BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 22 April 2020

BELOFTE IN BENOUDHEID

- Die Wuhanvirus wys dalk of ons regtig glo! 


Glo ek en jy regtig God se beloftes? Ek dink ons word deur ons huidige moeilike omstandighede getoets, spesifiek ook wat betref God se beloftes van finansiële versorging en materiële bystand. Sommige verloor hulle werk in hierdie tyd van paniekerige regeringsoptrede, ander se inkomste is drasties gesny... Glo jy wat hierdie moeilikheid in die gesig staar, die wonderlike belofte in Hebreërs 13:5? Dis waar God self belowe: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie." Jy sal sien dit word in ‘n finansiële konteks gesê! 

WYER KONTEKS 

Geen belofte staan natuurlik in isolasie nie. Kom ons kyk dus net eers na die groter konteks van die Hebreër brief. Mens sou kon sê dat die brief/preek aan die Hebreërs juis geskryf is vir Christene in moeilike en benoude tye. Daar was die gevaar van afvalligheid, van afdwaling en moedeloosheid. Gelowiges wat die handdoek wou ingooi. Daar was mense met die spreekwoordelike “slap hande en lam knieë”. Dit was moontlik die gevolg van ook fisiese swaarkry. Party is van hulle goed beroof en dit lyk ook asof sommige van hulle in die tronk gegooi is. 

Die sentrale boodskap van die Hebreërbrief skrywer aan hierdie Christene was : HOU VAS AAN GOD SE BELOFTE OOR JESUS DIE VOLMAAKTE HOËPRIESTER. Jesus is God se finale openbaring aan die mens. (Hebreërs 1:1) Jesus oortref die engele by verre in heerlikheid en majesteit. Hy is God! Jesus vervang al die offers, die tempeldiens en hoëpriesters van die Ou Verbond. Hy is die Middelaar van die Nuwe Verbond – ‘n beter verbond met beter beloftes! Hy het self die pad na God vir ons oopgemaak. Hyselfs is die nuwe lewende Weg! Ons kan weet Hy het medelye met ons, ons kan deur Hom met vrymoedigheid na God se genadetroon gaan. 

“Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 

Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 

Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.” 

(Hebreërs 4:14-16) 

ONMIDDELIKE KONTEKS 

Hier aan die einde van die brief vind in hfst. 13 vind ons ‘n paar kort praktiese sake, OPDRAGTE wat eintlik verskeie aspekte van ons lewe as gelowiges dek en wat juis baie sin maak in die konteks van moeilike tye: 


Beoefen broederliefde. Dis so kosbaar in moeilike tye. Dis ‘n opdrag wat ons nie moet vergeet nie. Pasop dat hierdie uitmergelende tye van inperking en frustrasie jou nie in ‘n dop van selfsug en selfbejammering laat kruip nie. Reik uit na ander deur broederliefde. Dis nie bloot ‘n gevoel nie, maar om ander prakties te help… (vgl. 1 Johannes 3:16ev) Daar is positiewe krag en genesing in broederliefde, nie net vir die wat die ontvangers is nie, maar juis ook vir diegene wat dit gee… toets dit maar! 

Bewys gasvryheid. In moeilike tye moet jy juis jou hart en huis oopmaak vir ander. Ook wat vreemdelinge betref. Die skrywer gee ‘n spesiale aanmoediging tot gasvryheid deur te verwys na Abram wat niksvermoedend engele ontvang het. Die bedoeling van die skrywer is natuurlik nie om te spekuleer of die persoon voor jou deur ‘n engel is of nie. Die punt wat hy maak is, is dat sommige van jou gaste ware boodskappers van God gaan wees wat groter seën vir jou gaan gee as wat hulle van jou ontvang! 

Betoon opregte medelye met diegene wat swaarkry selfs ook die wat in die tronk gegooi is. Sien vriende, weereens, die fokus moet nie op onsself wees nie, maar op ander en hulle nood! 


Bewaar en respekteer die heiligheid van die huwelik. Moeilike tye plaas huwelike en sedes onder druk. Egskeidings kom al hoe meer voor. Internet pornografie is ‘n groter versoeking as ooit. Huishoudelike geweld word algemeen. Mense kan redeneer ons kan nou maar ons eie reëls maak. Hier word twee woorde gebruik naamlik ontugtiges (pornous) en egbrekers (moigous). Dit gaan dus oor meer as net owerspel of egbreuk in die eng tegniese betekenis, maar oor die hele spektrum van ongeoorloofde seksuele verhoudings. Die erns word onderstreep deur die spesifieke vermelding dat die oordeel van God oor hierdie mense sal kom! Dis iets wat die meeste mense (selfs binne die kerk) hulle weinig aan steur. 

