BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag, 11 Mei 2017

VUUR

-vertel ons so ontsettend baie van die Heilige Gees! 


[‘n Voorskou op ons Pinksterrreeks wat DV op 4 Junie sal begin]

Op Pinksterdag gaan die koms van die Heilige Gees gepaard met die teken van vuur! (Handelinge 2) Dis nie maar toevallig nie. Vuur bring die gedagte van God se heilige teenwoordigheid en reiniging na vore. Dink bietjie aan die tema van vuur in die Ou Testament.

Maandag, 08 Mei 2017

DSCs : ‘n Nuwe wind van lering?



Moenie geflous word deur hierdie "fotostaatsiele" nie!

Eben Swart beweer dat jy as Christen dalk ‘n kopie van Agab, Herodes of Hitler (of selfs ‘n lewende persoon) se siel in jou binneste kan huisves…natuurlik met nare gevolge. Hierdie kopie laat jou immers dink en doen soos wat jy nie regtig wil dink en doen nie. Dis ‘n taamlik nuutontdekte verskynsel in die beradingswêreld bekend onder die term DSCs (Demonic Soul Copies). Hoe gebeur dit dat mens blootgestel kan word aan hierdie besmetting van DSCs? Dis die bekende lys wat Eben aanbied : sogenaamde bloedlynsondes, sonde (veral seksuele en okkultiese sonde), onheilige sielsbande (onheilige emosionele bande) en fisiese, emosionele en geestelike trauma. (Indien ons eerlik is, beteken dit dat ons min of meer almal potensiële slagoffers is van hierdie duiwelse truuk!)

Vrydag, 05 Mei 2017

BID MET (DIE REGTE) VERWAGTING!

- want Jesus waarborg gebedsverhoring.


Hoe bid jy? Ek bedoel nie of jy nou sit of staan en watter tipe woorde jy gebruik nie. Ek bedoel – Hou jy aan met bid en bid jy met ‘n opgewonde verwagting dat die Here jou gaan verhoor? Of is ons houding : “Ag kom ek bid maar, dan kyk ons wat sal gebeur, maar ek dink nie dit gaan juis ‘n verskil maak nie…” Nadat Jesus basiese lering oor gebed gegee het (in die vorm van die Onse Vader) gaan Hy voort om verdere onderrig oor hierdie groot saak te gee in LUKAS 11:5-13.

Maandag, 01 Mei 2017

METODISME

- vloek of seën? 

Metodisme is een van daardie vloekwoorde in die kerklike wêreld waarvan min mense wat die term gebruik presies weet wat hulle daarmee bedoel. ‘n Algemene beskuldiging wat sommer onnadenkend rondgeslinger en gehoor word is : “Die Skotse predikante het die Metodisme in die NG Kerk ingevoer” of “In Suid-Afrika word dr. Andrew Murray die draer van die Metodistiese denkstrominge.”  Dit maak dan sommer by implikasie van dr. Andrew Murray ‘n vreeslik gevaarlike dwaalleraar, want daar word ook beweer : “Die hoofgedagte van Metodisme is dat elke mens die saad van Goddelike genade in hom dra. Dit beteken dat dit van die mens self afhang of hy in die genade deel of nie. Daardeur verwerp hulle die uitverkiesingsleer.” Nou wonder mens van watter Metodisme word hier gepraat, aangesien een van die grondleggers van die Metodisme, George Whitefield juis ‘n vurige verdediger van die uitverkiesingsleer was!

Soms word die indruk gewek dat die etiket van die gewraakte Metodisme ‘n baie breë kwas is om almal te smeer wat erns probeer maak met Bybelse begrippe soos geloof, bekering en radikale lewensheiliging.  Sommige maak selfs die Bybelse opdrag om mense tot ‘n geloofsbeslissing uit te daag af as Metodisme. (Asof Johannes die Doper, Paulus en Jesus dit nie gedoen het nie!) Party is oortuig bidure is “Metodisties” en moet daarom liefs vermy word. Vir ander is  die begrip “herlewing” per definisie ‘n metodistiese dwaling. Is dit histories en teologies korrek en regverdig om sulke aannames te maak? Vermoedelik is daar kampvegters vir die suiwer leer wat die term “Metodisme” dalk met goeie intensies gebruik om kritiek te lewer op die oppervlakkige evangelisasie metodes en revivalisme wat by die semi-Pelagiaan Charles Finney (amper ‘n eeu later) ontstaan het. Dat ons skepties behoort te wees oor die sienswyses en praktyke wat party hedendaagse “evangelicals” by hom oorgeneem het, spreek vanself,  maar om dit onder die noemer van Metodisme te hanteer kan nie histories of teologies geregverdig word nie.  ‘n Bietjie  agtergrond kan dalk help om die verwarring op te klaar en baie van die wilde stellings te temper.

METODISME

Waarvandaan kom die begrip Metodisme?  Daar is duidelike historiese bewyse1. dat  die term van vroeg af deur George Whitefield op homself van toepassing gemaak is. Dis eers later deur John Wesley gebruik. Hierdie twee saam met John se broer Charles en verskeie ander was lede van die sogenaamde “Holy Club” in Oxford in 1729. Op hierdie vroeë stadium was die “Holy Club” natuurlik geensins evangelies van aard nie. Die fokus was streng geestelike dissipline en asketisme, maar sonder evangeliese sekerheid en blydskap. Die evangeliese herlewing en die kragtige prediking daaraan verbonde het eers later plaasgevind nadat Whitefield en die Wesleys die bevryding van die vryspraak deur die geloof in Christus alleen proefondervindelik gesmaak het. Niemand sal seker presies weet waarna die term “Metodisme” oorspronklik verwys het nie, maar Wesley se verklaring was  soos volg : “A Methodist is one who lives according to the method laid down in the Bible.” Dié benaming is natuurlik ook deur die teenstanders van die Groot Evangeliese herlewing van die 18de eeu gebruik om almal wat deur die herlewing beïnvloed is mee aan te dui hetsy diegene binne die Kerk van Engeland of daarbuite.  Eers later is die woord gebruik om Metodiste van Anglikaanse evangeliese gelowiges te onderskei.  Verder moet mens ook in ag neem dat die noemer “Metodiste” in ‘n engere sin na die volgelinge van John Wesley (wat Arminiaanse oortuigings gehuldig het) kon verwys, maar in ‘n breër sin ook kon verwys na Whitefield en Lady Huntingdom  se volgelinge wat die leerstellings van die Calvinisme onderskryf het.  Die werk van Whitefield en ander Calvinistiese herlewingspredikers soos Howel Harris en Daniel Rowland het immers later uitgeloop op die totstandkoming van die Calvinistic Methodist Connexion.

GEORGE WHITEFIELD

Dit spreek dus van absolute onkunde om Whitefield en Wesley in dieselfde teologiese mandjie te gooi bloot omdat hulle vriende en beide groot predikers was tydens die Groot Evangeliese Herlewing van die 18de eeu. George Whitefield, een van die invloedrykste predikers in die geskiedenis van die Christendom  was ‘n oortuigde Calvinis2. en het drasties en duidelik van Wesley verskil oor laasgenoemde se leer van perfeksionisme en Arminianisme. Enige iemand wat hieroor sou twyfel kan gerus maar net Whitefield se uiters bekwame antwoord lees wat hy aan Wesley geskryf het in reaksie op dié se aanval op die Calvinisme in sy preek getiteld “Free Grace”. Whitefield berispe Wesley onder andere met die volgende sterk taal : “Dear Sir, for Jesus Christ’s sake, consider how you dishonour God by denying election. You plainly make salvation depend not on God’s free-grace, but on man’s free-will…”  Hou ook in gedagte dat Whitefield besondere aanklank gevind het by die hoog aangeskrewe Calvinistiese teoloog (en kenner van herlewing) Jonathan Edwards van die Verenigde State. Juis ook as dit kom by die onderwerp van herlewing moet ons versigtig wees vir oorhaastige uitsprake en ongeldige kritiek. Om alle voorstanders van ware herlewing3. (wat iets heel anders is as die revivalisme van die latere Charles Finney) in ‘n Metodistiese (bedoelende Arminiaanse) kamp saam te jaag, is teologies onverantwoordelik, histories onjuis en getuig van onkunde oor die kragtige genadewerking van God gedurende herlewings waarvan die vrugte die toets van die tyd deurstaan het. Dink maar byvoorbeeld aan die heerlike en blywende vrug van die Koreaanse herlewing…

