak maak dat hulle by die Sola Scriptura beginsel gehou het nie.

Lees hieronder Prof. Janse van Rensburg se brief in die Volksblad :

Die willekeur waarmee korrespondente oor die Skrif en homoseksualiteit skryf, wil ’n mens laat huil. 

Die skrywe van kollega Hermie van Zyl is egter ’n ander saak. Sy vorige bydrae het my genoop om kommentaar ter wille van kollegialiteit te weerhou. Die jongste bydrae in Woord en Perspektief (10/11) laat my geen ander keuse as om te reageer nie. 
Dit is al ’n bietjie uitgedien om die Kopernikaanse omwenteling (korrektief op die Bybelse beeld van ’n aarde wat plat is) as bewys aan te voer dat die kerk ook vroeë wetenskaplike navorsing verwerp het. 
Daar is ’n groot verskil. Copernicus se navorsing was op wetenskaplike feite gegrond. Geen wetenskaplike sal vandag daarvan verskil nie. 
Maar met die Skrifinterpretasie oor homoseksualiteit is dit eenvoudig anders. Die nuwe wetenskaplike ontwikkeling wat na bewering ’n ander betekenis aan die sogenaamde anti-gay­teks­te gee, is op teorieë gegrond wat nie deur alle wetenskaplikes gesteun word nie. 
As die hermeneutiek wat prof. Hermie en die sinode voorstaan, so wetenskaplik is, waarom is daar ander wetenskaplikes soos prof. Jan du Randt (SA) en William Lane Craig (VSA), om net twee van ’n hele rits gesiene eksegete te noem, wat nie hierdie sogenaamde nuwe wetenskaplike insigte onderskryf nie? Wêreldwyd is daar wetenskaplikes wat nie met die Skrifverklaring van die sinode saamstem nie.
Prof. Hermie voer aan dat die sinode net soveel op die sola Scriptura-beginsel (die Skrif alleen) aanspraak kan maak. Gegrond op die ervaring van talle wat daar teenwoordig was, blyk dit dat die Skrif nie die enigste norm was nie, maar dat buite-Bybelse getuienis en emosionele manipulasie ’n groot rol gespeel het. 
Die taakspan se verslag aan die sinode het ’n hele afdeling oor buite-Bybelse motivering vir die aanvaarding van selfde-geslagverhoudings. 
Trouens, Hermie se betoog steun ook op buite-Bybelse argumente. 
Hermie verwys na “onomkeerbare kern-homoseksualiteit”, bedoelende dié wat só gebore is. Dit word dan ’n soort natuurlike teologie wat Bybelse beginsels kan korrigeer.
Die waarheid is egter dat ’n gay-geen nog nie gevind is nie en nie deur navorsing bevestig kon word nie. Ook hier ly die beweerde wetenskaplike insigte aan gebrekkige integriteit. 
Die poging om die nuwe interpretasie van die Skrif wetenskaplik te regverdig, slaag eenvoudig nie.
Prof. Johan Janse van Rensburg

*Prof Hermie se skrywe: 


Die gay-besluit en sola Scriptura

DIE besluit van die NG Kerk om praktiserende homoseksuele toe te laat tot die kansel en die kerklike bevestiging van verbintenisse van liefde en trou, het ’n hewige polemiek ontketen. In hierdie debat word die slagspreuk sola Scriptura telkens gebruik, veral deur hulle wat die besluit teenstaan.
Sola Scriptura beteken “(deur) die Skrif alleen” en dateer uit die tyd van die kerklike reformasie in die 16de eeu. Die hervormers het dit gebruik in hul stryd teen die Roomse Kerk om te sê dat die pous en die tradisies van die kerk ondergeskik is aan die Woord van God. Die Skrif alleen – nie die pous of tradisie nie – bepaal wat gesagvol is vir leer en lewe.