Bekeer jou van gierigheid. Hoe groter die nood, hoe groter is die gevaar vir gierigheid en vertroue op geld. Paniek en selfsug neem so maklik oor! MAAR LUISTER NOU! Juis hier vind ons hierdie heerlike belofte van God se nabyheid en bystand binne die raamwerk van geldsake. Belangrik - die belofte kom saam met ‘n duidelike waarskuwing en opdrag. 

Hou jou lewe vry van geldgierigheid. Jesus se waarskuwing word in ander woorde herhaal : Julle kan nie God en Mammon dien nie! (baie probeer, maar dit bly vandag nog steeds onmoontlik) 

Die opdrag gaan oor tevredenheid, vergenoegdheid. Ook in moeilike tye wanneer die skoen druk, moet ons tevrede wees. TEL JOU SEËNINGE, DOEN DIT SOMMER NOU! Dink bietjie... Onthou ‘n slag... Tevredenheid gaan saam met vertroue op God. Ek vertrou Hom en ek is tevrede met dit wat Hy vir my gee op hierdie stadium van my lewe. Maar juis dan en net dan kan ek verseker wees van sy sorg en nabyheid en hulp. Hy sal my nooit as te nimmer verlaat nie. Nooit, ooit in die steek laat nie! 

DIE HERE IS MY HELPER! 

En wat is die heerlike gevolg as ek kies om hierdie belofte van God se versorging en bystand te glo? ‘n Triomfantelike sekerheid en vreesloosheid! Vers 6 - “Daarom kan ons met vertroue sê: "Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ‘n mens aan my doen?" 

Ja, moeilike tye is inderdaad nooit maklik of lekker nie, maar ook in moeilike tye kan God se kind heilig wees en in dankbaarheid lewe sonder vrees! Die geheim is : GLO GOD SE BELOFTES! Maak erns met die beloftes en die hele konteks waarbinne dit staan! Gaan kyk weer met nuwe oë na God se beloftes en vind so vrede! 

NASKRIF Ek wil net sommer van hierdie geleentheid gebruik maak en aan alle broers en susters wat ook deur hulle gawes God se werk ondersteun en spesifiek ook ‘n helpende hand uitreik na diegene wat behoeftig is, Paulus se woorde aan die Christene in Filippi toebid : “En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.” (Filippense 4:19) AMEN

Donderdag 16 April 2020

WAAR IS GOD

in hierdie pandemie? 


[‘n oproep tot realisme en eerlikheid] 

Daar is baie troosboodskappe in hierdie tyd van Covid-19 en dis reg. Vir God se kinders is daar ‘n heerlike evangeliese troos te midde van hierdie verskriklike pandemie. Maar ek mis iets, ek mis in die meeste van die boodskappe die volle Bybelse perspektief oor pandemies, ellendes en rampe! Ons moet pasop vir valse en vinnige troos. Vir goedkoop #Prayfor… wie ook al! Ons moet ook eerlik met die wêreld wees wat betref die oorsprong van hierdie pandemie (Ek praat nou nie van Chinese markte of laboratoriums, vlermuise of ietermagôs nie, maar die diepere oorsprong!) 

Is alle ellendes maar net toevallige natuurverskynsels of die noodlot van die geskiedenis? 

Die perspektief uit Openbaring hoofstuk 16 (die uitgooi van die bakke op aarde) is : NEE! God is intens betrokke by hierdie dinge! “Toe het ek uit die tempel ‘n harde stem vir die sewe engele hoor sê: "Gaan gooi die sewe bakke, gevul met DIE TOORN VAN GOD, op die aarde uit!” (1) LW. Gód se toorn. (nie die duiwel s’n nie) Maar nou wonder jy miskien, hoe pas dit nou in by die boodskap van Openbaring? 

TROOSBOEK

Ons weet tog dat Openbaring juis geskryf is as ‘n troosboek en aanmoediging vir Christene wat swaargekry het. Die hoofboodskap van Openbaring is dat God op die troon is. Hy is in beheer en almal wat verlos is deur die bloed van die Lam hoef nie te vrees nie, die koninkryk is vir hulle bestem. Hulle sal die oorwinning behaal omdat Jesus dit reeds behaal het. 

