BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 24 September 2014

MAAK SEKER JY MAAK KLAAR!

- praktiese raad vir marathon atlete in die Christelike wedloop.

As jy vir ‘n Comrades, ‘n Two Oceans of ‘n Cape Argus ingeskryf het en misluk, kan jy altyd weer probeer. Dis ook nie so erg om dit nie te maak nie, jy mis net ‘n medalje, verloor ‘n bietjie ego en gaan maar weer aan met jou lewe. Die Christelike wedloop is egter iets heel anders. Wie dit voltooi kry die ewige lewe, dis ‘n prys wat net nooit eindig nie en onbeskryflik heerlik is. Ja, ons kan dit onsself nie eers probeer indink hoe heerlik nie... Aan die anderkant, wie hierdie wedloop nie voltooi nie, verloor alles en is sonder hoop en vreugde tot in alle ewigheid. Verdoem tot ‘n ewige nag... In Hebreërs 12 word die Christelike lewe spesifiek as ‘n wedloop beskryf, maar eintlik gaan die hele Hebreër brief oor praktiese aansporing en aanmoediging om hierdie wedloop te voltooi of ander gestel, die noodsaak van VOLHARDING. Kom ons kyk so vinnig oorsigtelik na die praktiese raad wat ons uit hierdie kosbare brief kan kry:

Spring weg op die regte plek en manier. Ek kan enige wedloop net suksesvol voltooi as ek van die begin af volgens die reëls weggespring het. Die Christelike wedloop begin by ‘n ontmoeting met Jesus. Inderwaarheid draai dit in geheel om Jesus Christus. Hy is immer die Begin en die Einde! Hoekom is Hy so belangrik? “In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel.” Hebreërs 1:1-3. Hy is God se finale plan en openbaring aan ons. Die Christelike wedloop begin as ek myself toevertrou aan Jesus. As Hy my enigste Middelaar en my enigste Hoëpriester geword het. Die Christelike wedloop behels dat ek daagliks my vertroue op Hom plaas en nie meer staatmaak op my eie godsdienstigheid, ordentlikheid of goeie eienskappe nie. Dat ek van begin tot die einde aan Hom vashou... natuurlik juis omdat Hy my eerste gegryp het, soos Paulus in Filippense 3 sê. 

Raak ontslae van alles wat jou hinder. “Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop,” Hebreërs 12:1. Twee groot hindernisse word genoem : Laste en sonde. ‘n Las is iets wat nie noodwendig teen die reëls is nie, maar wat jou op een of ander manier in die wedloop kan benadeel of vertraag. Geen atleet hardloop met ‘n ekstra onnodige gewig of kledingstuk nie. Dit gaan jou uitput of jou laat struikel. Laste in die konteks van die Christelike wedloop is nie altyd noodwendig opsigself iets verkeerd nie, maar dis ‘n “gewig” wat jou voortgang belemmer.* Wat vir een kind van God ‘n hindernis is, is ook nie noodwendig vir ‘n ander kind van God nadelig nie – ek moet net baie eerlik met myself voor die Here wees! Byvoorbeeld skadelike of tydrowende gewoontes kan jou Christelike wedloop benadeel. Maak seker dat jou TV gewoontes, jou leesgewoontes, jou ontspanningsgewoontes, jou toewyding in jou beroep (wat reg is!) nie jou fokus op Jesus verdof of jou tot kompromie mislei nie!

Sonde is ‘n groot bedreiging in die Christelike wedloop. Sonde is alles wat God se Woord verbied. Moenie toelaat dat enige sonde ‘n vatplek op jou kry nie. In Hebreërs 12:14-16 kry ons die hartseer voorbeeld van Esau. “Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos ‘n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie. Sorg ook dat niemand sedeloos en goddeloos lewe nie, soos Esau wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg verkoop het.” Wees uiters versigtig! Sonde is so ‘n ernstige bedreiging, ons moet self bereid wees om daarteen te stry ten koste van ons lewe! “Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie.” Hebreërs 12:4 Hoe dikwels al het ‘n sondige seksuele verhouding of ‘n sondige besigheidspraktyk van bedrog en gierigheid, mense al die ewige lewe gekos!

Pasop om fokus te verloor. “Om hierdie rede moet ons soveel kragtiger vasgryp aan wat ons gehoor het, sodat ons nie dalk wegdrywe nie.” Hebreërs 2:1 Dis belangrik om doelgerig te hardloop, gedurig jou kop reg te hou. Anders kan jy geleidelik fokus verloor. Traag raak, afdwaal... Baie Christene se afval kom nie skielik met een groot sonde of krisis nie. Geleidelik verloor hulle belangstelling en spoed, stelselmatig raak hulle minder betrokke en minder entoesiasties. Ja, hulle dryf net so ongemerk weg... Die ywer raak minder en die verskonings raak meer totdat hulle heeltemal ophou met hardloop. 

Positief gestel : Fokus gedurig op die heerlike einddoel en beloning. Hoe? Neem kennis van die skare geloofshelde wat reeds die wedloop voltooi het. “Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het,” Hebreërs 12:1 Hulle word genoem “geloofsgetuies” Dis die ouens van wie ons in hfst11 lees... Noag, Abram, Moses... Hoekom word hulle getuies genoem? Hierdie "geloofshelde" se lewens getuig van die moontlikheid dat ’n mens in geloof kan volhard ten spyte van versoekings, valstrikke en vyande. Terwyl jy swaarkry weet beslis - geloof kan oorwin! Neem kennis, daar is baie mense wat reeds deur God se genade volhard het en nou veilig by die Here is! Dit gee ons hoop, en laat ons vinniger hardloop!

