BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Bemoediging. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Bemoediging. Wys alle plasings

Dinsdag 12 Mei 2020

Paulus en matriek 2020

Ek weet jy is gefrustreerd, en miskien nog moedeloos, angstig en dalk selfs kwaad ook! Ek praat nou met jou wat in matriek is. 2020 Matriek! Maar hierdie emosies raak sekerlik nie net ons matrieks nie, maar alle leerders, onderwysers, ouers, kortom sommer ons hele skoolgemeenskap. So baie planne en so baie drome is nou gekortwiek en deurmekaar gekrap. 



Wat nou? Ek wil jou herinner aan die bekende gesegde :

 “Two men looked through the bars, one saw mud, the other one STARS.” 

Een so ‘n persoon wat letterlik agter tralies gesit het, maar die “sterre” helder raakgesien het was die apostel Paulus. Ons weet mos, sy passie was om rond te reis en die evangelie te verkondig. Hierdie Paulus sit nou vasgekeer tussen die mure van ‘n tronk! Wat nou? Is hy moedeloos, bedruk, passief en swartgallig? NEE! Hy benut die tyd en skryf in hierdie slegte situasie ‘n brief aan die gemeente van Filippi vanuit die gevangenis. En weet jy wat? Een van die groot deurlopende temas van hierdie brief is BLYDSKAP! Hoe so? 

Paulus sien die “sterre” raak van ‘n geleentheid wat God hom gegee het! Luister wat skryf hy : “Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het. Dit het daarop uitgeloop dat die hele keiserlike wag en al die ander nou besef dat dit ter wille van Christus is dat ek ‘n gevangene is.” (Filippense 1:12,13) 

Weens sy tronkstraf kry Paulus ‘n kans om aan mense wat andersins nooit die evangelie sou hoor nie, nou wel die Woord van God te verkondig! 

Paulus ervaar hoe God van die minus ‘n plus maak! 

Hoe kry Paulus dit reg om so die positiewe in sy slegte situasie raak te sien? Sy lewe het hoegenaamd nie om homself en sy prestasies gedraai nie, maar om Christus alleen! Paulus het oor niks anders gespog en geroem nie, as net Jesus Christus en sy genoegsaamheid! Sy kern lewenshouding vat hy soos volg saam : “want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.” (Filippense 1:21) Sy lewe draai om een groot passie, Jesus Christus en daarom al gebeur die ergste wat sou kon gebeur – die dood, is die dood vir hom ‘n wins – ‘n absolute voordeel, want dan is hy mos by sy Here! 

Paulus se bewustheid van Jesus as sy enigste bate het die praktiese effek van tevredenheid en vergenoegdheid in alle omstandighede! Ja, alle omstandighede! Ook tye van gebrek en benoudheid. Hy weet wat is oorvloed en hy weet wat is gebrek. Van beide situasies het hy praktiese ondervinding. Hy hanteer dit egter alles deur Jesus wat hom krag gee. (Sien Filippense 4:13) Die Christelike oorwinningslewe, beteken nie dat als volgens MY planne en MY verwagtings verloop nie, maar dat ek in alle omstandighede my fokus op Jesus behou en my berus in SY planne vir my lewe!

As Jesus sentraal in ons lewens staan en nie ons eie planne en roem nie, is die lewe ‘n vreugde en ervaar ons in alle omstandighede (ook NOU) vergenoegdheid, tevredenheid en blydskap en sommer groot AVONTUUR! (Al is daar inderdaad ook  trauma, trane en teleurstellings.) Maak nie saak wat gebeur nie. Ook as ‘n virus verwarring, ongerief en vrees saai! 

Die kind van God het altyd rede tot blydskap, ook as jy ‘n 2020 matriek is! 

En onthou, blydskap is nie maar net 'n opsie nie, dis 'n opdrag! Die Woord beveel elkeen van ons wat aan Jesus behoort : 

"WEES BLY IN DIE HERE!"

Dit was so lekker om saam met hierdie groep 2020 matrieks saam te kuier en uit die boek van Filippense te gesels. Agter van links na regs : Zaanri (Gimmies), Lieze (Gimmies), Heimo (OSS), Nick (Gimmies), Eugene (OSS), Monique (Etosha), Anri (Redimere), Jonette (Gimmies) en Anja (Gimmies).

