BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Resep vir sukses?. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Resep vir sukses?. Wys alle plasings

Donderdag 14 Januarie 2016

OFFER JOUSELF!

NIE ‘N LYSIE NIE, MAAR ‘N LEWENSRIGTING! 



[Die raad wat jy nie by jou “lifecoach” gaan hoor nie...]

Gelukkig lees ons nêrens in die Bybel dat ons ‘n lysie van nuwejaarsvoornemens moet opstel nie. Ons kry wel in die Skrif ‘n baie duidelike , maar radikale koersaanduiding vir die kind van God. Nie net vir die nuwe jaar nie, maar vir ons hele lewe. Dit kom neer op : OFFER JOUSELF!

Ons vind hierdie dringende opdrag in ROMEINE 12:1,2

"En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is."

Sjoe! Offer is nou nie juis ‘n term wat ons met ons lewensideale in verband bring nie.  "Offer jouself" is nie een van die temas van al hierdie motiveringsprekers en “lifecoaches” nie, maar dis die Bybelse ideaal en doelwit vir God se kinders. Om geoffer te word is nie juis ‘n lekker ding nie. Dink aan wat met ‘n offer dier gebeur – vasgebind op ’n altaar, keel afgesny en verbrand. Dis niks minder nie as ‘n volkome prysgawe van jouself...

VIR BEGENADIGDES

Radikaal, byna onwerklik. Amper absurd... Is dit regtig wat God van ons vra? Hoe moet ons dit verstaan? Vir die agtergrond van hierdie opdrag moet ons eers weer teruggaan na die eerste helfte van die Romeine brief wat eindig aan die einde van hoofstuk 11. Julle sal onthou hoe ons verlede keer besin het oor die doksologie in vers 33-36. (Kliek op DOKSOLOGIE) Paulus bars uit in verwondering en aanbidding voor God. Waarom? Hy word oorweldig deur die verbysterende, asemrowende, verstommende genade en wysheid van God wat hy beskryf het in die eerste deel van sy brief. Wat behels dit alles? God skenk vir ons in Jesus Christus volledige vryspraak uit genade, vrede met God, kindskap, ‘n ewige erfenis saam met Jesus. Hy gee verder die heerlike belofte van sy standhoudende liefde. (niks kan ons van hierdie liefde skei nie) Dis alles onverdiende guns en genade! Dis onbeskryflik en onbegryplik heerlik!

Die opdrag om jouself te offer maak net sin teen hierdie dramatiese agtergrondsfeit van die genade van God. Anders gesê, hierdie opdrag kom eksklusief net na mense wat God se genade reeds gesmaak het...en dus saam met Paulus wil uitjubel oor God se guns en goedheid! (Onthou hierdie dringende beroep geskied op grond van die groot ontferming van God.) In effek sê Paulus, omdat dit als waar is, is daar net een redelike reaksie, net een soort sinvolle godsdiens : GEE JOUSELF AS OFFER AAN GOD! Hier het ons die ideaal en ambisie van die begenadigdes!

HOE OFFER EK MYSELF?

Wat behels hierdie offer van jouself prakties? Dit gaan oor die beskikbaar stelling, eenkant sit en toewyding van jou hele menswees aan God. Letterlik staan die woord “liggaam” in die Griekse teks.* Toewyding is nie net ‘n geestelike saak nie, dit gaan oor konkreet prakties anders leef en anders doen. Paulus het eintlik reeds hierdie saak in Rom 6:13 aangeroer. “Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ‘n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil.”

In vers 2 word dit nou vir ons prakties verder ingevul wat dit beteken om jouself volkome aan God te offer of dan nou toe te wy. Dit word eers negatief en dan positief gestel.

Negatief. “moenie aan hierdie sondige wêreld gelykvormig word nie” Wees anders en doen anders! Breek met die gedragspatrone, die gewoontes, die leefstyl van die sondige sosiale en kulturele sisteem waarin julle julleself bevind. Die wêreld rondom ons het ‘n siening oor geld, oor mag , oor populariteit (in wees), oor sukses, oor seksualiteit, oor sekuriteit, oor vergelding... wat teen God se Woord en opdragte indruis. Die wêreld se siening is (en dit word in elke fliek wat jy kyk en byna elke liedjie wat jy luister gepropageer...) kry soveel geld as moontlik, probeer by almal in en gewild wees, jaag na sukses soos die glanstydskrifte vir ons voorskryf en die glansganse dit projekteer, leef losbandig met selfsugtige seksuele genot as hoogste ideaal, bou jou eie sekuriteit met geld, mag en invloed, kry almal terug wat jou leed aandoen en trap hulle in die grond in...