Hardloop saam met die wat dieselfde doelwit het. Elke langafstandatleet weet wat dit beteken as iemand saam hardloop en jou aanmoedig as jy die "muur" geslaan het en wil ophou. Ons is nie bedoel om die Christelike wedloop op ons eie aan te durf nie. Dis een van die redes waarom deel wees van ‘n gemeente so belangrik is. “Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.” Hebreërs 10:25 Ons moet erns maak om mekaar aan te spoor en aan te moedig! “Maar solank daar nog ‘n "vandag" is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie.” Hebreërs 3:13 Wees dus aktief deel van 'n WOORDGETROUE GEMEENTE!

Staan dadelik op as jy geval het. Almal val een of ander tyd in die Christelike wedloop. Selfs die helde wat in Hebreërs 11 genoem word het ook by geleentheid geval. Wat dan? Is als verlore? Nee! Die oplossing is om na God se troon van genade te gaan deur Jesus. Staan op en gaan sonder versuim na Jesus. Ons kry hierdie aanmoediging in Hebreërs 4:14-16. “Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.” Onthou as jy geval het sal die duiwel als in sy vermoë doen om jou weg te hou van Jesus af. Hy sal fluister : “Jy het vreeslik gesondig, jy kan nie sommer dadelik na Hom gaan nie. Miskien moet jy eers ‘n tyd wag, dalk wil Hy jou 'n ruk laat swaarkry... Miskien is God so teleurgesteld dat Hy jou nie wil terug hê nie.” Moenie Satan se leuens glo nie, glo die boodskap van die (kliek op) GENADETROON!

Aanvaar teregwysing van die Afrigter. Tydens hierdie wedloop praat God soms baie hard met ons. Dit kan ook in die vorm van tugtiging wees – een of ander vorm van swaarkry wat Hy oor ons pad bring. Dan moet ons dit nie verkeerd verstaan en moedeloos word nie, maar besef dis juis sy liefde wat ons weer terug wil bring in die wedloop! Ja, dis nie lekker om berispe of getug te word nie - dit laat ons dikwels huil en kreun, maar dis vir ons beswil. “Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ‘n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God.” Hebreërs 12:11 

  Kind van God, daardie onaangename, slegte of hartseer ding wat jy tans beleef is nie ‘n teken dat God jou nie liefhet nie, maar juis dat Hy jou wil nadertrek en weer op koers wil kry of sommer net Homself dieper aan jou wil openbaar!

Volhard en volhard en volhard in die geloof. Die noodsaaklikheid van volharding is ‘n deurlopende tema in die Hebreër brief. “Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het.” Hebreërs 3:14 Die hele Hebreërbrief is vol ernstige (en soms skrikwekkende) waarskuwings om nie afvallig te word en op te hou met die geloofswedloop nie. Wat ook al gebeur, hoe ook al jy voel, moet net nie ophou nie, moet hoegenaamd nie dink aan omdraai nie, dis nie eers ‘n opsie nie!

Hou jou oog op Jesus, wat reeds die wedloop voltooi het. “Hou Hom voor oë wat so ‘n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.” Hebreërs 12:3 Vertrou op Jesus, bedink wat Hy gedoen het, bewonder Hom – laat Hy en sy werk aan die kruis en sy volharding voorop in jou gedagtes staan. Hyself het ook geweldig gely en teenstand in die wedloop ondervind (net soos wat jy nou waarskynlik ervaar), maar Hy het volhard en het dit vir ons moontlik gemaak om die wedloop te voltooi. Hy geniet nou die heerlike beloning aan die regterhand van God. Laat hierdie feite gedurig in jou gedagtes wees...

*FF Bruce, The Epistle to the Hebrews, p349.







Donderdag 18 September 2014

GOUD, DIAMANTE EN RENOSTERHORINGS

- Ja , maar dis nog niks...

Al die wêreld se goud, diamante en ook renosterhorings behoort aan Hom! Inderdaad, maar Hy het nog baie meer! God is die rykste Persoon in die ganse heelal. Hy besit meer as enigiemand anders. Meer nog, Hy besit almal en alles wat enigiets besit. As jy iets skep dan behoort dit mos aan jou. En God het alles geskape - insluitend ons! “Hy het ons gemaak en ons is Syne” (Psalm 100:3) Daar is maar eintlik net een werklike eienaar in die heelal, God self! (As die dwase mense wat so oor erfporsies stry of oor pensioene en beleggings wroeg maar net dit kon besef!) God is alleeneienaar; ons ander is net trustees. Nóg onsself nóg dit wat ons besit behoort regtig aan ons. Ons is slegs rentmeesters. Tydelike kortstondige rentmeesters. Alles is in trust aan ons gegee om te gebruik en te bestuur in belang van die groot Eienaar. In hierdie sin is alle sonde eintlik diefstal en verduistering van God se eiendom. Ja, kom ons dink sommer ‘n bietjie hieroor... God het jou ‘n liggaam gegee en as jy daardie liggaam deur nikotien verwoes of vir losbandigheid misbruik is jy besig om God se eiendom te beskadig! God het jou ‘n huisgesin gegee en as jy hulle afskeep om meer geld te maak is dit God se eiendom wat jy verwaarloos en jy sal verantwoording moet doen..


