BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 27 April 2014

AFRIKANER BYGELOOF

-  wanpersepsies, mistastings, onkunde en naïwiteit met vernietigende gevolge...

Daar is ‘n tipe “volksgeloof” wat lewend onder Afrikaners is, maar wat baie ver verwyderd is van Bybelse geloof. (Natuurlik kom hierdie en ander mistastings onder ander groepe ook voor, maar ek het veral met Afrikaners te make... en ekself is mos ook een...) Hierdie bygeloof en blindheid is ‘n ernstige saak, want dit maak dat die behoefte aan ‘n Verlosser moeilik besef word. Die EVANGELIE bly dikwels versluier en word selde raak gehoor.



Kyk saam met my na ‘n paar voorbeelde van Afrikaner bygeloof en populêre opvattings (sommige het in die huidige tyd dalk effens gekwyn en ander het net nuwe baadjies aangetrek en vertoon hedendaagse variasies) :



# “Ek is ‘n Christen, want ek het teen die goddelose Kommuniste en terroriste op die grens geveg.” (dis ‘n bygeloof van veral die vorige geslag.) Die Afrikanersaak is dikwels outomaties en naatloos gelykgestel aan die Koninkryk van God... Die Woord leer ons egter dat slegs diegene wat aan Jesus behoort, deel is van God se volk. Hierdie volk het niks te make met etnisiteit of politieke strukture nie.

# “As ek as kind gedoop is, is my pad hemel toe mos geteer.” ‘n Al groter groep glo nou ‘n variasie van hierdie leuen, naamlik : “As ek iewers weer gedoop is, is ek ‘n ware Christen, ongeag in watter morele gemors my lewe verkeer!” Die tweede dwaling is net so erg as die eerste.

# “‘n Christelike begrafnis, sal al my sondes van die verlede uitwis en my ‘n kind van God maak. Die dominee het sulke mooi dinge op X se roudiens gesê, hy kan net op een plek wees...” Dit maak nie saak of iemand nooit enige tekens van ware geloof en bekering getoon het nie, dit maak nie saak as kerkbywoning en sakramentsgebruik heeltemal verontagsaam is nie, solank daar net ‘n roudiens of begrafnis vanuit ‘n kerk kan plaasvind, waar almal die versekering gegee word dat X nou veilig “op ‘n beter plek is...” (en ja, sulke people’s pleasers dominees en pastore, wat wil saamspeel is altyd te vinde.)

# “Ek is ‘n ingeskrewe lidmaat van die ... kerk en dus is my saak met God reg. My oupa was immers ‘n medestigter van hierdie gemeente, my ouma se neef was jare lank ‘n sendeling in Malawi...” Hierdie kerklikheidsbygeloof is nou vervang met ‘n nuwe onkerklike een : “My saak is reg, want Sondae oggende kyk ons vir Andries Enslin op TV!” Ek het natuurlik niks teen Andries nie, maar dis opvallend dat soveel kerklos mense wat dikwels in goddeloosheid en ongehoorsaamheid lewe, heel tevrede is met hulleself omdat hulle na Andries luister... Dis immers ‘n baie gerieflike tipe Christenskap. Die opperste vorm van gemakstoel dissipelskap. Ek hoef nie eens aan te trek en my motor uit die garage te trek nie... Ek hoef geen verantwoordelikheid vir die liggaam van Christus te neem nie, ek hoef my nie te steur aan die verbreking van my lidmaatsbeloftes voor God nie...

# “Dit staan tog immers geskrywe... in die HUISGENOOT...” Die HUISGENOOT is die ware bron vir die bepaling van baie Afrikaners se norme en waardes, nie meer die Bybel nie. Dit klink dalk vir sommige vergesog, maar luister maar... Vandat hierdie verderflike skindertydskrif euwels soos saambly en homoseksuele gedrag begin goedpraat het – deur hulle misplaaste heldeverering, is hierdie sondes nie meer ‘n taboe in “Christen Afrikanergeledere” nie.