Vrydag 22 November 2019

KRY WEER HOOP!


En dis belangrik, want hoop lei tot lof en lof bring eer aan God!

Kinders van God is mense van hoop! Ja, natuurlik ook geloof (geloof in Jesus) en liefde (liefde vir God en mekaar) maar  nou is dit ontsettend belangrik om  HOOP te hê!

Dis onontbeerlik noodsaaklik om hoop te hê. Sonder hoop kan mens nie aanhou nie. Vat nou maar ’n langafstand atleet. As hy hoop verloor, dan stop hy nou-nou…  ‘n Student wat hoop verloor, skop gou-gou op... As jy hoop met jou huwelik verloor, is egskeiding voor die deur...

Kinders van God het ’n vaste hoop nodig om te volhard. Ons het hoop nodig om die Christelike wedloop te voltooi en by ons ewige bestemming aan te kom. Maar nog belangriker, dis ook net as ons HOOP het dat ons vreugdevolle lofprysende kinders van God sal wees! 

Die probleem -  dis nie aldag  so maklik om hoop te hê nie. Daar is baie dinge wat ons ontmoedig, wat wanhoop wek, wat ons knieë lam maak.

Die Christelike hoop is nie iets vaag, mogge-troffe en onseker nie. (“Ag ek hoop maar vir die beste” nie.) Nee, dis ‘n vaste blye verwagting en sekerheid gegrond op God se beloftes.

Hoe werk hoop nou in die praktyk? Kom kyk: Hoekom het ons hoop nodig? Hoe kry ons hoop? Wat is die heerlike gevolg van hoop?

HOEKOM IS HOOP NODIG? Ons word dikwels moedeloos en radeloos op die pad van geloof. Daar is ’n  hele paar dinge waarmee ons gekonfronteer word, wat ons moedeloos maak en al die wind uit ons seile haal sodat ons maklik koersloos ronddobber:

Sonde en skuld. Dis soos ’n berg. Moedeloos. Hoe kon ek weer hierdie sonde doen? Ek voel so sleg. Ek wil maar die Here se pad los… Ek het al soveel keer geval... Ons word weens ons eie afdwalings gevange gehou deur die reus Wanhoop in die kasteel van Vertwyfeling! Dis 'n donker uitsiglose plek van desperaatheid en selfverwyt!

Teleurstellings. Mense, spesifiek ander Christene stel my teleur.  Daardie rebelse kind van my... Valse beloftes, ydele verwagtings. Doopbeloftes, lidmaatsbeloftes, verlowingsbeloftes, huweliksbeloftes word verbreek.

Omstandighede. Droogte! Siekte. Finansies. Werkloosheid. Korrupte regerings...

Verganklikheid. Niemand kan vir die skaduwee van die verganklikheid en dood vlug nie. Meedoënloos tik die sekondes , minute, ure van ons lewens af... Tyd staan nie vir ’n oomblik stil nie. Die swaard van verganklikheid hang oor ons elkeen. Ons harte rebelleer daarteen, dis so hartseer, dat alles moet vergaan, dat almal uiteindelik oud word en sterwe...  Is alles dan tevergeefs?

HOE KRY EK WEER HOOP? Hier in ROMEINE 15:1-6 sê Paulus vir ons hoe ons vol hoop kan wees.
Let veral op vers 4:
 
 “Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees.”

Die Skrif gee ons standvastigheid en bemoediging. 

Dit maak ons weer vol hoop!  Die hele Skrif – “alles wat vooraf opgeteken is.” God self is die bron van standvastigheid en bemoediging. Hoe dra Hy dit oor aan ons? Deur Sy Woord! Die Skrif gee ons hoop en net die Skrif gee ons hoop! (Dis die sleutel wat die diep donker kelders in die Kasteel van Vertwyfeling kan oopsluit...*) Alle hoop wat nie op die Woord gebou is nie is wankelbaar, onvas en onseker en dit gaan jou beslis teleurstel. Pasop maar vir jou eie gevoelens en vir ander mense se praatjies. Net God se Woord is absoluut waar, want God is nie ‘n mens dat Hy sou lieg nie! “God is nie ‘n mens dat Hy sou lieg nie, ‘n mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?” (Numeri 23:19) 

God se beloftes is waar! 

