BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Huwelik. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Huwelik. Wys alle plasings

Vrydag 21 Oktober 2022

SKAARSER AS ELEKTRISITEIT BY ESKOM...





DIE BAIE GROOT MISTERIE...




Wat is skaarser as elektrisiteit in ESKOM, ‘n eerlike politikus en wors in ‘n hondehok? Die antwoord is skokkend, maar as jy dit kan vat.... ‘n Maagdelike bruid voor ‘n kansel! Tragies! Wat wil ek daarmee sê? – die Godbedoelde instelling en betekenis van die huwelik het amper heeltemal uitgesterf en verdwyn! Op God se plan vir die huwelik word daar daagliks getrap, ook deur lidmate van ons gemeente.

Paulus behandel die verhouding tussen man en vrou in die huwelik in detail in Efesiërs 5:21-33. (Maak jou Bybel hier oop) Maar dis baie duidelik dat dit gaan oor iets dieper as maar net ‘n goeie verhouding tussen twee mense van die teenoorgestelde geslag. 


Om die Godbedoelde oorsprong van die huwelik as instelling te bevestig haal hy Genesis 2:24 aan – met die beklemtoning van een vlees. (lees) 






En dan maak hy ‘n merkwaardige uitspraak in vers 32. Die instelling van die huwelik word hier uitgelig tot op ‘n baie hoër vlak – ‘n geheimenis . Dit verwys na die diep verhouding tussen Christus en sy kerk. Die implikasie is dat die huwelik van die begin af iets meer was as ‘n menslike sosiale ordereëling, meer as ‘n gerieflikheidsverbintenis, dit wys na God se plan van verlossing. Dis ‘n uitbeelding van die misterieuse eenheid en liefde tussen Jesus en sy gemeente. Hierdie liefde is baie diep, ons as kinders van God is deel van sy Jesus se liggaam. Die duidelikste bewys van hierdie eenheid vind ons natuurlik in die Heilige Nagmaal waar ons sy vlees eet en sy bloed drink!

Die konteks van Genesis 2 is baie belangrik. Die mens, Adam is alleen, dis ‘n krisis vir hom en dan maak God vir hom ‘n hulp – nie ‘n dier nie, nie ‘n ander man nie, maar ‘n vrou as helper. Helper het nie die konnotasie van slaaf nie. Die vrou is die hulp van die man in die sin dat sy die man help om sy diepste doel en sin in die lewe te besef en te verwesentlik, naamlik om sorgend en beskermend lief te hê. Die man het die vrou nodig, maar net so het die vrou die man nodig. Hulle vervul hulle roeping deur hulleself aan mekaar te gee – fisies en geestelik. Dis ‘n wederkerige liefde waarin elkeen ‘n afsonderlike, maar aanvullende rol speel. (komplimentêr tot mekaar) Die fisiese en psigiese verskille tussen man en vrou bewys hulle is ontwerp vir mekaar om komplimenterend, aanvullend te wees. Inderdaad soos ‘n pot en deksel wat presies inmekaar pas!

Konklusies :

  • Die huwelik en die rolle in die huwelik is nie ‘n menslike uitdinksel nie, maar ‘n Goddelike ontwerp, instelling, plan – met ‘n huidige tydelike aardse funksie maar ‘n ewige onverganklike boodskap. Die huwelik is dus ‘n heilige roeping, dis ‘n Goddelike opdrag wat volgens God se voorskrifte uitgevoer moet word. Dis ‘n profetiese boodskap aan die wêreld vir nou met ewigheidsgevolge en betekenis. Natuurlik in die lewe hierna gaan daar soos Jesus self gesê het nie meer huwelike wees nie. Dit gaan ook nie nodig wees nie, want ons sal volmaakte vervulling in die ewige bruilofsmaal van die Lam ervaar.
  • Man en man, vrou en vrou kan nooit in ‘n huwelik met mekaar staan nie. LGBTQI+ideologie skreeu teen God se skeppingsbedoeling en teen God se verlossingsplan. As ‘n samelewing of kerk byv. selfdegeslagverbintenisse goedkeur en so die instelling van die huwelik ondergrawe of verwerp, is dit op die pad van vernietiging!

MAAR BELANGRIK! – Die LGBTQI+ideologie is nie die Satan se enigste aanslag teen die huwelik nie. Die huwelik as ‘n heilige instelling en afbeelding van Christus word op baie ander maniere bedreig, besoedel en geskend:

Daar waar mans en vroue hulle God bedoelde rolle afskeep of verwerp. Wat is dit? Dis die radikale lering wat Paulus hier gee. (22ev;25ev) Let op die woordjie “soos” - dis ‘n nuwe standaard van onderdanigheid en respek, nuwe standaard van liefde en selfopoffering!  Vrou jy moet jou man eer en jouself aan hom onderwerp "soos die gemeente aan Chrisrus"! Erg? Wel, kyk wat die man moet doen - Hy moet sy vrou liefhê en homself  vir haar opoffer, "soos Christus Homself vir die gemeente" opgeoffer het! Radikaal! 

Nou sal jy wil vra : "Is dit hoegenaamd moontlik?" JA! Onthou net,  dit is slegs realisties moontlik in soverre mense met die Heilige Gees vervul is en dus in die eerste plek respek en eerbied vir Jesus vertoon. (21) Die sleutel tot huweliksvreugde en vervulling is onderdanigheid/gehoorsaamheid aan Jesus!




VERNIETIGENDE SEKS!

Orals waar liggaamlike eenwording voor of buite die huwelik geskied is dit ‘n baie ernstige skending van God se bedoeling en plan. Seksuele eenwording is nie bloot net ‘n liggaamlike funksie soos eet of slaap nie. Paulus is baie duidelik daaroor in 1 Kor. 6:15-20. Paulus waarsku hier teen omgang met prostitute en wys op 'n belangrike beginsel - omdat jy as Christen deel is van die liggaam van Christus en deur omgang jy deel word van 'n prostituut, maak jy nou Christus se liggaam deel van die prostituut! Afgryslik! Wat jy met jou liggaam doen het ingrypende konsekwensies! Fisiese eenwording is slegs die uiterlike aspek van eenwording op die diepste intiemste menslike vlak. Die losbandigheid soos ons dit sien in voorhuwelikse intimiteit, owerspel en egbreuk maak ‘n bespotting van God se bedoeling met die huwelik as afbeelding van die verhouding van Christus en sy kerk. 


Jy wat losbandig leef spot met God – wees gewaarsku dit het skrikwekkende gevolge – nou en eendag. Geen wonder die Hebreër skrywer waarsku so ernstig hierteen nie. Hebreërs 13:4! Die huwelik moet in alle opsigte eerbaar gehou word, en die huweliksbed moet onbesoedeld wees, want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.


ONGETROUD?

….Wat van ongetroudes, kan hulle nie deel in hierdie diep geheimenis nie? Is hulle nou tweedeklas Christene of onvervuld?  Jesus het duidelike en nugter lering hieroor gegee. (Matteus 19:12 1983Vert.) 


Daar is mense wat om verskeie redes nie trou nie – hulle kan steeds kies om selibaat te leef ter wille van die koninkryk. Dis nie nou die tyd om hierop  uit te brei maar hier vind ons die diepste oplossing, maar ook uitdaging vir mense wat om een of ander rede nie in ‘n huwelik is nie, ook juis mense wat weens selfdegeslagaangetrokkenheid nie kan of wil trou nie. Die hoopvolle boodskap is – jy kan op ‘n baie spesiale manier toegewyd aan Jesus en bruikbaar in die koninkryk wees! Jy het ‘n kosbare roeping, aanvaar die uitdaging al gaan dit nie maklik wees nie. Jy het die voorreg om al jou energie, toewyding, talente en opoffering wat in ‘n huwelik sou ingaan, direk aan Jesus te offer. Die voorbeelde van sulkes is baie in die geskiedenis... dink maar aan Paulus.