# “‘n Goeie dominee, is ‘n lekker dominee en ‘n lekker dominee is een wat als saam doen, van saam vloek tot saam dans!” ‘n Lekker dominee sal dit ook nooit waag om enige sonde by die naam te noem nie, want die lekker dominee se hooftaak is om almal gelukkig te hou en so die kerk se bankrekening te probeer stabiliseer. “O, ja, die lekker dominee moet verkieslik ook nie langer as tien minute preek nie, want ek moet gou by die huis kom, want die Sondag is daar gestel om my siel te versadig met RAPPORT se voedsame vullis!” En as ‘n dominee nou regtig “upmarket” wil wees, dan vertel hy die mense daar is nie iets soos ‘n oordeel en hel nie...

# "Byna al ons helde is sulke pragtige Christene!" Die huidig geestelik arme Afrikaner raak naïef opgewonde oor elke celebrity (rugbyspeler, sanger, filmster, skoonheidskoningin...) wat hulle Christenskap in die media verklaar, op een of ander tydskrif se voorblad pronk en daarna voortgaan om soos heidene te leef. Hierdie celebrities se Christenskap mag nooit bevraagteken word nie, al verskyn hulle ook halfnaak op daai voorblaaie... (kliek op CELEBRITIES)

# Die een (soms seker die enigste) Bybelteks wat alle Afrikaners ken is die een wat sê : “Moenie oordeel nie.” Die verkeerde interpretasie van hierdie (uit konteks) aangehaalde teks beteken dat geen geestelike gebruik of morele gewoonte bevraagteken word en dat geen tugwaardige sonde aangespreek mag word nie. Die kerk het dus in normlose chaos verval en elkeen maak soos hy wil. (kliek op die DUIWEL SE BYBEL)

# Die Afrikaner is allerweë in die verlede beskou as baie tradisievaste mense. Dit was miskien so, maar dis beslis nie meer die geval nie. Die “tradisie” van die huwelik, inderdaad ‘n Goddelike instelling is vinnig besig om uit te sterf. “Ons het nie papiere nie, maar is voor God getroud,” is die flou verskoning vir ‘n lewe van seksuele losbandigheid. (kliek op MAAGD VOOR KANSEL)

# Daar is een saak wat die Afrikaner se toewyding, opoffering en blinde lojaliteit vra en wat sy identiteit definieer : RUGBY. Dis nie ‘n grap om dit die Afrikaner se werklike godsdiens te noem nie, dis die naakte werklikheid! Vir hierdie spel sal die Afrikaner sy tyd, geld en siel prysgee. Dis waar sy ware skat is en dis waar sy hart is! Gaan toets dit! Waaroor raak ons mense opgewonde? Rugby of evangelie? Waarvan dra hulle kennis? Meestal van rugby. Bybelkennis het amper heeltemal verdwyn ...

# Skriflesing en gebed by openbare geleenthede is die Afrikaner se aller sterkpunt en die openbare “badge” van toewyding. Hoor hier, daar is bykans niks onder die son wat nie met hierdie ritueel afgeskop word nie. Van die vetveeskou waar daar gesuip word tot die konsert waar daar met God gespot word. En toe ons nog in beheer van die “army” was is die Skrif aangehoor op dieselfde paradegronde waar daar blou were gevloek is... Misbruik van God se heilige Naam in ‘n opperste vorm!  Ja, laat ons na die Woord luister, orals en altyd, maar kom ons gehoorsaam dit en raak ontslae van die afgode in ons volksgeledere!

EN TOG IS DAAR HOOP...

‘n Mens wil amper soos die dissipels uitroep : "Wie kan dan gered word?" (Dit was nadat Jesus vir hulle vertel het hoe moeilik dit is vir ‘n ryk man om gered te word.) Ja, wie kyk na ons samelewing kan maklik begin wanhoop, maar tog bly Jesus se heerlike versekering van krag: "Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik." (Matteus 19:25,26) Inderdaad red God nog steeds Afrikaners uit genade en bewaar Hy ook sy kinders tot die einde toe!