Die hoogtepunt van sy beloftes is Jesus Christus self. In Hom is ons vergewe, aangeneem as kinders en het ons ewige sekuriteit. God is in alle omstandighede by ons en NIKS kan ons van sy liefde skei nie! Ons is meer as oorwinnaars, bemindes van die Vader en deelgenote aan ‘n onbeskryflik heerlik ewige erfenis! Hierdie is als feite van die Woord! Wie dit hoor en glo, kry HOOP!

VALSE HOOP

Mense wat nie hulle hoop op die Woord van God stel nie, stel gewoonlik hulle hoop op twee ander faktore:

~ Hulle stel hulle hoop op die rykdom. My besittings en my belange verskaf vir my sekuriteit. Dis baie dwaas en riskant!  “Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet.” (1 Timoteus 6:17) Mense verkies die onsekere hoop op rykdom bo die hoop op God en sy beloftes. Ja, dis so - kyk hoeveel tyd bestee hulle aan die najaag van rykdom en hoe min tyd om God se beloftes te bestudeer. Rykdom en alle aardse bates is onseker! 

Gaan vra die voormalige Zimbabwiese grondbaronne en tabakprinse! Kyk hoe verteer die droogte, misdaad en  korrupsie eens welvarende mense se rykdom...


~ Baie stel hulle hoop op mense. Ek moet net sorg dat ek die regte ouens ken en die regte ouens aan my kant het.
Ek sal my beginsels prysgee solank ek net die sterkes, belangrikes en rykes nie aanstoot gee nie. Die Bybel waarsku duidelik hierteen.  “Moenie op magtiges vertrou nie, nie op ‘n mens nie; hy kan jou nie red nie. Sy asem verlaat hom, hy word weer grond en sy planne is daarmee heen.” (Psalm 146:3,4)

WAT IS DIE GEVOLG VAN SKRIFGEFUNDEERDE HOOP? 

Daar is heerlike gevolge en byvoordele as ons hoop weer deur die Skrif aangevuur word. Saam met standvastigheid, bemoediging en hoop wat van God kom, is daar eensgesindheid. (hierdie onselfsugtige eensgesindheid is eintlik die hoofgedagte van Paulus in hierdie paragraaf wat by vers 1 begin) Christene wat saam hierdie hoop deel, verdra ander, dink nie net aan hulleself nie, bou die ander positief op en dit bring ons by eendragtige lof!  (Paulus en Silas sing saam lofliedere in die tronk!) Hier sien ons eintlik ‘n wonderlike ding! Ware hoop wat gebou is op die Skrif, bevry mens nie net van vrees en swartgalligheid nie, maar bevry mens van selfgesentreerdheid en selfsug! Dink maar mooi – ‘n mens sonder hoop is ‘n bang en  selfsugtige mens en kan nie rede insien om God te loof nie! 

‘n Mens met hoop is vry om sy medegelowige te dien en lief te hê , is vry om God te aanbid en te loof!

As ons erns gaan maak met die Woord (en die erediens waar Woord en lof op mekaar volg) is daar heerlike gevolge. Hoop. Volharding. Eensgesindheid. ‘n Lewe van lof aan God en dis die belangrikste van als!


*As jy nog nie het nie moet jy beslis die klassieke Christen allegorie van John Bunyan, “Die Pelgrim se Reis na die Ewigheid” lees!





Vrydag 05 April 2019

AFSPRAAK BY BET-EL


- DIE GETROUE GOD ONTMOET MET ‘N SKELM VLUGTELING! 

Dis ‘n donker en harde tyd vir Jakob! Die nag het hom ingehaal en hy slaap met sy kop op ‘n klip! Soos ons weet is hy op hierdie stadium ‘n vlugteling, want hy het saam met sy ma Rebekka, bedrog gepleeg en sy bejaarde pa Isak mislei en sy tweeling broer Esau woedend gemaak. Jakob is ‘n bedrieër en sy skelmgeit het hom nou ingehaal! Hy vlug vir sy lewe... 