Ons wat genade ontvang het moet teen hierdie sienings en leefstyl kies. Ons moet daarmee breek. Dis ‘n baie ernstige saak, as ons kyk wat die apostel Johannes hieroor gesê het. “Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie Die wêreldse dinge -alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit - kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.” (1 Johannes 2:15-17) Die wêreld se sienings maak elke dag ‘n appèl op ons, dit nooi ons en roep ons om deel te wees, maar dis waar die offer van jouself inkom, breek daarmee, kies daarteen, dink en doen anders...

DIE WIL VAN GOD IS DIE NORM EN NIE DIE MODES EN OPINIES VAN DIE SAMELEWING NIE!

Positief. “laat God julle verander deur julle denke te vernuwe” Hier sien ons pragtig wat praktiese heiligmaking in ‘n Christen se lewe behels. Dis ‘n voortdurende proses van denkverandering. Ons doen mos soos ons dink, elke daad het sy oorsprong in 'n gedagte. Om anders as die wêreld te doen, moet ons leer om anders te dink... Ons breine moet herbedraad ("ge-rewire") word! Die ou sondige patrone moet afgeleer word en die nuwe Bybelse patroon aangeleer word!

Hier word nie ‘n eenmalige “second blessing” ** of krisiservaring voorgeskryf nie, maar God se kinders word eerder opgeroep tot ’n proses van konstante denkvernuwing en transformasie. Hierdie transformasie word in 2 Kor. 3:18b so beskryf... “...Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word." Dit gaan daaroor dat ons prakties in elke lewenssituasie en keuse ons sal onderwerp aan God se wil. Die wil van God en nie die modes of opinies van die wêreld nie, moet ons lewens reguleer. Die wil van God is nie ‘n geheim nie, ons hoef nie te wag vir ‘n stem of engel nie, dis wat God in sy Woord leer. Die kind van God onderwerp homself aan ‘n voortdurende leerproses om volmaak gehoorsaam te wees aan die Here. So ‘n kind van God het ‘n honger na die Woord, so ‘n kind van God het ‘n opregte begeerte om te verander en die Here te gehoorsaam, al kos dit wat... Ja, gehoorsaamheid aan God se wil en opdragte kan selfs fisies ons lewe kos hier op aarde.

Is jy ‘n begenadigde? Het jy besef dat jy ‘n rebel en verlore sondaar was, maar dat God jou heeltemal vergewe het en as sy kind aangeneem het? Dan is daar net een logiese reaksie van dankbaarheid... Juig oor die genade en gee jouself as ‘n lewende heilige offer aan God. Dis die verpligting waaronder ons as begenadigdes staan, maar dis veral ons vreugdevolle voorreg...***

Sterkte vir die offer in 2016!


*Moontlik beklemtoon hy dit omdat die Grieke die liggaam as minder belangrik beskou het en mense die gevolgtrekking gemaak het dat wat jy met jou liggaam doen, nie juis belangrik is nie. Die OAV lees as volg : ” Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.


** “It is not the beggarly notion of second blessing that the apostle propounds but that of constant renewal, of metamorphosis in the seat of consciousness.” John Murray se kommentaar op Romeine, p114

*** Dis ook die voorwaarde vir "sukses" in Koninkryksterme. Sien Johannes 12:24,25!



[Die graf van Martin Rautanen en drie van sy kinders. Hierdie Finse pioniersendeling in Owamboland het die konsep van "offer jouself"  verstaan en prakties uitgeleef! Hierdie radikale gehoorsaamheid het egter tot heerlike vrug en ewigheidsvreugde gelei...]

Dinsdag 01 Julie 2014

SPREEK LEWE

- die resep vir sukses?