Afrikaners. Nie die stomme beeste nie, maar die misleide volksgenote...!

Donderdag 24 April 2014

GOEIE NUUS OP ‘N SLEGTE DAG!

- die evangelie van ons redding vereis onmiddellike aanvaarding.


Verlede naweek het ons weer die basiese feite van Jesus se sterwe en opstanding in herinnering geroep. Hierdie groep feite word deur Paulus, evangelie, GOEIE NUUS genoem.

“Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan. Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom. Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte;Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.” ( 1 Korintiërs 15:1-4)

Die woord "evangelie" het natuurlik nie uit die lug geval nie. Dis ‘n bestaande woord wat nou deur Paulus met ‘n nuwe ryk inhoud gevul is. Kom ons kyk vlugting na die agtergrond van term evangelie :

In die Hellenistiese (Griekse) wêreld dui dit op belangrike nuus van die keiser en sy edikte - dis “euangellion” genoem, want dit het vrede en voorspoed ingehou vir die hele gemeenskap. 

In die Griekse vertaling van die Ou Testament (Septuagint/LXX) is hierdie woord gebruik vir die proklamasie van die blye eindtyd nuus van verlossing soos ons dit aantref in Jesaja 52:7.* (Vgl. Romeine 10:15) Die inhoud van die goeie nuus aan Israel was : “Sion, jou God is koning!” 

In alle waarskynlikheid het Jesus self hierdie Ou Testamentiese gebruik van die woord in die Christelike woordeskat ingebring soos byvoorbeeld in Matteus 11:5 waar ons lees : “aan armes word die evangelie verkondig” 

GOEIE NUUS OOR ONS REDDING

Paulus laat ons in geen onsekerheid wat die evangelie beteken nie. Die evangelie is die goeie nuus oor ons verlossing/redding. Dis soos Efesiërs 1:13 dit noem. “Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het.” Die verlossing is bewerk deur Jesus se kruisdood, begrafnis en opstanding. (soos reeds gesien in 1 Korintiërs 15) Weereens, die evangelie is nie als wat in die Bybel staan nie, maar spesifiek die goeie nuus, afkomstig van God wat handel oor sy Seun, Jesus en wat Hy gedoen het. 

Reg in sy inleiding van die brief aan die Romeine stel Paulus dit al baie duidelik :

“Van Paulus, ‘n dienaar van Christus Jesus, geroep om apostel te wees, afgesonder vir die evangelie van God. Hierdie evangelie het Hy vooruit deur sy profete in die Heilige Skrif aangekondig, en dit handel oor sy Seun. As mens is Hy uit die geslag van Dawid gebore; op grond van sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here.” (Romeine 1:1-4)

Dis belangrik dat ons sal raaksien dat die evangelie nie bestaan uit ‘n klomp opdragte nie, maar uit ‘n paar kort duidelike feite. Die evangelie sê dus nie vir ons – “doen dit en doen dat” nie, maar dit is gedoen! Dis klaar, dis afgehandel, dis voltooi... Die evangelie gaan oor Jesus en wat Hy gedoen het! Die evangelie is dus nie ‘n selfhelpplan of ‘n resep wat ek moet aanmaak en wat dalk kan misluk nie. Nee, die evangelie is waarlik goeie nuus, ongemengde suiwer goeie nuus, daar is geen vangplek of diskwalifiserende kleinskrif nie... Kom ek probeer dit verduidelik met ‘n praktiese voorbeeld. 

WARM SON, VROT VRUGTE, UITERSTE ELLENDE...