Die opvallende in die Nuwe Testament is dat God se rykdom hoofsaaklik nie beskryf word in terme van wat Hy geskep het en besit nie, maar in terme van die heerlikheid wat Hy het vanaf alle ewigheid. By herhaling lees ons van “die rykdom van sy heerlikheid” of “sy rykdom in heerlikheid.” (Efesiërs 3:16; Filippense 4:19 ens.) As God net ryk sou wees omdat Hy alles gemaak het en besit, dan sou Hy arm gewees het voor die skepping. Dit sou op sy beurt dan weer beteken het dat God uit nood geskep het en in ’n sin van sy skepping afhanklik is. Maar dis uiteraard nie te rym met die prentjie wat ons van God in die Bybel vind nie. God het nie geskep om welvaart te verkry nie, nee, Hy het geskep om sy rykdom te toon te stel, naamlik die rykdom van sy heerlikheid vir die genot van sy volk. (Efesiërs 1:6,12,14)

OORVLOEDIG RYK IN GENADE

Meer spesifiek, die fokus van die Nuwe Testament is dat die hoogtepunt van die rykdom van God se heerlikheid, die rykdom van sy barmhartigheid of genade is. Die heerlikheid van God wat Jesus vir ons kom wys het is mos “vol van genade en waarheid!” (Kliek op JESUS WYS VIR ONS GOD) Dit is iets wat die wêreld maar min van dink : “God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld. Sê dit vir jou niks?” ( Romeine 2:4) Hierdie genade van God is natuurlik nie iets nuuts nie. Dit word alreeds in die Ou Testament beklemtoon! (Miga 7:18,19) Hy skep en red sy mense juis om “bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van ontferming, die mense wat hy vantevore vir die heerlikheid voorberei het.” (Romeine 9:23) Of om dit anders te stel, Hy skep en red sy mense sodat Hy die rykdom van sy genade kan ten toon stel en daarvoor bewonder kan word! 

Juis omdat God absoluut heilig en regverdig is en sonde met ‘n passie haat is dit die toppunt van sy heerlikheid om genade te betoon. Ons verdien oordeel en hel. Tog bewys God genade. So besef ons sy ware karakter!

GOD IS GENADIG! DIS EEN VAN SY BESONDERE ATTRIBUTE WAT JESUS AAN ONS KOM OPENBAAR HET!

En dis juis vir hierdie rede hoekom Jesus Christus in die wêreld gekom het. Jesus self is die vleesgeworde sigbare gestalte van God se genade. Jesus is genade in aksie. Hy kom om te red.“God het nie Sy Seun in die wêreld gestuur om die wêreld te oordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered sou word.” (Johannes 3:17) 

Die demonstrasie van die heerlikheid van God se genade is die doelwit van Christus se koms! 

Dit word reeds treffend beklemtoon in die geboorteverhale. In die Lofsang van Maria en in Sagaria se profetiese lied by die geboorte van Johannes die Doper, is die rede wat vir Jesus se koms gegee word, “sodat Hy aan sy barmhartigheid sou dink” (Lukas 1:54) en weens die “innige barmhartigheid van ons God” (Lukas 1:78). 

DIE PRYS

Die barmhartigheid en genade wat Jesus prakties kom wys het is absoluut gratis. Dit beteken nie daar was geen koste nie. Jesus het hierdie prys betaal met die koste van sy eie lewe. “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van ons misdade, volgens die rykdom van sy genade.” (Efesiërs1:7) Tot in alle ewigheid sal die verlostes lof bring aan God vir hierdie rykdom van genade... 


Jesus het gekom om die weelde van God se genade te demonstreer, daarom was sy hele lewe op aarde ’n oorvloedige uitstorting van genade op alle soorte mense. Hy keer as’t ware skottels en skottels vol genade op mense om... Elke soort menslike behoefte en pyn is deur Jesus tydens sy paar jaar op aarde aangeraak. Hy het genade bewys aan siekes, melaatses, lammes, bedelaars, honger skares, maar ook aan sondaars, tollenaars, duiwelbesetenes! Tot aan die einde van sy lewe het Jesus God se genade gedemonstreer – dink maar aan die rower aan die kruis! Jy kan maar amper sê, Hy gebruik sy laaste bietjie krag en asem om genade uit te deel. 

Het jy al die rykdom van God se genade eerstehands beleef? Het dit jou al tot bekering aangemoedig? "God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?" (Romeine 2:4) Aanbid en dank jy Hom vir sy oorvloedige genade en oorlopende ruim vergifnis? Maak dit ‘n verskil in jou lewe? Nog nie? Wel dis vandag weereens beskikbaar... Weereens, hierdie goedheid en genade wil jou tot bekering uitnooi!

                                                   (foto - internet)

[met erkenning aan John Piper se "SEEING AND SAVORING JESUS CHRIST"]

Saterdag 13 September 2014

#JusticeforReeva

- die dieperliggende en ewige implikasies.

Die Twitter groepering #JusticeforReeva versprei soos ‘n weghol Oktoberveldbrand na die uitspraak van regter Masipa in die Oscar Pistorius hofsaak die afgelope Vrydag.

Oor die reg of verkeerd van die betrokke uitspraak wil ek my nie uitlaat nie – dit sou beslis onverantwoordelik wees, want ek is nie ‘n regskenner nie. Wat my wel noop om iets te sê is die geweldige gevoel van verontwaardiging as sodanig dat reg en geregtigheid nie geskied het nie. Hoekom? Wel, ons leef vandag in die denkklimaat van die post modernisme en hierdie filosofiese rigting verkondig eintlik mos dat daar geen absolute objektiewe waardes is nie! Hiervolgens is als eintlik maar relatief en subjektief. Vir ‘n God en ‘n Bybel wat vir ons sê daar is sekere dinge wat reg is en sekeres wat verkeerd is, kan daar nie in die huidige wêreld plek gevind word nie. Sonde het ‘n uitgediende en taboe begrip geword in baie kringe.