SKOTSE PREDIKANTE


Die Kaapse goewerneur Lord Charles Somerset het vanaf 1822 ‘n verengelsingsbeleid deurgevoer. Hiervoor sou hy ook die kerk probeer inspan. Die dringende tekort aan predikante weens die aansienlike vermeerdering van gemeentes het ‘n gaping vir hom gelaat om Engelsprekende predikante aan te stel en so op subtiele wyse sy doelwitte te help bereik. Drie Skotse leraars wat voorheen in diens van die Londense Sendinggenootskap4. was naamlik George Thom, John Evans en John Taylor is in NG gemeentes aangestel. In 1820 het die goewerneur vir ds. Thom na Skotland gestuur om nog Skotse predikante te gaan werf. Tydens die Kaapse sinode van 1834 was meer as die helfte van die predikante van Skotland afkomstig.  Dit spreek vanself dat hulle ‘n beduidende invloed in die NG Kerk sou uitoefen. Wat ons nie uit die oog moet verloor nie was dat die Skotse predikante waaronder ds. Andrew Murray (die bekende dr. Andrew Murray  en prof. John Murray se vader) Calviniste was. Dit was ‘n deurleefde evangeliese Calvinisme van die soort waarvan  die lewe en werk van bekende Skotse leraars uit daardie tyd waaronder Andrew en Horatius Bonar, Robert Murray McCheyne en die latere sendeling in China, William Burns5. getuig. Die verskynsel van herlewing binne ‘n Calvinistiese konteks was iets waarmee hulle goed bekend was.  (Dink aan die Kilsyth Herlewing van 1838-39 in Skotland.)  Alhoewel goewerneur Somerset klaarblyklik duistere oogmerke gehad het met die invoer van Skotse predikante, het hierdie leraars met hulle sterk evangeliese en puriteinse uitkyk ongetwyfeld daartoe bygedra dat daar ‘n behoefte in die kerk gestimuleer is na ‘n meer proefondervindelike godsdiens. Daar was ‘n verlange na ‘n geestelike ontwaking of herlewing.

HERLEWING

Dit bring ons dan by die evangeliese herlewing wat in die jare 1860-62 in die NG Kerk, maar ook in ander kerkgenootskappe in Suid-Afrika ondervind is. Hierin het dr. Andrew Murray, maar ook ander predikante (wat terloops nie Skotse wortels gehad het nie) soos G.W.A. van der Lingen, J.H. Neethling  en N.J. Hofmeyer ‘n groot rol gespeel. In hierdie tyd het baie lidmate ‘n persoonlike belewenis van die heil in Christus ervaar en was daar ‘n merkbare groei in toewyding in die kerklike lewe.  Belangrike vrae om te antwoord is onder meer : Hoe geregverdig is dit om Metodisme te koppel aan die evangeliese herlewing van die 1860’s in Suid-Afrika? Wat was dr. Andrew Murray se rol hierin? En wat was die vrugte van die herlewing?  

ANDREW MURRAY

Ons moet pasop om herlewing nie outomaties te assosieer met die verwerping van die uitverkiesingsleer (onthou vir Whitefield) en ortodoksie in die algemeen nie. Dit was juis Andrew Murray wat ‘n kragtige stryder teen die liberalisme was. (En hoe dringend nodig het die NG Kerk  tog vandag weer so ‘n dapper persoon wat vir die waarheid sal opstaan!)   Om net twee voorbeelde te noem. Murray  moes die kerk se gereformeerde standpunt in ‘n hofsaak verdedig  toe die advokaat siek geword het. Hy het toe ‘n toespraak van vier uur gelewer en die saak is gewen!6.  Murray het ook die liberalisme bestry in sy  “Het Moderne Ongeloof.”   Laat ons nie vergeet nie, dr. Andrew Murray was ‘n predikant van gereformeerde oortuiging wat selfs ‘n kommentaar op die Heidelbergse Kategismus geskryf het.  Inderdaad het hy ook sy teologiese swak plekke gehad waaronder sy siening oor  Goddelike genesing en sy affiniteit vir die Keswick leer van ‘n dieper lewe, maar hy was alles in ag genome ‘n man van God  met ‘n reuse positiewe geestelike nalatenskap.  Dis wel verstaanbaar dat sekere fasette van die herlewingsprediking  aanstoot sou kon gee soos die beklemtoning van bekering (veral seker vir onbekeerdes!) en ‘n sterk emosionele element versterk deur die sing van opwekkingsliedere en passievolle Woordverkondiging. Beslis  is  daar altyd die gevaar van uiterstes, eensydighede  en oorbeklemtoning wat mag voorkom, maar in geheel gesien is die lewe en praktyk van die NG Kerk oneindig verryk deur die herlewing waarin dr. Andrew Murray en baie ander ‘n groot aandeel in gehad het.  Buitendien is alle moontlike negatiewe gevolge van bogenoemde niks in vergelyking met die gevaar van verbondsoutomatisme en valse gerustheid nie. Die persoonlike ervaring van God se genade in Christus, erns met lewensheiliging,  stimulering van ‘n innige gebedslewe (soos ook tydens bidure en Pinksterdienste)  en ‘n sendingywer (waarvan die geskiedenis van die NG Kerk so merkwaardig getuig) is vrugte van herlewing wat tot die eer van God en die uitbreiding van sy Koninkryk gelei het!7.  As hierdie dinge dan deel van die “Metodisme” sou wees, dan moet ons dit as ‘n seëning uit die hand van die Here beskou.8.   

Uiteraard kan dit nie ontken word dat  die aantygings oor “Metodisme” in die NG Kerk  vir baie ‘n ernstige saak was nie.  Dit sou immers ook aangevoer word as een van die redes vir die hartseer afskeidings wat die NG Kerk beleef het met die totstandkoming van die Gereformeerde Kerk in 1859 en ook later die stigting van die Gereformeerde Kerke onder die Kruis.  Gewoonlik is sulke gebeure baie kompleks vanweë misverstande, plaaslike persoonlikheidsbotsings en omstandigheidsfaktore en moet mens sekerlik baie versigtig wees om “Metodisme” op ‘n simplistiese wyse die oorsaaklike sondebok vir hierdie kerklike onenigheid te maak. 9.  

Histories gesien bly dit in elk geval ‘n vraag of die invloed wat dr. Andrew Murray en ander op die kerk gehad het as Metodisme beskryf kan word.  Daar sou moontlik ‘n indirekte lyn aangedui kon word, maar die direkte  wortels van hulle oortuigings en praktyke moet  eerder by die Réveil, ‘n geestelike beweging wat in Nederland  (en ook ander Europese lande) van 1830 tot 1850 gevoel is, gesoek word. Die Réveil het klem gelê op die innerlike geloofslewe en praktiese Christenskap. Dit was ‘n broodnodige reaksie op die geestelike verval binne in die kerk. Onder die invloed van die Réveil het daar in 1844 ‘n studentevereniging SECOR DABAR  aan die Universiteit van Utrecht tot stand gekom met die doel om persoonlike bekering en ‘n praktiese vroom lewenswandel  te bevorder. Deur hierdie vereniging het Afrikaner studente soos John en Andrew Murray, N.J. Hofmeyer, J.H. Neethling en ander  wat in daardie jare in Utrecht gestudeer het, met die beginsels van die Réveil kennis gemaak en weer as latere geestelike leiers die NG Kerk in hierdie rigting beïnvloed. Wat die herlewing van die 1860's betref is dit belangrik om kennis te neem van die uitbreek van herlewing in verskeie lande in 1859 soos onder andere Ierland, Skotland en die VSA. Dit het niks te make gehad met Metodisme nie, maar het beslis meegewerk om die behoefte aan 'n geestelike ontwaking ook in Suid-Afrika te stimuleer. (Kliek op ULSTER HERLEWING as 'n voorbeeld)

Weens die komplekse geskiedenis en veelsydigheid van die Metodisme  lyk dit vir my of  mens maar baie versigtig moet wees om dit sommer as ‘n algemene etiket te gebruik om afwykings van die gereformeerde leer mee aan te dui en persone met wie mens nie heeltemal saamstem nie verdag te maak. As gelowiges mag en moet ons mekaar in broederlike liefde wys op gevare en foute, selfs ook oor kerkgrense heen. Hierdie teregwysings moet duidelik en sinvol wees sodat dit tot die geestelike welsyn van die aangesprokenes mag strek. ‘n Vae en ongenuanseerde beskuldiging van Metodistiese invloede dien myns insiens nie so ‘n doel nie.



Voetnotas

1. Dallimore, A., George Whitefield, Volume 1, p381ev.

2. Jonker, W.D., Uit Vrye Guns Alleen, p34.

3. Met “ware herlewing” word hier bedoel ‘n soewereine werk van God se genade op ‘n groot skaal wat lewens oor ‘n wye front radikaal aanraak en verander. Dit kan nie deur mense georganiseer word nie, maar is ‘n bonatuurlike heerlike ingrype van God. Vir ‘n duidelike hantering van die verskil tussen “herlewing” en “revivalisme” sien Murray, I. H. se Revival & Revivalism – The Making and Marring of American Evangelicalism 1750-1858, The Banner of Truth Trust, 1994.