Die wonderlike van hierdie verhaal in GENESIS 28:10-22 is dat God nie hierdie glibberige skelm vergeet nie, maar Homself aan Jakob openbaar op ‘n onverwagte plek op ‘n onverwagte tyd! God is inderdaad alomteenwoordig, orals! Hy kan Homself enige tyd en enige plek aan enige mens openbaar. Hy reël ’n ontmoeting soos en wanneer Hy wil... Ook juis met mense wat aan die hardloop is, wat dalk juis probeer wegvlug van God. Ook aan mense in die grootste nood en ergste krisis. Bang mense, benoude mense, stukkende mense, skuldige mense, sondige mense... Jakob sou kon dink dat hy ver is van sy voorvaderlike heiligdom by Berseba, net om hom nou vas te loop in God self. Dit verbaas hom en dit laat hom eintlik skrik. “Jakob het wakker geskrik en gesê: "Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie." Jakob het bang geword en gesê: "Hoe skrikwekkend is hierdie plek! Dit is niks anders nie as die huis van God; dit is die poort van die hemel." (16,17) Dit laat mens dink aan Psalm 139:7-12.* Jakob moes ontdek, ook hier ver van sy huis is God naby, hier is God aktief, hier staan hy voor die poorte van die hemel! 

God kan jou enige tyd, enige plek ontmoet! 

Dis opmerklik dat die skelm vlugteling Jakob nie hier ‘n skrobbering of teregwysing van God kry nie. Hy kry nie raas nie. Inteendeel, Hy kry ‘n bemoediging en versekering. God verskyn aan Hom as die getroue en genadige God. God verskyn aan die bedrieër nie omdat hy ‘n bedrieër is nie, ook nie omdat hy tog wel oor goeie eienskappe sou beskik nie, maar omdat God getrou is aan sy verbond! God se verbond wat hy aan sy oupa Abram gemaak het, aan sy pa Isak oorgedra is word nou herhaal aan Jakob! “Toe kom staan die Here by Jakob en sê: "Ek is die Here die God van jou voorvader Abraham, die God van Isak. Ek sal die grond waarop jy lê, vir jou en jou nageslag gee. Hulle sal so baie wees soos die stof van die aarde, en jy sal jou gebied na alle kante toe uitbrei, en in jou en jou nageslag sal al die volke van die aarde geseën wees.” (13,14) Dis ‘n basiese herhaling van die drie elemente van die belofte aan Abram : ‘n groot nageslag, ‘n land en die seën aan alle nasies! Dis ‘n oorvloedige ruim belofte. Die grondgebied sal “uitgebrei” word soos ‘n dam wat sy walle oorstroom! Jakob se sonde en mislukkings kon nie die waarheid van God se verbondsbeloftes uitwis nie! 

Jakob kry ook meer as net ‘n algemene herhaling van God se beloftes. God praat met hom baie persoonlik in sy situasie binne die raamwerk van sy verbond. “Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan. Ek sal jou na hierdie land toe terugbring. Ek sal jou nie in die steek laat nie. Ek sal doen wat Ek jou beloof het." (15) Detail maak vir God saak. God sien die nood van sy vlugteling kind raak. Hy het ’n besondere behoefte aan God se teenwoordigheid, leiding en beskerming en dis waarvan God hom nou verseker! 

God werk baie intiem en persoonlik met ons. 

Jakob se hart kon nie onaangeraak bly teenoor die goedheid en genade van God nie. Dit wek ’n reaksie by hom en hy maak ’n gelofte aan God en stig sommer daar en dan ’n aanbiddingsplek.(20-22) Na sy ontmoeting met die lewende God kon Hy nie anders nie, hy verbind homself daartoe om God te dien, ook met sy besittings. Natuurlik is ’n gelofte aan God ’n bitter ernstige saak! Die Skrif waarsku op baie plekke teen onnadenkende geloftes. Tog gebeur dit dat sondaars se harte so oorweldig word deur God se goedheid en genade dat hulle nie anders kan as om hulleself aan Hom oor te gee en trou aan Hom te beloof nie! Natuurlik ons redding is nie gebou op ons geloftes nie, ons geloftes is ’n reaksie op God se redding! 

Beleef jy nood, is jy dalk besig om van God weg te vlug, het jou sondige keuses of onverantwoordelike besluite jou ingehaal? God het nie sy beloftes aan jou vergeet nie. God ontmoet met jou by Bet-El, nou! 