My punt is dat die byna histeriese reaksie oor die Pistorius hofsaak se uitkoms, duidelik wys dat post modernisme inkonsekwent en inherent onhoudbaar is. Diep binne homself het die mens ‘n besef dat daar iets is (moet wees) soos reg en verkeerd. Onderliggend het ons almal die verlange dat geregtigheid sal geskied en dat onreg gestraf sal word. Ja, ‘n gevoel vir “justice”. Daarom #JusticeforReeva!

ONS HET VASTE WAARHEID NODIG!

Die mens het inderdaad ‘n gevoel dat daar iets soos reg en verkeerd is, maar dis baie lukraak, wisselvallig, normloos en subjektief. Reg en verkeerd word deur die mens geïnterpreteer soos dit homself en sy eie sondige gewoontes die beste pas. Die hele Oscar debakel illustreer dit pragtig. Baie wat (tereg) voel dis ‘n misdaad om ‘n lewe te neem, bly heeltemal stil oor die verkeerdheid van losse buite egtelike seksuele verhoudings. Dis geestelik net so gevaarlik, want beide die heiligheid van lewe en die heiligheid van die huwelik is vir God belangrik. Daar is immers nie net ‘n sesde gebod nie, maar ook ‘n sewende! En dit bring my by die feit dat die mens as die kroon van die skepping en spesifiek geskape as ‘n moreel verantwoordelike wese aangewese is op vaste waarheid, die vaste waarheid van God se Woord. Sonder die vaste objektiewe waarhede, wette en norme soos die Bybel leer sal die mens totaal verwilder! Die mens sonder God is in ‘n vryval van morele selfvernietiging en dis slegs sy ALGEMENE GENADE wat keer dat die ongelowige mens nie ten volle verdierlik en gedemoniseerd word nie! 

Die eis vir geregtigheid wat nou weer orals opklink moet ons ook daaraan herinner, dat volle geregtigheid eendag wel sal geskied. God laat vaar nie die werke van sy hande nie. Hy het ‘n eindplan van geregtigheid vir hierdie wêreld. Dit sluit ook in dat Hy as die groot Regter finaal uitspraak sal gee. Dit sal volmaakte en regverdige regspleging wees waarin ook die diepste bedoelings en verborge motiewe van almal se harte (Romeine 2:16) beoordeel sal word. Nie volgens skewe menslike standaarde nie, maar volgens die eise van God se geregtigheid. Van hierdie oordeel sal geen aardse gladdebek advokaat ons kan vrywaar nie, dis slegs diegene wat die REDDENDE GENADE van God deelagtig geword het in Christus Jesus wat dan finaal vrygespreek sal word. Anders gestel, net diegene van ons wat nou reeds in geloof ons hoop op die gekruisigde en opgestane Jesus Christus as ons persoonlike advokaat gestel het, sal ons verdiende skuldigbevinding en ewige straf vryspring. Daarvoor sal God se kinders Hom tot in alle ewigheid loof en prys!

In God se Woord vind ons 'n gebaande weg met duidelike merke, vaste grense en 'n heerlike eindbestemming!

Vrydag 12 September 2014

“SAAMSLAAP” ONDER MY DAK?

- die ongemaklike dilemma vir Bybelgehoorsame Christene.

Wat moet ek doen as ‘n ongetroude paartjie as gaste in ons huis oorbly en ‘n kamer wil deel? Dit kan goeie vriende, familie of selfs my eie kind wees... Hoe moet ek getrou bly aan my gewete voor God, my getuienis handhaaf, maar ook nog ‘n boodskap van liefde oordra?

GROOT VERVAL 

Die morele verval en die minagting van God se bevele oor reinheid en huwelik het so algemeen geword dat die meeste mense nie eers meer ‘n oog knip as ongetroudes soos getroudes saamleef nie. (Dis ‘n hartseer en skokkende werklikheid ook hier in die gemeenskap waar ons woon.) Natuurlik is dit nie ons plig om mense buite die kerk te “polisieer” en op te pas nie. Dit het Paulus tog baie duidelik gemaak in 1 Korintiërs 5. Wanneer onrein verhoudings binne die gemeente opset plaasvind, mag ons egter nie ons oë daarvoor sluit nie en kom die kwessie van onderlinge vermaning, opsig en tug ter sprake. (hierdie belangrike saak is egter nie nou onder bespreking nie) Die probleem kom egter by ons voordeur aanklop wanneer (ongetroude) goeie vriende of familie in ons huis kom oorbly en dit as vanselfsprekend aanvaar om soos getroudes ‘n kamer te deel. (Miskien is hulle mense wat selfs beweer om Christene te wees...) Moet ons dit weier en die gevaar loop om ‘n kosbare vriendskap te versteur? Moet ons dit maar stilswyend toelaat, ons hande in onskuld was en saamkuier asof niks verkeerd is nie? Dan is die vraag of ons nie ons getuienis van ‘n nuwe moraal in Jesus en die krag van die evangelie om van sonde te bevry in die gedrang bring nie? As hulle sê hulle is ook Christene (en hulself dus so gruwelik mislei) gaan ons nie die misleiding versterk deur als maar net so te aanvaar nie? Dit help tog nie ons knik ons koppe in instemming as ons Sondag ‘n preek oor heiligheid hoor, maar sodra ons by die huis is, laat ons maar goedsmoeds toe dat die Bybelse eis vir seksuele reinheid ooglopend vertrap word nie!

Die Woord van God is baie uitgesproke oor die erns van enige vorm van onsedelikheid.

“Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid.Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe;julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie.Ook mag niemand hom in hierdie verband te buite gaan en sy broer bedrieg nie, want die Here straf al sulke dinge. So het ons julle trouens al vroeër gewaarsku; ons het julle nadruklik hierop gewys.God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe.Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie maar net ‘n mens nie, hy verwerp God wat ook sy Heilige Gees aan julle gegee het." 
(1 Tessalonisense 4:3-8)

Enige onsedelikheid kom neer op ‘n verwerping van God self!

So hoe moet ek as Christen optree in so ‘n netelige situasie? My siening is dat ons nie mag stilbly nie, maar in liefde die saak openhartig moet aanroer met die betrokke gaste.

Waarom nie stilbly en maar verduur nie?



  • Ons het ‘n Bybelse opdrag om goddeloses te waarsku, anders sal hulle bloed eendag van ons geëis word. God gaan van ons rekenskap eis! (Esegiël 3:18) Wie van ons sal in die finale oordeel verwyte van verlore familie en vriende wil hoor : “Kyk, waar is ons nou, hoekom het julle ons nie gewaarsku oor die toorn van God oor sonde nie?” 
  • Deur maar net niks te sê nie, gee ons stilswyende goedkeuring aan sonde. As ons as Christene nie eers die moed van ons oortuiging het om op te staan vir God se standaarde vir die huwelik nie, nou wel, van wie anders kan ons dit verwag? 
  • Deur stil te bly oor iets wat mense dikwels weet verkeerd is volgens God se Woord, gee ons ‘n boodskap deur dat die goedkeuring van mense belangriker vir ons is as die goedkeuring van God. 
  • As daar jonger kinders in my huis is, kry hulle so van kleins af die boodskap dat verkeerd nie meer regtig verkeerd is nie. Dan sal ek hulle later ook nie oor sodanige sake kan aanspreek nie. 
  • God bring situasies oor ons pad as ‘n geleentheid tot getuienis. Ons mag nie sulke geleenthede verspeel nie. Enige keer kan dalk die laaste keer wees! 
  • As mense sien dat ons ernstig is oor die Bybelse lering oor sonde, sal hulle wanneer die tyd ryp is ook ons boodskap oor die volheid en genoegsaamheid van VERGIFNIS geloofwaardig vind! As hulle agterkom ons is nie bereid om die waarheid oor sonde te vertel nie, hoekom sou hulle ons glo as ons die slag oor vergifnis praat? (Om verder te lees oor radikale en volkome vergifnis, kliek op TWEEDE KANS of BAIE LIEFDE)


MAAR DIS MOEILIK!

“Maar dis baie moeilik, gaan ons deur openlik te praat nie vir altyd ‘n vriendskapsverhouding bederf en juis sulke mense van die Here af wegdryf nie?” Inderdaad is sulke sake nie maklik nie. Daarom moet ons die “waarheid in liefde” praat*, juis ook in so ‘n komplekse situasie. Ons moet die waarheid, dat dit sonde is om voor die huwelik as man en vrou saam te leef duidelik stel, maar op so ‘n manier dat daar nie twyfel oor ons liefde vir die betrokke persone kan wees nie. As dit dan van my sal vra dat ek selfs my eie kamer moet afstaan (as daar nie genoeg spaarkamers is nie) en op die sitkamerbank moet gaan slaap, dan moet dit! (dis John Piper se baie praktiese raad) Met deernis moet ek dit maar reguit aan die paartjie stel : “Luister, ek besef dat julle dinge anders sien, maar as Christen wat aan die Here getrou wil wees, moet ek julle vriendelik vra om hier in my huis waarvoor ek verantwoordelik is, in aparte kamers te oornag. Ek wil nie graag in julle persoonlike lewens inmeng nie, maar ek moet God bo alles eer.”

En as mense (ook ons eie familie of gesinslede) dan vir ons kwaad word en die pad vat? Wel, as dit gebeur (en die kanse is seker redelik goed) is dit nie so snaaks nie. Dis eintlik deel van die vervolging wat ons in hierdie wêreld te wagte kan wees as ons getrou aan Jesus wil bly. Gehoorsaamheid aan Jesus gaan tweedrag tot gevolg hê, ook binne families en gesinne. Elke lojale dissipel moet nou nie juis verbaas wees as jy as verkrampte dweper, skynheilige of moeilikheidmaker uitgekryt word nie.

"Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is.Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is.""Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard.Ek het gekom om tweedrag te bring ‘tussen ‘n man en sy vader en tussen ‘n dogter en haar moeder, tussen ‘n skoondogter en haar skoonmoeder;ja, ‘n man se huismense sal sy vyande wees.’"Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie.” (Matteus 10:32-37)

Mag die Here sy kinders besondere wysheid en krag gee om soos ligte te skyn te midde van ‘n krom en verdraaide geslag! Mag ons ook die moed hê om te ly vir dit wat reg is!

Luister gerus self na die gebalanseerde wyse waarop John Piper hierdie komplekse saak aanspreek. Kliek op  OORBLY IN MY HUIS.


*Efesiërs 4:15




'n Huis verswelg deur die sand... sonde is nog gevaarliker!

Donderdag 11 September 2014

BAIE LIEFDE

- en die vraag oor wie mag deelneem aan die nagmaal? 

Ons as mense sit met ‘n probleem. Die Bybel is duidelik : Ons moet God liefhê en dien met ‘n volkome hart. (Dis onder meer so duidelik uit Jesus samevatting van die wet.) Dit klink mooi, maar hoe kry ‘n mens dit reg? Wat motiveer ons om God lief te hê? Of anders gestel, het ek God lief genoeg om Nagmaal te gebruik? Kwalifiseer ek vir die nagmaal? - want dis duidelik nie ‘n ligtelike saak nie! In LUKAS 7:36-50 kry ons ‘n voorbeeld van opregte en uiterste liefde. Dis die aangrypende verhaal van die sondige vrou wat Jesus se voete met haar trane “gewas” het, terwyl Hy aan tafel was saam met Simon die Fariseër. (lees dit gerus in jou Bybel)

DALK 'N SKANDAAL?