4. Was hierdie voormalige sendelinge van die Londense Sendinggenootskap Calvinisties van oortuiging? ‘n Dieptestudie hieroor kan seker van groot waarde wees, maar val buite die skopus van ‘n kort skrywe soos hierdie. Daar is egter byvoorbeeld geen rede om die Calvinisme van iemand soos ds. George Thom te betwyfel nie. Sy leermeester by die sendingseminarie, Dr. David Bogue was ‘n Calvinis met ‘n sterk geloof in predestinasie. Na Thom se aankoms in die Kaap in Oktober 1812 het hy betrokke geraak by die 93rd Highland Regiment en spesifiek by ‘n Calvinistiese vereniging wat sedert 1808 tussen die soldate bestaan het. Van ds. Thom se voorstelle by die sinode van 1824, nadat hy ‘n leraar van die NG Kerk geword het, het ingesluit dat daar ten minste een keer per maand uit die Heidelbergse Kategismus gepreek word. Sien Christian Library (internet), George Thom (1789-1842): Scottish pioneer in South Africa (outeur onbekend). Vir ‘n evaluering van die enorme positiewe bydra van die Skotse leraars in die NG Kerk, sien Sass, F. W., The Influence of the Church of Scotland on the Dutch Reformed Church of South Africa (ongepubliseerde Ph.D. tesis, University of Edinburgh, 1956)

5.Interessant, as negejarige skoolseun, het Andrew Murray se pad met die van Burns gekruis in Skotland. Murray is natuurlik in Graaff-Reinet gebore, maar vir skoolopleiding oorsee gestuur. Heiberg, C.F., A Heart on Fire: The Life of Andrew Murray (1828-1917)

6. Ibid.

7. ‘n Boom word aan sy vrugte geken en die sendingywer wat kenmerkend was van Murray se fisiese en geestelike nasate spreek boekdele. Elkeen wat kennis dra van die merkwaardige sendingpogings van die NG Kerk dwarsoor Afrika en tot sover as die destydse Ceylon sal hiervan kan getuig.

8. Die kerkhistorikus Prof. P.B. van der Watt skryf dan ook : “Die meer praktiese inslag wat die Ned. Geref. Kerk ten gevolge van sy kontak met die Metodisme gekry het, moet as ‘n bate erken word.” Van der Wat, P.B., Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1824-1905, p24. Van der Watt onderskei ongelukkig self ook nie duidelik tussen die Arminiaanse en Calvinistiese vorm van die Metodisme nie.

9. In alle billikheid moet dit gemeld word dat daar ook ander redes vir die afskeiding van 1859 aangevoer word soos die kerk-staat verhouding, kollegialisme en natuurlik die Gesangekwessie. Met sommige van hierdie redes kan mens inderdaad meer simpatie as met ander hê. (Interessant genoeg, die Skotse leraars was juis die grootste beswaarmakers teen die staat se invloed in kerklike sake.) Die doel van hierdie kort artikel is egter nie om die redes van afskeiding te beoordeel nie, maar slegs om aan te dui dat die beskuldiging van “Metodisme” so maklik op ongenuanseerde en onverantwoordelike wyse gebruik word.

Woensdag, 12 April 2017

OPGEWONDE OOR DIE OPSTANDING

- die vaste feit wat die verskil maak!


Goeie Vrydag is natuurlik glad nie deur die dissipels aanvanklik as “goed” beleef nie. Allesbehalwe! Probeer jouself indink in die situasie van die destydse dissipels. Hulle het Jesus gevolg en besef Hy is die Gestuurde, die Gesalfde van God, die Messias. Hulle het hulle hoop op Jesus gevestig. Hy gaan God se Koninkryk oprig, Hy gaan ’n einde bring aan al die ellende en verdrukking en ’n nuwe bedeling laat aanbreek. En hulle het inderdaad wonderlike dinge beleef... genesings, duiweluitdrywing, wonders en veral die boodskap van hoop dat die Koninkryk inderdaad nou naby gekom het... 

En toe? Toe sterf Jesus aan die kruis. Die gruwelikste en skandelikste marteldood denkbaar. Die dood van ’n veragte misdadiger. Hulle het Hom self daar sien hang. Hulle hoop was verpletter. Ontnugtering. Wanhoop. Hulle harte was leeg en vol niks. Vol vrees, ja. Daar was geen vooruitsig, geen toekoms meer oor nie. Ja, smart, vrees en skuldgevoelens was al wat hulle oorgehad het. (Hulle eie lafhartigheid het immers nog vars in die geheue gelê.) Petrus self is waarskynlik die meeste geteister deur skuldgevoelens. Die haan se gekraai weerklink nog vretend vars in sy ore... ’n Toestand van wanhoop! 

JESUS IS NIE MEER TUSSEN DIE DOOIES NIE! 

Maar nou kom daar ‘n dramatiese wending en ommeswaai op hierdie wonderlike Sondagmôre! Ons lees dit in Lukas 24:1-12. ‘n Heerlike en buite die bereik van alle woorde tipe verrassing! Die vroue kom by ‘n leë graf en hoor die soetste woorde ooit : “Waarom soek julle die Lewende by die dooies!?” Dis goeie nuus, maar die implikasie is ook ‘n stukkie verwyt. "Hoe kon julle twyfel, hoe kon julle moed verloor, hoe kon julle vrees? Hy het mos gesê Hy gaan opstaan!"  Die vroue vertel hierdie verhaal aan die dissipels wat dit eers as onsin afmaak. Petrus se hart word egter geroer en hy hardloop om self te gaan kyk. (Hy was nie ‘n man wat enige ding halfpad gedoen het nie.) Hy gaan ondersoek instel, sommer tot binne die graf! Ja, die graf is leeg en baie belangrik daar lê net doeke. (Dis natuurlik van groot betekenis, want dis ‘n bewys dat Jesus se liggaam nie gesteel is nie, want as jy ‘n lyk wou steel sal jy nie die doeke eers afhaal nie...) Daar kan net een verklaring wees...Jesus leef! Die boodskap van die vroue is waar. Later ontmoet Jesus persoonlik met Petrus. Ook die ander sien uiteindelik die lewende Jesus van aangesig tot aangesig. Vat aan Hom, praat met Hom en sien hoe Hy brood en vis eet voor hulle oë! (kliek op SPOKE EET NIE VIS NIE) Jesus leef inderdaad! Sy lewe beteken ook vir Petrus en die ander nuwe lewe. Die opstanding open ‘n nuwe lewe van vergifnis, 'n nuwe gewaarborgde toekoms, vol blywende hoop!

Die opstanding het van ‘n tragiese Vrydag, Goeie Vrydag gemaak. 

Deur die aanskoue van die lewende Jesus is daar weer hoop in hulle harte gebore. Ja, hier was die bewys, die kruisdood was nie die einde nie, Jesus was voorwaar God se Gesalfde. Hier is die lewende onweerlegbare bewys dat al God se beloftes waar is!

OPSTANDING, WEDERGEBOORTE EN HOOP!

Jare later skryf Petrus ’n brief van hoop. Juis vir Christene in moeilike omstandighede, in ’n situasie van vervolging en swaarkry wat hulle maklik moedeloos sou kon maak. Deur sy brief bring hy vir hulle hoop. Meer korrek deur sy brief wys hy hulle op die hoop wat hulle reeds het. hierdie hoop is nie ’n vae mogge troffe hoop nie, maar ’n lewende werklike realistiese hoop. Hy herinner hulle, Christene is mense met hoop! Hoe so?

“Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot 'n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode,...” (1 Petrus 1:3)

God self het vir ons hoop gegee deur die opstanding van Jesus Christus! Petrus loof God daarvoor. Die opstanding van Jesus het hoop gebring, want die opstanding beteken dat Jesus leef. Dis rede vir groot blydskap. Dis egter nie al gevolg van die opstanding nie. Jesus se opstanding beteken nie net dat Hy leef nie, maar ook dat ons wat aan Hom behoort leef! Hoe so? Wel, deur die opstanding het God ons weer nuut gebore laat word. God het deur die opstanding nuwe lewe aan Christus gegee, maar ook aan ons! Deur Jesus se triomf oor die dood het God ’n nuwe begin gemaak, maak God alles nuut, maar Hy begin by ons as mense. Terloops wedergeboorte (radikale nuutmaking) is iets wat die hele verdorwe skepping gaan raak en nie net die mens nie. Ons het die nuwe geboorte ontvang deur die opstanding van Jesus Christus. As ons normaalweg die term wedergeboorte gebruik dink ons gewoonlik aan die verandering wat God deur Sy Woord en Gees binne in ons bewerk. En dis reg! Petrus verwys self ook hierna in 1:23-25. Van die mens se kant gesien kry deel ons aan die nuwe lewe wanneer ons God se Woord, die Goeie Nuus van Jesus gelowig aanvaar via die Gees se werk. Hier word die wedergeboorte egter gebruik in verband met die opstanding van Jesus. Hier is die fokus op wat buite ons gebeur het. Toe Jesus opgestaan het, het Hy ons verlossing, ons nuutmaking bewerk en verseker! Omdat gelowiges in Christus is beteken dit dat toe Jesus opgewek is, ons ook opgewek is tot ’n nuwe lewe. 

