BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 25 Januarie 2012

GENADE OM GESAG TE AANVAAR

Het jy al gehoor (of self gesê)?

“Wie is hy om my te vertel wat ek moet doen? Ek maak soos ek wil! Wie is ’n onderwyser om met my te raas? Ek gee nie om wat my Pa en Ma sê nie, ek wil dit so en net so hê! Wat gee ek om wat die kerkraad besluit! Ek steur my aan geen wet of regering nie! (Ek sal daardie koedoe langs die pad skiet en wie gaan my keer?) Watter verskil maak ’n papier wat die regering my gee om te sê ek is getroud... ek besluit sommer self ek is getroud! ... As hulle nie maak soos ek wil hê nie, gaan ek nie meer help met hierdie projek of reëlings nie... Ek wil nie meer saamspeel nie (want julle wil nie maak soos ek sê nie)...” Klink dit bekend? Alles voorbeelde van opstand teen gesag!


Een van die duidelikste kenmerke van die onbekeerde sondaar is sy opstand teen alle gesag. Vanaf die sondeval is ons almal van nature rebelle. Nou dis ’n baie ernstige saak.

Opstand teen gesag is opstand teen God, want God is die oorsprong van alle gesag.

Dis baie duidelik uit ’n gedeelte soos Romeine 13:1,2. (Lees) Die kind wat teen sy ouers in opstand is, is in opstand teen God self! Die vrou wat nie haar man se gesag wil aanvaar nie, is in opstand teen God. Die man wat nie landswette wil gehoorsaam nie, is eintlik in opstand teen God!

Die verwerping van gesag is in 'n sin die oorsprong van alle sonde : Satan was eers ’n engel, maar hy het hoogmoedig geword en wou hom nie meer aan God se gesag onderwerp nie! Adam en Eva se sonde het begin toe hulle God se gesag oor hulle bevraagteken het en beslut het om teen sy bevele in te gaan. So, die mens se verlorenheid is 'n gevolg van die verwerping van gesag. Die redding van die mens, beteken eintlik dan dat God se gesag oor die mens herstel word. Beter gesê, dat die sondaar God se gesag weer aanvaar. Weer buig voor God! Die Satan en die sondaar mens het in opstand gekom teen die koninklike gesag van God. Die mens luister nou na die duiwel in plaas van God. Jesus het juis gekom om alle valse magte en gesag te vernietig. Dit is baie duidelik in 1 Korintiërs 15:23,24 en 28! (Lees) Jesus se werk is om die gesag van God weer te bevestig en te herstel! In ons persoonlike lewens, maar ook in die ganse kosmos!

Die beste voorbeeld van die aanvaarding van gesag kry ons natuurlik ook by Jesus self. Hy het alle gesag wat bo Hom was as mens, erken. Dit word pertinent gesê in Lukas 2:51 dat Hy sy ouers onderdanig was! Maar as Seun van God was Hy ook volmaak gehoorsaam aan die gesag en die wil van Sy Hemelse Vader. Jesus self is ook binne in ’n gesagstruktuur soos ons sien in 1 Korintiërs 11:3.* (Sien ook Johannes 5:30) In die tuin van Getsemane kom hierdie volkome onderwerping van Jesus aan sy Vader se gesag en wil, seker die duidelikste na vore!


Die onderwerping aan God se ordes en gesag! Dis so nodig! Hoekom?  Twee redes :

~ Dis vir ons eie beswil. Kyk wat was die gevolge toe Adam en Eva, God se gesag verwerp het! Ellende en chaos. Uiteindelik gesinsmoord! Kyk, hoe gaan dit in ’n huisgesin waar daar nie meer gesag is nie. Kyk, hoe gaan dit in ’n skool waar daar nie meer gesag is nie. Ja, selfs in ’n rugbyspan waar die kaptein of afrigter se gesag afgetakel word... Kyk, wat is die gevolge in ’n gemeente, waar daar nie meer gesag en dissipline is nie. Wanorde, chaos, duisternis...oneer op die Naam van ons God! God se ordes en gesag is nie daargestel om die lewe vir ons moeilik te maak nie. Dis die gesag van ’n liefdevolle Vader wat vir sy kinders die beste wil hê. ’n Liefdevolle Vader wat orde in sy huisgesin wil sien.

Daar is mense wat sê dat hulle God se gesag aanvaar, maar geen menslike gesag nie. Dit klink vroom, maar dis ’n volkome vals redenasie.** Gehoorsaamheid aan God mag nooit lei tot die minagting of opbreking van burgerlike gesagstrukture nie. Egte Godgesentreerde Christenskap lei eerder tot ’n suiwering en versterking van gesagstrukture, orde en onderlinge verhoudings! Vergelyk maar Jesus se houding teenoor die betaling van belasting aan die vreemde Romeinse keiser! (Mense kan dus nie redeneer ons is voor God getroud en dan maar saambly nie - die huwelik is ’n burgerlike struktuur wat gerespekteer moet word!  Ja, dis 'n instelling van God, maar dit word op gesag van God deur die owerheid ordelik geadministreer.)

~ Die belangrikste : Dit bring eer aan God. Aanvaarding van gesag wat God daar gestel het, is erkenning van God. Ek eer God juis ook op so ’n manier. As ek byvoorbeeld my ouers gehoorsaam, eer ek God en beloof Hy seën aan my! As ongelowiges sien hoe ons as Christene gesag respekteer (in werks, familie of staatsverband) dan is dit 'n positiewe advertensie vir die evangelie, en so word God geëer.

Is jy ’n rebel teen gesag? Het jy al gebuig voor die gesag van God en al die strukture wat Hy oor ons gestel het?

Wat is die oplossing vir ons rebellie teen gesag?

~ ’n Nuwe hart! Die ou rebelse hart kan en wil homself nie aan gesag onderwerp nie. Elke sondaar kort ’n nuwe hart, of anders gesê die wonder van die wedergeboorte! Daarom is wedergeboorte ’n vereiste om in te gaan in die Koninkryk van God! (Johannes 3:3) Voordat jy in die Koninkryk kan ingaan het jy ’n nuwe hart nodig wat die Koning se gesag sal aanvaar! Het jy al na Jesus gekom vir ’n Goddelike hartoorplanting? Slegs die nuwe hart wat Hy jou kan gee is instaat om voor God se gesag en ordereëlings te buig.

~ Doelbewuste daaglikse onderwerping aan God se gesag en al die vorme van gesag wat Hy daargestel het. (Gesag in die huwelik, gesin, kerk, staat...) Die Heilige Gees sal jou hierin help! Die feit dat ek weergebore is beteken nie dat ek sommer nou maklik en outomaties alle gesag gaan aanvaar nie. Nee, die sondige vlees binne my gaan steeds daarteen in opstand wil kom, maar deur die krag van die Heilige Gees kan ek nou hierdie sondige neigings oorwin. Ek moet telkens weer kies om my te onderwerp aan God se Woord en al die strukture wat Hy oor my gestel het. Natuurlik is dit nie altyd lekker of maklik nie... onderdanigheid is immers pynlik vir die selfsugtige "ek",  maar dis deel van die heiligmakingsproses waarin elke kind van God homself bevind.

Geliefde broer en suster in Jesus, onderwerping aan gesag, onderdanigheid aan almal wat God bo my gestel het, is 'n kernbestanddeel van die praktiese heiligmaking wat God van sy kinders verwag! Dis God se uitdruklike wil vir ons! Kyk hoe beklemtoon Petrus hierdie saak in 1 Petrus 2:13,18; 3:1. (lees dit gerus)

Onderwerp jou aan God se gesag (en alle gesag wat Hy daar gestel het), anders is dit nogal ’n sterk aanduiding dat jy beslis nie in die hemel toegelaat gaan word nie. Jy sal in elk geval ook nie daar tuisvoel nie! Die hemel gaan mos juis hemel wees, omdat almal daar volmaak gehoorsaam gaan wees aan God se wil en gesag! (Vgl. 2 Petrus 3:13)

* Moet vroue dan nog steeds in ons dag hoede dra? (Spesifiek in die erediens - vgl. Vers 13) Ek dink nie hier word ’n ongekwalifiseerde altyd geldende reël gestel nie. Dit gaan oor die beginsel dat daar duidelike gesagsonderskeid en rolverskille is tussen die twee geslagte. Hierdie beginsel is altyd van toepassing, maar die vorm waarin dit gegiet word sal verskil van kultuur tot kultuur. (Ek begryp dat Christene oor hierdie saak kan verskil, maar mag ons dit dan in groot liefde en begrip doen)
 
** Natuurlik kan daar situasies ontstaan waar ’n aardse gesag my iets beveel om te doen wat duidelik en direk teen God se wil in sy Woord indruis. Dan moet ek dit weier.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.