GOD RED ÉN OORDEEL 

Nou waar pas hierdie OORDELE wat uitgebeeld word deur die bakke dan in? Daar is duidelike patrone in die heilsgeskiedenis – hoe God se redding op aarde ontvou. Oordeel is altyd die keersy van redding. God oordeel sy vyande, juis as Hy sy mense red. Dink aan : Sondvloed. Verwoesting van Sodom en Gomorra. Redding uit Egipte Die oordeel van die tien plae. Terloops as ons kyk na die oordele van die bakke wat uitgegooi word is daar ‘n baie sterk ooreenkoms met die plae waarmee Egipte getref is. Swere, water in bloed verander, duisternis, onreine geeste soos paddas, hael...) Juis in God se oordele kom sy regverdigheid ook na vore! God red sy kinders deur sy groot genade, regverdigheid en liefde. God se toorn oor die sonde is die anderkant van sy regverdigheid en heiligheid. Juis omdat God regverdig is, oordeel Hy sonde. Juis omdat Hy liefde is, haat Hy wat verkeerd is! 

Al God se oordele is voorfilms, vooruitskouings op sy finale oordeel, wanneer sy vyande in die poel van vuur gewerp sal word. 

Rampe, ellendes, oorloë en epidemies op aarde is nie toevallige of neutrale gebeurtenisse nie. Dis waarskuwings van God en roepstemme tot bekering! 

SEËLS, BASUINE EN BAKKE 

Hierdie is nie die eerste keer in Openbaring waar daar oor God se oordele op aarde gepraat word nie. Die oordele van die breek van die seëls en die blaas van die trompette (basuine). Die groterwordende skaal van oordele is opvallend ; met die breek van die seëls word ‘n kwart van die aarde getref, met die blaas van die trompette ‘n derde, met die uitgooi van die bakke word die hele aarde getref. ‘n Al sterker opbou tot die eindoordeel word so geskets! 

Die eerste vier bakke gaan oor natuurrampe op land, see, varswaterbronne en in die hemelruim (die son). Natuurlik moet ons nou pasop om oorhaastig spesifieke rampe en ellendes en ongelukke te etiketteer as oordele oor spesifieke mense. Wat ons wel kan sê is dat God nie veraf en onbetrokke van Sy skepping af staan nie. Sy toorn oor die goddeloosheid van die mens het ‘n effek op aarde! God het die mag oor als wat gebeur op aarde. “Die mense is deur ‘n groot hitte gebrand, en hulle het die Naam gelaster van God wat die mag oor hierdie plae het.” (9) 

Hierdie is nie nou die tyd en plek vir ‘n diepte bespreking van al die oordele in Openbaring 16 nie. Laat ons net kyk na twee opvallende sake : 

God is regverdig in sy oordele. Ons kry so tussen in die beskrywing van die plae ‘n lofrede op God se regverdigheid. "Toe het ek die engel wat oor die water toesig hou, hoor sê: "U is regverdig, U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel voltrek het; want hulle het die bloed van die gelowiges en van die profete vergiet, en U het hulle self bloed laat drink. Dit het hulle verdien." Toe het ek die engel wat oor die altaar toesig hou, hoor sê: "Ja, Here God, Almagtige, betroubaar en reg is u oordele." (16:5-7.) Die wêreld se perspektief is dat God onregverdig is. (Mens hoor dikwels as daar ‘n ramp of ongeluk gebeur dat mense God verwyt, maar dis dieselfde mense wat altyd nog leef asof God nie bestaan nie.) Een ding kan ons weet vanuit die hemelse perspektief, God is altyd goed en regverdig en sy oordele is ook altyd regverdig! God is ook regverdig as Hy ‘n pandemie op aarde loslaat! 

Die goddeloses is hardkoppig en weier bekering. “...En hulle het hulle nie bekeer nie en aan Hom nie die eer gegee nie... En hulle het hulle nie bekeer van hulle verkeerde praktyke nie.” (16:9,11) Dis die verstommende aspek dat God nog steeds geleentheid gee vir bekering, maar mense verwerp dit. Selfs tot aan die einde word God gelaster. (21) Net soos die Farao van destyds is hulle harte verhard! Dis wat ons in die praktyk sien – droogtes, vloede, rampe en pandemies lei nie noodwendig tot bekering nie! Die mens hou aan om God te ignoreer, te belaster en uit te tart met sy goddelose dade! (Dit wat God in Sy Woord gruwels noem word deur die wêreld aangeprys en aangemoedig!) 