Gestel jy het verval in absolute armoede, jy het jou werk verloor, jou huis verloor... Jy bly nou onder ‘n paar sinkplate en verkoop derdeklas afval vrugte en groente langs die pad. Jou produkte lok meer vlieë as kopers... Toe op ‘n baie slegte dag, terwyl jy in depressie en wanhoop langs die pad in die son sit en warm kry, stop daar ‘n blink motor. Dis die prokureur van die dorp. Hy klim uit met ‘n dokument in sy hand. Hy vra wie jy is en nadat hy seker gemaak het, sê hy vir jou : “Meneer, ek het vir jou baie goeie nuus! Jy was seker nie bewus daarvan nie, maar jy het ‘n verlangse familielid gehad daar in die Boland. Hy het nou te sterwe gekom en volgens sy testament is jy die enigste erfgenaam van sy wynlandgoed en al sy ander besittings. Jy moet net die dokumente in my kantoor kom teken en dan reëlings tref om dit in ontvangs te neem. Jou vliegtuigkaartjie en alle onkostes word deur die boedel gedra... Kyk hier is die afskrif van die testament...”

Goeie nuus op ‘n slegte dag! Dis presies wat die evangelie van Jesus behels, goeie nuus op ‘n slegte dag. Ja, ons omstandighede op geestelike gebied is sleg. Ons is geestelik bankrot, oneindig diep in die skuld by God, diep verdorwe, slawe van sonde, op pad na ‘n ewige straf. Maar nou kom die evangelie. Jesus het deur sy kruisdood, ons straf gevat en ons skuld uitgewis. Meer nog deur sy soendood het ons erfgename geword van God se onwankelbare koninkryk!

Die evangelie is waarlik goeie nuus en tog is dit moontlik om dit af te lag, te wantrou of  nie te glo nie. Dis eintlik ondenkbaar, maar dit gebeur wel. Die gevolg is dat die sondaar dan in sy ellende bly en uiteindelik velore sal gaan. Ja, ten spyte van die goeie nuus, verkies baie mense nog steeds om hel toe te gaan...Om terug te keer na die arm man by die vrugtestalletjie. As jy die prokureur wantrou en nie reageer om die erfenis in ontvangs te neem nie, dan gaan jy in jou armoede bly en in jou ellende krepeer en dit sal net jou eie skuld wees. 

Wat maak die man langs die pad? Wel, as hy die goeie nuus glo, dink ek hy los die stalletjie net so (hy los sy ou sukkelbestaan letterlik agter hom), klim dadelik saam met die prokureur in die kar en gaan neem sy erfenis met blydskap en dankbaarheid in besit! Hy glo en die bewys dat hy glo sien mens in sy reaksie! (as hy nie glo nie, bly hy net so daar in die son sit...)

Ja, die evangelie is goeie nuus en ons moet met geloof en bekering daarop reageer. Dis hoe ons deel word van God se volk. (sien weereens Efesiërs 1:13) Glo jy die goeie nuus van jou bevryding of staan jy nog soos ‘n slaaf van die duiwel vrot vrugte in die son en verkoop? Los tog die verskonings en teenargumente soos : "Ek voel nie nou reg nie, ek wil nog eers dit of dat afhandel, ek wonder darem of dit vir my bedoel is, want ek is so sleg..." Pasop, uitstel mag dalk veroorsaak dat jy die Goeie Nuus kan laat verbygaan...

Waarom wag en wonder, hierdie goeie nuus verdien onmiddellike aanvaarding!




*Jesaja 52:7 in die Septuagint lees : ως ωρα επι των ορεων ως ποδες ευαγγελιζομενου ακοην ειρηνης ως ευαγγελιζομενος αγαθα οτι ακουστην ποιησω την σωτηριαν σου λεγων σιων βασιλευσει σου ο θεος

Saterdag 19 April 2014

EK GLO IN DIE OPSTANDING...

- en dit het heerlike implikasies wat ‘n groot verskil maak.