Wanneer ‘n mens ‘n belangrike gas vir ete nooi, hoop jy mos dat als sal regloop en dat niks sal gebeur wat jou in die verleentheid sal stel nie. (Ons wil ten alle koste verhoed dat die kinders skandes maak, die vrou uit haar beurt praat of dat iets met die kos sal skeefloop.) Op ‘n dag het Simon die Fariseër ‘n belangrike Gas genooi. (hy het natuurlik self nie besef hoe belangrik nie!) Probeer jouself die gebeure voorstel. Almal sit rustig aan tafel – moontlik was daar maar ‘n taamlik stywe en formele atmosfeer. Skielik kom ‘n huilende vrou die vertrek ongenooid binne gestorm. Wat sou sy hier maak? Sy gaan na Jesus en salf sy voete... Geskokte stilte, dan effense fluistering... en die gedagtes... Wat ‘n ongemaklike situasie! Dis asof ek die vraagtekens op almal se gesigte kan sien. Om alles te vererger was hierdie ‘n vrou met ‘n slegte reputasie- waarskynlik ‘n straatvrou met losse sedes.  Dalk 'n gewonder : "Ken sy Hom dan? Het ons dalk hier met ‘n skandaal te maak? Moet ons miskien RAPPORT se verslaggewer bel?"  ‘n Groot verleentheid vir almal, almal behalwe vir Jesus...

As ons die betekenis van hierdie gebeure wil verstaan, sal dit help om bietjie die drie hoofkarakters van naderby te bekyk:

SIMON. Op die oog af lyk Simon na ‘n billike ou. Hy het immers vir Jesus vir ete genooi.(terwyl Jesus seker nie baie vriende onder die Fariseërs gehad het nie) Tog word een ding duidelik, alhoewel hy uiterlik beleefd en ordentlik opgetree het teenoor Jesus, was daar in sy hart geen opregte liefde vir Hom nie. Eerder ‘n hoogmoedige kritiese gesindheid. “Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: "Hy, as hy ‘n profeet was, sou tog geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy ‘n sondares is." (39) 

Die rede : Simon het nie sy persoonlike behoefte aan Jesus besef nie, hy het nie besef dat hy Jesus nodig het nie, want hy het homself nie as ‘n verlore sondaar gesien nie... Dis die groot verskil tussen die veroordelende Simon en die gebroke vrou...

Simon is tipies van die godsdienstige goeie mens, wat nog nooit die Verlosser leer ken het nie. So baie Simons sit Sondag na Sondag in die kerk - pligsgetrou in baie opsigte, maar van berou, vergifnis, en verlossingsvreugde weet hulle niks... Daarom het hulle ook geen aanvoeling vir die nood van sondaars nie.

VROU. Anders as Simon wat ‘n gesiene persoon was, het hierdie vrou niks gehad om op trots te wees nie. Almal het geweet dat sy ‘n slegte vrou was. Maar baie belangrik : Sy was self ook bewus van haar sonde en daarom het sy gedoen wat sy gedoen het. Sy het haar sonde besef, maar gelukkig het sy nog iets besef, daar is net een Persoon wat haar in haar sondenood kan help, Jesus van Nasaret. (miskien het sy Hom al op straat hoor preek...) Dis duidelik dat sy desperaat was: “Ek moet by Jesus uitkom.” Sy het beslis nie meer omgegee wat mense van haar dink nie, die begeerte na vergifnis was te oorweldigend. Ek dink sy kon almal se oë op haar voel brand, maar vasbedrae voltooi sy haar sending...

Hierdie vrou ontvang die grootste geskenk wat ‘n mens kan kry : Vergifnis! “En Jesus sê vir haar: "Jou sondes is vergewe." (48) Hoe het sy dit gekry? Nie deur dit wat sy gedoen het nie, nie deur trane nie, maar deur geloof! Persoonlike geloof. “Maar Jesus sê vir die vrou: "Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede." (50) Haar trane, haar berou, haar diensbetoning aan Jesus, was maar net die bewys dat haar geloof eg was. Dit was die gevolge van haar geloof. Redding kry ons net deur ‘n persoonlike vertroue op Jesus. Ek kry dit as ek na Hom kom met my sondelas!

JESUS. Daar is niemand soos Jesus nie! Hierdie gebeure bevestig dit net weereens. Kyk hoe volmaak hanteer Hy hierdie moeilike situasie. Ander mense in sy posisie sou dalk kwaad geword het (“verwyder asseblief hierdie indringer”) of paniekerig (“wat gaan die ander mense nou van my dink?”), maar nee, Jesus is volkome in beheer. Jesus gebruik die geleentheid om die waarheid van vergifnis en liefde te demonstreer. Jesus weet van Simon se kritiek en Hy vertel daarom ‘n kort verhaaltjie om te wys dat vergifnis lei tot ware liefde. Hy vat alles mooi saam in vers 47. “Ek sê vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde." Die implikasie is baie duidelik : Iemand soos Simon, al was hy uiterlik ordentlik het nog nooit die ware vreugde van vergifnis beleef nie, daarom was daar min liefde in sy hart teenoor Jesus. Hierdie vrou wat ‘n groot sondaar was, het radikale vergifnis ontvang en daarom loop haar hart oor van liefde vir Jesus. Sy is nie skaam vir Jesus nie, sy gee nie om wat mense dink nie, want sy het vergifnis persoonlik beleef en dis al wat tel!