MENS IN DIE MIDDELPUNT


Ek sit onlangs en luister na ‘n uitstekende motiveringspraatjie. Die gehoor van hoofsaaklik hoërskoolkinders hang aan die spreker se lippe... Hierdie man straal gesondheid, positiwiteit en ‘n lus vir die lewe die uit. Hy sê beslis ook goeie en waar dinge. Hy praat eerlik en uit eie ondervinding. Hy het die volle aandag van sy gehoor. (en hy geniet dit) Maar ek voel onrustig, die tekste wat hy aframmel is al die klassieke “bewysplekke” van die Word Faith Movement. Ons noem hulle sommer die “Spreek lewe” beweging... By verdere nadenke besef jy, die mens en sy behoeftes en prestasies is in die middelpunt... Iewers skort iets. Ek het dan niks van die kruis gehoor nie? Net gehoor, “Moenie worry oor sonde nie, doen net wat reg is!” Daarin lê ook ‘n element van waarheid in..., maar Paulus begin tog sy verkondiging van die evangelie by die aaklige werklikheid van die sonde. Was Paulus dan verkeerd? (Rom 1:18ev) 

Ek wil nie ‘n persoon aanval of onnodig snorbaarde trek nie, maar ek mag nie stilbly oor die kruisboodskap as die enigste ware Goeie Nuus nie! Ek mag ook nie maar net goedsmoeds stilbly oor die gevaarlike dwalings van ons dag nie. Wie valse lering hoor en daaroor swyg is medepligtig.

Elke boom word aan sy vrugte geken, maar elke boom het ook wortels (‘n agtergrond) wat heel dikwels baie ver terugstrek in die verlede. Daar is immers niks nuuts onder die son nie. Die wortels van die Word Faith Movement lê in ’n ou dwaling genaamd die Gnostiek. (Dit kom van die Griekse woord - gnosis = kennis) Volgens hierdie denkwyse kan ons alles regkry deur die regte kennis. Ons moet ten alle koste hierdie geheime kennis (resep) kry en daardeur bepaal ons ons eie toekoms. Hiervolgens werk die geestelike wêreld volgens ’n sekere stel wette/beginsels van kennis. As ek dit ken, kan ek my eie bestemming bepaal en beheer neem daaroor.

Ek het na die tyd met die Lewe Spreek profeet gaan praat en uitgevind dat sy wortels by Myles Munroe lê. By nadere ondersoek blyk dit - hierdie Munroe is “Myles” away from truth! Munroe verklaar openlik dat die Goeie Nuus nie oor Golgota gaan nie! Hy bots dus direk teen wat Paulus in 1 Korintiers 15:1-4 sê. Ek verstaan dus nou ook hoekom die erns van sonde en die kruisboodskap so verswyg is!

Kom ons kyk in die algemeen na ‘n paar kenmerke van die Word Faith Movement*:

1. Vals siening van Geloof. Geloof is by hierdie mense iets heel anders as in die Bybel. Geloof is ’n spirituele energie of krag wat ons op God rig (of die geestelike wette). Al wat ek nodig het is konsentrasie, ’n positiewe houding, meditasie of een of ander formule om die kragte van die natuur te beheer. Positive confession is dus baie belangrik. Volgens die Bybel is geloof egter om God se beloftes te glo byv. die belofte oor vergifnis! 

2. Sterk klem op genesing! Dis vir almal, jy moet net die regte resep kry! Siektes moet net aangespreek word, dan bly ek en my familie gesond! Natuurlik maak so ‘n benadering ‘n groot appèl op mense, want wie wil nou siek wees? Genesings bewys egter nie dat daardie krag wel noodwendig van God af kom nie. In alle heidengodsdienste kry mens dramatiese onverklaarbare genesings. Die klem in die Bybel val nie op genesing nie, maar op die verlossing van sonde! En op die ou end gaan alle Christene buitendien dood weens een of ander siekte... wat dan nou? Was daar ‘n fout met hulle geloof?

3. Elitisme. Elke ervaring lig die gnostisis tot ’n hoër vlak van kennis, hoër dus as sy mede Christene! Die indruk word gelaat : “Ons het iets meer.” Die evangelie is dus nie genoeg nie. Daar word gesoek na iets beter en dieper. Geloof in Jesus, liefde vir die heiliges en hoop op die erfenis soos ons dit in Kolossense 1 aantref is nie voldoende nie. Daarom kry mens ’n naarstigtelike gesoek na nuwe ervarings! Paulus spreek hierdie dinge baie duidelik aan in die Kolossense brief.