MENSE VAN HOOP

God se mense is mense van hoop! ‘n Vaste onwankelbare hoop op die verlossing wat Hy deur Jesus Christus bewerk het. In ’n swartgallige wêreld vol ellende, sonde, siektes, onreg en Zuma’s -kan elkeen wat in Jesus glo sê : “Ek het hoop. ’n Vaste seker hoop wat God vir my gegee het.” 

Wat is die praktiese nut van Petrus se boodskap vir ons? Hy wil ons leer : Fokus op die vaste feit van die opstanding, juis ook in die tye wanneer jy so ellendig voel dat jy selfs sou kon begin wonder oor jou geloof en bedenkinge kry oor jou bekering. 

Bedink en herkou die feit van die opstanding!

Jesus se triomf oor sonde Satan, dood en hel aan die kruis is bevestig deur die wonder van die opstanding en daarom onaanvegbaar seker! Dis iets wat HY klaar gedoen het! Dit stimuleer juis weer geloof en dit motiveer ons juis weer tot bekering! Die fokus is dus nie hier op wat ek beleef en voel en ervaar nie, maar op die vaste feite van Jesus se werk. Dis die bron en versekering van ons hoop. Ja, deur die opstanding het ons vandag (wat ook al my omstandighede) weer opnuut HOOP! As jy miskien nou wanhopig en beangs voel moet jy dalk saam met die vroue weer hoor wat die engele vra: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies?” 

Geliefde kind van God, pasop dat jy nie dalk onbewustelik aan Jesus dink as ‘n dooie veraf historiese figuur van die gryse verlede nie. Jesus is NOU lewend! Hy leef inderdaad en daarom is daar hoop! Hy leef en hierdie feit maak die verskil!

Donderdag, 06 April 2017

IN MOEILIKE TYE

- BLY STEEDS BY DIE BASIESE BEGINSELS!



Moeilike tye… dit kan seker baie dinge beteken. Vir verskillende mense verskillende dinge. Vervolging, swaarkry, finansiële druk, diefstal van jou eiendom, ervaring van onreg, gesondheidskrisisse, geestelike stryd…(baie mense in Suider Afrika koppel moeilike tye nou sekerlik aan Zuma se katastrofale besluite...) Hoe moet ons optree in sulke tye? Waarvoor moet ons pasop? Wat moet ons onthou?

Mens sou kon sê dat die brief aan die Hebreërs juis geskryf is vir Christene in moeilike tye. Daar was die groot gevaar van afvalligheid, van afdwaling ("wegdrywe" 2:1), van moedeloosheid... Daar was mense met "slap hande en lam knieë". Daar was ook vantevore reeds fisiese swaarkry. Sommiges is blykbaar van hulle goed beroof en dit lyk ook asof van hulle in die tronk gegooi is.

Die sentrale boodskap aan hierdie Christene was : 

Hou vas aan Jesus die volmaakte hoëpriester!

Jesus is God se finale openbaring aan die mens. (1:1) Jesus oortref die engele by verre in heerlikheid en majesteit. Hy is God! Jesus vervang al die offers, tempeldiens en hoëpriesters van die Ou Verbond. Hy het self die pad na God vir ons oopgemaak. Ons kan weet Hy het medelye met ons en ons kan dus met vrymoedigheid na God se genadetroon gaan. 

 “Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.” (Hebr 4:14-16) 

Jy wat aan Jesus behoort moet weet dat Hy ‘n volmaakte hoëpriester, Middelaar is wat vir ons toegang tree tot die troon van God bied. En dis ‘n genadetroon! Maak met vrymoedigheid gebruik van die geleentheid om jou hart voor Hom uit te stort en op die regte tyd sal jy gehelp word. Moenie tou opgooi nie, volhard, moenie eers dink aan omdraai nie, hou die oog op Jesus. Onthou Jesus moes ook eers deur lyding en swaarkry gaan voordat Hy sy beloning gekry het.

En onthou – juis in moeilike tye : 

Jesus het nog nooit verander nie! 

 “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.” (13:8) 



Jesus is volmaak en algenoegsaam. Dis die hooftema.

Hier aan die einde van die brief in hoofstuk 13 vind ons ‘n paar kort praktiese sake wat eintlik al die aspekte van ons lewe dek en wat juis baie sin maak in die konteks van moeilike tye. Dis waarop ons kortliks wil fokus *:

Beoefen broederliefde. (1) So kosbaar juis in moeilike tye. Dis ‘n opdrag wat ons nie moet vergeet nie. Pasop dat moeilike tye jou nie in ‘n dop van selfsug en selfbejammering laat kruip nie. Reik uit na ander deur broederliefde. Dis nie bloot ‘n gevoel nie, maar om ander prakties te help… “Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie-hoe kan die liefde van God in hom wees. Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.” (1 Johannes 3:16-18) Daar is positiewe krag en genesing in broederliefde, nie net vir die wat die ontvangers is nie, maar juis ook vir diegene wat dit gee… toets dit maar!

Bewys gasvryheid. (2) In moeilike tye moet jy juis jou hart en huis oopmaak vir ander. Ook wat vreemdelinge betref. Die skrywer gee ‘n spesiale aanmoediging tot gasvryheid deur te verwys na Abram wat niksvermoedend engele ontvang het. Die bedoeling van die skrywer is natuurlik nie om te spekuleer of die persoon voor jou deur ‘n engel is of nie. Die punt wat hy maak is, is dat sommige van jou gaste ware boodskappers van God gaan wees wat groter seën vir jou gaan gee as wat hulle van jou ontvang!**

Toon opregte medelye met diegene wat swaarkry selfs ook die wat in die tronk gegooi is. (3) Hierdie lesers het reeds ervaring hiervan gehad. “Dink terug aan vroeër dae toe God julle tot die lig gebring het, hoe julle in die stryd staande gebly het toe julle baie moes ly. Deels is julle deur beledigings en vervolging openlik tot bespotting gemaak en deels het julle gely omdat julle julle vereenselwig het met ander wat hierdie dinge oorgekom het. Julle het met die gevangenes meegevoel gehad, en toe op julle besittings beslag gelê is, het julle dit met blymoedigheid aanvaar omdat julle geweet het dat julle ‘n besitting het wat beter en blywend is.” (10:32-4) Weereens in moeilike tye moet ons pasop vir ‘n selfsugtige beheptheid net met ons eie situasie, maar ons ook probeer indink in ander mense se omstandighede.

Betoon respek vir die heiligheid van die huwelik. (4) Moeilike tye plaas huwelike en sedes onder druk. Mense kan redeneer ons kan nou maar ons eie reëls maak. Hier word twee woorde gebruik naamlik pornous en moigous.*** Dit gaan oor meer as net owerspel of egbreuk maar oor die hele spektrum van ongeoorloofde seksuele verhoudings. Die erns word onderstreep deur die spesifieke vermelding dat die oordeel van God oor hierdie mense sal kom! Ook ander NT skrywers verwys hierna soos Paulus in 1 Tess 4:4-7. “Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe; julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie. Ook mag niemand hom in hierdie verband te buite gaan en sy broer bedrieg nie, want die Here straf al sulke dinge. So het ons julle trouens al vroeër gewaarsku; ons het julle nadruklik hierop gewys. God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe." 

Die media leer vir ons – “alles is maar reg”, die Woord leer dat God hierdie dinge straf!

Pasop vir gierigheid. (5,6) Hoe groter die nood, hoe groter is die gevaar vir gierigheid en vertroue op geld. (ironies) Paniek en selfsug neem so maklik oor! Hier vind ons ‘n heerlike belofte binne die raamwerk van geldsake. Wat egter belangrik is, die belofte kom saam met ‘n duidelike tweeledige waarskuwing en opdrag. Hou jou lewe vry van geldgierigheid. Dis net ‘n ander manier om Jesus se waarskuwing te herhaal : Julle kan nie God en Mammon dien nie! (baie probeer, maar dit bly vandag nog steeds onmoontlik) Die opdrag gaan oor tevredenheid, vergenoegdheid. Ook in moeilike tye wanneer die skoen druk, moet ons tevrede wees. “Die godsdiens is ‘n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees.” (1Tim 6:6-8) Tevredenheid gaan saam met vertroue op God. Ek vertrou Hom en ek is tevrede met dit wat Hy vir my gee op hierdie stadium van my lewe. Maar juis dan en net dan kan ek verseker wees van sy sorg en nabyheid en hulp. Hy sal my nooit as te nimmer verlaat nie. (Hierdie versekering word baie sterk in die Grieks gestel deur middel van vyf negatiewe) 

As ek hierdie belofte glo word ek bevry van vrees! 