Die verstommende en mees basiese feit (wat ek en jy so maklik vergeet) oor Jesus is dat Hy die mag het om sondes te vergewe. Nie net klein foutjies nie, maar sondes, regte sondes, aaklige sondes, “hel-toe-sleep-sondes” – ja, ook daardie een ding wat jou jare al bloots ry of soos ‘n gewig aan jou gewete vasgeketting is!

Wat leer ons hieruit? Spesifiek oor liefde en vergifnis? En wat sê dit oor die Nagmaal?

Liefde tot God is nie iets wat aangeplak kan word nie. Dit vloei voort uit ‘n ontdekking van my sonde en daaropvolgende belewenis van die heerlike vrye vergifnis wat Jesus skenk. Die nagmaal is daarom nie bedoel vir "goeie" mense nie, maar vir dankbare vergeefde mense. Net hulle waardeer die offer van Jesus en wil dit regtig vier. Natuurlik wys hulle lewens dit. Die vraag by die nagmaal is dus nie of ek goed voel oor myself of ‘n ordentlike persoon is nie, maar of ek al werklik my sondes besef het, dit na Jesus gebring het, vergifnis ontvang en daarom dankbare liefde in my hart het. (al besef ons ook hoe onvolmaak hierdie dankbaarheid is) Stukkende mense is welkom by die nagmaal, stukkende mense wat berou het oor sonde en hulle hoop op Jesus alleen geplaas het. Het jy al?


As die lig van sy vergifnis deurbreek oor ons lewe...




Vrydag 05 September 2014

GROOT BENOUDHEID

- maar geen bekering tot God.


Dinge gaan nogals rof die afgelope tyd op ons planeet aarde. Dis asof ‘n groot klomp onheil hulleself sommer so gelyktydig aangemeld het. Wêreldleiers skarrel benoud rond, hou vergaderings en berade en reik verklarings, dreigemente en oproepe om hulp uit. Die een oproep wat nodig is : “Bekeer julle tot God” word egter nêrens in die mond van groot leiers gehoor nie, en selfs in die geledere van die kerk het dit skaars geword!

Dink sommer so vinnig oor die wêreldtoneel waarin ons ons tans bevind. Die stryd en slinkse magspel in die ooste van Ukraïne, nadat Rusland op blatante wyse die Krim skiereiland helder oordag geannekseer het, lees amper soos ‘n denkbeeldige oorlogsverhaal! Hierdie onnodige geweld (waarin ook medegelowiges hulle lewens verloor het*) veroorsaak die grootste rimpelings en angstigheid in Europa en NAVO geledere sedert die einde van die Koue Oorlog, wat nie regtig raad het met Putin se taktiek nie. (Daar is darem nou planne aangekondig vir ‘n snelreaksiemag...) Mens moet pasop vir oorreaksie, maar hierdie man se optrede laat mens onwillekeurig terugdink aan Hitler se kat en muis speletjies in aanloop tot die Tweede Wêreldoorlog... die res is geskiedenis...

Humanitêr gesproke is die wrede voortslepende burgeroorlog in Sirië (tans al 42 maande aan die gang) waar minstens 200 000 mense hulle lewens verloor het, nog ‘n groter kopseer. Ook hier het wêreldleiers soos Obama geen raad nie, want hulle bevind hulle tussen die duiwel en die diep blou see. Die opkoms van die radikale groep IS wat ‘n Islamitiese Kalifaat beoog in die Midde Ooste het alles nog verder gekompliseer. As Amerika te sterk teen IS optree help hulle indirek vir Assad van Sirië. Tree hulle nie op teen IS nie word hierdie uiters wrede terreurgroep al sterker en kan die hele Irak in duie stort en dit sal baie sleg wees vir Amerikaanse belange en prestige. Daar is nou wel ‘n skietstaking bereik tussen Israel en die Hamasbeheerde Gaza, maar dit beteken nie die einde van die probleme in hierdie streek nie. Hamas is na die onlangse geweld nog meer gewild en Israel se planne om nog Palestynse grond in die Wesbank af te neem voorspel niks goeds vir die lang termyn vooruitsigte op vrede in hierdie streek nie.

Dis nie net in die Midde Ooste waar radikale Islamitiese groepe groot menslike lyding en ontwrigting veroorsaak nie. Verder aan is dit alles behalwe rustig in plekke soos Afganistan en Pakistan, al haal dit nie elke dag die nuus nie. Ook Afrika is in die Islamitiese visier. In Nigerië lyk dit asof die regering geen raad weet met Boko Haram (nog ‘n Islamitiese terreurgroep) se brutale geweld nie. Na die skokkende ontvoering van 200 skoolmeisies en ‘n groot internasionale bohaai, gaan hulle steeds van erg na erger met hulle uitdagende aanvalle. Islamitiese groepe het ook ‘n vinger in die geweld in Mali, Libië , Somalië wat onder andere weer ‘n effek het op sekuriteit in ‘n land soos Kenia.

Islamitiese geweld is natuurlik nie die enigste ramp wat Afrika teister nie. Die Ebola virus het al meer as 1900 lewens in Wes –Afrika geëis en die einde is nog nie in sig nie. Behalwe vir lewensverlies het hierdie epidemie ook ekonomiese gevolge wat ‘n arm streek kwalik kan bekostig.

Orals en elke dag sterf mense in onnatuurlike omstandighede. Drie kort opeenvolgende vliegrampe (waaronder twee vliegtuie van Air Malaysia) is maar net van die meer opvallendes. Moord, oproer, geweld, maar ook natuurrampe en ongelukke laat mense daagliks in die ewigheid afstort... Die ellendes van korrupsie, misdaad en roekelose en onbevoegde regerings teister die mensdom...