4. Klem op die individu. As kennis die sleutel is, het ek nie ander mense nodig nie, ook nie die plaaslike gemeente nie. (Ek kan my kerk op TV kyk by die huis) Daar’s nie meer ’n gevoel en Bybelse waardering vir die kerk nie! Die erediens in my gemeente is nie prioriteit nie, nee, ons reël sommer ons eie dinge in kerktyd! 

Die motiverings-Word-Faith-teacher is individueel-gesentreer, mens-gesentreer, maar alles behalwe God-gesentreerd!

5. Dit stel die mens en sy behoeftes eerste. Die Word Faith leraars verkondig dat ons nou die beste kan hê in hierdie lewe! Jy is bestem om hierdie geweldige suksesverhaal te wees! Dis glad nie die beeld wat ons in die Nuwe Testament kry nie. Vgl. Johannes 16:33; Romeine 8:18ev (hulle beweer ook valslik dat Jesus ryk was, maar sien Matteus 8:20) Die hele klem val op die self! Dit klink ook asof God die mens se dienaar is wat ons moet help om ons ideale te verwesentlik. God moet as’t ware agter jou aan hardloop om jou wense en ambisies waar te maak.. (Miskien wonder jy dan nou wat die WINS van Christenskap is. Kliek op WARE WINS)

In hierdie benadering staan God in diens van die mens se ideale!

6. Dit vergoddelik die mens. Die grens tussen God en mens word uitgewis as die mens se woorde skeppingsmag het. God is daarom nie meer die soewereine almagtige God nie. Die onderstaande gesprek tussen Munroe en die groot dwaalleraar Benny Hinn spreek vanself :

Myles Munroe, “Yes let me define prayer for you in this show. Prayer is man giving God permission or licence to interfere in earths affairs. In other words prayer is earthly licence for heavenly interference.” 

Benny Hinn, “That is incredible.”

Myles Munroe, “God could do nothing on earth. Nothing has God ever done on earth without a human giving him access.”

Benny Hinn, “So he is always looking for that somebody.”

Myles Munroe, “Always looking for a human to give him power and permission. In other words God has the power but you have got the permission. God has got the authority and the power but you have the licence. So even though God can do anything he can only do what you permit him to do.”

DIE MENS WIL GOD WEES!

Charles Capps sê : “Anything man can imagine or conceive in his heart he can perform.” 

Die Bybel leer dat God alleen almagtig is, dat God soewerein is en doen wat Hy wil! In sy groot genade betrek Hy ons en ons gebede, maar Hy bly altyd God! Hy kan doen wat Hy wil en Hy kan gebruik wie Hy wil! God het selfs heidense konings gebruik om sy wil uit te voer. Die mensgemaakte god van die Word Faith Movement is eintlik baie klein… Dis ‘n maaksel van die mens self, ontwerp om die mens se behoeftes te pas!

In hierdie leuen oor die goddelikheid van die mens is daar ’n duidelike ooreenkoms tussen Word Faith en die New Age filosofie wat leer dat ons moet kontak maak met die god in ons! Shirley MacLaine sê : I hold each yoga position for twenty seconds and internally chant : “I am God in light.” ( maak kontak met jou hoër self, innerlike lig, ens.)

EEN SAAK STAAN VOOROP IN HIERDIE VALSE LERING:

DIE MENS EN SY GERIEF

Dit gaan eintlik in alle valse strome en leringe om een saak nl. die mens se soeke na bonatuurlike metafisiese krag om die lewe vir homself so gerieflik moontlik te maak, om sy eie toekoms te bepaal, om met ander woorde God te probeer speel! Dis natuurlik die ou leuen van die Satan in die paradys, die suggestie dat die mens soos God kan word... Die mens se soeke na goddelike krag maak hom nou nog kwesbaar vir hierdie leuen. Dis waarom ‘n rou heiden na die sjamaan/toordokter gaan, maar dis ook hoekom post-moderne materialiste gaande is oor die Word Faith gebaseerde motiveringspraatjies! Dis die aantrekkingskrag van die New Age en okkultisme, swart en wit magie, hekse en Satanisme en die Word of Faith Movement (Die Spreek lewe beweging)... Daarteenoor, die krag wat die lewende God ons gee is ‘n eties-morele krag om geduldig in alle omstandighede te kan volhard (Kolossense 1:22) Om in alle omstandighede dankbaar en vergenoegd te wees.