VRAAG : Waar is jou Bet-El, jou huis van God? Weet jy dis nie in die eerste sin ’n plek nie maar ’n PERSOON. Jesus! 

Jesus self is nou die tempel, die huis van God (Bet-El) in die finale sin! Dis merkwaardig dat Jesus self na hierdie stukkie geskiedenis van Jakob verwys. 

Verder sê Jesus vir hom: "Dit verseker Ek julle: Julle sal die hemel oop sien en julle sal die engele van God sien op— en afklim na die Seun van die mens toe." (Johannes 1:51) 

Die engele wat heen en weer op en af gegaan het op die trap/leer in Jakob se droom was die aanduiding dat hy met n Goddelike heiligdom en teenwoordigheid te make gehad het.` n Hemelse bevestiging dat God hier is! Die engele gaan opwaarts na die hemel om aan God te rapporteer en daal weer af om God se bevele uit te voer. As Jesus na hierdie gedeelte verwys is om vir sy dissipels te laat verstaan dat hulle hemelse bevestiging sal kry dat Hy die Messias is wat deur God aangestel is. Soos elke Jood vir Jakob as die stamvader van Israel geëer het, moet almal nou Jesus as die Messias erken!** God openbaar Homself nou nie meer in besonder op ‘n fisiese plek en heiligdom soos Bet-El nie, maar in Jesus self! Hy vervang die tempel. (vgl. Joh 2:18-22) Al God se beloftes het in Jesus waar geword. As jy jou vertroue op Jesus alleen plaas, is al hierdie beloftes joune! In Jesus word jy deel van Abram se nageslag, in Jesus word jy ‘n erfgenaam van die nuwe Kanaän, in Jesus is jy ‘n ware geseënde! In Jesus kan jy nou ook hoor: “Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan...” Hierdie beloftes is nie vir goeie mense bedoel nie, maar vir skelms en sondaars soos Jakob en ek en jy! Hierdie beloftes kom na jou in hierdie moeilike tyd van verspeelde kanse, verkeerde keuses, mislukte planne, sonde verskeurdheid, ellendes van droogte, siekte en gebrek... 

Deur vertroue op Jesus alleen, kry ek deel aan die volle rykdom van God se beloftes! 

En as ek en jy hierdie beloftes glo en sy genade aanvaar kan ons nie anders nie as om onsself aan God toe te wy nie. Soos die ongelowige Thomas wat ook ’n genadige ontmoeting met Jesus beleef het na die opstanding. Mag sy reaksie : “My Here en my God!” ook my en jou reaksie wees. Jakob het ‘n kortstondige ervaring gehad, jy kan deur Jesus God se majesteit, sy liefde, sy redding permanent beleef! Want Jesus is daagliks by sy mense deur die inwonende Heilige Gees! 


*Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom?
Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar.
Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas.
Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek, of die lig rondom my om in nag te verander, maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig. (Psalm 139:7-12)



** Carson, The Gospel according to John, p164



Enige tyd, enige plek... daar waar Jesus met jou ontmoet is die heiligdom van God!




Woensdag 04 Mei 2016

HI, DIS HEMELVAART!

- “En ek was nog nooit regtig opgewonde daaroor nie”



Miskien sou dit jou eerlike opinie kon wees, maar ek vertrou dat dit nou vir altyd gaan verander…

HEMELVAART - ‘N GESKIEDENIS WAT ONS DIREK RAAK

Elke mens op aarde het ‘n persoonlike geskiedenis. ‘n Lewensloop met sekere hoofmomente, sleutelgebeure soos geboorte, huwelik, dood. Jesus is God wat mens geword het en as mens het Hy ook ‘n lewensgeskiedenis van wat hier op aarde met Hom gebeur het. Sy geskiedenis is baie menslik en doodgewoon, maar ook baie uniek en besonders. Baie belangrik, want sy geskiedenis, sy lewensloop raak ons direk. Trouens, Jesus se hele aardse bestaan en handel en wandel was ter wille van ons, tot ons (sy verlostes) se voordeel, nou en ewig!