Ten slotte. Natuurlik, ons besef maar te goed dat menswees in al sy aspekte, ook die huwelik en alle verhoudinge tussen mense deur die sonde geskend is. Dit veroorsaak oneindige hartseer, mislukkings en ellende. Maar Jesus het juis gekom om dit wat sonde geskend het heel te maak. Luister weer na Gesang 464 vers 3. 



Is jy stukkend? Juis op hierdie terreine waarvan ons gepraat het? Die kruisevangelie bring herstel en hoop vir elkeen wat dit berouvol aanneem!

Woensdag 05 Februarie 2020

DIE REGTE PERSOON


[Wat sê God oor seksualiteit, huwelik en egskeiding? – ‘n basiese vertrekpunt.] 



Miskien wonder jy : “Het ek met die regte persoon getrou?” Veral nou as dinge nie so lekker gaan nie… Daar is rusie, verwyte, die gevoel van liefde is weg en elke aspek van die huwelik het afgekoel en flou geword... Daar is ‘n knaende stemmetjie: “Het ek die regte keuse gemaak?” 



Dis eintlik ‘n maklike vraag om te antwoord. (Kliek) John Piper sê : “Kyk na die ander naam op jou huweliksertifikaat. Dis die naam van die regte huweliksmaat.” God het jou en daardie persoon saamgevoeg! “Ja, maar hy maak so, sy maak so, ons gevoel vir mekaar is heeltemal weg…” Geen maars nie! God het julle bymekaar gevoeg en jy mag nie teen God gaan en skei nie! Jesus se standpunt is baie helder. “Hy het hulle geantwoord: "Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie? Daarby het Hy gesê: ‘Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees.’ Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag ‘n mens nie skei nie." (Matteus 19:3-9) 

Dis Jesus se duidelike woorde, maar nou het Hollywood en die Huisgenoot ons gebreinspoel deur egskeiding as iets normaal uit te beeld. Dis nou “normaal” - as daar probleme kom om te skei. Maar die Satan het nie daar opgehou nie, nou het Hollywood en die Huisgenoot verder gegaan en ons vertel dis normaal om ongetroud saam te bly. Nog erger! Ons verkrag die huwelik nog voor daar ‘n huwelik is. En nou glo mense eerder vir Hollywood as vir God, maar dit kom hulle duur te staan, want God sê in Hebreërs 13:4 - “Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom.” 

God se oordeel tref diegene wat sy ordes rondom huwelik en seks minag! 

... en ek en jy hoef nie ver te kyk om hierdie oordele raak te sien nie!

Ons weet dat die hele Skrif deur God geïnspireer is, van God af kom, Goddelike gesag dra. (Kliek – SKRIF) Nou is dit juis as dit kom by die kwessies soos huwelik en seksualiteit dat mense die duidelikste wys hoe min hulle van God se Woord dink. Ons stem formeel saam – "Ja, die Bybel is God se Woord," maar as dit by hierdie sake kom dan maak ons soos ons wil. Ons weet beter as God, ons maak ons eie norme en standaarde... en die gevolge is skrikwekkend, verwoestend en fataal! 

Die duiwel fluister so maklik vir ons – hierdie man of vrou waarmee ek getroud is, is nie die regte een nie. Ek voel dan niks meer vir hom of vir haar nie… En dis dan wanneer ons die Skrif minag en skei.

Kom ons kyk na ‘n paar Bybelse hoekpenne rondom huwelik: 

KWALIFIKASIES 

Interessant die Bybel gee net twee kwalifikasies vir die regte huweliksmaat. Eerstens – (vanselfsprekend) dit moet ‘n persoon wees van die teenoorgestelde geslag. God het man en vrou gemaak en hulle bymekaar gebring. (Sommiges by die Algemene Sinode het dit blykbaar vergeet...) Die tweede kwalifikasie wat in die Nuwe Testament gestel word is dat dit ander persoon ‘n gelowige moet wees. 

Maar as jy reeds getroud (met ‘n ongelowige) is, dan mag die huweliksmaat se ongeloof geen rede wees om daardie persoon te verlaat nie. 

EGSKEIDING MAAK GOD KWAAD 

Kom ons kyk na drie redes waarom egskeiding so ‘n vreeslike vergryp is teen God : 

Egskeiding is opstand teen ‘n Goddelike instelling en handeling. Die huwelik is nie bloot ‘n menslik kulturele verskynsel nie, maar ‘n Goddelike orde. (Genesis 2:24) Wie teen God se ordes in opstand kom sal die gevolge dra, nou en eendag. Ons mag nie God se werk ongedaan probeer maak nie. Volgens Jesus se woorde in Matteus 19 het God jou en jou maat bymekaar gevoeg! 

Egskeiding behels die skending van ‘n Goddelike simbool en boodskap. In die NT is dit baie duidelik dat die huwelik oor meer gaan as net ‘n menslike verbintenis. Dis ‘n prentjie van iets baie groter. Dit beeld iets van die heerlike rykdom uit van die innige verhouding tussen Christus en sy gemeente. “Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is. Christus is ook die Verlosser van die liggaam, sy kerk. Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vrouens in alles aan hulle mans onderdanig wees. Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het." (Efesiërs 5:23-25) 

Egskeiding is ‘n daad wat deur God gehaat word, want dit is geweld en bring die nageslag wat Hom moet eer in die gedrang. Dit het ‘n verwoestende invloed op ons verbondskinders!  (Weerens jy hoef nie ver te gaan soek om dit te sien nie.) Erger. Egskeiding vertroebel en versuur die verhouding tussen ons en God. Ons offers (godsdiens) word vir Hom onaanvaarbaar! Dit is die duidelike boodskap van God volgens die profeet Maleagi: 

“Daar is nog iets wat julle doen. Julle huil en kerm en sug by die altaar van die Here omdat Hy nie meer julle offers wil aanneem nie, 
en julle vra: "Waarom dan nie?" Dit is omdat die Here weet wat gebeur het tussen jou en die vrou met wie jy van jou jeug af getroud is: jy was ontrou aan haar, ontrou aan jou eie vrou, die vrou aan wie jy plegtig trou belowe het. 
Die Here het man en vrou een gemaak, een in liggaam en gees. En waarom een? Omdat Hy wil hê dat daar ‘n nageslag moet wees, wat Hom eer. Beheers julle, moenie ontrou wees aan die vrou met wie jy van jou jeug af getroud is nie. 
Die Here die God van Israel sê Hy haat egskeiding. Egskeiding is niks anders as geweld nie, sê die Here die Almagtige. Beheers julle, moenie ontrou wees nie.”  (Maleagi 2:13-16) 

VERGIFNIS? 

Die groot vraag wat nou by ons opkom is: Is daar vergifnis vir my as ek op hierdie gebied oortree het? 

JA , vergifnis is beskikbaar, want ons het ‘n evangelie! 

Daar was ‘n kruis en ‘n opstanding! Die prys vir alle sonde is betaal, die straf op alle sonde is gedra deur Hom wat Sy lewe vir ons gegee het! 