Hieruit vloei ook verdere oortuigings voort, soos dat die Bybel onfeilbaar is in sy uitsprake oor sake van geloof en lewe, dat dit duidelik en genoegsaam is in sy heilsbedoeling, dat dit homself interpreteer wanneer Skrif met Skrif vergelyk word, en dat elke gelowige, gelei deur die innerlike verligting van die Heilige Gees, direkte toegang tot die Woord van God het.
Hulle benodig nie geleerdes of die kerk se verduideliking om dit te verstaan nie.
Toegepas op die gay-debat beteken dit dat die Skrif se uitsprake teen homoseksualiteit helder en duidelik is. Ons het geen verduidelikings nodig nie. Enige poging om iets anders te sê as wat daar staan, ondergrawe die gesag van die Skrif.
Gesonde uitlegbeginsels van die Bybel, soos oor tyd heen ontwikkel, het egter nog altyd gesê dat die sola Scriptura-beginsel nie op ’n klakkelose manier aangewend kan word nie, veral nie wanneer daar ’n klaarblyklike spanning tussen die Bybelse en hedendaagse wêreldbeeld ontstaan nie. Anders bevind die kerk hom later op ’n eiland van ongeloofwaardigheid. 
’n Voorbeeld: Om vandag daarop te staan dat die aarde plat, stewig op sy pilare gegrondves en onwankelbaar is, net omdat die Bybel dit duidelik sê (1 Sam. 2:8; Ps. 93:1), maak jouself nie net belaglik nie, maar ondergrawe juis so die Bybel se gesag. 
Dié voorbeeld is nie so onskuldig nie. Vandag aanvaar ons ’n ronde aarde en ’n heliosentriese sonnestelsel as vanselfsprekend, maar toe die moderne wetenskap nog in sy kinderskoene gestaan het, het die kerk dié nuwe insigte hewig teengestaan – op grond van die Bybel!
Gelowiges moet dus naas die Skrif as bron van gesag, ook die getoetste insigte van die natuurwetenskap as gesagsbron vir leer en lewe erken. Skrif en natuur staan nie prinsipieel teenoor mekaar nie, want die God van die Bybel is ook die God van die natuur. Hy is immers die Skepper van alles. Die vraag is net hoe ons die gegewens van albei met mekaar in verband moet bring. Dis nie altyd ’n maklike taak nie, soos nou blyk in die gay-debat.
Van tyd tot tyd kom daar nuwe insigte op die tafel wat die kerk dwing om weer met nuwe oë na die werklikheid te kyk. 
En dis al lank dat die kerk gekonfronteer word met die verskynsel van onomkeerbare kern-homoseksualiteit, en dat daar gelowiges met so ’n oriëntasie is wat ’n tuiste in die kerk soek. Hulle wil nie losbandig en buite die kerk lewe nie, maar as belydende Christene en volle mense hul plek in kerk en samelewing inneem.
Wat verder vir die kerk duidelik geword het, is dat die tekste wat oënskynlik anti-gay is, eintlik nie veel hiermee te doen het nie, maar wel degraderende en afbrekende homoseksuele praktyke afwys. Hierbenewens dring die Skrif ons daartoe om insluitend te werk te gaan, ook ten opsigte van hulle wat na ons mening “teen-natuurlik” is.
Die sola Scriptura-beginsel stel dus nie erkende uitlegbeginsels buite werking nie, maar sluit dit in. Die punt is: Sola Scriptura is nie net die prerogatief van téénstanders van die NG Kerk se besluit nie, maar ook van die vóórstanders daarvan.

Saterdag 17 Oktober 2015

VOLKSWAGEN EN DIE NGK

Iemand in die bankwese help my om die gevolge van die Algemene Sinode se skokbesluit beter in perspektief te sien. Die NGK "brand" (handelsmerk as jy wil) het ontsaglik skade gely net soos wat die geval nou onlangs met Volkswagen was... Al die mooi verduidelikings help weinig om die openbare persepsie te verander. Onthou die gewone publiek verstaan weinig van strukture soos Streek Sinodes en Algemene Sinode, die besluit word gekoppel aan die NGK in geheel. Ook die feit dat kerkrade self diskresie het om oor die toepassing van die besluite te beslis, verander maar baie min aan hierdie openbare beeld van 'n kerk wat dinge goed verklaar het wat die Bybel as verkeerd beskou.