Kom ons kyk so vinnig na sy geskiedenis, maar veral ook na die hemelvaart en hoe dit ons baie persoonlik raak:

Geboorte. Jesus het ‘n gewone geboorte gehad... maar tog ook uniek. Ons bely dat Hy uit ‘n maagd gebore is en deur die Heilige Gees verwek is. Hieruit volg logies : Jesus is waarlik God, maar ook waarlik mens. Hy beklee dus ‘n unieke posisie. Hy kan identifiseer met ons as mense, ons gevoelens, ons pyne tot selfs met die dood. Maar tog is Hy almagtig God, die Een wat ons waarlik kan red en ‘n Middelaar is tussen God en mens.

Wonderwerke en magtige dade. Die lys is te veel om te noem. Dit was nie skynwonders soos wat ons by vandag se kwaksalwers sien nie...blindes het gesien, lammes het geloop, dooies het weer lewend geword! Water het in wyn verander, op water het Hy geloop... Sy wonderwerke het gewys Hy het mag oor die natuur, mag oor siekte, mag oor demone en mag oor die dood! Hy is waarlik God!

Sterwe. Dis veral Jesus se sterwe wat baie uniek en kosbaar is. Hy sterwe aan ‘n houtkruis tydens Paasfees, as ons Paaslam wat die oordeel afweer!. Sy martelaarsdood is nie net nog ‘n tragedie nie (inderdaad het aie mense al aan kruise gesterf), maar ‘n doelbewuste selfoffering ter wille van ons sonde. Hy dra die vloek oor ons sonde en sterf dus as vervloekte aan ‘n hout, sodat ons die seën kan kry.

Begrafnis. Hy gaan deur hierdie vernedering, wat bewys Hy was werklik dood, dus het Hy werklik die volle straf gedra van ons sonde. Sy dood was nie maar net ‘n skyndood, simboliek, drama of opvoering nie.

Opstanding. Jesus staan na drie dae liggaamlik op en eet brood en vis voor die oë van sy dissipels. Hulle sien Hom, vat aan Hom, praat met Hom. Die opstanding het bewys dat Jesus werklik was wie Hy gesê het Hy was. As daar nie ‘n opstanding was nie, was Jesus maar net nog een van die baie godsdienstige swendelaars. Maar Hy het opgestaan, dit wys dat God sy offer aanvaar het, dat ons sondeskuld inderdaad betaal is en dat ons ook eendag sal opstaan met verheerlikte liggame.

Hemelvaart. Ook hier het ons met ‘n werklike stuk geskiedenis te maak. Lees dit gerus in HANDELINGE 1:9-11. Let op - “terwyl hulle dit sien” - daar was dus ooggetuies! Jesus het liggaamlik opgevaar na die hemel ten aanskoue van ‘n klomp mense.

Hoe raak dit ons? Kan ons ook daaroor opgewonde raak soos oor sy geboorte, sterwe en opstanding? Watter praktiese nut en voordele hou dit vir ons in? Die Heidelbergse Kategismus Vraag 49 spel baie duidelik 3 redes uit:

1.Jesus doen vir ons voorspraak. Hy is ons persoonlike advokaat. Hy pleit vir ons. Luister na 1 Joh 2:1 – “Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig -ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader.” en Rom 8:34 – “Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” Glo jy dat Jesus vir jou pleit? Wat ‘n heerlike troos! Ons vra dikwels vir mense om vir ons voorbidding te doen en dit beteken vir ons baie. Maar nou hoor ons Jesus self doen vir ons voorbidding. Kan daar iets meer vertroostend wees? Wanneer jy platgeslaan is, moedeloos is, nie eers krag het om te bid nie, wanneer geen mens daar is om jou te ondersteun of moed in te praat nie, weet daar is Iemand wat vir jou pleit by die almagtige God! (en terloops, dis nie Maria of een of ander heilige nie, dis God se eie Seun) Sal God nie na sy Geliefde Seun luister nie? Verseker sal Hy... Onthou Jesus bid vir jou, as jy magteloos siek lê, as jy in ‘n donker krisis is en nie weet wat om te bid nie, wanneer jy deur versoeking geteister word en juis ook as jy in sonde geval het... Hou vas aan hierdie feit en skep weer moed!

HEMELVAART VERSEKER ONS VAN ‘N PLEITENDE JESUS! KIND VAN GOD, HY PLEIT VIR JOU! GAAN JY DALK NOU OPGEWONDE RAAK?