Ons kan nie presies God se werkinge hier op aarde verstaan nie. Wat ons wel weet is dat God red én oordeel. Hy is nou reeds besig en Hy sal dit finaal doen as die goddeloses in die poel van vuur gewerp word en die regverdiges in die ewige koninkryk sal ingaan. Dis die boodskap van die hele Skrif* en dis wat Openbaar maar net in prentjies en simbole vir ons sê! 

Kom ons loof God juis ook in hierdie tye! Hy is ‘n regverdige God. Kom ons volhard in geloof en heiligmaking! God is ons Verlosser! 



*Byvoorbeeld dit wat ons in 2 Petrus 2:6-10 lees is ‘n goeie verduideliking van die betekenis van Openbaring 16.

  ” Die stede Sodom en Gomorra het Hy tot verwoesting veroordeel en tot as verbrand, en met hierdie voorbeeld het Hy getoon wat oor die goddelose mense gaan kom. 

En tog het Hy vir Lot gered, ‘n eerbare man wat gebuk moes gaan onder die losbandige lewenswyse van sedelose mense. 

Terwyl hy tussen hulle gewoon het, moes hierdie eerbare man dag vir dag soveel van hulle gruweldade aanskou en sulke dinge aanhoor dat dit ‘n foltering was vir sy opregte gemoed. 

Die Here weet dus om dié wat Hom dien, uit beproewing te red, maar om die goddeloses te straf en vir die oordeelsdag gevange te hou. 

Veral húlle sal gestraf word wat toegee aan hulle wellustige vleeslike begeertes en wat die gesag van die Here verag. Hierdie leraars is uitdagend en verwaand en huiwer nie om hemelwesens te beledig nie.” 


Maandag 13 April 2020

WOLHAARSTORIES



of WAARHEID? 

Die virus wat in hierdie tyd die vinnigste versprei is wolhaarstories. Samesweringsteorië. Conspiraciy theories. Dit word tot satwordens toe rondgestuur op Whatsapp, Facebook en elke denkbare manier. Soos byvoorbeeld – David Icke (!) se bangmaakstories oor die 5G tegnologie (dis terloops die ou wat verkondig sommige mense stam van reptiele af!!) of mens moet hoor dat die merk van die dier nou in ons ingespuit gaan word. Daar is hordes aspirant profete wat in hierdie tyd na prominensie (en geld) soek en hierdie tipes stories die wêreld instuur. Ek wonder hoekom glo mense nog hierdie tipe snert? 

Laat jou gedagtes bietjie teruggaan. Al hierdie tipe wolhaarstories en geestelike kwaksalwery is al keer op keer as verkeerd en vals bewys. Onthou jy nog die Y2K bedreiging of die einde van die wereld wat in 2012 sou aanbreek volgens die Maja kalender, die sogenaamde bloedmane of die veelbesproke nag van die lang messe wat Siener van Rensburg kwansuis sou voorspel het … ? Kort-kort is daar ‘n nuwe storie. En dan hardloop al wat onstandvastige siel is die vlaktes vol om dit uit te basuin en onkundiges te verlei. 

Ek wonder net - gestel sommige van die stories is waar, wat kan jy en ek in elk geval daaraan doen? 

Wat is die doel wat hierdie bangmaakprofete en sensasiesoekers nou eintlik wil bereik? Wil hulle hê dat ek moet bang wees vir Bill Gates? (Kan Bill iemand in die hel werp?) Moet ek iewers in die Namib gaan wegkruip? Of wat? Ek is oortuig dat Satan hierdie tipe stories gebruik om ons aandag af te lei van die noodsaak tot bekering en die eis om op Jesus alleen te vertrou!

Ek dink almal wat so ophol gaan en mens toegooi met wolhaar whatsapps moet eerder kennis neem van God se Woord : 

"Julle moenie alles ‘n sameswering noem wat hierdie volk ‘n sameswering noem nie. Julle moenie bang wees en skrik vir die dinge waarvoor hulle bang is nie. 