Die feit van God se verbysterende groot krag is oorweldigend duidelik. Dis duidelik uit die skepping... dink maar net aan die geweldige krag van vuur, water en wind of iets soos elektrisiteit en kernkrag... Dink aan ons son en die ontsagwekkende hoeveelheid energie wat elke sekonde daar opgewek word...dink aan die ontelbare miljarde brandende sterre in die heelal... Vanoggend herdenk ons egter die belangrikste en mees verreikende demonstrasie van God se krag – die historiese liggaamlike opwekking van Jesus uit die dood! Dis iets op ‘n heel ander vlak, onbegryplik heerlik! Ja, ons as mense kan iets verstaan van die krag van vuur, water, wind en elektrisiteit. Ons kan dit beheer en gebruik. Selfs kernkrag kan ons tot ons voordeel inspan. Vir byna alles het ons as mense ‘n plan en ‘n oplossing. Maar teenoor ‘n lyk staan ons magteloos en radeloos. God se krag ken egter nie perke nie. Die leë graf van Jesus getuig op besondere wyse daarvan. Dink aan die geweldige krag van God wat Jesus se dooie mishandelde liggaam weer opgewek het tot lewe en tot ewige heerlikheid aan die regterhand van God. Nog wonderliker, dit raak ons ook prakties op baie maniere!

Donderdag 17 April 2014

NA GOEIE VRYDAG...

- kan ek nie meer vir myself leef nie!


Paulus het ‘n ontdekking gemaak wat ‘n ontsaglik radikale ommekeer in sy denke, motivering en loopbaan teweeg sou bring! Hy is gekonfronteer met die liefde van Christus, spesifiek die Goeie Vrydagliefde en hierdie insig het hom vir altyd verander. Hy skryf daaroor in 2 Korintiers 5:14,15 soos volg :

“Die liefde van Christus* dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het. En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.”

Om nie meer vir myself te leef nie. Sjoe! Dis ’n mondvol. Dis ’n uiters radikale stelling en besluit. Dit skreeu teen ons verstaan van menswees en ons innerlike oorlewingsdrang. Ons is mos van geboorte af ingestel om vir myself te leef..., vir my gerief, my belange, my besittings, my ideale. Selfsug en selfbelang is die natuurlike loopbaan van elke sondaarmens sedert Adam. Trouens, dis eintlik die essensie van sonde, dat ek mý begeertes en behoeftes verhef tot die absolute norm en daarom God en medemens ignoreer en vertrap. Wie die evangelie verstaan en in dankbaarheid daarop reageer, kan egter nie meer vir homself leef nie.

DIE ENIGSTE OPSIE

As ons die evangelie van die kruis en opstanding glo en aanvaar kan ons nie meer vir onsself leef nie, nee, ons moet leef vir Hom wat vir ons gesterf het. Dis die groot waarheid wat die apostel Paulus besef het en met ons deel. Hoe Paulus tot hierdie radikale konklusie gekom? Hy het insig gekry in die liefde van Christus. Hy het dit begryp en is daardeur aangegryp! Die liefde wat Christus deur sy kruisdood bewys het. Dit kom daarop neer - Hy het in my plek gesterf onder die toorn van God. Hy het my sonde op Homself gevat, Hy het my doodstraf ondergaan. Deur sy liefdesoffer het hy my weggeraap voor die bek van die gapende helse afgrond. In God se oë is dit asof ekself gesterf het en vir my sonde gestraf is. Die straf oor my is dus afgehandel. Dis die rede hoekom ek nou kan leef voor God. Die kruisdood van Jesus is al rede hoekom God se oordeel MY nie vermorsel nie, maar ek nog voor sy aangesig kan bestaan. Hy het gesterf sodat ek kan leef. Dieselfde gebeurtenis, die kruis wat Jesus afgetrek het na die dieptes van die dood, het my opgehys na die lewe. Ek het my lewe dus te danke aan Christus se sterwe. En wat bly nou vir my oor? Net een redelike opsie. Net een keuse wat ek in integriteit kan maak. En dis om nie meer vir myself te leef nie, maar vir Hom wat vir my gesterf het en uit die dood opgewek is.

JESUS HET DIE VOLLE BLAAM (EN GEPAARDGAANDE STRAF) VIR MY SONDE GEVAT, VRYWILLIG! DIS WARE LIEFDE!

