BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 08 Junie 2021

VERGEET DEUR DIE KERK

  - JA, DAAR IS 'N WOORD WAT STILWEG DEUR DIE KERK VERGEET IS!

'n Woord wat mens baie selde van kansels af hoor. En letterlik ken die meeste van ons jong lidmate glad nie eers meer die betekenis van die woord in Afrikaans nie. Dis egter ‘n woord wat gebruik is deur die heiliges van beide die Ou en die Nuwe Testament. Johannes die Doper het dit ook gebruik. Ons lees daarvan in sy prediking in Lukas 3:1-19 (lees dit gerus eers deur in jou Bybel)

Wat is dit?  TOORN



  Die woord het so skaars geword, kom ons kyk net eers wat dit beteken. Toorn gaan oor God se heilige regverdige woede, wraak en oordeel.  Dis nie ‘n sondige wispelturige onbeheerbare uitbarsting van woede  soos ons by mense kry nie. Dis God se heilige afsku van als wat sleg en verfoeilik is omdat God waarlik God is en net   GOED en HEILIG is! 


Johannes die Doper gebruik hierdie woord in die konteks van die komende oordeel. (9)

God se toorn is deel van wie Hy is, soos Hy Homself openbaar het in die geskiedenis, in die mond van sy profete , deur die laaste groot profeet Johannes die Doper maar, ook in die geskrifte van die apostels. Ja, dis deel van God se liefde, want sy liefde is gekant teen als wat sleg is!   Kom ons vat die pad vanaf die Ou Testament.

Voorbeelde uit die Ou Testament

 "Jy mag nie ander gode aanhang nie, ook nie gode van die volke in jou omgewing nie,want die Here jou God eis onverdeelde trou aan Hom. Hy is by jou, en as jy ander gode aanhang, sal sy toorn teen jou ontvlam en sal Hy jou van die aarde af wegvee."  (Deuteronomium 6:14,15)

"Die dag van die Here het nou gekom, dit is ‘n wrede dag, ‘n dag van gramskap en gloeiende toorn, ‘n dag waarop die land verwoes en sy sondaars uitgeroei word." (Jesaja 13:9)

 “My volk het koring gesaai maar dorings geoes, hulle moeite was tevergeefs. Hulle staan verslae, sonder oes, want die gloeiende toorn van die Here het hulle getref.” (Jeremia 12:13)

Nuwe Testament

Nou redeneer mense : “Ja, maar dit was voor Jesus se kruis. Ons leef nou mos na die kruis. Nou bestaan die toorn van God mos nie meer nie. Nou leef ons in die Nuwe Testament. Die tyd van Jesus en sy kerk en dis net liefde sonder toorn.”  Vriend, wees vriendelik gewaarsku, dis ‘n vals idee. As Paulus die evangelie verduidelik in Romeine dan doen hy dit teen die agtergrond van die toorn van God. Dis waar hy begin :  “God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk.” (Romeine 1:18)

En terloops dis in hierdie konteks dat hy daarop wys dat God die mens weens sy ontkenning en minagting van God oorgegee het aan dit wat boos en onbetaamlik is... en heel eerste noem hy dan die gruwel van mense wat die natuurlike geslagsverkeer tussen man en vrou verander na ‘n onnatuurlike verkeer tussen vrou en vrou en man en man! 



Hierdie verskriklike verval en verdierliking van die mens is juis deel van God se uitgieting van sy toorn oor ‘n sondige mensdom.





Dis die deurlopende boodskap van Genesis tot Openbaring is  - sonde wek God se toorn op en Hy straf dit. Die uitdryf van Adam en Eva uit die paradys, die vervloeking van die aarde, die verwoesting deur die sondvloed in die tyd van Noag, die uitwissing van Sodom en Gomorra,  die oordele oor Egipte en later die Kanaäniete, God wat telkens sy eie volk straf met oorloë en hongersnood, die verwoesting van Jerusalem en die tempel, die uitdryf van Israel uit hulle land en die wegvoering in ballingskap... Ja, ook die sterwe van Jesus aan die kruis en die finale oordeel met die skeiding van skape en bokke.  Die ewige hel! Dit alles maak net sin vanweë God se regverdige TOORN teen sonde! 