Julle moet die Here die Almagtige eer as die Heilige. Vir Hom moet julle vrees en vir Hóm moet julle bang wees."  
(Jesaja 8 :12,13) 

Vriend ek wil by jou pleit. Vergeet die wolhaarstories en maak erns met die waarheid van die Woord. 

Vrees en eer God. Bekeer jou van jou sonde en kom skuil in Jesus Christus. Breek met daai sondige saamblyverhouding, staak jou egskeidingsplanne, gaan betaal jou broer vir wie jy soveel geld skuld, vergewe daardie persoon vir wie jy so haat, gaan maak jou lewe reg... Klim van jou selfoon af, gaan op jou knieë en bely jou sonde. Plaas jou vertroue volledig in Jesus, in Hom is jy veilig teen God se oordele. Hou op met die nonsens van huise uitsalf en shofars blaas! Doen eerder wat die Woord jou duidelik beveel : 

 Glo die evangelie en doen afstand van alle ongeregtigheid! 

God se kinders kry ‘n (kliek) heerlike versekering in hierdie tye van chaos en wanorde, vrese en onsekerheid : 

"Nogtans, die hegte fondament wat God gelê het, staan vas met dié woorde daarop gegraveer: "Die Here ken dié wat aan Hom behoort," en: "Elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort, moet wegbreek van die ongeregtigheid." 
(2 Timoteus 2:19) 

VERGEET DIE WOLHAARSTORIES EN KIES DIE WAARHEID, JESUS SELF!

Woensdag 08 April 2020

IS JY VEILIG?


- ‘n kort Paasoordenking. 


Is jy veilig? Ek bedoel nie veilig teen ‘n virus, siekte, diefstal of finansiële skade nie… Ek wil weet of jy veilig is teen die oordele, wraak en toorn van God? Miskien dink jy dis dalk ‘n onsensitiewe of onverantwoordelike vraag. Jy wonder : “Moet mens dan nou bang wees vir God? Is God dan ook ‘n God van wraak?” 

Kom ek probeer verduidelik… Laat jou gedagtes teruggaan na Egipte, Moses, die tien plae… God het Egipte gestraf met die plae juis om die vryheid van sy volk te bewerk. Om die magteloosheid van die Egiptiese gode aan te toon. Die tiende plaag sou die vreeslikste wees… God sou elke huis in Egipte met die dood tref, sonder uitsondering… Maar God voorsien ook uitkoms, ‘n reddingsplan vir sy volk. Elke huis moes ‘n jaaroud ramlammetjie slag en die bloed aan die deurkosyne smeer. 

“Die bloed aan die huise waarin julle is, sal ‘n teken wees: waar Ek die bloed sien, sal Ek die huis oorslaan, en die vernietigende slag waarmee Ek Egipte gaan tref, sal julle nie tref nie.” (Eksodus 12:13) 

Die saak was baie duidelik en eenvoudig, die paaslam sterf in die plek van die eersgeborene. Die paaslam se lewe word geneem sodat iemand anders kan bly leef! God se wraak gaan verby as Hy die bloed van die lam sien. 

Veiligheid het afgehang van een saak – DIE BLOED VAN DIE LAM aan die deur. Veiligheid is verseker deur GEHOORSAAMHEID aan GOD SE REDDINGSPLAN! 

God se oordele gaan hierdie wereld tref! 

Trouens, dis reeds in ‘n sin besig om te gebeur aardbewings, rampe, oorloë, pandemies... Die feit van God se heilige wraak is ook ‘n waarheid van die Nuwe Testament – God is toornig op die sondige wêreld. “God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk.” (Romeine 1:18) God is kwaad oor alle miskenning van sy eer, goddeloosheid, skending van die huwelik (egbreuk en saamblyery), bandeloosheid, onreg, bedrog... 

Die huidige ellendes, oorloë, peste en pandemies is maar net ‘n klein voorsmakie van die finale oordeel en ewige straf.


Maar God het weereens in sy liefde en genade ‘n plan aangekondig om ons van hierdie oordeel te vrywaar. Om ons te bewaar en ons te red. 

God se reddingsplan is weer bloed. Die bloed van die volmaakte PAASLAM , Jesus Christus. 

Dit was immers nie toevallig dat Jesus tydens die Joodse Pasga (wat die gebeure van lank tevore in Egipte herdenk het) gekruisig is nie. Terwyl duisende Paaslammers geslag word, vloei die bloed van die volmaakte Paaslam, ons Verlosser Jesus Christus. Net die bloed van Jesus beveilig ons teen God se oordele! 