Wie hierdie liefde verstaan, neem 'n besluit om nie meer vir homself te leef nie, maar vir Christus. Dis ’n vrywillige besluit in die lig van die evangelie, dis ’n daaglikse besluit...

Om te sterf aan jouself en te lewe vir Christus beteken o.a ten minste die volgende vier dinge (alhoewel dit nie waterdig geskei kan word nie):

~ ’n onverbiddelike keuse teen alle sonde en sondige begeertes. Dit beteken ’n beginsel besluit tot ’n verbete stryd teen alle sonde, selfs ten bloede toe. Sonde kan nie meer my vriend wees nie, want MY sonde het dan juis Jesus se dood gekos. Geen moeite en geen opoffering is te groot in my stryd teen sonde nie. As jou oog jou laat struikel, as jou hand.....raak ontslae daarvan. As jou geliefkoosde TV program, as jou beste vriend, as jou materiële welvaart, as jou druk lewensstyl jou laat struikel....raak ontslae daarvan. Roei uit wat jou wil wegrokkel van Christus af!

~ leef die lewe van Christus. Kies teen jouself en jou opinies. Volg SY voetspore na, leef volgens SY voorbeeld. - juis wanneer jy verontreg en mishandel word! “Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ‘n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg.” (1 Petrus 2:21) Om vir Jesus te leef is nie een of ander emosionele “high” nie, maar ‘n lewe van gehoorsaamheid aan God se wil. Mense wat die liefde van Jesus ontdek het, maak erns met God se wil. “Here, hoe wil U hê moet ek leef.” Jesus sê mos : “As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer.” (Johannes 14:15)

~ ’n gehoorsaamheid aan my roeping as dienskneggetuie. ’n Dienskneg behoort nie meer aan homself nie, maar aan sy Heer. My tyd, kragte, eiendom, talente word nou nie meer aangewend vir my saak nie maar vir my Heer se saak. Die insig oor Jesus se liefde het Paulus vasberade gemaak om sy roepingswerk te voltooi, al sou dit sy lewe kon kos... “Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.” (Handelinge 20:24) As ek self tot hierdie oortuiging gekom het van die betekenis van Jesus se dood, wil ek dit mos met ander deel! As kind van God het ek mos 'n roeping, al is ek nie noodwending 'n reisiger nie!

~ ’n lewe van diens aan die liggaam van Christus, naamlik my broers en susters in die geloof. Om te sterf aan myself en te leef vir Christus beteken dat ek radikaal vir sy liggaam (broers en susters) sal leef. “Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was...” (Filippense 2:3-5.) Die standaard van leef vir die ander se behoeftes word in vers 5 gestel - dieselfd gesinindheid van selfprysgawe as wat in Jesus sigbaar was! Hierdie diens het geen grense nie- dit beteken dat ons mekaar se voete sal was - met ander woorde om dit wat selfs onaangenaam en vernederend is vir mekaar te doen, maar dit gaan ook verder, dit kan beteken dat ons selfs letterlik ons lewens vir mekaar moet aflê - dit sal ten minste behels dat ons nooit iemand van ons materieel sal laat ondergaan nie. (1 Johannes 3:16,17)

Om nie meer vir myself te lewe nie sal dus behels dat ek taamlik dikwels dinge moet doen waarvoor ek nie van nature lus voel nie of wat my iets gaan kos aan gewildheid, tyd, geld of gerief. Dis ’n lewe van militêre dissipline en ontbering (2 Timoteus 2:3), maar dis selfdissipline, en baie belangrik - dit word gedryf nie deur vrees en angs nie, maar deur die liefde, liefde vir Hom wat vir my uit liefde gesterf het.

Om nie meer vir myself te leef nie is nie ’n maklike pad nie. Dis daagliks ’n pad van keuses teen myself en teen natuurlike gevoelens en behoeftes. Maar dis beslis nie ’n uitsiglose doodloopstraat nie - dis ‘n poort na ‘n vol en vrugbare lewe op aarde en ’n ewige oorwinning hierna.** Dis inderdaad die enigste opsie in die lig van Jesus se sterwe ter wille van my!