7. Pragmatisme. “As dit werk is dit waar en reg” Menslike ervarings word die norm van die waarheid. “Dit het gewerk, ons het ’n engel gesien, hy is gesond daarom is dit waar! Kyk net watter positiewe invloed het hierdie ou!” Hulle vergeet dat die Satan enige menslike ervaring kan naboots en homself as ’n engel van die lig kan voordoen! (Net soos wat die valse profeet in Openbaring13:13 sal doen!) Paulus waarsku in Galasiërs 1 teen ’n ander evangelie! Word Faith met die mens en sy behoeftes in die middelpunt is ‘n ander evangelie. Die soeke na ervarings het die objektiewe waarheid van die kruis en die opstanding verdring. Hierdie mense jaag van een ervaring na die ander, hulle is uiters naïef en verslind alles wat opgedis word. Die oplossing is om terug te keer na die nugtere (binne konteks) bestudering van God se Woord! Die antwoord is om weer die genoegsaamheid van Jesus raak te sien! Natuurlik gebruik die Word Faith sprekers ook Bybeltekste, maar hulle haal dit buite konteks aan, van deeglike Bybelstudie en eksegese is daar maar min sprake!

MAAR DIT WERK DAN?

Is die Word Faith Teachers en Spreek Lewe guru’s effektief? Ongetwyfeld! Enige goeie spreker kan mense se koppe draai! Dit het Hitler eens en vir altyd vir ons gewys. Word mense se lewens ten goede verander deur hierdie positiewe praatjies. Beslis! In elke kultus is daar duisende wat hoog en laag sal sweer dat hulle die geheim van die lewe ontdek het! Is hierdie boodskap van die Word Faith sprekers, die evangelie van Jesus Christus? NEE! En dis die probleem, want net die evangelie, soos Paulus en die apostels dit verkondig het, is die krag van God tot REDDING vir elkeen wat glo! (Romeine 1:16)


*Ek probeer nie insinueer dat ‘n spesifieke persoon aan al hierdie wanopvattings skuldig is nie. Dis algemene kenmerke van hierdie beweging.

**’n Teks wat dikwels uit konteks (mis)gebruik word deur die Word Faith leraars om die belangrikheid van hierdie ingewyde kennis te onderstreep is Hosea 4:6 “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis;…” (OAV) Dis egter baie duidelik, dit gaan nie hier oor geheime kennis nie, maar God se geopenbaarde wil naamlik sy Woord. God se wil is nie ’n geheim nie, maar in die Skrif geopenbaar! Die fokus van hierdie openbaring is Jesus self! En, Jesus self is die waarheid! (Johannes 14:6) Hy maak ons vry. Vry van die skuldlas én die mag van sonde! Ware kennis is kennis van Jesus! Daar is nie meer ’n geheime kennis wat ons moet ontdek nie! Die Geheim is uit - dis Jesus! (Kol 2:3) Dis reeds geopenbaar (Kol 1:26) Die volheid van God is in Jesus beliggaam en elkeen wat aan Jesus behoort deel daarin! (Kol 2:9,10) Dis wat mens mis by hierdie praatjiesmakers. Christus word nie verkondig nie, nee bloot ‘n mensgedrewe verbeteringsprogram met ‘n dun Christelike sousie oor.

Jesus en sy kruisdood is nie regtig nodig nie, want volgens hulle word die heelal regeer deur geestelike wette. Die sleutel is dus om kennis van hierdie geestelike wette te hê , want dan kan ek my eie toekoms en welsyn bepaal. Ek kan die lewe vir myself gerieflik en lekker maak, deur reg te dink!

Bronne : Crenshaw, Man as God – the Word Faith Movement

              MacArthur, Charismatic Chaos