Ja, moeilike tye is nooit maklik nie, maar ook in moeilike tye kan God se kind steeds in blydskap en dankbaarheid lewe sonder vrees! Ja, al maak Zuma nou ook wat...

                                    (foto - Afrisake)                      



*Hier word net aandag gegee aan die opdragte in Hoofstuk 13:1-6. Gaan gerus die hele hoofstuk deur vir die ander opdragte.

**FF Bruce,  The New International Commentary, The epistle to the Hebrews, p391

*** πορνους   en   μοιχους


Donderdag, 30 Maart 2017

BANG BEPREEK

- PAULUS MAAK VIR FELIKS BANG MET DIE WAARHEID.

Paulus het onskuldig in die tronk beland weens die komplotte van die Jode. Hy verskyn nou die tweede keer voor goewerneur Feliks wat as regter optree. Hier in Handelinge 24:24-27 gebeur nou iets merkwaardig. Gewoonlik is dit ‘n beskuldigde wat bang word in ‘n regter se teenwoordigheid, maar hier gebeur die teenoorgestelde. Feliks, die regter is die een wat bang word!

Dit lyk asof Feliks meer wou uitvind rondom Jesus. Mens kan aflei dat Feliks nie heeltemal onkundig was oor Jesus nie en nou meer wou hoor. In die berig oor die eerste verskyning van Paulus voor Feliks, lees ons immers : “Hier het Feliks, wat die besonderhede in verband met die leer van Christus taamlik goed geken het, die verhoor onderbreek.” (Hand 24:22)

Nou laat hy Paulus roep om meer te hoor van Jesus. Pragtig! Wat ‘n wonderlike geleentheid vir die evangelie! ‘n Kans wat Paulus kry om met ‘n persoon in ‘n hoë posisie die boodskap van Jesus te kan deel. Wat sou hy vir Feliks sê? Wel, as Paulus ‘n Amerikaanse Prosperity TV evangelis of ‘n ander kwaksalwer profeet was sou hy dalk baie aangename dinge vir Feliks kon gesê het. Miskien... “Edele Feliks, Jesus kan al u probleme oplos. Jesus kan u drome verwesentlik, u gelukkig maak, u suksesvol maak, u ryk maak ... Ag, edele al wat nodig is, maak net ‘n geldelike bydrae tot my “ministry” dan gaan die Here u sommer uit u sokkies uit seën... Ag , Feliks die pad na redding is baie eenvoudig, u kan maar net ‘n gebedjie agter my aanbid en u hart vir Jesus gee, dan is alles reg! Great!”

DIE BEGIN

Nee, toe nou nie! Paulus is nie ‘n selfaangestelde kommersiële profeet nie, maar ‘n geroepene van God. Omdat Paulus die ware evangelie hier aan ‘n verharde selfversekerde sondaar verkondig, begin hy by die begin. En wat is die begin? Waar moet ons begin voor ons mense van genade en vergifnis kan vertel (of beter gestel voordat genade en vergifnis vir hulle gaan sin maak?) Ons moet hulle wys op wat God se Woord te sê het oor hulle sondige toestand en die gevaarlike posisie waarin hulle hulself bevind. Dis presies wat Paulus hier doen. 

Hy praat met Feliks oor drie dinge:

  • ’n Lewe in gehoorsaamheid aan God. (geregtigheid - OAV) Die lewe wat God van mense verwag. Ja, God het ‘n bepaalde leefstyl wat Hy van ons verwag. Hy het die reg om sekere dinge van ons te vra. Hy is mos ons Maker. Daar is dinge waarvan Hy hou en daar is dinge waarvan Hy nie hou nie. Hy maak die reëls en nie onsself, die Huisgenoot of die algemene opinie van die dag nie! Hy en Hy alleen besluit wat is reg en verkeerd! (Nie eens die Algemene Sinode wat kort-kort van opinie verander nie.)
  • Selfbeheersing. Miskien was ‘n gebrek aan selfbeheersing persoonlik Feliks se swak punt. Dit wil voorkom dat hy in elk geval nie ‘n man met vaste beginsels en integriteit was nie. Eintlik is ‘n gebrek aan selfbeheersing ‘n wesentlike kenmerk van alle onbekeerde sondaars Efesiërs 2:13 gee ‘n beskrywing van die onbekeerde mens en dis duidelik die mens sonder God leef en maak net soos hy wil, sonder enige selfbeheersing! “So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word.” Ja, dis die mens sonder God, hy word deur sy luste aan die neus rondgelei...
  • Die komende oordeel. "Feliks jy moet besef, daar is ‘n God wat jou gaan verantwoordelik hou vir jou dade!"  Dis seker die laaste ding wat hierdie selfsugtige en gierige jakkals wou hoor! Die boodskap van die oordeel was egter deel van Paulus se evangelieverkondiging, so Feliks moes maar luister... Paulus het hierdie boodskap ook aan die gekultiveerde Atheners gebring. "God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer, want Hy het ‘n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ‘n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan." (Hand 17:30,31) Hy verwys ook hierna in die Romeine brief in Rom 2:16. “...Dit sal aan die lig kom op die dag wanneer God deur Christus Jesus oor die verborge dinge van die mense sal oordeel, ooreenkomstig die evangelie wat ek verkondig.” Dit was nie net Paulus wat oor die oordeel gepraat het nie. Die komende oordeel was deel van die Johannes die Doper se prediking en dit was ook ‘n belangrike deel van Jesus se prediking! Vandag is dit natuurlik taboe om na die oordeel en hel te verwys. Dit val buite die postmoderne mens se verwysingsraamwerk, want alles is mos maar reg en als is mos relatief! 
Die werklikheid van ‘n oordeel is deel van die onveranderde Bybelse boodskap!


EK HET JESUS REGTIG NODIG!

Hierdie feite, hoe ongemaklik ook al, onderstreep die sondaar se nood en behoefte aan Jesus! Hierdie is basiese waarhede wat nodig is om te verstaan voordat ‘n sondaar regtig na Jesus sal kom en regtig genade sal verlang. Dis net Jesus wat vergifnis kan skenk aan my vir my ongehoorsaamheid en ongeregtigheid. Dis net Jesus wat my kan nuutmaak en vir my selfbeheersing deur sy Gees kan gee. Dis net Jesus wat my kan red van die komende oordeel.

Sonder die feit van die oordeel maak die evangelie van God se genade geen sin nie en sal geen mens ook daarin belangstel nie. Hierdie dinge is natuurlik nie lekker om te hoor nie. Dis vandag nog nie lekker om te hoor dat jy ‘n rebel is nie. Trouens hierdie sake het Feliks so ontstel en verskrik dat hy uitroep : “Dit is nou genoeg….!”

EN DIE GENADE?

Miskien wonder jy tog nog of Paulus op hierdie stadium dan vergeet het van die boodskap van genade? Nee, beslis nie. Nie lank voor hierdie gebeure op sy reis na Jerusalem waar hy toe gevang is, het Paulus weereens bevestig – sy hele loopbaan gaan om een sentrale saak, die verkondiging van die goeie nuus oor genade! “Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.” (Handelinge 20:24) Nee, Paulus se boodskap was en bly die genadeboodskap, maar dit is net relevant vir sondaars binne die konteks van God se geregtigheid en oordeel.

TYDELIKE INDRUKKE

Feliks het bang geword, maar dit was ook net vir ‘n tydjie. Sy hart het onaangeraak gebly. Dit gebeur met baie mense . In tye van siekte of dood, begin hulle nadink oor die dood en oordeel en toon selfs vir ‘n kort rukkie belangstelling in die Woord. Hulle kom selfs ‘n paar keer kerk toe. Maar helaas, dis net tydelike indrukke. Gou-gou waai die vrese en bekommernisse oor en gaan hulle weer aan op dieselfde pad van sonde. Feliks het geen ware belangstelling gehad in die Woord van God nie. Geen ware begeerte om gered te word nie. Hoekom nie? Sy groot passie was GELD! “Hy het die hele tyd ook gehoop Paulus sou hom omkoopgeld aanbied om los te kom. Daarom het hy hom so dikwels moontlik laat haal om met hom te praat.” (26) Terloops, korrupsie is nie iets wat deur Zuma uitgedink is nie! Dit kom van ver af. ‘n Liefde vir geld verdring alle bekommernisse oor my saligheid. Nou kan mens sommer ook verstaan waarom Paulus nie vir Feliks gesê het dat Jesus hom kan ryk maak nie. Vir seker sou Feliks dan sommer baie belang gestel het in ‘n rykmaak Jesus, maar hy stel nie belang in ‘n Jesus wat van sonde verlos nie! 