REALISTIES?

Kom ons wees rou eerlik met onsself : Hierdie prysgawe van myself, hierdie besluit teen my ideale en belange klink na bisarre malligheid en is inderdaad onmoontlik, BEHALWE as ek ook tot die insig gekom het van wat Jesus se kruisliefde regtig beteken. Ek moet die skat van Goeie Vrydag vind! (Vers 14,15) Met ander woorde : om vir Jesus te leef maak net sin as ek eers die evangelie glo, nie as mooi teorie nie, maar as werklikheid. Nie van hoorsê nie, maar proefondervindelik! Anders gesê hoe meer ek die evangelie verstaan, die betekenis van die kruis en opstanding hoe meer sal vasbeslote raak om nie meer vir myself te leef nie, maar vir Hom wat... 

Die teenpool is net so waar : Selfgerigte lewens verraai een groot feit – nog nooit het hulle waarlik die liefde van Christus, spesifiek die Goeie Vrydagliefde aan die kruis besef en aanvaar nie...

Mag hierdie vir jou 'n besonder Goeie Vrydag wees...

* Die frase “die liefde van Christus” is hier ‘n subjektiewe genitief (Christus se liefde vir ons) en nie ‘n objektiewe genitief (ons liefde vir Christus) nie. Natuurlik lei die een tot die ander. Dat dit hier eerstens oor Christus se liefde vir ons gaan is duidelik uit die feit dat Paulus voortgaan om te beskryf wat Hy vir ons gedoen het – vir ons gesterwe het!

** Probeer gerus ‘n biografie lees van Adoniram Judson, die pioniersendeling in Burma wie se lewe ‘n aangrypende voorbeeld was van opoffering omdat die liefde van Christus hom gedryf het.

Donderdag 10 April 2014

VERKIESING 2014

na die verkiesing gaan Suid-Afrika steeds ‘n goddelose regering hê!

Dis nie nodig om ‘n profeet of politieke ontleder te wees nie – met sekerheid kan gesê word dat Suid-Afrika na die 2014 verkiesing nog steeds ‘n goddelose regering gaan hê... Die groot vraag is dus nie wie die land gaan regeer nie, maar hoe moet God se kinders binne ‘n goddelose staatsbestel  en onder ‘n heidense bewind optree?

Sondag 06 April 2014

SPONG SE ONBYBELSE SPRONG

- oor sonde en verlossing.

Die evangelie van Jesus Christus maak net sin binne die raamwerk van Sonde, Verlossing en Dankbaarheid. Dis natuurlik die kernsamevatting van die inhoud van die Heidelbergse Kategismus, een van die sogenaamde Drie Formuliere van Enigheid wat deur alle NG predikante onderteken is. Op sy beurt is hierdie inhoud weer geskoei op die inhoud van die Romeine brief, wat die omvattendste en mees sistematiese oorsig van die evangelieboodskap in die Nuwe Testament is. 

Na Paulus se inleidende opmerkings oor die inhoud van die evangelie en die triomfantelike beskrywing daarvan as die krag van God (1:1-4;16,)* gaan hy voort om die erns van God se toorn oor SONDE en die feit dat sowel Jood as nie-Jood onder die regverdige oordeel van God staan, te beskryf. In hoofstuk 3 vers 20 kom hy dan tot die volgende konklusie - “Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer ‘n mens wat sonde is.” Hierdie slegte nuus is egter ‘n noodsaaklike voorspel tot die verrassende aankondiging van God se VERLOSSING in die groot draaipunt van die Romeine brief in vers 21. “Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie...” Hierop volg dan nou ‘n diepte beskrywing van die regverdiging deur die geloof, gegrond op die soenverdienste van Jesus se offer aan die kruis. Die feit dat ons die verlossing slegs deur die geloof ontvang, onderstreep die feit dat redding alles, alles net genade is. Op grond van hierdie genade word die verloste mens dan nou opgeroep tot ‘n lewe van radikale DANKBAARHEID in die laaste deel van die brief. Paulus stel dit so : “En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” (12:1,2) Die kind van God se lewe van gebed, toewyding, gehoorsaamheid en diensbaarheid val als onder die noemer van evangeliese dankbaarheid vir die genadige verlossing in Jesus Christus.