GENADE

Maar dis ook net teen hierdie donker agtergrond (van God se toorn) wat die genade sin maak en heerlik helder skyn!. Dis waarom Jesus gekom het, om ons van die toekomstige toorn te verlos.  Paulus skryf hieroor aan die  Christene  in Tessalonika... “Want hulle vertel self aangaande ons watter ingang ons by julle gehad het en hoe julle jul van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien  en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos.”  (1 Tessalonisense 1:9,10)

Wat van my en jou? Het ons al besef ons sonde wek God se toorn? Ja, ook die dinge wat die gemeenskap oor grappe maak (dronk word, los verhoudings) en maar stilswyend aanvaar. Ook die dinge wat deur Hollywood en die Huisgenoot goedgepraat word. Laat ons maar weet : God sal nooit sonde goedpraat nie, God sal nooit sy standaarde by ons sondigheid aanpas nie...

Mense is vir baie dinge bang.... vir die Sjinese virus, ekonomiese ineenstorting, vir die donker wolke van wanbestuur, korrupsie  en anargie. Ons moet eerder  bang wees vir God se toorn

En ja in sy liefde het God inderdaad vir ons 'n uitkoms gegee!

Die enigste skuilplek  is Jesus!   Die volledige vergifnis in Hom is ons enigste hoop. Draai jou rug op sonde vlug na Hom. Vlug soos Lot die opdrag gekry het om uit Sodom te vlug weens die aankomende toorn en  wraak van God. Hy het reageer, maar sy aanstaande skoonseuns het gedink dis ‘n grap. (Genesis 19:14) 

Het jy al van sonde gevlug en kom skuil by Jesus?

et jy al kom skuil by jesus?Het HHHHH


Terug by Johannes die Doper. Was Johannes dan net ‘n verdoemende oordeelsprediker? NEE. Nee hy was nié ‘n tipiese raasbek helvuurnar nie. Hy was  volgens Lukas ‘n verkondiger van die evangelie, die goeie nuus! 

Maar neem kennis, die verkondiging van God se toorn is deel van evangelieverkondiging in die volledige sin van die woord. En belangrik,  Johannes het nie net van die toorn van God gepraat as dit vir hom veilig was nie. Nee hy het hierdie boodskap van God se haat vir sonde persoonlik aan Herodes oorgedra. Herodes het sy broer se vrou gevat en Johannes het hom dapper aangevat!  “Hy het ook vir Herodes, die heerser, tereggewys oor Herodias, die vrou van sy broer, en oor al die ander slegte dinge wat Herodes gedoen het.” (19) Ons weet dit het uiteindelik sy lewe (kop) gekos! 


Ware profete van die volle waarheid van God soos Johannes die Doper is skaars. Dis net hulle wat durf praat oor die komende oordeel en toorn van God! Die rede is eenvoudig : Normaalweg kry hulle nie erepennings, eredoktorsgrade of Nobelpryse nie, nee, hulle koppe eindig op skinkborde! Die skinkbord van openbare veragting, familie verwerping  of  selfs sinodale uitsluiting en isolasie!  Maar dit maak nie saak nie - ons moet erns maak met die volle waarheid van God se Woord!

Belangrike naskrif!  Miskien het jy nog steeds 'n beswaar : "Ja, ek verstaan dat God toornig kan wees, maar
TOORN is nog steeds nie vir my 'n woord wat by Jesus pas nie! Jesus is tog so sag en liefdevol. Hy is tog die LAM!"  Jy is reg vriend, Jesus is inderdaad liefdevol. Die Lam wat sy lewe vir ons geoffer het! Maar ons lees inderdaad direk van sy TOORN. Mense sal eendag in angs vir sy toorn probeer wegkruip. Ons lees in Openbaring 6:16 - "
Hulle het vir die berge en die kranse gesê: "Val op ons en bedek ons vir die oë van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam."