BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 01 Desember 2016

KINDERS VAN DIE STALBABA...

...VREEMDELINGE IN HIERDIE WÊRELD, MAAR JUIS DAAROM HEERLIK ANDERS, POSITIEF VERSKILLEND!



Lukas 2:7 - “Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.” 


Die betekenis is duidelik, daar was (is) nie plek vir Jesus in ons "beskawing" nie, Hy is ‘n buitestaander, vreemdeling, bywoner...

...en Sy volgelinge?

1 Petrus 2:11,12 - “Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net ‘n mens se lewe. Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.” 

Die afleiding is baie logies. Jesus se volgelinge is dus kinders van ‘n Stalbaba, hierdie Uitgeworpene vir wie daar nie eers as pasgeborene ‘n plek was nie... Ware kinders van God is mense wat ANDERS is... Ons lojaliteit lê by ‘n ander Koning en ‘n ander Vaderland en ons het ‘n ander leefstyl. Daarom is ons ook maar verworpenes en buitestaanders...

Kinders van God is mense wat deur hulle persoonlike geloof in Jesus en sy kosbare bloed, verlos is van hulle ou sondige bestaan en leefwyse en daarom nou ‘n ander leefwyse en leefstyl het. Daar is ‘n reuse kontras en verskil tussen ons manier van dink en doen en die wêreld waarin ons onsself bevind. Hierdie waarheid het Petrus reeds aan die begin van sy brief beklemtoon waar hy die kinders van God as “vreemdelinge” aanspreek. (1:1) Hier stel hy dit nog sterker as hy die Christene pertinent “vreemdelinge en bywoners noem.” Die kontras tussen God se uitverkore kinders en die wêreld waarin ons tydelik woon is seker geen tyd van die jaar duideliker as gedurende die komende feesseisoen en vakansietyd nie! Dis hierdie tyd van die jaar waarin ons so maklik versoek word om vrye teuels gee aan die uitlewing van ons bose begeertes. Christene leef nie veilig in ’n kweekhuis nie maar in ’n rowwe vyandige goddelose wêreld . Ons leef nie afgesonderd eenkant nie, maar onder die kritiese oë van ons medemense. Die ouens “watch” jou as jy al gesê het dat jy ’n Christen is! Ons dryf ook nie bo die wolke nie maar binne die normale maatskaplike en sosiale strukture van ons omgewing. Hoe gaan ons dit regkry om positief anders te wees (met blydskap) in ‘n stukkende vyandige wêreld?

Die eerste stap tot ’n regte lewensstyl is - Onthou wie jy is. Kind van God, hierdie wêreld met hierdie sondige kultuur is nie jou permanente tuiste nie... Deur die WEDERGEBOORTE is jy ‘n burger van ‘n ander koninkryk, jy is ‘n onderdaan van ‘n ander Koning!

Ja, jy is ‘n onderdaan van Koning Jesus wat reeds van sy geboorte af ‘n uitgestotene en verworpene was. 

En daarom is dit normaal as almal in hierdie wêreld nie van jou gaan hou nie. Dis normaal as jy uitgestoot, beledig en vervolg word. Samuel Rutherford, die Skotse Godsman het dit so treffend gestel : “As julle nie vreemdelinge was nie, sou die honde van die wêreld nie vir julle geblaf het nie.”

Hou vas aan jou nuwe identiteit as burger van God se koninkryk. Herinner jouself daaraan. Kom ons wees prakties – die advertensiewese maak ‘n geweldige appèl op ons almal – natuurlik om soveel moontlik geld uit ons te kry. Die advertensies wil ons vertel hoe lyk ‘n suksesvolle man, hoe lyk ‘n mooi vrou, hoe lyk en doen ‘n gelukkige mens - jy moet baie geld hê, jy moet uitlokkende klere dra, jy moet grootpraat en jou prestasies op Facebook uitbasuin... Dis dan wanneer jy vir jouself moet sê : “My geluk en vrede vind ek op ‘n ander manier as wat die reklame wêreld my wil wysmaak. Hierdie advertensies het eintlik niks met my te doen nie, want ek behoort nie aan hierdie verbygaande koninkryk nie, maar aan die ewige koninkryk!” Hierdie wêreld en sy bates en plesiere gaan verby... (lees 1 Joh 2:15-17.)

Die tweede stap is - Onthou jou van slegte begeertes. Dit lyk my Petrus aanvaar dit as vanselfsprekend dat ons met slegte begeertes gekonfronteer gaan word. Die vraag is net hoe gaan ons dit hanteer? Die Bybelse raad is deurgaans :

Vermy, bly weg van wat verkeerd is. 

Bly weg van verkeerde gewoontes, dinge wat slegte begeertes in jou wek..... Maak werk daarvan : bedenklike tydskrifte, “songs”, TV, ja ook verkeerde vriende... “Vermy die begeertes wat ‘n jongmens in gevaar bring, en streef na opregtheid, geloof, liefde en vrede, saam met almal wat uit ‘n rein hart die Here aanroep.” (2 Timoteus 2:22) Die OAV stel dit sterker – “vlug”. Jesus self was baie radikaal in sy raad teen verkeerde begeertes. "As jou hand of jou voet jou van My afvallig maak, kap hom af en gooi hom van jou af weg. Dit is vir jou beter om vermink of kreupel die lewe in te gaan as om met altwee jou hande of voete in die ewige vuur gegooi te word. En as jou oog jou van My afvallig maak, ruk hom uit en gooi hom van jou af weg. Dit is vir jou beter om met een oog die lewe in te gaan as om met altwee oë in die vuur van die hel gegooi te word." (Matteus 18:8,9) Baie belangrik- ons moet ons nie onttrek aan ons medemense opsigself nie, maar aan hulle verkeerde gedrag. Ons kan egter verwag dat mense ons verkeerd sal verstaan as ons nie saam met hulle die verkeerde doen nie. “In die verlede toe julle nog heidene was, is julle lewe lank genoeg beheers deur julle heidense begeertes: losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg— en drinkpartye en afskuwelike afgodery. Nou vind die heidene dit vreemd dat julle nie langer met hierdie stroom van losbandigheid saamgaan nie, en hulle beswadder julle.” (1 Petrus 4: 4,5)

Die derde stap is - Hou jou lewenswandel skoon en doen goeie werke. Leef ’n voorbeeldige lewe. ’n Heilige en voorbeeldige lewe is ten diepste goed. Gaan uit jou pad uit om goed te doen aan ander! (Titus 3:8) Op die ou end moet mense dit insien en erken. Ons goeie lewens moet mense se kritiek laat omsit in bewondering. Ons lewens moet aantreklik wees vir ander mense. Dis ‘n feit, daar is so ’n tekort aan aantreklike lewens - liefdevolle en getroue huwelike, gelukkige gesinne, rustige hardwerkende mense, lewens sonder allerhande vrese en gejaagdheid...

 Vriendelike heiligheid, nie dikbek heiligheid nie. Vreugdevolle heiligheid, nie ‘n droewige heiligheid nie. Positiewe heiligheid, nie ‘n heeldag geklae oor die regering, die ekonomie en al die slegte mense nie! 

Wys met jou ‘n lewe ‘n positiewe alternatief vir die wêreld met sy skynvreugdes, die ydele gejaag na wins, die verstikkende selfbejammering en selfsug. Ons blye heiligheid moet uitgestal word. Dis in lyn met Jesus se opdrag – “Laat julle lig so voor die mense skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en God verheerlik!” (Matt 5:16) So kan mense wat nou nog krities teenoor Christene staan oortuig word en God op die oordeelsdag verheerlik.

Opsommend :

1.Laat ons voortdurend bewus wees van wie ons is - vreemdelinge en bywoners. Ons pas nie hier nie, ons hoort nie hier nie! Maar ons is wel voluit betrokke omdat dit God se wil is dat ek en jy nou hier moet wees!

2.Christene se getuienis sal effektief wees wanneer hierdie getuienis nie net woorde wees nie, maar goeie dade wat sigbaar is. Wat sien mense, wat hoor mense nou op hierdie tyd in jou lewe? Wat gaan hulle in hierdie feestyd van ons sien? Sal dit hulle bring tot verheerliking van God of sal dit hulle nog verder afstoot van God ?

3.Ons wen nie mense vir die waarheid deur te konformeer nie, maar juis deur anders te wees in alle opsigte. Die kerk het net aantrekkingskrag solank ons anders as die wêreld is. Solank ons ‘n alternatief verkondig en uitleef!

GAAN LEEF NOU HEERLIK ANDERS, POSITIEF VERSKILLEND AS 'N VOLGELING VAN DIE STALKIND!


Persoonlik - ons beoog om andere hierdie vakansie 'n draai te maak op Koppies in die Vrystaat waar ons 'n kort maar besondere tydjie in ons lewe kon deurbring... en ja, dis hoe Marisja en Jonette op 'n tyd gelyk het...