BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag, 02 Januarie 2012

REDDING VAN REBELLE

- BELEWENISSE VAN GENADE TYDENS DIE BOERE OORLOG!

“To be hanged! To be hanged! To be hanged!” So is baie Kaapse rebelle tydens die Anglo-Boere Oorlog se doodsvonnis met ’n luide stem voor ’n skare op die markplein aangekondig. In die praktyk het die meeste van die Kaapse rebelle egter voor ’n vuurpeleton gesterf. Die lot van hierdie Boerevegters is een van die hartseerste elemente van skreiende onreg wat tydens die Anglo-Boere Oorlog gepleeg is. Van billike verhoor was daar feitlik geen sprake nie en dis duidelik dat hierdie teregstellings se uitsluitlike doel was, om as afskrikmiddel te dien teen die verspreiding van die rebellie in die Kaap. Hierdie lukrake teregstellings het ’n bitterheid en letsel in die Afrikanergemoed tot gevolg gehad wat slegs deur die reaksie op die smarte van vroue en kinders in die konsentrasiekampe oortref word. Hierdie donker geskiedenis het egter ook ’n heerlike ligkant van genade waarvan min mense kennis dra...


In ’n vorige Blogskrywe (WAS DIT REGTIG GOD SE WIL?) het ons gesien hoedat God soos byvoorbeeld in die geval van Josef, selfs onreg en hartseer kan gebruik om sy heerlike doelwitte te volbring. Dis ’n vertroostende feit dat God die gruwelike onreg wat teenoor Kaapse rebelle gepleeg is, gebruik het om sondaars te red, sodat hulle vir ewig in Sy heerlikheid sou deel! ’n Groot getal van die ter dood veroordeelde Kaapse rebelle het, terwyl hulle gewag het vir die voltrekking van hulle doodsvonnisse, ’n ware ontmoeting met Jesus gehad en volle vrede in Hom gevind. Die wrede afskrikmiddel van die Britse militêre owerhede is deur God as genademiddel tot bekering aangewend. Hiervan vind mens baie duidelike getuienis in die vertellings van predikante en die laaste briewe van die veroordeeldes.


Die 18 jarige Johannes Hermanus Roux het voor die vuurpeleton in Graaff-Reinet gesterf op 7 Oktober 1901. Ds. Charles Murray het hom in die gevangenis besoek en is getref deur die edel en manlike houding van hierdie jong seun. Maar op ’n vraag van die leraar of hy gereed was om God te ontmoet, het hy sonder huiwering geantwoord : “Nee, Meneer, ek is nie gereed om te sterf nie.” Ds. Murray het toe aan hom verduidelik dat al was hy nie ’n “luidrugtige en uitspattige sondaar nie”, hy nie daarmee sy saligheid kan verdien nie. Hy moes ook berou hê oor sy sondes. Daardie nag het dié versie in die seun se gedagtes opgekom : "Ek lê my skuld op Jesus, Die vlekloos Lam van God..." So het Johannes vergifnis ontvang en was hy gereed om Sy Skepper te ontmoet. Hy het ook ds. Murray versoek om ’n brief aan sy ouers te skrywe dat hy vol vrede en vreugde die ewigheid in is.


Johannes het ook as volg aan sy moeder geskryf :


Graaff-Reinet, 6 Oktober 1901

Liefhebbende Moeder!

Ek neem die geleentheid om ’n paar reëls aan u te skrywe slegs om bekend te maak dat ek na my Vaderland gaan. Ek is verhoor en met die dood gevonnis. So, my liewe Moeder, u moet tog nie treurig oor my wees nie. Ek is veilig by die Heer.

Ag, my liewe Moeder, ek het baie na u verlang, maar ek sal maar geduldig dra wat my opgelê is. Ek sal u nooit weer op aarde sien nie. Probeer tog almal om u God te ontmoet.

Ek eindig met die beste groete aan u almal. Ek bly u seun.

Johannes Hermanus Roux


Wilhelm Stephanus Kruger was reeds ’n kind van God toe hy gevang is. Van sy jeug af was hy lief om in die veld te gaan bid. Ds. J.C. Kruger wat hom in die tronk besoek het vertel dat baie kommandolede getuig het dat Wille hulle na die Here gelei het. Willie het ook die voorreg gehad om die evangelie met sukses aan ’n medegegevangene, Dirk Breed wat ook ter dood veroordeel is, te bring.


Die redes vir Kommandant Dirk. C. Breed se teregstelling is baie onduidelik, want hy was ’n gewone Vrystaatse burger en dus nie ’n Kaapse rebel nie. God het egter hierdie onreg gebruik om genadiglik in sy lewe in te gryp. Dis duidelik uit ’n laaste brief wat hy aan sy moeder geskryf het uit die tronk :



Graaff-Reinet, 9 Okt. 1901

Mev W.C. Breed


Waarde en liefhebbende Moeder, Broeders en Zusters,

Dit is met ‘n teer hart wat ek u moet meedeel dat dit nog goed met my gaan en ek wens om dieselfde van u te hoor. Verder, Moeder, ek is hier in die gevangenis.

Geliefde, Moeder, Broers en Susters, u moet tog almal die Here voor oë hou. Soek hom haastig en moet tog nie wag totdat dit te laat is nie.

Moeder, wees getroos. Alles sal reg kom.

Ek moet u meedeel dat die gevangenis my bekeer het van my sondes. Ek voel gelukkig, want ek het God ontmoet. Dit is heerlik om by Hom te wees, want dan voel mens geen swaar nie. Die swaarste straf is niks nie. Die Heer het gesê wie op Hom bou, het op geen sand gebou nie...

Nou moet ek my brief eindig, maar nie my verlangende hart nie.

Met beste groete van u kind,

D.C. Breed



Wille Kruger en Dirk Breed is beide op 17 Oktober 1901 deur ’n vuurpeleton op Cradock die ewigheid ingestuur, maar hulle was gereed!


Daar is nog baie ander verhale van geloofsmoed en genade uit hierdie tydperk van verskrikking. Enkele oomblikke voordat die 16 jarige Johannes Petrus Coetzee op 13 Julie 1901 te Cradock gehang is het hy geprewel : “My Jesus is nou aan my sy.”


Willie Hofmeyer Louw sterf voor ’n vuurpeleton op Colesberg op 23 November 1901. Sy moeder was ’n suster van die bekende dr. Andrew Murray. Sy verhoor was so onregverdig dat Ramsay MacDonald, die latere Britse Eerste Minister daaroor gesê het : “Willie Louw has been shot upon the verdict of a court which did not understand the first elements of justice and had not the faintest idea when a statement was proved.” Maar hoe treffend was die getuienis wat die diep gelowige Willie onder hierdie omstandighede gelewer het! In ’n brief aan sy moeder skryf hy onder meer : “Dit is bepaal dat ek vanmddag sal vertrek. Dit is God se heilige wil. Hy kan geen fout begaan nie.”

Hierdie is maar enkele voorbeelde van die baie gevalle van God se genadewerking te midde van die onregverdige behandeling van die Kaapse rebelle. Mag dit ons help om raak te sien dat God werklik alle omstandighede hoe smartvol of onregverdig kan gebruik om sy genade in lewens te laat deurbreek en so Sy Naam te eer!

 

(Bron : Graham Jooste en Abrie Oosthuizen, SO HET HULLE GESTERF - Gedenkboek van Teregstellings van Kaapse Rebelle en Republikeinse Burgers tydens die Anglo-Boereoorlog 1899-1902)









Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.