Jesus ondergaan die doodstraf in my plek. 


Jesus sterf sodat ek vir ewig veilig kan wees! “Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God” (Efesiërs 1:7) 

Hierdie boodskap moet persoonlik aanvaar en geglo word, anders gaan die oordeel van God jou tref! Blote lidmaatskap van een of ander kerk is nie goed genoeg nie. 

Het jy al persoonlik jou vertroue op die gekruisigde en opgestane Jesus geplaas of maak jy dalk jou eie planne om die oordeel van God te probeer ontvlug? 

Niks anders kan ons beveilig teen God se regverdige wraak nie... nie ons ordentlike lewe, Bybelkennis, goeie voornemens, vriendelikheid of godsdienstigheid nie... net die kosbare bloed van ons volmaakte Paaslam! Net Jesus red ons van die komende oordeel. So skryf Paulus aan God se kinders in Tessalonika :“Die mense vertel self hoe julle ons ontvang het en hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien en dat julle sy Seun wat Hy uit die dood opgewek het, uit die hemel verwag, Jesus deur wie ons gered word van die oordeel wat kom.” (1 Tess 1:9,10) 

Die grootste gevaar op hierdie oomblik is nie ‘n siekte, geldnood of ander ellendes nie, maar God se regverdige oordeel! Maar die mensdom besef dit nie...

Ek vra weer : Is jy veilig? 

Is die bloed van die Lam al aan jou deur?

(En terloops, dit het niks te make met hierdie nuwe gier om huise en selfs klaskamers sogenaamd “uit te salf nie”. Dit klink my baie na bygeloof. Daar is geen opdrag binne die Nuwe Verbond om so iets te doen nie. Ons word verlos deur die bloed van Jesus deur Hom te aanvaar as ons Verlosser, deur in Hom alleen te glo. Vgl. Johannes 1:12) 

As jou antwoord , “JA” is kom ons vier ons verlossing met die Nagmaal waardeur ons weer opnuut verseker word van die algenoegsaamheid van Jesus se kruisdood as ons redmiddel. Weens sy volmaakte offer en NET dit kan ek weet ek is VEILIG!

Om te luister kliek op PAASOORDENKING



Woensdag 01 April 2020

PSALM 91 - PANDEMIEPSALM?

- JA, IN JESUS IS JY ONAANTASBAAR VEILIG! (Wat presies behels dit?)*



“Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag of vir aanvalle oordag, vir pes wat in die donker toeslaan of vir siekte wat helder oordag verwoesting saai nie.” (Psalm 91:5,6)

Psalm 91 is een van die wonderlikste Psalms wat daar is! Ongelukkig tel dit ook onder een van die mees misbruikte Skrifgedeeltes. Dit word buite die geheelkonteks van die Bybel aangehaal en soos ‘n towerspreuk of gelukbringer (amulet) as ‘n eenvoudige kitskuur verkwansel. So sou mense in die pandemiese omstandighede van vandag maklik bogenoemde verse aanhaal as ‘n bewys dat Christene nie deur die nuwe koronavirus getref sal word nie. Is dit waar en verantwoordelik om so iets te beweer? Gaan Christene van die Covid-19 virus gevrywaar word? NEE!

DIE DUIWEL KEN DIE BYBEL

Baie interessant, die duiwel self ken Psalm 91 baie goed en het juis ‘n aanhaling uit hierdie psalm misbruik om Jesus te versoek en van sy God beplande doel en missie te laat afwyk. “Toe neem die duiwel Hom saam na die heilige stad en laat Hom op die dak van die tempel staan en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen 'n klip stamp nie. (Matteus 4:5,6) Sy aanhaling kom natuurlik uit Psalm 91:11,12.