Ek wonder of diegene wat so geveg het vir die aanvaarding van hierdie onbybelse besluite 'n idee het van die onherroeplike skade wat aangerig is...? Wat dink ons medegelowiges in ander kerke van ons? Wat is die persepsie van ons geagte president dr. Hage Geingob van hierdie pro gay kerk in 'n land wat selfdegeslagverbintenisse verbied? Ons as kerk sukkel nog steeds om die negatiewe etiket van apartheid af te skud en nou het ons 'n 'n gay etiket self om ons nek gehang. Volkswagen se skandes het en gaan hulle miljarde kos en vertroue in hulle produk en integriteit is 'n griewende slag toegedien... Hoe bereken mens die skade aan 'n kerk...?

Ek kan maar net treur saam met Jeremia :

"My oë teer weg in trane, my ingewande is in beroering, my lewer is op die grond uitgeskud vanweë die verbreking van die dogter van my volk..." (Klaagliedere 2:11)

Oordryf ek dalk? Nee! Iemand uit Suid-Afrika skryf vir my...

"...na laaste Vrydag se besluit het ek in trane uitgebars….In die kerk wat my voorgestel het aan Jesus, waar ek tot wedergeboorte gekom het en waar ek Die Woord van GOD innig leer liefkry het…was dit moeilik om te sien hoe die ouens die OUTORITEIT van die WOORD inruil vir mense en ander politiese aanvaarding."

En sommer persoonlik van my kant af: Kan iemand slim uit die sinodale geledere vir my vertel hoe ek my eie kinders weer positief kan kry oor ons NGK?

Broer, ek en baie ander treur saam!





Maandag 12 Oktober 2015

GEVOLGE VAN DIE GAY AGENDA

- die NGK moet weet dat haar opklim op die gay agenda se wa  ernstige gevolge gaan hê.

Die gay aktiviste en hulle meelopers op ons teologiese fakulteite sal natuurlik niemand hieroor inlig nie. Lees dus self wat met die Reformed Church in America gebeur het, toe hulle die pad weg van die Skrif begin stap het. 

The RCA has seen a decline in Dutch Reformed Church Christian membership in recent years from 300,000 members to 240,000, due to increasingly liberal denominational positions on issues like ordination of homosexual and lesbian clergy, and same-sex marriage, according to The Gospel Coalition and other reports. 
Vir meer hieroor kliek op GEVOLGE.

Lees gerus hoe hierdie tragiese verhaal ontvou het en let veral op waar dit begin het...

Saterdag 10 Oktober 2015

DIT GRYP AAN DIE HART...

Die afskuwelike besluit van die Algemene sinode veroorsaak soveel ellende en ontsteltenis... Meer as dit, pyn, werklike pyn. Slapelose nagte. Om te beleef dat ons geliefde kerk, die kerk wat soveel seëninge beleef het en tot soveel seën vir ander was, gekies het vir radikale humanisme teen God se Woord...


[Die liberales hierteenoor juig! Dit herinner weer sterk aan die bekende John Piper se stelling : "At this moment in history, contrary to the other sins listed..., homosexuality is celebrated by our larger society with pioneering excitement. It’s seen as a good thing, as the new hallmark of progress."]

Soveel telefoonoproepe, e-posse*, gesprekke... verbasing en verbystering, vrae en vertwyfeling... "wat nou, moet ek bedank? En waarheen dan?" Die oplossings is nie eenvoudig nie, die antwoorde nie maklik nie... Daar is skape van die Here wat gaan skade ly, as ons oorhaastig optree,  (Daar is seker nou 'n hele paar aspirant praktiserende homoseksuele wat beroepe soek... en kan mens jou indink die skade wat dit aan God se kudde gaan doen! Dis om van te sidder!) Aan die anderkant moet ons nie vergeet dat God heilig is nie! Die realiteit is ook dat die kanse op bekering vir die NG Kerk skraal is solank die teologiese fakulteite wat die voorbokke van verval is, toegelaat word om hulle gif onder ons studente te versprei en hulle immuun teen die Woord te maak! En tog kan God in sy soewereine almag bekering skenk, as Hy besluit om te werk, wie kan Hom keer?

WAT NOU?