Drie verdere perspektiewe is egter baie belangrik: 

Is daar vergifnis? Ja, as ons ons sondes bely... “Maar as ons ons sondes bely-Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” (1 Johannes 1:9) 

Is daar vergifnis? Ja! Onthou net die gevolge en letsels van hierdie sondes sal vir altyd op aarde by ons bly! Die moontlikheid van vergifnis verminder nie die erns van die oortreding nie. Moet nooit dink egbreek en losbandigheid is ‘n geringe saak nie! Dit het altyd konsekwensies! (Kliek -Dawid

Is daar vergifnis? Ja, maar vergifnis is geen vrypas om met sonde voort te gaan nie! Jesus het die owerspelige vrou vergewe en nie veroordeel nie, maar Hy het gesê : “Gaan heen en sondig nie meer nie.” (Johannes 8:11)  As jy volhard in hierdie sonde kan daar ‘n dag kom wanneer God se stem stil word en jy nie meer in vergifnis belangstel nie! 

As ons respek het vir God, sal ons respek hê vir die Goddelike instelling van die huwelik. As Jesus regtig my Koning is, sal ek my onderwerp aan sy opdragte ten opsigte van die huwelik!


Die regte een!



Dinsdag 01 Oktober 2019

DIE NUWE WYN


IS DIE BESTE! 

[Vir ‘n huweliksdiens, maar ook op elkeen van toepassing wat smag na 'n nuwe lewe...] 

Jesus verander water in wyn tydens ‘n bruilofsfees! (Johannes 2:1-12) Dis een van sy bekendste wonders. (Partykeer om ‘n verkeerde rede. Sommiges redeneer mos graag: “Ag, sien ons kan maar dronk word… Jesus self het mos wyn gemaak…” Jammer om hulle pret te bederf, maar hulle maak natuurlik ‘n groot fout, want die Woord van God is baie duidelik dat geen dronkaard die koninkryk van God sal binnegaan nie.) 

Wat beteken hierdie wonder dan wel? Wat wil die Johannes evangelie vir ons sê? En sê dit spesiaal ook iets vir julle wat vandag in die heilige eg verbind word? 

DIE GAS BY DIE FEES 

Die verhaal beweeg op verskillende vlakke. Dis natuurlik die wonderlike verhaal van die mens Jesus wat ‘n eg menslike fees, soos ‘n bruilofsfees saam met Sy dissipels bywoon en die gasheer uit ‘n groot verleentheid en verknorsing help. Sien vir Jesus vrolik rondbeweeg tussen die gaste! Jesus was geen askeet of kloosterbewoner nie, maar ware mens soos God bedoel het by die skepping. En onthou deel van God se goeie skepping was die skepping van die mens as man en vrou, van die huwelik… Dit moet ons tog duidelik laat verstaan : Die huwelik is ‘n kosbare geskenk van God aan die mens! Die huweliksverhouding en die intieme band tussen die twee geslagte is nie deur die duiwel uitgedink nie, maar deur God geskep! Geniet dit soos God dit bedoel het en vier fees! Maar vier fees op so ‘n manier dat ons Jesus as die belangrikste Gas in gedagte sal hou! 

TEKEN VAN SY HEERLIKHEID 

Maar daar is ook ‘n dieper vlak. Hierdie wonder word ‘n teken genoem. “Hierdie eerste een van sy tekens het Jesus te Kana in Galiléa gedoen; en Hy het sy heerlikheid geopenbaar, en sy dissipels het in Hom geglo.” (11) ‘n Teken wat ons iets moet wys van die allesoortreffende heerlikheid van Jesus. Dis tipies van die Johannes evangelie om Jesus se wonders te beskryf as tekens wat ‘n dieper geestelike boodskap moes oordra en geloof opwek. Nou wat is die boodskap van hierdie teken? Kom ons kyk na twee aspekte: 

OORVLOED 

Dis ‘n teken van oorvloed. “Jesus sê vir hulle: Maak die kanne vol water. En hulle het hul tot bo toe volgemaak.” (7) Let op die beklemtoning - “tot bo toe volgemaak” Die nuwe bedeling wat Jesus bring – die vergifnis en verlossing wat ‘n kenmerk is van sy heerlikheid is ‘n bedeling/lewe van oorvloed. En ons hoef nie te wonder van watse oorvloed hier gepraat word nie. Dis die heerlike oorvloed van genade! Johannes het sy lesers reeds hierop voorberei in die inleiding! “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon--en ons het sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom--vol van genade en waarheid...En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade.” (1:14,16) Jesus die Messias, die Gesalfde van God bring ‘n oorvloed van genade en vergifnis. Vir die grootste stukkendste sondaar...

Meer nog! Hy bring ‘n nuwe begin, ‘n nuwe skepping, herstel van die skade wat sonde gedoen het. Die tema van die skepping en herskepping (waarby die saak van die huwelik so goed pas) het Johannes reeds aangeraak met sy inleidende sin. “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.” (1:1) Duidelike parallel met Genesis 1:1! Natuurlik deel nie almal in hierdie oorvloed van genade nie, trouens die meeste verwerp dit , maar vir die wat dit aanvaar – beteken dit ek deel in die voorreg om persoonlik ‘n kind van God te wees! (Sien Johannes 1:11-13)* 

Dis ook nie toevallig dat Jesus juis wyn maak as simbool van die nuwe Messiaanse bedeling nie. Dis ‘n tema wat by baie Ou Testamentiese profete voorkom, byvoorbeeld Amos**. Wyn is ‘n simbool van oorvloed, vreugde, vervulling en versadiging! 

DIE NUWE BEDELING 

Dis ‘n teken van die nuwe bedeling in Jesus wat die ou bedeling by verre oortref! Johannes maak ons spesifiek attent daarop dat die klipkanne wat Jesus gebruik het deel was van die reinigingsgebruike van die Jode. Die klipkanne met die water was deel van die ou Joodse oorde van seremonies en wette. “Daar het ses klipkanne gestaan vir water wat die Jode by hulle reiniging gebruik het. Elkeen het tussen negentig en honderd liter gehou”. (6) 

Jesus maak nou iets beter! Hy maak wyn in die plek van water. Die beste wyn! Hy vervang die ou orde en bring iets beter! 

Ook hierdie aspek het Johannes reeds in sy inleiding aangeraak. (Sien 1:17) Kort hierna verduidelik Johannes ook hoe Jesus die tempel vervang wat ook deel van die ou orde was. Die ou bedeling van Moses en die wet kon nie waarlik verlossing bring nie, maar Jesus kan! En Hy wil dit vir JOU doen!

Die nuwe bedeling wat Jesus bring, die nuwe skepping is soveel beter as die vorige! Die nuwe wyn wat Jesus maak is die beste! “Die seremoniemeester het nie geweet waar dit vandaan kom nie, maar die kelners wat die water uitgeskep het, het geweet. Toe die seremoniemeester die water proe wat wyn geword het, roep hy die bruidegom en sê vir hom: "‘n Mens sit gewoonlik eers die goeie wyn voor, en as die mense goed gedrink het, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou toe teruggehou." (9,10) Die hele teken wat Jesus hier doen is ‘n teken van sy heerlikheid. Hy wat deur sy kruis en opstanding vir ons ‘n nuwe en beter toekoms geopen het. Oorvloedige vergifnis, maar ook uiteindelik volledige herstel van die skepping! Herstel van die skade en verwoesting wat Satan en sonde aangerig het. Kom ons roep hardop uit in hierdie stukkende wêreld : “Jesus maak sondaars nuut!” 