SO TRAGIES

Hierdie hoofstuk het ‘n tragiese einde. “Twee jaar later is Feliks deur Porcius Festus opgevolg. En omdat Feliks die Jode ‘n guns wou bewys, het hy Paulus as gevangene agtergelaat.” (27) Feliks is nog steeds vasgevang in ‘n lewe van korrupsie, ongeregtigheid en onbeheersde hebsug. Feliks het die kans gehad om die evangelie te hoor, maar hy het dit laat verbygaan…

Mag ons van sulke dwaasheid bewaar word!



Donderdag, 23 Maart 2017

HINKEPINK*

‘N NUWE TOEKOMS IN! 

"Net toe Jakob by Pniël verbygaan, het die son opgekom. Jakob het mank gebly aan sy heup,..." 

[Jakob is op pad terug na sy geboorteland nadat hy vir Esau moes vlug. Hy moet nou weer vir Esau in die oë kyk en is baie bevrees. Hy maak allerhande planne om Esau met geskenke te paai. Maar voor hy Esau ontmoet, wag daar ’n ander verrassing vir Jakob. Hier in die nag by die Jabok rivier beleef Jakob ’n ingrypende lewensveranderende ontmoeting met God! Ons lees van hierdie ingrypende gebeurtenis in Genesis 32 :22-32] 

GROOT GEVEG

Wat ’n merkwaardige ontmoeting! ‘n Hewige worsteling! Die man wat teen Jakob baklei, is niemand anders as God self nie! Ja, God “baklei” soms met ’n mens! Maar Hy baklei nie met hom om hom te vernietig nie. Hy baklei met hom om hom te seën! 

Dit gebeur nogal dikwels dat God ’n mens op dieselfde tyd seën en slaan. Anders gesê, die tye wanneer God met ’n mens ontmoet en jou genadig is, is ook terselfdertyd ’n tyd van hartseer en pyn! Hierdie episode in die lewe van Jakob is ’n aangrypende voorbeeld daarvan. Kom ons kyk na ‘n paar praktiese beginsels uit hierdie gedeelte van hoe God dikwels met ons werk en ons ontmoet: 

Die ontmoeting is God se inisiatief! Jakob maak slim planne om Esau te paai (vers 20b), maar God het al die tyd nog ’n groter plan met Jakob gehad. Jakob maak hom reg om Esau te ontmoet, maar God ontmoet met Jakob. Jakob probeer sy verhouding met Esau reg stel, maar God wil eers werk aan die verhouding tussen Hom en Jakob! God gryp in Jakob se lewe in, Hy “oorrompel” vir Jakob. Dit laat mens onwillekeurig dink aan hoe God baie eeue later ’n Fariseër, op sy pad “oorval” het! Saulus van Tarsus se radikale bekering op pad na Damaskus! God is ’n God van ontmoetings! God werk en praat en stoei met mense! Om hulle te red en te verander. 

Dit was natuurlik nie ’n toevallige ontmoeting nie. God het al lankal ’n plan met Jakob gehad. Twintig** jaar vantevore toe Jakob gevlug het vir Esau, en hy met sy kop op ’n klip geslaap het by Bet-El en gedroom het van die leer met die engele wat opklim na die hemel, het God al met Jakob gepraat. God het hom belowe dat Hy hom sal beskerm en terugbring na sy land. (Gen 28:15) God se ontmoeting met Jakob, kom voort uit sy uitverkiesende genade! God het Jakob al lankal uitgekies en besluit om bemoeienis met hom te maak! Geliefde, die Here stap dikwels ’n lang pad met ’n mens - in jou ouerhuis, deur huisgodsdiens, in die Sondagskool, deur mense op jou pad, en Hy laat jou toe om baie draaie te loop....maar dan kom daar ’n tyd wat God sê : “Nou is die tyd! Nou moet jy voor my buig! Nou is die dag van beslissing en van redding!” Jy sal weet hoeveel keer die Here met jou gepraat het. Jy sal weet hoe lank jy al besig is om jou eie plannetjies te maak. Jy sal ook weet, dis nou die tyd. God roep my nou om Jesus te volg! 

Hy sê: "Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor, en op die dag van redding het Ek jou gehelp." Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding. (2 Korintiërs 6:2) 

Die ontmoeting met God is pynlik. Jakob is bang vir Esau. Maar nou kom hy skielik agter dat God sy eintlike "vyand" is. God baklei met hom in ’n pynlike geveg. Jakob moet eers met God versoen raak, voordat hy met sy broer vrede kan maak. Dis dikwels nodig dat die Here hardhandig moet ingryp in ons lewens. Ons is mos maar hardkoppig en hardhorend... Jakob word teen die heup geslaan sodat die heup uit die potjie spring. Paulus is met blindheid getref op pad na Damaskus. God moet ons dikwels eers slaan voor ons luister. Dit kan baie seer wees! Dit kan verskeie vorme aanneem...’n Groot verlies (dood van ’n geliefde), ’n mislukte huwelik, ’n ernstige siekte, ’n finansiële ramp of een of ander groot teleurstelling! Dit kan ook ’n groot vernederende openbare sonde wees, wat God gebruik om mens plat te slaan. (Dink aan Petrus) 

Iemand sê tereg oor hierdie gedeelte dat die fisieke pyn van Jakob nie al pyn was nie. Die ergste pyn was dat Jakob die waarheid oor homself moes raaksien. God vra vir Jakob wat sy naam is. Hoekom? God het mos vir Jakob baie goed geken. Jy, sien ’n naam in daardie tyd was eintlik ’n beskrywing van jou diepste wese en karakter. Nou moet Jakob, antwoord : “Jakob! Ek is Jakob! Ek is ’n bedrieër!” (Dis mos wat die naam Jakob beteken) God konfronteer ons eers met ons eie boosheid as Hy ons wil red en seën! Jesus sê vir die Samaritaanse vrou : “Gaan roep jou man.” Hy ontbloot die feit dat sy al 5 mans gehad het, en op daardie stadium ongetroud saamgebly het met ’n man! God wil hê dat ons die eerlike waarheid oor onsself in die oë kyk. En die eerlike waarheid oor myself is dat ek ’n sondaar is. Maar Jesus het juis gekom vir sondaars en net vir sondaars! Redding begin as ek eerlik is voor God en myself sien as ’n sondaar wat genade nodig het! 

Die ontmoeting met God bring genade en ’n nuwe begin. Nadat Jakob, die bedrieër ontbloot voor God gestaan het, ontvang hy genade. God stel hom nie teleur nie. God stel desperate sondaars nie teleur nie. Ons weet Jakob was op hierdie stadium van sy lewe desperaat dat God moes ingryp in sy lewe. Vers 26 (OAV) “Ek sal U nie laat gaan nie, tensy dat U my seën.” Begeer jy God se genade bo enigiets anders! Hou moed! Dis nou die tyd dat God jou gaan antwoord! Jakob ontvang genade en die duidelike bewys daarvan is dat God hom ’n nuwe naam gee! “Die man het gesê: "Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel, want jy het teen God en teen mense ‘n stryd gevoer en jy het dit end-uit volgehou." (28) ’n Nuwe naam vir ’n nuwe mens! Iemand het dit so gestel:

Die glibberige aartsskelm word ‘n vroom aartsvader! 

Dis wat genade doen. Genade open ’n nuwe toekoms. As iemand is Christus is, is hy ’n nuwe skepsel. Die ou dinge het verbygegaan, kyk alles het nuut geword.” ( 2 Kor. 5:17) 

Daardie wond...

Miskien kan jy vandag terug dink aan die tyd toe God werklik met jou ontmoet het. Dit was dalk ’n baie pynlike tyd, maar dit was ook ’n heerlike tyd toe jy genade en vergifnis ontvang het. Dalk hou jy nou nog letsels, ou wondmerke oor van daardie tyd. Kind van God, dank God dan vir dié letsels in jou lewe, dis ’n herinnering aan die seën wat jy ontvang het! Seën en letsel gaan dikwels saam. Dit word so treffend uitgebeeld in vers 31. “Net toe Jakob by Pniël verbygaan, het die son opgekom. Jakob het mank gebly aan sy heup,...” Dit word spesiaal gemeld, die son kom op! ’n Nuwe dag het aangebreek, ’n nuwe hoofstuk in Jakob se lewe, ’n nuwe begin wat God met hom gemaak het. Positief, heerlik! Maar dit word ook gesê : “Jakob het mank gebly aan sy heup.” Soos iemand dit gestel het : Jakob hinkepink ‘n nuwe toekoms in. Vir altyd sou hierdie mank heup, Jakob herinner aan die dag toe God hom genadig was en geseën het! 

Eers eendag met die aanbreek van die heerlike toekoms by Jesus se wederkoms sal ons heeltemal sonder letsels wees!

Uiteindelik en beslis bring hierdie verhaal mens ook uit by Jesus. Hy het deur sy kruisdood en sy wonde vir ons alle seëninge wat daar is, verwerf : vergifnis, kindskap, die Ewige Lewe, die onverganklike erfenis! Maar dit het Hom ook ’n klomp pyn en letsels gekos. Die merke aan sy hande en sy voete en sy sy was getuienis daarvan - ook na sy opstanding was die letsels sigbaar. Mag Jesus se wonde ons herinner dat die volle prys vir my sonde betaal is, die boete was genoeg! Wees eerlik oor jou sonde in hierdie oomblik, bring dit na Hom. Vertrou Hom! Aanvaar sy vergifnis! Deur sy wonde het daar vir jou genesing van sonde gekom!

*"Die afloop van hierdie ontmoeting met die lewende God is nie dat mens soos 'n held in die destydse "Wilde Weste" - rolprente seëvierend die sononder inry nie. Jy hink die dagbreek van 'n nuwe toekoms binne." AF van der Merwe in  WOORD TEEN DIE LIG II/3

**Genesis 31:41

Donderdag, 16 Maart 2017

HEELTEMAL VRY!

maar vrywillig diensbaar.



Een van Martin Luther se beroemdste geskrifte wat in 1520 verskyn het, heet : DIE VRYHEID VAN ‘N CHRISTEN. Hierin maak hy ‘n baie grondige, diepsinnige en heerlike stelling. 

Dis (tipies Luther) in die vorm van ‘n paradoks : 

"‘n Christen is in vryheid heer van alle dinge en van niemand ‘n onderdaan nie; ‘n Christen is in diensbaarheid kneg van alle dinge en van elkeen ‘n onderdaan." 

VRY ÉN DIENSBAAR! Natuurlik het Luther nie die stelling uit sy duim gesuig nie, dis ‘n samevatting van wat Paulus in 1 Korintiërs 9:19 sê : "Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen.”

DIE CHRISTEN IS VRY. 

‘n Christen is heeltemal volkome vry. Hieroor bestaan soveel onkunde wat lei tot soveel vrees en onsekerheid. So baie mense dink Christenskap is een stuk vreeslik harde werk. Byna soos slawerny. Hulle voel die hele tyd : Ek moet myself beter maak, ek moet harder werk, ek moet my bes probeer om al die reëls te hou, dan sal God my aanvaar. 'n Vreesagtige gevoel van onsekerheid : "Jong, as ek nie in my spoor trap nie, gaan ek dit nie maak nie..."  (As jy hulle vra oor hulle Christenskap, is hulle antwoord altyd : “Ek probeer om een te wees.”) Wat ‘n groot misverstand! Kom ons maak seker vanuit die Woord. Wat verwag God van ons? Wat moet ons doen sodat ons kan weet Hy is tevrede met ons en het ons as sy kinders aanvaar? Gelukkig het Jesus self die antwoord op hierdie uiters belangrike vraag gegee. “Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring? Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het." (Johannes 6:28,29) Geloof alleen! Dis die basis van Christelike vryheid en vrede. Om te weet God het my aanvaar omdat ek in Jesus glo. Daar is geen ekstra voorwaardes of fynskrif nie! Om te weet God het my aangeneem nie op grond van my prestasies nie, maar op grond van Jesus se prestasie en verdienste aan die kruis! 

Deur die geloof in Jesus kry ek deel aan ‘n heerlike uitruiling – Jesus vat my sondeskuld en onvolmaaktheid op Hom (en sterf daarvoor) en Hy skenk sy geregtigheid en sy volmaaktheid aan my! 

In God se oë is ek dus ‘n regverdige! Dis die basis van my vrede. (Rom 5:1) Niks kan my meer bangmaak of veroordeel nie. Ek is vry van die vrees vir die wet, sondeskuld, satan, dood en hel! Jesus se sterwe het hierdie vyande volledig en finaal uitgeskakel. Daarom kan Paulus uitdagend uitroep in Rom 8:34 – “Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” Die implikasie is duidelik, ons is vry van alle oordeel nie weens ons goedheid of prestasies nie, maar vanweë Jesus se sterwe opstanding en voortdurende intrede vir ons!

DIE CHRISTEN IS DIENSBAAR. 

As praktiese voorbeeld van hoe vryheid en diensbaarheid saamgaan gebruik Luther die verhaal van Jesus en die tempelbelasting. Ons vind dit in Matteus 17:24-27. Elke meelewende Jood moes jaarliks ‘n bedrag betaal waarmee die offerdiens in stand gehou is. Dit lyk nou asof Petrus deur ‘n vraag of Jesus die belasting betaal in die verleentheid gestel is.* Jesus is vooraf bewus van Petrus se dilemma en wag hom in met ‘n ander vraag. (25) "Simon, hoe dink jy: Van wie vorder die konings van die wêreld tol of belastings in? Van hulle seuns of van ander mense?" Die antwoord binne die denke van destyds is baie duidelik. Konings belas mos nie hulle eie familie nie. Koningseuns is vrygestel van belasting. Dit geld ook van die groot hemelse Koning. Jesus se insinuasie is duidelik : As Hy nie tempelbelasting betaal nie, is dit nie uit suinigheid, slordigheid of gebrek aan belangstelling nie. Hy, Jesus is die Seun van God, Hy as Prins word tog nie aangeslaan vir die onderhoud van sy eie Vader se paleis nie! Hy is vry van tempelbelasting en skuld niks! 

Tog besluit Jesus om wel vrywilliglik die voorgeskrewe tempelbelasting vir Homself en Petrus te betaal. Sommer so uit ‘n vis** se bek. Die eerste die beste vis. Geen groot issue nie! Hy doen dit nie omdat Hy daartoe verplig is nie, maar om nie onnodig aanstoot te gee nie! Jesus is vry om dit nie te betaal nie, maar betaal dit vrywillig! Jesus doen dit sodat daar nie misverstand sou wees nie. As Hy nie die belasting sou betaal nie, sou mense dink dat Hy die tempel of die offerdiens minag. Jesus wil nie ‘n onnodige struikelblok daar stel wat dit vir mense moeiliker sal maak om sy boodskap te glo en gered te word nie. Jesus betaal belasting al is Hy as Seun van God vry van hierdie verpligting. Dis ‘n pragtige demonstrasie van Christelike vryheid. Ek is vry van alle wette, maar maak myself vrywillig diensbaar aan God en my naaste.

Ek dien en gehoorsaam God nie om gered te word nie. Ek dien Hom omdat Hy my liefhet, my vryheid geskenk het en ek Hom wil dien. Ek kom kerk toe, ek bid, ek werk vir Hom vrywilliglik omdat Hy vir my alles reeds gegee het en ek wil dankie sê. Ek is vry, maar ek kies in vryheid om te dien. Ook om my medemens te dien tot hulle voordeel. Dis soos Paulus sy vryheid verstaan het. “Vir die Jode het ek soos ‘n Jood geword om Jode te wen. Hoewel ek self nie meer onder die wet is nie, het ek my vir dié wat onder die wet staan, onder die wet gestel om hulle te wen." (1 Kor. 9:20) Hy besef hy is vry van die Joodse wette, maar hy onderwerp hom daaraan in soverre dit nodig is om die Jode na Christus te lei. Hy doen dus nie dinge wat die Jode onnodig aanstoot sal gee nie. Kom ons dink ons in aan die situasie van ‘n vroue sendeling in ‘n Moslem land. As Christen is sy vry om nie ‘n Hijab (haarbedekking) te dra nie, maar ter wille daarvan om nie ‘n aanstoot vir die mense onder wie sy werk te wees nie, sal sy dit vrywilliglik dra. Juis om die evangelie te bevorder. Dis presies wat Jesus doen met die tempelbelasting – uit liefde vir ander mense en sensitiwiteit vir hulle gevoelens gee Hy op hierdie punt sy vryheid prys en betaal! Laat ons veral hierdie beginsel onthou as dit kom by omstrede sake soos die gebruik van alkohol en tabak, kleredrag en grimering, ontspanning en vermaak... Ja, as Christen is ek vry, maar is my keuses in die beste belang van ander mense? Veroorsaak my keuses nie dalk ‘n struikelblok in die weg van die evangelie nie?

Deur geloof in Jesus is ons vrygemaak van ons skuld, vry van die dwang van die wet, vry van die angs vir dood en hel. Hierdie vryheid is nie ‘n selfsugtige vryheid, wat ek net tot my selfsugtige voordeel gebruik nie. Nee juis deur geloof in Christus is ons verlos en vry tot ‘n vrywillige diensbaarheid in ‘n lewe van liefde! 

Kortom : ons is vry sodat ons in vreugde (sonder vrees) en uit dankbaarheid God en ons naaste kan dien en liefhê. 

Die Christen is iemand wat nie in en vir homself leef nie, maar in Christus en in sy naaste. In Christus deur die geloof, in die naaste deur die liefde! ‘n Pragtige evangeliese balans!

*Volgens van Bruggen sou die vraag ook kon vertaal word met ‘n stellig. “Julle leraar betaal die didrachma nie!” Petrus se “Ja’ bevestig dan dat Jesus nie die tempelbelasting betaal het nie. 

**Net terloops. Wat is nou die betekenis van die geldstuk in die vis se bek? Die opvallende en besondere is nie dat ‘n vis ‘n geldstuk in die bek kan hê nie. (dit sou kon gebeur) Die opvallende is dat Jesus die mag het om so ‘n opdrag te gee en te kan weet dat die eerste vis wat gevang sou word so ‘n geldstuk in sy mond sou hê. Hierdeur bewys Hy dat Hy werklik die Prins is in die Vaderhuis, werklik die Seun van God, want dis net Goddelike Almag en Alwetenheid wat dit kan vermag.


Vrydag, 10 Maart 2017

GOD SELF

- BELOOF, BEVESTIG EN BEWERK ONS VERLOSSING!



Ons het gesien hoe God met Abram besig is op sy geloofspad in Genesis 15. Hy het sy beloftes aan die wankelende Abram herbevestig. Boonop het Hy toe vir Abram op ‘n nagtelike uitstappie gevat – “Kyk na die sterre! Kan jy hulle tel? Abram, dit wat jy nie kan doen nie, kan ek doen. Dit wat vir jou onmoontlik is , is vir my moontlik.” (Kliek op STERRE) En Abram glo. Maar daar is nog steeds huiwering by hom. “En hy sê: Here HERE, waaraan sal ek weet dat ek dit in besit sal neem?” (8) Hy soek nog meer vastigheid en versterking. Hierdie versoek is nie ‘n teken van ongeloof, maar ‘n bewys van geloof wat van sy eie swakheid bewus is. God verag nie ‘n geringe en swakke geloof nie. (Die aangrypendste voorbeeld in die Nuwe Testament is die pa wat na Jesus toe kom in Markus 9 – “Ek glo Here, kom my ongeloof te hulp!”)



VERBOND


Om Abram se geloof te versterk sluit God ‘n verbond (kontrak) met hom. God bevestig sy beloftes op ‘n formele kontraktuele manier. Hy hoef dit nie te doen nie, sy beloftes moet mos genoeg wees, maar Hy kies om dit so te doen. 

“En ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar 'n rokende oond en vurige fakkel tussen dié stukke vleis deur. Op dié dag het die HERE met Abram 'n verbond gesluit...” (17,18)

GOD TREE EENSYDIG OP!

Oor die presiese betekenis van al die besonderhede van hierdie verbondsluitingseremonie is daar nie eenstemmigheid nie.* Dis net interessant om te onthou dat mens in Hebreeus ‘n “verbond sny” Die verdeling van die diere – as ‘n oordeelsteken maak dus baie sin. Wat wel opvallend waar en vol betekenis is, is dat God eensydig** optree. Hy gaan alleen tussen die verdeelde diere deur in ‘n Goddelike verskyning. (Normaalweg sou mens verwag dat beide partye in die verbond dit sou doen) Die rokende oond en fakkel herinner sterk aan die wolk en vuurkolom tydens die Uittog uit Egipte en mag dalk ‘n profetiese boodskap van beskerming inhou ten opsigte van die latere geskiedenis van Israel. Nietemin, die klem val op God se inisiatief, God se ingrype, God se belofte en God se versekering terwyl Abram in ‘n passiewe toestand van vrees en angs is. (12) “En toe die son wou ondergaan, val daar 'n diepe slaap op Abram, en kyk, skrik en groot duisternis het hom oorval.” (Dis miskien iets soos daai drome waarin jy voel of jy van als bewus is, jy word bang, jy wil iets doen, maar jy is magteloos… )

Abram is buite aksie, dis God wat die aksie uitvoer. 

En dis ‘n genade aksie! ‘n Heerlike troos! God staan nie simpatiekloos en kyk eenkant toe hoe ons in die geloofslewe spartel en verdrink nie. Hy gryp in… Hy neem als op Hom. So wek HY geloof en ondersteun HY ons geloof. Hier in vers 18 word die verbond met Abram die eerste keer by name genoem. (die teken van die verbond, die besnydenis word eers in hfst. 17 gegee) En terloops, die hele res van die Bybel gaan oor die magtige verhaal van hoe God getrou bly aan sy verbond. Tot in Openbaring kom dit weer ter sprake!

Aangrypend heerlike drama. Die almagtige Skeppergod daal neer na die nietige mens en maak beloftes aan hom, maar dis nie al nie Hy sluit ‘n verbond met hom om die beloftes te bevestig. God kom na ons in Woord en sakrament. God verbind Homself deur sigbare tekens. Ook aan ons. Doop en nagmaal. Dis die groot saak om raak te hoor in die prediking en raak te sien in die sakrament. God speel die hoofrol. God tree op. God belowe. God bevestig sy beloftes. Ons troos lê in dit wat HY doen en wat HY belowe. In die doop wat die uiterlike teken is van die verbond gaan dit dus nie in die eerste plek wat ons belowe nie. Dit gaan oor God se beloftes, spesifiek God se beloftes wat waar geword het in Jesus. Dink tog maar mooi, watter troos bied ons beloftetjies tog… verbreek ons hulle nie dikwels maar vinniger as wat ons hulle gemaak het nie? 

DOOP

Net terloops. ‘n Streng subjektiwistiese siening van die doop, waar alle klem op my belydenis en my besluit val bied maar min troos in tye van storms en vertwyfel. Die feit dat ons (onder andere) vanuit die Abramsverbond aflei dat kindertjies ook hierdie teken mag ontvang (sommer om nou in ‘n polemiek betrokke te raak) bevestig net hierdie sterk klem op die eensydige kant van God se beloftes wat hier in Genesis 15 so dramaties geïllustreer word. Natuurlik kan klein kindertjies nog nie glo nie, natuurlik kan hulle nog nie tot bekering kom nie. Maar sou dit God verhoed om reeds sy beloftes aan hulle te bevestig? Onthou weer, Abram het geslaap toe God opgetree het... Abram ontvang wel die teken van die verbond nadat hy geglo het in Genesis 17, maar toe sy seun Isak gebore word ontvang hy die teken al op agt dae. Isak sou wel iewers later tot geloof gekom het, want volgens Hebreërs 11 was Isak ook ‘n gelowige.

EVANGELIE

Die groot saak is - Ons hoor reeds die evangelie hier in Genesis 15! God tree eensydig op, Hy gaan alleen tussen die stukke deur, Hy neem die inisiatief by die verbondsluiting. Dis mos presies wat by die kruis van Jesus gebeur het. God het mens geword in Jesus. Hyself vat die volle straf vir ons sonde. By die kruis het God alleen opgetree. Die mens het nie gehelp nie. Deur Jesus se offer het God gekom en ons met Homself versoen. Hy het dit volledig gedoen. Die mens het nie op Golgota enige bydra gelewer nie, die verlossing is genoegsaam en volkome deur God self bewerk in Jesus Christus.

REAKSIE : DANKBAARHEID!

Ons kan niks anders wees as dankbaar nie. Daar bly vir ons niks anders oor om te doen as dankbaarheid nie. Ons bewys ons dankbaarheid deur geloof en bekering. Geloof en bekering is die sigbare bewys van dankbaarheid. Wie nie glo nie en nie bekeer nie, is gruwelik ondankbaar en verwerp God se genade en vertrap die verbond… Juis ook en veral op gedoopte verbondskinders rus die verpligting om te reageer met geloof en bekering.

Net ‘n laaste vraag. In die lig van wat God gedoen het, sy eensydige verbond, sy genade, sy werk deur Jesus aan die kruis… Hoe kan ons onaangeraak bly, hoe kan ons ongelowig bly, hoe kan ons onbekeerd in sonde voortgaan, hoe durf ons die Woord minag…? Dis waansinnig dwaas om God se liefdevolle toenadering te verwerp en inderdaad sal so ‘n verwerping lei tot ‘n ewige waansin van selfverwyt in die hel…


Besondere wolkformasie bo die Omatako's (foto : ds. Hendrik van Zyl)

*Sommige verklaarders maak baie van die ooreenkomstige gebeure in Jeremia 34:18-20 waar die straf weens die verbreking van die verbond voorop staan, terwyl ander meen daar is nie ‘n direkte ooreenkoms nie.

**Dumbrell, Covenant and creation,p49 en ook Woord teen die Lig II/3 p160,162