Voorlopig dink ek... [dis voorlopig, want ek moet nog met my kerkraad saam besin...]

Moenie oorhaastig optree en juis so in die hande van die liberale kerkvernietigers speel nie! (Gaan lees maar op sosiale media hoe van die grootste NG haters juig oor die AS se besluit...hoekom?)

Teken hard en duidelik protes aan. Daar is te veel leraars en lidmate wat tevrede is dat ander ouens namens hulle die stryd stry. Neem die aansporing van Judas vers 3,4 baie ernstig op : " Geliefdes, ek was vas van plan om aan julle te skrywe oor die verlossing waaraan ons almal deel het. Maar nou voel ek my verplig om julle met my brief aan te spoor om te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer is aan dié wat God vir Hom afgesonder het.
Die rede hiervoor is dat sekere mense ongemerk julle geledere binnegedring het, goddelose mense wie se veroordeling lank reeds vas staan. Hulle misbruik die genade van ons God. Hulle gebruik dit as dekmantel om losbandig te lewe, en hulle verwerp ons enigste Meester en Here, Jesus Christus."
Terloops. Die kastige pastorale brief van die Algemene Sinode walg my, dis net mooi woorde sonder betekenis. Hulle paai nou hard, want hulle weet die kerk gaan nou lidmate verloor. Ons moet nie mislei word nie, maar duidelik opkom vir die waarheid!

Daar rus 'n plig op ons elkeen wat die waarheid liefhet om juis nou meer as ooit tevore die skape van die Here Jesus te versorg. Hulle is verward, geskok, stukkend, want ons kerk steek ons in die rug, die kerk waarvoor hulle hard werk, opgeoffer het, vir wie ons opkom in 'n vyandige omgewing. Ander kerke verdink ons nou van als wat sleg is (kan mens hulle kwalik neem?), ja selfs die Rooms Katolieke verstaan die Woord nou beter as ons op hierdie bepaalde punt! Ons moet mekaar vashou en bemoedig. Ek het vele bewyse van die diepe geskoktheid en volslae verbystering wat getroue lidmate nou beleef...

Wees voorbereid op vervolging! Vanoggend in my stiltetyd is ek getref deur Jesus se woorde in Johannes 15:18,19 - "As die wêreld julle haat, onthou: Hy het My voor julle gehaat.
As julle aan die wêreld behoort het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie aan die wêreld behoort nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle."
Dieselfde manne wat so mooi oor verdraagsaamheid praat, gaan die eerste en die hardste byt... Gaan lees die sosiale media.

Dink nugter oor wat gebeur het. Die Algemene Sinode se besluit verteenwoordig 'n minderheid in ons kerk. Ek het geen twyfel dat as ons gemeentes hieroor sou stem soos in die geval van die voorgestelde Artikel 1 wysiging, die meerderheid teen hierdie verval sou stem nie! En buitendien, ons weet dat die Woord en die Belydenisskrifte aan ons kant is, waarom sou ons terugdeins? Wat ek wil sê, moenie te gou skrik vir die AS nie. Hulle is nie die kerk nie!

Soek God se wil biddend saam met medegelowiges! Die Here sal sy getroues nie in die steek laat nie en sal aan ons genade en wysheid skenk...Hy doen dit veral binne die gemeenskap van gelowiges. As ons dan moet vlug, dan sal Hy vir ons bekendmaak wanneer en waarheen deur die gesamentlike wysheid wat die Heilige Gees ons gee.

Intussen, laat ons die Woord tydig en ontydig bring...

[Laat weet hoe jy dink en kom ons bemoedig mekaar, maak gerus gebruik van die kommentaar funksie hieronder]

*So skryf 'n kosbare broer wat die Here in die sendingveld dien : 

Beste Johannes,

Ek is nou erg ontsteld en verward – inderdaad in ‘n krisis - n.a.v. gister se besluit deur die Algemene Sinode dat homo-paartjies OK is en nou mag “trou” en dat teologiese studente en leraars nie meer selibaat hoef te wees nie."


[Mariental NG Kerk - oudste gemeente van die NGK in ons land, eers bekend as die Gibeon gemeente]