Hierdie nuutheid begin nou maar sal eendag volkome sigbaar wees. Die wonder wat Jesus by ‘n bruilof doen is juis so gepas, want dit wys uiteindelik heen na die bruilofsmaal van die Lam wat wag vir almal wat Hom glo. Die hemelse fees! En dis dié fees om nie mis te loop nie! 

Die betekenis van Jesus se wonderteken om water ‘n wyn te maak is dus baie duidelik. Dis ‘n teken van die nuwe oorvloedige genadebedeling in Jesus wat die ou bedeling by verre oortref en uitloop op ‘n nuwe skepping! Juis op die gebied van huwelik en seksualiteit is die sondegebrokenheid en sondeskade die duidelikste sigbaar. Maar dis juis ook hier waar Jesus ‘n oorvloed van genade en heelmaking kom bring het. Mag ons dit in die moeilike tye onthou! 

Francois en Madelein julle is as kinders van God begenadigde sondaars, julle het die volheid van sy genade ontvang. Mag julle dit ook verder in julle huwelik beleef en ook uitleef in julle huis, in die gemeente waar die Here julle geplaas het en in julle alledaagse handel en wandel! 

En sommer net ‘n laaste, maar baie belangrike vraag aan elkeen wat nou hier lees: 

HET JY AL DIE NUWE WYN GEPROE? 



*Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. 
Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 
Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ‘n mens of die besluit van ‘n man nie, maar hulle is uit God gebore. (Johannes 1:11-13) 

**Kyk, die dae kom, spreek die HERE, dat die ploeër die maaier inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier; en dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees. 
En Ek sal die lot van my volk Israel verander, en hulle sal die verwoeste stede bou en bewoon, ook sal hulle wingerde plant en die wyn daarvan drink, en tuine aanlê en die vrugte daarvan eet. (Amos 9:13,14)



Baie geluk Francois en Madelein!


Donderdag 06 April 2017

IN MOEILIKE TYE

- BLY STEEDS BY DIE BASIESE BEGINSELS!



Moeilike tye… dit kan seker baie dinge beteken. Vir verskillende mense verskillende dinge. Vervolging, swaarkry, finansiële druk, diefstal van jou eiendom, ervaring van onreg, gesondheidskrisisse, geestelike stryd…(baie mense in Suider Afrika koppel moeilike tye nou sekerlik aan Zuma se katastrofale besluite...) Hoe moet ons optree in sulke tye? Waarvoor moet ons pasop? Wat moet ons onthou?

Mens sou kon sê dat die brief aan die Hebreërs juis geskryf is vir Christene in moeilike tye. Daar was die groot gevaar van afvalligheid, van afdwaling ("wegdrywe" 2:1), van moedeloosheid... Daar was mense met "slap hande en lam knieë". Daar was ook vantevore reeds fisiese swaarkry. Sommiges is blykbaar van hulle goed beroof en dit lyk ook asof van hulle in die tronk gegooi is.

Die sentrale boodskap aan hierdie Christene was : 

Hou vas aan Jesus die volmaakte hoëpriester!

Jesus is God se finale openbaring aan die mens. (1:1) Jesus oortref die engele by verre in heerlikheid en majesteit. Hy is God! Jesus vervang al die offers, tempeldiens en hoëpriesters van die Ou Verbond. Hy het self die pad na God vir ons oopgemaak. Ons kan weet Hy het medelye met ons en ons kan dus met vrymoedigheid na God se genadetroon gaan. 

 “Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.” (Hebr 4:14-16) 

Jy wat aan Jesus behoort moet weet dat Hy ‘n volmaakte hoëpriester, Middelaar is wat vir ons toegang tree tot die troon van God bied. En dis ‘n genadetroon! Maak met vrymoedigheid gebruik van die geleentheid om jou hart voor Hom uit te stort en op die regte tyd sal jy gehelp word. Moenie tou opgooi nie, volhard, moenie eers dink aan omdraai nie, hou die oog op Jesus. Onthou Jesus moes ook eers deur lyding en swaarkry gaan voordat Hy sy beloning gekry het.

En onthou – juis in moeilike tye : 

Jesus het nog nooit verander nie! 

 “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.” (13:8) 



Jesus is volmaak en algenoegsaam. Dis die hooftema.

Hier aan die einde van die brief in hoofstuk 13 vind ons ‘n paar kort praktiese sake wat eintlik al die aspekte van ons lewe dek en wat juis baie sin maak in die konteks van moeilike tye. Dis waarop ons kortliks wil fokus *:

Beoefen broederliefde. (1) So kosbaar juis in moeilike tye. Dis ‘n opdrag wat ons nie moet vergeet nie. Pasop dat moeilike tye jou nie in ‘n dop van selfsug en selfbejammering laat kruip nie. Reik uit na ander deur broederliefde. Dis nie bloot ‘n gevoel nie, maar om ander prakties te help… “Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie-hoe kan die liefde van God in hom wees. Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.” (1 Johannes 3:16-18) Daar is positiewe krag en genesing in broederliefde, nie net vir die wat die ontvangers is nie, maar juis ook vir diegene wat dit gee… toets dit maar!

Bewys gasvryheid. (2) In moeilike tye moet jy juis jou hart en huis oopmaak vir ander. Ook wat vreemdelinge betref. Die skrywer gee ‘n spesiale aanmoediging tot gasvryheid deur te verwys na Abram wat niksvermoedend engele ontvang het. Die bedoeling van die skrywer is natuurlik nie om te spekuleer of die persoon voor jou deur ‘n engel is of nie. Die punt wat hy maak is, is dat sommige van jou gaste ware boodskappers van God gaan wees wat groter seën vir jou gaan gee as wat hulle van jou ontvang!**

Toon opregte medelye met diegene wat swaarkry selfs ook die wat in die tronk gegooi is. (3) Hierdie lesers het reeds ervaring hiervan gehad. “Dink terug aan vroeër dae toe God julle tot die lig gebring het, hoe julle in die stryd staande gebly het toe julle baie moes ly. Deels is julle deur beledigings en vervolging openlik tot bespotting gemaak en deels het julle gely omdat julle julle vereenselwig het met ander wat hierdie dinge oorgekom het. Julle het met die gevangenes meegevoel gehad, en toe op julle besittings beslag gelê is, het julle dit met blymoedigheid aanvaar omdat julle geweet het dat julle ‘n besitting het wat beter en blywend is.” (10:32-4) Weereens in moeilike tye moet ons pasop vir ‘n selfsugtige beheptheid net met ons eie situasie, maar ons ook probeer indink in ander mense se omstandighede.

Betoon respek vir die heiligheid van die huwelik. (4) Moeilike tye plaas huwelike en sedes onder druk. Mense kan redeneer ons kan nou maar ons eie reëls maak. Hier word twee woorde gebruik naamlik pornous en moigous.*** Dit gaan oor meer as net owerspel of egbreuk maar oor die hele spektrum van ongeoorloofde seksuele verhoudings. Die erns word onderstreep deur die spesifieke vermelding dat die oordeel van God oor hierdie mense sal kom! Ook ander NT skrywers verwys hierna soos Paulus in 1 Tess 4:4-7. “Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe; julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie. Ook mag niemand hom in hierdie verband te buite gaan en sy broer bedrieg nie, want die Here straf al sulke dinge. So het ons julle trouens al vroeër gewaarsku; ons het julle nadruklik hierop gewys. God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe." 

Die media leer vir ons – “alles is maar reg”, die Woord leer dat God hierdie dinge straf!