Hierdie boodskap van Paulus (en die res van die NT) loop vandag deur onder die spervuur van valse leraars wat die Skrif sowel as ons Reformatoriese belydenisskrifte wil ondermyn. Een van hierdie valse profete wat feitlik alle kernwaarhede van die Christelike geloof van alle eeue verwerp is John Shelby Spong, ‘n afgetrede Amerikaanse biskop van die Episkopaalse Kerk te Newark. Hy glo nie in die bestaan van sonde nie en gevolglik ook nie in verlossing deur die plaasvervangende sterwe van Jesus aan die kruis nie!

Oor sonde en verlossing het Spong die volgende te spoeg : "Original sin is irrelevant to the life of our world -- and anybody that keeps talking about sin and rescue and redemption doesn’t understand what’s going on.

The primary Christian myth – the way we have told the Jesus story for most of the years of our life – is based on the perfection of Creation, including human beings, and their fall from perfection. They can’t rescue themselves and need a divine rescuer; the rescuer comes, pays the price, and restores them to their status before they were fallen. That’s the way our hymns talk and that’s where we developed what I call our fetish with the blood of Jesus and his cleansing power. Protestants like to bathe in it. Catholics like to drink it. It’s interesting the way we’ve made that fetish work.

But when you look at Darwinian principles, there never was a perfect creation, so [there] could not have been a fall. You don’t need to be rescued from a fall that never happened (not even metaphorically) and you can’t be restored to a status you never possessed.

We’ve got to get out of what I call the rescue/savior/redeemer mentality and begin to see life not as fallen, but incomplete. And then you develop a Christology that helps people to become more whole, more complete, more human, more authentic -- and that’s where I think we can make a difference in the world today."

Dit klink soms of hierdie valse Christus met sy humanistiese ideale selfs ook van kansels in ons eie land verkondig word!?

Dit het seker tyd geword dat elkeen wat die Here Jesus liefhet duidelik moet standpunt inneem teen sulke geloofsvernietigende dwalings... Wie die bestaan van sonde bevraagteken, het ook nie meer Jesus as Verlosser nodig nie en glo bloot in Jesus as ‘n moreel goeie Jood van die eerste eeu. Dit behels ‘n ontkenning van Jesus as die unieke Seun van God en kom neer op lastering van die ergste graad, ‘n vertrapping van sy bloed...

*Romeine 1:1-4 “Van Paulus, ‘n dienaar van Christus Jesus, geroep om apostel te wees, afgesonder vir die evangelie van God. Hierdie evangelie het Hy vooruit deur sy profete in die Heilige Skrif aangekondig, en dit handel oor sy Seun. As mens is Hy uit die geslag van Dawid gebore; op grond van sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here.”

Romeine 1:16 “Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood.”

Dinsdag 01 April 2014

SO SKAARS SOOS WORS IN ‘N HONDESTAL

- gevolge van menslike rebellie sigbaar in die verval van die huwelik.

‘n Maagd voor ‘n kansel (met betrekking tot beide bruid of bruidegom) het in ons dag so skaars geword soos wors in ‘n hondestal. (Die Oscar en Reeva sage het dit maar net weer onderstreep dat seksuele reinheid bykans glad nie meer bestaan onder die helde en rolmodelle van vandag nie.) Byna net so raar is gelukkige huwelike en heel gesinne. Egskeiding (selfs binne die kerk) is so algemeen dat dit skaars nog ‘n wenkbrou laat lig. Wat egter nog meer skokkend is, is dat die situasie ten opsigte van seksuele reinheid, huwelikstrou en gesinsgeluk onder sogenaamde belydende (of weergebore) Christene min verskil van die ongelowige wêreld daarbuite.