Maar nou moet ons net pasop vir ‘n ander groot gevaar – ons moenie die heerlike Psalm 91 ignoreer of weggooi omdat die duiwel en dwaalleraars dit misbruik nie! In hierdie psalm vind ons ‘n verkwikkende troos en grondige waarborg vir elke kind van God! Kom ons maak erns met die betekenis hiervan. Kom ons kyk eerlik hoe dit in die Bybelse geheelboodskap inpas. In die storielyn of openbaringsontwikkeling van die Bybel het Psalm 91 drie kontekste of ander gestel drie agtergronde:

1. Psalm 91 doen ‘n beroep op die volk Israel om tot God terug te keer en die verbondsvloek oor hulleself af te weer. 

Hierdie psalm haak aan by die vloeke en seëninge van die verbond soos opgeteken in Deuteronomium Die direkte agtergrond en konteks van Psalm 91 is dus die Mosaïese verbond. (wat ons vanuit NT perspektief die Ou Verbond noem)

In die Ou Verbond val die klem op die fisieke welsyn en welvaart van die volk Israel in die beloofde land, Kanaän. Die opsies was duidelik - As hulle God se verbond hou sal hulle fisies geseënd wees. (Deut. 28:1-14) Maar as hulle die verbondsbepalings nie nakom nie, sal allerhande fisiese ellendes hulle tref. Spesifiek ook peste en plae! “Die Here sal peste en plae aan jou laat kleef totdat Hy jou uitgeroei het uit die land waarheen jy op pad is om dit in besit te neem.” (Deut. 2:21) Hier in Psalm 91 hoor ons dus die omgekeerde boodskap van hoop en bevryding byv. vers 3 “Want Hy is dit wat jou sal red uit die net van die voëlvanger, van die verderflike pes.” en vers 10 “Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie;”


Psalm 91 bring dus hoop, spesifiek vir die bannelinge wat hierdie verbondsvloek aan hulle lyf gevoel het. Hier vind hulle dus ‘n boodskap van bevryding en herstel. Hier is ‘n belofte dat die verbondsvloek tot ‘n end sou kom en dat God weer vir Israel onder sy vlerke, onder sy beskerming sou neem. Weereens, dit eggo baie duidelik die taal van Deuteronomium. Vergelyk Deut. 32:11,12 “Soos ‘n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop, oor hulle fladder en hulle vang op sy vlerke wat hy oopsprei, soos ‘n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra, so het die Here, net Hy alleen, sy volk gelei; daar was nie ‘n ander god by Hom nie.” Met vers 4 (OAV) “Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is 'n skild en pantser.” Telkens hoor mens die versekering dat God die toevlug of skuilplek is vir sy volk. (2,4,9). Dit herinner sterk aan die uitspraak in Deut. 32:37. “Dan sal Hy vra: ‘Waar is hulle gode? Waar is die rots waar hulle gaan skuil het,..."



Die belofte in vers 7 “Al val daar duisend aan jou sy en tien duisend aan jou regterhand; na jou sal dit nie aankom nie.” toon ‘n opvallende (omgekeerde) ooreenkoms met Deut. 32:30 “Hoe kan een dan duisend agtervolg en twee tien duisend op die vlug jaag, was dit nie dat hul steenrots hulle verkoop en die HERE hulle oorgelewer het nie!”

In hierdie konteks gesien is Psalm 91 ‘n bekeringspsalm!

2. Psalm 91 is in Jesus vervul. 

Psalm 91 het op ‘n unieke manier op Jesus betrekking. Jesus is die ware opregte Israeliet sonder enige bedrog of ongehoorsaamheid. Hy en Hy alleen kom die verbondsbepalings volmaak na. Hy staan in ‘n volmaakte verhouding met Sy Vader en doen volkome die wil van die Vader. Jesus self het bevestig dat die Psalms oor Hom praat.** Prakties kom dit daarop neer: 

As daar ooit enigiemand was wat sou kon sê Psalm 91 se beloftes is op my van toepassing, dan was dit Jesus! 


Wie het ooit meer op God die Vader vertrou as Jesus (2) en wie het God ooit meer liefgehad as Jesus? (14) Dis juis waarom Satan se versoeking wanneer hy Psalm 91:11,12 gebruik so uiters geslepe en subtiel is! Hy weet dis van toepassing op Jesus! Maar hy misbruik dit om Jesus van die God bepaalde lydensweg af te verlei. Satan wil hê Jesus moet tydelike gerief, beskerming en voordele kies bo God se plan en opdrag vir Hom! Jesus moes mos juis ly om die Nuwe verbond tot stand te bring. Die Satan wys vir Jesus ‘n kortpad na heerlikheid – “Word ‘n wonderwerker wat van engele gebruik maak! Beskerm jouself met bonatuurlike magte!” Dis die duiwel se advies. Jesus weerstaan dit. Jesus kies om God se pad te loop – die moeilike pad na heerlikheid, die kruisweg!