Pasop vir gierigheid. (5,6) Hoe groter die nood, hoe groter is die gevaar vir gierigheid en vertroue op geld. (ironies) Paniek en selfsug neem so maklik oor! Hier vind ons ‘n heerlike belofte binne die raamwerk van geldsake. Wat egter belangrik is, die belofte kom saam met ‘n duidelike tweeledige waarskuwing en opdrag. Hou jou lewe vry van geldgierigheid. Dis net ‘n ander manier om Jesus se waarskuwing te herhaal : Julle kan nie God en Mammon dien nie! (baie probeer, maar dit bly vandag nog steeds onmoontlik) Die opdrag gaan oor tevredenheid, vergenoegdheid. Ook in moeilike tye wanneer die skoen druk, moet ons tevrede wees. “Die godsdiens is ‘n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees.” (1Tim 6:6-8) Tevredenheid gaan saam met vertroue op God. Ek vertrou Hom en ek is tevrede met dit wat Hy vir my gee op hierdie stadium van my lewe. Maar juis dan en net dan kan ek verseker wees van sy sorg en nabyheid en hulp. Hy sal my nooit as te nimmer verlaat nie. (Hierdie versekering word baie sterk in die Grieks gestel deur middel van vyf negatiewe) 

As ek hierdie belofte glo word ek bevry van vrees! 



Ja, moeilike tye is nooit maklik nie, maar ook in moeilike tye kan God se kind steeds in blydskap en dankbaarheid lewe sonder vrees! Ja, al maak Zuma nou ook wat...

                                    (foto - Afrisake)                      



*Hier word net aandag gegee aan die opdragte in Hoofstuk 13:1-6. Gaan gerus die hele hoofstuk deur vir die ander opdragte.

**FF Bruce,  The New International Commentary, The epistle to the Hebrews, p391

*** πορνους   en   μοιχους


Maandag 31 Augustus 2015

HUISGENOOTLIEFDE HOU NIE!

- want ware liefde gaan oor harde werk en nie gevoelens nie.

Die soveelste glanspaartjie gaan weer skei, lig die media ons in. Dis eintlik lagwekkend as dit nie so tragies was nie. Dit volg nou 'n al te bekende patroon. Hierdie "celebrity" aandagvrate adverteer hulle liefde graag op die voorblad van die HUISGENOOT of dergelike skindermedia en geniet elke greintjie publisiteit (met die gewone paar druppels Christelike sousie daarby), maar as dinge nie lank daarna nie skeefloop, vra hulle ewe formeel en ernstig dat hulle privaatheid gerespekteer word. Nou hoe dan nou?



Hierdie hartseer dilemma van huwelike wat sommer net links en regs gesluit en ontbind word is te wyte aan die skokkende onkunde oor wat LIEFDE beteken. Die media fokus op die "glamour" en gevoelsaspekte van die liefde. En dis ongelukkig waar mense (en veral ons glansganse) hul idees van liefde kry. En ja, natuurlik soos die gevoelens kom en gaan, waai die kastige "liefde" by die deur uit en kry die huweliksmaats die trekpas. 

Die Woord van God skets vir ons 'n heel ander prentjie oor die LIEFDE :

Liefde is nie bloot 'n gevoel nie, liefde is om dinge anders te doen!

Die mens wil net leef soos hy voel en nie meer soos wat God beveel nie! Dis die kern van die probleem.

Gaan lees maar weer die tydlose en weergalose beskrywing van die liefde in (kliek op) 1 Korintiërs 13. Werk dit gerus deeglik deur...

As jy haastig is, onthou maar net solank hierdie twee dinge:

~ Die liefde blom juis in slegte omstandighede. As daar moeilikheid is, kom die liefde die beste na vore. Let mooi op, al hierdie praktiese fasette van liefde soos beskryf in 1 Korintiërs 13 veronderstel ’n negatiewe situasie. Wanneer moet die liefde ’n besluit neem om geduldig te wees? Juis wanneer ’n situasie ontstaan wat my normaalweg ongeduldig sou maak. Wanneer is dit juis nodig om te kies vir vriendelikheid? Juis in 'n opset waar die ander persoon nie vriendelik met my is nie. Wanneer moet ek 'n besluit neem om nie boek te hou van die kwaad nie? Juis wanneer die ander een wel aan my kwaad gedoen het, neem ek in gehoorsaamheid aan God 'n besluit om dit nie weer op te haal en my maat daarmee te gooi nie... So kan mens aangaan...

~ Is dit realisties moontlik om liefde te "doen" en bo my gevoelens uit te styg? Ja, net as die Heilige Gees in jou woon. Menslike krag en selfdissipline is nie genoeg om waarlik te kan liefhê in alle omstandighede nie. Hierdie liefde is ’n vrug van die Heilige Gees. Dit behels selfbeheersing en selfbeheersing is ook ‘n vrug van die Gees. ’n Mens ontvang eers die Heilige Gees as jy wedergebore is, as jy ’n kind van God geword het. Die opdrag tot liefde is ‘n eksklusiewe opdrag aan God se kinders.

Dis net die kind van God wat liefde verstaan en liefde kan uitleef. Die Heilige Gees in jou maak dit moontlik! En ja, as ons gefaal het en aan die Heilige Gees ongehoorsaam geword het, kan ons ons sonde van liefdeloosheid bely en weer opstaan en aangaan om liefde te bewys... Ons hoef nie te skei nie!

Is gevoelens en emosies dan nou heeltemal onbelangrik of oorbodig? Nee, natuurlik is dit belangrik. Maar as daar nie gevoelens is nie, beteken dit nie die liefde is nou onmoontlik of finaal weg nie. Begin met daadliefde, begin dinge anders doen in gehoorsaamheid aan die Woord en die Gees en positiewe gevoelens sal ook mettertyd terugkeer. Kom ons stel dit baie positief - jy hoef nie eers te wag vir gevoelens om te kan liefhê nie. Jy kan nou begin met die praktiese liefde en die gevoelens sal na hulleself omsien...

STERKTE MET DIE LIEFDE, DIS HARDE WERK!





Maandag 30 Maart 2015

ONDER NUWE BEHEER EN INVLOED

- sleutel vir ‘n gelukkige en Godverheerlikende huwelik.

Hier in EFESIËRS 5:22-33*  word radikale dinge gesê, soveel so dat die moderne mens in opstand kom daarteen! Van die vrou word immers geëis - Absolute onderdanigheid! (SOOS die gemeente aan Christus onderdanig is!) En van die man? Absolute selfopofferende liefde! (SOOS Christus die gemeente liefgehad en sy LEWE vir hulle opgeoffer het!) Terloops, beide opdragte is dus uiters radikaal en moeilik, nie net die één aan die vrou nie! Die hedendaagse mens is vol besware teen hierdie Skrifgedeelte : “Nee, dis darem te erg, dis outyds, dit kom uit ‘n patriargale tyd, ons kan dit nie meer aanvaar nie...” Wel vriende, hierdie is God se opdragte, vat dit of los dit... ek wil nie met jou daaroor stry nie. Die Christen neem dit wel ernstig op omdat dit God se Woord is. Die vraag waaroor die Christen wel besin is : Is hierdie opdragte realisties moontlik?