2.Die feit dat Jesus as mens met sy menslike liggaam en natuur opgeneem is in die hemel is ‘n waarborg, dat Hy ons ook as mense met nuwe liggame na Hom sal neem. “In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie." (Joh 14:2) Ons gaan nie swewende spoke wees nie. Ons gaan na ‘n plek wat Jesus vir ons berei het. Ons gaan nuwe liggame kry, soortgelyk aan sy verheerlikte liggaam. Liggame sonder gebreke, sonder smet of sonde! “Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.” (Fil. 3:21)

3.Na die hemelvaart het Hy Sy Gees gestuur om by ons te woon en dis ‘n groot voordeel. Jesus verseker sy dissipels : “Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur." (Joh 16:7) Dis die belofte wat op Pinksterdag letterlik waar geword het. Maar dis ‘n waarheid met blywende effek – die Heilige Gees is by elke kind van God en troos ons, leer ons, lei ons, bekragtig ons! Jesus het sy belofte gehou en daarom maak die Heilige Gees ‘n werklike verskil in elke kind van God se lewe.

JESUS IS NOU BY ONS DEUR DIE GEES!

Jesus se hemelvaart is dus net soos sy geboorte, sy wonders, sy kruisdood, sy opstanding goeie nuus vir ons. Goeie nuus om waarlik oor opgewonde te raak en dankbaar voor te wees! Hierdeur waarborg Hy ons redding deur sy voortdurend voorspraak. Hy waarborg ons liggaamlike voortbestaan en ewige heerlikheid by Hom. Hy waarborg dat Hy nou deur die Heilige Gees by ons is, want die Heilige Gees word genoem die Gees van Christus en die Gees van Jesus! Hemelvaart beteken eintlik ons brood is aan beide kante gebotter – Jesus is by die troon van die Vader waar Hy vir ons pleit, maar Jesus is ook deur die Heilige Gees nou by ons!

Vrydag 10 Mei 2013

AS PRAAT EN PLEIT NIE MEER HELP NIE

- is die Gees nog steeds daar! 


Kinders van God beleef soms baie soorte teleurstellings en moedeloosheid en selfs partykeer ‘n wanhopige gevoel van bekommernis. Die redes is veelvuldig : dinge werk nie uit soos ek dit wil hê nie, probleme so groot soos die berge, moeilike omstandighede wat eindeloos voortsloer... van die ontstellendste krisisse is egter die angswekkende feit van eggenotes, kinders, familie en vriende (selfs gemeentelede) wat onbekeerd voortleef terwyl die einde naderkom... Hulle is vasgevang in Satan se greep, verblind deur die wêreld, verlam in ‘n verlore staat... Jou gepraat val skynbaar op dowe ore, jou gedreig en gepleit het geen effek. Dit maak jou moedeloos en selfs paniekerig. Dan is daar nog die betreurenswaardige toestand van die kerk...dwalinge, morele verval, wêreldsgesindheid en laksheid wat floreer. Dit dreig om baie Christene heeltemal moedeloos of sinies te maak. 

Die profeet Sagaria het vir elkeen wat so voel ‘n besondere boodskap. Sagaria self het opgetree in ‘n konteks van moedeloosheid en teleurstelling. Hy bring sy boodskap in die tydperk nadat die Jode uit ballingskap teruggekeer het na Jerusalem. Hulle het mooi verwagtinge gehad, maar als het nie uitgewerk soos hulle gedink het nie. Daar was armoede, vyande, geskille en geestelike verval. Die groot taak in hierdie tyd was om die verwoeste tempel weer te herbou, maar dit het maar broekskeur gegaan en op ‘n stadium moes die werk gestaak word. Die goewerneur Serubabel moes in hierdie moeilike omstandighede toesien dat die bouwerk vorder. Die doel van visioen van die olie en die lampe in Sagaria hoofstuk 4 was om hom te bemoedig. Hierdie bemoediging gaan egter verder as Serubabel en sy tyd, dis ‘n profetiese boodskap wat ook ons direk raak... 

Die kernboodskap van die beeld van die olie en die lampe vind ons in vers 6. “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige."