IS JY VERBAAS?

Moet ons verbaas wees oor al hierdie woelinge en ellendes? As Christene moet ons dit eintlik te wagte wees. Onheile “meld hulleself” nie toevallig aan nie, dis die uitgieting van die toorn van ‘n heilige God in aksie. Openbaring skets mos vir ons God se oordele oor ‘n goddelose wêreld op treffend beskrywende wyse. "Gaan gooi die sewe bakke, gevul met die toorn van God, op die aarde uit!" (Openbaring 16:1) Ek probeer nie bepaalde gebeure in seker tekste in Openbaring inlees nie, maar die oorhoofse feit wat hier gestel word is dat God se oordele die aarde tref (getref het en nog sal tref) – nou reeds, voor die finale oordeel! Wat vir my egter die opvallende is, die verharde harte van ‘n geteisterde mensdom, wat steeds weier om hulle te bekeer! Inteendeel die lastering teen God word net al hoe erger! Die Woord draai geen doekies om nie:

“Die mense is deur ‘n groot hitte gebrand, en hulle het die Naam gelaster van God wat die mag oor hierdie plae het. En hulle het hulle nie bekeer nie en aan Hom nie die eer gegee nie.” (Openbaring 16:9)

“...Die mense het hulle tonge stukkend gebyt van die pyn en het die God van die hemel gelaster oor die pyn wat hulle moet verduur, en oor die swere. En hulle het hulle nie bekeer van hulle verkeerde praktyke nie.” (Openbaring 16:9)

“Groot haelstene, elkeen omtrent vyftig kilogram swaar, het van die hemel af op die mense geval. En die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat die plaag verskriklik groot was.” (Openbaring 16:21)

Hierdie patroon van onbekeerlikheid en volharding in die sonde word alreeds in Openbaring 9 vir ons voorgehou.

“Die ander mense, wat nie deur hierdie plae doodgemaak is nie, het hulle egter nie bekeer nie . Hulle het aangehou met die aanbidding van bose geeste en van afgode wat hulle self gemaak het van goud, silwer, koper, klip en hout, en wat nie kan sien of hoor of loop nie. Hulle het hulle ook nie daarvan bekeer om moord, towery, onsedelikheid en diefstal te pleeg nie.” (Openbaring 9:20,21)

Dis die prentjie wat ek in die hedendaagse nuus sien. ‘n Wêreld wat kreunend en vloekend gebuk gaan onder die regverdige oordele van God, maar wat steeds weier om God se genade in Jesus te aanvaar en hulle van hulle boosheid te bekeer. Inteendeel, die allerverskriklikste boosheid word nog steeds met passie omhels... Mag ons bewaar word van onbekeerlike harte...

En laat ons dit duidelik vir mekaar sê : “Rampe in ‘n bepaalde deel van die wêreld beteken nie noodwendig dat sekere mense meer skuldig is voor God as andere nie. Hierdie ellendes is ‘n algemene waarskuwing aan almal om betyds te bekeer en die vrugte van bekering te dra.” (Kliek op DIE BOODSKAP VAN RAMPE EN MISDAAD)

En ja, kinders van God ly dikwels ook saam met die goddeloses onder die uitstorting van God se oordele, al hoef ons nooit te twyfel aan sy liefde en sy heerlike finale doelwit met ons nie. As daar oorlog of hongersnood, onstabiliteit en geweld in ‘n gebied is, ly almal tog saam. Is dit vir jou ‘n vreemde gedagte? Wel, dink maar aan die God se getroue profeet, Jeremia. Die feit dat hy die waarheid in gehoorsaamheid, onverdun aan ‘n vyandige volk in moeilike omstandighede verkondig het, het hom nie gevrywaar van alle gevolge van die einste oordele van God wat hy moes aankondig nie... Te midde van chaos, ellende en uiterste woelinge kan God se kinders egter weet dat die God weet wat Hy doen en ten volle in beheer is! Ja, dis juis GOD wat oordele voltrek (nie Satan of toeval nie) en daarmee sy almag en heerskappy binne die gang van die geskiedenis demonstreer! Hierdie wete bring vir ons groot rus en vrede, selfs al moet ons ook swaarkry. Wat ‘n opwindende tyd om ons geloof in ‘n soewereine God te bely en te leef!

*Four martyred in Ukraine

The evangelical community in Eastern Ukraine has been targeted for persecution, as they are considered enemies by pro-Russian separatists. 

Four young FEBC (Far East Broadcasting Company) volunteers who were recently captured by separatists were brutally beaten to death simply for being Christians, according to an FEBC report last week. “These men volunteered for FEBC with zeal, passionately helping to spread the gospel throughout Ukraine,” said the organisation. “We are deeply saddened and shocked.” 

Weeks prior to the tragedy, FEBC’s Eastern Ukrainian broadcast tower in Slavyansk, for months has been in the middle of the fighting between pro-Russian separatists and the Ukrainian central government, was shot down and completely destroyed. 

While FEBC is still broadcasting in Western Ukraine and reaching millions there, they are now looking for a new location to resume broadcasting to Eastern Ukraine, “doing everything we can to give hope to people in a seemingly hopeless situation….” [ASSIST NEWS SERVICE, 7 Aug.] (oorgeneem uit Feldmuis. Miskien kan iemand in Ukraïne meer inligting gee?)



Internasionaal word die mensdom gewurg deur "omstandighede"...
[telefoonpaal wat deur die sand verswelg word naby Luderitz]