Nou as beide man en vrou aan hulle onderskeie opdragte gehoorsaam sou wees, dan word dit natuurlik ook vir beide makliker en ‘n groot plesier om dit te gehoorsaam. Dink net bietjie... Hoe meer lojaal en onderdanig die vrou is, hoe makliker en lekkerder is dit vir die man om sy vrou met opoffering en toewyding lief te hê. Hoe meer radikaal die man sy vrou lief het met opoffering en selfverloëning, hoe makliker en lekkerder is dit vir die vrou om haar man onderdanig te wees... Maar nou weet ons in ons stukkende wêreld werk dit nie so nie. In die praktyk kry ons dit daagliks, dat ‘n vrou sê : “Ek sukkel, ja ek weier om my man te respekteer , want hy gedra hom soos ‘n vark, hy het my nie lief nie...laat hy eers bietjie regkom dan kan ons weer praat...” En die man : “Ek sukkel, ja ek weier om my vrou lief te hê en vir haar enigsins opofferings te maak, want sy het geen respek vir my nie en wil altyd baasspeel... as sy eers geleer het wat respek is, wel dan sal ek weer probeer...” Doodloopstraat...

Hoe nou? Gaan ons enigsins dit kan regkry om by hierdie Goddelike standaard van die huwelik uit te kom of is dit maar net mooi ideale?

DIE GOUE SLEUTEL
Die sleutel tot al die opdragte in Efesiërs 5 (ook aan ouers en kinders en werkgewers en werknemers) kry ons in Efesiërs 5:18. “Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul,” 

Dronkenskap word teenoor Geesvervuldheid gestel. Dit gaan duidelik nie hier in die eerste plek oor ‘n preek teen dronkenskap nie (hoewel dit ook van tyd tot tyd nodig is...) , maar oor ‘n beginsel wat Paulus stel. Wat bedoel hy? Kom ons bedink die saak ‘n bietjie... ‘n dronk mens tree anders as normaalweg op omdat hy onder die invloed en beheer van alkohol is. Hy is onder ‘n groter en sterker invloed, ‘n groter krag as homself. (Jy sien dit mos in sy oë – hierdie ou is nie meer in beheer van homself nie... hy is onder beheer van die alkohol en eintlik onder beheer van die duiwel...) Deur hierdie kontras wil Paulus sê dat die Christen nooit onder beheer van alkohol moet wees nie, maar onder die beheer van die Heilige Gees. Soos die dronk persoon se gedrag verander word deur alkohol, moet die Christen se gedrag nou bepaal word deur ‘n ander heerlike heilige invloed, naamlik die Heilige Gees van God wat in ons woon! 

En belangrik, die Heilige Gees doen die teenoorgestelde as alkohol. Alkohol breek af en maak stukkend – nie net glase, borde en motors nie, maar veral verhoudings! Die Heilige Gees maak heel, mense verhoudings word herstel en vrede keer terug. Alkoholmisbruik het losbandigheid, roekeloosheid, onsedelikheid en ontrouheid tot gevolg. Waar die Heilige Gees in beheer is, is daar soberheid, rustigheid, reinheid, getrouheid...

Hoe gaan ons dit dus regkry om God se opdragte oor die huwelik te gehoorsaam? Deur die krag van die Heilige Gees wat in ons woon. Hy is ‘n werklikheid, ‘n Goddelike Persoon, deel van die Drie-eenheid. Daar is Iemand in die kind van God wat nie in ander mense is nie, en HY maak die verskil! Maar dit beteken nooit dat die Christen nou passief agteroor kan sit nie. Ons moet ons daagliks doelbewus aan die leiding van die Heilige Gees onderwerp, wat reeds in my woon!. (Ons het immers hier met ‘n opdrag in vers 18 te make) ‘n Voortdurende wilsbesluit! Kies om onder die invloed van die Gees te wees! Dit beteken dat ons sal buig voor die opdragte in God se Woord, al gaan dit teen ons eie gevoelens in. Dit beteken prakties eintlik dat ons aan Jesus onderdanig sal wees en sy wense sal uitvoer, want die Heilige Gees is die Gees van Christus. “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.” (21) Dit beteken dat ek teen myself kies en kies om Jesus te gehoorsaam, want ek respekteer Hom. My eerbied vir Jesus moet vir my swaarder weeg en meer tel as my persoonlike gevoelens van verontregting of vergelding. Daarom respekteer ek my huweliksmaat en medemens ter wille van my respek vir Jesus!

Prakties sal dit beteken dat die vrou onder beheer van die Gees sal redeneer : “Ja, my man was vandag lelik met my, maar ek kies steeds om hom te respekteer, omdat dit is wat Jesus van my verwag!” Die man onder beheer van die Gees sal redeneer :”Ja, my vrou het my vandag nie gerespekteer nie, maar ek kies steeds om haar lief te hê, (prakties liefde te bewys), want dit is wat die Here Jesus van my verwag.”

Ten slotte:

Hierdie opdragte bots teen ons sondige natuur en hardkoppige eiesinnigheid. Ons gaan dit nie sommer vanself en outomaties regkry nie – om sommer net ‘n huwelikskursus of berading te ondergaan gaan ook nie sukses waarborg nie.

Hierdie opdragte is net moontlik wanneer ons gehoorsaam onder die beheer van die Heilige Gees staan. Dis net wedergebore mense wat die Gees het, so hierdie opdragte is net moontlik vir mense wat waarlik Jesus as Verlosser leer ken het. Sonder Jesus as my Verlosser gaan ek misluk, al is ek dalk ‘n goeie kerkmens...

Al is ek ‘n kind van God, vereis hierdie opdragte ‘n daaglikse onderwerping aan die stem van die Heilige Gees wat in my woon. Ek moet nie dink ek gaan sommer as Christen altyd outomaties reg optree teenoor my man of vrou nie. Dis ‘n voortdurende keuse om my onder beheer van die Gees te stel, wat in praktyk beteken ‘n keuse om God se Woord te gehoorsaam, maak nie saak hoe verontreg of opstandig ek voel nie!

ONDER WIE SE BEHEER IS JY?


*21 Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.

22 Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is.

23 Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is. Christus is ook die Verlosser van die liggaam, sy kerk.

24 Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vrouens in alles aan hulle mans onderdanig wees.

25 Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het.

26 Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het,

27 sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik.

28 Die mans behoort hulle vrouens so lief te hê soos hulle eie liggame. Wie sy vrou liefhet, het homself lief,

29 want niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie. Inteendeel, hy voed en versorg dit, soos Christus met sy kerk doen

30 omdat dit sy liggaam is, waarvan ons lede is.

31 Daar staan in die Skrif: "Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle twee sal een wees."

32 Hierin lê daar ‘n diep geheimenis opgesluit, en ek pas dit toe op Christus en die kerk.

33 Maar dit is ook op julle van toepassing. Elkeen moet sy vrou so lief hê soos hy homself liefhet, en ‘n vrou moet aan haar man eerbied betoon.

Sondag 15 Februarie 2015

Heiligheid, huwelik en seksualiteit



Getuienis van die Kerkraad, NG Kerk Tsumeb:



1.Die Kerkraad bely in die lig van die Skrif dat die huwelik tussen een man en een vrou ‘n instelling van God is en die enigste ruimte is waarin die mens sy Godgegewe gawe van seksualiteit kan uitleef. Die huwelik is ‘n formele verbintenis met duidelike grense. Om saam te woon of selfs verloof te wees is nog nie ‘n huwelik nie!


2.Die Kerkraad wys lidmate daarop dat God se voorskrifte oor die heiligheid van die huwelik deel is van die basiese opdrag tot heiligmaking en dat die verwerping hiervan neerkom op ‘n verwerping van God self en dus sy straf oor ons bring.

3.Die kerkraad wil lidmate ernstig vermaan teen alle oortredings van die sewende gebod soos egskeiding, losbandigheid, alle voor en buitehuwelikse seksuele verbintenisse (byv. ongetroude saamwoon), homoseksuele dade, die kyk na pornografie, maar ook meer subtiele vorme soos ongewenste films, webwerwe en literatuur wat nie in lyn is met God se standaarde vir sy kinders nie. In ons stryd teen hierdie sondes, moet ons nie net die sonde self vermy nie, maar ook gewoontes, kompetisies, vermaak, situasies en praktyke wat ons daartoe kan verlei. Die kerkraad maak hierdie uitspraak nie vanuit ‘n posisie van hoogmoedige selfgeregtigheid nie, maar is inteendeel diep bewus van die feit dat almal van ons aan hierdie tipe versoekings blootgestel word.

4. Die kerkraad is bewus van baie verskonings wat spesifiek aangevoer word ter verdediging van die saambly gewoonte, soos finansiële en praktiese omstandighede. Die feit bly egter dat sonde ‘n verwoestende, ernstige saak is en dat ons opgeroep word om selfs tot die dood daarteen te stry. Die Here se seën sal nooit op ‘n sondige verbintenis rus nie, want God kan nie ontrou wees aan sy eie Woord nie.

5.Die kerkraad is bekommerd en hartseer dat lidmate wat bely dat hulle Jesus ken, deur hulle ongehoorsaamheid aan Bybelse standaarde ten opsigte van huwelik en seksualiteit, hulle getuienis en gevolglik die naam van die Here ernstig skade aandoen. God se kinders is immers geroep om onberispelik te leef en te skyn in ‘n donker wêreld, ook in ons huidige samelewing wat gekenmerk word deur uiterste immoraliteit.

6.Die kerkraad wil almal wat op hierdie terrein oortree het in liefde oproep tot berou en bekering en hulle daarop wys dat alle sondaars by Jesus welkom is. Waar daar berou en bekering is, is daar volle vergifnis vir alle sonde op grond van Jesus, ons Middelaar se soenverdienste.

7.Die kerkraad wil egter ook lidmate wat op ‘n openbare (en dus tugwaardige) manier in hierdie sondes volhard, waarsku dat hulle lidmaatsvoorregte in gedrang kan kom. Die Skrif verbied immers gemeenskap met die sulkes wat hulleself binne die gemeente bevind.

8.Die kerkraad doen ook ‘n beroep op ons kerk se meerdere vergaderings en amptelike organe (soos DIE KERKBODE) om hulleself duideliker en meer gereeld uit te spreek teen hierdie tipe dinge wat die naam van Here en sy kerk oneer aandoen.




Teksverwysings :

1. Genesis 2:18; Markus 10:9; Matteus 1:18

2. 1Tessalonisense 4:7,8; Hebreërs 13:4

3. Matteus 5:27-28; Romeine 1:18-32; Efesiërs 5:3-5

4. Hebreërs 12:14

5. Filippense 2:15

6. 1 Korintiërs 6:9-11, 1 Johannes 1:5-2:1

7. 1 Korintiërs 5:11,12

[Goedgekeur op die kerkraadsvergadering van Sondagmiddag 15 Februarie 2015]

Dinsdag 02 Oktober 2012

DIE MAG VAN 'N MOOI VROU!

- om haar man vir Christus te wen.

Dis ‘n opsigtelike tragedie : Huisgesinne en huwelike is in groot chaos. Die ergste  is dat baie Christene se huise en huwelike nie juis altyd  beter lyk as die van die wêreld daarbuite nie. Dit doen soveel oneindige skade aan die beeld van die evangelie. Dis nie God se bedoeling nie! As God mense red, wil Hy ons totale lewe vernuwe. Dit sluit die huwelik in. Daarom kry ons baie spesifieke opdragte oor die verhouding tussen man en vrou in die Skrif.

Petrus gee onder leiding van die Heilige Gees praktiese opdragte aan mans en vroue in 1 Petrus 3:1-7. Ons kyk vandag wat hy vir die vrou sê:

“NET so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word as hulle jul reine, godvresende wandel aanskou het.
Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie,
maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ’n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God.
Want so het vroeër ook die heilige vroue wat op God gehoop het, hulleself versier, en hulle was aan hul eie mans onderdanig,
soos Sara gehoorsaam was aan Abraham en hom heer genoem het; wie se kinders julle geword het as julle goed doen en geen enkele verskrikking vrees nie." (OAV)

Kom ons herinner ons net eers aan die wyer konteks  waarbinne hierdie opdragte aan die vrou (en later ook man) kom. Dit hang nie in die lug nie. Twee sake is van belang:  

Dis deel van die groot opdrag in 1 Petrus 2:11,12.  Hier  gaan dit  oor ‘n skoon lewenswandel, ‘n voorbeeldige en aantreklike lewensstyl te midde van ‘n bose en vyandige wêreld. Kinders van God  is in hierdie wêreld, maar ons is geroep om anders te wees. Ook wat betref ons huwelike en gesinne, moet ons opvallend anders wees! Ons moet deur ons voorbeeld die Christelike boodskap “versier” sodat ons die ongelowiges daardeur kan wen vir die waarheid! Mense moet vra : “Hi, hoekom is julle gesin so gelukkig?” Ons huwelike moet modelle wees wat buitestaanders se onregverdige kritiek teen die kerk tot swye sal bring!
Tweedens is hierdie opdragte ook ‘n onderdeel van die deurlopende belangrike beginsel van onderdanigheid in 1 Petrus 2:13 (dit word herhaal in 18,3:1)

Die saak wat Petrus aanspreek is spesifiek die verhouding van die vrou met haar eie man in die huwelik.   

Hierdie opdragte van Petrus ontspring natuurlik uit ‘n spesifieke situasie in die werklike lewe as agtergrond, wat heelwaarskynlik algemeen voorgekom het. Dikwels het net een lid van ‘n egpaar uit die heidendom tot bekering gekom. Dit skep besondere probleme en uitdagings. Hoe leef ‘n vrou in ‘n huwelik saam met ‘n ongelowige man, wat dus ongehoorsaam is aan die Woord? Dis vandag nog steeds ‘n aktuele krisis.  Gewoonlik hanteer die meeste Christen  vroue dit ongelukkig verkeerd. (Julle weet mos wat hulle doen :  hulle kry boekies en blaadjies en DVDs, bel die dominee om te kom praat ens. Die gevolg : pappie word net al kwaaier en bestee al meer tyd weg van die huis om te vlug vir sy vroutjie se gepreek!) Petrus maak dit baie duidelik wat die vrou se werkswyse moet wees. Hy gee ‘n heder antwoord. (al is dit nie die lekker en maklike antwoord wat ons wil hoor nie)

Die Christen vrou moet haar onbekeerde man vir Christus wen, deur wandel sonder woorde! Sy moet ‘n woordlose evangelie bring! Haar lewe moet ‘n getuienis wees met groot oortuigingskrag! Natuurlik, kom ons erken,  dis veel gevra en beslis nie maklik nie. Kom ons wees eerlik : dit vereis opregte toewyding, onselfsugtige Christenskap, eindelose geduld en selfs die bereidheid om te ly! Dit vra bonatuurlike deursettingsvermoë! Gedryf deur ‘n passie vir God se eer en ‘n werklike liefde vir die man.  Ondersoek die motief van jou hart. Is dit nie dalk :  “ek wil tog hê hierdie ou moet ‘n Christen word sodat die lewe vir my makliker kan wees” nie? (LW - dit gaan hier oor mense wat reeds getroud was, toe die vrou tot bekering gekom het. Baie gelowige vroue sit met die pyn van ongelowige mans omdat hulle direk teen God se opdragte met onbekeerde mans getrou het. En dit  terwyl die Bybel dit verbied.)

As die vrou die man so met haar leefstyl  kan wen is al die moeite en opoffering dit werd. Hoe lyk hierdie lewenswandel? Dis ‘n lewe volgens die beginsels van : Onderdanigheid, Reinheid en Godvresendheid.

OPGEMAAK OF NUUTGEMAAK?

Petrus maak hierdie beginsels op ‘n praktiese saak wat vir vroue belangrik is van toepassing. Hoe maak ‘n vrou haarself aantreklik? ‘n Vrou kan op een van twee kante konsentreer : Uiterlike of innerlike. Waar gaan sy al haar energie (en geld) insit?  Klere of karakter? Gesig of gees? Petrus is duidelik, die klem moet nie op die uiterlike val nie! (Natuurlik propageer Petrus nie onversorgdheid nie.) Hy spreek wel ‘n baie teer saak aan in die sensuele en oppervlakkige kultuur waarin ons ons bevind. Maar hierdie probleem is nie iets nuuts nie.  Petrus se vermaning herinner sterk aan die van Jesaja 3:16-24 Luister bietjie!

"Die Here het ook gesê:
Die vroue in Jerusalem is hoogmoedig.
Hulle loop neus in die lug en swaai hulle heupe.
Hulle kyk vir die mans en knip hulle oë,
hulle skud die ringe om hulle enkels.
Maar die Here sal hulle koppe vol sere maak,
en hulle hare sal uitval.
Daardie dag sal Hy hulle mooi goed wegvat:
die ringe om hulle enkels en die juwele
wat lyk soos die son en die maan,
die oor-ringe en die armbande en sluiers,
die kop-ringe en die kettings om hulle enkels,
die mooi gordels om hulle lyf, die reukwater,
die juwele om hulle nekke,
die ringe aan hulle vingers en die neusringe,
die mooi rokke, die doeke om hulle skouers, die handsakkies,
die spieëls, die lang rokke, die kopdoeke en die kort jassies.
Wanneer die Here
al die mooi goed weggevat het,
dan sal die vroue nie meer
lekker ruik nie, hulle sal stink.
Hulle sal nie meer mooi gordels dra nie,
hulle sal toue om hulle lyf dra.
Hulle sal nie hulle hare kan vleg nie,
want hulle sal kaalkop wees,
hulle sal nie meer mooi klere dra nie,
hulle sal rouklere dra.
Hulle sal nie meer mooi wees nie,
daar sal brandmerke op hulle lywe wees,
want hulle sal slawe wees."

Sjoe!!! Klink amper of Jesaja deur die Huisgenoot geblaai of een van ons winkelsentrums besoek het!

Waaroor gaan dit? Die profeet Jesaja veroordeel die ryk hooghartige dames van Jerusalem wat hulle slegs oor hulle uiterlike voorkoms bekommer, terwyl die samelewing innerlik verrot is. Dis gewoonlik die tendens, hoe groter die geestelike armoede, hoe meer word daar op uiterlike vertoon en uitspattigheid gefokus om te probeer kompenseer! 

Ook Paulus maak soortgelyke opmerkings as Petrus in 1 Timoteus 2:9-10 (lees) Die Bybelse siening staan  in skerp  kontras met die algemene opvattings van die wêreld. Ons hoor dit mos : van kleins af word kinders aangemoedig om “sexy” te wees! Pasop: Ouers voer hulle kinders verkeerde waardes op subtiele maniere, sonder dat hulle dalk self daarvan bewus is!

Petrus se punt is nie ‘n  legalistiese verbod op alle mooi klere of grimering nie. (waar sou mens in elk geval die streep trek?)  Nou wat wil hy dan  tuisbring? Die punt wat hy wel maak  is tweeledig : 
1) Die oorweldigende waarde van innerlike skoonheid bo uiterlike versiering. 
2) Die groot gevaar van uitspattige sensuele versiering.

Weereens durf ons geen kleinlike wettiese reëls hieroor maak nie.  Elke Christen vrou moet onder leiding van die Heilige Gees, volgens die beginsels van die Woord en binne die konteks van bepaalde kultuuromstandighede, eerlik voor die Here keuses maak. Dit gaan eerstens natuurlik oor jou eie diepste motiewe, maar vir die Christen vrou wat ander se geestelike welsyn op die hart dra, ook  oor die vraag of my kleredrag en grimering ander in versoeking kan lei.

Positief : 

Die geheim van die Christen vrou se standhoudende skoonheid lê nie in  hoe sy haarself opmaak nie, maar hoe die Heilige Gees van God haar nuutmaak! 

MAGTIGE MOOI VROUE

Die innerlike mooi Christen vrou het ‘n magtiger wapen om haar man mee te beïndruk as bloot uiterlike aantreklikheid.  Konsentreer daarop!  Die uiterlike  het slegs ‘n kortstondige duur : die hare moet telkens teen groot koste weer oorgedoen  word, die duur klere is volgende seisoen weer uit die mode... Daarteenoor word  ‘n sagmoedige, bedagsame karakter net al mooier. Dis die gees wat daagliks deur die Gees vernuwe word!  Dis wat God sien en hoog ag!

SARA OF ISEBEL?

Petrus verwys na die verlede en merk op dat dit altyd so was dat heilige vroue hulle versiering in die innerlike gevind het.
Hulle geheim? Hulle het op God gehoop! Sara was so ‘n voorbeeld. Sy het nie ‘n maklike lewe gehad nie... op die trekpad, vol onsekerheid, baie noue ontkominge... Tog het sy getrou aan Abram gebly en hom gerespekteer. Petrus haal aan uit Gen 18:12 . Dit gaan oor respek. Hoop op God sal lei tot respek vir die man. Pasop hoe jy oor jou man praat of na hom verwys as jy saam met vriendinne is!  Respek te alle tye!  Volg Sara se  voorbeeld na.  

So baie vroue is eerder dogters en nabootsers van Isebel....Die listige koningin met agterbakse planne wat haar  swakkeling man  Agab totaal oorheers het. Hierdie bose koningin kon nie God se oordele vryspring nie, haar oogverf en mooigemaakte hare ten spyt! (2 Konings 9:30)

 ‘n Innerlike mooi vrou is ook ‘n dapper vrou. Hulle "vrees geen verskrikking nie" Dit gaan nie hier oor ‘n aanmoediging om die Comrades te hardloop of Kilimandjaro te klim nie. Maar om dapper, standvastig, vol geloof in moeilike omstandighede, veral huislike omstandighede te wees! Om onder ‘n onbekeerde man ‘n stille blymoedige Christelike getuienis te handhaaf verg veel meer as om Kilimandjaro te bestyg!

Ek hoop jy sien raak dat hierdie gedeelte nie bloot ‘n polemiek is oor grimering en kleredrag nie. Hoor die positiewe noot in hierdie vermanings : die innerlike skoonheid van ‘n vrou is ‘n magtige instrument om ‘n verskil te maak in haar man se lewe en in haar huis, maar bo alles is hierdie innerlike skoonheid kosbaar voor God! 

My liewe vriendin, moenie die klem laat val op opmaak nie, maar laat toe dat die Heilige Gees jou nuutmaak! Dan is jy mooi... en magtig! Magtig in God se diens!