Dis wat die moedelose Serubabel moes hoor : die sukses van sy onderneming het nie afgehang van menslike vermoëns en planne nie, maar van God se Gees wat krag gee. Deur die krag van God se Gees sal die grootste berg, die ongemaklikste struikelblok, ‘n gelykte word! (7) Hoe nodig het ons nie om hierdie boodskap te hoor nie. Ons het mos die neiging om alles met brute krag en geweld te wil regforseer. Ek wil my familie regskree. Ek wil my man regpreek. Ek wil my werksmense sommer met ‘n dropper regmoker tot bekering! God herinner ons... “Nee, my kind, nie deur krag en geweld nie, maar deur my Gees...” 

Kom ons vat dit maar vir ‘n feit: ons kan niemand deur menslike geweld en oorredingskrag verander nie. Ons kan nie self lewe blaas in iemand wat geestelik dood is nie. Ons kan niemand se gewete bring tot berou nie. Ons kan niemand beweeg tot bekering nie...maar die Heilige Gees kan! 

Hierdie visioen van Sagaria beklemtoon ons totale afhanklikheid van God se Gees. Die lampe van die kandelaar word voortdurend voorsien vaan olie. Sonder die olie kan die lampe nie brand nie. Die lampe simboliseer die aanbiddingsgemeenskap, in ons taal, die gemeente. Sonder die bekragtiging en energie van die Heilige gees kan ons nie kerkwees nie, kan ons nie effek hê op mense rondom ons nie, kan ons nie slaag met ons Godgegewe take nie. Ek en jy kan nie in hierdie donker wêreld skyn en ‘n verskil maak sonder die olie van die Heilige Gees nie. 

Die heerlike boodskap van Pinkster is juis dat die Heilige Gees tot beskikking is van elke kind van God! 

As ons dan nou besef dat ons afhanklik is van die Heilige Gees, wat dan nou? 

Bid vir die bekragtiging van die Gees. Gebed is die duidelikste bewys dat ek nie meer op eie vermoëns staatmaak nie, maar op die Heilige Gees. God skenk sy Gees in antwoord op gebed. (Lukas 11:13) 

Waak dat ek nie die Gees bedroef en uitblus nie. (Efesiërs 4:30) Hoe keer ek dat ek die Gees bedroef? (Ef 4:31,32) Stel my verhouding met my medemens reg! 

Getuig onder beheer van die Heilige Gees. Hy gee die krag daarvoor. (Handelinge 1:8) Die Heilige Gees maak ons nie passiewe dromers met wollerige idees nie, maar gehoorsame arbeiders in God se wingerd! Vertel maar net in opregtheid wie Jesus is en wat Hy vir jou gedoen het. Moenie geestelike geweld en druk op mense toepas nie. Laat die Gees jou lewe spontaan oorheers, sodat jou woorde deur jou lewensstyl ondersteun word. 

Wie op die Heilige Gees vertrou het rede om positief blymoedig te wees. Die pessimiste sou destyds sê : kyk hoe stadig vorder die tempel, dit sal nooit klaarkom nie. 'n Belangrike deel van die boodskap wat Sagaria moes oordra is: Moenie ‘n klein begin verag nie! (10) Ja, die ware Christene is min, die wat vashou aan die waarheid van die Woord is yl gesaai, ons woorde voel so swak, ons pogings lyk so nietig... Moenie dit geringskat nie. Onthou vir die Gees is niks onmoontlik nie. (Hy kon Paulus die klipharde Fariseër verander...) Jesus self het ons daarop gewys die koninkryk van God begin maar klein, soos ‘n mostertsaadjie, maar dit groei onstuitbaar... 

God self sorg dat sy tempel gebou word!

Hiervoor het Hy destyds mense gebruik wat afhanklik was van die Gees. Die fisiese tempel is wel herbou in die tyd van Sagaria, maar God is vandag nog met iets baie groters besig. Hy bou sy ewige tempel, sy kerk, die liggaam van Jesus. God gebruik weereens mense hiervoor wat afhanklik is van die Heilige Gees. Jesus is ons Gesalfde, Hy was vol van die Heilige Gees en Hy gee sy Gees aan ons om die werk te kan doen. Hierdie feit gee ons hoop en vuur ons aan om te werk. Ons kan Hom vertrou om deur sy Gees groot dinge te doen, al lyk ons pogings hoe klein!