BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag, 20 Junie 2012

REDDING VAN 'N ROKJAGTER

- ingrypende genadewonder  in die lewe van Augustinus.

So baie is vasgevang in die strik van ‘n seksueel losbandige lewe - pornografie, perversiteit, huweliksontrou en al dergelike dinge. Is dit moontlik om hiervan bevry te word en die voortgaande vreugde van ‘n verhouding met God te kies bo die kortstondige plesier van seksuele sonde? Wel, ja... dis wat met Augustinus gebeur het...

“Ek het na Karthago gegaan, waar ek myself  te midde van ‘n kookpot van wellus bevind het...my ware behoefte was aan U my God, wat die voedsel vir die siel is. Ek was nie bewus van hierdie honger nie...” 

Dis hoe Augustinus later teruggekyk het na sy losbandige en hedonistiese leefstyl as jongman. Hy is op 13 November, 354nC gebore in Tagaste, naby Hippo in die hedendaagse Algerië. Augustinus se vader was ‘n heiden (hy het eers ‘n jaar voor sy dood tot bekering gekom), maar sy moeder Monica was ‘n diep gelowige vrou wat haar lewe lank vir haar seun gebid het! Maar Augustinus se doelwitte was nie in lyn met sy moeder se gebede nie; sy ambisie was om ‘n goeie redenaar te wees. God het egter hierdie vrome moeder se versugtinge verhoor en Augustinus is omgekeer deur die genade van God en ‘n nuwe mens gemaak. Maar dit was  nie so vinnig en maklik nie...

In Karthago het hy ‘n verhouding aangeknoop wat 13 jaar geduur het en waaruit ‘n seun, Adeodatus gebore is. Hy is nooit met hierdie meisie getroud nie.  Maar God was reeds aan die werk....Daar in die kookpot van Karthago het Augustinus  kennisgemaak met ‘n geskrif van Cicero, Hortensius. Hierin het hy  wysheid as verhewe bo plesier aangeprys. Dit was nog glad nie Augustinus se bekering nie (dit sou eers nege jaar later gebeur), maar het sy lewensuitkyk verander. Augustinus het dit so beskryf :

 “Dit het my gebede tot U verander, O Here, en het my van nuwe hoop en aspirasies voorsien...”

Hierna sou dit menslik gesproke kon lyk asof Augustinus weer verder van die waarheid wegbeweeg,. Hy het op ‘n verdere dwaalpad beland,  naamlik die dualistiese lering van die Manicheisme. Dit sou duur tot op ‘n ouderdom van 28 toe hy ontnugter geraak het deur een van die leiers. In sy nege en twintigste jaar is hy na Rome om te gaan onderrig gee, maar kort daarna vestig hy hom in Milaan. 

Hier in Milaan  het God met hom ‘n afspraak gehad.

Hy het die werke van Plotinus ‘n neo-Platonis ontdek wat verdere ontwikkeling in sy denke meegebring het,  maar het ook onder die invloed van die groot biskop Ambrosius se prediking gekom. Hy is gevul met liefde en vrees vir God. Hy vertel van daardie tyd : 

“Ek was verbysterd dat alhoewel ek U liefgehad het...ek nie volhard het in my verlusting in my God nie. U skoonheid het my tot U aangetrek, maar gou is ek weggesleep van U deur my eie gewig en in verslaenheid het ek myself weer ingedompel in die dinge van die wêreld.” 

Augustinus, so lyk dit het sy magteloosheid as sondaar om God te dien,  agtergekom. Die krag van seksuele losbandigheid was sterker as die krag om vreugde in God te vind. (Piper)* Augustinus beskryf sy stryd so:

 “Ek het begin soek vir ‘n manier om die krag te kry wat ek nodig het om U te geniet, maar ek kon nie hierdie manier vind nie, totdat ek die middelaar tussen God en mens, Jesus Christus omhels het nie.”

Sy moeder Monica, het  ook in Milaan aangekom en begin om reëlings vir ‘n huwelik in ‘n Christelike familie te tref. Augustinus het sy jarelange  minnares weggestuur. Daar het egter niks van die voorgenome huwelik gekom nie en hy het ‘n ander minnares geneem. 

Augustinus se probleem wat hom van God weggehou het,  was dus blykbaar nie van een of ander intellektuele aard nie, maar eerder sy wellus!

Toe kom die groot gebeurtenis. Augustinus begin vertel dit so : 

"O Here, my Helper en Verlosser, ek sal nou vertel en bely tot eer van U naam hoe U my verlos het van die kettings van wellus wat my so styf geboeid gehou het en van die slawerny van die dinge van hierdie wêreld.” (Ons vind hierdie beskrywing in sy beroemde "Confessiones"

Op die dag van die finale krisis was die 32 jarige Augustinus saam met sy vriend Alypius in gesprek oor die merkwaardige opoffering en heiligheid van die Egiptiese monnik, Antonius. Sy lewe was in so ‘n sterk kontras met die van Augustinus. Daar was ‘n klein tuintjie by die huis waar hulle tuisgegaan het. Hier het Augustinus homself nou in ‘n geweldige sielestryd bevind. “Ek het my hare getrek en my voorkop met my vuiste geslaan” Verder : “Ek het myself neergewerp onder ‘n vyeboom en my oorgegee aan die trane wat uit my oë gestroom het... Ek het aangehou huil : hoe lank gaan ek sê môre, môre? Waarom nie nou nie? Waarom nie ‘n einde maak aan my aaklige sondes op hierdie oomblik nie?”

Skielik het Augustinus die lied van ‘n kind gehoor in ‘n huis daar naby. Die woorde wat hy by herhaling gehoor het was : “Neem dit en lees, neem dit en lees.” Hy is haastig terug na die plek waar Alypius gesit het en een van Paulus se briewe gegryp, dit oopgemaak en in stilte die eerste gedeelte gelees waarop sy oog geval het. Dit was die aangrypende gedeelte in Romeine 13:13-14 wat sê :

“Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie. Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.”

Toe hy by die einde van die sin kom was dit asof die lig van vertroue in sy hart ingestroom het en al die donkerte van vertwyfeling verdryf het.  Augustinus het ‘n nuwe mens geword... Tydens Pase van 387nC is hy deur Ambrosius in Milaan gedoop.

Die geredde rokjagter  het ‘n groot kerkleier en teoloog geword wat gestry het vir die waarheid. Die waarheid van God se soewereine genade. ‘n Genade wat ons nie kan verdien nie, ‘n genade wat God skenk aan wie Hy wil. Augustinus was immers proefondervindelik ‘n ontvanger van hierdie onbeskryflike en bevrydende genade! ‘n Genade wat hom ware genot laat vind het. Die ware vreugde in God wat groter is as die tydelike genot van losbandigheid!

Mag God se genade so elkeen van ons bevry om die vreugde van verlossing en vervulling in Hom te ontdek!

*(Erkenning : John Piper, The Swan is not Silent - Sovereign Joy in the Life and Thought of St. Augustine. Lees dit gerus op die internet)

Afbeelding : skildery van Philippe de Champagne uit de 17de eeu


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.