Nodeloos om te sê – die duiwel mislei baie mense vandag nog met Psalm 91. Hy bied dit aan as ‘n maklike oplossing teen alle lyding en ellende. ‘n Kitsoplossing vir al ons probleme en sorge! Weerstaan hom soos Jesus hom weerstaan het! Aanvaar dat swaarkry, gevare en ellende deel is van die stukkende wereld waarin ons nou woon en moenie jou laat mislei met allerhande goedkoop reseppies nie. God beloof nie dat ons gevrywaar sal word van elke ellende, diefstal, pes of virus tydens ons aardse bestaan nie, maar Hy beloof ons iets baie heerliker! (Dit beteken prakties dat ook Christene maatreëls sal moet tref om hulleself te beskerm teen die virus, maar sonder die paniek en angs van die wêreld.)

Dit bring ons by die derde konteks van Psalm 91.

3. Psalm 91 is ‘n heerlike en kragtige versekering en sekuriteit vir diegene wat deel is van die Nuwe Verbond.

Psalm 91 het steeds vir ons betekenis, maar nie meer in die konteks van die Ou Verbond nie, maar die Nuwe Verbond wat Jesus tot stand gebring het. 


Die Nuwe Verbond het immers die Ou Verbond met sy bepalings vervang! Na Jesus se koms en voltooide werk leef ons nie meer binne die raamwerk van die Ou Verbond nie. In die Nuwe Verbond gaan dit oor baie meer as ‘n fisiese land Kanaän en fisiese seëninge! Dit gaan oor die ewige verblyf in die hemelse Kanaän met hemelse, ewige seëninge. (Wat inderdaad ook insluit die uiteindelike verlossing van die liggaam en die einde van alle smart, siekte en dood!) Dis waarin die kind van God nou deel het. Hoor hier - “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.” (Efesiërs 1:3) Hierdie Nuwe verbond is ‘n beter verbond met beter beloftes! Dit word bevestig deur Hebreërs 8:6 –“Maar nou het Jesus ‘n voortrefliker priesterdiens gekry deurdat Hy Middelaar is van ‘n beter verbond wat op uitnemender beloftes gegrond is.” (Vgl. ook Hebr 7:22) 

ONS TROOS!

So wat is die troos van Psalm 91 vir ons? In Jesus is ons veilig en kan niks en iemand nie – nie gevare, nie vyande, nie armoede en benoudheid, nie peste of virusse ons van ons ewige verlossing beroof nie! God beloof aan almal wat aan Jesus behoort ewige heerlikheid en onsterflikheid en dis derduisende maal heerliker beloftes as die beloftes van die Ou Verbond!

Die samevatting en klimaks van Psalm 91 se heerlike boodskap kry ons in vers 16. “Met lengte van dae sal Ek hom versadig, en Ek sal hom my heil laat sien.” (OAV – letterlik vertaal) Hierdie beloftes is van toepassing op jou as jy aan Jesus behoort! 

God se ewige volledige verlossing in Jesus is onwankelbaar, onaantasbaar vas en seker! Ons ewige heerlikheid en verlossing word gewaarborg. 

Niks kan enige skade aandoen aan God se liefde vir ons en ons ewige erfenis nie. (Vergelyk Romeine 8:31-39) Covid-19 en selfs die dood hou geen bedreiging vir ons in nie, want dood is nie meer die einde nie, maar slegs die ingang in na ‘n ewige onsterflike heerlikheid by God! Psalm 91 word heerlik waar in die opstandingsoorwinning wat Jesus behaal het oor die dood en die opwekking van ons liggame.*** Dis beter as enige belofte van die Ou Verbond!

NASKRIF

Die hele Ou Testament moet verstaan word in die lig van Jesus en die Nuwe Verbond - dit geld vir al die wette, offers, instellings (sabbat, besnydenis, tempel...) en natuurlik ook die Psalms! Psalm 91 is geen uitsondering nie!


AANTEKENINGE

*Met erkenning aan Wyatt Graham se artikel “Does Psalm 91 Promise to Protect Us from Pandemics?” 

**Lukas 24:44 “Daarna sê Hy (Jesus) vir hulle: "Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is."

***As dit vir jou onduidelik is, gaan lees gerus weer die triomfantelike 1 Korintiërs hoofstuk 15!